Читать книгу Soene op 'n Suzuki - Janie Oosthuysen - Страница 3
ОглавлениеDie Suzuki skiet vorentoe en die momentum dreig om my uit die saal te slinger. Ryno loer oor sy superbreë skouer en sy lippe vorm woorde, maar die wind pluk dit weg voor ek kan uitmaak wat dit is. Maar wat maak dit saak? Ek het mos ’n verbeelding. Beter. Dis ’n lekker verskoning om nader aan hom te skuif en my arms nog stywer om sy lyf te slaan terwyl ek soene in sy nek blaas.
Ons gaan skuins-skuins om ’n draai en die teer maak ’n streep onder my linkerknie. Toe ek dit uitgil, verminder die spoed onmiddellik.
“Bang?” roep Ryno na agter.
“Wie? Wat? Waarvoor?” skree ek teen die wind. “Hoekom so stadig?”
Hy lag en maak oop en die pad flits weer onder ons verby. Te gou kom ons tot stilstand voor Olienhoutstraat 9. My lyf bewe so, ek moet ’n rukkie met toe oë teen Ryno se rug lê en wag dat my hartklop bedaar. Nie dat dit gebeur nie. Die sensasie van sy gespierde lyf teen my nuwe double whoa, padded, push up, plunge Jezebel-bra laat my hart wild skop.
Dit was die coolste aand van my lewe. Niks sal die herinnering kan uitwis of bederf nie. Ek sal elke oomblik vir ewig en altyd onthou. Hoe ons by Fat Katz stilgehou het – hoe al die oë op my was toe ons arm om die lyf daar instap – hoe van die meisies agter hulle hande gepraat het. En láát hulle skinder. Ten minste het Lizanne Meyer ’n slag iemand wat supercool is en doen sy iets wat almal laat praat. Ek bedóél – gee kans – die aand moet nog begin . . .
Neeeee! Wie het die simpel tuinligte aangeskakel? En wie staan daar afgeteken op die stoep? Kramp, tog nie Ma nie. Wat dóén die draak daar? Sy’s dan uit vir die aand! Hoe kan sy nou al wil terug wees? En vir wat staan sy daar en kyk? Vertrou sy my nie?
Ek kan krokodille vang. Nie net het Ma vir my gelieg nie, sy’t my hele aand bederf. Die plan was om Ryno in te nooi vir koffie (en ietsie ekstra, wie weet, jam-jam), maar hoe kan ek met die draak in die huis?
“Ek moet jou ma seker gaan groet,” sê Ryno stywerig.
“Wat?”
My hart spring amper bo by die Jezebel uit sodat ek angstig wonder of een van die c-thru bandjies dalk geskiet het. Ek het die 6y swart nommertjie op die internet bestel en ek is mal daaroor, maar dis so fyntjies, ek vertrou dit nog nie heeltemal nie.
“Is jy mal?” keer ek terwyl ek met ’n supergladde beweging van die motorfiets afglip. Hopelik het Ma nie gesien waar ek tot nou toe gesit het nie. Of kan haar supersoniese draak-oë tot hier kyk?
“Gaan jy liewer huis toe,” raai ek Ryno aan terwyl ek ongemerk voel of die Jezebel nog in beheer van sake is. (Jip, die girls is nog op hulle plekke, wat ’n verligting, sjoe.) Met ’n ligter gemoed babbel ek verder: “Dis genoeg dat ék in die moeilikheid is, dis nie nodig dat jy
ook . . .”
“Moeilikheid?” val hy my in die rede. “Wat het jy dan gedoen?” Agterdogtig kyk hy na die stoep. “Weet jou ma nie jy was uit nie?”
Ek bly hom ’n antwoord skuldig. Daar’s net geen manier dat ek vir Ryno gaan sê ek mag nie op ’n motorfiets ry nie. Hoe cool is dit tog?
“Lizanne?” Hy klink bekommerd. “Wat’s fout? Is dit oor my?”
“Nee, nee, dis nie jy nie, dis iets heeltemal anders!” Ek sit my hande teen sy bors en kyk in sy oë – heng mooies met wimpers wat glads te lank is vir ’n ou. “Dit gaan te lank vat om te verduidelik, so loop net, oukei?”
Dadelik wil ek my tong afbyt. Kon ek nie aan iets anders gedink het as “loop net, oukei” nie? Ek meen, dis maar ons eerste date, dinge is nog in die sensitiewe beginstadium, mens moet jou woorde tel.
Hy kyk opsommend na my, draai dan sy oë na die stoep. “Maar ek kan jou mos nie net hier los nie, hoe sal dit lyk? Laat ek jou ma ten minste groet en vir haar verduidelik . . .”
Verduidelik? Aarg!
Dadelik praat ek hom dood. “Dis nie ’n goeie idee nie, glo my, ek ken my ma, sy’s nie soos ander ma’s nie, regtig! Ry net. Ek sal haar gou genoeg uit haar bui praat,” jok ek by. “Moenie so worry nie, als is oukei, wat van môreaand weer by Fat Katz, hè?”
Fat Katz is die disco waar ek Ryno die eerste keer gesien het: die ou met die sexy wipkuif en die moenie-my-seermaak-nie-look van Josh Hutcherson van The Hunger Games. Dié ou oor wie Deana skoon digterlik geraak het toe hy instap met stywe Diesel-jeans aan en ’n metaalblou valhelm onder ’n gespierde linkerarm.
“Mego, nuwe bloed,” het sy gesê en my in die ribbes gepomp. Toe het sy begin babbel: “Ek wonder in watter skool hy is? Beslis nie ons s’n nie, ons het net nerds. Oooeeeee, kyk hoe check almal hom uit, en kyk hoe kyk hy vir jou! Ek sweer hy kyk die hele tyd net vir jou, jy’t ook al die geluk. Ag nee, daar loop hy uit, maar hy sal terugkom, gee kans. Jis, ek wonder hoe soen so ’n ou?”
Ek stoot die herinnering weg terwyl ek hom ’n stampie in die rug gee. “Ry nou net,” sê ek, voor ek weer kan begin fantaseer, ek meen, sy mond is net soooo sexy. “Sien jou gou weer, oukei,” roep ek, en waai gemaak ongeërg oor my skouer terwyl ek oor die grasperk draf.
Heeltyd redeneer ek met myself. Dis omtrént goor om hom net so te los, maar wat anders kan ek doen? Ma sal sommer iets skeefs vir hom sê, en hy’s net so cool, ek wil nie onnodige kanse waag en hom dalk verloor nie. Ek kon dit amper nie glo toe hy my sms net nadat ek met Gerhard uitgemaak het nie, dit was net so ongelooflik toevallig, dit moet so bestem wees, ek mag dit nie bederf
nie.
Ek mis ’n tree.
Sê nou hy dink ek is skaam vir hom? Dat ek hom nie aan Ma wil voorstel nie omdat ek voel hy’s nie goed genoeg nie? Onrustig blaas ek ’n soen oor my skouer na hom. My hart wip toe die motorfiets brul en ’n enkele toet opklink. Van voor af verlief, draf ek verder.
Terwyl ek die stoeptrappe uitklim, plak ek ’n onskuldige glimlag op my gesig. Vanaand moet ek my pad oopbluf as ek nie die res van my lewe in ’n kloosterskool wil slyt nie.
“Hallo, Ma!” roep ek gemaak vrolik uit. “Jy’s lekker vroeg tuis,” voeg ek gesellig by, “ek het ook maar vroegerig teruggekom,” babbel ek verder. Die draak mag nie ’n vraag inkry nie, want as sy eers begin, hou sy nie weer op nie, en wie wil daarna luister? Nee, ek wil in my kamer kom en oor Ryno fantaseer.
Ek gaap agter my hand. “Dit was maar ’n vervelige paartie, ek gaan inkruip, nag, Ma.” Ek mik verby haar, maar sy maak nie vir my plek nie, sy staan die hele kosyn vol. My moed sak in my nuwe Firenze Suede leather booties. Sy’t gesien!
Haar woorde bevestig dit. “Lizanne, was jy agterop daardie motorfiets?”
Sy vra nie, sy sê.
Dis op die punt van my tong om vreeslik onskuldig te sê: “Motorfiets? Ek?” maar ek bedink my en lig my skouer. “Ons het net gesels . . .”
Ten spyte van my uiterlike bravade voel ek benoud. Wat het sy alles gesien? Dalk toe ek van die Suzuki afklim? Ek loer oor my skouer na waar ek en Ryno netnou nog gestaan het. Verbeel ek my of sweef ’n skim van hom nog daar in die lug? Hoe moet my hart dit hou?
Die draak herhaal haar vraag: “Lizanne, het jy of het jy nie op daardie motorfiets gery nie?”
“Nee-ee,” sê ek met ’n onskuldige stem. Wel, nie alleen nie, voeg ek in my gedagtes by. Ek meen, “gery” beteken tog soos in self ry en nie agterop gelift word nie, sy moet haar woorde beter kies.
Ma se lippe word twee strepe. “Ek het jou nie grootgemaak om te lieg nie.” Haar stemtoon verander, word prekerig. “As jou pa moet weet wat agter sy rug in hierdie huis aangaan, slaap hy nie weer een enkele nag nie.”
Ek rol my oë. As Pa moet weet! Ma is ’n mooi een om te praat. “Ma-ha,” stribbel ek teë, “ek is amper sestien, ek’s nie meer ’n baba nie. Al my pelle mag motorfiets ry! Party het scooters,” sê ek met nadruk op die belangrike woord, want dis ’n ou gevegspunt tussen ons, “waarmee hulle skool toe ry, dan hoef hulle ma’s hulle nie orals te neem nie, hulle ry sommer self.”
Sy spring dadelik op haar goeie-ouerskap-perdjie. “As ander ouers bereid is om hulle kinders in die vuur te gooi het ek vrede daarmee, maar ek sal dit nie toelaat nie, wat meer is, jy moet sestien wees en selfs dan sal ek nie . . .”
Ek gee haar nie kans om die sin te voltooi nie, ek ken die ou storie uit my kop. “Ryno ry verskriklik versigtig,” smeek ek. “Hy het nog nooit eens geval nie en hy’t twee valhelms en ’n lift-lisensie en hy kan al motor bestuur.”
“Ryno?” Haar stem klink skielik anders. “Wie is – Ryno – miskien?” Sy spoeg die naam uit asof daar gif aan is. “Waar kom hy ewe skielik vandaan? Ek dag dis Gerhard daar voor by jou in die straat.”
Gerhard? Eeeeew! Gerhard is net so verlede week, maar hoe sê ek dit vir haar, sy dink die son skyn uit hom uit. Die beste is om nie eens te probeer nie en die hele Gerhard Greeff-onderwerp net te ignoreer.
Pront sê ek: “Ryno se van is Thiart, hy is agtien en in matriek. Ek ken hom nog nie lank nie, maar hy is baie gaaf, jy sal van hom hou.” As jy hom ’n kans sal gee, voeg ek by in my gedagtes.
“Ryno – Thiart –” herhaal sy, asof dit die naam van ’n berugte reeksmoordenaar is. “Ek sien.”
Ek vra nie wat sy sien nie. Ek wil in my kamer kom en die wind in my gesig onthou, die gevoel van my arms om Ryno se lyf, die vibrasie van die enjin en die krag wanneer Ryno oopmaak en ons vorentoe skiet. Ek wil droom van die toweragtigste aand van my lewe – wat nou vinnig besig is om sy glans te verloor. Maar Ma bly stáán en daar is géén verbykomplek nie.
“Wat van Gerhard?” vra sy kil.
Ek frons. “Wat van Gerhard?”
“Ek dag julle gaan uit.”
“Ma-ha, al lank nie meer nie! Al minstens . . .” ek loer na my selfoon, “vyf uur en sewentien . . . wat práát ek? . . . al vyf uur, agtien minute en sewe-en-dertig sekondes nie.” Weer mik ek na die deur, maar sy roer nie. “Mag ek nie inkom nie? Moet ek die hele nag op die stoep bly staan soos ’n misdadiger? Dis koud, ek wil gaan slaap.”
Slaap is die één triek wat altyd werk met Ma. Sy tree opsy en ek druk verby haar terwyl ek my seëninge tel dat ek binne en op pad kamer toe is. Maar ek het my ou seëninkie glads te gou getel.
“Ons het nog nie klaar gepraat nie.”
Praat. Ja, dis wat ons altyd doen. Ek en Ma kon nog nooit soos twee redelike mense net oor iets gesels nie. Van my maats het hierdie ongelooflike laatnaggesprekke met hulle ma’s. Hulle gesels oor alles: hoe om te soen, en veral, hoe om nié te soen nie – waarom ’n ou wat gister nog hot was vir jou ewe skielik niks met jou te doen wil hê nie – en hoe om “nee” te sê sonder om soos ’n koek te klink. Dis net so cool.
Maar nie ek en Ma nie. Ons gepraat eindig altyd in ’n fight. Oukei, ek is seker nie onskuldig nie, maar die ding is ek kon nog nooit uitwerk hoe om met die draak te praat sonder dat dit ’n stryery afgee nie.
Maar laat ek weer probeer. Met ’n baie kalm, baie redelike stem sê ek: “Kan ons nie môre verder praat nie, Ma? Wat wil jy tog weet wat so belangrik is?”
Ek moes haar nie die gaping gegee het nie, want sy stuur ’n reeks onmoontlike vrae op my af: “Wanneer het julle uitgemaak? Is dit nie bietjie vinnig nie? Het jy mooi daaroor gedink? Wat het tussen julle gebeur? En nou’t jy sommer iemand anders? Hierdie . . . Ryno. Dit klink oorhaastig. Mens moet tog afkoel en seker maak van sake voor jy sommer iemand anders kry.”
Gebelg swaai ek om, al my goeie voornemens soos in instantly gone. “En wat het dit alles met Ma uit te waai? Dis darem seker my sake, ek is darem seker geregtig op ’n bietjie privaatheid . . .”
“Maar Gerhard is ’n óúlike seun,” val sy my in die rede. “Hy is kunstig en . . . en . . . fluks en bedagsaam en hoflik. Ek is seker dis meer as wat ’n mens van daardie Ryno kan sê. Kom nie eens in om my te groet nie, so anders as Gerhard.”
Ek moet hard op my tande byt om nie te skree nie. Ek meen, wat is haar case? “Ma? Mens sou sê jý vry na Gerhard soos jy aangaan,” kap ek terug. “Hy’s glad nie so wonderlik soos jy dink nie, hy – hy’s ’n pyn, ’n vieslike, vet” – amper
sê ek vryerige – “pyn! Dís hoekom ek met hom uitgemaak het, as Ma dan moet weet.”
“Maar julle lyk so mooi bymekaar, dis of julle vir mekaar gemaak is, al my vriendinne sê so,” borduur sy. “En hy’s so kreatief, so goed met die kwas en maak sulke besondere kleurkeuses.”
Nou het die draak haarself lekker weggegee. “Dis dan waaroor dit alles gaan,” sê ek skril, “oor die verwery van die kombuiskassies. Glad nie oor ons twee kamma so goed bymekaar pas nie – ek moes dit geweet het. Wel . . . Ma kan maar ophou om Gerhard aan my te verkoop, dis uit tussen ons. En in elk geval,” my stem word al skriller, “hoekom dwing jy net vir my? Wat van Dion? Hoekom dwing niemand hom ooit nie? Maar hy’s mos die witbroodjie, hy mag mos lê en vrot in sy kamer.”
Bewend van woede marsjeer ek weg sodat die vloerplanke met elke tree uitdagend onder my voete kraak. Die draakstem volg my. Die toon het verander, dis koud en redelik, baie, baie redelik. Dít is hoe Ma klink wanneer sy op haar onredelikste is.
“So eenvoudig is dit nie,” sê sy, so ysig dat ek outomaties stadiger stap terwyl ek gespanne op die volgende sin wag. “Gerhard moet klaarmaak waarmee hy begin het. Hy kan nie dinge halfklaar los nie, die lewe werk nie so nie.”
Weer gaan ek staan. Weer swaai ek om. “Ma! Waar val jy uit?” Ek is amper te verbaas om geskok te wees. “Gerhard het dit as ’n guns gedoen! Jy kan hom nie dwing om die kaste te kom klaarmaak nie, jy betaal hom nie eens nie, hy doen dit verniet!”
Met finaliteit sê ek: “Nag, Ma.” Terselfdertyd draai ek op my hak. Van hierdie belaglike gesprek is ek dik, laat ek loop voor ek ontplof.
Ma se woorde volg my: “Jy moet opmaak met hom.”
Ek steek vas. “Wat?”
“Jy moet opmaak met Gerhard.”
Ek moet verkeerd gehoor het. “Opmaak? Vir wat?”
“Sodat hy die kassies kan klaarmaak.”
Ek swaai om. Herhaal baie stadig: “Ma wil hê ek moet met Gerhard Greeff opmaak sodat hy die kombuiskassies sal kom klaar verf?”
“Korrek. Bel hom. Daar’s die foon – in die gang.”
“Ek weet waar die foon is, Ma, maar . . . jy’s darem seker nie ernstig nie?” Ek begin giggel. “Jy maak darem seker ’n grap?”
“Glad nie. Hoe anders gaan die kassies klaarkom?”
Ek skud my kop ’n paar keer. Hopelik is dit alles net ’n soort hallusinasie, iets vlugtigs wat sal verdamp wanneer ek bykom uit hierdie drogdroom.
Dit is nie. En dit verdamp nie.
Ma bly staar na my met ’n flikkering in haar draak-oë wat niks goeds vir my onmiddellike toekoms voorspel nie. Elke keer as sy so na my kyk, trek ek aan die kortste ent. Maar nie hierdie keer nie, o nee, sy maak ’n fout as sy dink ek gaan Gerhard (eeeeewwww!) Greeff terugvat net sodat hy haar simpel kassies kan kom verf.
Dis tyd om ’n stand te maak. Soos my heldin Katniss Everdeen.
Afgemete sê ek: “Ek – sal – nie. Ma kan op Ma se kop staan, maar ek – sal – nie. Al is hy ook die laaste ou in die wêreld en al hou jy ook ’n mes teen my keel. Ek. Sal. Nie. Verstaan?”
Teen dié tyd skree my sisteem vir koffie, ’n kafeïen-inspuiting wat sal maak dat ek die absolute rubbish wat ek die afgelope halfuur moes aanhoor soos in instantly sal vergeet.
Driftig storm ek na die kombuis. Oorkant Dion se kamer huiwer ek. Dalk moet ek my kleinboet opklop, hy’s darem die draak se witbroodjie, maar daar is nie ’n ligstreep onder sy deur nie, gevolglik glip ek met ’n sug by die kombuis in en skakel die lig aan.
Die buisligte flikker ’n paar keer en ek loer skrikkerig daarna. Wat ís dit met die huis? Gister het die ligte vier keer aan- en afgegaan. Sommer vanself. Die vierde keer was ek in die badkamer en dit was so donker dat ek my skeenbeen in sy peetjie in teen die toilet gestamp het.
En . . . verbeel ek my, of kraak die vloerplank in die gang nog steeds? Dit moes mos lankal opgehou het, ek is wie weet wanneer al daar verby, die huis is net sooooo creepy.
Of is dit die draak wat my volg?
Kramp. Dis sy. En – flip – die kombuis was ’n fout, dit sien ek nou, ’n hengse groot strategiese fout. Ons kombuis is seker die enigste in die land sonder ’n agterdeur – iets wat ek om die dood nie kan onthou nie. Nie dat die agterdeurlose kombuis normaalweg ’n probleem is nie, maar op die oomblik is dit – want die draak staan die enigste ontsnappingsroete vol.
Ek is vas. En die draak weet dit. Want sy staan in die gangdeur. Maar hoekom kraak die vloerplanke nog steeds? Wie loop daar? Enigiemand?