Читать книгу Rugbyballe en bikini’s - Janie Oosthuysen - Страница 5

Оглавление

Ek bewe nog toe ek by die karavaan kom. Wie dink die urk is hy? En vir wat noem hy my “Mammie”? Wie gee hom die reg?

Ek sit Lauren in haar stootwa en gee Mr Potato Man en ’n natgekoude Lalaloopsy-lappop, wat ek nog vir haar gemaak het, vir haar aan. Toe glip ek na Jana-hulle se kampeerplek en loer om die tentflap.

“Is jy klaar?” fluister ek, bang haar ma hoor my.

Jana staan by ’n opslaantafel met ’n suur glimlag op haar gesig en ’n aartappelskil in haar hare. “Kom ons gaan stap net,” sê sy. “Dat ons kan praat.”

Ons haak in en kies koers oor die grasperk.

“Wat weet jy van ’n nerd-gesig met die naam Johan?” vra ek, toe ons ’n veilige ent weg is en Arno met sy lang ore ons nie kan hoor nie.

Sy loer na my. “Bedoel jy Johan Bekker?”

Ek gooi my hande op.

“Hoe moet ek weet? Vaal hare, varkneus en ’n Mohawk-pel.”

Jana bars uit van die lag. “Definitief Johan Bekker!” Sy kyk skeef na my. “Snaaks dat jy in hom belangstel, ek het nie gedink hy’s jou tipe nie.”

“Ug! Sies! Hou op, jy maak my naar. Hy was in die klubhuis saam met sy pelle. Hy’s creepy, ek sê jou. Sê vir my ‘mammie’ en sulke goed.”

Jana giggel. “Tipies Johan. Hulle kom elke jaar. Dink hy’s wie oor sy pa glo geld het.” Sy swaai haar hand asof sy ’n brommer wegwaai. “Vergeet van hom. Nie dat jy veel van hom sal sien nie. Hulle meng nie juis met die kampeerders nie. Bly altyd daar teen die berg in ’n chalet.” Sy rol haar oë.

“Dis goeie nuus,” sê ek.

“Kom ons gaan kyk wat maak Lindi. Daar’s hulle tente. Dan reël ons sommer om môre saam see toe te gaan. Lindi!” Sy klap teen ’n pers tweemanstent. “Kom sê hallo!”

Lindi het ondeunde grys oë en ’n verbasend harde stem vir so ’n kort mensie. “Oe, lekker,” sê sy terwyl sy my van kop tot tone bekyk. “Nuwe mense. Móói mense! Het jy ’n broer?”

“Tegnies ja, maar hy tel nie, hy’s nege.”

“Ug. En susters?”

“Een. Sy’s sewe maande.”

“Jeez.” Lindi staar na my. “Ek sal my ma vermoor.”

“Ek het amper,” erken ek. “Maar nou’s ek al so gewoond daaraan, dit sal nogal snaaks wees sonder haar.”

Sy haal haar skouers op. “Liewer jy as ek. Nie dat dit saak maak nie. Julle moet hierlangs kom as julle môre see toe gaan, hoor. Simone sal seker ook saamgaan.” ’n Frons maak ’n kepie tussen haar wenkbroue.

Simone? Ek kry nie tyd om uit te vra nie, want haar oë vonkel skielik. “My neef-hulle is ook hier. Sy naam is Martin, Martin Nel. Hy . . .” Sy bly stil. “Wel, julle sal self sien. Eerste rugbyspan – sulke dinge. Al die meisies is agter hom aan, maar hy vat dit heng goed, nogals jammer hy’s my neef. Dalk kom hy saam.”

Ek hou stilweg duim vas Lindi se wonderlike neef kom nie saam nie. Eerste rugbyspan? Ug! Sy kop is seker vol vrot lug, nes ’n rugbybal – met blomkoolore.

Ek vang Lindi se grys oë op my en kan myself skop. Sy dink kláár ek stel in die ellendige Martin belang, dit staan op haar gesig geskryf.

“Rugby is net só vervelig,” gooi ek wal. “Ek kan nie glo daar’s girls wat ure lank langs die veld kan staan en rugby kyk nie.”

Jana frons na my kant toe, maar Lindi lag hard. “Wie kyk rugby?” gil sy dit uit. “Dis die ouens waarna ons kyk!”

Dit word vinnig donker en ek en Jana spreek af om Lindi die volgende oggend om nege te kom haal.

“Voor ons ma’s enige werkies kan uitdink,” sê Jana grimmig.

Môre begin die vakansie eers regtig, dink ek terwyl ons na ons staanplekke stap. Môre is dit ek, my nuwe wit bikini en Duinebaai se goue strande. Môre was ek alle gedagtes aan Pierre en daardie goor Jenni uit my kop met koue seewater en warm somerson.

Ná aandete rig ek en Arno ons slaapplekke in. Lauren deel die karavaan met Ma en Pa, en dit laat ons twee met die tent.

Ek slaan my kampbed op en rol my slaapsak oop. Daarna span ek ’n tou oor die breedte van die tent, hang ’n laken daaroor en knyp dit met wasgoedpennetjies vas.

Ek lig die laken op en loer onderdeur. “Jy bly aan jou kant, oukei? En jy bars as jy enige oergeluide maak.”

Arno gooi my met ’n opgefrommelde onderbroek. “Sorg jy net dat jy nie weer in jou slaap praat nie!” sê hy baie hard. “Die hele kamp wil nie van jou en Pierre se dinge weet nie!”

Ek is te geskok om te praat. “Shut up, oukei!” skel ek toe ek my stem kry.

Ek val op die kampbed neer en staar na die tent se dak. Het ek regtig in my slaap gepraat? Van Pierre? Wanneer? Wat het ek gesê? Die klein etter lieg, besluit ek na ’n ruk, maar ek voel glad nie lekker.

Ma sê nag en Pa maak die ligte dood.

Ek kan nie slaap nie en sit my kopflits aan. Toe krap ek in my tas. Het dit. Die wit bikini. Ek kan myself al daarin sien, afgeteken teen ’n diepblou see.

Ma was skepties oor my keuse. “Wit kan ’n moeilike kleur wees, Anelle. Veral as dit nat word.”

Nie dat ek geluister het nie. Die skuimwit kleur wys perfek af teen my donker hare wat in lae teen my rug afhang. Ek móés dit hê, dis vir my gemáák.

“Sit nou af daai flits,” brom Arno uit die donker dieptes van sy slaapsak wat, te oordeel na die geluide, al goed stink.

“Ja, nag,” brom ek en druk die bikini onder my kopkussing in. Daarna sms ek en Jana vir mekaar tot ons airtime op is.

Dis ’n baie kort nag.

Die een oomblik galop ek nog in ’n glansende bikini op ’n vurige perd voor ’n bende bloeddorstige struikrowers uit, en die volgende oomblik skreeu Lauren soos ’n sirene en die karavaanlig klik aan.

Kort daarna strompel Ma teen die trappies af. In een hand het sy ’n flits, in die ander ’n onwelriekende bondel. Toe sy verbystap, blaas Arno sy asem hoorbaar uit en ek trek die slaapsak oor my kop. Vanuit die karavaan klink ’n sisgeluid op soos Pa die plek met lugverfrisser bespuit.

Ek maak of ek slaap toe Ma ’n hele ruk later weer verby my kampbed strompel. “Ek sal ’n ander plan moet maak met die doeke,” sê sy van binne die karavaan.

Pa sug hoorbaar. “Almal gebruik weggooidoeke. Gaan koop tog net vir jou. Hulle hou dit aan by Kootjie se winkel, ek het gesien.”

Ma spring dadelik op haar ekologie-perdjie. “Weet jy hoe lank vat weggooidoeke om te vergaan? Tot tien jaar. Dis uiters ekologies-onvriendelik, ek kan die produk nie ondersteun nie, dis teen my beginsels, ek sal ’n ander plan maak.”

As dit nie so donker was nie, het ek uit my slaapsak gespring en haar geskud. Sy is net só agter die tyd. Ek meen, wie worry oor die ekologie? Dis net só verlede jaar. Teen dié tyd weet almal die planeet is in sy dinges in, maak nie saak wat jy doen nie.

Ek sou die hele nag lank oor my eie ekologie geworry het as ek geweet het wat Ma die volgende dag by Tant Kootjie se winkel sou gaan koop. ’n Tamaai plastiekemmer met ’n vasdrukdeksel en groot pienk en oranje blomme op. ’n Enorme, outydse, ekologies-vriendelike Happi-Nappi-emmer wat “Anelle le Roux is ’n loser!” gaan uitskree vir almal om te sien.

Rugbyballe en bikini’s

Подняться наверх