1602 | Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) word in Amsterdam gestig |
1618-19 | Die Sinode van Dordrecht besluit die hoof van die huishouding het die reg om te bepaal of lede van sy huishouding, ook die slawe en bediendes, tot die doop gebring moet word |
1652 | Die VOC vestig ’n verversingstasie aan die suidpunt van Afrika |
1657 | Jan van Riebeeck stel nege amptenare vry om vryburgers te word |
1658 | Die grootskaalse invoer van slawe begin |
1659-1660 | Die Skiereilandse Khoi-Khois onder Doman val die nedersetting aan |
1679 | Simon van der Stel stig Stellenbosch |
1688 | ’n Geselskap van 180 Franse Hugenote kom aan |
1713 | Pokke wis baie van die Khoi-Khois in die weste uit |
1715 | Onder die kommandostelsel verdedig burgers die binneland |
1716 | Die regering besluit teen gesubsidieerde Europese immigrasie; die ekonomie in die weste word op slawerny gevestig |
1717 | Leningsplase word die basis van grondbesit in die binneland |
1743 | Die regering stel ’n kollege van landdros en heemrade in Swellendam in |
1770-1798 | Kommando’s probeer die San (Boesmans) uitwis |
1778-1786 | Die Kaapse Patriot-beweging veg vir groter regte en vryhede |
1779-1781 | Die Eerste Grensoorlog tussen burgers en Xhosas |
1786 | Die regering stel ’n kollege van landdros en heemrade in die nuwe distrik Graaff-Reinet in |
1793 | Die Tweede Grensoorlog. ’n Onsuksesvolle poging om die Xhosas uit die Suurveld te verdryf |
1795 | Franse revolusionêre leërs val Nederland binne. Die Bataafse Republiek kom tot stand; die Prins van Oranje vlug en vra Brittanje om die Kaap te beset |
1795-1802 | Die eerste Britse bewind |
1799 | Khoi-Khois in die ooste kom in opstand en die Derde Grensoorlog begin |
1803-1806 | Die Kaap word deur amptenare van die Bataafse bewind bestuur |
1806 | Brittanje herower die Kaap en die tweede Britse bewind begin |
1808 | Die invoer van slawe word beëindig |
1811-1812 | Die Vierde Grensoorlog. Xhosas word uit die Suurveld verdryf |
1819 | Die Vyfde Grensoorlog. Die regering stel ’n “neutrale gebied” in tussen die Vis- en die Keiskammarivier |
1822 | Die regering kondig aan dat Engels binne vyf jaar die enigste taal van die administrasie en regspleging sal wees |
1824 | Die eerste sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk |
1828 | Die afskaffing van die kolleges van landdros en heemrade en die instelling van magistrate en ’n hooggeregshof; vryhandel vervang die pagte en monopolieë van die Kompanjie; Khoi-Khois word op gelyke voet voor die reg saam met die koloniste geplaas |
1830 | De Zuid-Afrikaan, die eerste Hollandse koerant, verskyn |
1834 | Slawerny in die Britse Ryk word beëindig deur die formele vrylating van slawe op 1 Desember 1838 |
1834-1835 | Die Sesde Grensoorlog |
1835-1838 | Die eerste fase van die Groot Trek |
1838 | Die Slag by Bloedrivier |
1839 | Voortrekkers stig die Republiek Natalia |
1843 | Brittanje stig ’n tweede kolonie, Natal |
1844 | Hendrik Potgieter en sy mense stig ’n burgerraad vir die gebied Potchefstroom-Winburg |
1852 | Brittanje erken die Zuid-Afrikaansche Republiek in Transvaal |
1854 | Verteenwoordigende regering met ’n Parlement word in die Kaapkolonie ingevoer; Brittanje erken die Republiek van die Oranje-Vrystaat |
1869 | Diamante word ontdek en Kimberley kom tot stand |
1872 | Verantwoordelike regering word in die Kaapkolonie ingestel |
1875 | Die Genootskap van Regte Afrikaners word in die Paarl gestig |
1877-1881 | Brittanje annekseer Transvaal |
1880 | Die Afrikanerbond word gestig |
1886 | Goud word aan die Witwatersrand ontdek |
1895-1896 | Die Jameson-inval in Transvaal |
1899-1902 | Die Anglo-Boereoorlog |
1905 | Eugène Marais se gedig “Winternag” verskyn |
1907-1909 | Die unifikasiebeweging |
1910 | Louis Botha as leier van die Suid-Afrikaanse Party word die eerste premier van die Unie van Suid-Afrika |
1912 | Stigting van die South African Native National Congress, later African National Congress genoem |
1914 | J.B.M. Hertzog stig die Nasionale Party |
1914 | Suid-Afrika tree saam met Brittanje toe tot die oorlog wat in Europa uitbreek; die Rebellie breek in Suid-Afrika uit |
1915 | De Burger verskyn in Kaapstad |
1918 | Die Afrikaner-Broederbond word in Johannesburg gestig |
1918 | Sanlam en Santam word gestig |
1922 | Groot staking op die Witwatersrand |
1924 | Die Pakt-alliansie met die NP as hoofvennoot wen die verkiesing en Hertzog word eerste minister |
1925 | Afrikaans word as ampstaal erken |
1929 | Die staat neem wetgewing aan om Yskor tot stand te bring |
1932 | Die Carnegie-verslag oor wit armoede verskyn |
1934 | Samesmelting van die SAP en die NP om die Verenigde Party te vorm met Hertzog as leier en Jan Smuts as onderleier. D.F. Malan word leier van die Gesuiwerde Nasionale Party |
1934-1937 | Die eerste gedigte van N.P. van Wyk Louw en ander “Dertigers” verskyn |
1938 | Die eeufeesviering van die Groot Trek |
1939 | Die Eerste Ekonomiese Volkskongres besluit om die Afrikaners se toetrede tot die moderne ekonomie te koördineer |
1939 | Suid-Afrika se toetrede tot die oorlog in Europa laat die VP-regering skeur; Smuts word eerste minister |
1948 | ’n Afrikaner-maatskappy, Bonuskor, word vir die eerste keer op die aandelebeurs genoteer |
1948 | Die Nasionale Party wen die verkiesing en begin met die instelling van die apartheidstelsel |
1960 | Slagting by Sharpeville en ’n groot, maar kortstondige uitstroming van kapitaal begin; die regering kondig ’n noodtoestand af en verbied die ANC en die Pan-Africanist Congress |
1961 | Suid-Afrika word ’n republiek |
1975-1976 | Suid-Afrikaanse troepe val Angola binne, die begin van ’n grensoorlog wat tot 1988 duur, waarna sowel Suid-Afrikaanse as Kubaanse troepe uit Angola onttrek word |
1976 | ’n Opstand breek in Soweto uit |
1983 | ’n Nuwe grondwet word aangeneem wat voorsiening maak vir ’n uitvoerende president en afsonderlike kamers vir wit mense, bruin mense en Indiërs in die Parlement |
1984 | Opstande breek in Sebokeng en ander Oos-Randse swart woonbuurte uit |
1985 | ’n Gedeeltelike noodtoestand |
1986 | ’n Algemene noodstand, ’n grootskaalse vlug van kapitaal en omvattende sanksies teen Suid-Afrika |
1990 | Die verbod op die ANC en sekere ander buiteparlementêre bewegings word herroep en die regering verbind hom tot ’n proses om tot ’n demokratiese grondwetlike skikking te kom |
1993 | ’n Tussentydse grondwet word aangeneem. Afrikaans word een van elf amptelike tale |
1994 | Die eerste insluitende demokratiese verkiesing |
1996 | Die finale grondwet word aangeneem en die NP onttrek hom aan die regering van nasionale eenheid en kondig sy ontbinding as party aan in 2004 |
2000 | Demokratiese Alliansie kom tot stand uit die DP en NP; twee derdes van die Afrikaners stem DA in 2004 |