Читать книгу Salf vir jou seerkry - Jacelize de Waal - Страница 5

Оглавление

’n Lewe ... drome ... aan skerwe

* * *

“Ek het moed verloor; ek is stomgeslaan. Ek strek my hande uit na U. Ek dors na U soos ’n verdorde land. Antwoord my tog gou, Here. Want ek het moed verloor.”

– PSALM 143: 4, 6–7 (NUWE LEWENDE VERTALING)

“Indeed, how can people avoid

what they don’t know is going to happen?”

– ECCLESIASTES 8:7 (NEW LIVING TRANSLATION BIBLE)

Ek onthou nog dat daardie spesifieke Kersdag ’n reënerige dag was. Tyd het genadiglik nou al die harde en seer kante kom sagter maak. Dit wat my egter steeds die meeste bybly, was daardie swaar gevoel in my binneste. ’n Konstante gevoel van onderliggende onrustigheid het toe al maande lank aan ’n amper dreigende paniek gegrens. Hierdie gevoel was doeltreffend gekamoefleer deur die amper geforseerdheid om te bly fokus op die sleur en die normaliteit van die gewone en alledaagse ... soos ’n gesinsvakansie. Maar alles was nie pluis nie. Ek kon net nie my vinger daarop lê nie.

Ons was die oggend kerk toe. Sommer die hele familie – van klein na groot. Ingeprop in twee banke buite die klein klipkerkie se tuin. Daar was te min plek binne. Ek kan nie meer die Kersboodskap onthou nie, maar weet wel dat ek daardie spesifieke oggend die Here se teenwoordigheid tasbaar rondom my ervaar het. Hy was in die sagte drup-drup van die reën deur die blare, in die lagie mis wat uit die kerkie se tuin opgestyg het, in die effense mosreuk van blare in my neus, in ons kindertjies se uitgelate laggies en hul opgewondenheid van nou-nou se presente oopmaak, in die vriendelike oor-en-weer-Kerswense tussen vreemdelinge. Hy was in die nagmaal wat ons saam as gesin voor die preekstoel gebruik het. Ons jong gesinnetjie ... knielend voor die kruis. Hy was in die salfolie op ons voorkoppe ... ons al vier afgeseël vir Hom. Hy was in die kerk se klokke wat lui en lui en lui.

Ons het die middag ná die Kersete op die strand gaan stap. Ek en my man met Boeta in ’n drasakkie op sy rug en Sussie wat agterlangs saam met Tannie en Oom aangehuppel gekom het. Ten spyte van al die seën waardeur ons omring was, was dit onnatuurlik swaar tussen ons. En toe skielik uit die bloute ... sy woorde pyle wat deurboor ... “Ek wil nie meer nie. Kan nie meer nie. Daar is iemand anders. Ek voel bloot nie meer vir jou wat ’n man vir sy vrou moet voel nie. Ek wil ’n egskeiding hê.”

Die intensiteit en impak van sy woorde het my na my asem laat snak. “Nee!” het ek geskreeu – hardop tussen al die mense wat ook laatmiddag gaan stap het. Ek onthou nog my seuntjie se verskrikte en geskokte gesiggie by die aanhoor van die amper dierlike kreet hier diep uit my binneste. Al wat ek in daardie stadium kon doen, was om om te draai. Ek het begin hardloop ... weg ... weg ... weg van hom ... weg van die pynlike, lewensveranderde woorde wat oor sy lippe gekom het.

Ons huwelik het daardie dag gesterf, daar was net geen begrafnis nie. My lewe en die roete wat ek geglo het waarop dit was, is met geweld ontspoor en is ongevraagd en plotseling tot stilstand geruk. Elke droom wat ek sedert my kleindogtertjiedae gehad het – van my prins, ’n groot gesin en lank en gelukkig wees – het in stukke gebreek.

As ek nou terugkyk, was al die tekens seker al vir so lank daar, maar ek het dit net nie herken nie. Of eerder, ek wóú dit nie raaksien nie. My man se persoonlikheidsverandering – toe reeds vir maande so duidelik – het ook tot uiting gekom in die manier hoe hy hierdie krisis hanteer het: koud, kil en klinies. En amper emosieloos. Vir hom was dit ’n lastige saketransaksie wat so gou moontlik tot voordeel van almal afgehandel moes word.

Die onwerklikheid en bisarheid van die situasie het my by tye laat stik en gedreig om my te verswelg. Daar was letterlik geen tussenfase nie; geen fase van onderhandeling, berading en gesprekke of van probeer sin maak uit die wending wat ons huwelik en lewens geneem het nie.

Die een oomblik was ons nog getroud met twee kinders en was daar drome en gesprekke van nog pienkvoetjies. Die volgende oomblik het hy uit ons huis getrek en was egskeiding die woord waarmee ek gekonfronteer is. ’n Woord wat ons eens op ’n tyd vir mekaar belowe het nooit ’n opsie sou word in ons huwelik of deel van ons woordeskat sou vorm nie.

Die sewentien jaar wat ons gedeel het (bykans die helfte van my lewe) is in ’n oogwink tot onverstaanbare regsterme op ’n skikkingsakte gereduseer. Ons het volgens die regsdokument “onversoenbare verskille” gehad. Ek het net nie geweet wat dit was nie. My brein het gesukkel om dit alles in te neem.

Skielik het my lewe in ’n nagmerrie ontaard, met my as die hoofkarakter.

En dan was daar ons twee pragtige kindertjies ... Vir ’n kleuter is egskeiding ’n vreemde en onbekende term. Nie alleen moes ek vir my dogtertjie verduidelik wat die woord beteken nie (al het ek dit eintlik self nog nie verstaan nie), maar dat dit nou ook ’n realiteit in haar lewetjie geword het. Dat dít die pad was wat haar pappa en mamma besig was om te stap. Boeta was net te klein om iets te verstaan. Sy konsep van ’n gesin was nog nie eens behoorlik gevorm nie. Maar skielik was daardie belofte nie eens meer vir hom ’n opsie nie.

Ek kan onthou dat almal my in dié tyd oor die kinders uitgevra het. Hoe gaan dit met hulle? Hoe hanteer hulle die situasie? In my eie kop was ek nog nie eens daar nie.

Ek erken die selfsug van my emosies, maar dit het vir my gevoel of ek nog vasgehaak het by Kersdag se gesprek op die strand – dat hy nie meer vir mý lief was nie. In die weke wat gevolg het, was dit vir my duidelik dat hierdie gevoel nie op die kinders van toepassing was nie. Dit was net ék wat nie meer aanvaarbaar was nie. Die kinders se mamma was bloot nie meer deel van die pakket nie. Punt.

Hoe het dit dan gewerk as ek nog steeds vir hom lief was? Hoe skakel ’n mens bloot jou gevoel, jou liefde vir jou lewensmaat – die persoon met wie jy die res van jou lewe wou deel – af? Het dit egter enigsins getel hoe ek voel? Dat ek nie wóú skei nie?

Ek het gevoel hoe ek al dieper en dieper in ’n put sak waaruit ek nie kon uitkom nie. Ek het emosionele geweld in ’n intense graad ervaar.

Daar was net geen fisieke littekens wat my pyn kon verduidelik nie. Net ’n hart wat besig was om te breek.

Dr. Myles Munroe, voorsitter en stigter van Bahamas Faith Ministries International, haal in sy boek, God’s Big Idea, Genesis 2:24 in die New International Version Bible aan: “For this reason a man will leave his father and mother and be united to his wife, and they will become one flesh.”

Hy stel dit so goed na aanleiding van dié teks:

“‘One flesh’ is not simply the glueing of two people together, but rather the ‘fusion’ of two distinct elements into one. They become inseparable. A man and woman who have become ‘one flesh’ under God’s design for marriage cannot be separated without suffering great damage or even destruction. It would be the spiritual equivalent of having an arm or leg torn from their bodies.”

“The loss of love is a terrible thing. They lie who say that death is worse.”

– COUNTEE CULLEN

“U het my die diepte ingegooi, diep in die see, en die watermassa het my omring. U het golf na golf oor my laat gaan. Ek het gedink ek het uit u gesig verdwyn, maar tog sal ek weer u heilige tempel aanskou. Die waters het my toegevou, die groot water het my omring, seegras was om my kop gedraai. Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge, die aarde het my vir altyd toegesluit. Maar U, Here my God, het my van die dood gered. Toe ek wou vergaan, het ek aan die Here gedink, en my gebed het by U gekom, in u heilige tempel.”

– JONA 2:3–7

Daardie dag het ek die volgende in my joernaal geskryf:

Here, ék is Jona! Ek het afgesak tot in die onderste dieptes van ’n watermassa ... ’n watermassa waarin ek met alles in my nie wil wees nie. Dit voel eindeloos en ek voel dat dit my gaan verswelg. Die golwe spoel my rond en ek voel magteloos. Dit voel asof ek niks van hierdie lewensveranderde oomblikke kan keer nie ... daar is seegras oor my kop gedraai. My lewe het in ’n oogwink verander. Here, ek verstaan niks hiervan nie en ek het nie antwoorde nie. Niks maak sin nie, Here. Ek voel alleen ... en so bang. As ek dink aan my lewe en my toekoms, wil paniek my oorweldig. Die pyn van my hart wat breek, is net oorweldigend. Here, sien U dit? Sien U my raak? Ek verstaan nie hoekom U dit toelaat nie, my Here my God. Ek is dan u kind Here? Luister asseblief na my angskrete, Here. U het vir die vis beveel om vir Jona op die land uit te spoeg. Asseblief Here, red my! Help ons ook! Red ons huwelik, Here!

* * *

Here, dit is nie hoe ek my lewe beplan het nie

“Die disintegrasie van ’n huwelik is nie bloot ’n enkele regsgebeurtenis nie, maar eerder ’n multifaset-proses wat meer ontwrigtend en pynliker is as enige ander emosionele krisis – insluitend die dood.”

– LOS ANGELES TIMES

Dit het vir my gevoel of die lewe perfek vir almal rondom my ontvou, maar dat ek ’n gevangene binne my eie lewe en hierdie aaklige situasie was. Daar was letterlik geen omdraaikans of uitkoms nie. In dié tyd het die beeld van ’n woestyn keer op keer by my opgekom. Dit was hoe ek my lewe en die toekoms gesien het. ’n Eindelose woestyn. En ek moes daardeur. Niemand anders kon die reis namens my aanpak nie. Ek het deur die dae gestrompel en die een fout ná die ander gemaak in ’n poging om te kon oorleef en deur die emosies te werk. Ook deur desperate pogings aan te wend om my man te probeer oortuig dat hy moes terugkom na ons toe.

My familie en vriende het met opbeurende Skrifgedeeltes, gebede en ondersteunende gesprekke probeer help, maar aan die einde van sulke sessies is hulle terug na hul heel gesinne en moes ek alleen die lang nag en my koue huis trotseer, want niks van my situasie het verander nie. Hoe kon hulle in elk geval die omvang van my pyn en my absolute hulpeloosheid verstaan?

Ek het na die Here gegryp en baie tyd in gebed en met sy Woord deurgebring. Aanvanklik was daar net soveel emosies en soveel geraas dat ek niks gehoor het nie. Net ’n oorweldigende stilte.

Dit het my verder verwar, want ek het nie verstaan hoe God hierdie tragedie kon toelaat nie. Ek was dan sy kind. Hy is dan ’n God van liefde en ’n God van wonderwerke. Die huwelik was dan sý idee en sý instelling. Hy kon dit mos gekeer het. En hoekom juis my huwelik? Hoekom juis dít wat vir my so kosbaar was? U red ander huwelike Here. Waarom nie myne nie?

Die vrae was nimmereindigend en die antwoorde het my ontwyk. Ek was deurmekaar en kwaad en so seer. Ek was amper geskok oor my eie woede teenoor God. Ek kon dit beswaarlik aan myself erken – wat nog aan iemand anders bely.

Miskien is jy ook daar. Jy wil dit dalk nie erken nie, maar jy betwyfel God se goedheid vir jou of sy voorneme om vir jou te sorg en vir jou lief te wees. Vandag kan ek egter onomwonde vir jou sê dat die Here gelukkig nóóit sy kinders los nie. Selfs al het ons lankal op ons eie pogings (en Hom?) opgegee.

Saggies, so saggies en teer het die Heilige Gees my kom aanraak en in my oor kom fluister. Ek lees in hierdie tyd een aand in my stiltetyd in Johannes 11 in The Amplified Bible die verhaal van Lasarus en sy twee susters, Martha en Maria. Hulle was Jesus se vriende en Hy was lief vir hulle.

“So the sisters sent to Him, saying, Lord, he whom You love [so well] is sick.”

– JOHN 11:3 (THE AMPLIFIED BIBLE)

Here, ek weet U het my lief. U Woord sê dat ek die appel van u oog is. Maar ek is siek, Here. Ek het U so nodig!

“When Jesus received the message, He said, this sickness is not to end in death; but [on the contrary] it is to honor God and to promote His glory. That the Son of God may be glorfied through (by) it.”

– JOHN 11:4 (THE AMPLIFIED BIBLE)

Kan dit wees dat U vir my sê waarom nie mý huwelik nie? Dat U hier besig is met iets groters, iets waarvan ek nie op hierdie stadium die omvang kan begryp nie? Is dit moontlik dat U vir my sê dat die hartseer wat ek nou ervaar, georkestreer is om glorie aan U te bring op ’n manier wat ek self nie verstaan nie?

“Now Jesus loved Martha and her sister and Lazarus. [They were His dear friends, and He held them in loving esteem.] Therefore [even] when He heard that Lazarus was sick, He still stayed two days longer in the same place where He was.”

– JOHN 11:5–6 (THE AMPLIFIED BIBLE)

Sê U vir my dat U nie noodwendig nou vir my enige antwoorde gaan gee nie? Dat ek moet leer om op u karakter te vertrou? Maar ten spyte van u stilte kan ek wéét dat U my liefhet?

“For He [God] Himself has said, I will not in any way fail you, nor give you up, nor leave you without support. I will not, I will not, I will not in any degree leave you helpless nor forsake you, nor let you down (relax my hold on you). Assuredly not!”

– HEBREWS 13:5 (THE AMPLIFIED BIBLE)

Here, ek prys U vandag vir hierdie belofte uit u Woord. Dankie dat ek kan weet dat selfs al word u kinders op aarde verwerp en gelos en seergemaak, U ons nóóit sal los nie. U sal nooit u greep op my verslap nie. U sal my nooit hulpeloos laat nie. Dankie dat ek in die palm van u hande is, Here. Dankie dat ek veilig is en dat U vir my sorg!

Salf vir jou seerkry

Подняться наверх