Читать книгу Skemerspel - Helene de Kock - Страница 3
1
ОглавлениеStrepies sonlig spat weg uit die poeletjies water voor sy fietswiele. Die dae lange herfsreën het opgehou en die son kry ’n kansie. Maar ook net dit. Die lig is skraal en gelerig, sonder veel warmte. Miskien omdat die skadu’s alreeds lank en puntig van eik tot eik oor die lanings strek.
Hy ry luilekker deur die nat strate, so asof hy nie juis iewers heen op pad is nie. Dit is lekker noudat die studente weg is vir die April-vakansie en die dorp weer aan die mense behoort. En mense het storm en drang al ontgroei, dink hy met ’n bietjie hovaardige humor toe hy links afdraai in ’n nou straat waar die eike bokant koepel maak. ’n Jaar of twee gelede sou die plek nou vir hom skoon dood gelyk het. Maar nou is dit vredig. Hy sien uit na ’n stil aandjie saam met Christine, ’n woordjie of twee met haar ou vader, en selfs die onvermydelike skermutseling met haar tienerbroer.
Eben hou stil, klim van sy fiets af en maak dit met ’n ketting om die dik eik reg voor die gerestoureerde huisie vas.
“As jy maar kon weet hoe anachronisties lyk jy op daardie help-my-trappie van jou.”
Eben kyk op en die ou gloed skiet in sy gesig op. Fransie, natuurlik. Ewiglik Fransie. En van anachronismes het hy sweerlik eers vandag in die klas geleer.
Die seun sit langlyf op die stoepbankie, sy arms agter sy kop gekruis, en hy bekyk Eben soos gewoonlik met daardie blou blik van hom, geïntensiveer deur die dik brillense. En waar Christine se blou oë Eben instem op allerlei wonderlikhede, maak Fransie se blou gestaar hom bloot kwaad.
“Ek is eerder ’n anachronisme voordat ek cool is op ’n motorfiets, en dalk môre ’n stuk geskiedenis, ou maat.”
Fransie kom orent, skielik self vies. Dit spreek uit sy uitgestote onderlip. En Eben is dadelik spyt. Kon hy nou nie maar sy mond gehou het nie? Almal sluk mos maar enigiets van Fransie. Sedert sy geboorte al sluk almal ewe gedwee, so skyn dit. Maar die kind se volgende woorde skok hom.
“Jy dink verniet jy’s die baas van die plaas, ou Eben. Jy moet seker maak of dit oor jóú is wat Christine die bibberasie kry, of oor Nick du Bois.” Hy grinnik effens. “Hy was vanmiddag weer hier, en jy moet daaraan dink dat hy ’n wynplaas het. Een van daai plekke wat mens ’n landgoed noem.” Fransie hys hom van die bankie af op en slenter hand in die broeksak die huis binne sonder om weer om te kyk na waar Eben tandeknersend sy emosies onder beheer probeer kry.
As dit my ooit gegun word, dink Eben, en trek sy asem suiend in, om ’n hand in hierdie huis te hê, sal ek ’n hele gesagsverskuiwing teweegbring. Dis nou te sê as daar ooit van gesag hier sprake is . . .
Uit hierdie gedagte vloei daar skielik ’n hele paar los gedagtetjies, en hulle vang sy aandag soos ’n poeletjie water wat eensklaps voortjies straataf maak.
Gesag . . . Daar was nooit gesag nie, dis waar. Christine het vertel dat dominee Delange laat getrou het. Nog later is sy gebore, ’n dogtertjie om twee alleenlopers se lewe vol te maak. Heeltemal vol. Hulle wou nie meer kinders gehad het nie. Maar toe het Fransie gekom. ’n Laat laatlam. Dit was ’n bitter geboorte. Net die kermende baba het bly leef, klein en koliekerig. Christine was toe net nege. Volgens haar het haar pa hom maande en maande in sy studeerkamer toegesluit. Die deur het wel weer oopgegaan, maar die man, toe al in sy vyftigerjare, het tóégebly. Kort daarna het hy afgetree en hier kom woon, en geskryf aan preekbundels en kort teologiese publikasies wat oral goed ontvang is. Die huishouding is waargeneem deur ’n bruin vrou, Abeedah, ’n ware juweel wat nou nog by hulle is. Christine is vir haar baie lief, weet Eben, en selfs Fransie luister af en toe na haar oorredende fluweelstem. Want sy het hom grootgemaak. Sy en Christine.
Eben sug diep, kom agter dat sy hande in vuiste in sy reënjas se sakke gedruk is, en wil homself om te ontspan. Die klein blikskottel het sweerlik lankal vergeet dat hy hom die joos in gemaak het, en hier staan hy wat ’n grootmens is hom en verknies daaroor. Dit moet end kry. Dit sal nooit deug dat hy sy aanstaande swaertjie so vrye teuels gee om hom om te krap nie. Want een ding staan soos ’n paal bo water: as hy Christine gelukkig wil maak, sal die ding tussen hom en Fransie moet regkom.
“Eben . . .?”
Dis Christine. Sy staan in die voordeur en kyk na hom. Haar gitswart hare hang los op haar skouers. Dis heeltemal steil en pas soos ’n helm om haar mooi gevormde kop, steek af teen die melkwit van haar vel. Sy het ’n liggeel rok aan en in die gefiltreerde laatlig lyk sy sag en broos en baie vroulik. Eben voel die ou hartstog in hom opkom. Sy is werklik so mooi. Méér as mooi . . . Hy glimlag toe hy opkyk na haar, en herinneringe van hom en haar flits deur sy kop. Dié vermoë het sy ook, dink hy byna oorstelp, om mooi herinneringe te wek . . .
Die eerste maal toe hy haar druipnat gereën op ’n fiets in Dorpstraat sien verbyry het, het sy ’n wilde klopping na sy hart gebring, en ’n soet, toe onbekende verlange.
“Wie is sy?” het hy dadelik gevra.
En ou Lieb het hom geantwoord soos hy geweet het hy sou. Want Lieb was ’n onskadelike kampuswolf wat saam met hom klas geloop het. Lieb was baie bek en baie bang. En baie definitief omtrent die swarthaarnooi.
“Sy’s my hartsbegeerte,” het hy gesug. “Maar haar pa is ’n kwaai predikant en haar kleinboet het my begeerte by die eerste ontmoeting geblus.”
“Hoe so?” het Eben laggend gevra, en naarstiglik in die reënvaal straataf getuur in die hoop om nog ’n laaste glimp van haar rooi reënjas te kry.
“Hy het ’n padda in my jassak geprop en my pront gevra wat ek daar soek, aangesien sy pa nie japsnoetstudentjies by sy suster duld nie – en buitendien gaan sy glo met ’n professor uit.”
Eben het geproes van die lag, want Lieb se paddafobie was sedert hul ontgroeningstyd wyd bekend. Hy had ’n spesmaas dat dit meer die padda as die professor was wat Lieb toe daar by die dominee se dogter verskrik het.
Dit was uiteindelik tog Lieb wat hom teësinnig aan Christine voorgestel het. Op Eben se aandrang het hulle dae lank by ’n straatkafee omgesit en die helfte van hul bates aan koffie uitgedrink in die hoop dat sy haar verskyning sou maak. Sy het ook. Haastig en duidelik nie lus vir ’n geselsie nie.
Haar hare was in ’n parmantige perdestertjie hoog agter op haar kop en die swart stringe het geswiep soos sy haar kop beweeg. Haar oë was groot en blou op hom en Lieb gerig en sy het geamuseerd gelyk. Lieb het paslik begin hum en ha en toe maar erken: “Ons sit al jarre der jarre hier en natreën in die hoop om jou te sien verbyry. As een van ons twee ’n reënjas gehad het wat mooi genoeg was, sou ons dit voor jou fietswiele oopgegooi het sodat jy daaroor kon ry.”
Sy het Lieb fyn beskou, maar dit was op Eben se gloeiende gesig onder die donker kuif dat haar oë bly talm het. Sy het effentjies geglimlag en met ’n kopgebaartjie na die glimmende straat gewys.
“Julle sal meer as twee reënjasse nodig hê om my droog by die huis te kry. ’n Hopelose onderneming, sou ek sê.”
Lieb het gepynig gelyk. “Hoe hopeloos?” het hy bedees gevra. Eben het bly staan met sy mond vol tande.
Sy het uitgebars van die lag. ’n Lekker gladde geluidjie vol warmte. “Ag, nou ja, wat . . . Kom drink julle nou maar by ons koffie.”
Lieb het koppig bly staan. “Wat van die pa . . . en . . . die professor?” het hy gevra.
Sy het ’n oomblik lank uit die veld geslaan gelyk, maar Eben het sy tong gevind.
“Die professor wat volgens jou boetie by jou kuier,” het hy luiters gesê, sy grys oë stip op haar gesig.
Sy het haar ken ’n entjie gelig om terug te kyk. Sy is klein, het hy vlugtig gedink. Haar skouers kom net-net hier by my hart. Haar oë was wyd oop, asof sy onkant gevang is en verbaas was daaroor. En hy het geweet: van hierdie mooi meisie gaan ek hou. Sy het meer as net haar swart hare en wit-wit vel. Sy het kleur. Dit brand in haar helder oë en blom in haar lag.
“Hoe gaan dit met jou boetie se paddaversameling?” het hy gevra en vinnig vir haar geknipoog.
’n Lag het in haar oë geflits, en sy het ewe ernstig geantwoord: “Baie goed, dankie. Iemand het juis gister weer vir hom so ’n vet brulpadda van Elsenburg af gebring. En dan is daar nog die twee boompaddatjies wat so oulik teen ’n mens se mou opklim, enne . . .”
Lieb het met elke woord ’n tree agteruit gegee.
“Tot siens, julle. Ek het nog heelwat te doen. Sien jou later, Eben.”
Lieb het in sy haas in poele water getrap en hulle het hom laggend agterna gekyk.
“Dis waar, weet jy,” het Eben erken toe hy saam met haar huis toe ry, met die suising van die fietswiele op die nat teer tussen hulle.
“Wat . . .?” het sy gevra, en dit was die eerste roering van ’n oeroue spel.
“Alles,” het hy gesê en sy fiets tot vlak langs hare gestuur sodat hul jaspante saam geflap-flap het. “Ons het daar gesit net om jou te kan sien verbyry, en ek gaan nou saam met jou net om naby jou te kan wees. Al hou jou kleinboet paddas aan, en al is daar dalk rêrig ’n professor.”
“Daar is nie,” het sy gesê, en gelag.
“En jou pa?”
“Sal skaars weet van jou,” het sy geglimlag. “Solank Fransie sy goggas uit die studeerkamer hou en alles mooi stil verloop, is alles reg, wat.”
En alles was. Op ’n manier, altans . . .
Eben het gedwee na Fransie se versameling reptiele gekyk.
Twee maal aan ’n akkedis gevat en ’n grasgroen padda op sy hand laat sit terwyl die seun hom dopgehou het vir enige teken van afgryse. Gelukkig dat reptiele nog nooit juis emosie by hom gewek het nie. Toe daar dan ook geen reaksie was nie, het Fransie sy troetelgoed opgetel en fluitend weggestap. Ou dominee Delange het ’n droë perkamenthand na hom uitgehou, beleef uitgevra oor sy plek van herkoms en sy studierigting, en toe afwesig voorgestel dat hy hom tog maar tuis moet maak, Christine sal wel nou die koffie bring.
Maar hy het hom daardie dag verniet wysgemaak dat hy Fransie getroef het. Die seun het ’n veel meer verfynde manier geopenbaar om hom te treiter. Om die waarheid te sê, hy het gesorg dat sy blote teenwoordigheid ’n irritasie was. Self die enigste kind van ’n teruggetrokke weduwee op ’n klein dorpie, kon Eben nie vatplek aan Fransie kry nie. Hy het hom van meet af aan nie begryp nie. Wou ook nie. En Fransie wou eweneens nie aan hom láát vatplek kry nie. In die twee jaar dat Eben nou al hier kuier, kon hy Fransie nie in die minste oortuig dat dit nie sy bedoeling is om sy suster van hom te vervreem nie. Hy het wel probeer.
Daar was die dag toe hy Fransie saamgeneem het Coetzenburg toe in die hoop dat hulle by die aanskoue van ’n rugbywedstryd wat albei graag wou sien, ietwat nader aan mekaar sou beweeg. ’n Klein rukkie lank het hy gedink dat hy daarin geslaag het, maar toe hy in alle erns die kontak wou verdiep deur ’n soort man-onder-die-manne-grappie te vertel, het die kind weggebeur in die sitplek langs hom en verwoed gesê: “Ek moes dit geweet het. Jy bring my net saam omdat jy dink jy kan my sagmaak.”
“Maar ek wil nie . . .” het Eben geprotesteer, besef dat sy aanslag lomp en onvanpas was, en verleë rondgeloer om te sien of die omsittendes weet van die onderonsie. Ag, aarde, het hy moedeloos gedink, ek moet hierdie kind se goedgesindheid wen, maar dit lyk my ek kan nie, en ek wil ook nie juis nie. Maar die wedstryd was boeiend, en dit was net hy en Fransie wat geweet het van die vyandigheid tussen hulle.
“Jy wil, ja,” het Fransie sagter by sy skouer gesê sodat hy verbaas na hom gekyk het, maar die seun se oë was op die veld by die spelers, sy mond stroef bo die jong ken. “Jy wil net vir Christine hê. Jy wil haar wegvat.”
“Néé . . .”
Maar die woord is verswelg deur ’n luide gejou van die skare toe ’n veel geroemde speler die bal aanslaan, en met sy moed versink, het Eben nie weer gepraat nie.
Ná die wedstryd het hy en Fransie teruggefiets huis toe, agter mekaar soos twee vreemdelinge wat toevallig dieselfde roete volg. En toe hulle hul fietse staangemaak het in die agtertuin teen die digte heg vol rooi hibiskusblomme, het Fransie oor sy skouer gegooi: “Vat haar dan maar. Ek sal regkom, en Pa sal buitendien nie eens weet as jy haar gevat het nie.”
Eben het yskoud bly staan. Ek praat nie met ’n stout weerspannige kind nie, het hy toe besef, maar met ’n verbitterde volwassene. Hy is nie Fransie Delange, die dominee se tienerseun nie, hy is Frans Delange, afskeepkind van ’n goeie man. Dit was ’n besef wat hom lam gelaat het. Sou Christine dit dan sien nie? Weet sy dan nie dat die kind loop en roep in die woestyn nie? Maar dit was die verste wat hy self oor die kind wou dink. Verder wou hy werklik nie. Maar daarna het Fransie vir Eben Frans geword. Al was dit net in sy gedagtes.
“Eben . . .? Jy maak my nou bekommerd. Jy staan en staan dan net sommerso en jou oë kyk ver.”
Hy skrik op en glimlag effens verleë. “Jammer. Dis mos maar die uur van nadenke, so sê hulle.”
Sy kom met die stoeptrappies af tot by hom, en haar golf swartblink hare ruik soos altyd na jasmyn. In ’n opwelling van suiwer genot gryp Eben haar net daar in die straat onder die ou eik, druk haar teen hom vas met mag en soen die syerige hare. “Uur van nadenke, sê jy?” spot sy toe hy haar los, en lag met hom.
“O ja,” glimlag hy terug, en die spanning in hom gee effens skiet, “ek het hierdie ontmoeting beplan!”
“Ag, Eben, jy het gestaan en wonder oor jou ou tesis, ek weet mos. Hoe lank nog, hm?” Sy vat sy hand toe hulle stadig die huis instap en die skemerte van die voorhuis met sy donker, antieke meubels soos ’n vroeë nag oor hulle vou.
Eben gaan sit op die sofa en trek haar langs hom neer. Toe hy begin praat, hoor hy Frans se onmelodieuse gefluit iewers agter in die huis. Daar is ’n dowwe geskuifel in die studeerkamer laer af in die gang en die deur gaan krakerig oop.
“Wie fluit so?” roep die ou man die gang af.
Asof hy nie weet nie, dink Eben grimmig.
Die gefluit sak in toonhoogte, maar hou tog aan.
“Wat is dit?” vra Christine, en raak aan Eben se wang, druk toe met haar palm teen die kant van sy gesig sodat hy na haar móét kyk.
’n Vloed woorde stoot na sy lippe. Alles, wil hy sê. Alles hier is fout. Jou pa sluit hom al eeue lank weg van die wêreld, en noudat die tydbom bars, kla hy oor die lawaai. En jý maak ’n slaaf van jou teenoor ’n broer wat niemand se gesag erken nie. Kom, Christine, kom ons trou en laat hulle aan hul eie genade oor . . .
Maar hy sê net: “Niks nie, lief. En met die tesis gaan dit goed. Ek het baie geskryf gekry sedert Saterdag. As ek net so kan aanhou, gaan ek vroeër klaarkry as wat ek gedink het.”
“Dis gaaf,” sug Christine en leun terug teen die sofa. Sy sluit haar oë asof sy moeg is. Die laatlig sypel deur die hoë, nou venster en vloei oor haar wit vel, styf gespan oor die hoë wangbene, oor die vol mond, en dam op in die kuiltjie van haar hals. Eben se oë streel oor haar, bly vasgevang in die kuiltjie staar, en toe hy ’n polsing daar gewaar, buk hy geruisloos oor en druk sy lippe daar. Die aanraking van haar warm, geurige vel stuur die bloed na sy kop. Ek begeer haar so, dink hy midde-in die oomblik, skrik effens vir die gedagte, maar laat toe dat dit keer op keer deur hom gaan. Ek begeer haar bo alle ander. En ek wíl haar hê. Frans was reg. Ek wil haar hoegenaamd nie deel nie. Sy arms vou warm om haar, druk haar soet vroulikheid teen hom vas, en hy soen haar mond, haar oë, haar hals.
“Christine . . .” fluister hy ontroer. “Christine, ek het jou baie lief . . .”
Sy roer in sy arms, druk haar wang teen sy mond toe sy antwoord: “En ek vir jou.”
Dis of Eben moed skep. Hy skep asem ook, luister ’n oomblik en kom agter dat die gefluit opgehou het. Dis doodstil in die huis. Selfs die vae papiergevroetel wat mens soms van agter die studeerkamerdeur hoor, is weg.
“Kom ons trou,” sê hy teen haar wang. “Sommer nou.”
“Goed,” sê sy dadelik. “Net wanneer jy so sê, Eben. Dan kan jy jou goed bring. Ek het ’n groot kamer.”
Eben hoor haar verslae aan. ’n Groot kamer, ja. Hy het haar een maal daar besoek toe sy griep had. ’n Ruim kamer met seker die enigste noordelike venster in die hele huis. Maar hulle twee in ’n beknopte ou huisie saam met twee ander mense teen wie hy hom daagliks sal moet verweer?
“Nee, Christine.”
“Nee?” Sy kom orent en draai haar dwars sodat sy hom vol kan aankyk.
Hy maak sy mond oop, sien die skerp vraag in haar oë, laat sy asem met ’n sug uit. En toe: “Nie in hierdie huis nie, my liefste. Ons kan ’n woonstel soek. Dis wel moeilik om te kry, maar ons kan probeer.”
“Maar waarom nie hier nie? Ons kan soveel spaar!”
“En soveel verloor ook.”
Dis uit voordat hy dit kan keer. Hy gryp haar skouers vas en praat met sy gesig by hare asof hy alle weerstand so kan oorkom. “Christine, jonggetroudes wil alleen wees. Ek wil nie soggens vir Fransie en jou pa sien pas nadat ek jou môre gesoen het nie. Ek wil hulle nie nagsê voordat ek saam met jou in die bed klim nie. Huwelike het al hieroor so gestruikel dat opstaan onmoontlik was, glo my.”
Christine wikkel haar skouers onder sy hande, en hy laat los.
Ag hemel, dink hy, laat haar tog net die een keer insien dat ek nie met haar familie wil trou nie. Nooit nie.
Sy sit weg van hom, kruis haar arms voor haar bors en laat sak haar kop skuins, soos wat sy altyd maak as sy dink. Lank sit sy so en staar na die oupahorlosie teen die wit binnemuur wat tik, tik . . . En van agter dié studeerkamerdeur kom die rukkerige staccato van ou Dominee se tweevingergetik, byna soos ’n voël wat pik-pik na sy weerkaatsing in vensterglas. Eben strengel sy vingers saam voor hom en gedagte en gebed raak verstrengel binne-in hom. Ag, Heer, ek het haar lief. Ek wil haar hê en ek wil nie wag nie. Laat sy my kies. Maak dit vir haar moontlik om weg te breek van hulle. Dis tog net van bed en tafel dat ek dit so wil hê.
Uiteindelik lig sy haar kop en daar is trane in haar oë. “Wat moet ek met Pappa en Fransie maak?” vra sy radeloos.
Eben laat sy asem in ’n ongeduldige blaasgeluidjie uit. “Christine, ek vra jou nie om jou rug op hulle te draai nie. Net om saam met my in ons eie plek te gaan woon. Jy kan hulle nog elke dag sien.”
“Jy verstaan nie. Dit sal nie dieselfde wees nie. Vader is so . . . so hulpeloos. En Fransie het my nodig.”
Eben sit ’n rukkie, vat sy geduld mooi saam, en sê toe: “Maar Christine, niks in die lewe bly dieselfde nie. Niks is tog staties nie. Jy kan dinge slegs behou deur self veranderings te maak en jou dan daarby aan te pas. Jou pa en Fransie sal dit gou leer. Maar jý moet die leiding neem.”
“Ek weet, Eben, ek weet. Dink jy werklik dat ek nog nooit hiermee geworstel het nie? Dis net . . . vir my swaar.” Haar mond beef.
“Ek weet,” sê Eben op sy beurt. Hy staan op en trek haar aan haar hande op tot teen hom. “Maar ek kan nie toelaat dat jou pa en jou broer tussen ons kom nie. Hulle plek is naby ons, nie tussen ons nie.” Hy vee met sy lippe oor haar gladde voorkop, druk haar vertroostend vas.
“Goed dan,” sug sy. “Ons kan trou en in ons eie plek gaan woon. Abeedah is immers nog hier.”
“Juis,” antwoord Eben verlig. “Sy was mos nog altyd hier. Dis nie asof die huishouding sal ineenstort as jy weg is nie.”
Christine knik haar kop op en af, maar haar gemoed bly vol. Dis of sy uiting gee aan ’n huil wat lankal iewers gebêre word. Sy rank haar arms om sy nek en snik dit uit. Hy praat sag en mooi met haar, hou haar vas asof sy in diep waters kan wegglip as hy haar sou los.
“Ekskuus tog,” snik-sug sy toe sy oplaas haar gesig na syne lig, “dis nie dat ek regtig hartseer is nie. Ek is eintlik bly, en verlig . . .”
“Toe maar, ek verstaan,” antwoord Eben. “Maar droog af jou gesig, netnou dink jou pa ék is die bron van jou verdriet.”
Dis speels gesê, maar toe sy dit klaar gedoen het, kyk sy ernstig op na hom. “Jy is eintlik, weet jy. Maar dis nie jou skuld nie.”
“Hoe bedoel jy nou?” vra hy verskrik.
Sy lag. “Aag, dis niks vreesliks nie, Eben. Net dat die oorgang van die oue na die nuwe seker maar altyd pyn ook bring.”
“Nou’s jy negatief, my skat. Maar dis ook niks. Ek sal die pyn en trane wegneem, dit beloof ek jou. Kom ons gaan verwittig jou pa dat ons twee verloof raak.”
Christine se mond gaan huiwerig oop. “Ek wil nie verloof raak nie,” sê sy bot. “Mense verbreek heeldag hul verlowings. Kom ons trou liewer net.”
Eben lag kop agteroor. “Nou toe dan! Ek sal jou maar die verloofring saam met die trouring gee.”
Christine knik en staan effens tru. “Wonderlik. Maar kom ons wag nog ’n week of so voordat ons hulle sê. Ek wil eers bietjie aanvoorwerk doen voordat ons ’n formele aankondiging doen.”
Nee, wil Eben dadelik sê, nee. Ons doen al aanvoorwerk sedert die eerste aand dat ek hier kom kuier het. Ons verkondig al ons verhouding van die dag dat ek jou hand die eerste maal oop en bloot voor jou pa en broer vasgehou het en hulle al twee byna in hul middagkoffie verstik het. Jou pa was bloot verbaas. Maar Fransie was verwoed. En sy woede het nie afgeneem nie en sal ook nie solank ons katvoet om hom loop nie. Kan jy dit dan nie insien nie?
Maar hy swyg. Glimlag net. “Nes jy wil, Christine. Maar net ’n week lank gaan ek wag. Volgende Sondag gaan ek vir jou pa van ons planne sê. En ek wil dan so gou moontlik trou, Christine. ’n Man bereik ’n stadium dat hy weet wat hy wil hê. En ek wil jou nou hê. Ek wil elke beskikbare oomblik by jou wees.”
“Ek voel ook so, Eben,” antwoord sy sag en reik weer uit na hom. “Dis of daar iets haper as jy nie by my is nie.”
En toe hy haar weer soen, is haar oorgawe sag en volkome, asof daar nooit ’n strydige woord gesê is nie.
“Chrissie?” klink Abeedah se stem in die gang, en Eben laat haar traag gaan. “Die ete is op die tafel!”
Toe hulle in die gang af stap, raps Christine met haar vinger teen die studeerkamer se deur. “Kom, Pa!” roep sy goedig, en hulle hoor die geskraap van die ou man se stoel soos hy opstaan agter sy swaar lessenaar.
In die eetkamer waar Abeedah reeds die lig aangeskakel het, gaan staan hulle by hul stoele, en toe dominee Delange binnekom, groet Eben hom warm met die hand.
“Naand, dominee.”
Dominee het dit gebly, en dit pla hom ook nie. Die titel pas waarlik by die waardige ou mens, spierwit van haar en broos van been in die effens verslete donker pak wat hy weeksdae dra.
Sondae vat hy hom uit in ’n pikswart pak en neem plaas net agter die ouderlinge, waar hy roerloos deur die erediens sit. Soms skyn dit asof hy meer mymer, dalk meer herroep, as wat hy luister. Maar van hom hou Eben tog, al begryp hy hom nie aldag nie.
Ook nou, nog vasgevang in die betowering van sy en Christine se omhelsing, kan hy met groot deernis na haar pa kyk. Al is dominee Delange, emeritus, skynbaar blind vir die rede waarom Eben Malan, lektor in die regte, al twee jaar lank so knaend aan sy tafel sit.
“Naand, Eben,” groet hy met sy droë vriendelikheid en gaan sit op sy stoel aan die bopunt van die tafel. “Jy skep ook seker asem vandat die studente weg is, nè?”
“Inderdaad, ja,” glimlag Eben. En dink: ek hou asem op as ek dink wat ek u wil vra, dominee. Want u sien my as ’n toevoegsel tot hierdie huishouding. En dit is ek nie.
“En Fransie?” vra dominee, en kyk soos al die ander kere dat Eben aan hierdie tafel geëet het, vaag in die rondte asof hy verwag dat die seun skielik sy kop bo die tafel sal uitsteek.
“Ek gaan hom gou roep,” sê Christine haastig.
Hulle hoor haar voetstappe op die gang se kraakvloer, haar klop aan Fransie se kamerdeur. ’n Dralende stilte, en dan hul stemme, eers sag en dan stygend in toon en tempo.
“Mens kry hom moeilik aan tafel as hy eers aan ’t lese is, “ sê dominee, maak heserig keel skoon en voel-voel na sy servet in die kleinbordjie langs hom. Eben leun vooroor en lig die deksel van die groot pot in die middel van die tafel af. ’n Smullekker kerriegeur trek daaruit. Hy hou sy hand uit na die dominee se bord. Sonder aarseling gee die ou man sy bord aan en Eben skep vir hom in.
So het dit al baie male gebeur as hy hier eet. Hulle drie kom sit aan, dominee doen sy roetinenavraag na Fransie se afwesigheid en Christine gaan soebat die seun om tog maar te kom eet. Eben leun oor en skep op. Die eerste maal toe dit gebeur het, het dominee vraend na hom gekyk, maar Eben het gewoonweg geglimlag en luiters gesê: “Die kos word koud, en ek help gou vir Christine, wat.”
Die waarheid was dat hy sy hande moes besig hou, of hy sou opvlieg en die seun sonder meer uit sy kamer pluk en gangaf laat marsjeer met ’n hand om sy gorrel. Ook nou voel hy histeries lus om presies dit te doen. Hy wonder vir die duisendste maal wat sal gebeur as hy hom net eendag genoeg vir die seun vererg om hom by te dam en te foeter. Want ’n pak slae is iets wat Fransie bepaald nog nooit ervaar het nie.
“Hier’s ons,” glimlag Christine toe sy en Fransie binnekom. Sy blik vlugtig na Eben en gaan sit om verder in te skep. Fransie skuif slap in sy stoel in en kyk bot na sy bord. Eben se oë vee oor hom, maar bly steek op Christine se hande. Hulle beef effens asof sy ontsteld is. En dis of daar ’n wilde ding in Eben opstaan. Kom wat wil. Daar kom ’n dag dat elke mens iets beleef wat hom laat oorloop.
“Wat lees jy saans hierdie tyd?” vra hy aan Fransie, sy oë kil op die nukkerige jong mond.
Fransie stoot sy vingers deur sy langerige kuif en kyk na Eben se skouer toe hy antwoord. “Boeke, natuurlik.”
“Watse boeke?”
“Van die soort wat vol blaaie is.”
“Fransie . . .” poog dominee en kry sy servet in ’n knelgreep beet.
Maar Eben is op die oorlogspad. Hy skuif effens agteruit in sy stoel, sy oë priemend op die seun. “Dan bly dit snaaks dat jy nog so min wysheid opgedoen het. Ek het trouens al gewonder of jy ooit behoorlik lees. Want te oordeel na die tempo waarin jy skynbaar boeke verslind, behoort jy insig ver bo almal van jou jare te hê. In elk geval soveel dat jy behoort te weet dat mens ander mense in ag moet neem.”
“Eben, asseblief.” Dis Christine, wit en ontstig.
“Net ’n oomblik, Christine. As hy môreaand wanneer ek weer hier kom eet, nie betyds aan tafel is nie, sal ék hom uit sy kamer gaan haal. En hom ’n les in goeie maniere gee.”
Daar sak ’n suwwe stilte oor die tafel waar die kos in hulle borde staan en koud word.
Fransie se gesig is opeens volslae kinderlik in sy verbasing en groeiende boosaardigheid. Hy lyk kompleet asof iemand hom op die skoolterrein kwaad gemaak het. Sy wange is rooi en sy ’n kuif staan orent. Sy mond is saamgepers om woedetrane te probeer verbloem.
Dominee frommel sy servet in een hand, kyk verstom daarna en sit dit bokant sy bord neer asof hy glad nie weet wat om daarmee te maak nie. Hy kug-kug effens. “Eben . . . was dit nou nodig? Fransie is nog jonk . . .”
Eben hoor hom stug aan en antwoord verbete: “U moet my asseblief vergewe. Maar ek kom nou al twee jaar lank hier by u aan huis, en Frans is nie meer ’n kind nie. Hy is al in standerd nege en hy ry ’n motorfiets. Hy kwalifiseer vir volwassenheid. En dit sluit gesonde agting vir reëls en regulasies in. U self bepleit tog ordelikheid en alles wat tot stigting lei in u eie werke.”
Hy bly meteens stil, asof hy besef wat hy kwytgeraak het. ’n Oomblik wik hy, toe staan hy op en gaan sit sy hand ferm op Christine se skouer, voel hoe dit lig onder sy vingers ruk.
“Dominee, ek eien my met eerbied die reg toe om so iets aan u te sê. Want ek wil my graag aan u gesin verbind. Ek het u dogter lief en wil met haar trou.”
Dominee Delange se bebrilde oë skuif van die tafeldoek op en kyk hom verbaas aan.
“Trou . . .” sê hy net.
“Asseblief, Pappa,” kry Christine haar stem fluisterend terug, en sy lig haar hand om dit oor Eben s’n op haar skouer te vou.
“Wil jy ook?” vra haar pa, en kyk na die twee jongmense of hy hulle vir die eerste keer saam sien. Miskien ís dit die eerste keer, dink Eben, en voel die ontstelde klop van sy hart teen sy borskas.
“Ek wil,” antwoord Christine hard. “Ek het Eben ook lief.”
“Dan is dit goed so,” sê die ou man waardig, staan stadig op en steek ’n benerige hand uit na Eben, wat dit gretig in sy eie neem. “Christine, my kind,” sê hy toe hy weer stadig gaan sit, “daar is nog ’n bietjie port in die kas. Of nee, wag, daar is nog ’n bottel wit wyn wat Jans du Bois laas vir my present gegee het toe ek op Welgemoed gaan kuier het. Gee dit aan, dan drink ons op jul geluk.”
’n Paar oomblikke lank het niemand aan Fransie gedink nie. Maar hy sorg self vir aandag. Hy vlie op van sy sitplek, druk met sy seunshande weerskante van sy bord kos en leun vooroor, blosend van erns en woede.
“Drink dan maar daarop, want ék sal nóóit,” sê hy melodramaties, swaai om en stap dawerend uit.
Dominee kyk op na Eben, maar dié skud liggies sy kop. “Los hom maar, ek sal later met hom gaan praat.” En na ’n kort swye: “Ons sal mekaar nog vind, glo my.”
Nadat hy die seën gevra het, begin dominee stadig eet. Hy kou ’n rukkie en kyk na Eben, knik toe sy kop gewigtig op en af. “Ek verstaan wat jy sê, Eben. En ek weet hy is ’n moeilike kind, maar jy moet ook verstaan dat hy bang is dat jy Christine hier sal wegneem.”
Vraag of stelling? wonder Eben wrang, en weerhou ’n antwoord.
Maar dis Christine wat haar woorde een vir een weeg.
“Pappa . . . ons wil in ons eie woonstel gaan woon. Abeedah is mos hier om na julle te kyk. En . . . ons sal elke dag kom inloer.”
Dominee Delange luister na Christine en sê niks, lig net sy kop asof hy iewers ver iets verdags hoor, iets wat hulle ander nie kan hoor nie.
“Bring dan nou die wyn, kindjie,” sê hy toe baie sag.
Christine maak so, en dis Eben wat vir hulle glase bring en inskink. Hulle klink al drie ewe welgemoed hul glasies.
“Mag julle baie gelukkig wees,” sê dominee en sug, sy oë soekend op die valerige portret van Christine se moeder wat teen die muur bo die buffet hang.
“Ons sal,” lag Christine gelukkig en leun spontaan oor om Eben skrams op die wang te soen.
Dit word tog ’n gesellige aand, met hulle drie wat luier oor die borde kos, en Abeedah wat inkom met nagereg en die heuglike nuus met ’n groot glimlag verneem.
“Ek het dit darem sien kom,” sê sy met goedkeuring in haar stem. “Van die eerste dag dat meneer hier gekom het, het ek gesien meneer wil hier by ons wees. Ek was vanmiddag amper jammer vir meneer Nick toe hy maar weer droëbek moes omdraai Welgemoed toe. Ek kon hom ook al lankal gesê het hy call verniet!”
“Ek het nie geweet hy call hoegenaamd nie,” sê Eben gemaak boos. “Ek het hom nog nooit gesien nie, en het ook nie die begeerte nie.”
Abeedah slaan ’n hand oor haar mond, raap die leë borde op en verdwyn kombuis toe.
Christine lag net, wel wetende dat Eben al hoeka bietjie suur voel omdat haar ou vriend nog soms hier ’n draaitjie gooi. Maar dominee ag dit gerade om Eben te antwoord.
“Jy moet dit maar in die regte lig sien, Eben. Christine en Nick du Bois ken mekaar van kindsbeen af. Ons is sulke ou vrinde met die Du Bois’s dat dit voorwaar vreemd sal wees as hy nié nou en dan hier kom nie.”
Eben luister glimlaggend. “Dis alles reg, dominee,” sê hy, “solank hy net soms ’n botteltjie van sy heerlike wyn saambring, is alles in die haak.”
Christine skud laggend haar kop en selfs ou dominee gee ’n kuglaggie.
“Nee, werklik,” hou Eben vol. “Dis voortreflike wyn. Geurig en delikaat.”
“Beslis,” stem Christine saam. “Nick het juis vanmiddag gesê hy wil eendag ’n paar veranderings aan die wingerde van Welgemoed aanbring. Daar is glo ’n Shiraz-wingerd wat al meer as twintig jaar oud is. Dit dateer uit sy oupa se tyd. Hy wil dit uithaal en Pinotage plant. Hy reken hy kan ’n beter rooiwyn daaruit maak. Dalk word hy nog beroemd daarvoor ook.”
“Ja, die jongmense sien vir baie kans,” sug dominee en skuif sy leë poedingbordjie effens weg. “Nou ja, as julle my sal verskoon, ek het nog heelwat te doen vanaand. ’n Hoofstuk wat ek wil afrond om môre aan my uitgewers voor te lê.”
“Nag, Pappa,” groet Christine en kom soen hom op sy wang. Eben staan hoflik op toe die ou man uitstap.
Daar daag ’n klein stilte in die vertrek – vredig en tog vol vrae.
Eben draai sy stoel na Christine, leun oor na haar en druk haar hande in syne vas. “Ek het dit nie so beplan nie, my lief. Tog weet ek dat dit die regte ding was om te sê hoe ek in my hart oor Frans voel. Dinge moet in die oopte kom, Christine, want dan kan mens daaraan werk.”
“Ek weet, Eben. Dis net dat ek vir hom jammer is. Jy sal nie verstaan nie.”
“Ek verstaan meer as waarvoor jy my krediet gee,” sê hy geraak, trek sy hande weg en stut sy elmboë op die wit tafeldoek. “Ek begryp volkome dat hy nooit ’n moeder geken het nie. Maar as ek my ten nouste met julle gaan verbind – en dis my hartsbegeerte – kan ek nie toesien dat Frans maak en breek soos hy wil terwyl jy en jou vader net sê ‘wat ben je een mooie jonge’ nie.”
Christine vou haar arms voor haar bors asof sy so onwelkome woorde kan wegweer. Tog praat sy sag soos altyd. “Ek kan nie met jou saamstem nie, Eben. Vader reken tog ook dat dit net ’n fase is wat sal verbygaan. Fransie gaan nes alle ander tieners deur ’n moeilike tyd.”
“Fase?” sê Eben ontset. “Sou dit nou ’n periode wees waarin hy sy omgewingsprikkels sinvol moet kan verwerk terwyl die huismense die onbenydenswaardige taak het om te sorg dat niks, maar niks, hom in die proses steur nie?” Eben is uitasem van verontwaardiging. “Met ander woorde, ouers moet kindgerig wees. Kinders moet selfgerig wees, en netnoumaar sit die samelewing opgeskeep met ’n egoïstiese klein vloek wat met homself ook maar nie her- of derwaarts weet nie.”
Sy stemtoon het geklim. Die hele tirade tril van emosie, en toe die laaste woord wegsterf in die stil vertrek, vee Eben vervaard oor sy gesig, maar hou sy oë versigtig op die Delftse blou van die antieke opskepskottels in die vertoonkas in die hoek. Dis of die hele stemming van die aand soos handomkeer verander het. Die donker buffet staan strak teen die bleek muur, die hoërugstoele sit styf om die tafel, selfs Janien Delange se portretoë lyk vir Eben gekrenk.
Eindelik sug Christine net en sê: “Dis darem nie heeltemal waar nie, Eben. Dis nie asof ons hom maar laat begaan nie.”
Eben haal diep asem. “Nee, Christine. Julle praat hier ’n bietjie en praat daar ’n bietjie. Dis soos spoegies op ’n beenbreuk. ’n Beenbreuk moet met mening gespalk word. Frans moet met mening vasgevat word. Dit kan ook liefdevol gedoen word.”
“Maar hóé?” vra Christine meteens driftig en staan op, begin poedingbakkies bymekaarmaak en krummels van die tafel afvee met haar hande. Sy werk met vinnige, rukkerige bewegings.
“Ek kan jou sê wat julle nié moes gedoen het nie. Julle moes hom nooit verlede jaar daardie motorfiets present gegee het nie. Sy idee van so ’n voertuig is ’n wind op wiele, en hy gee nie ’n snars om hoe hy laat waai nie. Jy moes nou die dag gesien het hoedat hy deur ’n rooi verkeerslig jaag. Ag, wat praat ek tog! Die hele punt is dat hy sy sin gekry het deur ’n paar weke lank soos ’n beer met ’n bysteek rond te loop. En toe julle dit oplaas nie meer kon hou nie, het julle maar toegegee. Kom wat wil.”
Christine gaan sit slap oorkant hom, die drie opgestapelde poedingbordjies voor haar.
“Hoe lank voel jy al so oor Fransie, Eben?”
Hy kyk haar waterpas aan. “Jy maak nou asof ek wrokkig is, Christine. En dis nie waar nie. Dis net dat ek sedert die eerste dag al voel dat hy eintlik Frans is en nie Fransie nie.”
“Maar waarom?”
“Ag, verkleinwoordjies klink altyd of daar iewers ’n pyn of ’n piep moet wees. Noem hom Frans. Hy is byna ’n man. Behandel hom soos een.”
“Deur hom ’n loesing te gee?”
“Deur hom te straf as hy hardnekkig bly oortree. Christine, jy weet dat ek dit goed bedoel.”
Sy kyk radeloos na hom en skud haar kop effens. “Ek weet, ja, maar ek wens ek het ook geweet wat om te doen.”
Eben kyk na haar blink hare, die roomwit van haar hals bo die rokskraag, haar tenger hand wat op die tafel lê, en hy snoer sy mond. Begin, dink hy, deur nie vanaand sy kos vir hom kamer toe te dra nie. Hy het verkies om op te staan van die tafel af en hy kan self vir hom kos gaan haal as hy honger is. Maar moet tog net nie weer agter hom aanloop, bedees aan sy deur klop en saggies, mooitjies versoek dat hy moet oopmaak nie. Asseblief, Christine, so het julle hom die seun gemaak wat altyd versoek moet word om oop te maak. Hy praat al klaar met ’n mens asof hy reken hy doen jou ’n guns deur ’n woord uit sy mond te laat kom . . .
En hy dink aan Jak Theron, ’n ou studentekennis van hom wat by die seunskool skoolhou. Hy het hom ’n week of wat gelede in die dorp raakgeloop. “Hoe gaan dit, Eben?” het hy gevra.
“Goed, dankie, Jak. En met jou?”
Toe al het hy geweet dat Jak nie om dowe neute met hom staan en gesels nie. Hulle was nooit werklik aangetrokke tot mekaar nie. En Jak se antwoord het sy vermoedens bevestig. Die man wou iets aan hom oordra.
“Met my gaan dit goed, dankie, Eben. Maar daardie aanstaande swaertjie van jou jaag my bloeddruk by die dag hoër. Die mannetjie sit mos heeldag met ’n mond vol tande. Ek was al lus en rek sy kake oop om te kyk of daar ooit iemand binne-in woon. Dalk is hy maar van nature so bot. Of hoe?”
“Dalk is hy net stil,” het Eben luiters geantwoord, die ongeloof in die onderwyser se oë gesien en vaagweg met hom simpatie gehad. Die man se senuwees moet noodwendig ly onder ’n leerling soos Frans. “Gee hy moeilikheid?” het hy gevra.
“O nee. Hy’s te slim daarvoor. Hy is net ontwykend en apaties, byna asof hy geen belangstelling in die lewe om hom het nie. Behalwe natuurlik in daardie fiets van hom. Smiddae skiet hy soos ’n pyl uit ’n boog daar weg . . .”
“Hm . . . Maar hy vaar tog heeltemal goed in sy werk, nie waar nie?”
“Te gemiddeld vir iemand met sy I.K. Maar nou ja, dit sê ook lank nie alles nie, nè?”
Dié gesprek het Eben bygebly soos die refrein van ’n oorbekende liedjie. Meer as een maal wou hy met Christine daaroor praat. Ook nou, maar die skrynende moedeloosheid op haar gesig weerhou hom.
“Kom ons gaan stap ’n entjie. Dis so lekker buite,” stel hy voor.
Sy knik stil, roep ’n slag na Abeedah om te sê dat hulle klaar geëet het, en kom haak toe swyend by hom in.
Hulle stap af met die straat waar die maan effe koulik bo die eike hang en die straatliggies tussen die herfsgeel lower gloei. Hulle stap vinnig en sonder woorde, hul vingers lig ineengestrengel.
Oplaas gaan Eben staan en Christine saam met hom totdat hy met sy rug teen ’n wit gekalkte muur met ’n ry donker luike leun. Haar sagte warmte teen hom laat die laaste bietjie verset versmelt.
Kom wat wil, dink hy, ek het vir Christine. Laat môre dan vol van sy eie dinge wees; sy is nou hier dig by my hart. Soos sy ook elke nag sal wees, al moet ons ook bedags met Frans sit.
Want ons sal. Ek weet dit nou so seker as wat ek leef. Die pratery het net my gemoed verlig, maar dit het niks aan die probleem gedoen nie. Maar dit was ’n begin, die eerste hopie grond wat ’n see moet drooglê.
“Eben,” sê Christine teen sy skouer, “ek wil nie die skokbreker tussen jou en Fransie wees nie – Frans, bedoel ek. Ek wil tog nie . . .”
“Ek weet,” sê hy hartstogtelik, “maar kan jy nie insien dat dít juis is wat ek vanaand probeer voorkom het nie? Laat my toe om direk met jou broer te praat, en jy sal sien hoe ons mekaar vind. Ek belowe jou dit, my liefste.”
Maar toe hy haar mond wil soen, draai sy haar kop weg: “Moet liewer niks belowe nie, Eben. Ek is bang vir beloftes.” Die vae angs in haar stem maak hom bang. Hy skud haar skouers liggies, half ergerlik.
“Ag nee, Christine, jy moet meer vertroue in my hê.” Hy sug beswaard. “Kom ons vergeet nou net ’n klein rukkie van jou pa en van Frans. Net lank genoeg om ons eie woonplekkie te soek. Ek kom jou môremiddag na skool haal, en dan begin ons soek na ’n woonstel. Hoe klink dit vir jou?”
“Baie goed,” antwoord sy stilweg. “Maar ek gee môre na skool tennis. Kom ons gaan liewer Saterdagoggend.”
“Dis ’n belofte, nè!”
“Goed dan,” lag sy en hou haar lippe vir sy soen.
En soos altyd is haar aanraking ’n bron van ongelooflike wonder vir Eben. Christine is ’n droommeisie, dink hy en hou haar styf vas asof hy só alles wat haper, kan regmaak.
“Ek is so lief vir jou, Christine,” sê hy en soek in die halflig van die straatlamp na die wit ovaal van haar gesig. “Kom ons trou sommer gou!”
Sy trek haar asem vinnig in en antwoord haastig: “Goed, Eben, want van uitstel kom afstel.” Sy ril effens in sy arms, asof ’n skielike kilte teen haar aanstuif.
“Kom ons gaan huis toe,” sê hy begaan. “Die lug begin al saans knyp.”
Hulle stap vinnig terug, en hy soen haar nog een maal voordat sy by die voordeur in verdwyn.
Maar toe hy op sy fiets wegry, voel hy nie soos ’n jong man wat so pas die jawoord gekry het nie. Dis of ’n donker beklemming in hom groei soos mos in klam skadu.