Читать книгу Klassiek reeks: Na die geliefde land - Karel Schoeman - Страница 4

Оглавление

Met sy aankoms kon hy in die lig van die koplampe net die pad voor hom sien, en toe ’n hek, bome, en die blinde muur van die plaashuis waar hy stilgehou het om na die pad te vra. Nou sien hy die verlate werf, die buitegeboue en skure met verroeste dakke, ’n trekker en dromme. Dit is al laat, maar in die huis is alles stil en buite is daar niemand nie. Hy stap doelloos oor die werf en verby die buitegeboue tot by ’n doringdraad, waar hy bly staan om uit te kyk na die land anderkant die laaste yl bloekombome, leeg en kaal en eensaam, die lae lyn daarvan onverstoor deur heuwels of huise. ’n Bietjie onbegrypend staar hy daarna en wag op ’n verklaring vir die liefde, hunkering en trou waarvan hy lewenslank getuie was sonder dat hy self ooit daardeur geraak is. Daar kom egter geen antwoord nie: hy vind net die eensaamheid en stilte as selfgenoegsame feite voor hom.

Die meisie wat hy die vorige aand in die kombuis gesien het, kom oor die werf met ’n vol sak op haar skouer en gaan staan vir ’n oomblik asof sy geskrik het, maar dan herken sy hom.

“Kan ek jou help dra?” vra hy, maar sy skud haar kop.

“Ek gaan maar net stoor toe,” antwoord sy, en stap verder.

Die gehuurde kar staan nog waar hy gisteraand in die don­ker stilgehou het, en hy gaan daarheen, die enigste vertroude voor­werp op hierdie plek. Waar is die plaasmense, wonder hy, en hoe moet hy van hulle afskeid neem? want dit is tyd om verder te reis. Maar die meisie het verdwyn en kom nie terug nie, en die half­oop kombuisdeur bly roerloos, die drumpel leeg.

In hierdie stilte waarin daar skaars ’n voël roep, sou elke ge­luid hoorbaar moet wees. Hattingh is egter naby, byna naby genoeg om hom aan te raak, voordat George opkyk en hom sien.

“Bekyk jy die plaas so ’n bietjie?” vra hy, “Ja, dis die laaste jare verwaarloos, dis nie meer wat dit was toe ek begin boer het nie, maar ons moet seker dankbaar wees dat ons dit nog het, verwaarloos of nie. Dis ’n familieplaas, ’n erfnis van my oupa­grootjie, maar in daardie dae had hulle nog die geld en die volk om dit te onderhou. Hy sou nie baie van ons dink as hy dit vandag moes sien nie, selfs my oorlede vader sou nie baie ge­lukkig wees daaroor nie. Hy’s dood in die tyd toe alles goed gegaan het.” Met sy hande in sy sakke staan hy nog ’n rukkie en nadink voordat hy George vra om te kom eet.

Waar die vrou was, weet hy nie, maar wanneer hulle binne­kom, is sy in die kombuis besig, en aan een end van die tafel is daar vir hom ’n plek gedek. Terwyl hy eet, bly sy langs hom staan om vir hom koffie te skink, om dinge aan te gee en te kyk dat hy alles het wat nodig is.

“Jy is seker gewoond aan beter kos oorsee,” sê sy.

“My vrou wil nog vir alles verskoning maak,” sê Hattingh. “Ek doen dit nie meer nie. Jy kom van die buiteland, maar jy weet hoe sake hier staan, jy sal ons vat soos jy ons kry.”

“Ons het nooit baie gehoor oor wat daar hier gebeur nie,” sê George. “Ons het selde mense gesien wat ons kon vertel hoe dit gaan.”

“Het jou ouers baie terugverlang?” vra mevrou Hattingh.

“My moeder het, in elk geval in die laaste jare, toe sy ouer word en dikwels siek was.”

“Wanneer is sy oorlede?” vra mevrou Hattingh, haar oë af­gewend.

“’n Paar maande gelede.”

“En jou vader, lewe hy nog?”

“Hy is al ’n paar jaar oorlede.”

“Hy was in die diplomatieke diens gewees, nie waar nie?”

“Ja, hy is oorsee gestuur toe ek nog ’n kind was, dit is waar­om ek in die buiteland grootgeword het.”

“Julle was gelukkig dat julle betyds weggekom het,” sê Hat­tingh. “Maar die belangrike mense en die rykes het oor die algemeen vroeg padgegee, nog amper voordat óns gewone mense wis dat daar iets verkeerd is. Met hulle koffers en hul kratte en hul geld in buitelandse banke.”

“Hulle was bang,” sê George.

“Ja, seker, en moontlik het hulle ook rede gehad, maar daar was ander mense wat bang was en tog gebly het.” Stadig begin hy sy pyp stop terwyl hy praat. “Daar’s twee soorte mense hier in die land,” sê hy: “dié wat gebly het omdat hulle nie kon weg­kom nie, en dié wat gebly het selfs al kon hulle gaan.”

“Wie is in die meerderheid?” vra George.

“Wat dink jy? Dis maar ’n handjie vol wat uit hulle eie be­sluit het om aan te hou; maar dis ons beste mense, dié van hulle wat oorbly.”

Sy vrou het ongeduldig gewag dat hy moet klaar praat. “Ken jy baie Afrikaners oorsee?” vra sy vir George.

“My vader het die laaste jare onder die Afrikaners in die buite­land gewerk, hy het hulle gehelp met geld en werk en dokumente en so meer, en my ouers het ook baie onthaal – daar was altyd mense by ons aan huis.”

“Ken jy miskien die Hugo’s?” vra sy gretig. “Danie Hugo-hulle, die regter se seun?”

“Hulle woon nou in Amerika, glo ek, hy werk daar as ingenieur. Dit gaan goed met hulle.”

“Karin Hugo was een van my beste vriendinne. En Mona Oosthuizen, Mona en Nico?” Sy gaan oorkant hom aan die tafel sit en begin hom uitvra oor die een naam ná die ander, byna vinniger as wat hy kan antwoord: familielede en verwante, skool­vriendinne, medestudente, kennisse en bekendes. Die name wat sy noem, is dié van mense wat vroeër welgesteld was, be­langrik in akademiese kringe, die regte en die politiek, en die meeste daarvan is hom ook bekend. Hy onthou bekendstellings op onthale en by eetmale, die gefluisterde inligting, die ou, ver­geelde etiketjie wat aan elkeen vasgebind is om hom te identifiseer, soos die etikette aan die plante en jong struike in die tuin. “Senator Lindeman …” “Professor Van den Heever …” “Sy was ’n nooi Du Plessis …” “Tog nie Sampie se suster nie?” Die titels het gewoonlik niks meer beteken nie en die hele verwysingsisteem het al lankal uitmekaar geval, maar nog het hulle aan titels en verwysings vasgehou soos aan ’n reling op die steil en donker trap van die werklikheid.

Mevrou Hattingh sit met haar hande gevou op die tafel voor haar en haal name op uit haar herinnering, glimlaggend van verwondering oor die feit dat George hulle almal ken, sonder om egter te probeer volg wat hy haar alles vertel. “Hy het goed getrou,” val sy hom in die rede, “Erna se pa het ’n vier, vyf plase gehad. Ons was by hulle troue gewees, onthou jy nog, Pappie?” Sy gee haar man egter geen kans om te antwoord nie. “Dit was ’n spoggerige affêre, ek weet nie hóéveel ministers nie, en mense van die Weermag, sewehonderd gaste, glo ek …” Sy wil nie regtig hoor wat daar van hierdie mense geword het nie, besef George: ook vir háár is die verlede met sy herroepte titels en afgeskafte ampte belangriker as die verre en onvoorstelbare hede. Haar mat gesig het skielik kleur gekry en haar oë is helder terwyl die opgedamde woorde voortstroom.

Hattingh sit en luister na wat George vertel, maar gedurende sy vrou se lang monoloog begin hy rusteloos word, en dan staan hy op. “Ja,” sê hy, “ek moet gaan werk.” Sy aarsel, haar verhaal onderbreek in die middel van ’n woord.

“Ek moet gaan,” sê George, en hulle kyk hom albei verras aan.

“Waarheen?” vra Hattingh.

“Ek moet verder ry, Rietvlei toe, ek moet reëlings tref …”

“Wat’s jy dan so haastig? Ek sê vir jou, op Rietvlei is daar niks nie, dit staan al jare lank verlate.”

“Ek sou dit graag weer wil sien.”

“Daar’s nog genoeg tyd daarvoor. Jy kan nie nou al weer wil weggaan nie, ons het skaars kans gehad om behoorlik te gesels. Daar’s veels te baie dinge wat jy ons nog moet vertel.”

“Daar’s mense hier in die distrik wat jou sal wil sien,” sê mevrou Hattingh, “mense wat nog vir oom George en tant Lottie geken het, wat jou moeder onthou …”

“Wanneer het ons laas ’n besoeker gekry?” vra Hattingh. “Mense ry nie meer rond in hierdie deel van die wêreld nie, selfs die bure wat oorgebly het, kom kuier nie meer aldag soos vroeër nie. Jy kan nog ’n paar dae by ons kuier. Vir hoe lank het jy gekom?”

“Ek het net ’n week verlof geneem,” sê George. “My terugreis is al bespreek.”

“Is daar nog dinge wat jy hier wil doen behalwe in verband met die plaas?”

“Ek het geen planne gemaak nie. Ek het gedink dat ek mis­kien ’n bietjie sou kan rondreis, iets van die land sien, moontlik selfs van my ouers se familie opspoor …”

“Waarvoor sou mens teenswoordig nog rondreis?” vra Hat­tingh. “Niks is meer soos dit was nie, en wat jou familie betref, nee wat, dis beter om nie te baie vrae te vra nie, jy maak net moeilikheid vir jouself en vir ander mense. Bly liewer hier by ons.”

“Sál jy?” vra sy vrou.

“Dit is baie vriendelik van u. Ek kan miskien ’n tydjie hier bly as dit nie vir u ongerieflik is nie.”

“Daar is darem nog so iets soos gasvryheid,” sê Hattingh. “Daar is darem nog tradisies wat gehandhaaf moet word.”

Die ontbyt is klaar en mevrou Hattingh begin die tafel afdek. George volg Hattingh na buite.

“Waar lê Rietvlei?” vra hy.

Hattingh beduie. “Daardie kant uit, so ’n tien myl met die pad. Jy het gisteraand by die regte plek afgedraai, jy moes net aangehou het.” Hy stap al weg na sy werk. “Maar daar’s genoeg tyd om soontoe te gaan, jy kan môre uitry as jy lus voel. Dalk kan my vrou dan ook met jou saamry om vir tant Miemie te gaan kuier. Moedersgift lê net duskant Rietvlei.”

Hy roep die laaste woorde terug oor sy skouer. George bly staan langs die muur van die huis terwyl die wind oor die werf aanwaai en die bloekombome onrustig dein. Dit is ’n vaal, be­trokke dag – waar is die son? wonder hy, geïrriteer soos gisteraand deur die armoedigheid en kleurloosheid van alles wat hy sien, die verlatenheid van die huis en werf, en die sinkplaat wat in die wind begin klap êrens op die dak van een van die buitegeboue. Daar was tog altyd sonskyn gewees soos op die almanakfoto’s, blou lug en helder wolke; perskes en waatlemoene was daar in oorvloed, laggende inboorlinge in diervelle en krale, wit strande, en leeus in die lang gras. Die wind warrel stof in sy oë.

Waarom sou hy hier bly, op hierdie afgesonderde plaas by onbekende mense wat hom slegs verwelkom omdat hy die eensaamheid van hul lewe kom onderbreek het? Maar aan die ander kant het dit ook nie veel sin om in die paar dae wat be­skikbaar is krampagtig te probeer om hierdie hele wye land nog te besigtig nie. Hy sal bly, dink hy, hy sal na Rietvlei gaan, en dan verder reis. Dit is tog waarvoor hy gekom het.

Mevrou Hattingh staan voor die venster en uitkyk. “Dit gaan reën,” sê sy ingedagte. “Ek wou vandag die vensters gewas het, maar ek kan liewer wag. Soms wonder mens ook of dit die moeite werd is.”

“Kan ek iets vir u doen?” vra hy.

“Nee, nee; jy kan hier sit en met my gesels as jy wil.” Sy slof in die kombuis heen en weer op afgetrapte viltpantoffels en maak ’n kas oop, bêre iets, soek iets. “Mens bly maar besig met die huiswerk. Ag, en as ek dink dat my skoonmoeder vroeër vyf meide hier in die huis gehad het, en nog meer as sy die dag wil huis skoonmaak. Dan het oom Willem altyd padgegee en by die bure gaan eet.”

“Bly u lank hier?” vra George.

“Ons het hier gekom toe Johannes nog ’n baba was – o, ek is self nie ’n plaasmens nie, ons het in die stad gebly, my man het in die stad gewerk, hy het goed verdien.” Sy sprei ’n ou kombers oor die tafel uit. “Maar toe met die moeilikhede het ons gevoel dat dit veiliger is om plaas toe te kom: ons had die twee kleintjies, en alles was so onseker …” Sy gooi ’n laken oor die kombers en stryk dit langsaam glad. Sy wil praat, dink George, net by haarself staan en praat om van alle opgekropte leed en veronregting ontslae te raak, skaars bewus van hom waar sy op die tafel leun. Daar is geen knope meer aan die trui wat sy dra nie, en haar hare is slordig vasgespeld. Net die gesig herinner nog aan ’n vroeëre fynheid en skoonheid.

“Ek is nie gewoond aan hierdie soort lewe nie,” sê sy dan skerp, asof sy haar teen onuitgesproke kritiek moet verweer. “As meisie was dit vir my nooit nodig om iets in die huis te doen nie, en toe ek getroud is, het ons altyd bediendes gehad. Ek het nooit verwag om eendag só te moet lewe nie, dis op my afgedwing, ek het geleer deur die harde ondervinding. Toe ek klaar was met skool het ek universiteit toe gegaan. My vader wou dat ek moet studeer, en hy het nooit gesien wat daar van al my geleerdheid word nie. Maar dit was ’n mooi tyd,” sê sy, en haar gesig verhelder by die herinnering. “Ons was ’n vrolike jong klomp saam, ons studente – die Marais’s en Ben Meyer en Karin, ja, almal oor wie ons vanoggend gesels het, en ander ook nog: Leon Grob­belaar, wat later gevange geneem is, en Len Botes wat dood is in die moeilikhede. Jy het seker nooit van hom gehoor nie, maar hy was in sy tyd ’n briljante student. Ons het altyd by sy ouers se huis gaan tennis speel, hy was ’n goeie speler, en hy het my ’n paar keer uitgeneem in ons eerste jaar. Daar was niks tussen ons nie, ons het net gaan dans of bioskoop toe gegaan …”

Ingedagte streel sy die laken oor die tafel voor haar, die stryk­werk wat sy wou doen vergete, lakens, sakdoeke en kakie­hemde. George luister nouliks na die vertroude verhaal: hoe dikwels in sy lewe het hy dit nie al gehoor nie met slegs klein veranderings van detail, die lyste name, die verhale wat hulle afspeel op tennisbane of langs swembaddens, in direksiekamers of op senaatsvergaderings, die opsommings van vriende, pres­tasies, besittings, die gegewens van die onderskeidings wat be­haal, die winste wat gemaak en die verowerings wat gedoen is. Oor die koffiekoppies, die skemerkelkies of likeur in sy ouers se huis of die huise van vriende is dieselfde herinnerings opgehaal en dieselfde feite eindeloos nagetel, deel van die belegging waarop die ballinge in die vreemde moes teer. Maar dit was mense wat weggekom en oorlewe het, deur tyd, ruimte en onbeskryflike ondervindings geskei van hierdie boerevrou in haar verkleurde trui: die verlede is al wat hulle gemeen het, herinnerings is al wat hulle nog aan mekaar bind.

rens aan die end van die gang slaan ’n deur toe. Mevrou Hattingh gee geen teken dat sy dit hoor nie, maar sy onderbreek haar verhaal willekeurig en die glimlag sterf stadig weg van haar gesig. Net haar vingers pluk nog ingedagte aan die laken.

“Ek moet vandag bak,” sê sy. “Ek moet ’n koek bak omdat ons ’n besoeker het.”

“U moet geen moeite doen vir my nie, mevrou,” sê hy.

“Dit is geen moeite nie, waarom sou dit dan moeite wees?” Sy hou ’n hemp voor haar op, “Jy moet maar rondkyk in die huis, doen maar wat jy wil. Miskien vind jy êrens iets om te lees, daar is nog ou tydskrifte …” Sy het haar skielik aan hom onttrek, en gaan na die stoof om ’n strykyster te haal, sy teenwoordigheid vergete.

Daar was trouens nouliks ’n rede waarom hy hierdie reis sou onderneem; ’n enkele week is tog skaars die moeite werd, en die probleme in verband met die plaas sou per brief afgehandel kon word. Bowendien is dit ook nie gebruiklik om terug te kom nie.

In elk geval nie vir die meeste mense nie. As hy ouer was en hierdie land nog duidelik kon onthou, sou hy sy herinnerings waarskynlik bo ’n konfrontasie met die nuwe werklikheid ver­kies, en as hy jonger was en geen herinnerings had nie, sou hy geen band meer daarmee voel nie en ook geen behoefte aan terugkeer. Maar hy is net oud genoeg om dit te kan onthou, of in elk geval om iets te onthou waaraan hy altyd die naam Afrika gegee het en wat gemengde gevoelens van liefde, heimwee en nuuskierigheid in hom oproep. Waarom sou hy dan nie die kans waarneem nie en gebruik maak van die verskoning wat hy gekry het om terug te gaan, al is dit maar vir ’n paar dae, om die vaag herinnerde verlede te probeer herwin, die werklikheid te probeer terugvind, en allerlei probleme in verband met liefde, toewyding en trou vir homself te probeer oplos?

Hy het vir ’n week gekom, nie eers vir ’n week nie; reeds is dit sy derde dag in die land, en die tyd gaan verby en word minder, vinnig maar seker, terwyl hy langs die gang van hierdie onbekende huis af stap en die deure een vir een oopmaak. Nog ’n paar dae en hy sal moet terugkeer sonder dat hy iets uitgevind of geleer het en sonder dat hy nader gekom het aan die ontsyfering van één van die vele geheime.

Daar is genoeg om te doen, dink hy, en aarsel op die drumpel, sy hand op die deurknop; hy het hierdie week ook slegs met moeite vrygemaak vir sy sentimentele en sinlose reis. Die huis waar sy moeder gesterf het, wag nog steeds soos sy dit agtergelaat het, en daar is baie dinge wat hy moet sorteer en orden en reël; hy het dit lank genoeg uitgestel. Ingedagte terwyl hy aan dit alles dink, bekyk hy die vertrekke van die plaashuis sonder om sy volle aandag te skenk aan wat hy daar vind. Dit is ook min genoeg, want die meeste van die groot kamers staan leeg of word blykbaar slegs nog as pakkamers gebruik. Dit is ’n groot huis met hoë plafonne, en die verspreide meubels lyk verdwaal in die ruimte: ’n enkele kas met ’n verkleurde spieël, ’n bed, ’n tafel met stoele daarby in die middel van ’n kamer, of ’n verweerde lessenaar met ’n roldeksel. Sommige van die meubelstukke is oud en verslete, oorblyfsels van langvergange welvaart, en die nuwer, goedkoper meubels pas nie daarby nie, die kombuistafel met formicablad, die stoele met aluminiumpote, die nagemaakte leer of houtwerk en felgekleurde plastiek. Net soos die meubels is die prente ook ’n ongemaklike mengsel van oud en nuut, foto’s uit tydskrifte, kleur­afdrukke van blomme en landskappe, met ander, ouer foto’s van volksleiers en -helde, tussen swaaromlyste familieportrette van ernstige mans en vroue in hul beste klere. Dit moet die slaapkamers van die plaasmense wees, besef hy, maar hy moet soek na tekens dat hulle bewoon word. Slegs ’n enkele, byna toevallige persoonlike voorwerp, ’n kam, ’n sakdoek of ’n potlood, dui op die aanwesigheid van mense in hierdie verlate huis.

Daar is nog soveel om te doen, dink hy, want sy moeder het nooit iets weggegooi nie en namate sy ouer word haar lewe met al hoe meer dinge gevul, nutteloos sowel as nodig, totdat dit soos ’n eksternes aanmekaar gevleg was en dit nouliks moontlik was om in daardie oorvloed van besittings nog iets terug te vind. Hoe lank sal hy nie besig wees om dit alles uit te soek nie, die skilderye en etse wat sy vader versamel het, sy boeke, die juwele wat hy vir sy vrou gekoop het, al het sy hulle selde ge­dra, en dan nog die meer persoonlike besittings, die briewe, fotoalbums en plakboeke waarmee sy haar al die jare in die vreemde omring het. Miskien moes hy liewer gebly het om daardie verkleurde foto’s en knipsels te bestudeer, dink George; miskien sou hy dááruit meer geleer het as in hierdie onbekende en afsydige land, by mense wat dieselfde taal praat as hy, maar anders niks met hom gemeen het nie.

Die huis is oud, en deur die jare het opeenvolgende geslagte blykbaar na behoefte daaraan toegevoeg, sodat die een ongebruikte kamer op die ander volg en daar telkens weer ’n gang wegbuig of trappies hom opnuut in die klam donker voortlei. Op die dak hoor hy ’n geruis, en fyn pleister dwarrel neer. Hy kan die muur nie meer voor hom sien nie, tas na ’n deurknop, en kom ’n kamer binne waar ’n jong man omspring en rug teen die muur oorkant hom bly staan, gereed om hom te verdedig.

Dit duur ’n oomblik voordat hulle, verskrik en verras, me­kaar herken. Dit is een van die jong mans wat hy gisteraand in die kombuis ontmoet het, kakieklere en breë, geslote gesig, wat hy hier gesteur het.

“Wat wil jy hê?” vra hy.

“Jou moeder het gesê dat ek maar in die huis kan rond­kyk …” Is mevrou Hattingh wel sy moeder? Niemand het dit ooit gesê nie.

“Soek jy iets?”

“Nee, ek kyk sommer.”

Die jong man staar hom aan, waaksaam en vyandig, asof hy nog gereed is om hom elke oomblik teen ’n aanval te versit. Sonder om nog iets te sê, draai George om en stap weg. In die gang wag hy totdat sy oë gewoond geraak het aan die skemeragtigheid, en dit duur ’n lang tyd voordat hy die jong man weer hoor beweeg.

Die dag word donker, die lug somber. “Dit gaan reën,” sê me­vrou Hattingh terwyl sy heen en weer slof om die tafel te dek. “Dalk kom my man-hulle huis toe vir ete.”

“Hulle sal nie kom nie,” sê die meisie. “Dit reën nog nie.”

“As hulle sien die reën kom aan, kom hulle dalk.”

“Hulle sal nie kom nie. As dit reën, kan hulle in die bakkie skuil. Hulle’t brood en koffie by hulle, Johannes het vir hulle koffie saamgevat.”

Sy neem slegs afgetrokke deel aan die gesprek waar sy voor die venster staan. “Kom eet,” sê mevrou Hattingh vir haar. Hier binne het dit so donker geword dat net die seildoek van die tafel nog oplig in die duister.

“Dis baie eenvoudig,” sê mevrou Hattingh; “ons eet maar eenvoudig om hierdie tyd van die dag.”

“Dis goed genoeg,” sê die meisie ongeduldig. “Dis nie nodig om vir alles verskoning te maak nie.”

“Jy weet nie van beter nie,” antwoord mevrou Hattingh drif­tig, “jy’t so grootgeword en nooit iets beters geken nie. Ek is nie gewoond daaraan om my gaste brood en koffie te gee vir middagete nie.”

“Dis tyd dat jy gewoond raak daaraan. Ons lewe al lank ge­noeg so.”

Mevrou Hattingh gaan nie verder daarop in nie. “Ek het ’n bottel konfyt oopgemaak,” sê sy vir George. Die meisie drink haar koffie, praat nie meer met hulle nie, en eet ook nie van die konfyt nie.

Die wind waai sterker en ruk aan sy hemp terwyl hy ná die ete oor die werf stap. Die reën is naby, maar hy verkies om uit te gaan en die swygende huis te ontvlug. Die lang gras dein, die wind pluk aan die bome en waai die eerste los reëndruppels teen sy gesig. Dan breek die reën los, en hy kan nog net betyds die skuur bereik.

Die werf word omskep in ’n skuimende bruin watervlak en vlae reën waai by die oop deur na binne. Dit gaan nog lank duur, besef hy, en begin doelloos die skuur ondersoek, maar dit is verlate met sy vermolmde strooi, verdroogde mieliekoppe en leë trôe. Hy gaan sit op ’n kis in die hoek om te wag dat die reën moet ophou, leun agteroor teen die muur, en sien dinge wat geleidelik vir hom duidelik begin word in die halflig, die tuig wat teen die muur hang, die trapleer na die halfsolder, en die roerlose donker skaduwee daarbo wat langsaam gestalte kry, sodat hy besef dat dit iemand is wat na hom sit en kyk.

Hulle bly lank so sit sonder om te beweeg. George hoor die water van ’n lekkende geut wat eentonig langs hom neerdrup. Is dit die meisie of een van die mans, wonder hy, en waarom sê hy niks nie?

“Kan jy in die donker sien?” roep hy uiteindelik op na die halfsolder.

Daar kom geen antwoord nie, en vir ’n oomblik dink hy dat hy hom vergis het en bale of sakke vir ’n mens aangesien het, maar dan beweeg die persoon teenoor hom en lag saggies.

“Ek het ook nege lewens,” roep hy terug.

Dit is ’n man se stem. George staan op en stap na hom toe. “Hoe lank sit jy al daar?” vra hy.

“O, lankal, nog voor die reën begin het. Jy’t my nie gesien nie, nè?”

“Kan ek opkom?” vra George.

“As jy niemand sal vertel dat jy my hier gekry het nie.”

Hy klim met die leer op na die donker van die halfsolder. “Mag jy dan nie hier wees nie?”

“Ek moet eintlik aartappels uitsoek in die stoor, maar toe Johannes af is landerye toe, het ek padgegee hierheen.”

“Waarom?”

Hy antwoord nie. “Ek het gesien hoe jy hier verbystap oor die werf, ek het verwag dat jy hier sal kom skuil. Jy’t my nie gesien nie, nè?” vra hy weer, en lag asof dit ’n prestasie is waar­op hy trots is. George kan sy gesig nie duidelik sien nie, maar dit is ’n jong man se stem.

Hulle luister in stilte na die gedruis van die reën op die sinkplate bo hulle. “Waarheen was jy op pad toe jy hier verbystap?” vra die ander man.

“Ek het sommer rondgestap om na die plaas te kyk.”

“En wat dink jy daarvan?”

“Dis vir my alles nuut, interessant …”

“Waar woon jy?”

“In Switserland.”

Die jong man is stil terwyl hy die feit verwerk. “In Swit­ser­land is daar berge,” sê hy. “Die Alpe.”

“Ja.”

“En koeie wat klokke om hul nekke dra. Ek weet, ek het al daarvan gelees. En …” Hy aarsel. “En die hoofstad is Genève,” voeg hy by, en spreek die naam verkeerd uit.

“Bern.”

“Is jy getroud?” vra die jong man. “Watter werk doen jy? Watter soort huis het jy?”

Dit is die eerste keer dat iemand hier vrae stel oor homself, en die nuuskierigheid verras hom ’n bietjie. “Ek is nie getroud nie,” sê hy. “Ek het ’n woonstel in Genève, ek werk daar by ’n uitgewersmaatskappy.” Die jong man swyg en wag blykbaar om meer te hoor. “My moeder het ’n villa gehad net buite Lausanne,” sê hy dan, “aan die ander end van die meer.”

“Hoe lyk jou woonstel?”

Hy aarsel. “Dis op die sesde verdieping, taamlik groot – daar’s ’n groot woonkamer.” Die jong man wag en luister. “Daar’s ’n Berber-tapyt, en boeke, en ’n paar skilderye uit my vader se versameling, en ’n groot kaggel waar ek in die winter vuur maak.” Hy soek na nog iets om te vertel, nog ’n feit om op te noem. “In die winter gaan ons ook dikwels in die berge om te ski,” voeg hy by, maar kan dan aan niks meer dink nie, en sy stem sterf weg. Al die vertroude onderdele van sy lewe klink vreemd en on­wesenlik hier waar hy hulle probeer beskryf op die hooi van die donker solder met die gedreun van die reën bo sy kop, vir iemand oorkant hom wat hy nouliks ken en wie se gesig hy nie eers kan sien nie. Hy kan net die geur van sweet en grond ruik, die liggaamsreuk van iemand wat op die land werk. Weet die seun iets van Berber-tapyte, ski-togte of villas; weet hy selfs wat die woorde beteken? “Waarom wil jy dit alles weet?” vra George.

Hy spring vinnig op. “Kom saam,” sê hy.

“Waarheen?”

“Johannes is weer af lande toe, maar as die reën aanhou, kom hulle dalk terug, dan moet hulle ons nie hier vind nie.”

Hoog teen die muur van die halfsolder is daar ’n deur, en met ’n rats beweging trek die jong man hom daarheen op. “Maar jy moet vir niemand sê nie,” fluister hy terwyl hy sy hand uitsteek om George agter hom op te help.

Hulle is op ’n lang, smal solder met ’n spits dak, waar hulle gebukkend onder die nok moet loop, en kom dan, deur ’n barri­kade van dwars- en skuinsbalke, op ’n tweede, ruimer solder wat deur ’n gewelvenstertjie verlig word. Daar staan kiste en ou prente en portretrame teen die mure en op die vloer lê daar koerante, vergeelde blaaie van tydskrifte, ’n paar afgebrande kerse, en ’n matras waar die seun op neerval. “Ek sluit die deur uit die skuur agter my toe, dan kan niemand my hier vind nie,” verduidelik hy.

In die lig herken George nou een van die jong mans wat die vorige aand in die kombuis was, die jongste van die drie, met ’n wakker gesig en donker oë. Wanneer George opkyk, sien hy daardie oë byna gretig op hom gerig, maar dan ontwyk die seun sy blik en kyk hom nie weer aan nie.

“Waarom wil jy wegkom van die ander?” vra George.

“Sommer, hoekom nie? Om ’n slag alleen te wees en te doen wat ek wil.”

“En wat wil jy dan doen?”

“Enigiets behalwe wat ek aldag moet doen, op die land werk of hout kap of aartappels uitsoek.”

“Hoekom bly jy hier as jy nie van die plaaslewe hou nie?”

Die seun se oë dwaal rond deur die solder met sy onafge­werkte mure en spinnerakke. “Mens kan sien jy weet niks van sulke dinge af nie,” sê hy ’n bietjie meerderwaardig. “Dis nie so maklik soos jy dink nie.” Dan maak hy ’n ongeduldige bewe­ging met sy skouers. “Ek wil nie oor die plaas praat nie,” sê hy; “kom ons vergeet van die plaas. Ek wil praat oor alles wat niks daarmee te doen het nie, oor al die dinge wat nie hier is nie en wat ek hier nie kan en nie mag doen nie.” Sy gesig het troebel geword: afgetrokke sit hy stukkies pleister na een van die portrette en gooi wat teen die muur aan leun.

“Wie is dit?” vra George uiteindelik, en wys na die portret.

“Ek weet nie, iemand se oupagrootjie. Ons het ’n klomp goed gekry wat ander mense agtergelaat het toe hulle weg is.”

“Weg is waarheen?”

“Wég.” Die glas en die ernstige gesig daaragter bly on­be­roerd: ’n bebaarde man met ’n stywe boordjie en ’n manel, en êrens op die agtergrond waarskynlik ’n vrou en baie kinders, ’n plaas, bediendes, in ’n wêreld van perdekarre, paraffienlampe, kerkbesoek en boekevat, járe gelede.

Dan lag die seun. “Weet jy, dis die eerste keer dat ek met iemand van oorsee praat, iemand wat nie al hierdie dinge ken en vir wie hulle nie vanselfsprekend is nie.”

“Kry julle dan nooit besoekers nie?”

“Mense wat ons ken van die plase hier rondom natuurlik, maar hulle tel nie. Of die polisie of regeringsmense, landbou­beamptes en so.”

“En die dorpsmense?”

Sy gesig bly afgetrokke terwyl hy outomaties voortgaan met pleisterbrokkies gooi. “Ons kom maar selde op die dorp.”

“Is dit moontlik om so afgesonder te lewe?”

“Ek weet nie – my pa-hulle dink dat dit moontlik is. Maar jy kan tog nie verstaan nie,” sê hy dan met dieselfde klank van iets wat byna neerbuigend is in sy stem, en verander self die onderwerp. “Kyk hier,” sê hy.

Hy trek ’n kis weg van die muur waarteen dit geskuif is, en George sien dat dit ’n boekkas is met geïmproviseerde rakke. Blykbaar verwag die seun dat hy verras of beïndruk moet wees, maar dit is moeilik om verras te lyk by die sien van ’n paar rye verweerde boeke.

“Wat is dit?” vra hy om iets te sê.

“Dis boeke wat ek self bymekaargemaak het, niemand weet daarvan nie.”

Geleidelik laat hierdie vreemdeling met sy geheime en sy geheimsinnigheid George ongemaklik voel – die seun is tog te oud vir sulke speletjies met onbekende wegkruipplekke en verborge skatte. Die reën begin afneem, hoor hy, en netnou sal hy ’n verskoning kan maak en gaan.

“Waarom moet jy hulle wegsteek?” vra hy, want hy kan niks anders doen as vrae stel nie; ’n normale gesprek tussen hom en die seun is blykbaar onmoontlik.

“Daar’s boeke by wat ons nie mag hê nie, boeke wat verbied is. Jy sou ons almal in die moeilikheid kan bring deur vir iemand te sê dat ons dit in die huis het, weet jy?”

“Waarom sou ek so iets doen?” vra George, en buk om daarna te kyk. Dit is ’n uiteenlopende versameling, toneelstukke, boeke oor geskiedenis en politiek, digbundels en romans. Hy sien ’n katkisasieboek daartussen en glimlag, maar die meeste is boeke van jare gelede wat hy self van sy ouerhuis onthou. Sommige is met bruinpapier oorgetrek en ander het hul omslag verloor; sommige se blaaie is gevlek. Daar is ’n paar verdwaalde Engelse boeke tussen, en een boek is in Nederlands, ’n Bybelse geskiedenis, verguld op snee.

“Is hierdie boeke dan verbied?” vra hy ligweg, onwillig om langer aan die speletjie deel te neem.

“Hulle dink dat daar gevaarlike dinge in staan.”

“Watter soort dinge?”

“Ondermynende dinge, opruiende dinge, ek weet nie. Hulle hoef tog nie redes te gee nie.”

Hy kyk sonder belangstelling die boeke deur en lees wat daar op die skutblaaie geskryf staan: Marie, van Pappie en Mammie; J. Human, Negende Straat 156; Kersfees 1947. “Waar kom hulle vandaan?” vra hy.

“O, van orals – party was hier in die huis gewees en party het ek gekry, en party is agtergelaat deur mense wat weggegaan het.”

“En lees jy hulle?”

“Ja, wanneer ek hier alleen is.”

Hy blaai deur die boeke, glimmende kunspapier, vaal oorlogspapier. Daar is ook tikskrifte by, kopieë wat met koolpapier gemaak is, die blaaie verslete langs die rand.

“Waarom wys jy dit alles vir my as dit so gevaarlik is?” vra hy.

Die seun lê op die matras vir hom en kyk met dieselfde gretige blik, en draai dan weer vinnig sy oë weg. Ongemaklik begin George die boeke terugpak in die kas.

“Ek weet nie. Ek het dit nog nooit vir iemand gewys nie, niemand weet daarvan nie. Dan het dit nie eintlik sin nie.”

“As iemand die huis deursoek, sal hy dit gou genoeg vind,” merk George op, maar die seun lê op sy rug en opstaar na die plafon sonder teken dat hy gehoor het. “Dit reën nie meer nie,” sê George dan. “Ek moet gaan.”

“Jy sal vir niemand hiervan vertel nie?” vra die seun sonder om te beweeg.

“Nee, ek sal nie.” Vir ’n oomblik aarsel hy nog, bewus van die feit dat hy gefaal het, sonder dat hy self weet waarin. Maar wat is daar wat hy kan sê, watter gebaar kan hy maak wat toereikend sal wees? Hy draai om om te gaan.

“Trek die deur agter jou toe,” roep die seun wanneer hy al op die eerste solder is, gebuk onder die sinkplate van die lae dak.

Die reën het opgehou, die wolke trek verby, en die dag ruik koel en skoon. Hy stap weg van die huis langs ’n klipperige voetpaadjie teen ’n rant en bly dan staan om terug te kyk. Agter hom sien hy die saamgeskaarde dakke en klipmure van die plaas, die turksvye en vyebome en die windpomp, en daarom­heen slegs die wydheid van die veld. Is dit wat hy soek? wonder hy; is dít die antwoord? Is dít waarvan sy moeder gedroom het, waarna sy gehunker het; is dit waarna sy haar uiteindelik omgedraai het in haar bed met uitgestrekte hand, half bedwelm deur die verdowingsmiddels wat die dokter haar gegee het? ’n Eensame huis met sy bome, ’n klipperige voetpad, en die stilte onder hierdie groot lug waar die wolke verbytrek, verbygaan?

Hy sien iemand van agter die rant aankom met ’n paar koeie, herken vir Hattingh uit die verte, en bly op hom wag.

“So,” sê Hattingh wanneer hy hom bereik het. “Ek het die koeie in die kamp gaan haal. Dit het goed gereën, nè? Dit was weer ’n goeie jaar, deur die Here se genade; partykeer gaan dit maar naelskraap, dan kry ons dit net nog reg om aan die lewe te bly, maar vanjaar het dit beter gegaan.”

“Is dit net u en u gesin wat hier bly?” vra George.

Hattingh kyk hom skerp aan. “Hoe dan so?”

“Dit moet moeilik wees om so ’n groot plaas te bewerk.”

Die ligte, byna onmerkbare spanning gaan weer oor. “Ons het die grootste deel van ons grond verloor, hulle het dit ont­eien, en ons moes ’n deel aan die proefplaas verkoop toe dit ’n slag ’n moeilike jaar was, maar daar het tog nog meer oorgebly as wat ons kan behartig.” Die koeie ken die pad huis toe en het self verder gestap.

“Loon dit nog om so ’n plek te bewerk?” vra George.

“Dis moeilik, maar wat anders moet ons doen? Hier kan ons ten minste nog ’n bietjie onafhanklikheid behou, ons het ge­noeg om van te lewe, ons kan ons eie lewe lei te midde van ons eie mense, ons word min of meer met rus gelaat …” Saam stap hulle verder agter die koeie aan. “Het jy die kerkhof gesien?” vra hy dan. George het nie eers besef dat daar ’n kerkhoffie is nie, verskole agter die klipmuur langs die pad. “Ons gebruik dit nie meer nie, maar die meeste van ons familie is hier begrawe, tot my oorlede oupa se tyd.” Daar is ’n paar grafstene met onhandig uitgebeitelde opskrifte, en blomme, die grond geskoffel. “Ons hou dit netjies, dis die minste wat mens kan doen. Daar het so min van die verlede oorgebly: die grafte, die huis, ’n paar ou portrette … Selfs ons Familiebybel het weggeraak; dit was ’n agttiende-eeuse Bybel met ’n slot, Hooghollands, ’n familie-erfstuk, ’n waardevolle ding. Toe ek ’n seuntjie was, het ek altyd verlang om so groot te wees dat ek dit kan optel. Maar dit het verdwyn, alles het verdwyn, sommerso voor ons oë.”

Hulle staan nog ’n rukkie by die muurtjie en kyk na die grafte. Die wolke trek weg: die son, reeds laag in die weste, glip uit en spoel oor die werf, die vaal mure en dakke van die plaasgeboue, en die kerkhof. Dan stap hulle verder.

“Miskien kan ons vanaand vuurmaak,” sê mevrou Hattingh en kyk vraend na haar man.

“Hoe moet ons genoeg hout hê vir die winter as ons nou al begin vuurmaak?” vra die oudste van die seuns. Hulle moet broers wees, dink George, en bemerk weer eens die oor­een­koms tussen hulle waar hulle langs mekaar sit aan tafel; maar nou kan hy, anders as gisteraand, ook die verskille tussen hulle sien. Johannes is die enigste van die drie wie se naam hy al kon vasstel, want dit is Johannes wat vanoggend in die buitekamer opgeskrik het by sy binnekoms en koffie afgeneem het na sy vader en broer op die land. Hy het dieselfde gesig as sy broers, met breë voorhoof en oë wyd uitmekaar, en dit sou aangenaam wees, selfs aantreklik, as dit nie was vir die onverbiddelike erns wat dit merk en selfs al sy lyne om die oë en mond gegrif het nie: waaksaamheid bedek dit soos ’n masker.

“Daar is nog mieliestronke in die skuur,” sê hy nou naden­kend.

In die gelaatstrekke van die oudste van die broers is daar geen fynheid nie, en sy oë is flets, sy bewegings traag. Sy gesig het sélf masker geword, en mens kry skaars die indruk dat daar iets agter daardie uitdrukkingloosheid leef.

“Hoe lank dink jy sal die mieliestronke bly brand?” vra hy ’n bietjie honend terwyl hy kou.

“’n Rukkie in elk geval, as ons dan ’n vuur moet hê.”

“Niemand het gesê ons móét ’n vuur hê nie.”

“Waarom maak ons brandhout en mieliestronke bymekaar as ons nooit eers kan vuurmaak nie?” vra die derde broer, die seun van die solder en die boeke. George kyk van die een na die ander terwyl hulle sit en eet, na die ooreenkoms en na die verskille. Ja, hierdie seun is die jongste van die drie, en by hom het die masker nog nie aangegroei nie, hy oorweeg nie voordat hy praat nie en sy oë beweeg minder behoedsaam deur die kamer.

“Ons moet ons brandgoed spaar vir die tyd dat ons dit regtig nodig kry.”

“Julle wil ook alles spaar – spykers, blikke, ou motorban­de …”

“Jy kan ook alles eendag nodig kry.”

“Daar was een winter net nadat ons hier kom bly het dat ons van die meubels moes gebruik om vuur te maak,” vertel mevrou Hattingh vir George asof sy weer van haar voorstel vergeet het. Self voel hy ook dat dit om sy ontwil gedoen is, en ongemaklik oor die lang bespreking wat dit uitgelok het, oorweeg hy dit om te sê dat hy liewer dadelik ná die ete wil gaan slaap.

“Ons het darem genoeg brandhout om vir ’n uur of so te kan vuurmaak sonder om hierdie winter in die nood te raak,” sê Hattingh dan egter. “En bowendien het ons vanaand ’n besoeker.”

Dit is die refrein van alles wat hy en sy vrou sê, die regverdiging vir elke afwyking van hulle roetine. Terwyl die jongmense afsydig bly en geen teken gee van wat hulle dink of voel nie, is George se aanwesigheid vir hulle ouers baie duidelik ’n besondere gebeurtenis. Aan die einde van die maaltyd bring mevrou Hattingh die koek wat sy gebak het op tafel, die jongste seun word gestuur om brandhout te gaan haal, en Hattingh probeer George oorhaal om ’n glasie brandewyn te drink. Versigtig skink hy vir al vyf die mans, met onderdrukte opwinding, asof dit ’n teken van besondere feestelikheid is. Die seun drink met klein, byna onwillige teugies; Johannes slaan sy glas met een sluk weg en vee sy mond met sy hand af. In die hoek waar hy hom ná die ete teruggetrek het, sit die oudste broer met sy elmboë op sy knieë, sy glas in albei hande, en dra niks by tot die gesprek nie.

Hattingh het meer spraaksaam begin word van die drank en neem George gemoedelik aan die arm om hom na die voor­kamer te lei waar die vuur gemaak word. “Ons sit amper nooit in die voorhuis nie,” verduidelik mevrou Hattingh terwyl sy hulle volg. “Dis so maklik om maar in die kombuis te lewe …” Sy stoot ’n ornamentjie reg en vee haastig met haar voorskoot oor die tafelblad.

“Dis muf hier,” merk die seun op waar hy op sy knieë voor die kaggel besig is. “En klam. Jy sal heelnag moet vuur maak voordat hierdie kamer warm word.”

“Ek weet nie waarom julle altyd in die kontramine moet wees nie,” sê mevrou Hattingh. Die ander twee seuns het hulle gevolg, glas in die hand, en bly by die deur na hulle staan en kyk.

“Dit sal ook heelnag duur voordat Paultjie daardie vuur aan die brand kry,” sê Johannes. Dit is dus Paultjie, dink George, die seun van die solder, wat nou rooi word en vinnig opkyk waar hy besig is.

“Hoekom maak jy dit dan nie self as jy dit so goed kan doen nie? Altyd met ander mense fout vind …”

“Dis nie ék wat vuur wil hê nie, moenie jou werk op my probeer afskuif nie.”

“Grootbek.”

“Stil nou, julle,” sê Hattingh, en stoot vir hom en vir George stoele nader aan die vuur. “Ja, dis maar ’n harde lewe, en mens bly besig. Ons kry min tyd om te ontspan en gesellig saam te wees.”

“Dis nie soos dit vroeër was nie,” sê sy vrou. “Daar gaan soms maande verby sonder dat ons van ons bure te sien kry.”

“Maar wie het daar ook in die distrik oorgebly? Die Lubbes is weg, die Visagies is weg, Fisantkraal is onteien, Rietvlei staan al jare lank verlate, Heuningkloof is ’n proefplaas van die rege­ring. Hulle’t glad die ou naam verander. Dit was een van die oudste plase in die distrik, ’n spogplaas …”

“Heuningkloof en Rietvlei,” sê sy vrou, “dit was twee mooi plase, het jou pa altyd vertel.”

Tussen hulle woorde in luister George na Paultjie en Johannes se gesprek, na Johannes se stadige, eentonige gesar terwyl die vuur rokerig oplaai, en sy broer se heftige reaksies. “Ander kere …” hoor hy onduidelik. “Beter as nooit nie …” Wydsbeen staan Johannes voor die kaggel met die leë glas nog in sy hand, ’n sta­dige, tevrede glimlag op sy gesig. Die ouer broer glimlag ook van op die agtergrond, die drie besig met die voortsetting van een of ander ou rusie of stryery wat George nie kan volg nie. “Jy moet onder begin,” sê Johannes glimlaggend. “As jy nie eers ’n vuur kan aanlê, kan jy ook nie ’n man se werk doen nie.”

“Wat noem jy miskien ’n man se werk?” vra Paultjie.

“Dinge waaroor seuns soos jy nog maar net hoor praat wanneer hulle saans te laat opbly.” Blykbaar geniet hy dit om hom te probeer kwaad maak.

“As ek sien hoe jy sukkel met daardie vuurtjie sou ek nie graag by wees as jy ’n lont probeer aansteek nie,” sê die oudste broer skielik uit sy stilte, en Johannes lag. Paultjie wil antwoord, maar dan merk hulle dat George na hulle gesprek luister. Johannes draai weg; Paultjie buk voor die vuur.

“Wat sukkel jy so, jong?” vra Hattingh. “Kom, laat ek jou help.”

Onder sy hand spring die eerste vlamme op tussen die fynhout en takke. “Trek julle stoele nader,” sê Hattingh, maar die drie jong mans bly swygend op ’n afstand sit, hul gesigte verlig deur die gloed van die vuur in die donker kamer.

“Maar hy was ’n regverdige man,” sit Hattingh sy gesprek met George voort, “selfs sy teenstanders moes dit erken. Hy’t sy hofsake eerlik gewen, sonder gekonkel; hy kon helder dink en goed praat.”

“Hy was op sy tyd nog Volksraadslid, nie waar nie?” vra mevrou Hattingh.

“Dit was Klasie, hulle het Herman probeer oorhaal om te staan, maar daar het nooit iets daarvan gekom nie.”

“Liesbet het hom natuurlik omgepraat. Haar gesondheid was tóé al nie te goed nie …”

Skielik is hulle stil, uitgepraat. Die vlamme knetter tussen die stompe; buite het die wind opgekom, rammel aan die vensters en laat roet in die skoorsteen afval. In ’n halwe kring sit hulle in die donker na die vlamme en kyk. Klasie en Herman en Liesbet is almal dood, uitgewis, vergete, behalwe in die ge­heue van die Hattinghs hier voor die vuur; soos sy moeder dood is, en sy vader voor haar, met ’n kerk vol belangrike mense en kranse van hooggeplaastes; soos sy grootouers dood is. Hy kyk op en sien in die vuurlig Johannes se oë op sy gesig, Paultjie wat hom swygend aanstaar. Dan kyk hulle weer weg, sonder om iets te verraai van wat hulle gesoek of gevind het.

“Oom Klasie was by my vader se begrafnis,” sê George.

“Klasie het betyds weggekom, ja.”

“Jou ouers was ook ’n lank tyd weg gewees,” sê mevrou Hattingh onverwag.

“In die buiteland, bedoel u? My vader is oorsee gestuur toe ek ’n vyf jaar oud was, en hulle het nooit teruggekom nie.”

“Dit moet swaar wees om so in die vreemde te lewe, ver van jou eie land en jou eie mense.”

“Hy was gewoond daaraan, hy was sy hele lewe in die diplomatieke diens.”

“Maar hy kon toe nog terugkom as hy wou. Om nie te kán terugkom nie, dit moet moeilik wees.”

“Nie moeiliker as wat die lewe hiér vir hom sou gewees het nie,” antwoord George, en besef te laat dat die opmerking takt­loos is.

“Ek weet nie,” sê Hattingh. “Soms dink ek dat die verlange swaarder moet wees as enige onreg of beproewing. As jy swaarkry, kan jy jou nog altyd daarvan oortuig dat jy iets kan doen om jou lot te verbeter, maar wat maak mens met jou gevoelens? En heimwee, ja – hierdie land is deel van ons, hoe kan mens daarsonder lewe?”

In die kaggel val ’n stomp, en hulle kyk in stilte na die vonke wat omhoog skiet.

“Ek weet nie van my vader nie,” sê George, “maar my moeder het baie verlang.” Hy onthou die kerk, die onbekende jong dominee wat van êrens anders gekom het om die diens te lei, en hoe sy moeder langs hom gesit het met die sluier voor haar gesig, ’n sakdoek opgefrommel in haar hand. Ná die diens en die teraardebestelling het sy met dieselfde onbewoënheid langs hom gestaan terwyl die rouklaers kom om hulle ’n hand te gee en ’n paar woorde te sê. “Werklik ’n verlies … ’n Won­derlike intellek … ’n Uiters begaafde man … een van ons beste mense … ’n groot verlies …” Ná al die jare wat sy as diplomaatsvrou deurgebring het, het sy geweet hoe om daar te staan en ’n hand te gee, om name en gesigte te onthou en beleefde woorde met beleefde woorde te beantwoord sonder om iets te toon van wat sy werklik voel. Baie van die mense was vir hom onbekend, maar sy het hulle almal nog onthou, en tydens die rit terug stad toe het sy hulle name vir hom opgenoem, die ministers, generaals, ambassadeurs, rektors, senatore; die mans in uniforms of donker pakke, die vroue in stemmige oordadigheid. Was dit maar om die stilte van haar af te weer dat sy bly praat het? Hulle het anders nooit veel met me­kaar gepraat nie, en daar was selde oomblikke van intimiteit tussen hulle gewees.

“My moeder het baie verlang,” sê hy, en kyk na die dwarrelende vonke. Die wielbande het oor die nat asfalt gesuis, No­vember, ’n dag van fyn, mistige reën, met dennebome wat swart uitstaan teen die grouheid. Daar het woonstelgeboue verbygegaan, glansende vensterglas, skuttings met advertensies, los woorde wat sy oog vang terwyl hy uitkyk en luister na daardie selfbeheerste stem van ’n diplomaatsvrou wat ’n gesprek aan die gang hou. “Hy het by ons in die distrik geboer,” sê sy; “jy sal nie meer onthou nie, maar Heuningkloof was ’n mooi ou plaas. Die laaste keer dat ons vir jou oupa-hulle gaan kuier het, het ek eendag met Ouma soontoe gery om vir Liesbet te besoek – sy was Klasie se skoonsuster, Herman se vrou. Sy was siek, sy was altyd siek, solank ek haar geken het … Ons het jou saamgeneem, met klein Mieta om jou op te pas, en jy het vir haar weggehardloop en gaan wegkruip tussen die kweperbome by die dam.”

Hy hoor haar stem bo die geruis van die bande en sien die verkeerskonstabel wat hulle aanwink, vrouens met kopdoeke, en los, onsamehangende woorde: Épicerie. Cinzano. Chantier, interdit … Hy onthou dit nie meer nie, die middag òf die kweperbome.

Toe het hy omgedraai en na sy moeder gekyk, regop langs hom in die roukar met die sluier nog voor haar gesig, en hy het haar met ’n ongekende duidelikheid gesien. Vir hom was sy altyd ’n vreemdeling gewees, ’n figuur op ’n afstand, besig om Frans of Engels te praat met besoekers of om aan te trek vir een of ander eetmaal of onthaal, terwyl hy self noodgedwonge buite die gang van haar te vol en te besige lewe gelaat is, oorgelewer aan die sorg van duur kindermeisies en die mees eksklusiewe kosskole. Hulle kontak was toevallig, hul gesprekke oppervlak­kig, die geneentheid tussen hulle skaars meer as ’n formaliteit, maar hy het hierdie dinge altyd as vanselfsprekend aanvaar, sonder om daaroor na te dink. Nou toe hy omdraai in die roukar en na haar kyk in die middel van ’n sin, ’n woord, in die middel van die verhaal wat sy vertel, het hy haar egter gesien asof dit vir die eerste keer was: ’n middeljarige vrou wat in ’n ander land grootgeword het en as balling in die vreemde lewe, iemand wie se assosiasies en herinnerings hy nie deel nie en met wie hy nouliks nog iets gemeen het. Hierdie skakels met die verlede, hierdie bejaarde generaals en volksraadslede, is haar werklikheid, het hy gedink, en toe het hy besef hoeveel sy vader se dood vir haar moet beteken en hoe groot die vereensaming is wat dit vir haar impliseer, alleen agtergelaat in die vreemde met die helfte van haar lewe verlore; en hy het sy hand op hare gesit en sy het dit gedruk en haar kop gebuig en begin huil.

Die vonke vlieg werwelend op en verdwyn in die donker van die skoorsteen. “Ek kan dit glo,” sê mevrou Hattingh. “En om dan so alleen gelaat te word – jy was natuurlik nog daar, maar jou vader se dood was tog seker ’n groot verlies gewees. Sy het ook nie ’n maklike lewe gehad nie …” Sy swyg en aarsel, onwillig om verder uit te vra.

“Sy het gelukkig nooit probleme gehad met geld nie,” sê George. “My vader het voorsiening vir haar gemaak. Sy het ’n huis gehad, ’n vaste inkomste …”

“Ek kan my nie voorstel dat Anna ooit tot rus sou kan kom in die vreemde nie,” sê Hattingh. “Ek het haar goed geken toe ons kinders was – ja, dis nou lank gelede, maar mens verander tog nie soveel nie.”

George wag op wat hy nog sal sê, maar hy voeg niks by sy woorde nie. “Sy het ’n sterk persoonlikheid gehad,” sê hy dan. “Sy was altyd besig met iets, sy moes altyd mense om haar hê …”

“Ja, Anna was altyd die voorbok, dit was altyd sy wat die leiding neem wanneer ons saam speel, en selfs óns seuns het na haar geluister.” Hy het begin om sy pyp te stop, nadenkend besig terwyl hy praat. “Ek onthou nog hoe sy eenkeer van die windpomp geval het op Rietvlei, sy was toe seker so ’n nege, tien jaar oud. Na regte moes sy dood gewees het, maar sy’t net ’n paar kneusplekke gehad.” Hy lag by die herinnering.

“En later,” vra George, “toe sy ouer word?”

“Ag, wanneer jy ouer word, verloor jy dikwels kontak met mekaar. Ek is weg kosskool toe en Anna is weg, en later het sy gaan studeer, ons het mekaar net nog in die vakansies gesien. Sy was ’n mooi meisie, aantreklik …” Hy buk om in die vuur ’n takkie vir sy pyp aan te steek en praat nie verder nie.

“Het jy by haar gewoon?” vra mevrou Hattingh vredig, haar hande gevoue.

“Ek het in die stad gebly, in Genève; ek werk daar. My vader het al jare gelede vir hulle ’n huis aan die ander kant van die meer gekoop, en ná sy dood het sy daar bly woon.”

“Dit was seker maar eensaam vir haar.”

“Sy wou nie die huis verkoop nie, alhoewel dit eintlik te groot vir haar was, en dit staan ook nogal afgesonder. Sy het ’n goeie huishoudster gehad, maar dit het moeilik geword toe sy siek word. Ons moes ’n verpleegster vir haar kry, en hulle kon die dokter nie altyd betyds bereik nie …”

“Dit moet swaar gewees het,” sê mevrou Hattingh en staar in die vuur. Dit beteken vir haar niks nie, dink hy, en sy vra hom ook niks meer nie. Die vrae wat in hierdie huis aan hom gestel is, het almal oor bekende mense gegaan, oor dinge wat aansluit by die bekende en vertroude, en dié skraal, middeljarige in­valide op die rooskleurige diwan met haar Franse tydskrifte en Engelse romans bied geen aanknopingspunte meer nie. In hier­die stilte waarin net die geknetter van die vuur nog hoorbaar is, is dit moontlik om die gesprek in ’n nuwe rigting te stuur en ’n ander onderwerp aan te roer, maar hy wil oor sy moeder praat en hoor wat hulle hom nog oor haar kan vertel.

“Sy het stiller gelewe nadat my vader dood is,” sê hy. “Dit was natuurlik nie meer nodig om soveel te onthaal nie, baie van hulle gaste was eintlik sy sakevriende gewees. En dit was ook nie so lank ná sy dood dat sy siek geword het nie.” Hulle luister egter nouliks, hulle reageer nie. “Sy het ’n paar keer na Lon­den of Parys gegaan,” sê hy; “sy het belanggestel in opera en ballet. Eenkeer het sy nog met vakansie gegaan, na die Italiaan­se mere, maar sy het daar siek geword en sy moes ná ’n week al terugkom. Sy het met ’n vriendin gegaan,” voeg hy by in ’n laaste poging om hulle aandag te trek. “Mevrou Minnaar; haar man was vroeër militêre attaché …”

Dit is tevergeefs: in ’n halwe kring sit hulle na die vlamme en kyk asof hulle van sy aanwesigheid vergeet het. Sy stem sterf weg en hy kyk na hulle roerlose gesigte in die vuurlig, laat sy oë van die een na die ander gaan, en sien dan dat die meisie, wat in die kombuis agtergebly het, ongemerk binnegekom het en agter die ander na hom staan en kyk. Hy kan haar nog net uitmaak in die skadu aan die rand van die groep, en wonder wanneer sy gekom het en hoe lank sy reeds so na hom luister.

Dan gaap die oudste seun en rek hom uit. “Ek gaan slaap,” sê hy. “Ek is vaak.”

“Wat is jy dan so ongesellig?” vermaan mevrou Hattingh hom.

“Ek moet môre dieselfde tyd opstaan as altyd, daar is baie werk.”

“Ons moet die aartappels invat koöperasie toe,” sê Hattingh.

“Tog nie môre al nie.”

“Môre of oormôre. Ons kan nie tot aanstaande week daar­mee wag nie.”

Johannes skuif sy stoel ook terug. Die drie seuns het geen deel aan die gesprek geneem nie, net ’n bietjie onder mekaar gepraat, maar wanneer hulle opstaan, word die groep nogtans opgebreek.

“Ja,” sê mevrou Hattingh, “dis seker tyd om te gaan slaap,” en sy sug, maar staan nie op nie.

“Is dit nog altyd jou plan om môre Rietvlei toe te ry?” vra Hattingh vir George.

“As u vir my sal verduidelik hoe om daar te kom.”

“O, dis nie so moeilik nie, maar dit lyk vir my nouliks die moeite werd om die hele ent soontoe te gaan. Daar’s skaars nog ’n murasie oor, die geboue is heeltemal vernietig.”

“Deur wie?” vra hy.

“Dit is al jare lank verwaarloos, geen mens kom ooit daar naby nie; die hele plaas het verwilder. Julle het te lank op julle laat wag.”

“Daar moet tog ’n oppasser wees,” sê George. “Hulle het ons laat weet dat daar ’n oppasser is – my ouers het gereeld geld gestuur …”

Hattingh lag. “Iemand het julle lekker verneuk. Hulle ge­niet dit, hulle’s maar net te bly as hulle iets uit ons uit kan kry. Jy moet op jou hoede wees in hierdie land, sê ek vir jou.”

Mevrou Hattingh het al opgekyk toe hulle oor Rietvlei begin praat. “My man sê ek sou miskien kan saamry Moedersgift toe,” sê sy.

“Ja natuurlik, mevrou.”

“Ek was maande laas by tant Miemie, en dis nie uit jou pad uit nie, jy moet tog daar verbyry.”

“Ek sien jou in elk geval nog môreoggend,” sê Hattingh.

Hulle het nou almal opgestaan. Stoele word reggestoot, Hat­tingh klop sy pyp uit, die meisie is besig om hulle leë glase bymekaar te maak.

“Het jy genoeg komberse?” vra mevrou Hattingh vir George.

“Ja dankie, mevrou.” Sy het hom reeds die vraag gevra.

“Ek kan vir jou nóg uithaal as jy wil. Die aande is al koud …” Sy trek haar trui stywer om haar terwyl sy met hom saam die gang af stap na sy kamer, so vertroud met die huis dat sy die donker nie eers merk nie, alhoewel hy met sy hand na die muur moet voel. “Ja, tant Miemie sal my ook nooit vergewe as ek jou nie daar langs bring nie: Moedersgift grens aan Rietvlei, sy en jou grootouers was bure, sy ken jou familie al jare lank. Laas toe ek daar was, het sy nog oor jou moeder gepraat.” Hy struikel en steek sy hand uit om nie te val nie, maar sy het reeds die deur van sy kamer bereik en skakel die lig aan. “Sy is nog ’n wonderlike vrou vir haar leeftyd, en dit ná alles wat sy deurgemaak het. Haar man was Senator in die ou dae,” voeg sy ingedagte by en kyk vinnig rond om vas te stel of alles in die kamer in orde is: die ouderwetse ledekant, die wastafel met gekraakte mar­mer­blad, die goedkoop klerekas met die deur wat nie behoorlik sluit nie en die geblomde gordyne, “Jy moet sê as daar iets is wat jy nodig het, George,” sê sy. “Ek kan maar vir jou op jou naam noem, nie waar nie? Jy is mos nie ’n vreemdeling nie. Wel te ruste, George.”

Die aand is inderdaad koel, en hierdie onverwarmde, ongebruikte kamer voel klam. Hy moes vanoggend reeds Rietvlei toe gery het, dink hy ongeduldig terwyl hy hom begin uittrek, en hierdie plek verlaat het. In ’n hotel sou hy gemakliker wees as in hierdie huis, en met hotelpersoneel nie minder vreemd as met hierdie mense nie. Maar waarheen sou hy ook gaan? Hy skakel die lig af en klim in die bed.

Klassiek reeks: Na die geliefde land

Подняться наверх