Читать книгу Speurder Kwaaikofski 7: Speurder teen speurder - Jürgen Banscherus - Страница 3

Оглавление

HOOFSTUK 1

Ek is die somervakansie saam met my ma see toe. Dit was nogal lekker daar. Die see en lug was blink en blou. Die strand was vol sand. Ons hotelkamer ook.

Maar vir ’n privaatspeurder soos ek was daar min om te doen.

Eenkeer het ek darem ’n duur sonbril opgetel: iemand in ons hotel het dit verloor.

’n Ander keer het ek ’n mesmaniak vasgetrek: ’n simpel seun wat gedink het dis snaaks om lugmatrasse stukkend te steek. Vreemd! Maar dit was al.

Twee weke van son, sand en see. Dit het amper op my senuwees begin werk.


Dis hoekom ek verlig was toe ons uiteindelik terug huis toe vlieg. Ek het in die stilligheid gehoop ons vliegtuig word gekaap. ’n Bietjie avontuur aan die einde van ’n vervelige vakansie sou lekker gewees het.

Maar almal het net gesit en gesels en wyn gedrink tot ons geland het.

Nou is dit al ’n paar weke later, en hier het nog steeds niks opwindends gebeur nie.


Dit lyk my niemand het meer ’n privaat-speurder nodig nie. Daar’s stories in die koerante oor diefstalle, rooftogte en bedrieërs, maar ek kry nie ’n enkele saak om te ondersoek nie.


Ek is nou al so desperaat dat ek selfs na ’n vermiste hond sal soek! En dis die laaste ding wat ’n regte privaatspeurder wil doen.

Maar niemand vra my eens om na ’n vermiste muis te soek nie. Ek wag verniet dat die telefoon lui. Die enigste mense wat ons voordeurklokkie lui, is die posman en ’n simpel verkoopsman.

Ek kou deesdae soos ’n mal mens kougom. My gunstelingsoort, Carpenters, is van soggens tot saans by my. Dit help my deur die lang, vervelige dae kom.


Maar dit raak ook vinniger as gewoonlik op. So ek kies koers na Olga se kiosk om nog te gaan koop.

“Jou lanklaas gesien,” groet Olga my. “Hoe gaan dit?”


“So-so,” antwoord ek. “Vyf pakkies Carpenters, asseblief.”

Sy skuif die vyf pakkies oor die toonbank na my toe.

“Wat’s fout, Kwaaikofski?” vra sy.

“Niks is fout nie,” brom ek.

Olga staar na my. Sy glo my nie.

“Niemand het meer ’n privaatspeurder nodig nie,” verduidelik ek. “Dis wat fout is.”

Olga knyp my wang. “Dit gebeur maar,” sê sy. “My besigheid het ook beter dae geken.”

Ek gee vinnig ’n tree terug. Wanneer Olga my wang knyp, weet ek sy gaan my ’n drukkie probeer gee. En ek hou nie daarvan nie. Selfs al is Olga my beste vriendin.

“Ek het so ’n gevoel jy gaan teen môre ’n nuwe saak hê,” sê sy.

“Dit sal lekker wees,” sê ek en wil loop, maar Olga keer.

“Daar’s iets wat ek jou moet vertel,” fluister sy, al is daar nie ’n siel hier rond nie. “Jy het ’n tweelingbroer.”


“Ek? ’n Tweeling?” vra ek.

Olga vertel my van die nuwe klant wat sy gekry het terwyl ek op vakansie was. Hy’s effens ouer as ek, hy kou heeltyd Carpenters nes ek en hy dra ’n baadjie sonder moue nes ek. En hy’t ’n bofbalpet met ’n K voorop, ook nes ek!


“Hy’s seker ’n bewonderaar,” sê ek.

Olga grinnik.

“Miskien,” sê sy. “Maar ek het hom met ’n ander seun oor ’n saak hoor praat.”

Ek spits dadelik my ore. “Watter soort saak?” vra ek.

Olga trek haar skouers op. “Ek is nie seker nie, Kwaaikofski. Jy weet mos dis slegte maniere om ’n gesprek af te luister.”

“Ha, ha,” lag ek. Olga is net so nuuskierig soos ek. Sy vis altyd uit wat in ons buurt aangaan.

“Weet jy wat is hierdie ou met die bofbalpet se naam?” vra ek vir haar.

“Hy’t gesê ek moet hom Koning noem,” antwoord Olga en glimlag. “Koning! Dis nie ’n naam vir ’n seun nie!”

“Hoekom nie?” sê ek en maak spore.


Op pad huis toe slaan my gedagtes bollemakiesie.

Daar’s ’n vreemde ou hier iewers wat my na-aap en boonop van ’n saak gepraat het.

Sê nou daardie Koning is ’n privaatspeurder nes ek? Sê nou hy vat my werk van my af weg? Sê nou almal vra hom om hulp, pleks van my?

Dis dalk hoekom ek glad nie meer nuwe sake kry nie!

Die ou het inbeweeg terwyl ek met vakansie was, en my buurt oorgevat!

Ek was net vir twee weke weg en hy het klaar al my werk gesteel.

Wag maar, Koning. Jy ken nie vir Kwaaikofski nie. Niemand raak so vinnig van my ontslae nie.

By die huis gryp ek die foon en bel almal wat ek ken.

Niemand het nog van Koning gehoor nie. Maar toe praat ek met Robert, ’n ou wat in my klas is.

“Ja, daar’s hierdie ou wat ’n pet dra by my jeugsentrum,” sê hy. “Hy noem homself Koning, maar sy naam is eintlik Herman.”

As my naam Herman was, sou ek myself tien teen een ook Koning genoem het.

“Is hy elke middag by die jeugsentrum?” vra ek.

Robert dink vir ’n oomblik na. “Nee, nie elke middag nie. Net nou en dan,” antwoord hy.

Ek los my huiswerk tot later en maak spore. Miskien is ek gelukkig en loop vir Koning raak.

“Waarheen gaan jy?” roep my ma agter my aan.

Ek maak of ek haar nie hoor nie. Ek het nie tyd vir ’n preek oor ek my skoolwerk afskeep nie.

Speurder Kwaaikofski 7: Speurder teen speurder

Подняться наверх