Читать книгу Plante kan praat - Jeanne Goosen - Страница 6

2. Lemoene

Оглавление

Lemoene

Hy sit in die kombuis, kyk by die agterdeur uit, kyk na die lemoenboom wat hy geplant het. Dis vol met die eerste drag. Hy kyk na die grasperk wat hy elke Saterdag sny, die plante, die struike, die buitegeboue. Hy buk vooroor op sy stoel, sien die posbus voor by die hek; hy kyk na alles wat hulle opgebou het.

Die kombuis ruik na hoender. Sy staan voor die stoof met ’n vadoek oor haar een skouer, prik met ’n lang vurk in die kastrol.

Die kerk in Stasiestraat se klok lui. Dit moet die eerste gelui wees. Die klok praat met ’n plattelandse stem.

Sy vrou hou aan prik met die vurk. Sy staan met haar rug na hom, maar hy weet hoe sy nou lyk, hy ken die uitdrukking op haar gesig: ’n frons tussen haar oë, lippe op ’n lyn getrek.

“My ma het my gewaarsku,” begin sy. “Maar nee, ek wou nie luister nie. God!” roep sy skielik uit. Net so: “God!”

Sy sê: “Ek het jou liefgehad! Ek wou jou graagter as enigiemand of iéts op hierdie aarde hê!”

Hy maak die vol bottel Three Ships oop, gooi daarvan skoon in ’n waterglas, drink dit leeg en vul weer sy glas.

“Ek wou nie luister nie,” gaan sy aan. “ ‘Die Barnards is nie ons soort mense nie,’ het my ma gesê. ‘Onstabiel. Maak niks bymekaar nie, gedurig aan die trek. Trek van die een dorp na die ander agter die here weet wat aan.’ ”

Sy roer nou met ’n lepel in die kastrol, skakel die plaat op laag. Sy skep van die sous in ’n piering, proe. Sy strek, kry die soutpot op die rak skuins bokant die stoof, strooi sout oor die hoender. Daar is ’n rooi tulp op die soutpot.

Peper. Sy kry peper, strooi daarvan oor die hoender. Die peperpot pas by die soutpot, albei met ’n rooi tulp op.

Hulle het die stel een Saterdagoggend gekoop pas nadat hulle hier ingetrek het. ’n Pick n Pay special. Sy het daarvan gehou. “Dit pas by die gordyne,” het sy gesê. “Dit sal die kombuis verder opvrolik.”

“Dan sal dit rooi tulpe wees,” het hy gesê, die stel geneem en dit in die trollie gesit.

“Lief vir jou,” het sy gesê en hom op die wang gesoen.

Hy kyk by die agterdeur uit, kyk na die jong lemoenboom. Wanneer hy sy een oog toemaak, verdwyn die boom. Dis net met albei oë oop dat die boom en sy vrugte in sig is.

Hy het die boom in Junie geplant, pas nadat hulle hier ingetrek het. Hy het ’n sirkel in die grasperk afgemeet en begin grawe.

“Jy bederf nou die grasperk,” het sy hom betig, maar hom nie probeer keer nie.

Hy wou die boom reg voor die agterdeur hê. Sodat ’n mens dit van alle kante af kan sien, soos wanneer jy by die garage inry en ook wanneer jy by die voorste hekkie inkom. Hy het die hele oggend aan die gat gewerk, die arm grond uitgespit en dit met nuwe, ryk grond vervang. Hy het die kompos met ammoniumsulfaat gemeng.

“Dis teen krulblaar,” het hy verduidelik.

Sy het gelag, in die huis verdwyn en met die polaroid teruggekom en ’n foto van hom geneem by die jong boompie. “Van wanneer af weet jy so baie van lemoenbome af?” het sy tergend gevra.

“Alles,” het hy geantwoord en die graaf neergesit. “Ek weet alles van lemoenbome af. Hierdie een is ’n navel. Die vrug is soet en pitloos en die boom is taamlik bestand teen swamme. Nog iets? Dit moet twee maal per week water kry, maar nie sommer op enige twee dae nie. Vasgestelde tye, sê byvoorbeeld op Dinsdae en Vrydae. En die put rondom die boom moet stadig vol loop. Die put self moet tot by die verste takke uitkring. En hoe groter die boom word, hoe wyer moet die put gemaak word.”

Sy hande bewe. Hy maak sy glas leeg, skink nog whisky, krap met ’n vuurhoutjie in die Goodyear-asbak.

Sy vrou sit rys op. Sy raas met die gereedskap. Sy meet ’n teelepel sout af en gooi dit by die rys.

“Nou is my ma dood!” roep sy uit. “My ma is dood sonder dat ek by was!”

Sy swaai skielik om en begin skree: “Het jy gehoor wat ek gesê het? My ma is dood sonder dat ek by haar was! Is daar enigiets wat ek sê wat jy ooit verstaan? Weet jy wat dit beteken? Wat dit vir mý beteken? Antwoord my!”

Sy begin droewig huil, kap met die houtlepel teen die kastrol.

Hy draai sy gesig weg, maak sy oë toe, maak hulle dan oop. Die lemoenboom is in volle drag. Die vrugte is ryp. Nie een van hulle het tot dusver één lemoen gepluk om te eet nie.

Sy huil nou sag by die stoof. Sy praat met haarself. “ ‘Sy soort hou nie ’n werk nie,’ het my ma gesê. ‘Nee,’ het ek gesê. ‘Dinge sal werk. Natie is anders. Ek het hom lief, en hy het my nodig.’ ”

Sy lig ’n deksel op. Sit dit weer terug. “Nou is my ma dood.”

Hy steek ’n Gunston aan, teug, hoes.

Hy dink aan die dag toe hulle hier ingetrek het. Dit was ’n Saterdag. Hy het ’n bakkie geleen. ’n Ou by die werk het hom gehelp. Hy het die hele dag hulle besittings aangery: klere, bokse, die sitkamerstel, hulle bed, die televisiestel, lampe en al die los goed, terwyl sy in die huis besig was met die gordyne. Sy het die hele tyd Duitse liedere geneurie.

Die kerkklok lui weer. Dit moet die tweede gelui wees.

“Ek wil weer kerk toe gaan,” sê sy skielik. “Na my éie kerk, tussen my eie mense wees soos voorheen. Wees waar ek hoort, waar ek tuis voel.”

Hy skink nog van die Three Ships, draai die bottel om en om op die kombuistafel.

“Jy sal dit nie verstaan nie,” sê sy bitter. “Is daar enigiets wat jy ooit sal verstaan?”

Eendag, pas ná haar ma se dood, het hy vroeg huis toe gekom en na Inge geroep. Daar was geen antwoord nie en hy het oral in die huis na haar gesoek. Hy het haar voor hulle bed gekry, besig om te bid. Hardop en in Duits.

Hy weet nie wat in hom gevaar het nie, maar hy het haar regop geruk en begin skud. Sy het haar gesig na hom uitgehou, haar oë steeds toe. Daar was iets uitdagends in haar houding, byna asof sy wou hê hy moet haar klap. Hy het haar net so gelos en by die deur uitgestap.

Hy kan dit nie verklaar nie, maar daardie dag . . . ag Jesus Christus, kan ’n mens dit glo. Op daardie dag was hy jaloers op God.

En ’n ander keer, kort daarna, ook op ’n Sondag soos vandag. Hy het wakker geword en haar plek langs hom was leeg. Hy was skielik tot die dood toe benoud. Hy het haastig aangetrek en die strate ingevaar op soek na haar. Voor ’n Lutherse kerk ’n ent van hulle huis af het hy skielik geweet sy is daar binne. Hy het dit instinktief geweet: sy is in daardie kerk.

Hy het in die kerk se tuin gaan staan. Die gemeente het begin sing.

Opeens was dit die wonderlikste ding wat hy nog ooit ervaar het: die gedagte dat sy vrou saam met die gemeente sing. Hy het sy voorkop teen ’n boomstam gedruk en hardop begin huil.

“Nou is dit te laat,” kerm sy. “Die beste jare van my lewe is daarmee heen. Dis wat ’n man aan jou doen.”

En net daar, net daar in die kombuis wat na hoender ruik, word hy kwaad. Hy word kwaad. Kwaad. Hy weet nie, miskien oor die manier waarop sy “man” sê. So: M-a-n.

Hy word kwaad, spring op, stamp die stoel om, stap slaapkamer toe en pluk die kasdeur oop. Hy ruk die grootste tas daaruit.

Hy begin pak: sy hemde, sy broeke, sy baadjie, onderklere, nagklere, skoene, dasse. Hy pak. Hy sien Inge se Duitse Bybel op die bedkassie en hy pak dit ook in.

In die badkamer pak hy sy skeergoed in, seep, tandeborsel, handdoek, hy pak alles in.

Hy stap met die swaar tas deur die kombuis by die agterdeur uit.

Hy stop voor die lemoenboom. Hy sit die tas neer, knip die deksel oop. Hy begin die lemoene pluk. Hy doen dit tydsaam. Hy sit hulle een vir een in die tas. Hy pluk totdat daar nie meer een lemoen oor is nie.

Hy maak die tas se deksel toe. By die voorste hek sit hy die tas neer. Hy maak die hek oop, stoot die tas deur en maak die hek weer agter hom toe.

Natie Barnard vat die pad.

Hy stap hinkepinke met die swaar tas. Sonder om een maal om te kyk stap hy met die straat af wat na gebraaide hoender ruik.

Plante kan praat

Подняться наверх