Читать книгу Die Sewe Feeste - Johan Malan - Страница 6
Оглавление3
Vasgestelde tye van die feeste
Die chronologiese orde waarin die sewe feeste ingestel is, is baie betekenisvol: “Dit is die feestye van die Here … wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd” (Lev 23:4). Die aangewese tye van die feeste is gedoen binne die raamwerk van Israel se jaarlikse landbouseisoen. In hulle profetiese toepassing openbaar hulle die ontplooiing van God se plan van verlossing deur die eeue. Dit begin by die soendood van die Messias en eindig by sy wederkoms en die instelling van sy vrederyk.
Die feeste word verdeel in twee groepe van vier en drie, wat onderskeidelik die begin en einde van die oesseisoen verteenwoordig. Sewe is die Bybelse getal van volmaaktheid, wat dikwels in Openbaring gebruik word – byvoorbeeld die sewe gemeentes, die sewe seëls, die sewe basuine, ensovoorts. Die spesifieke tye van die feeste, asook hulle betekenis en tipologiese boodskap, is soos volg:
Die Paasfees word gevier op die 14de dag van die lentemaand (Nisan of Abib), en dit is die eerste maand op die godsdienstige kalender. Hierdie fees dui op die dood van Christus.
Ongesuurde Brood volg direk op die dag van die Paasfees en word op die 15de dag van Nisan gevier. Dit is vervul in die begrafnis van die Messias. Deur die offer van sy sondelose lewe het Hy vir ons die ongesuurde Brood van die Lewe geword.
Eerstelinge bestaan uit ’n beweegoffer wat in die lentemaand, op ’n dag ná die Sabbat, gebring moes word. Hierdie fees verwys na die opstanding van Christus, en was die begin van die Fees van die Weke.
Pinkster is die laaste dag van die Fees van die Weke, en vind plaas op die 50ste dag na Eerstelinge. Hierdie fees het vooruit gewys na die uitstorting van die Heilige Gees, en is gevolg deur ’n periode van vier maande waarin die oes ingesamel is.
Basuine is gevier op die eerste dag van die sewende maand en dit dui op die einde van die oesseisoen. Profeties wys dit op die insameling van God se oes van geredde mense in die hemelse skuur, aan die einde van die Messiaanse era.
Die Groot Versoendag word op die 10de dag van die sewende maand gevier en wys vooruit na Israel se nasionale bekering en versoening met die Messias.
Die Loofhuttefees word vanaf die 15de dag van die sewende maand vir ’n week lank gevier, en sluit die oesfees af. Dit is ’n vreugdefees wat ’n tipe is van die Messias se vrederyk op aarde wanneer Hy in die midde sal wees van die geredde oorblyfsel van Israel asook sy verheerlikte kerk.
Deur Israel se feeste binne die verband van ’n landbouseisoen aan te bied, gebruik die Here natuurlike aktiwiteite om geestelike waarhede aan die volk te demonstreer. Die lentefeeste gee ’n aanduiding van die lewensveranderende en wêreldhervormende gevolge van die Messias se koms na die aarde, naamlik die verbreking van geestelike slawerny en die versekering van vryheid vir die volk van God. Die herfsfeeste fokus op die verheerliking van God se volk, oordele oor die ongelowiges, asook die vestiging van ’n regering van geregtigheid op aarde.
JOODSE TYDREKENING
Die Jode gebruik ’n maanjaar waarin elke maand ná die verskyning van die eerste skrefie van die nuwemaan begin. Aangesien die siklus van die maan net 29½ dae is, is die lengte van ’n maanjaar 354 dae, vergeleke met die 365¼ dae van ’n sonjaar of seisoensjaar. Hierdie verskil het vir Israel probleme geskep omdat sekere van hulle maande ten nouste met die seisoene van die jaar geassosieer is. Die maand Nisan, wanneer die eerste drie feeste gevier word, moet altyd met die lente saamval omdat hulle dan ’n gerf van die gars moet sny om as ’n beweegoffer vir die Fees van die Eerstelinge gebruik te word. Tisjri is die maand waarin die oes finaal ingesamel word, en in hierdie maand word die laaste drie feeste van die oesseisoen gevier.
Israel het ’n uitgebreide stelsel van skrikkeljare ontwikkel om te verseker dat hulle maanjare gelyklopend met die seisoensjare bly. Binne elke siklus van 19 jaar is die volgende almal skrikkeljare: 3, 6, 8, 11, 14, 17, en 19. By al hierdie jare word daar ’n dertiende maand aan die einde van die godsdienstige kalender tussen Adar en Nisan bygevoeg, naamlik Ve-Adar (Tweede Adar). As gevolg van hierdie skrikkeljare wissel die datums van Joodse feeste aansienlik op die sonkalender, selfs tot ’n maand, maar hulle bly altyd min of meer ooreenstemmend met die siklus van seisoensjare.
Israel het twee maankalenders – die een ’n godsdienstige kalender wat in die lentemaand Nisan begin, en die ander een ’n siviele kalender wat tydens Rosh Hashanah op 1 Tisjri begin. Die name van die maande is soos volg, met benaderde ekwivalente op die Gregoriaanse sonkalender:
Name van die maande | Stem ooreen met | Aantal dae per maand | Maand in siviele kalender | Maand in godsdienstige kalender |
Tisjri | Sep–Okt | 30 | 1 | 7 |
Cheshvan | Okt–Nov | 29 of 30 | 2 | 8 |
Kislev | Nov–Des | 29 of 30 | 3 | 9 |
Tevet | Des–Jan | 29 | 4 | 10 |
Shevat | Jan–Feb | 30 | 5 | 11 |
Adar | Feb–Mrt | 29 of 30 | 6 | 12 |
Nisan | Mrt–Apr | 30 | 7 | 1 |
Iyar | Apr–Mei | 29 | 8 | 2 |
Sivan | Mei–Jun | 30 | 9 | 3 |
Tammuz | Jun–Jul | 29 | 10 | 4 |
Av | Jul–Aug | 30 | 11 | 5 |
Elul | Aug–Sep | 29 | 12 | 6 |
Dae in Israel verloop tussen sononder en sononder die volgende dag. Die nagte word verdeel in vier nagwake: van sononder tot 9 nm, van 9 nm tot middernag, van middernag tot 3 vm, en van 3 vm tot sonsopkoms. Die dae word ook in vier wake verdeel: sonsopkoms tot 9 vm, 9 vm tot middag, middag tot 3 nm, en 3 nm tot sononder.
Wanneer dae getel word, word ’n stelsel van inklusiewe berekening gebruik. Omdat ’n gedeelte van ’n dag as ’n volle dag beskou word, kan ’n week (byvoorbeeld van Woensdagmiddag af tot die volgende Woensdagmiddag) ook as agt dae beskryf word omdat altwee Woensdae as volle dae getel word. Die Loofhuttefees in Israel word vir ’n week lank, van die 15de tot die 22ste dag van hulle sewende maand gevier: “Spreek met die kinders van Israel en sê: Op die vyftiende dag van hierdie sewende maand is dit sewe dae lank die huttefees vir die Here. Op die eerste dag moet daar ’n heilige vierdag wees … Sewe dae lank moet julle aan die Here ’n vuuroffer bring. Op die agtste dag moet daar vir julle ’n heilige vierdag wees” (Lev 23:34–36). Die laaste dag van hierdie week, naamlik die agtste dag, was die groot dag van die fees (vergelyk Joh 7:2, 37).
In Levítikus 23 staan daar die volgende oor die fees van die 50ste dag: “Dan moet julle tel van die dag ná die sabbat, … sewe volle weke moet dit wees; tot die dag ná die sewende sabbat moet julle vyftig dae tel” (Lev 23:15–16). Hierdie 49 dae tussen ’n Sondag en ’n ander Sondag sewe weke later, word 50 dae genoem omdat die eerste en laaste Sondae beide as volle dae getel word. In die Nuwe Testament is hierdie twee feeste vervul tydens die opstanding van die Here Jesus op ’n Sondag en die uitstorting van die Heilige Gees sewe weke later, ook op ’n Sondag. “Pinkster” beteken “Vyftigste” – dit is die fees van die vyftigste dag.
PROFETIESE JARE
Afgesien van Israel se maankalender is daar ook ’n profetiese kalender in die Bybel waarin elke maand 30 dae lank is, met ander woorde ’n jaar van 360 dae. Uit Génesis 7:11, 24, en 8:4 is dit duidelik dat die sondvloed vyf maande van 30 dae elk geduur het, met ander woorde 150 dae. In Openbaring 11:2–3, 12:6 en 13:5 is ’n periode van 42 maande – die twee helftes van die verdrukking – presies 1 260 dae lank, wat beteken dat elke maand 30 dae lank is. Hierdie kalender is baie spesifiek, hoewel dit nie geskik is om maansiklusse of seisoensjare mee te bereken nie. Die rede vir die gebruik van ’n profetiese kalender was om te verseker dat ongeag die gebruik van enige ander kalender (byvoorbeeld Israel se maankalender of die Romeine se sonkalender) dit moontlik sou wees om by ’n spesifieke datum uit te kom – byvoorbeeld vir die kruisiging van die Messias.
Daniël 9:24–27 bied ’n duidelike profesie aan oor die tyd van die Messias se kruisiging, wat die vervulling van die Paasfees was. Daniël het tydens die Babiloniese ballingskap van Israel oor die herstel van Jerusalem geprofeteer, en aangedui dat daar van die vergunning af om Jerusalem te herbou, ’n aftelling van 69 jaarweke sou volg tot by die kruisiging van die Messias: “… van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ’n Gesalfde, ’n Vors, is sewe sewetalle; en twee-en-sestig sewetalle …” (Dan 9:25). Die herbouing van Jerusalem het 7 jaarweke lank geduur; daarna het nog 62 jaarweke gevolg totdat die Gesalfde (Christus) deur Israel en die Romeinse heersers “uitgeroei” is (Dan 9:26).
Daar het 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 vC aan Nehemía toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh 2:1–8), tot en met die kruisiging van die Messias op die 14de dag van Nisan 32 nC Prof JM Schepers van die Randse Afrikaanse Universiteit (tans die Universiteit van Johannesburg) het in ’n artikel10 daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, ’n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op die Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 vC en Vrydag 11 April 32 nC verloop, en is beëindig op die Vrydag waarop die Here Jesus gekruisig is.
Dieselfde profetiese kalender sal ook gebruik word vir die aftelling van die komende 70ste jaarweek van Daniël (die verdrukking). Hierdie sewe jaar-tydperk sal die vervulling wees van die sewe verskriklike dae tussen die Fees van die Basuine en die Groot Versoendag. Dit sal dus moontlik wees om die verloop van hierdie donker jaarweek presies te kan volg, vanaf die begin daarvan wanneer Israel ’n verbond met die valse messias sal sluit (Dan 9:27). In die middel van die week, na 42 maande of 1 260 dae, sal hy die tempel ontheilig deur ’n beeld van homself in die Allerheiligste te laat oprig en homself tot God te verklaar. Na nog 42 maande sal die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit en ’n einde maak aan die skrikbewind van die valse messias.
Die Here het dus vir Israel twee spesifieke datums gegee: een oor die eerste koms van Christus en ’n ander een oor die tyd van sy wederkoms. Die eerste een is byna twee millennia gelede al vervul. Die tweede een sal ook op sy bepaalde tyd vervul word, maar die aftelling van sewe jaar sal eers kan begin nadat die valse messias geopenbaar is en ’n verbond met Israel en die nasies gesluit het. Die Bybel openbaar nie aan ons wanneer die tyd van benoudheid vir Jakob sal begin nie, maar die gevorderde stadium van Israel se herstel is ’n aanduiding dat dit nie baie ver in die toekoms kan wees nie.
’n Ander datum waaroor baie mense probeer spekuleer, is dié van die wegraping wanneer die hemelse Bruidegom sy bruid in die geheim sal kom haal en na haar woning in die hemel wegneem. Hierdie gebeurtenis vorm nie deel van die 70ste jaarweek van Daniël nie en kan dus nie aan ’n datum gekoppel word nie. Hoewel die tekens van die tye aandui dat die wegraping baie naby mag wees, is die spesifieke datum daarvan nogtans nie in die Bybel aan ons geopenbaar nie. Die Here wil hê dat ons so met sy Seun sal wandel dat ons elke dag vir sy wederkoms gereed sal wees.
Wanneer ons op ’n reis deur die sewe feeste vertrek, sal ons altyd die regte historiese verwysingspunt by die eerste koms van Christus hê waar ons nuwe lewe begin het, asook ’n Bybelse toekomsverwagting wat gebaseer is op profetiese beloftes oor sy wederkoms wanneer ons verheerlik sal word en mede-erfgename van ’n hemelse koninkryk sal wees.
10. Schepers, Die kruisigingsdatum van Jesus eeue tevore geprofeteer, p 7-10