Читать книгу Om te mag twyfel - Julian Müller - Страница 6

Оглавление

2


Bevry van ‘geloofsekerheid’

Wanneer ek oor die jare van my godsdienstige vorming dink, is die woord wat ek die duidelikste hoor opklink seker “geloofsekerheid”. Daar is aan jou vertel jy móés gewoon geloofsekerheid hê om ’n goeie Christen te wees. Die manier waarop ’n mens dit moes bekom, was om ’n eenvoudige resep te volg: Bely jou sondes en neem Jesus in jou hart aan as jou enigste Verlosser.

Ek het dit alles presies so gedoen, maar nooit enige spesifieke wonderlike gevoel as gevolg daarvan ervaar nie. Die resep het skynbaar nie so goed gewerk vir my nie, of ek moet iewers iets verkeerds gedoen het. Die fout het waarskynlik al by my gebrekkige sondebesef ingesluip. Daardie vreeslike gewroeg oor sondaarskap en om verwerplik voor die oë van God te voel, was vir my altyd effens kunsmatig. Dit was eerlikwaar nie hoe ek binne-in gevoel het nie en ironies genoeg is my grootste skuldgevoel juis daardeur veroorsaak dat ek nié skuldig gevoel het nie. Die idee dat jy na die verlossing moet gryp omdat jy so skuldig voor die aangesig van God voel, het uit die staanspoor nie vir my sin gemaak nie.

Die teleurstelling en wantroue in die konsep van geloofsekerheid is waarskynlik een van die groot redes waarom ek myself later daarvan moes distansieer. Die ander rede het met die dood van ons bure se seuntjie te doen. Ek kom later op albei hierdie redes terug, maar vir eers meer oor my vormingsjare.

Ons was maar ’n gewone godsdienstige boeregesin – toegewyd, maar in baie opsigte gematig in ons godsdienstige betrokkenheid. Ons het elke tweede Sondagoggend kerk toe gegaan en al om die ander Sondagaand het my pa huisgodsdiens gehou. Die Sondagoggend as ons nie kerk toe gegaan het nie, het ons kerk geluister voor die groot bruin radio wat met jumper-kabels deur die eetkamervenster aan die bakkie se battery gekoppel was. Daardie uur met die dralende stem oor die radio was nog langer as die uur in die kerk.

Al wat in die kerk erger was, was dat ons seuns, soos die ooms, moes staan as die dominee bid. Ek sal nooit die dankbaarheid vergeet wat ek teenoor my ma gevoel het nie. Ná ’n lang gestaan het sy my soms met ’n plukkie aan my hemp die teken gegee dat ek maar kan sit terwyl die dominee vir ewig aanhou bid.

Veral my ma het die radio-kerk nogal ernstig opgeneem. Die gesangeboeke en die Bybel is nader gebring en ons moes saamsing en uit die Bybel volg. Dit was toe nog natuurlik net die drie susterskerke (die NG, Hervormde en Gereformeerde Kerke) wat die voorreg gehad het om eredienste oor die radio uit te saai. Ek kan tot vandag toe op grond van stembuiging en intonasie sê van watter een van die denominasies die uitsending kom.

Die huisgodsdiens was ook nie eintlik lekker nie, maar dit was baie beter as om oor die radio kerk te luister. Ek moet my pa darem daarvoor krediet gee dat hy nooit soos van die buur-ooms ná die huisgodsdiens vir ons kinders vrae gevra het nie. Ek onthou nog hoe gespanne ek was as ek op die buurplaas gekuier het en dan vir oom Christie die regte antwoord moes gee of ten minste moes sê wat onthou ek van die gedeelte wat gelees is. As een van die kinders wat voor jou ’n beurt gekry het, dan dieselfde ding onthou wat jy nog die hele tyd sit en memoriseer, moes jy vinnig ’n plan B ook hê.

Al was hierdie godsdienstige bedrywighede vir my as jong seun nie juis lekker nie, was dit ook nie iets slegs nie. Dit was gerusstellend en nie bedreigend nie. Die kerklike omgewing was ’n bekende wêreld met baie om vir die minder aangename te vergoed. Ons was byvoorbeeld huisvriende met die dominee en sy gesin. Ek het aangename herinneringe aan ds. Grové en juffrou Grové – ons het haar “juffrou” genoem, want sy was die graadeen-juffrou by die plaasskooltjie, Hallgate, waar ek skoolgegaan het.

Toe ek in standerd 4 (graad 6) was, het ek op ’n dag by Basie, die dominee se seun, gekuier. Een van sy slim planne was dat ons ’n rol draad by die ysterwarewinkel gaan koop en ’n foefieslaaid maak. Om die harde draad styf genoeg gespan te kry, was egter ’n bietjie bokant ons vuurmaakplek. Toe maak ons maar ’n plan en maak ’n dwarslat naby die einde vas, sodat een van ons onder staan en die draad styftrek terwyl die ander een afkom. Ná ’n paar keer se lekker ry was Basie moeg vir die styftrekkery en moes ek die tog van bo uit die boom sommer met ’n slap draad aanpak. Die volgende oomblik het ek onder die boom gelê met ’n been wat net bokant die enkel gebreek het. Ek moes geopereer word en was lank op krukke. Juffrou Grové het vreeslik skuldig gevoel en gevolglik het ek baie aandag en wonderlike presente uit die pastorie gekry.

Die pastorie was vir ons ’n bekende plek. Ek onthou Dominee het daarvan gehou om op sy sitkamermat met sy vet, bruin worshond te speel. Hy kon lekker lag en was vriendelik met my. Ek vermoed hy kon ook maar ’n moeilike man wees, maar ek het min daarvan beleef.

Ds. Grové kon ernstig preek, maar is nie juis as ’n uitstaande prediker beskou nie. My ouers het die amptelike geloof gehad dat “die gesalfde van die Here nie gekritiseer mag word nie”. Tog het hulle in die praktyk ook maar vrymoedig hul mening oor die preke gelug. Omtrent die enigste preek wat ek van hom onthou, is toe hy die keer teen rook gepreek het en sy vingers so vir die gemeente opgehou het terwyl hy vertel het hy het ook vantevore gerook en dat sy vingers daarvan bruin was. Dit het ’n diep indruk op my gemaak. Daardie denkbeeldige bruin vingers is miskien die grootste rede waarom ek nooit ’n roker wou wees of geword het nie, al het ek dit ook beproef.

Die Evangeliese godsdiens het ons eers getref toe ds. Louw op die toneel verskyn het. Hy het aanvanklik net deeltyds gehelp terwyl hy in Springs, die buurdorp, gewoon het. Later is hy as medeleraar beroep. Ek was so in st. 7 (gr. 9) toe dié nuwe dominee aangekom het. Hy het ’n mooi dogter gehad en ’n pragtige liggroen 1958-Ford met dubbele kopligte gery. Hy was ’n mooi man en het skynbaar ook bekend gestaan as “mooi Koos”.

Hy het ’n groot indruk as prediker gemaak. Ek was ook ’n ruk in sy katkisasieklas. Ek onthou daardie groot, slap Bybel wat hy so goed geken het. Hy was byna soos ’n towenaar daarmee en kon dit laat oopval op die plek waar hy gesê het hy gaan lees. Onder aanvoering van my ma het ons nou soms ook Sondagaande begin kerk toe gaan. Ds. Louw het bekeringspreke gehou en veral tydens Pinkster ook mense na vore geroep om hul harte vir die Here te kom gee.

Ek onthou een preek baie goed. Hy het vir die hoofdiaken gevra om vir hom een van die swaardlelieblommetjies uit die rangskikking voor die kansel te pluk. Hy het die mooi wit blommetjie in sy ongeskondenheid aan ons gewys voordat hy dit op die grond laat val het. Die volgende oomblik het hy daarop getrap en dramaties verklaar: “Ek staan nou op hom!” Ek dink hy het nog ’n paar draaie met sy voet op die arme blommetjie gemaak. Daarna het hy die verfrommelde blommetjie opgetel en vir ons verduidelik ons lyk almal as gevolg van ons sonde so. Wat ’n verskriklik gedagte! G’n wonder dat toe hy daardie aand ’n “altar call” gemaak het, ons hele gesin, saam met baie ander mense, die konsistorie gaan volpak het nie. Daar het hy traktaatjies uitgedeel en ons gevra om agter hom aan te bid en ons harte vir die Here te gee.

Dit was ook die tyd van die groot evangelisasiepredikers. Hulle het Nigel nooit besoek nie, maar die groter Springs wel, waarheen ons gery het, ook met van die buurkinders agterin ons bakkie. Ons het eenkeer na Billy Graham gaan luister in die volgepakte Pam Brink-stadion waar hy ’n reeks dienste gehou het. Op ’n ander keer was ons ’n week lank elke aand deel van die Pinksterskare wat die stadsaal van Springs volgepak het om na prof. Kolie Kotzé te luister. Dit was op ’n manier erg opwindend, amper soos om vir die Blou Bulle op Loftus te gaan kyk. Daar was vernuftige predikers wat die emosies kon opwek en wat ’n mens die gevoel kon gee dat jy deel van iets groots is. Tog was dit ook vreesaanjaend, want die soort godsdiens wat verkondig is, het my altyd tegelykertyd bedreig en boonop ontglip.

In daardie tyd was daar wel geleenthede toe ek gedink het ek het nou uiteindelik geloofsekerheid, maar van die beloofde gevoel van godsaligheid het ek steeds nie veel ervaar nie. My gevoelens van vrees en teleurstelling het ek maar vir myself gehou, want ek het gedink dit is dalk net ek wat dit nie alles mooi regkry nie. Later het ek besef my teleurstelling en selfs ontnugtering met die evangeliese godsdiens is eintlik nogal algemeen.

Een keer het ds. Louw saam met my pa huisbesoek gedoen in die plaaswyk waar my pa die ouderling was. Nadat hulle almal besoek het en ek genoeg tyd gekry het om die dominee se Ford, wat in ons garage geparkeer gestaan het, te bewonder, het ons gesin ook aan die beurt gekom. Ons was almal daar, my pa, ma, en Elize, my sussie wat vier jaar jonger as ek is. Lina, ons ouer suster, was toe op Normaalkollege in Pretoria. Ons vier en die dominee het die middag almal om die ronde eetkamertafel gesit. Hy het ons elkeen op die ry af gekonfronteer met die vraag of ons geloofsekerheid het. Ons het natuurlik almal “ja” geantwoord, behalwe my ma.

Haar antwoord moes ’n diep indruk op my gemaak het. Sy het die woorde van Job aangehaal: “Dominee, al wat ek kan sê, is dat ek weet my Verlosser leef.” Ek het nooit met haar daaroor gepraat nie, maar in later jare gedink dit was ’n vernuftige antwoord. Daarmee het sy nie die ja- of nee-antwoord gegee wat die dominee wou hoor nie, maar tog ’n antwoord gegee waarop hy niks kon sê nie.

Miskien het my ouers na alles meer van die teologie verstaan as wat ek aanvanklik besef het. Dalk was dit juis hul nugtere vroomheid wat my ook uiteindelik gehelp het om aan die kloue van die evangeliese sekerheid te ontsnap.

Dit was my eerste ontnugtering met die evangeliese sekerheid. Die konsep geloofsekerheid het my in die steek gelaat. Ek kon dit nie voel nie. Die koel, sogenaamde evangelies-

gereformeerde geloofsekerheid wat jy nie moet voel nie, maar net moet weet en aanvaar, het dit ook nie vir my gedoen nie. Dit het net nooit die gewenste gevoel van godsaligheid by my bewerkstellig nie.

My ontnugtering met die evangeliese sekuriteit is veroorsaak deur die dood van Albertus Engelbrecht, ons bure se seuntjie. Toe was ek al in my eerste jaar op Tukkies. Vandat Albertus klein was, het ons geweet hy ly aan ’n soort bloedkanker wat oorerflik en dodelik is. ’n Ouer boetie van hom, wat ons nooit geken het nie, is aan dieselfde siekte dood. Albertus het nogal ouer as sy aanvanklike lewensverwagting geword. Hy was ’n pragtige witkopseuntjie. Die siekte het net al hoe erger geword en toe hy 12 was, was hy sterwend. Dit het tydens ’n vakansie gebeur en ek was by die huis.

In daardie stadium was ek onder die invloed van die evangeliese vroomheidsgodsdiens. In Taaibos, die koshuis waar ek gebly het, het ’n paar van die senior studente my by ’n biduurgroepie betrek. Dit was vroom en dweperig, maar die ouens het vir my opreg voorgekom en ek was dankbaar om iewers te behoort. Ek het ook die boekie van Andrew Murray oor die krag van gebed gelees en was erg onder die indruk daarvan.

In die lig van dit alles het ek my tydens daardie vakansie persoonlik geroepe gevoel om Albertus gesond te bid. Terwyl my ouers die familie op allerhande maniere ondersteun het en dag en nag by die siek kind gewaak het, het ek omtrent aanhoudend by die huis gebid. Dit was die grootste gebedsonderneming wat ek ooit aangepak het. Die voorstanders van geestelike oorlogvoering sou trots op my gewees het. Ek het ’n moedige poging aangewend om Albertus voor die dood se gapende kake weg te bid, maar sonder enige resultate . . . Albertus het gesterf en is in die plaaskerkhof begrawe.

’n Mens se eerste reaksie op so ’n gebeurtenis is ’n soort afgestomptheid. Niks maak sin nie. Ek was platgeslaan voor die werklikheid van lyding en dood en ’n skynbaar onbetrokke God. Die skok van die ervaring het eintlik eers later jare tot my deurgedring. Aan die een kant is die godsdienstige skema wat jou tot geestelike oorlogvoering en volhardende gebed uitdaag, met die belofte dat God gebede verhoor. Aan die ander kant is die harde werklikheid van ’n ongeneeslike siekte wat ’n pragtige kind laat sterf, terwyl ’n hardhorende God net toekyk.

Die evangeliese sekerheid bied geen bevredigende antwoord op lyding nie. Dit skep aan die een kant ongekende verwagting wat in die krag van gebed en toewyding gesetel is. As God dan nie na die gebede van sy kinders wil luister nie, word die skuld op die gelowige se gebrek aan toewyding gepak. Dan sal byvoorbeeld gesê word daar was nie genoeg volhardende, gelowige gebed nie.

Dit het my lank geneem om my van hierdie oortuigings te distansieer en dit as ’n valse vorm van godsdiensbeoefening te verwerp, maar uiteindelik moes ek dit doen, al was dit teen die stroom in. Soos die res van my geslag Afrikaners was dit deel van ons identiteit dat ons ook gelowige mense is.

Daardie geloof is iets kosbaars, ’n kleinood wat jy moet bewaar en in stand hou. Jy is dit aan jouself, aan jou familie, aan jou groep en aan jou God verskuldig. As jy op hierdie gebied laat slap lê, gaan jy dit verloor en in oneer verval. So, bewaar jou siel, maar glo moet jy bly glo!

Geloofsekerheid is so ’n vae konsep dat dit blootgestel is aan misverstand en misbruik. Dit dra die illusie van sekerheid wat van God ontvang is, maar dit is uiteindelik maar net ’n eie konstruk. Dit word nie gegee nie, dit word verwerf en sommige is beter daarmee as ander. Dit is juis gevaarlik omdat dit voorgehou word as iets “gereformeerds”, ’n vertroue op God alleen. In die praktyk kry dit egter die betekenis van erekleure wat verwerf moet word, ’n soort kwalifikasie wat by gewone geloof bygevoeg word.

As ek aan die suigkrag van hierdie soort godsdiensbeoefening dink, kan ek nie anders as om na te dink oor wat dit vir my moontlik gemaak het om dit te verwerp nie.

Benewens die mislukking van my poging om Albertus gesond te bid, het die aardse vroomheid van my ouerhuis ook ’n rol gespeel. ’n Mens se teologie is mos uiteindelik meer verklaarbaar vanuit jou ouerhuis as vanuit die fakulteit waar jy teologie bestudeer het. In my tweede jaar het ek ’n artikel in ’n teologiese tydskrif oor moontlike wetenskaplike verklarings vir die Israeliete se tog deur die Rooisee met my pa bespreek. Dit het my gefassineer. My pa het ’n bietjie skeef opgekyk, maar die punt is ek dat ek die vrymoedigheid gehad het om dit met hom te deel.

Daar was ook ander faktore soos die rol van my vrou en skoonfamilie wat toegewyde maar no-nonsense Christene is en deur wie ek oor die jare sekerlik ook beïnvloed is. Dan was daar die predikant by wie ek my prakties aan die einde van my sesde jaar gedoen het en wat later my eerste medeleraar geword het, Chris Botha. Hy was ’n mentor en ’n rolmodel wat ’n geweldige invloed op my vorming as teoloog uitgeoefen het. Hy was ’n toegewyde, gereformeerd gelowige mens – iemand met wysheid en baie goeie teologiese insig. Een dag het ek hom gevra of ’n piëtis (daardie tyd het ons dié woord sommer so in die algemeen vir ’n oorvroom, evangeliese fundamentalis gebruik) ooit “regkom”. Sy antwoord sal ek nooit vergeet nie: “Ja, hy kom reg, maar as hy ooit weer die noot hoor, dan vat hy hom.”

My reeds bestaande weersin in oorvroom praatjies is deur Chris versterk. Tot vandag vind ek ’n uitgesproke ongelowige steeds ’n beter en meer geloofwaardige gespreksgenoot as ’n dweper. My teologiese ontwikkeling het my steeds verder van hierdie vroomheidstipe geneem en vandag vind ek weinig aanklank daarby. Dié vroomheidstipe maak na my mening te veel van geloof, asof dit aan ’n sekere kwaliteit moet voldoen. Die fokus val dan op geloof as sodanig en nie op God nie. Gevolglik word geloofsekerheid ’n suiwer menslike prestasie.

Ek het as kind geleer jy moenie met negatiewe gedagtes vir die duiwel ’n vatplek gee nie. Daarom moet jy jou mooi en edele waardes as’t ware in watte toedraai en mooi en heel bewaar, want met die geringste bevraagtekening raak dit bevlek en voor jy jou kom kry, is jy dit kwyt. Party dinge in die lewe, waaronder jou geloof, moet jy dus vashou en nie toelaat dat dit met negatiewe gedagtes daaroor verswak word nie. Twyfelvrae moet jy nie in jou gemoed toelaat nie. Dit moet uit die staanspoor as versoekings gehanteer word wat summier onderdruk moet word. Jy moet ook nie met die ongelowige meng nie, want dit sou ook die potensiaal hê om jou van jou geloof te beroof.

’n Verdere implikasie van dié gedagtegang is dat jou verlossing altyd aan ’n draadjie hang. Jou verlossing is afhanklik van jou geloof, maar jou geloof is kwesbaar. Gevolglik moet dit veilig bewaar word en die manier waarop jy dit kan doen, is om jou geloof gedurig in te oefen en nooit te bevraagteken nie. Só behou jy geloofsekerheid.

Dit het my ’n leeftyd geneem om van hierdie angswekkende gedagtes vry te raak. Dit is soos ’n nuwe ontdekking: dat ek nie hoef te glo om iemand te wees nie; dat geloof nie ’n geheimsinnige, ontwykende gawe is wat my gevange hou nie; dat geloof niks anders en niks meer is nie as ’n lewenswaarde wat deur my opvoeding en konteks aan my gegee is. Dit is nie heiligskennis om aan my geloof te twyfel nie. Ek mag maar daarop reflekteer en dit bevraagteken en kan dit soms ook opnuut omhels.

As ek myself van evangeliese geloofsekerheid distansieer, wat ek doen, staan ek in ’n nuwe, bevryde verhouding tot my geloof. Nou kan ek my eie geloof sonder skuldgevoelens bevraagteken. ’n Bevraagtekening van my geloof is nie meer ’n bevraagtekening van God nie. ’n Kritiese refleksie op my geloof is ook nie meer ’n gevaarlike spel wat my dalk my geloof en selfs my God kan kos nie. Geloof is nie iets wat ’n mens sommer kan verloor as jy daaraan peuter nie.

In aansluiting by die Duitse sosiale filosoof Arnold Gehlen bespreek Peter Berger en Anton Zijderveld in die boek In Praise of Doubt[3] die onderskeid tussen die voorgrond en die agtergrond waarteen die mense hul keuses maak. Die sogenaamde agtergrond verwys na daardie keuses wat eintlik outomaties en onnadenkend gemaak word, terwyl voorgrondbesluite met willekeurige keusemoontlikhede te doen het.

Die moderne era het die voorgrond sterker na vore laat tree, wat maak dat ons al meer keuses doelbewus moet maak, maar dat ons ook al meer angs as gevolg daarvan beleef. Ek weet ek moet klere aanhê as ek die oggend uit die huis gaan, maar o, die baie moontlikhede! Sal ek ’n das aansit of nie? Moet ek my bruin of swart skoene dra? Watter baadjie pas die beste? Dit wat vanselfsprekend is, naamlik dat ek klere moet dra, is nog steeds daar, maar die hoeveelheid keuses op die voorgrond het vertiendubbel. Dit geld vir elke terrein van ons lewe.

Politieke en godsdienstige keuses het in ons tyd ook veel meer deel van die voorgrondbesluite geword en minder van die agtergrond. Om die oorgang van ’n apartheidsamelewing na ’n postapartheidera te kon meemaak, het onder andere ingehou dat ons die agtergrondkeuses moes leer ontgroei. Die besluite wat vir ons en namens ons geneem is en wat ons sommer as vanselfsprekend aanvaar het, het eenvoudig voor die groot keusemoontlikhede van ons dag verdwyn.

Toe ek ’n kind was, was die bank, die skool en die kerk grootliks gegewe. Dit het ook in ’n groot mate vir die politieke party gegeld. In my leeftyd het ’n hele aantal keuses van die agtergrond na die voorgrond geskuif. Dit het die pyn van afskeid van ou sekerhede maar ook die blydskap van nuutgevonde insigte moontlik gemaak.

God was altyd deel van die agtergrondkeuses. Dit was eintlik nie ’n keuse nie, daarom was twyfel oor God onaanvaarbaar. Ek onthou goed hoe prof. Johan Heyns, wat in die laaste jare voor sy aftrede my kollega by die fakulteit was, met ontsteltenis gepraat het oor ’n student wat oor God se bestaan getwyfel het. Ek sien hom nog op sy entoesiastiese manier betoog dat dit aanvaarbaar sou wees om oor aspekte van God se werk of oor jou geloof te twyfel, “maar oor God! Jy kan tog nie oor God twyfel nie”. In die twee dekades wat intussen verloop het, het God inderdaad as ’n voorgrondkeuse na vore getree. Alhoewel die keuse om nie in God te glo nie, niks nuuts is nie, het dit tog, veral in ons Afrikaanse samelewing, ’n veel meer vrye en bewuste keuse geword. Dit is nie meer vanselfsprekend dat alle selfrespekterende Afrikaners in God glo nie.

In hierdie keuses op die voorgrond bestaan die moontlikheid om jouself van iets los te maak en te distansieer. Ek kon deur ’n proses van losmaking gaan wat kerk en volk betref. Dit kon natuurlik nie gebeur sonder dat ek my ook van “God” losgemaak het nie. Om daaroor te skryf, is gevaarliker as enigiets anders. Tog moet ek dit waag.

Op ’n dag moes ek bid: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Want “my God” – die een wat ek tot in daardie stadium geken het – het agter die horison verdwyn. Die ou God het hom in bekende begrippe en gerusstellende taal laat vasvang. Daarmee kon ek ’n greep op God ervaar. As jy die regte woorde, soos “erfsonde”, “verkiesing”, “geloofsekerheid”, genoeg en in die regte volgorde herhaal, word dit ’n vaste sisteem (dogma) wat veiligheid gee. Met sulke evangelies-teïstiese taal en die gerusstellende taal van die kerklike belydenis kan ’n mens God as’t ware beheer, of Hom “op die solder hou” soos in George Weideman se gedig “Die God op die solder”:

byderhand: tussen wakiste, voorsate

se portrette, ’n afdruk van Bloedrivier

en allerlei feesrelieke, so digby

soos ’n PC woon hy hier.

soms voel ek sy nabyheid: hoe sy bestier

en my bedryf met welgevalle kruis:

hoe skrander ek my ryk verdeel en heers, hoe

juis my wil geskied as huis-

en landheer. gul, soos die kasteelheer van ouds,

gelas ek of brug moet neerkom oor grag;

opklim kan ek en bo, oor kantele, kyk

hoe dig onderdaantjies wag.

ek kan beslis oor skure: of daar daagliks

meel sal wees, en brood; rantsoene en soetwyn;

ek begroot versigtig, hou deeglik boek van dit

wat wins is, dit wat verdwyn.

maar dis nuttig dat jy so naby is

noudat almal my isoleer; ek sal besluit

wanneer jy mag afkom; ek presideer steeds

oor kneg en hoef en kluit –

wie anders om te raadpleeg? Die werings om

my heen is verordineer; my jakobsleer

het ek nog, my lidmaatskap. En jóú het ek.

gepromoveer tot kamerheer.

Met ’n sekere godsbegrip skep jy vir jouself ’n jakobsleer. Die dogmas en vaste formules word soos “werings om my heen” – dit skep veiligheid en geborgenheid. Die konsepte is duidelik: bo en onder; reg en verkeerd; van God óf van die Bose; absoluut óf vals; vír God of téén God.

As ’n mens God iewers lokaliseer, of dit nou op die solder of in die hemel daarbo is, of in enige onbeweeglike filosofiese konsep, dan het jy beheer oor God. Só ’n God, ’n God wat iewers elders woon en met wie ek van hier af kan kommunikeer, is ’n teïstiese God. Ek kom later, veral in hoofstuk 8, terug na die konsepte “deïsme”, “teïsme”, “panteïsme” en “panenteïsme”.

Daar is ’n spanning tussen om enersyds van die teïstiese Godskonsep bevry te raak, maar aan die ander kant die verlies te ervaar wanneer God nie meer in vaste verordeninge en formulering herkenbaar is nie.

Die God wat ek verloor het, is die teïstiese God. Ek het Hom agtergelaat en ek voel verlig, maar tog is ek ook ambivalent daaroor. Enersyds juig ek, want dit is ’n bevryding om nie meer daardie God te hê nie. Andersyds voel ek om soos Julian Barnes aan die begin van sy boek Nothing to be Frightened of te sê: “I don’t believe in God, but I miss him.”[4] Ek glo nie meer in die God wat van ver, van anderkant, los van my en van buite my vir my loer nie. Intussen het ek God op ’n nuwe manier ontdek soos deur Paul Tillich[5] beskryf in sy konsep van “the God beyond God”. Daardie God anderkant die teïstiese God het vir my meer troos gebring en alhoewel ek nou omtrent geen woorde het waarmee ek God kan beskryf nie, voel ek nie meer van God verlate nie.

Die God wat nou my lewe betree het, is nie meer so maklik om in woorde vas te vang nie. Die bekende begrippemateriaal van “Vader”, “Almagtig”, “Bo”, “Hoër Hand”, “Beskikker”, “God se wil”, “Voorsienigheid” en nog heelwat meer wil net nie meer inpas by die God wat ek leer ken het nie, want God is nie meer daar bo en buite en manlik en sterk en in beheer nie. God is nou vir my veel meer die Moontlike, die Onverwagte, die Vreemdeling, die Gemarginaliseerde, die Gedagte, die Werklikheid, die Beweging, die Lewe. Dis vloeiende en sagte metafore vir God wat God meer ontwykend en minder vasgevang voorstel. Uiteindelik het die konsepte postteïsme en panenteïsme aan my die nodige woordeskat en verwysingsraamwerk verskaf om in nuwe kategorieë oor God te dink, te praat en te skryf.

Dit is ’n verlies en tog ook so ’n wonderlike verlossing. Ek hoef God nie meer met behulp van komplekse dogmatiese teorieë te verdedig en verstaanbaar te maak nie. Toe ek daarmee vrede gemaak het, kon ek weer stadig begin om God te herontdek.


[3] Berger, Peter & Zijderveld, Anton. In Praise of Doubt. HarperCollins e-books, 2009.

[4] Barnes, Julian. Nothing to be Frightened of. New York: Vintage International, 2008.

[5] Tillich, Paul. “The Courage to Be” in Paul Tillich. Main Works/Hauptwerke 5./Writings on Religion/Religiöse Schriften. Berlyn: Walter de Gruyter, 1998.

Om te mag twyfel

Подняться наверх