Читать книгу Wat Seuns moet weet - Jan van Elfen - Страница 5

Uit jou nate

Оглавление

Liggaamlike veranderinge

Soos alle kinders het jy van geboorte af baie vinnig gegroei. In ’n stadium kon jou ouers nie voorbly om nuwe klere te koop nie. Jou skoene was kort-kort te klein.

Toe groei jou liggaam skielik stadiger – waarskynlik tussen jou tiende en twaalfde verjaardag. Terselfdertyd het jy wat geaardheid én gedrag betref rustiger geword as in jou vroeë skooljare. In dié rustiger tyd kon jou liggaam ’n bietjie asemskep nadat dit in die groeiproses baie energie opgebruik het.

In hierdie rustiger stadium hoef jy nie bang te wees dat al jou maats jou gaan verbygroei nie. Die blaaskans duur net ’n kort rukkie, sowat ’n jaar of twee. Dit is eintlik die stilte voor die storm: die adolessente groeisarsie. Dan groei jy weer so kwaai dat jou bene vir jou te lank en jou voete te groot lyk. Jy is dan ook geneig om lomp te voel. Jy sal nou meisies van jou eie ouderdom inhaal en waarskynlik verbysteek. Maar langer rek is nie die enigste kenmerk van puberteit nie.

Nou groei daar orals hare

Taamlik skielik merk jy dat jou liggaam groter en jou spiere sterker word. Op jou bolip is daar tekens van donsbaard. Ook elders op jou liggaam, waar jy voorheen haarloos was, het haartjies verskyn – veral in die oksels (onder jou arms) en op die pubis (die ronding net bokant die penis). Party seuns kry ook hare op die bors. Die hare is aanvanklik lig en donsig, maar word later donkerder en krulleriger.

Jou stem breek

Nie al die liggaamlike veranderinge wat jy ondergaan is ewe welkom nie. Party laat jou verleë voel. Soos jou stem wat so onvoorspelbaar breek – dit is nou grof, en dan slaan ’n hoë piepgeluid weer sonder waarskuwing deur.

Moenie kwaad word as jou huismense jou dalk ’n bietjie terg omdat jou stem breek nie. Hulle bedoel niks leliks met hul grappies nie. Dit is boonop niks om oor skaam te wees nie, maar ’n teken dat jy normaal ontwikkel.

Jou geslagsorgane

Die opvallendste verandering in jou liggaam is by jou uitwendige geslagsorgane te bespeur. Manlike haargroei begin ongeveer dieselfde tyd as wanneer die skrotum en testes (die sak met saadballe net onder jou penis) vergroot. Terselfdertyd, of kort daarna, word die penis langer en dikker.

Die ryping van die inwendige geslagsorgane vind ook plaas. Die prostaat (’n klier) word groter en spermproduksie (saadvorming) begin, in so ’n mate dat ejakulasie (uitskeiding van semen) snags voorkom. ’n Sogenaamde wet dream gebeur meestal onverwags en kan nóg ’n rede vir verleentheid wees. Onthou dat hierdie ervaring ’n noodsaaklike mylpaal in puberteit is – dit is nog ’n teken dat jy besig is om ’n man te word.

Miskien voel jy verwar deur die verskillende anatomiese name en fisiologiese begrippe wat ek hierbo gebruik het. Jy is dalk gewoond daaraan om ander name vir jou organe te gebruik, bv. “piepie” of “voël” en “eiers” of “ballas” in plaas van “penis” en “testes”. Raak maar gewoond aan die nuwe terme, maar moenie skaam wees vir jou en jou huismense se eie benamings nie.

As jy die volgende hoofstuk – wat oor die anatomie en fisiologie van die geslagsorgane handel – lees, sal jy besef hoe interessant en doelmatig die werking van jou liggaam is.

Wanneer begin dit alles?

Daar kan nooit met sekerheid voorspel word wanneer die veranderinge van puberteit by ’n seun gaan begin nie. By die meeste begin dit op 12 jaar en bereik dit ’n aanvanklike hoogtepunt tussen 13 en 14 jaar. Dit is egter glad nie buitengewoon vir haastige knape om hul maats op 11 of selfs 10 jaar voor te spring nie. En daar is ouens wat eers in matriek of selfs nadat hulle die skool verlaat het, aanstaltes maak. Dit sal nie help om jou te ontstel oor wanneer jy gaan begin om “groot te word” nie. Party babas kry tande en begin kruip voor hul tydgenote. Uiteindelik kou en stap almal ewe fluks.

Wat manwording betref, kom agteros ook in die kraal. Party seuns is al goed ontwikkel wat die penis betref, sonder dat hulle ooit ’n wet dream gehad het. Ander, wat minder ontwikkeling toon, kan onverwags in hul slaap of as gevolg van wrywing op die penis so iets ondervind.

Aangesien adolessensie ’n baie selfbewuste lewenstadium is, ontstaan daar allerlei bekommernisse oor liggaamlike voorkoms, byvoorbeeld oor skewe tande, bakore of vertraagde groei. Omdat seuns nou eenmaal seuns is, kan dit ook wees oor die voorkoms van die penis.

Jou borste groei ook

’n Ander onwelkome teken van puberteit is die vergroting van ’n seun se borste. Jy hoef nie te vrees dat jy in ’n vrou gaan verander as jou tepels begin jeuk en die areola (omringende bruin deel) ietwat opswel nie. In vergelyking met ’n meisie sal jy maar altyd plat wees van voor.

Dit kan wel vir jou ’n doring in die vlees wees. Die effense vergroting kan ongemaklik wees. ’n Ruk lank kan ’n ligte stamp teen die bors of selfs die geskaaf van ’n growwe hemp teen jou tepels pynlik wees. Dit kan ook gebeur dat albei borste nie gelyktydig stywer word en vergroot nie.

Hoekom het mans tepels? Hulle gaan immers nooit ’n baba aan die bors voed nie. Hierdie verskynsel is ’n verdere bewys daarvan dat elke mens liggaamlik iets van die teenoorgestelde geslag het. Jy sal sien wanneer ons die geslagsbou van die vrou bespreek, is dit byvoorbeeld duidelik dat die vrou se klitoris ’n verband hou met die penis.

Dieselfde gevoeligheid wat by jou borste te bespeur is, kan ook by jou testes gemerk word. Jy kan begin wonder of jy dalk beskerming vir jou testikels moet begin dra wanneer jy aan sport deelneem. Sportbeserings van die genitalieë kom egter selde voor. As dit jou gemakliker en veiliger laat voel, kan jy ’n stywe onderbroek van die bikini-tipe dra. Dit verleen genoeg ondersteuning, sonder om die lieste te skaaf of beweging te strem.

Terug by die haargroei

’n Goeie selfbeeld is vir elke mens belangrik. Die meeste tieners is hiermee behep. Hierdie beheptheid, wat tot selfondersoek voor die spieël en vergelyking met jou vriende aanleiding gee, is nie alleen tot jou geslagsorgane beperk nie. Neem byvoorbeeld die haargroei op jou bors.

Wanneer jy jou borshaartjies kan begin tel, het jy dalk vrae oor hare op die liggaam. As jy nie baie borshare kry nie, hoef jy jou nie daaroor te ontstel nie. Manlikheid hang nie van borshare af nie en word ook nie aan die weligheid daarvan gemeet nie. Aardjie na sy vaartjie – liggaamlike eienskappe soos ’n tipe liggaamsbou en harigheid word grootliks oorgeërf – daar is bitter min wat jy kan doen om dit te verander.

Mans is hariger as vroue, en party mans hariger as ander. Op sigself is harigheid geen aanduiding van manlikheid of dapperheid nie. Jy hoef nie minderwaardig te voel as jy minder borshare as jou vriende het nie. ’n Belangrike rede vir ’n man se ruier lyfboskasie is dat haargroei deur die manlike geslagshormoon, testosteroon, gestimuleer word. Om baard te kry is net soos die ander liggaamlike veranderinge die gevolg van hierdie hormoon.

’n Weelderige baard het egter niks met manlikheid te make nie. Die kweek en afskeer van ’n baard is van veranderlike modes afhanklik. Miskien droom jy van die dag wanneer jy met ’n weelderige snor, sidies of goatee kan spog. Jammer – jy sal nog ’n rukkie geduldig moet wees, want jou baard is nog te yl. Boonop sal ’n bebaarde skoolseun maar gek lyk, of hoe?

Die skeerritueel

Troos jou daaraan dat die oomblik wanneer jy die eerste keer ’n skeermes oor jou gesig trek, net om die draai is. Dan begin jy met ’n ritueel wat die meeste mans vir die res van hul lewe elke dag herhaal. Om groot te word, bring dus ekstra verantwoordelikheid en beslommernis.

Aanvanklik sal dit seker nie nodig wees om so gereeld te skeer nie. Moenie haastig wees om te begin nie. Jou baard sal gou harder word en vinniger groei, dan moet jy dit elke dag doen. Maar moet ook nie wag tot jy soos jou sussie se teddiebeer lyk nie.

Jy het waarskynlik jou pa of ander mans van kleins af dopgehou wanneer hulle voor die spieël skewemond trek om seker te maak hulle kan oral bykom, maar sny hulle nie raak nie. Daar is basies twee metodes van skeer: droog en nat. Laasgenoemde behels die natmaak van die gesig, aanwending van skeerseep en verwydering van die baard met die hale van ’n skeermes. Vir ’n droë skeer word ’n elektriese skeermes gebruik wat óf met batterye óf met krag werk.

Jy moet ook nie skrik as jy jou met die eerste probeerslag raak skeer nie. Dié kuns leer jy met oefening. Jy kan die bloed maklik met ’n stukkie watte of toiletpapier stop. Afgesien van die dieper puisies wat gekneus word, veroorsaak snytjies nie onooglike of blywende letsels nie.

Voor jy vir jou ’n kat in die sak koop, moet jy liewer jou pa of ’n ouer man se raad vra oor die keuse van ’n skeermes. Dalk kry jy nog een present!

Jou skeerseep kies jy ook uit talle soorte: dié wat jy met ’n kwas aanstryk, kits-skeerskuim of skeerjel in houers. Baie mans gebruik om ekonomiese redes sommer gewone gesigseep. Dit help natuurlik as jy eers stort en jou gesig goed was om die baard sag te kry. As jy ’n sensitiewe vel het, moet jy ’n skerp lemmetjie gebruik en liewer nie gewone gesigseep en water nie, want dit kan jou vel irriteer.

Nadat jy geskeer het, is dit lekker om die een of ander soort naskeermiddel of selfs room aan jou gesig te smeer – as jy dit kan bekostig! Dit is in elk geval nou tyd dat jy self verantwoordelikheid daarvoor begin neem om sonroom aan jou vel te smeer wanneer jy ’n ruk lank in die son gaan wees – soos wanneer jy gaan swem of krieket speel. Velkanker kom dikwels onder Suid-Afrikaners voor, maar dit is heeltemal voorkombaar. En jy moet nie dink dit is net mense met baie bleek velle wat voorsorg moet tref nie – dit raak almal van ons.

Die puisieprobleem

Skete en kwale speel gewoonlik nie in hierdie stadium ’n groot rol in jou lewe nie. Maar aknee (puisies) versuur talle jong mense se lewe – driekwart van hulle word in die een of ander tyd in puberteit en selfs daarna daarmee gepla.

Puisies verskyn nie toevallig vir die eerste keer in puberteit nie. Afgesien daarvan dat testosteroon verantwoordelik is vir liggaamlike groei en seksuele rypwording, hits dit ook die vel se talg- of oliekliere tot oorafskeiding aan. Talg (olie) smeer die vel en beskerm dit, maar kan in oormaat ’n las wees. Dit is veral die kliere van die gesig, skouers en rug wat te veel talg afskei.

Die buise van die ooraktiewe oliekliere en hulle porieë (velopeninge) neig dan om te vergroot. Die opeenhoping van olie en ander onsuiwerhede kan ’n verstopping in die klierbuis vorm. Die suurstof in die lug veroorsaak dat dié proppie swart verkleur. Vandaar die naam swartkoppie.

’n Dieper verstopping vorm ’n witkoppie. Deur die werking van ’n ensiem (’n stof wat chemiese reaksies bevorder) in die klierbuis, verander die velolie in ’n vry vetsuur wat in die vellae op die oppervlak uitlek wanneer die klierbuis bars as gevolg van druk weens die verstopping. Hierdie suur gee dan aanleiding tot inflammasie en puisievorming.

Moet jou dus nie laat wysmaak dat vuil bloed of inwendige gifstowwe die oorsaak van puisies is nie – dit is net ’n wolhaarstorie. Dit is ook onsin dat “vry” puisies veroorsaak. Puisies kan egter wel deur kieme op die vel of aan jou vingers tot infeksie lei en rooi, seer siste word.

Die swartkoppies gee aanleiding tot vlak, geel puisietjies wat genees sonder om littekens (merke) te laat, maar met witkoppies kan dit anders wees as hulle nie sorgvuldig behandel word nie. Iemand met puisies is dikwels self sy grootste vyand, omdat hy dit self verder oor sy vel versprei.

Baie min tieners beskou aknee as ’n nietigheid. Dit laat hulle maklik selfbewus en minderwaardig voel. Jy moet probeer om puisies te aanvaar as ’n normale verskynsel, maar as dit soveel ongelukkigheid veroorsaak dat jou persoonlikheidsontwikkeling gestrem word, moet daar werk van gemaak word.

Omdat puisies so lelik is en velirritasie veroorsaak, is dit moeilik om nie aan jou puisies te peuter of daaraan te druk nie. Meestal lei dit tot kneusing en sekondêre infeksie, wat puisies en littekenvorming net vererger.

Puisies laat self geen merke op die gesig nie. Dit is die kneusing en kwaai infeksie wat tot beskadiging en blywende, lelike merke lei. Volg dus dié goue reël: Hou jou vingers van jou gesig af!

Wat gewoonlik gebeur, is dat aknee vanself teen die einde van die tiener- of vroeë twintigerjare uitwoed. Die puisies verdwyn dan spoorloos, tensy dit verkeerd behandel of die vel beskadig is deur infeksie en oorywerige tuisbehandeling, of diep letsels ontwikkel het. Selfs al sou jy letsels oorhou, kan die vel deur ’n plastiese chirurg “gladgeskuur” word nadat die puisies opgeklaar het.

Daar is nog ’n paar feite oor aknee waarin jy sal belang stel:

’n Olierige vel is oorerflik. As jy hierdie soort vel het, moet jy vroegtydig voorsorg tref deur die vel gereeld te was.

Velkleur en geslag speel geen rol in aknee nie.

Aknee dui nie op bloedonsuiwerheid nie. Die vervaardigers van velmiddels wat die publiek met advertensies mislei om so iets te glo, behoort aan die pen te ry.

Sport en ander liggaamlike aktiwiteit in die buitelug vererger aknee beslis nie. Natgeswete klere moet egter nie te lank gedra word nie en jy behoort na oefening te bad of te stort. Vuil klere, veral dié met ’n growwe tekstuur, kan wel teen die vel skuur en aknee, veral op die skouers en rug, vererger.

Haarskilfers het ’n negatiewe uitwerking op aknee. As jy skilfers opmerk, behoort die toestand gelyktydig met die aknee behandel te word. Gebruik ’n medisinale sjampoe.

By ’n meisie is aknee geneig om net voor menstruasie te versleg, omdat sy dan meer progesteroon in haar bloed het. ’n Dokter kan ’n sekere soort voorbehoedpil vir haar voorskryf wat teen aknee kan help. Dit sal ’n seun egter nie help nie, want dié pil kan vroulike veranderinge aan sy liggaam veroorsaak.

Geen deurslaggewende bewyse is nog gevind dat sjokolade, neute, gaskoeldrank, vetterige kos en gebak, die oormatige gebruik van melk en ander suiwelprodukte soos roomys aknee by tieners veroorsaak nie. Volgens die jongste studies kan die gebrek aan ’n gebalanseerde dieet, wat kan lei tot verhoogde insulienvlakke in die bloed, moontlik egter verband hou met die oorproduksie van talg.

Emosies soos spanning en bedruktheid veroorsaak nie aknee nie. Selfbewuste akneelyers kan egter omgekrap en moedeloos word. Waak teen ’n oorgretige gepeuter aan puisies. Om gedurig die rofie van ’n uitgedrukte puisie af te krap, vertraag die genesing en stel dit weer bloot aan sekondêre infeksie.

Hoewel daar spottenderwys na “vrypuisies” verwys word, het dié kwaaltjie niks met jou liefdesake te make nie.

Maar daar is raad vir jou. Daar is eintlik net twee soorte behandeling vir aknee: dié wat jy self toepas en dié wat ’n dokter voorskryf. By die tuisbehandeling van aknee geld die volgende reëls:

Reinig die vel. Die gesig en aangetaste liggaamsdele moet elke dag twee tot drie keer deeglik met water en seep gewas word. Gebruik enige goeie seep. Die probleem met sommige “spesiale” velmiddels is dat hulle die vel kan irriteer of uitdroog.

Moenie aan die puisies krap en druk nie. Vingernaels dra kieme wat die puisies besmet. ’n Ryp puisie kan liggies uitgedruk word nadat die gesig en hande vooraf met seep, water en ’n ontsmettingsmiddel gereinig is. Om velkneusing te verminder, kan ’n stukkie skoon sneespapier of watte om die vingerpunte gehou word.

Volg ’n gebalanseerde dieet met voldoende vars groente en vrugte en vermy te veel vetterigheid en soetgoed.

Was jou hare gereeld om vetterigheid te vermy. As jy skilfers het, moet dit behandel word.

Mediese hulp moet verkieslik verkry word as aknee hardnekkig is en vererger. Die soort puisies wat groot siste (vogblasies) vorm, is veral rede om dokter toe te gaan. Voorskrifte moet noukeurig gevolg word indien ’n dokter geraadpleeg word.

Indien tuisbehandeling nie slaag nie en jou puisies jou onderkry, behoort jy ’n geneesheer te raadpleeg. As jy werklik ’n probleemgeval is, kan jou dokter jou na ’n dermatoloog (velspesialis) verwys. Geneeskundige behandeling kan die volgende inhou:

Die versigtige en steriele dreinering van puisies.

Die voorskryf van antibiotiese en ander middels (mondeliks en/of vir velaanwending) op ’n langtermyngrondslag om die vorming van suur in die klierbuisies teen te werk.

Vitamien A in ’n behoorlik voorgeskrewe dosis kan nuttig wees, maar moet slegs vir ’n bepaalde tydperk onder toesig van ’n geneesheer gebruik word. Waak daarteen om te veel daarvan te neem, aangesien dit skadelik vir die liggaam kan wees.

Ultraviolet-bestraling in spesiale gevalle.

Hormoonpreparate word vir sommige pasiënte aanbeveel.

Chemiese afskilfering is soms nodig vir die verwydering van lelike littekenweefsel.

Daar is dus alle rede om goeie moed te hê. Aknee is meestal ’n onbelangrike en verbygaande kwaal. Dit moet net nie verwaarloos word nie. As tuisbehandeling nie slaag nie, is daar altyd doktershulp beskikbaar. Die allerbelangrikste bydrae wat jy kan lewer, is om jou hande so ver moontlik van jou puisies te hou.

Nou sweet jy ook

Ewe lastig is die reukwalmpie wat nou soms van jou oksels (onder jou arms), lieste en voete aangewaai kom. Jou huismense sal dit waarskynlik eerder agterkom as jy, veral as jy op ’n warm dag nie jou natgeswete klere en sokkies betyds uittrek nie. Hierdie nuwe liggaamsreuke is te wyte aan afskeidings van jou apokrienkliere, wat net in die oksels, die geslagsdele en onder die voetsole geleë is.

Hierdie afskeidings het eintlik ’n baie flou reuk, maar dit is eie aan elke mens. Die meeste van ons se reukvermoë het al so verswak dat ons nie (soos honde) tussen ons eie liggaamsreuk en dié van ander kan onderskei nie. Indien sweet deur velbakterieë aangeval word, veroorsaak die chemiese reaksie ’n reukie. Vandaar die minder aangename reuk van ’n natgeswete lyf en voete.

In jou vroeëre lewenstadiums was jy seker net soos die meeste van jou vriende maar sku vir water en seep. Jou ma moes gereeld seker maak dat jy jou ore, knieë en hakskene behoorlik gewas het. Nou sal jy anders hieroor moet begin dink.

Jy wil tog nie jou gewildheid verloor omdat jou vriende liefs windop van jou moet gaan staan oor jou sweetreuk of stink voete nie. Dus sal jy deeglik gebruik moet maak van water en seep as jy vriende wil hê.

Vir ekstra voorsorg teen ’n onaangename liggaamsreuk kan jy, behalwe om jou gereeld deeglik te was en skoon klere aan te trek, ’n reukweerder gebruik. Vermy veiligheidshalwe die soorte wat as “droog”, “ekstradroog” of “anti-perspirant” beskryf word. Mense met ’n sensitiewe vel kan negatief reageer op gekonsentreerde chemikalieë wat die porieë (velopeninge) van sweetkliere laat toetrek. Dit kan ’n lastige dermatitis (jeukerigheid en rooiheid) of pynlike sweertjies in die oksels veroorsaak.

Nog iets

Aangesien jy nou skeergoed, reukweerders en ander toiletware begin gebruik, het jy waarskynlik meer sakgeld nodig as voorheen – as jy so gelukkig is om ’n maandelikse of weeklikse toelaag te ontvang en self jou persoonlike toiletware daarmee koop. Indien jou ouers of versorgers in hierdie behoeftes voorsien, moet jy die stygende pryse van toiletware in gedagte hou en spaarsaam probeer begroot.

Jou lyf en houding

Dit duur ’n ruk om gewoond te raak aan jou nuwe liggaam en jou manliker voorkoms. In dié tyd voel baie seuns gewoonlik ongerus oor die tempo waarteen hulle groei, veral as hulle hul vriende vinnig verbysteek. Moenie jouself onopsigtelik probeer maak deur krom te loop nie. ’n Krom rug en skouers bevorder nie ’n mooi liggaamshouding nie en wek ’n swak indruk. Maak vrede met die liggaamsbou wat jy het en stap regop en flink. Gewoonlik is mense meer bewus van jou houding as van jou bou.

Van fierheid gepraat, onthou dat gereelde oefening die beste waarborg is vir ’n gesonde liggaam. Terselfdertyd kan jy gerus afsien van te veel lekkers en ander soetgoed. Dit kan in die liggaam tot vet omgeskakel en geberg word, tensy jy baie aktief is. Wie wil nou so vet wees dat hy sukkel om ’n stel trappe te klim of om ’n opdraand uit te draf?

As jy altyd honger is

Onthou gerus dat oorgewig tieners gewoonlik oorgewig grootmense word. Jou huisdokter kan jou vertel van die skete en kwale waartoe vet mense geneig is, van spatare en galstene tot diabetes en hartkwale. Hou rekening met die gesonde eetlus waarmee jy waarskynlik, soos die meeste ander seuns van jou ouderdom, bedeel is.

Dit is belangrik dat jy genoeg eet om in jou groei- en energiebehoeftes te voorsien, maar jy hoef jou darem nie te buite te gaan nie – of eet liewer vrugte, groente, neute, droëvrugte, kaas en jogurt as lekkers, koek, tert, hompe brood en aartappelskyfies. Dit is altyd raadsaam om liefs volkoringbrood met kaas as witbrood met konfyt te eet. Sorg dat jy eet tot jou honger gestil is en nie agter die lekker aan nie.

Jy moet jou nooit probeer uithonger nie. Eet minstens drie maal elke dag genoeg voedsame kos soos vleis, eiers, graan- en suiwelprodukte, groente en vrugte. As jy dan ’n dieet wil volg, óf met die doel om te verslank óf om ’n bietjie gewig aan te sit, moet jy dit verstandig doen. Raadpleeg ’n dokter of ’n dieetkundige of vra die huishoudkundeonderwyser by die skool.

Die vinnige groeiers wat vrees dat hulle hemelbesems gaan word, kan moed skep uit die versekering dat hul groeitempo gaan afneem sodra genoeg testosteroon (manlike hormoon) deur hul testes vervaardig word.

Oor ’n skraal lyf hoef jy jou nie te verknies nie. Het jy al opgelet hoeveel rolprent- en televisiesterre lenig eerder as fris gebou is? As jy nie vir rugby gebou is nie, kan jy jou slag wys in ’n sportsoort waar lenigheid ’n bate is, byvoorbeeld atletiek, sokker, tennis, vlugbal, hokkie, muurbal, swem, fietsry, karate en dans.

Dalk pla dit jou dat jy so stadig groei. Jy is bang dat jy ’n buksie gaan bly. Miskien lê jou vinnige groeisarsie nog voor, maar as die natuur dit so bestem het dat jy kort gaan wees, moet jy leer om jou voorkoms te aanvaar. Dit sal jou niks baat om jou hoop te vestig op ekstra vitamiene of kragkos nie.

Pleks van in jou dop te kruip omdat jy kort is, kan jy ratsheid en vindingrykheid aanleer om die groter ouens te uitoorlê. Van die Springbokke se beste skrumskakels deur die jare het minder as 65 kg geweeg. Wat meisies betref, hoef jy ook nie vir groter manne agteruit te staan nie. Daar is talle meisies wat kort is en ouens soek wat hulle nie soos dwergies laat lyk nie. Kyk wat het Tom Cruise met sy kort lyfie nie alles vermag nie!

Emosionele sake


Jy sal selde beter troos of raad vind as by jou eie huismense. Na wie toe het jy kleintyd gehardloop as jy jou toon gestamp het? Wie het op koue aande die komberse styf agter jou rug kom invou? Was dit dan nie jou ma nie – of dalk jou ouma, tannie of ’n suster – wat jou grootgemaak het, jou gedagtes soos ’n boek kan lees en dikwels jou behoeftes vooruit bepaal? Neem gerus een van hulle in jou vertroue as jy onseker voel – oor die klere wat jy wil aantrek, die verjaardagpresent wat jy begeer of die meisie wat jy in die oog het.

Nou moet jy darem ook nie jou pa of die ander vaderfigure in jou lewe vergeet nie. Hulle sien ook jou ontluikende manlikheid raak, is waarskynlik trots daarop en behandel jou ook nie meer altyd soos ’n kind nie. Maar soms sal dit vir jou voel of daar ’n kloof tussen julle gekom het. Waar is die dae toe jy op ’n skoot getel en stories vertel is? Of julle miskien saam gaan visvang het?

Deesdae hoor jy dikwels net vermanings: “As jy nie harder leer nie, gaan jy nie hierdie kwartaal deurkom nie,” of: “Moenie dat ek jou vang dat jy rook nie.”

Hulle stel nog steeds in jou doen en late belang, maar omdat daar rekening gehou word met jou groeiende onafhanklikheidsin, meng hulle dalk nie gedurig in met jou sake nie. Wanneer hulle jou waarsku om versigtig fiets te ry of harder te leer, is dit omdat hulle vir jou veiligheid en toekoms omgee. Moenie dit as persoonlike kritiek beskou nie.

As jy humeurig raak, sê jy dinge wat jy nie werklik bedoel nie. Later wil jy jou tong afbyt omdat jy so ongeskik was. Vra eerder om verskoning sodra jy voel dat jy verkeerd was. Onthou, die broodwinners werk hard om hul huis en gesin goed te versorg en verdien jou respek. As kinders te opstandig en die ouers te trots is om toe te gee, ontstaan daar ’n gespanne atmosfeer en die ouer-kind-verhouding ly daaronder.

Sielkundiges noem hierdie situasie die generasiegaping – waar kommunikasie tussen die ouer of ouerfigure en die kind amper onmoontlik is. Moet tog nie beterweterig wees en moedswillig in jou opstandigheid ’n wig tussen julle indryf nie.

As jou pa (of ’n ouerfiguur) jou aanspreek, sê maar: “Goed, ek sal kyk wat ek kan doen.” So kan jy probeer om die atmosfeer gemoedeliker te maak en hom terselfdertyd te laat verstaan dat jy hom steeds nodig het en die aandag waardeer. Sê byvoorbeeld: “Wanneer gaan ons weer ’n slag visvang?” Probeer dink aan iets wat julle saam kan doen.

As julle twee alleen saam is, kan jy die geleentheid gebruik om van man tot man met hom te gesels oor onderwerpe wat jou pla. Hoe dink hy, vir watter loopbaan moet jy jou eendag bekwaam? Hoe moet jy te werk gaan om ’n oulike meisie se aandag te trek? Dink hy dit is goed om op jou ouderdom met ’n meisie uit te gaan en, indien nie, waarom nie? Of jy kan sy mening vra oor die beste manier om jou vaardigheid op die sportveld te verbeter.

Miskien sal jou pa dit ook waardeer as jy sommer so in die verbyloop aan sy arm vat of hom ’n ligte houtjie gee? Net om te wys dat jou gevoel nog niks verander het nie en dat jy bly is dat hy jou pa is.

Jou ma sal van geluk straal as jy haar met ’n druk en ’n klapsoen verras. Mense wat in dieselfde huis woon behoort nie by mekaar verby te leef nie. Jy kan help om ’n goeie atmosfeer te skep en julle sal almal makliker met mekaar kan huishou – en die vrugte van meer toegeeflikheid pluk.

Voor hierdie preek te lank word, kan ons liewer oor ander interessante belewenisse van jou leeftyd gesels. Oor wat presies met jou liggaam gebeur, en wat aanleiding gee tot jou nuwe belangstelling in meisies.

Wat Seuns moet weet

Подняться наверх