Читать книгу Speurder Kwaaikofski 3: Die pienk skoolspook - Jürgen Banscherus - Страница 3
Hoofstuk 1
ОглавлениеDie meeste groot speurders het nie goed gedoen op skool nie. Ek is nie so beroemd soos Sherlock Holmes of Kalle Blomkvist nie, maar ek doen nes hulle ook vrot op skool. ’n Privaatspeurder soos ek verveel hom dood sonder spannende avonture, gevaarlike jaagtogte en duister geheime.
Maar wat doen ons op skool? Speltoetse, maal- en deelsomme, die lewensiklus van ’n padda, gesonde eetgewoontes en al sulke ongesonde dinge. G’n wonder ek slaap deur al die klasse en word eers pouse wakker nie!
Hoekom bespreek ons nie regte afpersbriewe in ons taalklas nie? Hoekom werk ons nie in wiskunde uit hoeveel kos een dag in die tronk, of hoe om ’n taakmag na ’n bankroof uit te stuur nie?
In sulke klasse sal ek definitief nie aan die slaap raak nie – en die meeste van my klasmaats ook nie.
My ma sê die wêreld is vir my een groot misdaadsaak. So sy dink dis goed dat skool nie ook oor diefstal, bedrog en rooftogte gaan nie. Die meeste mense wil in elk geval nie privaatspeurders word nie, maar eerder verpleegsters, busbestuurders of belastingkonsultante. En sulke mense moet allerhande normale goed leer.
Dis snaaks, grootmense dink altyd hulle weet wat is normaal. Maar sit net die TV aan en jy sal sien die wêreld is glad nie normaal nie.
Hoekom praat ek oor skool? Dis eenvoudig – my nuutste saak speel daar af.
Almal weet teen hierdie tyd ek is mal oor kougom. My gunsteling is en bly Carpenters.
Hierdie wonderlike kougom is net te koop by Olga, my beste vriendin, se kiosk. Van al die geld wat ek die laaste paar jaar daarop uitgegee het, sou ek nou al ’n bergfiets kon koop – een met sewe-en-dertig ratte en die heel beste remme en skokbrekers.
Toe ek laas by Olga was, het ek die kommissaris daar raakgeloop. Ons skool se opsigter se van is Komissarek. Maar almal, tot die hoof, noem hom die “kommissaris”.
Hy is die beste opsigter in die hele wêreld, of nee, die hele heelal.
Hy sê net altyd: “Ek was ook eens ’n kind” en glimlag.
Maak nie saak hoe erg ons droogmaak nie, hy bly koel en kalm – of so het ek tot ’n paar weke gelede gedink.
Daardie dag was die kommissaris anders as gewoonlik.
Al het ek agter sy reuserug gestaan en kon ek nie sy gesig sien nie, kon ek agterkom hy stres.
Olga het ook gesien iets is verkeerd. Sy gee vir hom twee dik sigare met linte om die maag en vra vriendelik: “Wat makeer? Probleme by die skool?”
Die kommissaris buig vorentoe en fluister so sag dat ek sukkel om te hoor: “Dit spook!”
“Waar?” vra Olga.
“By die skool.”
“Van wanneer af?” vra my vriendin verder uit.
“Al twee dae. Dis elke keer tussen tienuur saans en middernag,” antwoord die kommissaris met groot oë.
Olga druk ’n sigaret in haar mond, maar steek dit nie aan nie. Vandat sy ophou rook het, kou sy elke dag twintig sigarette só voos. My ma dink meer mense moet ophou rook.
“Hoe weet jy dit spook?” is Olga se volgende vraag. Jinne, ’n mens sal sweer sy is ook ’n privaatspeurder.
“Ek sien skaduwees. Vreemde, onaardse skaduwees.”
“En hoor jy iets?”
Die kommissaris skud sy kop.
“Hoekom gaan kyk jy nie wat dit is nie?” wil Olga weet.
“Ek het my lewe lief!” sê die opsigter geskok. “Sê nou dit spook regtig . . .”
Olga onderbreek hom. “Daar is nie iets soos spoke nie,” sê sy seker van haarself. “En definitief ook nie skoolspoke nie.”
Toe sien sy my. “Hallo, my engel!” roep sy uit. Ek het haar al honderd keer verbied om my voor ander mense so te noem. Wanneer gaan sy dit eendag afleer?
“Hoeveel pakkies wil jy vandag hê?” vra sy.
My sakgeld is amper op, so ek het net genoeg vir een.
Olga sit ’n pakkie Carpenters op die toonbank neer en my laaste geld verdwyn in haar kasregister. Dan draai sy weer na die kommissaris toe. “Kry vir Kwaaikofski. Hy is die beste.”
“Die beste wat?” vra ons skool se opsigter.
Olga wikkel haar sigaret van die een mondhoek na die ander. “Die beste privaatspeurder,” sê sy. “As iemand kan uitvind wie spook daar in die skool, dan is dit hy.”
Die kommissaris kyk fronsend af na my (hy is amper twee meter lank). Natuurlik weet hy ek werk as ’n privaatspeurder, almal hier rond weet dit. Maar hy dink seker soos die meeste ander grootmense al wat ek opspoor, is vermiste honde, gesteelde baadjies en gedepste kougom.
Die kommissaris skuif sy bril reg en vra: “Het jy al ooit met spoke te doen gekry?”
“Natuurlik.”
“En? Wat het gebeur?”
Ek dink dadelik aan die marmotjie en die blou mallemeule.
Toe ek daardie saak begin ondersoek het, was ek seker dit spook.
“Ek het uitgevind dit bestaan nie,” antwoord ek. “Daar is nie iets soos spoke nie.”
Die kommissaris dink diep. Dis nogal snaaks dat so ’n yslike groot man bang is vir ’n paar skaduwees.
“Goed dan,” sê hy. “Wat gaan dit my kos as jy die saak aanvat?”
“Vyf pakkies Carpenters kougom,” sê ek vasberade.
“En as jy nie uitvind wie of wat spook by die skool nie?”
“Ek sal uitvind,” belowe ek. “Ek skrik nie vir koue pampoen nie. Wat kan skeefloop?”
Die kommissaris steek sy hand na my uit. “Afgespreek,” sê hy. “Jy kry vyf pakkies as betaling. Wat nou?”
“Is Kommissaris vanaand by die huis?” vra ek.
Hy knik.
“Dan sal ek halftien daar wees.”