Читать книгу Speurder Kwaaikofski 12: Muise en gespuise - Jürgen Banscherus - Страница 3
Hoofstuk 1
ОглавлениеGisteraand het ek tot baie laat wakker gelê. Vanoggend sukkel my ma so om my op te kry dat sy later amper die brandalarm moet laat afgaan.
“Het jy sleg geslaap?” vra sy met ontbyt.
Ek knik net, want ek is te moeg om te praat.
“Besig met ’n nuwe saak?” vra sy.
“Nee,” sê ek. “Ek kry vandag my rekenaar!”
My ma sug. Sy hou nie daarvan dat ek al my spaargeld op ’n rekenaar uitgee nie.
Sy dink natuurlik ek gaan dag en nag voor die skerm sit en alles en almal vol gate skiet.
Maar ek is glad nie eens van plan om rekenaarspeletjies te speel nie – in elk geval nie heeltyd nie. Ek het die rekenaar vir my speursake nodig.
Die dae toe ’n speurder net sy skerp brein en fyn neus gebruik het om sake op te los, is lankal verby.
Dit het baasspeurder Koning my met ons speurkompetisie geleer. Ek het dit ook by die ander superspeurders in ons stad gehoor. Ek is die laaste een wat sake nog soos in die Middeleeue oplos.
Net na middagete hou Salvatore se pizza-afleweringswaentjie voor ons woonstelgebou stil. Ek los dadelik my huiswerk en help vir Salvatore om die rekenaar en swaar monitor, die drukker en die toetsbord na my kamer toe te dra.
Dis ’n ou rekenaar wat Salvatore by sy pizzeria gebruik het. Hy het vir my afslag daarop gegee, want wie weet, dalk kry hy nog eendag ’n speurder nodig.
Nadat ons alles opgestel het, is daar nie eintlik meer plek op my lessenaar oop nie.
“Ciao, Kwaaikofski,” sê Salvatore en mik na die deur. “Lekker speel.”
“Wag,” sê ek en gryp sy arm. “Wys my eers hoe sit ’n mens die rekenaar aan.”
Salvatore klop my so hard op die skouer dat ek ’n hele paar sentimeter krimp. Hy is net ’n halwe kop langer as ek, maar hy weeg minstens tweehonderd kilo’s meer as ek.
“Ek kan pizzas bak,” grinnik hy. “Die beste pizzas in die stad. Maar ek weet min van rekenaars af. Bitter min.” Toe maak hy vinnig spore.
’n Halfuur later is die probleem gelukkig opgelos.
Ek het Felix, een van my klasmaats, gebel. Hy het vir my verduidelik hoe om die ding aan die gang te kry en op die internet te gaan. Hy’t ook gesê hy sal my help as ek vasbrand.
Nou toe nou. Hier sit ek uiteindelik met my eie rekenaar! Die monitor gloei en suis sag. Die muis in my hand voel soos ’n gladde edelsteen.
Ek is so tevrede dat ek kan huil. Maar ek hou my in.
’n Speurder tjank nie – al kan niemand hom sien nie.
Skaars ’n week later los ek my eerste saak met my rekenaar op.
Konrad, ’n ander ou in my klas, het ’n baie duur baadjie vir sy verjaardag present gekry. Dis ’n blou bofbalbaadjie uit Amerika met ’n groot nommer 33 op. Ons was almal jaloers op hom.
Maar toe keer twee groot ouens wat Konrad nie ken nie hom in die straat voor en vat die baadjie af.
Daardie selfde dag nog bel hy my en vra ek moet hom help. Sy ouers wil polisie toe gaan, maar hy wil hê ek moet die saak ondersoek.
“Kwaaikofski is beter as die polisie!” het hy vir sy ma-hulle gesê. En hy was natuurlik reg!
Soos gewoonlik begin ek my ondersoek deur eers al die feite agtermekaar te kry. Konrad sê vir my die een dief het sy pel “Dikkes” genoem.
By die huis gaan sit ek dadelik voor my rekenaar. Ek soek nie lank nie, toe kry ek Dikkes se webwerf. Daar is ook ’n foto van hom.
Ek bel vir Konrad. Hy kom kyk en herken die baadjiedief dadelik.
Die res is so maklik soos tande borsel. Ek stuur vir die dief ’n e-pos en dreig hom met die polisie.
Dit werk soos ’n bom. ’n Dag later hang die baadjie weer aan die klerehake buite ons klaskamer. Maar in die een sak kry Konrad ’n boodskap.
Ek besluit om my nie aan die dreigement te steur nie. ’n Speurder wat sy sous werd is, laat hom nie bangpraat nie.
Konrad is in sy noppies. Hy betaal my die gewone vyf pakkies Carpenters kougom.
Ek is tevrede met my nuwe rekenaar. As dit so aangaan, is ek een van die dae net so goed soos baasspeurder Koning.