Читать книгу Helene de Kock Omnibus 7 - Helene de Kock - Страница 10
7
ОглавлениеDanien hou vandag swaar skool. Sy is moeg en rusteloos en dis of die kinders dit aanvoel. Hulle word praterig en moeilik. Toe die laaste klok lui, borrel hulle by die deur uit en sy slaak ’n sug van verligting. Vanmiddag is daar geen atletiek nie en sy sien uit na ’n rustige slapie tuis, en dan moet sy die agterstallige nasienwerk inhaal.
Maar toe sy by die losieshuis aanland, wag mevrou Breda haar ooglopend by die voordeur in.
“Ek is so jammer dat ek nie gisteraand byderhand was om jou met iets te help nie. Ons was so besig met ons brugspel en Henk het my vanoggend eers vertel dat jy baie ontsteld was.”
Sy lê vinnig ’n vertroostende hand op die ou dame se arm. “Ek was ontsteld, ja. Miskien heeltemal onnodig. Ag wag, ek sal u later daarvan vertel.”
En daarmee ontsnap sy trapop na haar kamer.
Maar sy kry nie gerus nie. Dis warm en bedompig en later loop sit sy kiertsregop in die woonkamer en dink. Want dink moet sy. Iets moet sy met haar gedagtes maak. Orden. Rangskik. Of uitwis – en dis tog nie moontlik nie.
Haar gemoed maal om en om Alfons Minnaar, die beweerde opstoker-anargis wat onderonsies met die gereg het, en dan om Alfons met die ernstige gloed in sy donker oë. Die man wat haar by elke moontlike geleentheid so hartstogtelik van sy liefde verseker het.
Ek gaan Paul bel, besluit sy opeens. Ons is nie kinders nie. Hierdie ding moet net uitgeklaar word. Maar toe sy die gehoorbuis optel en begin skakel, bewe haar hande. En dis vreemd dat ’n ontvangsdame met ’n verfynde kilte in haar stem, haar meedeel dat dokter Hough baie besig is en tensy dit werklik dringend is, moet sy hom liewer later bel. Natuurlik, dink sy vies vir haarself, hy is ’n besige man. En sy wag met kwalik bedekte ongeduld dat dit sesuur moet word om hom na sy woonstel te kan bel. Dié nommer het die ontvangsdame traag aan haar gegee.
Ook sy stem klink onrusbarend professioneel en koel toe hy antwoord.
“Dis … dis ek – Danien,” kry sy dit uit, en toe halsoorkop: “Ek wil net om verskoning vra vir gisteraand. Ek was kinderagtig en ek moes gebly het sodat ons die ding van Alfons kon uitpraat.”
“Wat is daar nog om te sê, Danien?” vra hy, maar sy stem is warm en koesterend.
“Ek weet nie eintlik nie, maar ek wil tog graag met jou praat.”
“Ek sien … Wel, ek is onafgebroke besig tot Saterdagoggend. Kan ek jou Saterdagmiddag kom haal dan ry ons iewers heen?”
“Nee … Ek bedoel ek gaan vir die naweek huis toe. Sien jy kans om Fleur du Vin toe te kom? Dan … bly jy sommer Saterdagaand ook oor. Ons is ’n gawe klomp dié naweek. Henk en Hilda gaan ook saam.”
“Nou maar goed,” sê hy gelykmatig. “Beduie net die pad.”
Saterdagmiddag ná ete lê almal ’n bietjie en rus in die gespikkelde skadu’s van die eike in die voortuin. Danien se ma het ’n klomp lêstoele laat uitdra en ’n gawe huishulp het koeldrank in lang glase gebring.
“O saligheid!” laat Hilda hartgrondig hoor. Sy lê met haar oë toe en ’n glimlag speel om haar mooi gevormde mond. Danien moet ook onwillekeurig glimlag. Hilda het haar met hart en siel in dié kuiertjie ingewerk en gou-gou die ouer Fouchés se toegeneentheid gewen.
“Sy is so ’n warm, huislike mens,” het Danien se ma, Jacomien, eenkant aan haar gesê. “Ek is bly jy het sulke vriende gemaak. Henk is ook ’n gawe, verfynde kêrel, nè?”
“O ja, en hy het ’n meisie in Pretoria,” het Danien skalks gesê toe sy haar ma se spekulerende uitdrukking merk. “Buitendien, Mams, ek het Paul Hough ook oorgenooi. Sommer om te slaap ook.”
Jacomien se mond val oop. “Nooit!” kry sy dit uit, maar herstel vinnig. “O, dis gaaf, liefie! Ek sê mos altoos, Paul is gemaak om ’n gelukkige vrou se goeie man te wees!”
“My liewe ma! Ek het die man bloot genooi omdat ek nou die aand ongeskik was met hom. Ek wil net my aansien herstel, nie my huwelikstaat verander nie!”
Maar haar ma kyk haar kwaai aan. “Danien, jy kwel my baie. Dink jy ek het nie gesien hoe bleek jy was toe julle gister hier aangekom het nie? Wat pla jou so? Jy is nog net so ontwykend en ongedurig soos wat jy die vakansie was.”
“Ag, Mams …” begin sy, onverklaarbaar tranerig, maar sy sluk dit weg, gooi haar arms om haar ma en hou haar styf vas. “Wees geduldig met my, asseblief.”
“O, maar ek is! Maar nie almal gaan geduldig wees nie! Moenie met ’n man soos Paul Hough speel nie.”
Sy kyk haar ma stom aan, toe fluister sy deur wit lippe. “Ma, ek is so verward en ek kan nie nou daaroor praat nie. Moet my asseblief net nie in ’n rigting druk nie.”
Jacomien byt haar lip ontstemd vas. Die ellende in haar kind se oë kan sy nie mis kyk nie. Miskien moes sy dit vroeër herken het, maar sy was só besig met haar ander kind: moeilike, koppige Frans met sy briljante verstand wat uiteindelik met die regte meisie gaan trou. Maar Danien – haar soet, stemmige kind – verkeer in nood. Dit sien sy nou so duidelik soos wat sy haar in haar jong, sensuele vroulikheid voor haar sien staan. Die beeldskone gesig met die groot oë vol emosie, die roering van die sensitiewe mond. En haar skraal lyf se sagte kurwes …
“Kind,” sê sy gesmoord en druk haar teen haar vas. “Toe maar, toe maar …” Want toe maar is ál wat ’n ma eintlik tog kan sê, dink sy moeg.
Danien staan ’n rukkie lank geborge in haar ma se arms, en toe sy haar sag wegdruk, glimlag sy. “Dankie, Ma.”
Toe stap sy buitetoe om haar by die ander te gaan skaar. Frans en haar pa knip ook ’n uiltjie. Weliswaar net vir tien minute of so, want die parstyd is in volle gang en die werf ruik na mos. Dit roer in die wingerde soos wat almal hand bysit om die kosbare vragte gou genoeg af en in die gistenke te kry. Sy en Hilda verkneukel hulle juis in die manier waarop Henk soos ’n by ál agter Frans aanloop om niks van die oesbedrywighede mis te loop nie. Hy klouter selfs by die oop gistenke op om oor Frans se skouer te loer en dring daarop aan om presies te weet wat Frans se bevinding oor die jongwyn is.
“Lekker om ’n gas te hê wat so in ’n mens se bedryf geïnteresseerd is,” laat Karel Fouché terloops val. Ook Frans gesels lekker met Henk. Veral oor die regswese waarvan Henk, wat die praktyk betref, méér weet.
Danien vly haar op ’n dekstoel langs Hilda neer en Frans skrik op. “Tyd om op te staan,” waarsku hy sy pa en Henk, en hulle lig hulle traag uit hul stoele. Daar lê nog ’n lang middag se harde werk vir hulle voor.
“Ai,” sug Karel spytig. “Ek sal jou darem mis as jy eers in Leiden is, jong. Dit vat aan ’n ou man om heeldag so op en af in die wingerde te wees en nog sy oog in die kelder ook te gooi.”
“Ek weet,” sê Frans beswaard. “Maar toe maar, dis net vir ’n jaar.”
Henk staan hulle stil en beluister, toe kug hy en sê: “Oom moet maar vir my en Hilda en Danien met die volgende parstyd inspan. Nie dat ons veel weet nie, maar ons kan darem morele ondersteuning bied.”
“Dis ’n gawe plan,” sê Karel en lag, en die drie mans begin aanstryk oor die werf in die rigting van die kelders.
“Haai!” roep Danien hulle agterna. “Julle moenie te laat inkom nie! Ek het Paul Hough ook oorgevra!”
Frans steek in sy spore vas, en selfs Henk lyk ligweg verbaas. Oom Karel kyk net om en loop weer aan. Frans lyk ’n oomblik lank besluiteloos, maar toe lig hy ’n waarskuwende vinger in Danien se rigting en wink vir Henk om aan te stap.
“Hou jou broer nie van Paul nie?” vra Hilda nuuskierig en lig haar op haar elmboë op om Danien stip aan te kyk.
“Hy hou baie van Paul,” sê Danien rustig. “Ek hou ook baie van Paul.”
“Ek sien,” sê Hilda vieserig, en Danien leun oor na haar toe om paaiend aan haar skouer te raak.
“Ag, moenie vir my kwaad word nie. Ek kan werklik niks aan jou verduidelik nie. Glo my.”
“Goed.” Sy sug. “Goed, goed. Kom wys my nou maar jou strooimeisierok. Jou ma sê jy lyk soos ’n droom daarin. Die troue is oor twee weke, nè?”
“Ja. Maar kom ek gaan wys jou.”
Teen die tyd dat Paul opdaag, is die vroue nog vol troupraatjies en het tant Jacomien al ’n hartlike uitnodiging aan Hilda en Henk ook gerig. Nee wat, meen sy, hulle moet net die kans kry om ’n plaastroue by te woon. Die onthaal gaan hier onder die eike wees, en as dit reën, in die stoor. Dit gaan ’n ware oesfees wees! lag en beduie sy.
Paul sit hulle glimlaggend en aanhoor. Frans het hom hoeka al genooi en sy antwoordkaartjie was van die eerstes wat teruggekom het. Hilda bied aan om te gaan tee maak en tant Jacomien stap saam om die koek wat sy vroeër gebak het, te gaan sny.
“Hulle laat ons natuurlik met opset alleen,” sê Paul ewe natuurlik. “En ek is bly, want ek weet jy wil gesels.”
“Ja, is ek al vergewe?” vra sy.
“Altyd,” sê hy stadig en met nadruk. “En, Danien, ek sal nie Alfons voor jou beswadder nie. Ek is opreg ontsteld oor sy aktiwiteite.”
“As dit natuurlik ooit so is,” sê sy en kyk weg.
Hy sug skaars hoorbaar. “Ja, as dit so is. Maar ek wil voorstel dat ons liewer nie weer daaroor praat voordat ons heeltemal seker is wat aan die gang is nie.”
“En wanneer sal dit wees?” vra sy, eensklaps driftig.
“Ek weet nie,” antwoord hy bot, en daar sak ’n stilte tussen hulle. Tog hinder dit nie. Sy kyk skuinsweg na hom. Sy oë lyk troebel en sy andersins lewenslustige gesig lyk moeg. ’n Skielike deernis kom oor haar. Hy verdien tog waarlik net die goeie.
“Ek is bly dat jy gekom het,” sê sy sag, “die ruskansie sal jou goed doen. Vind jy jou praktyk baie veeleisend?”
Hy lyk opgetoë oor die vraag en antwoord ernstig, maar vriendelik: “Ja. Maar ek dink enige werk waarin ’n mens jou hart stort, put jou noodwendig uit. Dit en bekommernis oor iemand vir wie jy omgee.”
Sy knik plegtig en toe hy sy hand na haar toe uithou, plaas sy hare sonder skroom daarin. Hy vou haar vingers losweg in syne toe en sak terug in sy stoel. Sy vind dit ook nie gebiedend noodsaaklik om haar hand uit syne te trek nie, toe haar ma en Hilda met die teegoed kom. En sy ignoreer hul vraende blikke baie suksesvol. Paul Hough is my vriend, dit weet sy nou. My baie goeie vriend. En dis al wat ek nou werklik weet.
Met aandete word daar vir Paul ’n plek langs Danien gedek en selfs Frans lig nie ’n wenkbrou daaroor nie. Die gesprek wentel met goedige gemak om die troue wat kom, die blyery in Leiden, en Danien se nuwe onderwyspos. Die Fouchés vra ook baie belangstellend uit na Paul se praktyk, wel wetende dat sy ouers baie ver in Transvaal is en dit vir hom ook maar ’n aanpassing is om hom hier in die Kaap te kom vestig.
Ná ete keer Frans vir Danien in die kombuis voor en sommerso ten aanhore van die huishulp, wat al jare der jare deel van Fleur du Vin se mense is, vra hy haar trompop: “Wat is dit met jou, sus? Jy lyk soos ’n gees. En jy is stokkerig vriendelik soos iemand wat in sy slaap loop. En waarom het jy Paul oorgenooi? Ek is bly om hom te sien, maar jy weet hoe ek voel oor absolute eerlikheid.”
Sy sug kopskuddend. “Frans, ek en Paul is absoluut eerlik met mekaar en hy verkies nogtans om hier te kuier. Los my nou maar, toe wat. Sodra ek alles weet, sal ek jou alles vertel, glo my.”
Hy betrag haar nog met ’n bekommerde frons. Toe trek hy haar nader en soen haar sag op haar voorkop.
“Nou ja, nag. Lekker slaap. Ek is poegaai en gaan nou inkruip. Julle ander kan gerus maar nog video kyk.”
Maar niemand voel lus daarvoor nie. Almal is moeg en drink nog net ’n laaste koppie koffie in die ruim, deftige sitkamer, waar die antieke staanhorlosie gewigtig die tyd aftel in die stiltes tussen gesprekke. Henk en Paul gesels bo verwagting lekker met mekaar en toe Hilda kort ná die ouer Fouchés aankondig dat sy bed toe gaan, neem Danien ’n vinnige besluit.
Toe Hilda uit is, sê sy: “Paul, vertel vir Henk van Alfons, dan gaan maak ek vir ons nog koffie. Ek bly dors en is buitendien nog lus vir daardie appeltert wat van vanmiddag oorgebly het.”
Sy staan op en kom eers weer tot stilstand langs die groot kombuistafel, haar hart ’n hamering in haar bors. Was dit wys? Wonder sy half spytig. En toe: Maar waarom nie? Niemand weet, niemand mag weet van die verbintenis tussen my en Alfons nie. Hy het my immers aangesê om enige verhouding tussen ons te ontken.
Sy skakel die ketel aan en sit koppies reg. Sny drie stukke van die appeltert om dit in bordjies te sit. En is snaargespanne toe sy eindelik met die skinkbord weer by die sitkamer inkom. Paul kom dit by haar neem, en sy sien dat Henk ingedagte met sy vingerpunte teen mekaar gestut, voor hom uit sit en staar.
“En toe?” vra sy. “Wat dink jy?”
Hy draai hom stadig, nadenkend na haar toe. “Niks wat jy nie alreeds gedink het nie. As hierdie Alfons van julle ’n anargis is, of wat ook al, sal hy gevang word. As praatjies al tot hiér toe geloop het, weet die Veiligheidspolisie reeds baie lankal daarvan; dit kan ek jou verseker.”
Sy neem die koffie wat Paul vir haar hou, maar los die tert net so.
“Hoe kan ’n mens uitvind wat die waarheid is?” vra sy net-net hoorbaar.
Die mans help hulself swygend uit die skinkbord en roer hul koffie klingelend.
Toe vra Henk stadig: “Is daar ’n verhouding tussen jou en Alfons Minnaar?”
Haar hart ruk saam, maar sy kyk hom bedaard aan.
“Nee,” sê sy. “Maar hy is iemand uit ons kindertyd en ook ons jongmenstyd. ’n Mens haat dit om iemand soos Alfons te sien ondergaan.”
“Wel, as jy nie baie direk by hom betrokke is nie, Danien, sal ek jou aanraai om ’n groot draai om hom te gooi. Dit is nie speletjies dié nie. Sulke optrede, as dit waar is, grens aan hoogverraad, dit moet jy weet.”
Maar ek is betrokke! Wil sy uitroep. Onherroeplik. Want ek weet één ding vir seker: ek sal hom altyd liefhê al sien ek hom nooit weer nie. Al moet ek oplaas uit sy eie mond hoor dat hy ’n onrusstoker is.
En ’n verraaier? wil haar verstand meedoënloos weet. Sal jy werklik ’n mens kan liefhê wat willens en wetens teen sy eie plek kwaad stook en moord onder sy eie landgenote beplan?
Sy voel hoe sy koud word. Dis of daar iewers in haar kop yswater ingetap word. Maar ’n deel van haar kyk in verstomming toe hoe sy vriendelik glimlag met die mans, en skouerophalend sê: “Wat ’n aaklige gedagte! Kom ons praat oor vroliker goed, wat.”
Sy skink nog koffie en toe sy sien hoe lus Paul nog lyk, loop sny sy vir hom appeltert.
Henk sit ingedagte en teug aan sy koffie, kyk soms sydelings na haar, maar as hy haar oog vang, begin hy ’n gesprek met Paul oor rugby. Maar toe die staanhorlosie elf slaan, staan hulle asof in akkoord op.
En toe Danien oplaas in haar eie kamer in die bed is, tree daar ’n reaksie in wat haar bewend aan die lakens laat klou. Dis asof ’n magtige hand haar skud en skud totdat al haar gedagtes uit haar kop geval het en sy van pure vermoeienis onrustig aan die slaap raak.
Sondag ná kerk sit almal weer onder die eike en wag op die middagmaal wat tant Jacomien sommer daar wil voorsit. Frans het lank saamgesels, maar oplaas haal hy die koerant uit en vou dit onder sy pa se fronsende oog oop.
“’n Mens lees nie sulke goed op Sondae nie!” mor oom Karel omgekrap.
“Net die hooftrekke, dit beloof ek,” sê Frans en Danien sien hoe Henk sowel as Paul ’n glimlag onderdruk.
Maar almal sit kiertsregop toe Frans eensklaps hard en afgemete lees: “Hand vol jong akademici verlaat land … ’n Klompie hoogs geskoolde mense gaan landuit omdat hulle die regering luid en beledigend kwalik neem vir … wel, als en nog wat … Julle moet maar self lees.” Frans sug gefrustreerd. “Hier is ’n foto van die lotjie op die Johannesburgse lughawe geneem. En hier staan geskryf: ‘Hulle het bra onwillig geposeer. Die teenwoordigheid van polisie naby hulle was opsigtelik. Onder hulle is onder meer van links na regs: Alfons Minnaar, De la Rey Smit en Katinka Haans. Veral Minnaar en Haans is bekend vir hul aktivisme en was glo betrokke by verskeie insidente wat hul integriteit onder verdenking plaas.”
Hy laat sak die koerant wat hy met stywe arms voor hom oopgehou het, en sy oë soek Danien s’n. Sy het sy woorde gehoor. Sy sien die verwildering in sy oë, maar dis of daar sedert gisteraand ’n oeroue waaksaamheid oor haar gekom het. Dit gaan hier om haar liefde en die behoud daarvan, besef sy nou. Of dit ooit lewensvatbaar gaan wees, is nie nou die vraag nie. Totdat sy vir seker weet wie en wat Alfons Minnaar is, moet sy ’n front voorhou. Hy het immers self gesê: ’n Mens hoef nie alles te weet om volkome te vertrou nie.
“Sê jy dan niks?” wil hy skerp en ontstemd weet.
“Wat kan ek sê?” is haar koel teenvraag, maar haar hart klop soos ’n flougejaagde hasie s’n.
“Hemel tog,” is tant Jacomien se verstomde woorde. Oom Karel bly sit asof hy gegiet is, maar die frons tussen sy oë keep dieper.
Henk en Paul bewaar ’n stokkerige swye, maar aan hul gesigte kan sy sien dat hulle so iets sien kom het.
“Dis moontlik waarom hy sy eiendom verkoop het,” waag sy dit en sien hoe Frans se kop opruk.
“Wát?”
Ook oom Karel se gedrae geduld het sy einde bereik. “Waarvan praat jy, Danien?” vra hy kortweg.
Dis Paul wat hulle vertel. Woord vir woord soos wat hy dit nou die aand aan Danien kom sê het. En sy sien die verstomming, die hartseer en ongeloof by haar pa en haar broer inslaan.
“As ek geweet het wat om te dink, sou ek geweet het wat om te sê,” sug oom Karel swaar. “’n Mens kan nie … wil nie dit van Alfons glo nie. Hy is … was nooit só nie.”
En tant Jacomien is opeens hoogs ontsteld. “Maar hy is nóú so! Daar sien julle dit voor julle oë!” Sy gryp die koerant en hou dit ietwat teatraal op. “’n Mens verkoop nie jou erfgoed en verlaat die land omdat jy die plek liefhet nie. Jy doen dit net omdat jou opvattings só verdorwe geraak het dat jy die visie van … van ’n gewone muis het!”
“Kom nou, Moeder,” laat Frans hoor. “Daar is heelwat oulike mense wat beter aanbiedinge in die buiteland kry en van die kans gebruik maak. Dalk is dit met Alfons ook so gesteld en …”
Maar sy laat die koerant driftig val en stap weg om te gaan kyk of die kos nie al reg is nie.
“Wel, dit is soos wat Ma sê. Die omstandigheidsgetuienis lyk verdoemend,” sê oom Karel, en sy oë kyk verby Danien na waar die eerste wingerde anderkant die werf begin.
“Dit kan verdoemend wees,” sê Henk huiwerig, “maar aan die ander kant …”
“Hoe bedoel jy?” vra Frans opeens weer skerp. “Hoe kan ’n mens dit anders sien as wat dit is?”
Henk druk weer in sy ou gewoontetjie sy lang, skraal vingers teen mekaar, sit effe vooroor toe hy praat.
“’n Mens kan soos Jakob die omstandigheidsgetuienis glo, toe Josef se broers sy met bloed bevlekte kleed na hom toe gebring het. Dit was ’n logiese verklaring vir sy seun se verdwyning en hy kon dit tog nie anders bewys nie.”
Daar sak ’n swaar stilte. En Hilda, wat lank tjoepstil gesit het, sê: “Alles wat julle praat, klink oneindig diepsinnig.”
Danien hoor haarself lag. ’n Lui, verveelde laggie.
“Toe nou, Hilda, jy oorskat alles wat hierdie twee regsgeleerdes sê. Dalk is dit só. Dalk is onse Alfons ’n landsverraaier. Die blote feit dat hy in geselskap van Katinka Haans verkeer, maak ’n mens naar.”
Jacomien en twee huishulpe kom met skinkborde nader en die jong mans spring dadelik op om te help aanvat. Toe almal weer sit met ’n bord vol geurige pastei en slaaie op die skoot, kyk Frans sy suster vierkant aan. En sy weet dat hy nie ’n enkele nuanse van haar stem, of een onbewaakte kyk in haar oë, gemis het nie.
Frans weet ek speel ’n rol, flits dit deur haar, maar ek sal dit nooit erken nie. Want Alfons het my juis hierteen gewaarsku: Ontken enige verbintenis tussen ons. Ontken dit ten bloede toe! Waarom sy daaraan gehoor gee, weet sy nie. Sy doen dit net. En toe Frans vinnig ná haar pa die seën gevra het, na haar toe draai, is sy gereed.
“Jy glo dit nie werklik nie,” begin hy. “Nie van Alfons nie.”
“Waarom nie van hom nie? Wat maak hom anders as ander sterflinge?”
En eenmaal is Frans sonder woorde. Hy kyk sy suster net kopskuddend aan en niemand anders waag dit om die gesprek verder te voer nie. Eintlik is daar niks meer te sê nie. Dis of hul woorde voor ’n wit muur gestuit het. Hulle praat liewer oor die weer wat ongelooflik mooi is vir dié tyd van die jaar, oor die oes wat byna af is, die troue wat kom … Net soms sluip daar ’n stilte in wat hulle vervaard na mekaar laat kyk.
“Ry vanmiddag saam met my terug,” sê Paul toe hulle koffie drink. “Of sal Henk en Hilda omgee?”
“Natuurlik nie,” sê Henk glimlaggend. “Ek wil juis alleen wees met Hilda, anders kry sy nie ’n kans om haar maandelikse waarskuwingspreek af te steek nie.”
“Waarteen preek sy?” vra Frans geamuseerd.
“O, teen my meisie in die Noorde. Sy reken Hantie is ligsinnig en te mooi om eg te wees. Ek dink sy’s verkeerd, maar goeie vriende luister altyd na mekaar.”
Tot almal se vermaak bloos Hilda tot in haar hare en kyk verleë weg. “Ek weet nie wat laat jou dink dat ons vriende is nie. Volgens jou laat my massa my nie toe om ooit weer in my lewe te eet nie!”
“Haai, Henk!” Jacomien lag half geskok. “Dis darem wreed!”
“En dis maar een voorbeeld van sy sadisme,” sê Hilda gevat, en laat almal lag. Die lughartige stemming van vroeër die naweek is effens herstel, maar toe Karel en Jacomien groet, bly hulle om Danien draai asof sy ’n pasgeborene van ’n skaars spesie is.
“Kom weer volgende week, liefie.”
“Pas jouself op, my kind.”
En hul oë smeek: Vergeet van Alfons. Vergeet enigiemand wat jou leed kan aandoen. En kom na ons toe. Ons sal jou toevou en jou beskerm teen alles. Die oeroue versugting van die bekommerde ouer.
Op pad terug babbel Danien aaneen. Oor die skoolhouery. Oor haar idee om die een of ander tyd met ’n groep leerlinge te gaan toer; oor die Kaap se skoonheid waarvan Paul sekerlik nie genoeg kan kry nie. Paul hoor haar stilweg glimlaggend aan, en toe hulle voor die losieshuis stilhou, leun hy heel natuurlik oor en soen haar lig op die wang.
“Tot siens tot Woensdag,” sê hy.
“Woensdag?” adem sy verbaas.
“Dan is ek van diens af. Kom ons gaan eet iewers langs die see. Ek sal jou vroeg al kom haal en dan gaan stap ons eers op die strand. Reg so?”
Sy knik net, en hulle klim uit. Hy dra haar tasse tot bo in haar kamer en net voordat hy loop, sê hy: “Hoe voel jy regtig oor die hele affêre?”
’n Oomblik lank staan sy in die greep van ’n histerie. Toe laat sy haar skouers effens sak en glimlag droewig met hom.
“Nes julle almal. ’n Mens sal moet wag en sien. Eendag sal ons seker presies weet wat aangaan.”
“Eendag is ver,” sê hy sag. “En dis te lank om te wag tot dan. Onthou, wat nou onaanvaarbaar is, gaan nie dan meer aanvaarbaar wees nie.”