Читать книгу Ouens is nes ekstra bagasie - Janie Oosthuysen - Страница 5
ОглавлениеTwee vervelige dae later staan die blou-wit Cessna en wag op die aanloopbaan. Alles is in orde, verseker die werktuigkundige vir Pa. Bravo, Alpha, Delta, of BAD, soos Pa die viersitplekvliegtuigie noem, is gereed vir die vlug. Ons los die Defender op die lughawe en laai die Cessna tot amper teen die dak.
“Dis dieselfde lughawe wat Beryl Markham en Denys Finch Hatton gebruik het, weet jy,” sê Pa gesellig. “Jy onthou seker daardie cool film met Meryl Streep? Out of Africa?”
Ek rol my oë. Out of Africa? Cool? Ek haat dit as Pa hip probeer wees.
Gelukkig drop hy dit. “Ons gaan lekker braai, ons vlieg in die son in. Nou toe, in is jy.”
Ligvoets klouter ek oor die vlerk. Die geur van brandstof en warm gebakte sitplekke slaan in my neus op en die opgewondenheid gaan sit in my maag. Dit voel amper soos vroeër, v.J., vóór Judy, toe ek oral saam met Pa gegaan het. As ek net vir Visoog kon vertel hoeveel vliegure ek en Pa al afgelê het en watter avontuurlike goed ek al gedoen het, hy dink mos hy’s so cool.
Die Cessna rol oor die teerstrook en die wiele verlaat die grond. Dis opwindend om weer in die lug te wees, maar hoe verder ons vlieg, hoe meer voel ek na uitspring. Daar is niks onder ons nie, net stof en bossies. Daar is ook niks tussen my en Pa nie. Dit na net ’n jaar.
“Jy moenie te veel van die kamp verwag nie,” sê hy ná nog ’n lang stilte. “Dis maar rof, tente en kampbeddens en goed.”
Asof ek iets beters verwag het. “Hoekom is hier so baie stof?” vra ek in ’n poging om gesellig te wees. Dadelik wil ek myself skop, want Pa bespring die flou vraag soos ’n uitgehongerde tier.
“Dis hoofsaaklik vulkaniese as wat miljoene jare gelede hier neergesif het. Dis deels hoekom die area ryk is aan fossiele. Wanneer vulkaniese as ’n karkas bedek kort na die dier dood is, is die kanse op fossilering baie groot –”
Ek praat hom dood. “Regtig! Hoe interessant!” sê ek vinnig en hard terwyl ek my iPod uit my sak haal. Die laaste paar weke het ek ’n klomp nuwe songs afgelaai – vir situasies soos dit. “Hoe ver is dit nog kamp toe?”
“So te sê daar.” Hy klink afgehaal. “As jy uitkyk, sal jy die tente sien.”
Sonder belangstelling staar ek na onder. Trek my asem skerp in. Dis of ons oor ’n oseaan vlieg, ’n see in die middel van al die sand.
“Die Turkana-meer,” sê Pa met ’n ondeunde laggie. “Indrukwekkend, nè?”
Ek kan net knik.
“Daar’s die kamp.”
Hy beduie na ’n versameling tente en riethutte op die oewer van die meer. Langs ’n gelykgemaakte area, wat kennelik die landingstrook is, sien ek ’n groepie figure wat hulle hoede waai. My hart sink. Ander mense gaan strand toe saam met familie en vriende; ek hou vakansie in die sand saam met ’n spul vreemdelinge.
Die Cessna se wiele dreun oor die grond en ons rol tot stilstand. Toe ons uitklim, gee Pa my hand ’n drukkie. “Kom ontmoet die res van die gesin.”
Die res van die gesin? Syne miskien. Ek sal hulle verdra. Met inspanning.
“Barbara!”
Die uitroep stuit my in my spore. Oopmond staar ek. As dít liefste stiefmoekie is, dan verstaan ek nie die deal nie. Dun haartjies teruggeskraap in ’n verbleikte poniestert. Vel soos ’n verweerde stapstewel. ’n Oulike poppie? Nie eens weer nie. Stiefmamma lyk soos iets wat babas kan eet.
“Barbara,” herhaal sy, haar arms uitgestrek. “So bly om jou te sien.”
Ek steek my hand ver uit. Die heks moet my net nie probeer vasdruk of soen nie. “Goeiemiddag,” sê ek stram. “H’m, aangename kennis.”
Sy bly vrolik. “Jy kan my Judy noem! Hier noem almal mekaar op hulle name.” Sy kyk rond, haak twee seuntjies nader. “Hier is Hennie en Chris. Sê hallo vir Barbara, julle twee. Sy’s julle nuwe suster.”
Nuwe suster.
Hennie en Chris lyk so eenders soos Hompie en Kedompie – of wat daai rympie ook al is. Hulle gaap my openlik aan. Ek kry die indruk dat hulle net so min van my gaan hou as ek van hulle. Goed so.
“Hoe spel mens jou naam?” vra die een.
“B-a-r-b-a-r-a,” klank Judy, asof ek nie kan praat nie. Sy stoot hulle vorentoe. “Toe, groet nou.”
Dit voel of sy met my ook raas. Teësinnig skud ek hulle stowwerige pote. “Hallo, Hennie. Hallo, Chris.”
“Ek is Chris en hý is Hennie,” help Kedompie my reg. “Kan jy nie sien nie? Ek is dertien minute en ses-en-dertig sekondes ouer as hy. Ek hou van slange en hy hou van goggas. Ek gaan ’n spioen word en hy ’n speurder. Ek eet nie beet nie en hy eet nie kool nie en jy het snaakse skoene aan.”
“Dis genoeg!” Judy hou haar hand op. “Kom ek gaan wys jou jou tent, Barbara. Help julle seuns julle pa aflaai.”
Julle pa?
Verward kyk ek om. Besef gesteurd van wie sy praat. So Pa is hulle pa. Van wanneer af? Vol bitter gedagtes stap ek agter haar aan terwyl ek aspris na haar regaf kuite kyk en wonder of sy darem onder haar arms skeer.
Judy wag dat ek haar inhaal. “Daar’s ’n student in die tent langs joune,” vertel sy effens uitasem terwyl ons aanstap, “maar dié sal eers oor ’n paar dae hier wees. Is nog in Nairobi. Woon die konferensie namens my by. Te besig hier.”
Ek maak of ek belangstel. Onderlangs loer ek na haar. Ma werk by die Standard Bank as finansiële adviseur, dis nogal ’n grand pos, sy dra sulke tweestukpakkies. Doktor Wilson het ’n groot, stowwerige kakiehemp en ’n groot, stowwerige kortbroek aan. Kortbroek? Flip, nee, dis ’n skort, liewe dinges, wat sien Pa in haar?
“Soggens en saans sak ons af meer toe vir ’n vinnige stort. Sien jy die riethokkies daar teen die kant? Dis die storte. Aa, hier’s jou tent.” Judy stoot ’n tentflap oop. “Ons gebruik net biodegradeerbare seep. Dit lê daar op jou bed.”
Ek loer in. Die tent is nie te klein nie, maar dit kook seker in die dag. Die matras lyk knopperig en die komberse of hulle van ’n donkie af gesteel is. ’n Lantern swaai aan ’n spyker en ’n stuk bloudraad is duidelik daar om my klere aan op te hang. Styf teen die bed staan ’n ruwe houtrak.
Teësinnig knik ek ’n dankie.
“Daar’s gaslampe in die groot hut daar oorkant,” verduidelik Judy. “Dis waar ons bymekaarkom, sorteerwerk doen en notas maak. As jy saans wil lees of briewe skryf, kan jy dit daar doen, dis baie gesellig.”
Briewe skryf? Wanneer is Judy gebore?
“Is hier selfoonontvangs? Kan ek SMS’e en e-posse stuur?” vra ek, my gedagtes by Brett. Sê nou hy laat weet hy’s jammer oor alles en nog steeds mal oor my, sal Pa dat hy kom kuier?
Die kyk wat Judy my gee, is baie, baie skeef. “Jou pa het ’n Sat Phone.”
“Hy het?” My kop duisel. Hoekom het die drip nie vir my gesê dis wat jy moet hê sodat ek een kon koop nie? Nog beter. Hoekom het hy nie vir my een gekoop nie? Hy’t mos geweet ek kom kuier, of verwag hy ek moet met hom deel? “En die ander mense?” vis ek. “Wat gebruik hulle?”
Judy beantwoord die vraag indirek. “Die intreeprys vir ’n Sat Phone is $1 500.”
“Wat?”
Dis tonne erger as wat ek verwag het. Maar Pa sal darem seker toelaat dat ek nou en dan vir Brett bel. En vir Ma. Meer dan as nou, maar nog steeds. Die probleem is net, sal Brett met my wil praat? Hy kan heng hardegat wees. Eintlik moet ek net aanvaar dat alles oor is tussen ons. Eintlik moet ek net doen wat ek moet doen. Wraak neem. Harte breek. Die manlike geslag ’n paar harde en nodige lesse leer. Die vraag bly net, hoe? Hier is net géén talent nie.
Moedeloos staar ek oor die vaal vlaktes wat van die tent af wegrol. Laat hier tog iemand wees wie se hart ek kan breek, vóór ek mal word.
“Vuil klere gaan na daardie alleenstaande hut,” sê Judy op haar saaklike manier. “Daar is twee Wasungus wat die wasgoed doen. Maar ek praat te veel. Het jy enige vrae? Enigiets wat jy wil weet?”
“Nie op die oomblik nie,” jok ek. Wat ek wel wil weet, is wat my pa in haar sien, maar dit kan ek tog seker nie vir haar vra nie.
“Dan los ek jou vir ’n rukkie om uit te pak. Hennie en Chris sal jou tasse nou-nou bring. Kom na die groot hut vir tee sodra jy gereed is.”
“Goed – en – dankie.” Ek sê dit net omdat ek moet.
Sy knik, begin omdraai, maar steek vas, haar linkerhand in die lug. “Amper vergeet ek! Dominique sal later vanmiddag hier wees. Lekker geselskap vir jou.”
Dominique? Ek rol dit op my tong. Watse soort naam is dit? Sy – hy – wat ook al – móét eenvoudig ’n jerk wees. “O? Gaaf,” sê ek nietemin. Heeltyd wens ek Judy wil loop, ek het meer as genoeg gehad van haar geselskap. Dalk help dit as ek by die tent ingaan.
Ek voeg die daad by die gedagte, maar sy loer wraggies in en sê: “Barbara, ek hoop regtig ons gaan vriende word.”
Gelukkig wag sy nie vir ’n antwoord nie, want my mond hang oop. Vriende? Het ek reg gehoor? Wát is die vroumens se case? Sy’t dan my pa by my afgevat.