Читать книгу Vuurvliegie - Helene de Kock - Страница 5

3

Оглавление

Alfons sál my nog vertel wat hom so pla, maak Danien haarself onophoudelik wys. En hy sal weer na my toe kom. Die een of ander tyd sal hy weer in my rigting kyk. Of met my praat. Of iets.

Tog gebeur dit nie. Soggens op die strand flankeer Alfons met al wat ’n eenstuk of ’n bikini dra, tot die groeiende verbasing van veral Frans en Paul.

“Wat sou dit met Alfons wees?” wonder Frans een oggend toe almal uitgestrek onder die sambrele lê. Hy stoot homself op sy elmboë orent en tuur fronsend na waar Alfons ringtennis speel met ’n baie jong dingetjie, pas uit die skool.

Niemand antwoord hom juis nie, maar baie koppe draai in die rigting waarin hy kyk. Dat almal wel wonder, is waar. Net Fenella Bezuidenhout wat die vraag ook gehoor het, waag dit om te sê wat sommige dink: “Alfons het ontaard. Hy’s ’n regte flirt. Geen mei­sie sal ooit van hom seker kan wees nie.”

Maar dit kan Paul nie sommerso laat verbygaan nie. “Dis nie in Alfons se aard om só te wees nie,” sê hy stilweg. “Miskien is daar iets wat hom pla.”

Danien wag met ingehoue asem om die reaksie op sy woorde te hoor, maar dit kom nie. Alfons is ’n flirt; dit sien almal tog voor hul oë. En om ’n rede daarvoor te soek, is op hierdie soel somer­dag veels te ingewikkeld.

Net Frans sê kortweg: “Wel, iets jaag hom, dis seker.”

Maar toe Alfons uitasem op sy handdoek langs hulle kom lê, sak daar tog ’n stugge stilte. En kompleet asof hy die voorafgaan­de woorde kon gehoor het, kyk hy speurend na die klompie jongmense wat sy lewe lank saam met hom hier vakansie gehou het. Toe sug hy ligweg en laat sak sy kop op sy neutbruin arms. Sou hy slaap? wonder Danien later, want hy lê roerloos. En hy reageer ook nie toe almal teen twaalfuur begin handdoeke uitskud om te loop nie.

Toe Danien bly omkyk teen die duin uit op pad huis toe, vra Paul: “Hinder dit jou baie dat Alfons so … anders is?”

Sy gaan staan botstil. Maar sy kyk doodeerlik in Paul se soe­kende blou oë.

“Ja, dit pla my dat iemand wat ek goed geken het nou verander het. Geen mens hou van … van wisselvalligheid in diegene wat hy l … ken nie.”

“Liefhet … dis die woord, Danien,” sê hy. “Dis wat jy bedoel, nè?”

“Natuurlik,” sê sy luiters. “Ons is … was tog almal lief vir Alfons, nie waar nie?”

Daarmee druk sy verby hom en stap driftig met die duinepaadjie aan dorp toe.

“Ek kom jou vanmiddag haal, dan gaan seil ons op die strandmeer!” roep hy agterna.

“Nee, ek sal jou so teen vieruur daar kry!” roep sy terug. “Ek wil eers ’n bietjie slaap!”

Maar ná ete soek sy Anel op. Dié lê en lees op haar bed.

“Ek hoop nie jy wil my iewers heen nooi nie, want ek is heeltemal te moeg,” sê sy met ’n lui glimlag.

“Nee, toe maar,” keer Danien, “ek wil net ’n bietjie gesels.”

Anel sit dadelik haar boek neer en kom afwagtend orent.

“Dáárvoor wag ek al vandat ons hier aangekom het. Ek en jou ma is hoeka bekommerd oor jou, jong. Jou pa en Frans is natuurlik mans en dus sien hulle nie wat vlak voor hul oë aan ’t gebeur is nie.”

Danien lag en gaan sit kruisbeen by Anel op die bed.

“En wat sou jy sê is aan die gang?”

Anel stoot haar blonde kuif van haar voorkop af weg soos wat sy altyd maak as sy diep gesels, en leun vooroor.

“Luister, Danien, jy is my beste vriendin en ek is vreeslik bly dat jy ook my skoonsuster gaan word, maar asseblief, gee my af en toe krediet vir my intuïtiewe insig.”

“Sjoe, ek kan sommer sien jy’t sielkunde geswot,” spot Da­nien, maar Anel gryp haar hand ’n oomblik vas.

“Nee. Hou op skanse voorhou. Jy is bitter ongelukkig omdat Alfons nie meer is wat jy nog al die jare gedink het hy is nie. Jy kan dit nie verwerk dat jou droomheld ook maar voete van klei het nie. Stry?”

Danien se mond begin bewe en sy druk ’n skraal hand voor haar lippe. Toe skud sy haar kop.

“Nee, dis nie só eenvoudig nie. Glo my, asseblief.”

Anel sug dramaties. “So dis die ou, ou storie van liefde wat blind is.”

“Glad nie!” sê Danien heftig. En toe half moedeloos: “Ag, Anel, ek kan jou nie vertel nie, maar dis werklik nie soos wat dit voorkom nie. Ek … soek maar net iemand om mee te gesels.”

Anel se hele gesig verstil, maar haar oë word al groter.

“Hemel tog,” sê sy sag, “dit lyk my dis ernstig.”

“Dit is, ja. Maar moet my nie enigsins verder vra nie, want ek weet self nie. Ek wil net hê dat jy moet verstaan. Asseblief?”

Anel se mooi, sagte oë word blink. Hulle twee het mekaar mos nog altyd verstaan. Vandat Frans haar die eerste maal van die universiteit af huis toe gebring het, was sy en die effens jonger Da­nien intuïtief na aan mekaar.

“Jy weet mos ek het ’n oor vir jou,” sê sy. “Ek wil graag be­gryp.”

Danien vleg haar skraal vingers inmekaar toe sy vra: “Hoe was dit aan die begin met jou en Frans? Het jy dadelik geweet hy is die man vir jou?”

“Ja en nee,” sê sy reguit, en ’n glimlag roer om haar mond. “Ek glo nie dis ooit ’n kwessie van oombliklike herkenning van ’n sielsgenoot nie, jong. Daar was bloot die vermoede dat dit hy mag wees. Want hy het my bene lam gemaak. Daai broer van jou het mos sulke diepkyk-oë, dan is hy ook so reg op die man af. Ag, jy ken die ou storietjie … Hy het mos op my afgeloop tydens ’n kunsuitstalling van Jasper Luther en my aan die arm gevat. Son­der om homself bekend te stel, het hy gesê: ‘Dié ou kan nogal landskappe skilder, maar daar’s baie mooier tonele op my pa se wynplaas anderkant die berg. Wil jy hê ek moet jou gaan wys?’”

Danien lag klankloos. Sy ken die storie, ja. Maar dis of sy met hernieude aandag luister. “En toe?” por sy.

“Wel, toe sê ek natuurlik ewe vroom dat ek nie saam met onbekende mans wynplase besoek nie. Toe klim hy op ’n stoel wat eenkant gestaan het, en bulder dit uit: ‘Jasper Luther is ’n goeie Karooskilder, maar voordat hy nie die Bolandse berge op doek vasgelê het nie, sal hy nie kan sê hy het al gearriveer nie!’ Daarmee het hy hom na my toe gedraai en hard gesê: ‘Frans Fouché tot u diens, skone dame. Nou sal ook ek nie meer onbe­kend wees nie!’”

Al twee meisies vou dubbel van die lag.

“O Danien,” hyg Anel, “ek wou sterf van skaamte. Die rektor was daar en ál my professore en hul misnoeë was in hul dikke swye en broeiende blikke! Ek wou dié Frans Fouché net doodmaak. Maar hy het hom niks aan my gesteur nie. Net aan almal wat wou hoor hard gefluister dat ek en hy al amper verloof is.”

“Maar wanneer het jy besef dat jy verlief is op hom?” val Danien haar ongeduldig in die rede.

“O,” Anel gee ’n alwyse kyk na haar kant toe, “ek was verlief op Frans Fouché van die oomblik af dat hy op daardie stoel ge­klim het. Ek het dit net baie later eers besef. En moenie my vra waarom ek op hom verlief geraak het nie. Ek het net. En ek kan nie wag vir volgende April nie.”

Sy bly dromerig stil, laat sak haar kop op haar hande wat op haar opgetrekte knieë lê.

“Ek wens dit was ek wat April getrou het,” sug Danien, en die oomblik toe die woorde uit is, skrik sy sigbaar. Anel kyk haar vinnig aan.

“Is jy dan … Het jy Alfons lief?” vra sy saggies.

“Hoe moet ek weet?” keer Danien gesmoord, en toe byna dadelik: “Ja … ja, ek het hom lief. Verskriklik en van altyd af.”

Die woorde rol soos bakstene van haar af. Sy voel onbe­skryf­lik verlig om dit oplaas ruiterlik te erken. Al help dit haar niks verder nie. Sy sien dat Anel haar lip vasbyt en met blink oë na haar kyk.

“Ek is jammer vir jou,” fluister sy. “Ek sien so geweldig uit na die troue en na my en Frans se verblyf in Leiden dat ek skaars aan iets anders dink. Jy moet weer kom praat, as jy wil. Ek kan immers luister, al kan ek niks anders doen nie.”

“Jy mag niks anders doen nie, Anel,” antwoord Danien be­swaard. “Want niemand anders mag hiervan weet nie. Belowe?”

“Belowe. Ek sal nie eens vir Frans sê nie, en dit behoort vir jou aan te dui hóé tjoepstil ek sal bly.”

Danien glimlag bewerig. “Dankie, hoor. Ek weet alles klink vir jou deurmekaar. Dit voel vir my self asof ek agter glas vir jou staan en gebare maak, maar ek kan niks verduidelik nie.”

“Toe maar. Min dinge omtrent die liefde kan in elk geval verduidelik word. Maar ek wens uit my hart uit dat alles nou vir jou wil opklaar.”

Danien bly ’n ruk lank nadenkend stil, toe sê sy ferm: “Dit sal nog. Jy sal sien.”

Maar toe sy later afstap na die strandmeer toe, is sy stom-ongelukkig. As hy tog net weer wil kom – al is dit met die stoeppaal op na my kamer toe. As hy net in my rigting wil kyk …

Sy gewaar hom al van ver af. Daar is ’n hele klomp kleiner en groter kinders wat teen die ligte windjie in met hul seilplanke en bootjies vaar. Alfons is dieper in tussen die meer ervare watermense, sy gespierde lyf geboë om balans te hou.

Sy gaan sit eenkant op die gras en laat haar oë lui oor die be­kende toneel gaan. Die blinkbruin water van die meer met die berg daaragter. Die digbeboste, voëlryke hange wat dié tyd van die middag bedrywige vlerkverkeer het. Meeue wat ál met die soom van die meer langs sweef, op soek na kos, en af en toe hoopvol neerstryk. Maar kort-kort word haar blik na Alfons getrek. Sy weet van elke beweging wat hy maak, en toe sy seil­plank agter om die eiland in die meer beweeg, is sy kinderlik teleurgesteld.

“Hallo,” praat Paul vlak by haar en sy wip van die skrik, sodat hy breed glimlag. “Kom terug aarde toe, meisie, of liewer, water toe! Wil jy die plank of die bootjie hê?”

Sy kyk hom ’n oomblik oorbluf aan. “Die plank,” sê sy dof­weg, en haar oë skuif oor sy skouer weg na die eiland in die middel van die meer.

“Sal jy regkom?” vra hy half bekommerd. “Dié windjie is nie ’n man se maat nie, en jy sal mooi balans moet hou.”

“Kom ek om, so kom ek om,” lag sy opeens lighartig. “Die water is mos darem nie diep nie.”

‘Nee, maar hier en daar gaan dit wel oor my kop. Wees tog maar versigtig.”

“Moenie jou bekommer nie,” sê sy oor haar skouer en glip die strandjakkie af om in haar nuwe blou baaikostuum op die plank te klim, terwyl hy in die water staan en die seil solank vir haar regop kry.

Die eerste ent gaan dit nogal gladweg so tussen die malende klomp kinders deur. Party kry dit nogal reg om seil in die wind te hou, maar ander het klaar opgegee en sit wydsbeen oor hul planke om laggend te kyk hoe die minder bedrewenes soos kaartmannetjies van hul planke aftuimel sodra die wind hulle skeef vang.

Sy moet hard konsentreer om bo te bly en sy slaag net-net daarin om die seilplank só te stuur dat sy op die eiland afpeil. En sy hoor nie Paul se waarskuwende geroep nie. ’n Vlagie spelerige wind skep haar seil soos ’n sneesdoekie uit haar hande en keer haar met plank en al in die water om. Sy kap wild met haar arms en sluk water en skop woedend ondertoe om weer bo te kan kom. Dit het jy nou daarvan, raas sy met haarself. Wil mos jou lyf windmaker hou omdat jy gefrustreer is oor …

Sterk arms lig haar soos ’n stukkie dryfhout uit die water, en nog voordat sy enigiets anders mooi kan uitmaak, sien sy Alfons se oë, donker en smeulend van emosie. Hy hou haar teen hom aan sodat hul gesigte op een vlak is, en sy voel die warmte van sy liggaam teen hare deur die koel water.

“Wat makeer jou?” vra hy kwaai. “Weet jy nie van eers leer en dan waag nie?”

“Dis vlak hier!” stry sy vererg, maar hy los haar terstond sodat sy soos ’n klip sink en met verwilderde verbasing besef dat dit inderdaad diep is.

Die water sluit druisend oor haar kop en sy druk intuïtief haar neus toe. Deur die newelrigheid van die water sien sy dat ook sy voete glad nie grond raak nie. Goed, dink sy, dan was dit dom van my, want hier is een van die gate in die bodem van die meer. Maar ek is sommer lus en maak hom goed skrik.

Sy trek haarself in ’n klein bondeltjie en sak tot op die sagte, sanderige bodem, en byna dadelik sien sy hoe hy op haar afgeduik kom, sy wange gebol en sy oë gesper. Sy blaas haar asem borrelend uit soos wat sy lag en water sluk en boontoe gepluk word en stik. Sy klou proesend aan hom vas en voel hoe hy haar ál sty­wer teen sy bors druk.

Toe sê hy by haar oor: “Kom ons doen dit nog net een keer, hoor, anders gaan almal van ons praat … o wag, dis klaar te laat. Hier kom die goeie, maar ontydige Paul tot jou redding.”

Sy hyg verontwaardig na haar asem en kyk om. Paul kom in aller yl met die seilbootjie op hulle afgestuur, en Alfons haal traak-my-nie skouers op.

“Haar pa gaan jou nek omdraai dat jy haar so vrotsig oppas, ou Paul. Kleintjies soos sy moet liewer in die vlak water speel. Loop leer haar eers mooi daar naby die oewer.”

Paul beluister hom swygend, en sy oë skuif speurend van sy gesig na Danien s’n. Toe knik hy net glimlaggend.

“Ek wil haar baie graag leer,” sê hy, en help Danien weer op die plank. “Ek sal geen kans laat verbygaan nie, dit moet jy weet.”

Net ’n oomblik is dit asof Alfons hom wil vererg, maar dan haal hy weer sy skouers op en draai hom weg in die water na sy seilplank toe, wat eenkant dryf.

Danien probeer nog ’n rukkie om suksesvol te seil, met Paul in die klein seilbootjie al langs haar, maar die lus het vergaan. Ná nog twee slae wat sy holderstebolder in die water beland, gee sy dit tongklikkend gewonne.

“Ek is tog nie lus nie,” sê sy vies.

“Jy wil nie regtig nie,” maan Paul, maar help haar oewer toe.

“Jammer, hoor.” Sy sug. “Ek gaan nou huis toe ook. Sien jou môre.”

Sy is halfpad weg toe Alfons haar met sy dikwielfiets van agter af inhaal. Hy hou nie stil nie, ry net stadiger en sê duidelik: “Gaan doen môre Kersinkopies in Plettenbergbaai. Die leerwinkeltjie in die arkade. So tienuur se kant.” Toe trap hy hard en die gruis spat soos wat die fiets vorentoe pyl.

Sy kyk hom verstom agterna. Plettenbergbaai … Kersin­ko­pies. Wel, dis nie ’n slegte plan nie. Sy en Anel het juis gepraat dat hulle die een of ander tyd soontoe sal moet gaan. Nie een van hulle twee het nog aan geskenke gedink nie en dis oor ’n week Kersfees.

Die aand aan tafel kyk sy veelseggend na Anel, toe sy sê: “Pa, mag ek môre die motor leen? Ek en Anel wil Kersinkopies in Plett gaan doen.”

“Alleen?” vra Frans fronsend.

“Natuurlik,” sê Anel rustig sodat Karel Fouché maar opgee. Die kinders sal wel self die ou sakie uitsorteer.

“Hoekom?” wil Frans weet, en Anel kyk hom liefies aan.

“Omdat ons … e … ’n paar dingetjies alleen wil doen.”

“Soos wat?”

Frans is Frans. Dit het Anel vroeg in hul verhouding geleer, en verstandige meisie wat sy is, weet sy hoe om hom met die minimum konflik te hanteer.

“Vroumensgoed,” sê sy en glimlag vir hom. “Ons wil op ons tyd vir julle almal geskenkies koop, kyk wat ons self graag wil hê sodat ons dit kan aanbeveel, en so aan. Ons wil van winkel tot winkel drentel en die een onbetaalbare uitrusting na die ander aan­pas om dan kamma ons neuse daarvoor op te trek. Begryp jy?”

“Nee,” sê hy kopskuddend. “Maar as dit moet, dan moet dit seker. Ek en ou Paul sal maar op die strand rondlê en ons vergaap aan al die mooi goedjies.”

“Doen dit gerus,” sê Anel vroom en onderdruk ’n gilletjie toe hy haar luiters onder die tafel aan die bobeen knyp.

“Hoe weet ek of jy jou gaan gedra?” vra hy kwaai.

“Jy weet nie,” sê sy stout en kry goedige laggies van haar aanstaande skoonouers. Dat Karel en Jacomien Fouché klaar ’n baie sagte plekkie vir haar in hul hart het, is duidelik.

“Ek sal haar oppas,” sê Danien glimlaggend. “En ons sal mooi ry.”

“Ja, julle mag maar my motor leen,” gooi Karel Fouché oplaas sy stuiwer in, en almal lag.

Maar toe hulle bo in Danien se kamer is, vra Anel reguit: “Gaan ons inkopies doen?”

“Onder andere,” sê Danien duister.

“Goed, ek help jou net omdat ek die weë van die liefde ook ken.”

“Dankie.” Sy glimlag. “Kom help my wonder watter rok om môre aan te trek.”

En toe die twee meisies knap ná ontbyt groet om te vertrek, lyk hulle al twee só fleurig dat Frans opnuut begin gis oor die wys­heid daarvan dat hulle alleen gaan. Maar Jacomien paai haar koppige seun met ’n paar goed gekose woorde, en eindelik ry hulle weg met Danien aan die stuur.

“Ek moet sê,” begin Anel, “dat jy, in my ouma se idioom, soos ’n nuwe sikspens lyk. En dis nie net die blou rok nie. Daar’s ’n kyk in jou oë wat ek nie ken nie.”

“Hm.” Danien glimlag net.

Heelpad Plett toe praat hulle min. En toe hulle indraai na die fraai, bedrywige kusdorp, sê Danien net: “Ek laai jou by die kuns­galery af. En ek dink ons moet afspreek dat ek jou vanmiddag so teen vieruur weer by die restaurant net langs die galery kry. Reg so?”

“Reg,” kry Anel grootoog uit, maar vra niks verder uit nie.

Maar toe Danien oplaas by die arkade instap op pad na die versteekte leerwinkeltjie, klop haar hart in haar keel. Ek moet my kop laat lees, dink sy vervaard. Dit pas nie by my styl om mans op geheime plekkies te ontmoet nie!

Nog voordat sy by die deur van die winkeltjie kan ingaan, tree Alfons van agter die repiesgordyn wat die ingang versper, te voor­skyn en neem haar stugswygend aan die arm.

“Kom,” sê hy net en begin aanstap na waar die arkade voor ’n toe houtdeur uitmond. Hy maak dit oop en met ’n vinnige blik na agter, stoot hy haar voor hom uit. Daar staan ’n klompie motors in ’n vierkant geparkeer. Sy herken sy klein, elegante sportmotor tussen die ander. Dié slag is die swart kap opgeslaan.

Sy kry haar asem terug toe hy haar haastig inhelp en omdraf na die bestuurskant toe. Toe hy in is en die motor aanskakel, sê sy styf: “Dis glad nie my styl nie, hoor! Ek doen nie sulke …”

“Daar is glad nie nou van styl sprake nie, Danien,” val hy haar skerp in die rede, en trek seepglad weg soos iemand wat vinnig maar onopgemerk ’n plek wil verlaat.

Sy bly afgehaal doodstil toe hy met fronsende konsentrasie deur die vakansieverkeer bestuur. Sy merk dat hy af en toe in die truspieëltjie kyk en met verskerpte blik, asof hy iets agter hulle gewaar. Toe hulle op die grootpad is, kyk sy ook eenmaal om en ’n laggie trek aan sy mond.

“Toe maar, daar’s niks,” sê hy net asof dié woorde sy hele optrede verklaar. Hy draai by ’n bospaadjie in, volg ’n kronkelende laan en draai weer skerp links by ’n draadhek in. Dieper in die dennewoud hou hy stil, en toe hy die motor afskakel, draai hy hom stadig na haar.

Toe hul oë ontmoet, is daar emosie tussen hulle, só kragtig dat Danien stom sit onder die aanslag daarvan. Sy vergeet van die vreemd-gejaagde rit; van die stil, broeiende bos rondom hulle, en toe hy sy arms om haar skuif, gaan sy gewillig. Hy sê haar naam oor en oor voordat hul lippe ontmoet, en sy hou hom krampagtig vas.

Sy het geen gedagtes nie, is net bewus van ’n geweldige golf van gevoel waaraan sy haar onwillekeurig oorgee. Tog weet sy een ding: dis waarop sy gewag het. Weg is die vae verlange wat haar nog heel vakansie teister. Want ondanks sy vreemde geheimsinnigheid, ondanks alles wat haar logika vir haar uitspel, voel sy volkome geborge.

Oplaas sit hy terug en trek haar nader sodat haar kop onder sy ken lê. En hy sê: “Ons het al twee lankal gehoop … of eintlik geweet dat dit sal gebeur, nie waar nie?”

“Ja,” sê sy bedaard. “Ek wou dit net nie aan myself erken nie.”

Hy lag sag en vee met sy vingers oor haar wang.

“Ek ook nie. En ek was so dwaas om te dink dat ek hierheen kon kom en jou weerstaan.”

Sy lig haar kop om hom pertinent aan te kyk.

“Jy het dit ál die vorige vakansies heel goed reggekry.”

En hy lag nog breër.

“Ek het geweet dat jy daaroor gaan wonder … Ag, Danien, ons het mekaar nét vakansies gesien. En ons was albei nog te jonk vir ’n vaste verhouding en dit terwyl ons die meeste van die tyd honderde kilometers van mekaar af was …”

“Ag so,” val sy hom met ’n glimlag in die rede, “dan het jy alles fyn uitgewerk, nè? Wanneer jy verlief sou raak en so aan. Jy weet, daar is ’n gesegde wat lui: Hy wat net die koste bereken, sal nooit ’n ploeg in die grond steek nie.”

Hy vat haar gesig meteens dringend in sy hande vas.

“O nee,” sê hy half gesmoord, “jy moenie só dink nie! Ek het hoegenaamd nie die koste bereken nie. Veral nie nóú nie! Wat my tot op hierdie oomblik voortgedryf het, was skone verlange na jou. Ek het jou lief, Danien.” En toe hy haar lank en driftig soen, val al die twyfel weer weg.

Nog voordat sy weer ’n vraag kan opper, is dit hy wat dringend wil weet: “En jy? Het jy my ook lief?”

“Natuurlik,” sê sy amper paaiend, want dis of ’n soort angs in sy donker oë geklim het. “Ek het jou baie lief van baie lankal af.”

Hy vou haar teen hom toe en sy voel die sterk klop van sy hart onder haar wang. So gelukkig was ek nog nooit, dink sy. ’n Mens kan nie gelukkiger wees as dit nie.

“Tant Fienie het altyd gesê sy het jou toeka al vir my uitge­kyk,” sê hy, en daar is ’n effens weemoedige klankie in sy stem. “En sy het my ook altyd gemaan om nie te haastig te wees met jou nie. Meisies met sulke bokkie-oë en fyn gebaartjies moet ’n man nie sommer vasgryp nie, het sy gesê. Jy moet draaie om haar loop sodat sy weet van jou, aanmekaar weet van jou totdat sy begin verlang dat jy nader moet kom.”

“Dié tant Fienie van jou …” Danien glimlag half ontroerd. “Sy was so ’n besondere mens. Ek wens ons kon haar nou vertel van ons.”

Hy verstil. Sy voel dit in sy arms wat skielik stywer span, hoor dit aan die intrek van sy asem.

“Ja …” sê hy aarselend. “Maar dit kan nie. Net so min as wat ons dit nou kan waag om enigiemand anders van ons twee te vertel.”

“Waarom nie?” vra sy meteens kil-nugter. En sy wikkel haar los uit sy greep. Toe sy opkyk in sy gesig, is daar weer die somber trek om sy mond, en die troebelheid in sy oë. “Alfons,” sê sy hard en dringend, “wat is dit? Is jy in die moeilikheid?”

Weer huiwer hy, maar toe skud hy sy kop. “Nee, ek gee jou my woord van eer dat ek nie in een of ander moeilikheid is nie. Net in ’n baie, baie moeilike situasie. En moet my in hemelsnaam nie vra wat dit is nie. Ek kan nie … mag jou nie sê nie.”

Daar sak ’n stilte tussen hulle, dik soos onweer. Haar blik gaan gekweld oor hom. Die sterk, vierkantige ken, sy reguit neus en hoë voorkop, en sy mond wat nou onversetlik gesluit is. Net die weerlose somberheid in sy oë weerspreek die strengheid van sy gelaat.

“Ek verstaan nie,” fluister sy half betraand, en byt op haar lip om die eensklaps brandende teleurstelling hok te slaan.

“Ek weet,” antwoord hy sober, en kyk haar vierkant aan. “Maar, Danien … vertrou my, asseblief. ’n Mens hoef nie alles te weet om volkome te vertrou nie. Ek het jou verskriklik baie lief; laat dit net voorlopig genoeg wees. Asseblief?”

Die laaste woorde het hy gefluister asof dit teen sy grein in­gaan. En sy mag haar dit verbeel, maar sy oë is baie blink toe hy fronsend wegkyk na waar die songespikkelde skadu’s nou reg onder die dennestamme saamtrek. En toe weet sy: Al sê haar verstand ook wát, haar hele hart vertrou hom, want sy het hom on­t­eenseglik lief.

Sy steek haar hand uit en vou dit om sy wang, en toe hy dadelik sy mond na haar palm draai, is daar weer vrede tussen hulle. Voldonge en volsalig sodat hulle glimlaggend uit die motor klim en ’n reisdeken op die dik naaldetapyt oopgooi.

Sy gaan sit en kyk met verwondering toe hoe hy ’n piekniekmandjie uitpak: Vars toebroodjies. Gerookte snoek. Klein, keu­rige kasies en ’n skaars rooiwyn wat hy met ooglopende trots in twee blinkskoon glase skink.

“Nie gedink ’n Gautenger weet iets van wyn nie, nè?” lag hy skalks. “Wel, dit het my tant Fienie in haar wysheid ook aange­raai: As jy ’n wynmaker se dogter begeer, leer als van wyn!”

“Ja?” lag sy sorgeloos verruk. “En hoe sou jy dié Cabernet be­skryf?”

Hy hou die glasie tussen duim en voorvinger onder sy neus en proe ’n slag.

“Wel, soos alle goeie wyn het dit ’n mistieke kwaliteit. En dis kompleks, maar met die ondertoon van hartstog. Miskien het dit ’n bietjie veroudering nodig om ’n werklik groot wyn te word.”

“Hoe romanties,” sê sy opeens ernstig. “En so paslik.”

Die ure skuif saam met die skadu’s van die bome verby, en toe hulle eindelik oppak, is dit lank ná vieruur.

“Arme Anel is seker al doodverveeld,” sê Danien bekommerd, maar Alfons lag net.

“Seker, ja … Maar miskien verstaan sy.” En toe: “Wat weet sy?”

“Alles,” antwoord sy eerlik, “en sonder dat ek haar juis iets gesê het. Maar sy sal nie praat nie, Alfons.”

“Hm, maar as sy iets sou laat val, moet jy dit ontken.”

Die woorde klink kil, en ’n rilling laat haar haastig haar arms oor haar bors kruis. En sy knik net, onmagtig om ’n woord verder te sê. Maar net voordat hy die motor aanskakel om te ry, leun hy na haar toe oor en soen haar talmend op haar mond.

“Moenie daaroor dink nie. En moenie bang wees nie. Alles is reg tussen jou en my. En eendag sal ek jou alles vertel ook. Dit beloof ek jou.”

“Eendag lyk net so bitter ver,” sê sy sag, en plaas haar vingers oor haar lippe omdat hulle beef.

“Ek weet,” sê hy dof. “En dalk is dit ook ver. Daarom moet jy my vertrou. Belowe?”

“Ek belowe,” sê sy stadig. “Want ek kan nie anders nie. Ek het jou baie lief.”

Hy kyk haar swygend, half verslae aan, asof sy woorde gesê het wat die loop van die wêreld kan verander. Toe trek hy stadig weg en ry terug Plett toe.

Toe hy haar aflaai, groet hy gedemp en net met ’n ligte aanraking van sy hand.

Sy wil hom vra wanneer sy hom weer gaan sien, maar een kyk na sy skielik geslote gesig, laat haar swyg. En sy draai haar om, om weer deur die agterdeur by die arkade in te gaan.

“Ek het al vier koppies tee gedrink,” verwyt Anel haar groot­ogig toe sy die restaurant binnestap, maar trek glimlaggend vir haar ’n stoel uit by die klein tafeltjie met sy rooi geruite tafeldoek.

Danien gaan sit versigtig en vou haar hande stadig voor haar.

“”En tóé?” por Anel ongeduldig.

“Niks, wat …”

“Niks?” Sy loer na haar polshorlosie. “Jy en Alfons het meer as ses ure van hierdie dag geneem om agter te kom daar’s niks tussen julle nie?”

“Geen raakpunte nie,” sê Danien ferm. “Ons verskil totaal en al … enne … hy voel nie vir my wat ek gedink het ek vir hom voel nie …”

“Hoe verskriklik ingewikkeld,” sê Anel sonder om ’n oog te knip.

“Té ingewikkeld. Maar dankie dat jy saamgekom het en moet liewer nooit weer met my oor Alfons praat nie.”

Anel stoot die leë koppie voor haar weg en neem haar handsak.

“Goed, ek sal nie. Maar as jy dink dat ek een woord glo van wat jy nou gesê het, is jy dom.”

Vuurvliegie

Подняться наверх