Читать книгу Speurder Kwaaikofski 4: Die aand van die blou kaalkoppe - Jürgen Banscherus - Страница 3
ОглавлениеHoofstuk 1
Ek is ’n paar dae gelede haarkapper toe.
“Jy was lanklaas hier, Kwaaikofski,” sê meneer Haasbroek terwyl hy gevaarlik naby aan my een oor knip.
Ek hou van my bakore. Ek hou dus my asem op tot ek seker is die haarkapper gaan hulle nie afknip nie en sê toe: “Ek was vier maande gelede hier.”
“Vier maande?” Meneer Haasbroek lyk verbaas. “Dan behoort jou hare baie langer te wees.”
“Eintlik, ja,” sê ek en vertel hom van my jongste saak. En toe knip hy my oor sowaar raak. Maar gelukkig net effens.
Hierdie saak het op ’n Maandagaand begin. My huiswerk was klaar en my ma het pizza vir ete bestel. Die Rolling Stones het oor die radio gespeel en Simson, die worshond van die woonstel bokant ons, het uiteindelik ophou blaf.
Dit het gelyk of dit ’n lekker rustige aand gaan wees.
Ek wou net aan die laaste stuk pizza begin weglê toe die foon lui.
My ma kyk na die kombuishorlosie. Dis halfsewe. “Antwoord jy,” sê sy. “Dis definitief vir jou.”
Ek tel die foon op en sê hallo.
’n Meisiestem vra: “Is jy Kwaaikofski, die privaatspeurder?”
“Dis ek, ja,” sê ek.
“Kom asseblief na Kloofstraat 17 toe. Dadelik!” sê die stem.
“Hoekom moet ek?” vra ek.
“Dis belangrik. Ek is in …” Die stem word skielik afgesny.
Ek hoor ’n dowwe skreeu en toe ’n slag.
Ek slaan in koue sweet uit. “Hallo!” gil ek in die foon. “Hallo? Wat’s fout? Sê iets!”
Maar nie ’n woord nie. Toe is daar ’n klikgeluid soos iemand die foon neersit.
Ek is ’n speurder, so ek is gewoond aan vreemde goed en skrik nie vir koue pampoen nie. Maar my bene voel skielik of hulle van poeding gemaak is.
Op daardie oomblik verskyn my ma in die sitkamer se deur. “Wie was dit?” vra sy.
As ek haar vertel wat nou net gebeur het, bel sy dadelik die polisie. Ek besluit dis onnodig. Ek sal self uitvind wat met die meisie gebeur het. “Dit was Hanno,” jok ek.
“Hanno wat in jou klas is?” vra Ma.
Ek knik. “Kan ek bietjie na sy huis toe gaan?” vra ek.
“Ja,” sê Ma. “Maar sorg dat jy halfnege terug is by die huis. Nie ’n minuut later nie.”
“Ek belowe!”
Ek steek ’n pakkie Carpenters kougom in my broeksak en vat die pad. Ek moet erken, ek voel nogal sleg dat ek vir my ma gejok het. Wat meer is, ek weet ek moes die polisie eintlik dadelik gebel en van die oproep vertel het. Miskien is die meisie ontvoer. Dan verloor hulle nou kosbare tyd. Ek belowe myself om die polisie te bel sodra ek bewyse van ’n misdaad kry.
Die huis in Kloofstraat 17 is groot en oud, en dit lyk nie of iemand meer daar bly nie. ’n Paar van die vensters is met planke toegespyker en die voordeur is toegemessel. Ek sien nêrens enige tekens dat hier tien minute gelede iets vreemds gebeur het nie. Ek kry ook niks leidrade in die foonhokkie voor die huis nie.
Ek klim op ’n groot vullishouer, stop ’n Carpenters in my mond en dink diep. Wat moet ek doen?
Moet ek die polisie bel? Sonder enige bewyse van ’n misdaad? Hulle sal vir my lag. Miskien skeer iemand die gek met my?
Ek besluit om weer rond te snuffel, en hierdie keer is ek deegliker. Langs die voordeur ontdek ek ’n venster wat nie met planke toegespyker is nie.
Ek druk daarteen en dit gaan krakend oop. Versigtig trek ek myself tot op die vensterbank.
Ek steek my kop by die venster in. Dis pikdonker binne en spinnerakke waai in my gesig. Ek was dom; ek het vergeet om my flits saam te bring. Maar dit gaan my nie nou keer nie. As jy bang is vir die donker moet jy nie ’n speurder word nie. Ek gly saggies af tot op die vloer.
Die volgende oomblik pluk sterk hande my arms agter my rug vas. ’n Stink sak word oor my kop getrek en ek weet dadelik dis nie ’n poets nie.
Dis nog ’n saak vir privaatspeurder Kwaaikofski!