Читать книгу Tafelberg Kort: Jonk en krapperig - Jan-Jan Joubert - Страница 3
ОглавлениеDie jare 2004 tot vandag kan met ’n tiener se rebelse stadium vergelyk word – dit was die tienerjare van die demokratiese bestel in Suid-Afrika. Groei, groeipyne en onsekerheid was aan die orde van die dag. Met die geborgenheid van ’n ouerhuis wat geen staat beskore is nie, was daar volop onsekerheid oor of die land uiteindelik suksesvol sou wees, met verskeie rigtings waarin ontwikkel kon word – sommige positief, ander negatief.
Die tydperk is gekenmerk deur ’n betreklik stabiele ekonomie ten spyte van ’n wêreldwye depressie vanaf 2007. Op politieke vlak was daar die ergste binnegevegte binne die regering in die land se geskiedenis en groeiende vrae oor maatskaplike ongelykheid. Die opkoms van twee populistiese leiers, Jacob Zuma en Julius Malema, het nie gehelp om die regerende ANC se agteruitgang te stuit nie. Opstande deur armes wat kon sien hoe die vrugte van demokrasie net sommiges toeval, het die begrip “diensleweringsprotes” laat ontstaan.
Wat die opposisiepolitiek betref, het die Nasionale Party, wat dekades lank die politieke tuiste van die meeste Afrikaners was, tot ’n eerlose einde gekom, ’n nuwe party het uit die strydende ANC ontstaan en die meeste opposisiekiesers het ’n tuiste in die liberale waardes van die Demokratiese Alliansie (DA) onder leiding van Helen Zille gevind.
Afrikaanse uitvoerende kunste het ’n ongekende opbloei beleef en die taalgebruikers het nuwe maniere gevind om by ’n veranderde politieke werklikheid aan te pas. Dit is ten beste gereflekteer in die opkoms van Afrikaanse vakbonde en burgerregtebewegings.