Читать книгу Die dag ná die rowers opgedaag het - Johan Pienaar - Страница 6

VANDAG 2

Оглавление

Op soek na jou siel

Daar is ’n storie dat Henry Stanley, die bekende ontdekkingsreisiger, in sy haas om David Livingstone te ontmoet die draers gedwing het om ure en dae aanmekaar te stap. Toe hy een oggend by sy tent uitkom, sit hulle sonder hul drasakke en wag. Ongeduldig beveel hy hulle om dadelik aan die gang te kom, waarop die leier vir hom sê: “Meneer, ons het die afgelope paar weke so vinnig beweeg dat ons siel agtergeraak het. Ons gaan hier wag totdat ons siel ons ingehaal het!”

Die storie vertel nie of hy toe wel vir hulle tyd ingeruim het nie, maar die koerante is tans vol ander bekendes wat uit die bloute alles bedank om na hul siel te gaan soek. Een gaan vir ’n jaar saam met sy vrou reis en ’n volgende wil met sy eie hande ’n huis op hul familieplaas gaan bou.

’n Derde vertel hoe sy vir die hoeveelste keer deur die klein blokkies van haar kantoorvenster na die wêreld, haar lewensmaat en kinders gekyk en skielik besef het hoe skeel sy geraak het vir soveel wonderlike goed wat nóú rondom haar gebeur. Sy vervolg: “As ek as finansier met geld mors, is ek net dít kwyt, maar as ek aanhou tyd mors, verloor ek die lewe. Ek is moeg getob en moeg gejaag.”

Hul ouderdom, geslag en banksaldo verskil, maar die refrein is dieselfde: Ek wil nie langer so leef nie.

Vir baie begin die onvergenoegdheid met ’n ernstige siekte, die begrafnis van ’n naby-iemand of ’n diep teleurstelling. ’n Spesifieke leeftydfase soos die middeljare-oorgang kan jou ook daar bring. Ek is self ’n paar jaar gelede op die hoogtepunt van my loopbaan met dié vrae gekonfronteer. In my geval moes ek ’n baie radikale besluit neem. As ek eerlik moet wees, het ek nog nie klaar gedink nie! Die skryf van dié boek is dalk deel van die antwoord waaraan ek steeds werk.

Die gemene deler by almal is egter die besef: Om te leef is meer, baie meer.

Terug na jou onrustigheid. Waar het dit begin? Wat het gebeur? Hoe intens is dit? Word die stemme dringender of nie? Wat sê en vra hulle van jou? Het die stemme ’n gesig? Soos reeds in die Aanloop uitgelig is, moet jy die regte vrae hoor. Dit gaan jou sommer ook help om te verstaan dat dit nie ’n verbygaande “soek-die-vyf-verskille-en-wen-’n-bootreis-na-Mauritius” is nie, maar ’n kruispad met groot en wonderlike gevolge vir die res van jou lewe.

Terwyl die reis op verskillende plekke kan begin, is daar ’n paar besluite wat jy sonder uitsondering by die begin van jou reis moet neem.

Jy wil nóú meer hê!

Jy kan al die vrae probeer systap. ’n Vriend kla dat sy vrou gaan shop wanneer sy onseker raak oor iets. Sy lag en vra hom hoeveel eksotiese 4x4-ekspedisies hy die afgelope paar jaar gereël het. Jy kan die onsekerheid wegkoop, weglag, wegreis, wegoefen of wegredeneer.

Jy kan glo dat dit ou mense se stokperdjie is om ernstig te wees en alles vir ’n volgende fase in jou lewe bêre. Baie mense stel uit en leef asof hulle nooit gaan sterf nie, maar sterf dan sonder dat hulle ooit werklik geleef het. Hul “ek gaan nog” word ongelukkig later “ek wou nog”. Die geskiedenis skryf op hul grafsteen: Hier lê iemand met die beste voornemens.

Dit mag nie! Onthou jy daardie advertensie met “I want it all and I want it now?” Kom ons sê vir mekaar: Nóú!

Net daar waar jy nóú is

Vir baie is sin en betekenis altyd elders. In die ergste vorm sal hulle soos sommige bekendes hul hare afsny, ’n lang rok en sandale inpak en die lang reis na die Ooste aanpak. Ander is lewenslange emigrante. ’n Ander adres, land, beroep of huweliksmaat gaan die geluk bring – hulle is altyd op pad.

Totius het iets hiervan beskryf in sy gedig “Repos ailleurs (Die rus is elders)”:

In die eensame veld

staan ’n tentjie klein,

en daarnaas in die skeemring

skuif die ligtende trein;

ek sien in die tentjie,

deur die oop gordyn,

’n tafel met bordjies

en glasies fyn,

wat sag in die lig

van die kersie skyn,

en ek dag: “Was ek net

in die tentjie klein,

ek sou tog o so gelukkig syn.”

Naas die eensame tent

staan ’n meisie klein,

in stomme bewond’ring

van die ligtende trein;

sy sien my geniet

my glansende wyn

en kost’like maal

by elektriese skyn;

en ek raai die gedagte

van die meisie klein:

“Ag, was ek maar net

in die vrolike trein,

ek sou tog o so gelukkig syn.”

Dit kan wees dat jy sal moet skuif. Natuurlik!

Besluit egter om nie te skuif voordat jy nie eers daar gesoek het waar jy nóú is nie!

Haal soms die stophorlosie af

’n Paar jaar gelede is ’n peperduur elektroniese kabel teen miljarde dollar tussen Chicago en New York aangelê. Dit vervoer inligting teen drie duisendstes van ’n sekonde vinniger as bestaande netwerke. ’n Klomp maatskappye het dadelik op hierdie nuwe diens ingeteken.

Spoed kan jou op baie plekke help, net nie in dié gesprek nie. Hoe vinniger jy beweeg, hoe groter is die kans dat jy jou droom gaan misloop. Daar is ongelukkig nie ’n snelbaan vir dié soeke nie. Jy sal soms in die stadige baan moet ry, selfs van die pad moet aftrek en heeltemal tot stilstand kom.

Dit is en bly een van die wette van God se koninkryk dat jou siel jou eers inhaal wanneer jy stadiger beweeg! Vader Anthony de Mello verduidelik: Wanneer jy soms op jou eie gaan stilsit, spring jy drie oorloë vry: dié van hoor, praat en sien. Daar bly dan net een geveg oor – die geveg vir jou hart. Besluit om rustiger te word, al skreeu alles en almal: Versnel jou pas, werk nog harder, raak nog meer betrokke, moenie agterraak nie!

Natuurlik gaan daar tye wees wanneer jy nie van die vinnige na die stadige baan kan verwissel nie, maar dan kan jy ten minste oefen om die regte reëls vir spesifieke bane na te kom. Begin byvoorbeeld om ’n ander tempo rondom jul etenstye by die huis te skep as wanneer jy toebroodjies in die werk se kafeteria eet. Net so ’n doodeenvoudige besluit gaan reeds ’n reuseverskil maak.

Ja, en terwyl jy hiermee besig is, kan dit goed wees om te vra of jy nie soms die pedaal is wat ander rondom jou ál vinniger laat beweeg nie. Jou verwagtings van jou lewensmaat, kinders of werknemers kan dit dalk vir hulle onmoontlik maak om sin te soek.

Moenie wag totdat iets soos die lang sit in ’n wagkamer of tydsame drup van binneaarse voeding in ’n waakeenheid jou pas bepaal nie.

Dink vandag na oor die openingswoorde van ’n gedig, “Slow Dance”, deur ’n terminaal siek jong meisie in ’n New Yorkse hospitaal:

Have you ever watched kids on a merry-go-round,

or listened to rain slapping the ground?

Ever followed a butterfly’s erratic flight,

or gazed at the sun fading into the night?

You better slow down, don’t dance so fast,

time is short, the music won’t last.

Hier en nou

’n Skrifdeel: “Wees baie versigtig hoe julle lewe: nie soos onverstandige mense nie, maar soos verstandiges.” – Efesiërs 5:15

’n Gedagte: Ons verloor nie ons lewe wanneer ons sterf nie; ons verloor ons lewe minuut ná minuut, dag ná dag, in ’n duisend onnadenkende oomblikke. – Stephen Bennett

’n Stilhouplek: Maak vandag tyd om weg van die geraas te gaan sit en luister na wat die stemme binne jou nou vir jou vra. Skryf ’n paar woorde neer wat beskryf waar jy nóú in jou lewe is.

’n Besluit:

Die dag ná die rowers opgedaag het

Подняться наверх