Читать книгу Draalnoot vir 'n janfiskaal - Henry Jack Cloete - Страница 3

1

Оглавление

Jamie Kitshoff oorweeg die oorblywende oomblikke.

Hy stap met ’n gemaklike pas teen die berg se helling op. Die vroegoggend is vars en bytend, die soort wat ’n diep teug van lug noodsaak, asook die waardering van hoe geanimeerde en niegeanimeerde dinge hulself gelyk in een stem kan aankondig.

Dit is presies wat Jamie vanmôre doen. Die uitgerekte teug sou na enigiemand se standaarde indrukwekkend lank wees. Die oopmondglimlag op sy gesig is soos dié van ’n tweejarige, borrelend van die ontdekkingsdrang.

Hy staan ’n geruime tyd stil en kyk teen die helling op. Sy bestemming is nie meer ver nie. Hy het gekies om in te stap by ’n bekende staproete se eindpunt, waar die laaste houttrappe op die stil kusdorp se strand uitloop. By die klein herberg waar hy oorgeslaap het, het hy reeds voor sonsopkoms opgestaan, daarna suutjies met sy rugsak tot in die straat gestap en strand toe gemik. Die uitgang van die staproete se eindpunt was moeiliker om te vind as wat hy vermoed het, goed versteek langs die strandmeer. Eers nadat hy onsuksesvol teen ’n paar bobbejaanpaadjies probeer uitklouter het, het hy besef daar móét ’n eenvoudiger pad wees, stappers sal mos onmoontlik teen só ’n steil bult wil afgly ná dae se moordende stap.

Vir die dertigjarige Jamie sou dit beslis moordend wees. Hy het homself nog nooit as vet-vet beskou nie, maar ook nie die soort maer-vet wat getuig van ’n ongewone lewe met wisselvallige eet-, drink- en dwelmgewoontes nie. Rock star maer-vet, het hy nog in ’n stadium gehoop. Maar nee. Iewers tussen maer-vet en vet-vet sou sy lyf moes hang.

Hy glimlag. Vanoggend voel hy nie ongemaklik in sy liggaam nie. Hy vryf deur sy kort vaalbruin hare. Sy regtervoet plaas hy berekend teen ’n klip aan die regterkant van die paadjie, sy hande bol hy in vuiste en werp hulle met reguit arms die lug in.

“Hallo, wêreld!” roep hy, so luid as wat sy stem hom toelaat. ’n Voëltjie of twee vlieg kwetterend weg. Die akoestiek van die see se gestamp teen die strand verdrink sy stem vinnig.

Hy lag vir sy lawwe uitgelatenheid, skud sy kop en tree vorentoe. Hy bereik ’n punt waar die geplaveide paadjie wegswenk van die krans af. Tog lei ’n betreklik duidelike voetpaadjie na dié uitkykpunt. Walvisse in die winter, het hy iewers gelees.

Hy beweeg doelgerig tot by die punt van die krans. Die helderheid van die oggend buig tydsaam oor die oseaan.

Hy hyg effens terwyl hy sy rugsak afhaal en voor hom neersit. Die meeste van die besittings wat hy saamgebring het – ’n tandeborsel en tandepasta, ’n draagbare pinball-speletjie, ekstra onderklere (uit gewoonte ingepak) en sy eie handdoek – het hy sommer by die herberg gelos. Sy motor, ’n ou Volkswagen Kewer wat hy by sy pa geërf het, staan ook nog buite die herberg. Dit is net die klere aan sy lyf, ’n waterbottel en, in die rugsak, ’n skootrekenaar en ’n notaboek wat hy by hom het.

Hy haal die notaboek uit en bestudeer vlugtig die woorde wat hy die vorige aand op die voorste bladsy gekrap het. Hy probeer dit memoriseer. Dan bedink hy hom, glimlag en skud weer sy kop.

“Dit is mos nie die idee nie, Jamie,” sê hy goedig aan homself.

Die skootrekenaar is lig wanneer hy dit uit die rugsak haal en aanskakel. Hy gaan sit kruisbeen en timmer vaardig aan die sleutelbord. Dan verskyn dit op die skerm – die tuisblad van Fermata.com. Hy het dié webwerf al telkemale besoek, maar dié is die belangrike slag. Die oënskynlike sterk internetspoed is ’n verligting – hy was onseker of daar genoegsame ontvangs op hierdie punt sou wees.

Hy vind die record and upload-funksie. Net langs dié opsie lê die toetsfunksie. Hy klik daarop en meteens tuur sy eie gesig na hom terug – nie te naby nie, maar digby genoeg vir sy gesigsuitdrukkings om duidelik te wees. Hy glimlag en die gesig op die skerm doen dieselfde, asof in ’n vriendelike ontmoeting.

Jamie is tevrede.

Hy staan op, met die rekenaar steeds in sy hande. Hy stap na die punt van die krans, kyk na die strand ver na benede. Met die rekenaar en dié se ingeboude kamera wat in die vou van sy linkerarm na hom gedraai is, werk hy handig met sy regter-wysvinger tot die pyltjie op die record and upload-funksie tot rus kom.

Hy voel ’n skimp van ’n bries in sy hare. Hy klik op die opsie en sien onmiddellik weer sy eie gesig op die skerm, met die helderblou lug agter hom.

Hy glimlag.

Dan spring hy.

“What I want to say, is this!” roep hy vinnig teen die wind terwyl hy val. “I … I want …” Hy voel ’n koue beklemming. “Wag … wag, ek wil oor begin!”

Hy gil van pyn wanneer sy regtervoet die punt van ’n rots tref. Die rekenaar glip uit sy hande en val na onder. Jamie tuimel soos ’n swaar strandbal deur die rotse. Hy was nie hierop voorbereid nie, hy het gemik na ’n enkele, suiwer trefslag teen die strand.

Sy laaste gedagte, net voor sy voorkop teen die punt van ’n skerp rots klap, is dat hy sy trajek beter moes beplan het.

Sy verminkte liggaam val uiteindelik slap van die laagste rots tot op die strand, skaars vyf meter van waar die skootrekenaar tot ruste gekom het. Op die skerm is sy bebloede gesig duidelik sigbaar – sy oë wawyd oop.

’n Druppel bloed val van die oop wond aan sy voorkop tot op die strand.

’n Geluid klink op uit die skootrekenaar se luidspreker.

Upload complete, vertoon die skerm.

Klets met Caroline se regisseur stut sy ken teen sy vuis. Vanuit die klein kamer agter die gehoor is hy in beheer. Hy laat die video van Jamie Kitshoff se dood so lank moontlik loop, tot op die grens van ondraaglikheid.

“En … pause,” sê hy aan sy assistent, Gerhard.

“Dis nou al ’n tyd lank op pause.”

“Wat?” Hy kyk op. Sowel Caroline as haar gas sit geduldig in hul pienk stoele en wag vir die video om ten einde te loop sodat sy hom met vrae kan bestook. Aangesien Jamie egter dood was en by implikasie nie veel beweeg het op die skerm nie, het niemand op die regte punt – wanneer die video tot stilstand gebring is – gereageer nie, aangesien niemand besef het dit is die punt nie.

“Fuckit,” mompel die regisseur en leun na sy mikrofoon. “Caroline, praat!”

Caroline hou ’n vinger teen die gehoorstuk in haar linkeroor. Haar program is gewoonlik bloot ’n plek waar glimlaggende bekendes oor hul jongste projekte kom klets. Hier en daar ’n jong entrepreneur, ’n opkomende sportster en dies meer. Altyd glimlagte, niks morbieds nie – daarom kan sy geen vat kry aan Daniël Roberts se besluit om sy eerste openbare verskyning eksklusief op háár program te maak nie. Waarom sal ’n man soos hy in die eerste plek bewus wees van Klets met Caroline se bestaan? Al is dit landwyd en onder alle demografiese groepe een van die land se gewildste televisieprogramme …

Die regisseur was vroeër bekommerd dat verskeie nuwe elemente in die gehoor sal wees vir hierdie episode, elemente wat nie enigsins anders in die program sou belangstel nie. Maar die vervaardigers het hom verseker dat al die gehoorlede seisoenkaartjiehouers is.

Die kykergetalle, het die vervaardigers gesê, sal alle vorige rekords oortref. Daar was ook heelwat buitelandse belangstelling vir uitsaairegte, wat die vervaardigers uit hul nate gehad het. Dit sou ’n eerste wees vir dié program.

Dit is slegs een van talle redes waarom Caroline nou buitengewoon op haar senuwees is. Sy betrag die man wat op die stoel oorkant hare sit. Veertig, min of meer. Dit lyk of hy nie veel moeite gedoen het om homself netjies te maak vir die geleentheid nie. Sy donkerbruin hare, wat los oor sy nek en ore tot op die kraag hang, dui plek-plek op gryswording en die lengte van sy stoppelbaard val aan die verkeerde kant van modieus. Sy arms is op ’n ietwat uitdagende wyse oormekaar gevou, knus in ’n gemaklike bruin ferweelbaadjie.

Sy sluk swaar en wonder onmiddellik of dit hoorbaar was in haar kraagmikrofoon. Sy stry teen haar natuurlike instink om breed te glimlag en skenk met veel moeite geboorte aan ’n frons.

“Meneer Roberts,” sê sy, “ons het pas gekyk na een van die vele video’s wat al na jou webwerf opgelaai is. Hierdie Fermata.com. So baie video’s van jong mense, ou mense, elkeen van hulle ’n pragtige en unieke individu …”

Met die laaste sinsnede moet sy weer haar instink om breed te glimlag onderdruk. “… wat hul eie selfmoorde dokumenteer vir die genot van sommige kykers. Ek wil weet: hoekom?”

Dit was heel goed, dink sy. Die man wat oorkant haar sit, lyk egter onbeïndruk. Sy helderblou oë dra ’n boodskap van effense meerderwaardigheid oor, sy stywe glimlag dui aan dat hy niks hoef te bewys nie, maar sou kón indien dit sou nodig wees.

Vir ’n vlietende oomblik is Caroline verlief.

“Hoekom wát, Caroline?” vra hy.

“Hoekom … hoekom doen jy dit? Hierdie webwerf. Moedig dit mense nie aan om selfmoord te pleeg nie? Hoekom sal ons dít wil hê? Hoekom sal ons wil hê mense soos hierdie jong man moet hulself doodmaak vir geen klaarblyklike rede nie?”

Daniël verskuif effens in die groot stoel. Sy voel sy het ’n aar raak geboor.

“Wel, om regverdig te wees,” antwoord hy, “julle het nie juis die beste video gekies om as voorbeeld hier op te sit nie.”

Sy voel aan hoe hy die beëindiging van die kort dog swanger stilte beplan.

“Die meeste van die video’s,” gaan hy voort, “bevat veel meer as dit, soos jy sou geweet het as jy die moeite gedoen het om daarna te kyk of om enige van die inligting op die site te lees. Die genot van sommige kykers, sê jy? Dis meer as net sommige, en genot is net een van die beoogde reaksies, en beslis nie die belangrikste een nie. Hoekom sal jy op genot fokus?”

Caroline het nie dié reaksie verwag nie, maar haar selfvertroue is aan’t terugkeer. “Wel, meneer Roberts, waarop sou jý gefokus het?”

Hy leun na vore. Hy sug en onderdruk blykbaar ’n mate van frustrasie. Dan kyk hy op. “Dis die punt!” roep hy skielik uit en slaan sy regterpalm teen die pienk stoel se armleuning. “Dit gaan nie daaroor om op een ding te fokus nie. Dit is … groter as die som van die dele. Jy kan nie te veel op enigiets fokus nie. Dit verydel die doel.”

“Wat ís die doel dan, Daniël?” vra sy vinnig. Sy hoor die stem van die regisseur in haar oor fluister: “Chill bietjie, chill bietjie.”

Sy onthou dat hulle besluit het om die gesprek nie te filosofies te laat raak nie, aangesien dit die program se lojale gehoor mateloos verward en verwyderd kon laat. Nietemin was sy nog nooit só skielik só nuuskierig oor waarheen iets lei nie. Die vervaardigers wat navorsing oor Daniël en Fermata.com gedoen het, het nagelaat om haar in te lig oor die ondefinieerbare sjarme van die man en die verskynsel. Maar dan, oor die man was bitter min bekend, tot nou. Dit was immers nog nooit bekend wié die webwerf bestuur nie, ondanks (of, bes moontlik, te wyte aan) die wêreldwye belangstelling.

Sy ignoreer die regisseur se bevel. “Wat is die punt daarvan om te kyk na hoe ander mense uit vrye wil doodgaan? Een of ander vorm van projeksie?”

Die stem in haar oor klink weer op, meer dringend: “Projeksie? Wat de fok, Caroline? Chill!”

Daniël kom steeds geïrriteerd voor. Hy haal diep asem en sak terug in sy stoel. “Jy kan nie daarop fokus nie. Dit fokus op jóú.”

Sy kan in sy oë sien hy vermoed hierdie stelling sal die gehoor én haar wat Caroline is geheel en al ontgaan. Hy gaan egter voort: “Laat my toe om ’n video te kies, Caroline – ek sal vir jou een wys wat jou ’n idee sal gee.”

Caroline het dié verwikkeling ook nie verwag nie. Die aard van televisie laat nie in die algemeen ’n afwyking van koers toe nie. Wanneer sy dit die nodigste het, is die stem in haar oor skielik afwesig.

Nie dat Daniël nou gekeer kan word nie. Hy het reeds beheer oorgeneem van die skootrekenaar op die koffietafel, van waar die beelde op die groot skerm geprojekteer word. Hy hamer verwoed aan die sleutelbord tot hy die tuisblad van sy webwerf bereik. Fermata.com, vertoon die groot skerm in goue letters teen ’n donkerrooi agtergrond. Hy kyk op na die skerm en laat sy blik ’n oomblik vertoef. Caroline kan nie bepaal of dít is om seker te maak alles vertoon reg, en of hy bloot in stille trots sy skepping oorweeg nie.

Sy probeer hom keer, maar die regte woorde wil nie kom nie. In die ongemaklike stilte wat hang terwyl Daniël sy gewenste video opsoek, glimlag sy breed vir haar gehoor en laat sy die skouer wat na hulle gedraai is effens sak.

“A,” sê Daniël uiteindelik en voer ’n laaste klik uit. Op die skerm is ’n videoraam op die webwerf sigbaar waarbinne ’n jong meisie, bes moontlik in haar laat tienerjare, verskyn. Sy het lang, reguit swart hare – duidelik goed versorg – en groot, helderblou oë. Haar liggaamshouding verklap dat sy nie oorbewus van haar eie skoonheid is nie – sy leun merkbaar vooroor, met ’n ondeunde gelaat. Sy beweeg weg van waar sy bykans teen haar rekenaar se ingeboude skerm gestaan het en huppel in die rigting van waar klein branders ’n strand op ’n bykans strelende wyse tref. Die pante van haar blommerok wip soos die wind dit trek. Sy tree die water in.

Sy haal ritmies en rustig asem. Met ’n moedswillige, speelse stoutheid in haar stem begin sy praat. Sy praat terwyl sy haar linkerhand oopmaak. ’n Klein lem word sigbaar. Sy praat harder terwyl sy skynbaar moeiteloos die lem deur die binnekant van haar regterarm, tussen die elmboog en die pols, sleep. Al teken van pyn wat sy verklap, is wanneer sy met die verwydering van die lem ’n ligte snak uitlaat en afkyk na hoe die bloed in vinnige strome teen haar arm afvloei en die see in drup. Sy verplaas die lem na haar regterhand en herhaal die proses met haar linkerarm. Sy glimlag steeds skelm, asof sy ’n ongeslypte diamant smokkel. Wanneer sy klaar is, laat val sy die lem in die water en werp haar arms triomfantelik in die lug. Sy roep haar woorde uit, spontaan en stotterend, maar met die luidheid van ’n hamer wat ritmies teen metaal klap. Sy roep en roep tot sy tevrede is, tot haar boodskap oorgedra is. Dan draai sy om en beweeg die water in. Teen die tweede groter brander sak sy weg en verskyn nie weer nie.

Daniël laat die video nog enkele sekondes vertoon voordat hy weer op die skerm klik om dit te laat stop. Hy kyk op na Caroline. “Jy sien?” vra hy.

Caroline, vir ’n oomblik hangend aan haar eie onderkaak, skud haar kop uit die waas van verstomming. Sy leun vorentoe en plaas haar palms teen mekaar. “Hoe werk dit?” wil sy weet.

Daniël plaas selftevrede sy hande agter sy kop. “Dis eintlik heel eenvoudig. Die site het ’n record and upload-funksie, soos jy weet. Enige bydraer wat ’n geregistreerde lid is, kan toegang daartoe kry, solank daar ’n webcam in hul rekenaars is of hul selfone video-opnames toelaat. Daar is ’n app vir slimfone … in elk geval, die upload-funksie beperk die opname tot vyf minute. Jy weet, niemand kan meer langer as vyf minute aandag gee aan een onderwerp of toneel nie …”

Dit herinner Caroline aan haar tydlimiet, maar geen stem in haar oor jaag haar aan nie. Die toestel moet stukkend wees, dink sy.

Daniël gaan voort: “Vyf of vyftig sekondes ekstra sou ook kon werk, maar wat sal dan oor wees vir die kyker om oor na te dink? As dit langer was, sou daar geen ruimte vir verbeelding wees nie … dit sou wees soos om porn aan te sit terwyl jy ’n masturbasiepoging afrond, of om ’n kraan oop te draai terwyl jy pis …”

“Asseblief, meneer Roberts, jou taalgebruik …” Die onderbreking is meganies.

Hy grinnik. “Wel, in elk geval … soos ek gesê het, dit beperk die uploads tot vyf minute. Teen die einde van die vyf minute word die opname direk op die site, of dan eerder die site se databasis, gelaai. Nadat dit opgelaai is, moderate ek die video’s voor dit live gemaak word.”

“Moderate? Wat beteken dit?”

“Moderate. Daar’s heelwat narre daar buite. Poetsbakkers. Idiote. Dan ook – dit wat net pogings is.”

“Pogings?”

“Jy weet … pogings. Die soort ding waar hulle net die video maak in die hoop dat iemand dit sal sien en skielik met hulle simpatiseer, waar hulle hoop dat iemand die eensaamheid in hul oë sal sien en skuld, of liefde, of wat ook al voel … miskien is dit dieselfde ding … maar dít is nie die gees van Fermata nie. Hulle moet ook deurtrek, nie net voorgee om deur te trek nie. Anders is daar geen punt nie.”

Die stem klink skielik in Caroline se oor op, met kraakgeluide. “Caroline, hoekom luister jy nie? Sit regop, for fuck’s sake, sit regop en vra hom wat die punt is.”

Sy sit skielik kiertsregop. “Ek het dit reeds gevra,” fluister sy sodat net haar kraagmikrofoon die woorde kan optel.

“Vra dit weer.”

Sy knik. “Wat is die punt dan, Daniël?”

Hy sit teen hierdie tyd al gemaklik diep in die stoel. “Vraag en aanbod, Caroline.”

Sy snak na haar asem. Dít, van alle antwoorde tot dusver, is moontlik die verrassendste. Sy is die afgelope paar minute meegesleur deur die man se blykbare vermoë om geheel en al verby dit wat algemeen is te kyk. Die moontlikheid van uitbuiting het nooit by haar opgekom nie. “Wat bedoel jy?” vra sy en besef haar stem bewe effens van verontwaardiging, asof sy reageer op ’n onthulling van ontrouheid.

“Ek bedoel,” sê hy, “net dit. Vraag en aanbod. Ek’s ’n sakeman, Caroline. As ’n man in die besigheid van vis verkoop is, kan hy nie vir sy kliënte herwinde, visvormige stukke karton gee nie. Hulle sal fo- … verdomp ontsteld wees. So hoekom sal ek dit doen?”

“En jou besigheid is … die dood?”

“My besigheid is wat die kykers ook al daaruit put deur na hierdie sterftes te kyk. Gewillige dood, dit is belangrik. Het jy al ooit verby ’n ongelukstoneel gery en gesien hoe dosyne mense saamdrom om te kyk hoe die lyke uitgesny word? Dis natuurlik, dis net soos honger. Maar hulle mis die belangrike dele. Hulle kry die reuk, maar nie die smaak nie. Het jy al ooit gewonder na watter liedjie daardie persoon geluister het kort voor hulle dood is, aan wie hulle gedink het terwyl die ruite ontplof het, wie hulle gegroet het voor hulle op die pad geklim het, indien hulle enigiemand gehad het om te groet?” Hy praat rustig en beduie met sy hande, asof hy ’n konsep aan ’n klas vol leerders verduidelik. “Wat van daardie breukdeel van ’n sekonde wat tot vyf minute uitgebrei word, en daardie vyf minute wat nie verrassing en skok bevat nie, maar ’n gewillige tog is? Superrealiteit. Dis superrealiteit, met die dood wat op hande is. Imminent. Fermata, dis die noot wat onbepaald aanhou tussen die patroonmatige bladmusiek rondom dit. Dit gee die smaak – die mees opregte, mees egte, eerlikste ding wat die bydraers ooit sal doen en sê en wat die kykers ooit sal sien. Die Fermata-mense besef en waardeer die waarde daarvan, die uniekheid daarvan, vergeleke met die eentonige, eenvormige stront wat ons daagliks gevoer word. Fermata bied dit vir daardie mense. Vraag en aanbod.” Hy haal sy skouers op. “Ek’s ’n sakeman. Ek maak seker my site hou aan om die materiaal te voorsien. Die verkeer na my site en die ledegetalle hou aan groei.”

Die gehoor bars skielik uit in applous, wolwefluite, en ’n wilde gejuig. Die woorde “Wooh!” en “Yeah!” klink sporadies op. Nóg Caroline nóg Daniël het dít verwag.

“Wat de fok, Gerhard!” skree die regisseur, met sy hande in sy hare. “Wat de fok! Jy moes die boo-knoppie druk. Het jy die applause-knoppie gedruk?”

Die APPLAUSE-teken bokant die verhoog waarop Caroline en Daniël sit, flikker steeds. Die skare is nou reeds op hul voete vir staande applous, sommige gehoorlede huil van blydskap en gee mekaar drukkies.

“Gerhard! Fokken fix dit!” roep die regisseur.

Gerhard haal sy oorfone af en staan op. “Ek’s moeg vir jou kak, Deon. Ek bedank.”

“Jy’s gefire! Vir fokken dodelik seker gefire! Geen pensioen vir jou nie!” roep die regisseur terwyl Gerhard uit die kamer agter die gehoor draf en die deur op dramatiese wyse toeklap.

Die regisseur vroetel met die knoppe tot die applous mettertyd bedaar en die gehoor vinnig weer hul sitplekke inneem.

Caroline lyk te verward om voort te gaan. Daniël glimlag geamuseerd.

Die regisseur vee met sy mou sweetdruppels van sy voorkop af. “Liewe Here, wat het ons besiel om hierdie show live te maak …”

Die bestendige gebrom van die enjins het begin. Die vliegtuig beweeg sentimeter vir sentimeter vorentoe op die landingstrook, gereed om van O.R. Tambo af op te styg, bestem vir Kaapstad. Binne die tuig het die persone in uniforms reeds die proses afgehandel van arms gekoördineerd swaai terwyl die passasiers nie luister nie.

In die vierde ry van voor, in sitplek 4E, sit Daniël Roberts. Sy deurmekaar hare val oor ’n groot donkerbril. Hy kyk verby die leë sitplek langs hom by die venster uit. Sy geïrriteerde gemoed het minder te doen met die TV-program as met die feit dat hy pas besef het ’n joernalis het tussen hom en die gangetjie sitplek ingeneem. Hy het haar herken uit die foto’s wat bo haar artikels verskyn. Nog jonk, meestal ligter stories, tog interessant geskryf. Hy prys homself stilweg vir hoe hy sy vinger op die pols hou van wat in die media aangaan en veral hóé inligting oorgedra word in voorgeskrewe formate, style en vorme – hy lees elke beskikbare plaaslike koerant en bring ure op buitelandse media se webwerwe deur. Sy gunstelingstories is dié wat handel oor diere wat uit dieretuine ontsnap.

Hy hoop sy herken hom nie.

Soos hy daaroor nadink, wonder hy self waarom hy juis nóú gekies het om sy identiteit as skepper en bestuurder van Fermata bekend te maak. Hy het nie ’n vaste, onaanvegbare antwoord nie – die druk van tyd het die afgelope paar maande swaar op hom gelê, om die een of ander rede, en hy het die behoefte gevoel tot ’n verandering, ’n uitdaging, ’n manier om te sien wat ander werklik van hom dink. Sy laaste blootstelling aan openbare evaluering het hy op sestienjarige ouderdom beleef by ’n eisteddfod-kompetisie. Hy het klavier gespeel en ’n deelnemersertifikaat ontvang.

Waarom Caroline? Waarom nié! Hy het nog altyd ’n effense jaloesie gevoel teenoor dié wat op die program verskyn, veral die jong entrepreneurs. Aandag, veral eendimensioneel-positiewe aandag, is verleidelik, en hoewel hy homself nog altyd as verwyderd van die drange van die samelewing beskou het, voel hy ’n mate van erkenning kom hom toe.

Die implisiete erkenning was reeds daar – die webwerf is immers wêreldwyd gewild – maar om sy naam aan ’n prestasie gekoppel te kry, was ’n neiging wat selfs hy uiteindelik nie meer kon wegdink nie.

Wanneer hulle die gepaste hoogte bo seevlak bereik het, leun die joernalis oor na hom en reik haar hand uit.

“Hallo, Daniël,” sê sy, “ek is Megan Oosthuizen van Weekverslag.”

Hy neem nie haar hand nie.

“… aangename kennis,” sê sy en reik weer die hand na hom.

Hy ignoreer dit, staan op en skuif na die leë sitplek teenaan die venster. Hy het nie spesifiek ’n renons in joernaliste nie, maar die bespreking van Fermata.com wou hy beperk tot Caroline se program. Ja, die koerante sal seker daaroor skryf, maar hy het reeds gesê wat hy wou sê en wil dit nie verder neem nie – op die televisie is dit hy wat praat, nie verwronge aanhalings wat deur skrywers gemanipuleer word soos dit hulle pas nie. Wanneer hy opkyk, is Megan weer langs hom. Hy kyk verby haar, na die lugwaardin wat drankies aanbied.

“Double whisky,” mompel hy.

“What kind, sir?” vra die lugwaardin.

“Send not to know for whom the bell tolls,” sê hy met ’n knipoog.

“What?”

Hy klap sy palm teen sy voorkop. “Bells is fine. No ice, please.”

“The same for me,” sê Megan geesdriftig.

Hy kyk verras op. “Werklik?”

“Net hierdie tyd van die dag,” sê sy.

Hy vermoed sy probeer verleidelik voorkom. “Dit is negeuur in die oggend,” sê hy. Vir hom, wat volgens sy eie skedule werk, is dit niks vreemds nie.

“Ja,” sê sy sag, “ek weet.”

Daniël knik. Wanneer die drankies kom, lig hy syne vir ’n klinkslag. “ ’n Mooi dag om op te fok,” sê hy.

Sy lag en stamp die plastiekglas liggies teen syne. Hy neem ’n sluk en hou haar dop. As sy dit maklik sluk, beteken dit hy sal haar kan plaas as geesgenoot, of dit beteken sy is oorentoesiasties in haar poging om ’n band met hom te vestig. As sy sukkel, sal hy weet hy het die eerste klein stryd gewen en sy vlag as meerdere geplant. As sy slegs liggies teug, beteken dit sy is oorversigtig en wil by haar volle positiewe bly, wat ook beteken sy is die een met iets om te wen, nie hy nie. As sy dit neersit, beteken dit sy het om mee te begin gelieg en hy sal dit so uitwys.

Sy kyk na die drankie en neem dit byna volledig met een groot sluk in. Sy laat ’n kort dog luide hoesie uit en hyg effens.

Hy lag hardop – iets wat hy nie dikwels doen nie, maar sy moet sy leedvermakerigheid kan waarneem. Haar reaksie op die drankie was ’n kombinasie van moontlikhede, dus. Hy neem rustig nog ’n sluk.

Megan herwin haar ewewig en leun oor na Daniël. Sy plaas haar arm op die leuning, styf, sodat hy dit nie sal kan afbeur of aftik met syne nie. Sy wil haar figuurlike verlies aan grond regstel, dink Daniël. Slim.

“Daniël, sal jy op rekord gaan?”

“ ’n Mens is altyd op die rekord.”

“Jy bedoel … op ’n geestelike vlak? Jou wel en wee word geweeg … vir God?”

’n Mate van neerhalendheid, of eerder neerbuiging, lê in haar stemtoon, soos dit ’n jong joernalis wat vinnig en gemaklik etikette op gesigte en behoeftes moet kan plaas, seker maar betaam. Daniël ignoreer dit. “Nee. Geen regdenkende mens kan so dink nie.”

“Ek vra net.”

“Jy dink ek is nie regdenkend nie? Jy dink dis hoekom ek Fermata doen?”

“Ek vra net.”

Hy grinnik haar woorde weg en kyk weer by die venster uit. Dit is al byna Vrystaat onder hulle.

“Daniël, hoe slaap jy saans?” vra sy, asof dit ’n terloopse vraag tussen vriende is.

“Op my bed, langs my vrou, met ’n bottel Bells op die kassie.”

“Om jou skuldgevoel mee te verdrink?”

“Nee. Net ’n bottel. Ek verdien dit tog.”

“Hoekom dan nie iets duurders nie?”

“Ek is ’n man van eenvoudige behoeftes.”

“Ek sien … help die whisky met die skuldgevoel?”

Hy beteuel sy broeiende irritasie. “Hoekom sal ek skuldig voel? Ek’s ’n sakeman. Niks slegter of beter as enige ander nie, beslis nie minder wettig as, sê nou maar, ’n tabakmaatskappy nie.”

“Nou’s ek lus vir ’n sigaret.”

Hy bekyk haar glimlag, soek subtiel na tabakvlekkies op en tussen haar tande. Daar is nie. Hy begin die gesprek geniet.

Sy kyk hom steeds vol in die oë. “Maar daar is mos nie trappe van vergelyking as dit kom by wettigheid nie. Iets is wettig of onwettig.”

“Daar is vlakke,” sê hy lusteloos. “Vyf jaar vir een oortreding, vyf-en-twintig vir ’n ander.”

“Maar ’n oortreding is steeds ’n oortreding.”

“Fine,” sê hy, skielik moeg vir die debat. “Wat is jou punt?”

“Ek het gehoor jy is op dun ys wat suicide assistance betref.”

Hy lag droogweg en kyk weer weg van haar. “Yep, ek het dit ook al gehoor.”

Vir ’n paar minute is hulle stil, elk besig met hul drankie.

“Het jy dit al probeer?” vra Daniël.

“Wat … selfmoord?”

“Jip.”

“Ja,” sê sy, sonder aarseling.

Hy wonder of sy moontlik op een van die pogingvideo’s was wat hy uitgevee het, nog lank voor hy haar gesig in die koerant begin sien het. Maar nee, sy lyk nie op daardie manier bekend nie.

Sy kyk hom stip in die oë voordat sy haar vinger deur haar plastiekglasie vee en dit dan in haar mond plaas. Sy kou aan ’n nael. “Toe ek een-en-twintig was, het ek ma geword. Haar naam is Mija; sy’s nou drie. Toe raak ek depressed. Post-partum, jy weet. Klinies … Of so het my ma gesê. Ek dink sy was reg; sy was altyd reg.”

Daniël begin die gevoel kry haar woorde is eg.

Sy gaan voort: “Toe kry ek die job by die koerant, dit was nou twee jaar gelede. Alles het beter geraak, mediese fonds ook. Skielik kon ek bekostig om ’n psychiatrist te sien en ordentlike medikasie te kry, nie net hierdie eet-gesond-ding nie. Die ding is, toe begin ek skielik selfvertroue kry. Mija begin persoonlikheid kry, so lewenslustig, so oulik. Maar my min selfvertroue is wat my in die eerste plek joernalistiek toe gedryf het … daai eerste byline is beter as enige drug wat ek al probeer het. Toe ek nou die job het, die selfvertroue, toe voel ek ek het niks om te verloor nie en net ’n moerse suksesvolle loopbaan om te wen. Careless, jy weet, in the line of fire en al daai goed … toe waai Mija se pa. For good, net verdwyn. Ek moes na my eie flat trek vir ’n ruk, my ma-hulle het darem gehelp met bietjie geld. Toe’s Mija net myne en ek het skielik iets om te verloor. Myself, vir haar. En dit het my uitgefreak. My werk het agteruitgegaan, al was ek nou ’n junior; ek kon sien hoe kyk die mense vir my daar, so ’n hoe-het-sy-die-job-gekry-look. Ek kon dit nie handle nie, daardie stryd tussen als gee en terughou. Ek gaan nog redakteur wees eendag …”

“Werklik?”

“Ja … en mens kan nie met ’n slegte reputasie wegspring nie. Toe lê ek een aand in my bed, kyk op na die dak en besluit om al die pille te sluk. Mija kry my toe waar ek in my eie kots by die toilet lê. Sy’t by die bure gaan klop en hulle het die ambulans gebel … ek sal dit nooit weer doen nie.”

Sy kyk steeds nie op nie. Dit moet wees hoekom die koerant haar op die storie gesit het, dink hy. Hulle weet iets van haar poging en vermoed dus dat sy iets weet van selfmoord af, al het sy nie fisieke littekens nie. Dit was ’n fout aan hulle kant, dink Daniël – te oordeel na die kort gesprek tot dusver dink sy nog die mense op Fermata het ’n behoefte aan minder, nie méér nie.

Hy besluit om nie te vra hoe sy daaroor voel dat haar werkgewers weet nie.

“Saam met wie woon jy nou?” vra hy.

“Ekskuus?”

“Jy’t gesê ‘vir ’n ruk’. Dan’s jy mos nie meer in die kleiner flat nie. Saam met wie woon jy nou?”

“My boyfriend. Ek is nou onlangs Kaap toe verplaas; hy het klaar hier gewoon. Ons het nou ’n flat in Rondebosch … die koerant het nie ’n kantoor in die Kaap nie, so ek werk sommer van die huis af.” Sy kyk moedswillig op na hom, die stemming verander met die effense lig van haar wenkbrou en ’n klein glimlag. “Is jy teleurgesteld?” vra sy.

“Nee. Ek het ’n vrou. ’n Mooi vrou.”

“Wat doen sy?”

“Sy’s ’n verpleegster. By Valsbaai-hospitaal.” Hy is deeglik bewus van die ooglopende kontras en kan sien hoe Megan se ratte draai, hoe sy haar trotse glimlag onderdruk toe sy dit ook snap en ’n nota op ’n bladsy in haar boekie maak wat asof vanuit nêrens te voorskyn gekom het.

“Ek het bedoel,” sê sy, “is jy teleurgesteld, het jy gehoop ek sal dit weer probeer? ’n Video vir jou site maak? Dat ek dit nie destyds opgeneem het nie? Ek weet ek is good-looking.”

Daniël kyk haar op en af. Die swart hakskoene, die betreklik kort romp, die laehalsbloes, net-net te veel grimering. Sy lyk nie heeltemal gemaklik in dié gewaad nie, maar dit is haar werkspersona, kan hy sien, dis hoe sy stories kry: met ’n glimlag. Hy kyk af na sy glas wat byna leeg is.

“Jy is mooi, en ja, jy weet dit,” sê Daniël en wuif vir die lugwaardin, “maar daai was nie ’n regte poging nie. Ek raai … Fitrolex, so tien milligram?”

Sy proes byna aan die bietjie wat oor is van haar drankie, en nie bloot omdat dit te sterk vir haar gestel is nie.

“Ja … ek …”

“Destyds ook? Met jou poging?”

“… ja …”

“Dis ’n ligte drug, vir ligte probleme. Moontlikheid van sterfte weens ’n oordosis? Baie laag. Moontlikheid van empatie ná ’n sogenaamde, blykbare poging? Baie hoog. Boring. Another whisky,” sê hy aan die glimlaggende lugwaardin.

Sy lyk verstom. “Selfmoordpogings is boring?”

“Net as jy weet dis nie regtig ’n poging nie. Dis seker vir die mense in jou lewe belangrik en interessant. Maar ek is ’n sakeman. Ek kan nie karton-kak verkoop nie.”

“Maar … hoe kan jy die verskil sien?”

“Ek is nou al ’n rukkie hiermee besig, jy weet.”

Sy onderdruk duidelik haar ontsteltenis oor wat sy blykbaar as ’n belediging beskou. Sy gaan voort: “Vyf jaar,” sê sy. “Die site is nou al vyf jaar aan die gang, en jy maak jouself nóú eers bekend. Hoekom?”

Hy besef die onderhoud het pas amptelik begin. “Geen kommentaar,” is al wat hy sê.

“Op die rekord?”

“ ’n Mens is altyd op die rekord.”

Sy knik en krap op haar notaboek. “So … hoe weet jy of ’n poging eg is of nie?”

Hy kyk na haar en lig sy skouers ritmies. Hy sing saggies: “Toep-toep-toep … if you wanna know, if he really loves you so, it’s in his kiss, that’s where it is!”

Sy lyk verward. Hy sug. Sy’s seker te jonk om daardie simpel liedjie te ken. “The kiss, man. Nie letterlik nie, maar jy snap. ’n Mens weet net.”

“So ek het dit nie?”

Hy leun na haar en kyk haar diep in die oë. “Nie eens naby nie,” sê hy en sak weg in sy stoel, draai na die venster. Hy maak ligte snorkgeluide. Hy kan byna aanvoel hoe sy haar oë rol toe sy ’n gefrustreerde “ugh” uitlaat.

Hy hou sy oë toe tot nadat die vliegtuig geland en tot stilstand gekom het.

Wanneer hy opstaan, reik hy sy hand na haar uit. “Lekker om jou te ontmoet, Megan. Daai was alles van die rekord af.”

Sy staan op in protes. “Maar jy’t gesê …”

“Op mý rekord, nie op joune nie.”

Hy sien hoe sy ’n laaste nota in haar boekie maak. Sekerlik vir ’n meningstuk of ’n atmosferiese storie of iets. “Regtig nou, van die rekord af. Reg so?”

“Ja,” glimlag sy. “Reg so.”

“Goed,” sê hy. “Want ek het alles opgeneem.” Hy haal sy selfoon uit sy baadjiesak en laat dit voor haar hang. “Insluitend die versekering wat jy pas gemaak het. Soos jy kan raai, het ek ’n goeie prokureur. Koebaai, Megan,” sê hy, skuifel verby haar en stap weg.

Hy glimlag wanneer hy hoor hoe sy agter hom sê: “Fok.”

“Jy moet jou obsessie met hierdie ou los, Chris,” sê adjudant-offisier Johan Muller van die Muizenberg-polisiekantoor aan sy kollega van baie jare. In die ruim traumaberadingskamer van dié gebou lê teddiebere gestrooi oor die vloer, oor die groot stoele, oor die vensterbanke. Dit is hier waar kinders of slagoffers van misdaad geleer word om hul pyn te hanteer, of om op die punt te kom om ’n deurbraak in getuienis te bewerkstellig. Meestal laasgenoemde. Vandag is die traumaberadingskamer leeg. Die dorp is stil. Verlede week twee moorde gehad, albei vinnig opgelos – ’n geliefde hier, ’n rower daar. Albei in aanhouding.

’n Rooftog wat in ’n moord ontaard, maak vir kaptein Chris Grobler sin. Die rower is gewapen, ’n proesel van mag, nie beperk tot misdaad nie – hier is immers te veel mense in die land wat nooit andersins sal weet hoe mag voel nie, in teenstelling met die min wat te veel het – ontaard maklik in ’n bloederige affêre. Die mag eskaleer tot die slagoffer se lot geheel en al in die oortreder se hande is. Dan borrel iets maklik oor – ’n herinnering, ’n instink of bloot ’n vereenselwiging met ’n identiteit van een wat nie skrik vir die verdere stap van geweld nie, die verdere stap in die verkenning van die tot nou toe onbekende.

Die verkenning is ’n belangrike element van misdaad, die drang na adrenalien wat buite die dag-tot-dag-gewag vir eers die oggend, dan weer die aand, dan weer die oggend val.

Dít het hy oor die jare geleer, by kollegas, by terapeute, maar hoofsaaklik in die oë van die oortreders. Hy snap dit, kon nog altyd, en het die insig al telkemale toegepas om ’n bekentenis uit ’n vermeende misdadiger te wring.

Maar hy is nie meer wat hy vroeër was nie; hy is nie meer opkomend nie, hy is nie meer belowend nie. Hy is net oor die veertig, maer, grys en dra meer plooie as die meerderheid van sy portuurgroep. In die mate wat hy nog bewus is van sy portuurgroep – sy aandag is lankal na binne gekeer eerder as na buite. Die probleem met hierdie soort aandag is dat dit optree soos ’n onopgeleide hond – hou dit aan ’n ketting en die bevele word gehoorsaam. Laat dit los en kyk wat gebeur. Selfs onskuldige herinneringe en selfbeskouinge sneuwel, deur die poot raak getrap of met die kake aangeval.

In die middel van dié twee uiterstes bevind kaptein Chris Grobler hom; besluiteloos, met verlepte instinkte soos ’n slap ketting in sy hand.

Na buite is sy talent impotent. Die verstaan van ’n moord op ’n geliefde ontwyk hom. In sy lewe was liefde, of ten minste sy begrip daarvan, so skaars, so kosbaar, nou so afwesig – ’n blote herinnering. Jaloesie, gekrenktheid, geld – hierdie elemente van passie kan Chris hom indink, maar die vertaling van die kleinighede wat met ’n liefdesverhouding gepaardgaan tot moord, ontgaan hom. Waarom liefde op hierdie manier geoffer sal word … in ’n stadium kon hy dit nog begryp. Toe dit te naby aan hom gekom het, het al sy analises verdamp, en al wat oorbly, is ’n desperate, onartikuleerbare drang na wraak.

Hy kyk by die groot venster uit. Nie ver van die polisiekantoor af nie lê die see. Hy verkyk hom altyd aan die blykbaar lui branderplankryers wat by hierdie strand uithang. Hulle steek soos rotse uit in die water, maar is nooit daarin geïnteresseerd om ’n brander te vang nie.

Hy kyk terug na die televisieskerm waarop die mees onlangse uitsending van Klets met Caroline herhaal word. Hy lê pap in sy stoel. Hy is nog altyd, soos min of meer almal, ’n getroue volgeling van haar program. Om sy gedagtes weg te vat van die probleme waarmee hy as polisiebeampte te make kry, het hy aan homself gesê. Die waarheid is dat hy dit meer geniet as seks. In die mate wat hy betekenisvolle seks kan onthou, natuurlik, sedert Maryke hom twee jaar gelede verlaat het.

Maryke was lank en het gehou van amandels. Hy mis haar.

Vandag geniet hy nie Caroline se program nie. Hy is moeg vir die dag, moeg vir Caroline, moeg vir Daniël blerrie Roberts en sy hanerigheid.

Roberts het dalk nou vir die eerste keer sy identiteit as skepper en bestuurder van Fermata.com in die openbaar bekendgemaak, maar hy wat Chris is, jag hom al lank. Drie jaar gelede het hy al daarin geslaag om die lyne, drade en spore na dié van ene D.J. Roberts te volg.

Dit is waar dinge moeilik begin raak het. Want hy kon Roberts nie van enigiets aankla nie. Daar is niks onwettigs aan die blerrie affêre nie. Bystand tot selfmoord is nog steeds die naaste waaraan hy kan kom, nadat hy drie jaar gelede by presies dieselfde punt begin het. En dit hou geen water nie.

“Hoor jy my?” vra Muller.

“Sshhh,” sê Chris.

Dan verskyn dit op die skerm. Die beeld wat hy vermoed het hom dalk in sy stoel sal laat ruk, sou dit uitgesaai word. Die ruk gebeur, ondanks verwagting. Dit is ’n beeld waarna hy al so dikwels, oor en oor, gekyk het, om te probeer sin maak. Die meisie op die video. Hoe sy praat, wat sy sê.

“Ek kan niks hoor nie,” sê Johan en klap aan die ou televisiestel. “Kan jy?”

Chris sê die meisie se woorde saam met haar op, amper asof in ’n neurie, terwyl die bloed teen haar arms afsypel.

“Fokkit, dis moeilik om te kyk,” sê Johan en neem ’n hap uit ’n hoender-mayonnaise-vetkoek. Chris het al telkemale met ’n effense walging gelet op Muller se plomp lyf en die eetgewoontes wat daartoe lei. “Jy lyk nie te veel gepla nie,” sê Johan Muller, deur die gekou.

Chris haal nie sy oë van die skerm af nie. Hy trek sy hand deur sy kort grys hare. “Ons is polisiemanne. Ons is mos hierdie dinge gewoond,” sê Chris.

“Ja, maar hierdie is anders,” sê Johan en neem nog ’n hap. “Hierdie is net voor dood, nie ná dit nie. Buitendien … sy’s lekker.”

Chris voel hoe die bloed in sy nek opstoot. Hy onderdruk dit. Hierdie idioot sal tog nie kan verstaan nie. “Haar naam is … Angela,” sê hy sag, huiwerend.

“Ja, sy lyk soos ’n engel,” kekkel Johan. “ ’n Lekker engel. Sy kan my harp enige dag speel!” Hy lag hard en pomp Chris in die ribbe met sy vet elmboog. Chris kan die olie ruik soos sy kollega se lyf skud van die gelag.

Hy sug. “Angela Grobler. My dogter.”

Johan vries in die middel van nog ’n bytslag. Sy oë spring rond soos verskrikte konyne. Chris sien sy besluiteloosheid raak. Indien hy die byt voltooi en die kos afsluk, sal hy onsensitief en gevoelloos voorkom. Indien hy die halfgebyte stuk vetkoek uit sy mond laat val, sal hy oorsensitief en ietwat walglik voorkom. Hy bly dus vir ’n geruime tyd so staan, met die stuk vetkoek in sy mond, tot hy geleidelik tot by die deur skuifel en na buite verdwyn.

Chris skud sy kop. Hy draai weer sy oë na die televisieskerm. Sy hande is styf om die knoppe van die ongemaklike leunstoel gevou.

Kyk, die formulering van jou idees is interessant en oorspronklik, maar sonder enige verwysings dra dit geen akademiese waarde nie. Die punte wat jy maak, kan nie ernstig opgeneem word as jy nie aandui deur wie, waar en hoe die toepaslike gevolgtrekkings voorheen gemaak is nie. Ons het tog al baie hieroor gepraat? Ruk jouself reg – dit is ’n voorreg om hier te wees.

Simon Potgieter draai die punt van die spliff stywer. Die stukkie papier wat ingespan is, is uitgeskeur uit die jongste brief wat hy van die Rhodesbeurs-trust in Suid-Afrika ontvang het. Nie ’n formele waarskuwing nie, maar ’n paternalistiese soort skop onder die agterent van ’n hoëkop wat blykbaar met hy wat Simon is se toesighouer gepraat het. Kommer oor akademiese vordering. Belofte wat getoon is maar wat nie meer omskep word in prestasie en Suid-Afrikaanse trots soos in sy eerste twee studiejare nie. Is daar persoonlike probleme? Die trust sal reël dat ’n sielkundige in Oxford hom kan bystaan indien dit die geval is.

Hy kyk weg van die rekenaar af. In die klein spieël aan die binnekant van sy oop kasdeur sien hy homself. Hare lank en vormloos, onversorgde baard, blas vel (van nature, nie vanweë gereelde sonblootstelling nie), helderblou oë, vuil T-hemp. Hy draai terug na die rekenaar. Die spliff se punt breek af soos hy dit vir die soveelste maal stywer draai met die lees van sy toesighouer se jongste e-pos.

“Fokkit. Fok dit,” mompel hy. Hy skeur nog ’n stuk van die brief af – die briefhoof – en rol van voor af. ’n Stukkie gebuigde plastiek, gesny uit die deksel van ’n Flora-margarienbak, dien as filter. Die Flora is deur een van sy huismaats aangeskaf by die winkel wat Suid-Afrikaanse produkte in Londen verkoop.

Die Transkei-swazi is net om die draai daarvan aangeskaf. Kwalik die beste, maar die onverklaarbare hunkering na ’n tuiste van die een of ander aard is altyd aanloklik. Onverklaarbaar vir hom – sy ontvlugting kon nie vroeër kom nie. Maar slegs die wete dat dit Transkei-swazi is, wek by hom ’n gevoel van patriotisme, wat hy interessant vind. Dit was geheel en al afwesig in sy grootwordjare op die onbeskryflik vervelige Somerset-Wes, en veral op hoërskool, waar patriotisme as vak gedien het – nie akademies nie, maar wat sosiale aanpassing en waarde as mens betref.

Hy het dié vak gedop. Die agt akademiese vakke wat hy geneem het, was verspot maklik. Verder was skool onmerkwaardig en die Universiteit Stellenbosch was min of meer ’n voortsetting daarvan. Om die waarheid te sê, sy akademiese bestendigheid en getroue gehoorsaamheid aan die strukture van akademia was ’n kwalik bedekte poging om die mikpunt van ontsnapping uit die enklawe van die Boland te bewerkstellig. Top in die klas van eerstejaar tot honneursvlak in sielkunde, ook in sosiologie en al die ander gepaardgaande vakke. Die akademiese uitdaging verbonde aan hierdie kursusse het hy altyd as effe lagwekkend beskou, nes die nastreef van die soort damelike geselskap wat algemeen op die dorp was.

“So, wat swot jy?” sou die algemene gesprek met ’n dame by een van die dorp se vele oorvol watergate tipies begin, uit haar mond. Hy sou sug en teug aan die goedkoop boksie rooiwyn wat hy hier kon benut, soos hy daagliks het teen die einde van sy studieloopbaan op dié dorp. “Sielkunde,” sou hy antwoord.

“O, so jy gaan my nou, like, ontleed?” sou die antwoord kom in ’n kekkellag waaruit ’n asem sou ontsnap met die reuk van watter verbuiging van gekleurde sider en watter soort ligte sigaret in daardie stadium gewild was.

Hy sou instinktief ’n blik wou deel met sy enigste ware metgesel op dié dorp, van vroeër – Zolani Moya, ’n lewenslustige student in die joernalistiek. Haar intellektuele, humoristiese en seksuele energie het as teenpool vir sy eie sinisme en algemene lusteloosheid gedien. Wanneer dié elemente in ’n gekombineerde, glinsterende sfeer om hom gevou het, was die orgasmes onbeskryflik.

Hy het aan haar die bynaam “Lapper” gegee – deels vanweë die manier waarop haar relatiewe vryheid hom aan ’n skoenlapper herinner het, maar merendeels vanweë haar geheel en al idiosinkratiese modesin, wat basies bloot bestaan het uit die saamvoeg van helderkleurige lappe wat sy wie-weet-waar opgetel het.

Sy het geweier om haar lang hare vas te maak en het ’n besondere liefde vir vinielplate gekoester – enige winkel waar dié te koop was, se voorraad sou aansienlik minder wees ná sy besoek afgelê het. Sy sou noem dat die haas vergete klank van naald op groewe haar hoog maak soos geen dwelm ooit kon nie. Dan sou sy lag, hom in die oë kyk en hom lank soen, onttrek en dan sê: “Behalwe hierdie. Ons. Dit.”

Dit was die aard van hul verhouding. ’n Oorgawe in die wedersydse onvergenoegdheid met die alledaagse, die wakker strewe na ’n hoër holistiese adrenalienvlak. Saam het hulle verskeie instellings en konsepte deursoek vir leidrade wat as padkaart kan dien. Charismatiese kerke, zenboeddhistiese meditasie, geheelonthouding, geheel-en-al-nie-onthouding … dit het alles ter spele gekom in hul gesprekke en gewoontes en gebreke. Een aand het sy ’n gesamentlike meditasiesessie onderbreek, bo-op hom geklim en hom deur die gesig geklap. Werk dit? wou sy weet. Werk dit vir wat? het hy gevra. Maak dit jou wakkerder? het sy gevra. Nee, het hy geantwoord. Sy het gesug, van hom afgeklim en ’n ruk kruisbeen gesit. Sy het toe troostend, tog op ’n manier onnodig bevestigend, herhaal niks laat haar so hoog voel soos hul verhouding nie. In hierdie soort oomblikke sou hulle musiek aansit, stadig en lank en vierend seks pleeg en wanneer hulle ekstaties en uitgeput langs mekaar bly lê het, sou sy steeds ’n veraf kyk in haar oë hê, ’n verlange, en hy het geweet ’n proesel is nie genoeg vir haar nie.

Die projek vir haar meestersgraad het juis gehandel oor dwelmgebruik, wat die substansdeurdrenkte man op straat se definisie van “hoog” is en hoekom hulle dit juis wil bereik in die konteks van hul maatskaplike welstand of gebrek daaraan. Sy het obsessief geraak oor die idee van wat “hoog” behels, die groot euforiese ontsnappingsmeganisme. Telkemale sou sy noem dat sy op die punt van ’n deurbraak is en dat sy dit met hom sou deel wanneer sy dit uiteindelik uitpluis.

Sy het op ’n uitstappie naby haar tuisdorp, Mosselbaai, tydens ’n Aprilvakansie in ’n rivier geval en verdrink.

By die drinkplekke sou daar ná haar dood dus aan die ander kant van die tafel geen antwoord op sy blik wees nie. Hy sou dan tipies die opkletsende juffie antwoord met ’n “Ja” en as opvolg die kwalik subtiele gebreke in die dame se selfbeskouing – konsekwent onder die eenvormige wit studente van die dorp – uitwys. Die dame sou tipies met ’n woedende traan in die ooghoek verkas en, voorspelbaar, later terugkeer weens die drang om teensegging te bewys en/of die behoefte om gered te word uitdruk sonder om dit hardop te sê. Sy sou hom tipies nooi na haar woonstel of koshuiskamer. In ’n ander tyd sou die vrees vir die volgende oggend se spyt hom keer. Hulle sou tipies op pad na die dame se woonstel of koshuiskamer praat oor ditjies en datjies (“Waar kom jy vandaan?” was altyd die eerste vraag van die dame se kant) tot sy sou oorbuig en die inhoud van haar maag onwillekeurig sou leegmaak in ’n nabygeleë bos. Hy sou nie haar hare vir haar terughou nie, maar haar die res van die pad tuiswaarts bystaan. Sy sou hom tipies bedank met ’n “Jy’s ’n nice ou, Dewald,” of ’n ander lukrake naam waarmee sy “Simon” vervang het in haar cider-besmette geheue. Hy sou tipies knik en tipies die lang pad na sy tuinwoonstel in Uniepark te voet aandurf.

Nou, in hierdie klein huis in Oxford, tuur hy by die venster uit. Die immerteenwoordige grys wolk vind hy steeds imponerend, al is dit ’n daaglikse kennismaking.

Hy is voor die intrek meegedeel dat sy kamer wes front en hy dus ’n uitsig op die sonsondergang sou hê. Weens die wolk se teenwoordigheid kon dit netsowel noord of oos of suid of in ’n tot nou toe onontdekte rigting gefront het, want hy sou nie die verskil agterkom nie.

Hy trek hard aan die spliff. Ysterlong Simon, dink hy. Ystersimon. Ystermon. Ysmonster. Eish, monster.

Hy proes die rook uit by die visualisering van ’n ysmonster. ’n Monster van ys gemaak, sien, maar wat belaglik stadig beweeg terwyl hy jou agternasit, soos ’n gletser. Of bloot mettertyd smelt. Nie besonder vreesaanjaend nie. Tog is dit die monster wat die meeste mense vrees.

Hy draai om in sy stoel en tel sy oorfone van die lessenaar af op. Hy navigeer die speellys op die rekenaar en klik op die gekose item. Hy sit die oorfone aan en die gemaklike punk rock-magakkoorde van The Ramones se “I Wanna Be Sedated” weerklink in sy ore:

Twenty-twenty-twenty four hours to go, I wanna be

sedated

Nothin’ to do nowhere to go-o-oh, I wanna be sedated

Dit was die voorspelbaarheid van die onderwerp wat hom opgefok het.

Twenty-twenty-twenty four hours to go, I wanna be

sedated

Nothin’ to do nowhere to go-o-oh, I wanna be sedated

Eintlik was die voorspelbaarheid ’n gevolg van sy eie naïwiteit. Hy het sonder om te veel daaroor na te dink sy toesighouer se voorstel nagevolg – om sy studie te bou rondom die mate waartoe die internet, en veral sosiale netwerke, ’n vrypas tot individualisering bied deurdat ’n gebruikersprofiel geskep en geskaaf kan word soos die gebruiker goed dink. Dit sou ’n kwantitatiewe long- … ysterlong! … -itudinale studie wees waarin vrae aan gebruikers gestel word oor hul ervaring van hul gevoel van selfwaarde binne die konteks van internetgebruik en hy sou dit ná ’n jaar opvolg met dieselfde stel vrae om vergelykings te tref. ’n Voorbeeld van ’n vraag sou wees:

– Ek word meer gelukkig hoe meer Facebook-vriende ek bykry.

1) Stem glad nie saam nie

2) Stem gedeeltelik saam

3) Stem geheel en al saam

Voorspelbaar.

“Key change!” skree hy. Hy draai om en hamer nagemaakte tromslae met sy hande op die vensterbank.

Twenty-twenty-twenty four hours to go, I wanna be

sedated

Nothin’ to do nowhere to go-o-oh, I wanna be sedated

Wat hy vinnig agtergekom het, was dat moontlik die belangrikste element hiervan nié kwantifiseerbaar is nie. ’n Mens kan nie getalle optrek oor implisiete druk tot homogeniteit en die obsessie met die alledaagse nie. Wat presies is die punt daarvan om foto’s van jou aandete op ’n netwerkblad te plaas? Die verbonde elemente en voorbeelde is legio. Taalgebruik, aanhalings deur gewilde skrywers/digters/akteurs (meer dikwels as nie verkeerd aangehaal of aan die verkeerde skepper toegeskryf), blaaie van groepe en figure wat aangehang word, die manier waarop daar vir foto’s geposeer word, gesigsuitdrukkings, postuur, handgebare, emoticons … die vryheid wat vrygelaat word, is grotendeels ’n vryheid vir enige individu om gewillig op ’n ewe eweredige wyse as enige ander individu te versmelt tot in ’n oulike gedrog.

Voorspelbaar. Gemaklik – veral sy ontleding. Studentikoos.

Twenty-twenty-twenty four hours to go, I wanna be

sedated

Nothin’ to do nowhere to go-o-oh, I wanna be sedated

Indien enigiets, het hy besef, is dit ’n tweesnydende swaard. Mense wys graag uit dat mag korrupteer, maar selde word uitgewys hoe korrupterend vryheid kan wees. In wese kom die inwin van vriende, volgelinge en aanhangers van ’n gebruikersblad neer op selfbemarking. Bemarking is die wyse waarop ’n produk geadverteer word – dus, indien die bemarking suksesvol was, moet die produk van gehalte wees, of minstens definieerbaar. En hoeveel beter kan een ryskoekie nou as ’n ander smaak? Verpakking is alles …

Voorspelbaar.

Ba-ba-bamp-ba ba-ba-ba-bamp-ba I wanna be sedated

Ba-ba-bamp-ba ba-ba-ba-bamp-ba I wanna be sedated

Ses maande ná die aanvang van sy tema en met slegs halfhartige, voorlopige navorsing om te wys vir sy tyd, het hy op ’n Vrydagaand in sy kamer sy voorlopige abstrak en die karige syfers wat hy reeds gehad het, hersien. Dit was uiters, uiters vervelig. Hy het in hierdie stadium die meeste van sy tyd op die internet verwyl, op soek na interessante voorbeelde van fisika of chemie in aksie, in teenstryd met die onsigbare net van sagte wetenskappe waarin hy vasgekeer was.

Hierdie een het hom laat dink: Gravitasiekolke (black holes) is daarvoor bekend dat hulle dinge insuig of intrek – ook lig. Lig reis in reguit lyne, so dit is die reguit lyne wat deur die swart gat ingesuig word. Lig wat in reguit lyne verby die swart gat reis, word moontlik nie ingesuig nie, maar wel gebuig deur die swaartekrag. ’n Swart gat kan dus die lig buig wat ’n ster uitstraal. So:


Omdat ’n mens se oog egter ook lig in reguit lyne ontvang, sal die illusie teoreties geskep kan word dat die lig afkomstig is van twee sterre, en nie een nie. So:


Die verskynsel het te make met “gravitational lensing”, wat deur Einstein beskryf is, hoewel hy dit volgens aanduidings nie self besonder interessant gevind het nie.

Simon het opgestaan uit sy stoel en by die venster gaan staan. Die voorhek van die huis reg oorkant die pad was pienk geverf.

Pienk, het hy gedink. Drinkjogurt, dogtertjierokkies, cider-drankies, verkouemedisyne, simboliese kleur vir homoseksualiteit, sommige rose, sommige tepels, sommige rugbytruie, Pink Floyd, die wande van die baarmoeder waarbinne hy ’n klompie maande vertoef het … Was laasgenoemde ’n aangename ontmoeting? Was elke kennismaking met pienk ná hy die wêreld in gewerp is ’n vergelyking met daardie salige eerste pienk? Wat van die keer toe ’n seun van ’n ander laerskool met ’n pienk trui aan hom met ’n plettervat laat huil het – is dít hoekom hy die dosent met die helderpienk lipstiffie herhaaldelik swak punte gegee het in die klasevaluerings? Is dit hoekom hy die popster P!nk in só ’n mate verpes dat hy plakkate van haar aanskaf bloot sodat hy gemene slagspreuke soos I’M STOOPID LOL daarop kan skryf met ’n dik swart koki en dit dan weggooi?

Of was dit die verkouemedisyne … die smaak was aangenaam en die belofte van genesing was sag. Pienk het hom gekoester, tot pienk hom deur middel van die pienk trui se têkkel verraai het? Wat was die kleur van die eerste kaal vrou wat hy op televisie gesien het se tepels? Het dit verwagtinge geskep waaraan nie voldoen is nie toe hy op sewentienjarige ouderdom die eerste keer ’n régte meisie (Stefanie Odendaal) se ontblote tepels gesien het in die badkamer van die vulstasie waar hulle ná die graadelf-dans afgetrek het? Is dit hoekom hy voorgestel het hulle ry eerder huis toe, of was dit weens die boemelaar in die hoek wat vir hom geknipoog het? Sy oë was ook pienk …

Hy het ’n pen en papier uitgehaal en ’n skets probeer maak van sy gedagtegang rakende sy verhouding met die kleur pienk.


Hy het dit betrag en van voor af begin op sy rekenaar. Enkele verdere verstellings is aan die grafiek gemaak tot dit volgens hom effens meer akkuraat was.


Steeds hopeloos onvolledig, het hy gedink. Tog het hy, op daardie oomblik volledig oortuig van wat moet gebeur en in argelose verwerping van gevolge, alles wat hy tot dusver vir sy tesis geskryf het, uitgevee en ’n nuwe dokument geskep. As sy eie blote beskouing van die kleur pienk aan sóveel kontekste verbonde is …

Sy nuwe tesis sou nie ’n enkele verwysing bevat nie.

Nou, nog ses maande later, sit en dink hy oor die toesighouer se terugvoer wat hy pas ontvang het. Hy wonder of die dosent sy stuk gelees het, of net deurgeblaai het om te sien of daar ’n spesifieke aantal verwysings is en na wié … bes moontlik met die heimlike hoop dat sy eie naam daaronder sou tel.

Miskien moet hy wat Simon is verwysings na homself begin plaas.

Ba-ba-bamp-ba ba-ba-ba-bamp-ba I wanna be sedated!

Ba-ba-bamp-ba ba-ba-ba-bamp-ba I wanna be sedated!

Draalnoot vir 'n janfiskaal

Подняться наверх