Читать книгу By fakkellig - Karel Schoeman - Страница 3

1

Оглавление

Nouliks het ’n mens te midde van veld en woud die verval van die landgoed gemerk. Geleidelik, geleidelik deur die jare het dit plaasgevind, en daar was skaars iemand wat probeer het om dit te keer. Wie het omgegee? Nie ou lady Harriet nie, wat selde die afsondering van haar kamer verlaat het, nog minder O Ruairc, die agent, wat in sy kantoor whiskey gedrink het en slegs uitgegaan het om te jag. En Arthur self? ’n Kortstondige besoek, die snelle dwarreling van honde en perde, pagters en agente, en dan was hy weer weg, terug Engeland toe, en het die huis agtergebly te midde van die velde en woude wat stil en geluidloos weer die park inneem. David het sy gang gegaan en hom aan landgoed nóg huishouding gesteur. In die huis het hy geëet en geslaap, in die biblioteek het hy gesit en lees, maar selfs hý was skaars meer as ’n besoeker wat gekom en gegaan het soos hy wou, sonder om veel ag te slaan op wat daar om hom heen gebeur.

Wat die mens tot stand gebring het, is langsaam weer uitgewis. Die groot hek het skeef gesak aan sy skarniere, en ná die winterstorms het die takke in die oprylaan bly lê tensy daar van die boerevolk gedurf het om hier by die groot huis te kom brandhout optel. In die broeikaste was daar van die ruite gebreek, en die moestuin is slegs gedeeltelik nog bewerk. Wie was daar om toesig te hou oor die tuiniers? Langsaam het die blombeddings hul netheid verloor, het die gras ruier gegroei en die heinings wilder, die buitelyn van die tuin byna verlore. Reeds het braamtakke begin om die fyn pilare van die somerhuisie te omrank.

Nou in die lente het die oggend gouer helder begin word, en David het vroeg opgestaan en in die tuin gaan stap. Onder deur die bome waar groen blare oopvou aan die takke, geen mens reeds op om die stilte te versteur nie, net hy alleen en die hond wat deur die lang gras hardloop agter konyne aan. Hy stoot die hekkie oop wat na die tuin toe lei: die groot huis voor hom op die hoogte, die grasvelde daaromheen, en die somerhuisie waar ’n vrou se rok wit blink tussen die pilare.

Vir ’n oomblik bly hy staan, sy hand op die knip van die hekkie, sy kinderjare toe sy moeder daar gesit en lees het in ’n ligte rok en tee gedrink het op somermiddae, maar toe herken hy haar en besef dat dit Arthur se vrou is.

Sy het hom gesien, en onwillig word hy gedwing om na haar toe te stap deur die ritselende lang gras.

“David,” sê sy, nog ’n bietjie onseker.

“Jy staan vroeg op.”

“Ek kon nie meer slaap nie, en ek het die voëls buite hoor sing, toe kom ek na buite.”

“Arthur is seker nog nie op nie.”

“O, Arthur het nog so vas geslaap … Maar dit was ook laat gisteraand toe ons hier aangekom het.”

Dit was nag gewees, en met die drukte van hul aankoms het hy in die lig van die flamboue net ’n glimp van haar gesig gekry voordat ou Toby hulle met kerse na hulle kamer voorafgegaan het.

“Jy het nie lank gewag om inspeksie te kom hou nie,” sê hy, en sy lag blosend.

“Ek het soveel van Ierland gehoor, en ek het nog niks daarvan gesien nie, net Dublin gister met ons aankoms.”

“Julle mense in Engeland dink mos ons is barbare.”

“O nee!” Nóg bloos sy. “Daar is dan so baie Ierse mense in Engeland, soos Arthur ook. Maar tog, dit is hier nie soos Engeland nie: ek het dit gisteraand al gesien op pad hierheen, al was dit reeds donker gewees. Die gesigte van die mense óm die koets toe ons stilhou om nuwe perde te kry, en hul stemme – ek het gevoel dat ek in ’n vreemde land is.”

“Was jy nooit vantevore weg gewees uit Engeland nie?”

“Ek was nog nooit êrens anders nie as Londen en Bath.”

Saam kyk hulle uit oor die landgoed, die verre heuwels anderkant die bome, die huis met sy onversteurde vensters.

“Dis ’n mooi somerhuisie,” merk sy toe saggies op.

“My vader het dit laat bou vir my moeder net nadat hulle getroud is: hy het dit laat ontwerp deur ’n argitek uit Engeland.”

“Sy is jonk dood, nie waar nie,” vra sy, “jou moeder?”

“Ja, toe ek nog klein was.”

“Dit raak heeltemal toegegroei.” Sy probeer om die braamtakke terug te stoot.

“Pas op,” sê hy, “jy sal jou rok skeur aan die dorings.”

“Arthur was natuurlik so lank weg gewees. Maar ons kan iemand kry om dit skoon te maak, dan kan ek hier sit in die somer wanneer die bloureën blom.”

Saam begin hulle langsaam terugstap oor die nat grasveld na die huis.

“Arthur sê jy ken die plek,” sê sy skielik; “die hele landgoed. Jy moet my alles vertel, alles wys. Ek wil dit ook leer ken – ek wil leer om dit lief te hê.” Sy glimlag vir hom, en toe verander haar stemming weer. “Hoe laat eet julle?” vra sy.

“Ek weet nie,” antwoord hy hulpeloos. “Die bediendes sal seker netnou begin opstaan.”

“Dis nog vroeg. Ek sal maar na my kamer gaan – daar is soveel wat ek moet doen, al die koffers wat uitgepak moet word.” ’n Oomblik talm sy, en toe glimlag sy weer en verdwyn in die huis waar die glasdeur oopstaan op die terras.

David kyk haar agterna, en toe fluit hy vir die hond en stap stadig verder oor die gras. Dus is dit Arthur se vrou, die erfdogter uit Engeland: dié jong meisie met hare los op haar skouers, die nuwe vrou van Donore.

Toe hy die eerste keer van Arthur se huwelik verneem het, was hy nie seker of hy daarvan hou nie, of van Arthur se terugkeer huis toe. Die lewe tuis sou nie meer dieselfde wees as Arthur ná al die jare in Engeland weer hier moes kom woon nie. Reeds het daar ’n roering deur die mense gegaan, en ou Toby se oë het geblink by die vooruitsig dat Donore weer ’n baas sou hê. “Ek het jou grootvader hier sien aankom met sy bruid, meneer David,” het hy gesê, en bewoë met sy sakdoek oor sy oë gevrywe, “en ek het jou eie vader en moeder gesien; en nóú sir Arthur … Dit sal ’n trotse dag vir my wees, meneer David, ’n trotse dag.” Toe het hy weggesnel om die berig na die bediendes oor te dra: “’n Engelse dame, ’n Engelse erfdogter” – die blote gedagte nog genoeg om hom te vergoed vir sy jarelange ballingskap in Ierland. Êrens het hy dit reggekry om besonderhede van haar familie uit te vind en haar stamboom na te gaan. “Haar grootvader, sir Gilbert, was ’n ridder van die Bad-orde en ’n vriend van die Graaf van Chatham; haar moeder is die dogter van die Burggraaf van …” Met kinderlike genoeë het hy al die titels sit en oorvertel voor die winterkaggel.

Nou is sy hier, die jong lady Alice, en die dae kry weer lewe. Wanneer laas het dit gebeur dat daar soggens mense aankom? O Ruairc het egter oorgery net ná die ontbyt met verkreukelde klere en ’n geskeurde kantjabot spesiaal ter ere van die nuwe vrou van Donore. “’n Eer,” het hy met ’n lae buiging en ’n wye swaai van sy hoed gegroet. “’n Eer, lady Alice, en sir Arthur, om u terug te verwelkom in Ierland, terug na u tuiste. Ons het lank gewag dat u moet terugkom, sir Arthur, maar as dít die rede was vir u afwesigheid, kan ons dit goed begryp, en waarlik, dit was die lang wag werd om lady Alice in ons midde te verwelkom.” Eers vir die een en dan vir die ander buig hy neer met sy hoed teen sy hart aan gedruk, en sy gladde tong is nie stil nie.

Hulle was pas klaar met ontbyt toe hy daar aankom, en David vertoef ’n oomblik om na die vent te luister. Arthur staan met sy hande in sy sakke vir hom en lag, en Alice kyk toe met ’n glimlag op haar lippe, onseker hoe sy moet antwoord, en of daar selfs ’n antwoord verwag word.

“Kan ek jou nie ’n koppie tee aanbied nie, meneer O Ruairc?” vra sy, en staan op om die klokkie te lui vir die bediendes, maar toe sy aan die belkoord trek, breek dit af in haar hand. Arthur bars uit van die lag.

“Nie tee, nie tee nie!” roep hy uit. “Whiskey, whiskey vir jou, nie waar nie, O Ruairc?”, en hy skreeu deur die portaal vir Toby. “Toby! Toby, jou ou duiwel, waar bêre julle deesdae die whiskey? Bring vir ons ’n bottel, man: dis nie meer net meneer David wat hier in die huis is nie!”

Hulle het almal aan die lag gegaan, Arthur voor die vuur en David by die venster, en O Ruairc met die glimlag op sy lippe en sy hoed nog teen sy bors vasgeklem, en Alice met die gebroke belkoord in haar hand en haar oë wat van die een na die ander kyk, nog nie seker hoe sy alles moet verwerk nie.

“Dis Ierland waar jy nou is, my liefste, nie meer Engeland nie!” roep Arthur haar toe. “Hier in Ierland drink ons whiskey net ná ontbyt, vir ontbyt, en die belkoorde breek altyd.”

Hulle lag en lag sonder om self te weet waarom, maar daardie dae ná Alice se aankoms is baie vrolik.

“Dis goed om weer jong stemme in die huis te hoor, sir Arthur,” sê ou Toby terwyl hy hulle bedien aan tafel en van stoel na stoel loop met die wyn. “Dis weer nes die ou dae, toe jy en meneer David nog seuns was, en daarvóór nog toe jou vader klein was, ses kinders in die huis. Maar een van die dae weer, hoop ons …” Hy bly staan tussen Arthur en Alice in, en mymer voort met die wynfles in sy hand. “Dit lyk net gister, lady Alice, dat ek lady Harriet hier sien aankom het, en ek self nog ’n jong man. In die winter was dit, en die mense het vreugdevure by die hek aangesteek om hulle te verwelkom. Die huis was toe nog maar half klaar, maar dit was ’n blye dag. Nege-en-veertig jaar gelede, sir Arthur, nege-en-veertig jaar.”

Alice het geluister na die ou man se praatjies, al het Arthur skaars opgekyk. Vir haar was alles nuut, elke oomblik in die nuwe huis, die nuwe land ’n avontuur. David het na haar gekyk oor die kraffies heen. Sy was ’n blote skooldogter, nouliks bevry van klaskamer en goewernante, gereed om alles interessant en opwindend te vind. Haar uitgelatenheid het iets in hom opgewek – selde in die jare wat hy hier alleen deurgebring het, was hy so vrolik gewees soos hy nou meteens geword het.

Sy wou die landgoed sien, die hele omgewing, en Arthur het David gevra om haar uit te neem in die sjees, want hy het die buurt immers so goed geken: hy self sou hulle te perd vergesel. Die lug was helder agter die skuimende wolke, en ’n groen waas het die takke bedek al langs die oprylaan, maar die koue was nog skerp en winters. Vir Alice weggeduik in die wye kap van haar mantel, egter, was alles genot: langs die modderige paaie waar die takke van die heinings nog kaal rank, verby die heilige put waar die lappies aan die struike fladder, verby die klipmuurtjies en die vervalle huisies van die gehuggies met kinders en kaalvoetvrouens wat hulle van die deure nastaar.

“Hulle is so arm!” roep Alice uit. “Is dit óns mense, Arthur?”

“Hulle’s almal ons pagters, nie waar nie, David? Daar’s ’n hele paar honderd van hulle op ons grond.”

“Maar doen niemand dan iets vir hulle nie?”

Arthur haal sy skouers op. “Wat moet jy vir hulle doen? Enigiets wat jy probeer, is maar net ’n druppel in die emmer. Hul ellende ken geen einde nie.”

Alice bly egter nog staar na die krotjies onder die laag-afhangende strooidakke totdat hulle langs die draaiing van ’n sypad die boerdery bereik.

“Kan ons gaan kyk na die boerdery?” vra sy, haar aandag weer afgelei.

“Dis te modderig,” sê David vir haar. “In die lente kan ons gaan.”

Arthur het sy perd egter al teruggetrek. “Gaan julle maar aan,” sê hy, “ek gaan na die stal toe”; en hy kies kortpad deur die velde, te perd oor die hegge heen na die boerdery.

David en Alice ry alleen voort, verby die kaal populiere wat nog troosteloos staan teen die lug.

“Arthur is baie lief vir perde,” sê sy. “Het julle ’n goeie stal?”

“Ons het goeie perde gehad toe my vader nog gelewe het, want hy het baie gejag, maar ek dink dit is verwaarloos sedert hy dood is. Daar’s teenswoordig net my ryperd, en ’n paar koetsperde wat my grootmoeder gebruik as sy uitgaan.”

“Ek het tuis nooit veel gery nie,” sê sy.

“Jag jy?”

“Ek was ’n paar keer op die jagbyeenkomste gewees. Maar eenkeer het ek die vos gesien terwyl hy probeer wegkom van die honde, en daarna kon ek nie meer gaan jag nie.”

“Dan is daar ten minste twee van ons,” sê hy. “Die mense hier rond jag baie.”

“Arthur ook – ek weet hoe lief is hy vir jag.”

Hulle ry oor die bruggie waar die water verbystort oor die stene en die wilgebome die eerste groen vertoon. In die verte, laag teen die reeds verdonkerende lug, het hy haar die toring gewys van die kerk by Baile an Laoich wat hulle Sondae bywoon.

“Verby die kerk is daar meneer Hardinge se landgoed,” sê hy, “en anderkant die woud is Killcummin Park, die Cunninghams se huis.”

Hy draai om, en met ’n ander pad ry hulle terug huis toe deur die woud. Die ondergaande son het losgebreek uit die wolke en oor die land uitgespoel. Die velde brand groen en die heuwels en woude vloei weg, die dag verlate, geen mens te sien nie, geen rook eers uit ’n skoorsteen nie, en net die voëls wat sing tussen die takke.

Alice skud haar kap af om die wind langs haar gesig te laat verbywaai.

“Dit is so baie soos Engeland,” sê sy, “en tog so vreeslik anders.”

“Dink jy so?”

“Merk jy nie hoe wild die land is nie, hoe ongetem? In Engeland is alles so voorspoedig en welvarend, so veilig, maar hiér – hiér … Ek kan dit nog nie verstaan nie.”

“Ek was nooit weg gewees uit Ierland nie. As jy jou hele lewe lank hier bly, aanvaar jy alles maar soos dit is, en jy dink nooit daaraan om vrae te stel nie.”

“Ek hou daarvan om vrae te stel,” sê sy. “Ek vra altyd.”

Hulle keer terug: die huis is reeds voor hulle. Selfs toe hulle deur die oprylaan ry, rus Alice se oë egter nog op die verre landskap, en daar is iets weemoedigs in haar uitdrukking.

In die ou huis waar lady Harriet en David so lank die stilte gedeel het, het daar weer lewe gekom. Blindings wat jare lank neergetrek was, is opgehaal voor die lentesonskyn, en van die gesluierde vertrekke is die stoflakens verwyder. Bediendes wat nog altyd voor die groot vuur in die kombuis geluier het, het in die sitkamers en portale verskyn met stoflappe en besems. Met ’n skielike en ongekende ywer het die hele huishouding lewe gekry en die verwaarlosing van die jare begin bekamp vir die terugkeer van sir Arthur en sy vrou.

Lente het gekom met sy skuimende wolke en lang, sagte reënvlae, met ’n waas van groen aan die takke en sleutelblomme in al die woude. Arthur se vriende het hulle die eerste langs die modderige paaie begewe, en joelend met hul perde by die voordeur stilgehou. Hul stemme en gelag het die huis gevul, met geskreeu om nóg whiskey en nóg turf vir die vuur: die oproerige Townsends, en Frobisher en Tom Halliday, Arthur se ou jag- en drinkmakkers. David het hom teruggetrek na die stilte van die biblioteek waar die boeke met hul leerkafte onaangeraak staan, en hier het Alice hom gevind in die skuiling van ’n vensternis.

“Daar het van Arthur se vriende kom kuier,” sê sy.

“Dis waarom ek hier sit.”

“Is dít dan waar jy heen kom wanneer jy so skielik verdwyn?”

“Soms. Dit is ten minste die één plek in die huis waar jy selde gehinder sal word.”

“Wie het al die boeke versamel?” vra sy terwyl sy langs die rakke dwaal. “Jou vader?”

Hy lag. “My vader het nooit aan ’n boek gevat nie. My grootvader het hulle uit Engeland laat kom toe die huis gebou is, seker maar hoofsaaklik vir die vertoon, soos die muurpapier en die gordyne. Daar is soveel reeds verkoop om skuld te betaal, en niemand stel belang in hulle nie. Ek is die enigste persoon wat ooit hier kom.”

“Ek het al gehoor hoe baie jy studeer, hoeveel boeke jy gelees het.” Sy kom langs hom sit by die venster. “My vader het ’n groot biblioteek gehad en hy het my altyd daarin laat lees wat ek wou. Daar was soveel boeke, Franse boeke ook, en ander tale: Latyn, Grieks, Hebreeus. Ek het baie gelees, sommer rond en bont, net genoeg om my kop vol idees te kry en niks behoorlik te leer nie.”

Met gevoue hande staar sy uit na die fyn reën wat weer begin aankom oor die bome van die park, haar geblomde rok helder in die skemering van die vertrek.

“Is jy eensaam hier?” vra hy.

“Dit is nuut en vreemd, en ek sal nog moet gewoond raak daaraan. Maar ek sál.” Vir ’n rukkie is sy stil. “Wanneer sal die reën ophou?” vra sy dan.

“Eendag skielik wanneer jy dit nie verwag nie – dan sal die son skyn en die hele land sal groen wees.”

“Dan sal ek gaan blomme pluk in die park, sleutelblomme en narsings. Jy moet my wys waar die blomme groei, David. Maar wanneer sal dit wees?”

Arthur se vriende het vir die aandete gebly, en die kraffies het óm en óm gegaan in die kring rondom die tafel. Hulle het vroliker en luidrugtiger geword: hulle het planne beraam om te gaan perde koop in Cill Chainnigh, hulle het geswets oor die meisies wat hulle verower het en die jagavonture wat hulle meegemaak het, en dit was ná middernag toe hulle sing-sing vertrek het.

Die reën het verbygeruis en die lente het aangegroei: die nat bome en hegge het geskitter in die sonlig. Daagliks het Arthur na die boerdery gegaan om die perde te inspekteer. Met die mooi weer het ander besoekers ook langs die landspaaie aangekom, en heel eerste het die Cunninghams hul opwagting gemaak, lady Elizabeth met wuiwende vere aan haar hoed en haar bende giggelende dogters almal saamgeprop in die koets, en meneer Cunningham self gedwee agterna te perd, oorstem soos altyd deur die vroumense.

Eers toe die tee bedien is, het David hom by die geselskap gevoeg, want Alice het vir Toby gestuur om hom in die biblioteek te gaan soek, en onwillig het hy toegelaat dat lady Elizabeth hom oorweldig.

“David, uiteindelik! Wanneer laas het ons jou gesien? Jy moet hom onder hande neem, lady Alice; dis nou jare lank dat hy afgesonder hier leef. Daar is geen dans of jagbyeenkoms in die omtrek wat hy ooit bywoon nie – hy sonder homself net af met ’n klomp boeke. Dis onnatuurlik, al hierdie gelees! Wat word van die jongmense deesdae?” Speels gee sy hom ’n stampie. “Toe, jou vabond, jy kan hand bysit noudat jy opgedaag het. Fanny, Maria, laat David vir julle tee bring, en moenie dat hy weer verdwyn nie!”

Cunningham begroet David se koms met verligting waar hy voor die venster staan, ongemaklik by al die vroue.

“Goeiendag, David,” groet hy. “Weet jy miskien waar Arthur is?”

“Ek glo hy het gaan ry, meneer Cunningham – moontlik sal u hom nog by die boerdery vind.”

“Kom ons stap af soontoe en kyk of ons hom daar kry.”

Hy beweeg reeds na die deur, maar Fanny en Maria spring op van die rusbank om David beet te gryp, een aan elke kant, terwyl hulle moeder vertederd toekyk.

“Ag nee, Pappie, Pappie kan nie nou al weer vir meneer David wegsleep om na die perde te gaan kyk nie! Hy’t nog nie eers ’n koppie tee gekry nie.”

Hulle vader is egter nie te kere nie, en David gaan met hom saam. Toe hulle buite kom, is dit asof Cunningham weer asemhaal: hy is ’n klein mannetjie, maar dit is byna asof hy groter word, en hy stap meer selfversekerd, sy rysweep vasgeklem agter sy rug.

“Ek wou nog met Arthur kom gesels het oor daardie jagperd wat Ned Carey wil verkoop,” sê hy, “maar ek het nooit die kans gekry nie. Ek was toe laasweek by kolonel Gunning gewees en hy sê hy glo …” Hy gesels voort, vry om weer oor mannesake te kan praat, en David moet weinig meer doen as luister.

Hulle stap van die huis af weg oor die groot veld in die rigting van die boerdery toe hulle sien hoe Arthur na hulle aangery kom. Nooit ry hy padlangs nie, altyd in dolle vaart oor die velde, en sierlik styg sy perd oor hegge en slote totdat hy langs die twee mans stilhou.

“Mooi so, jong!” roep Cunningham uit. “Jy weet darem nog hoe om op ’n perd te sit, ten spyte van al die jare in Engeland.”

“Wat dink jy dan, kêrel? Ek het darem nie die hele tyd by bals en dobbelsale deurgebring nie. Ek het ’n paar deksels goeie jagte meegemaak.”

Saam draai hulle om en loop terug huis toe deur die lang gras van die veld.

“En toe, Arthur,” vra Cunningham, “is jy nou vir goed terug?”

“Ek hoop so. Ek het ’n vrou gekry, ek is getroud, en dit is al rede waarom ek ooit weggegaan het. Nou kan ek weer aandag gee aan Donore.”

“Die plek het ’n baas nodig.”

“Dit hét – alles is maar verwaarloos. Ek sou nie durf om te gaan jag met die ploegperde wat ons deesdae hier het nie.”

“Julle’t goeie perde gehad toe jou vader nog geleef het.”

“Almal verkoop toe ek die geld moes hê om Engeland toe te gaan. Onthou jy nog daardie sweetvos wat my vader in Durlas gekoop het? Maar ek gaan die stoet weer opbou, dat ons ordentlike perde kan hê vóór die jagseisoen begin. Hoe sê jy, sal jy met my oorry Killboy toe om te gaan kyk …”

Onder die kastaiingbome gaan hulle op die draad leun om te gesels oor Ned Carey se jagperd, en David verlaat hulle sonder dat hulle hom selfs sien gaan. Hy het sy lewe lank maar min met hulle te doen gekry – selfs as kind is hy aan homself oorgelaat terwyl Arthur en sy vader dag na dag gejag het of besig was met tuie en gewere. Hy het buite die kring gestaan, sy moeder vroeg reeds oorlede, sy grootmoeder teruggetrokke in haar kamer met al haar vae kwale, en niemand het op hom ag geslaan nie. Alleen het hy in die biblioteek gesit en lees, alleen het hy rondgedwaal deur die landgoed, oor die velde en heuwels van die omgewing. Toe het sir Frederick van sy perd geval, een glashelder wintersdag toe die grond glad was van die ryp, en is hy dood huis toe gedra; en Arthur het Engeland toe gegaan om ’n ryk vrou te soek met wie se geld hulle die landgoed aan die gang sou kan hou. Dié taak is ook verrig, en met sy bruid het hy teruggekeer na Donore om David se lewe te verander.

“Die Cunninghams gaan ’n bal gee,” vertel Alice een aand aan tafel. “Lady Elizabeth het vanmiddag ’n bediende oorgestuur met die uitnodiging.”

“Die ou vrou sal elke dag van die week ’n bal gee as sy die kans kry,” mompel Arthur.

“Sy sê dit is sodat ek die kans sal kry om al die bure te ontmoet. Kan ons gaan, Arthur?”

“Dis jý wat ’n bal behoort te gee, Arthur,” val lady Harriet haar in die rede; saans het sy nou weer te voorskyn getree uit die kamer waar sy haar so lank ingemessel het, en hulle vier het aan die lang, leë tafel gesit, oneindig ver van mekaar rondom die gloed van die kerse. “Die laaste keer dat hierdie huis vol mense was, was met jou vader se begrafnis.”

“Ag Ouma, hoe kan ek dan nou ’n bal gee? Dit kos musikante, en ’n kok uit Dublin …”

“Dit is deel van jou verpligting teenoor die bure. Toe jou grootvader nog geleef het, het ons byna elke week gaste gehad en gedans in die lang galery. Die mense …”

“Toe Oupa geleef het, was die lang galery nie vol vlermuise nie. Dit staan al jare lank gesluit.”

“En kan jy dan niemand kry om dit te verf en skoon te maak nie? Is daar dan nie genoeg bediendes in die huis nie?”

Toby, wat agter hulle stoele gedraai het, sit die skaal wat hy vashou neer om deel te neem aan die gesprek. “Lady Harriet,” sê hy, “met hierdie bende is daar letterlik geen huis te houe nie. Sou ek die galery nie lankal laat regmaak het nie as ek kon? Maar dit is heeltemal verniel, die reën het ingewaai en die behangsel is klaar. Die kandelare het ons afgehaal toe sir Arthur weg is en op die solder gebêre, en nou weet geen mens waar hulle is nie.”

“Ja, mag die duiwel jou daarvoor beloon!” roep Arthur. “Ek kon daardie kandelare laat verkoop het, en weet jy hoeveel sou ek daarvoor gekry het?”

“Jou grootvader het hulle spesiaal uit Frankryk uit bestel toe die huis gebou is,” voeg sy grootmoeder daaraan toe.

“Ons sal nuwes moet kry as ons die galery weer wil gebruik, lady Harriet. En ek het nou die dag vir lady Alice gesê, nuwe behangsel en nuwe gordyne ook.”

“Jy het my al van soveel dinge vertel wat ons nodig het, Toby,” antwoord Alice. “Maar eers moet my eie kamers regkom.”

Alice het ’n stel kamers aan die suidekant op die eerste verdieping vir haar gebruik oorgeneem, en dae lank is die huis nou vol werksmense wat die stoele en rusbanke moet oortrek en die Sjinese muurpapier plak met sy takke en drywende blomme. Een oggend toe Alice vir David op die trap teëkom, sleep sy hom na binne om dit alles te bewonder.

“En toe?” vra sy. “Is dit vir jou mooi?”

“Dit is baie mooi, ja. Al die vroue in die omtrek gaan jaloers wees op jou.”

“En David, jy gee nie om dat ek nou hier is nie, dat jou hele lewe deurmekaar is?”

Hy kyk na haar. “En waarom dink jy ek gee om?”

“Jy het tog so lank die vryheid van die huis gehad, jy kon doen wat jy wou, jy was alleen gewees. En nou is alles op loop.”

“Jy hinder my nie, Alice, en Arthur sien ’n mens tog skaars.”

“Ja, Arthur het soveel om hom besig te hou …” Vir ’n oomblik kyk sy weg. “Kom ons gaan pluk blomme, David – ek wil die kamers vol affodille hê. Waar kan ek ’n mandjie kry?”

Saam hardloop hulle die wye trap af en saam uit na buite oor die sonnige velde. In die park is die beuke en olme enkele massas lower, en die affodille staan in plate goud onder die bome.

“Ek was so lank laas buite gewees,” sê Alice; “die veranderings aan die huis het my besig gehou. Ek wou nog sneeuklokkies gesoek het, en sleutelblomme.”

“Hulle blom in die nat maande, en jy moet deur die modder en die moerasse gaan, in die velde onderkant die boerdery – daar sal jy die meeste sleutelblomme kry.”

“Aanstaande jaar, dan sal ek weet waar om te soek. Dan sal ek elke woud en veld en sloot ken, nè David? Jý sal my rondneem.”

“Het jy dan reeds jou hart aan Ierland gegee?” vra hy.

“Ek doen dinge altyd met my hele hart, nie half nie. Nou is Engeland iets van die verlede en Ierland is my land; nou moet ek aan Ierland behoort, heeltemal. Wanneer jy iets doen, moet jy dit doen met al jou krag. So doen ék dit ten minste.”

Haar gesig is ernstig onder die breë rand van haar hoed. David lag. “Wag tot die winter,” sê hy, “wanneer die wind en die reën dag na dag te kere gaan rondom die huis, en die vuur wil nie brand nie, en die hele land is ’n enkele modderpoel sodat jy nie kan kom of gaan nie.”

“Ek sal loopskoene aantrek en ek sal uitgaan! In die wind en die reën – só leer jy die land ken. Jy moet uitgaan en vasval in die modder en oor muurtjies klim en jou klere skeur aan die braamtakke. Jy moet natreën en met die skaapwagters gesels en in die hutjies van die mense ingaan.”

“As jy één winter meegemaak het of in één hut ingegaan het, sal jou geesdrif gou verdamp,” merk David op.

Sy kniel onder die bome met haar arms vol blomme en ’n ligte blos van verontwaardiging op haar wange. “Jy dink ek is ’n kind,” sê sy, “dat ek oor ’n paar maande weer sal omswaai en heeltemal verander. Maar ek sal nie! Ek het Ierland met my hele hart aangeneem, en ek sal dit met my hele hart liefhê!”

Haar erns is vir hom amusant, maar tog ’n bietjie ontroerend: sy lyk so jonk in haar somerrokkie met haar arms vol affodille, dog hy glimlag nie. “Moenie kwaad word nie,” sê hy; “ek is maar net sinies van aard. Miskien sal jy my nog bekeer.”

Toe lag sy weer. “Ja, dit gee my ’n doel in die lewe. ’n Mens moet ’n doel hê.”

“Waar het jy al jou idealisme geleer?” vra hy.

“Seker maar uit boeke, of van my vader. Hy het soveel verhewe opvattings gehad, oor slawerny en presbendes en die doodstraf. Ek onthou nog hoe hy ’n heildronk ingestel het op Frankryk toe die Bastille geval het – hy het altyd so ’n tien of twintig private Bastilles gehad om te bestorm. Jý kan nou voorlopig mý Bastille wees, David: jy kan my leer om die land te ken, en ek sal jou leer om dit lief te hê.”

Sy glimlag vir hom. “Goed,” sê hy, en toe kniel hy langs haar om met sy sakmes van die blomme vir haar af te sny.

Die affodille staan goud saamgebank in die lenteson: teen die heuwel op agter die huis waai hulle in die wind, en blom tot aan die rand van die meer. Toe haar mandjie vol is, stap hulle voort en vergeet van die blomme.

“In die somer kan ons tee drink op die gras onder die bome,” sê sy. “Ons kan pyl en boog skiet.”

“Jy sal eers die gras moet laat sny,” werp hy teë, “en die dooie takke laat wegsleep,” maar sy slaan geen ag op hom nie.

“Of ’n fête champêtre, en bootjies waarin ons op die meer kan gaan roei.”

“Die roeiboot lê al jare lank en rot in die boothuisie, as die bediendes dit nie opgekap het vir brandhout nie.”

“En ’n bal kan ons hê, ’n gemaskerde bal …”

“Met die vlermuise al langs die kroonlyste in die galery.”

“David, jy probeer net om moeilik te wees! Ons kan dit alles nog laat regmaak.”

“Dit is Ierland wat jy met jou hele hart wil liefhê,” val hy haar in die rede, “en dít is die manier waarop ons dinge doen in Ierland – het jy dit nog nie geleer nie? As jy die gras wil laat sny, sal hulle jou vertel dat die sens gebreek is, en daar is niemand om dit reg te maak nie, want die smid is weg na Cillin vir sy skoonma se begrafnis …”

“David, ek sal nie na jou luister nie!” Sy lig haar rok op en hardloop langs die afdraande van die veld terug na die huis met die mandjie wat swaai aan haar arm, sodat die blomme uitgestrooi lê oor die gras, David laggend agter haar aan. Van die boerdery kom Arthur te voet aan deur die lang gras, en Alice werp haar asemloos teen hom aan.

“En toe,” vra hy, “wat maak David vir jou?”

“Hy verpes my hele oggend – hy probeer om my te ontnugter oor Ierland, om my alles te laat glo wat sleg is.”

Arthur lag. “Dit hoef hý nie te doen nie – Ierland sal jou self wel ontnugter as jy lank genoeg hier bly.”

“Arthur, dit sal nie!”

“Of anders sal dit jou beetpak, ten spyte van alles wat David of enigiemand anders kan doen of sê.” Hulle stap na die huis toe, Alice aan sy arm. “Dit sal jou beetpak en jou vashou, meer nog as selfs jou eie land kon doen.” David kyk na hom, en vir ’n oomblik lyk hy effens beskaamd oor die gevoel wat hy blootgelê het. “’n Mens kry jou land lief,” sê hy verontskuldigend, “al besef jy dit skaars. Dis hiér waar ons hoort.”

“Sien jy?” vra Alice vir David. “Maar ons sal hom nog bekeer, nè Arthur?”

“Jy sal jou hande vol hê met hom,” sê Arthur, “ná al die jare dat hy hier alleen was en net gemaak het soos hy wou.”

“Maar nou nie meer nie – alles gaan nou anders wees. Jy sal saamkom na die bal by die Cunninghams, sal jy nie, David?”

Hulle bly staan op die trappies voor die huis, Alice aan haar man se arm, en David kyk op na hulle. Ná die intimiteit van die oggend toe hulle saam blomme gepluk het, is sy nou weer verlore, sy en Arthur saam op pad na binne, die heer en vrou van Donore.

“Ek kan nie dans nie,” sê hy.

“Ek sal jou leer – toe, David, kom saam. Dink net aan al lady Elizabeth se dogters wat sonder dansmaat sal wees as jy nie kom nie. Toe, David, om mý ontwil.”

Hy kyk na haar, na haar gesig onder die breë rand van haar hoed waar sy langs Arthur staan. “Goed dan maar,” sê hy.

“O, wonderlik! En dan kan ons hiér ’n bal gee, nè Arthur, wanneer my kamers klaar is. Jy moet kom kyk, hulle het die spieëls al opgehang …”

“Stadig met al die geld,” sê Arthur. “Ek wil nog ’n paar perde koop.”

Hulle is al weg na binne, en David bly alleen agter. Die tuin strek baie groot en stil weg in die sonskyn, en die gekwetter van die voëls kom van ver. Sy en Arthur deel ’n lewe waar hy buite staan, en die besef is soos ’n skielike pyn.

Hy stap weg onder die bome van die park. Hy was nooit bewus gewees van sy eensaamheid nie, so vlot en selfgenoegsaam het sy lewe verloop, maar die bewustheid het gekom, nou ná hierdie samesyn met Alice. Hulle het gelag en gehardloop deur die sonnige velde, en toe het sy aan Arthur se arm na binne gegaan, Arthur se vrou. Waar sal hy nou ronddool totdat dit tyd is vir die middagete? Geen vooruitsig kan hom meer aantrek nie.

Geleidelik begin hy om steeds meer Alice se geselskap te soek, en te verlang na haar jeug en haar geesdrif waarvoor sy eie teruggetrokkenheid ’n bietjie onbeholpe bly staan, maar tog bekoor. Sy begin om hom te leer dans, en die bal – sy eerste bal – word selfs iets om na uit te sien. Toby het êrens in die omgewing ’n vioolspeler uitgesnuffel, ’n armoedige ou blinde man, en elke middag lei een van die diensmeisies hom aan die hand die trap op na die lang gang waar hy op ’n bankie in die hoek sit om vir hulle te speel. Contredanse, boeredanse en kotiljons – een vir een het Alice hulle vir David probeer leer met klikkende hakke oor die vloer: chassé, jeté en assemblé, en so goed as wat hy kan, doen hy dit na. Gewoonlik lag hulle egter soveel dat hulle uiteindelik hulpeloos moet neersak en die les beëindig. Die vioolspeler kan hulle nie verstaan nie, want hy ken slegs gebroke Engels, maar hy glimlag goedig saam, en dan gee Alice hom ’n paar pennies en sê vir Toby om vir hom ’n glasie whiskey te skink, en die ou man bedank haar met sy viool teen sy bors aan gedruk: “Dankie, milady; mag God u seën, milady …”

Dit is mooi dae, die sonnige dae van daardie lente. Arthur is heeldag by die boerdery waar die langbeenvullens nou oor die velde hardloop, of hy ry rond in die buurt om ou vriende op te soek. Noudat die paaie weer begaanbaar geword het, kom die vroue van die omgewing ook om Alice op te soek: mevrou Burnwood, die predikantsvrou van Baile an Laoich, en die juffroue Brady in hul ouderwetse perdekarretjie; mevrou Caldwell van Auburn Park met die koets vol joelende kinders, ou mevrou Townsend van Lochane, en die jong mevrou Frobisher, al die vooraanstaande buurvroue wat kom kennis maak met lady Alice. Wanneer hy die koetse tussen die bome van die oprylaan sien aankom of die geluid van perde hoor voor die huis, glip David altyd weg, ten spyte van Alice se pogings om hom te laat bly. Hy wil tog nie in ’n hoek sit en luister terwyl hulle tee drink, met al hulle skinderpraatjies en maneuwers om hulle dogters getroud te kry, nóg kan hy met hulle mans en seuns gesels, wanneer dié hulle vergesel, oor die enigste onderwerpe waaroor hulle ’n gesprek kan voer: jag, perde, politiek, en miskien ook die boerdery. Hy verdwyn altyd wanneer daar besoek kom.

Maar tog hinder die koms van al hierdie mense hom nie soos dit vroeër sou gedoen het nie. Die getimmer in die huis, die gewerskaf van diensmeisies wat vloere vrywe of vensters was onder Toby se vitterige toesig, die man wat die gras sny – al hierdie bedrywigheid is iets nuuts en nogal opwindends, soos ook die koms van die besoekers en die geleenthede wanneer Alice uitgaan om besoek af te lê by een van die groot huise in die omtrek. Wanneer hy dan alleen tuis bly, is die eensaamheid en stilte van die leë huis nie meer so aantreklik vir hom soos voorheen nie. Hy sien uit na die dansles op die spieëlgladde vloer van die lang gang, en selfs na die bal by die Cunninghams.

Daar heers groot bedrywigheid op Donore vir dié geleentheid, en Alice is so opgewonde soos ’n skooldogter, want sy het nog nie veel bals bygewoon nie, en Toby het haar uitvoerig vertel op hoe ’n luuksueuse skaal die Cunninghams onthaal. Lady Elizabeth is lid van ’n vooraanstaande Engelse gesin, en nooit vergeet sy die glorie van haar huis of laat sy toe dat iemand anders dit doen nie, al is sy nou die vrou van ’n onbelangrike Ierse grondeienaar. Die geld wat haar man nie aan perde en kaartspeel spandeer nie, word dan ook op rojale wyse bestee aan bals, dinees en reise na Dublin vir die Seisoen.

Die lenteaand is nog helder toe hulle by Killcummin aankom vir die bal, die lug besig om te verkleur anderkant die bome wat die huis insluit. “Cunningham het nog ’n goeie klomp hout wat hy van die hand kan sit,” merk Arthur op terwyl hy uitkyk deur die venster van die koets.

Die huis is verlig, livreiknegte in die portaal, en lady Elizabeth by die deur om hulle welkom te heet met vere in haar hare. “Sir Arthur, lady Alice, ek is so bly om julle hier te sien. En David! Ek het nooit verwag dat jy sou kom nie – hoe het jy dit reggekry, lady Alice? Maria, sien jy wie gekom het? Hou jou oog op hom, my kind, en sorg dat hy vanaand élke dans dans.”

Maria, skraal en onaantreklik in haar wit aandtabberd, het hom reeds aan die arm beet en lei hom weg. “Ja, meneer David, ons het juis vanaand so ’n goeie orkes – hulle het spesiaal van Dublin gekom. Was jy al dikwels op danse in Dublin?”

“Ek was nog maar selde in Dublin.”

“O ja, jy hou ook nie veel van die sosiale lewe nie, nie waar nie?” Sy lag senuweeagtig. “Maar ek is so bly dat jy vanaand kon kom; daar was so lank laas ’n bal gewees hier in die omgewing, en Mammie het soveel moeite gedoen vir die geleentheid. Is sir Arthur van plan om ’n bal te gee noudat hy weer terug is by die huis?”

“Ek kan regtig nie sê nie – ek weet nie wat sy planne is nie …”

Sy lei hom die groot saal binne, helder verlig met die gloed van waskerse. Die gesinne van die omtrek is reeds bymekaar, die meisies wat opgewonde hul waaiers laat fladder en met mekaar giggel, die mans ongemaklik saamgebondel op ’n afstand; en die modieuse jongelinge wat deur lady Elizabeth vanuit Dublin genooi is, staan ’n bietjie afkeurend opsy, onderskei van die plaaslike jong mans deur die deftigheid van hulle brokaat en sy.

“Dis ’n neef van die Hertog van Leinster,” fluister Maria vir hom. “Dáár, met die blou baadjie. Hy is vreeslik populêr in Dublin; sy vader …”

Die orkes begin stem, die fluite en viole aan die onderent van die vertrek, en ’n paar vroue begewe hulle met ritselende rokke op die dansvloer aan die arm van hul maats, al die vaag-bekende gesigte van die grondeienaarsgesinne uit die omtrek. Hy kan nóg Arthur, nóg Alice sien, Maria die enigste bekende.

“Die kotiljon,” sê sy hoopvol.

“Sal ons dans?” vra hy, en haar gesig word helder terwyl hulle uitgaan op die vloer.

Hy kan nie goed dans nie, maar sy kan ook nie, en niemand anders kom haar vra nie, sodat dit mettertyd begin lyk asof hulle die aand saam sal deurbring. ’n Paar maal dans hulle, maar hoofsaaklik sit hulle op ’n rusbank in die hoek en kyk na die dansers, na Alice in haar glansende rok te midde van die veelkleurige menigte, besig om elke dans te dans, jonk en lewendig en grasieus. Die saal word warm van al die kerse, en hy begin rondsoek na ’n verskoning om weg te kom, maar hy kan Maria nie sommer so verlaat nie.

“Ek het so pas weer The Castle of Otranto gelees,” merk Maria op.

“O?” vra David; en dan, om die stilte te breek: “Hou jy daarvan?”

“Nie soveel soos van Udolpho nie: die natuurbeskrywings is tog so mooi, soveel gevoel – dit verhoog selfs die spanning.” Sy lag senuweeagtig. “Ek durf dit nie eers lees ná sononder nie, net bedags, buite in die tuin. Maar dan kan ek weer nie ophou nie. Dis so opwindend, jy vergeet heeltemal die eentonigheid van die alledaagse lewe.”

Die musikante begin weer stem: wie sal hulle verlos? Maar toe herinner een van die skoothondjies uit Dublin hom aan sy plig teenoor sy gasvrou se dogter, en hy kom oor die dansvloer in die prag van sy geborduurde onderbaadjie om Maria met ’n buiging te danse te vra. Hulle buig en glimlag, en hy voer Maria weg terwyl David verlig van die rusbank af vlug.

Oorkant die kamer kan hy Alice sien tussen die mense, en hy baan sy weg na haar.

“Sal jy met my dans?” vra hy. “Net één dans?”

Sy kyk na hom en lag. “Het jy vanaand dan só verlief geraak op dans, David?”

“Nee, maar ek wil met jóú dans, net omdat dit jý was wat my geleer het. Dan sal ek uittree.”

“Vir goed? Ag David, moenie sê dat dit jou ook verveel nie! Jy en Arthur is darem baie ongesellig: julle sal nog maak dat ons die eerstes is wat vanaand hier weggaan.” Juis tóé kom een van die Townsend-seuns haar egter ’n glasie wyn bring, en sy draai na hom toe. “Die derde dans ná hierdie een,” fluister sy vir David, en toe is sy weer vir hom verlore.

Die eerste styfheid het oorgegaan en die gaste ontspan. Al om die vertrek volg die oë van die getroude vroue voldaan die gang van hul kinders op die dansvloer terwyl hulle hulself koel waai en met die wuiwende vere en linte van hul hooftooisels vooroor leun om met mekaar te gesels. Een of twee kyk om en sien David agter hulle waar hy teen die deurstyl aan leun. Sir Arthur se broer, fluister hulle agter hul waaiers: ’n aantreklike jong man, maar eienaardig. Hy het alleen grootgeword, en hy kom nou immers nêrens nie, dwaal maar net by die huis rond, so onsosiaal. En vanaand het hy heelaand saam met Maria Cunningham op die rusbank in die hoek bly sit …

David staan en kyk na die dansers, die buigende pare, die mooi, vlegtende patrone van die dans, die helder kleure van brokaat en sy wat weerkaats lê in die glimmende vloer. Mense gaan verby, mans met dames aan die arm; van ’n aangrensende kamer kan hy gelag hoor en manstemme. Die hele buurt is vanaand hier saam, al die grondeienaars van so ver as Killboy en Renmore.

Lady Elizabeth kom aangeruis, rooi van die inspanning, met ’n vaag bekommerde trek op haar gesig. “David,” sê sy, “wat staan jy hier so alleen?” Haar oë soek rond op die dansvloer en toe kom daar effense verligting: Kitty wat dans met ’n appelgroen onderbaadjie uit Dublin. “Het Maria jou dan versaak? Kom, laat ek jou aan ’n paar meisies voorstel.” Juis op daardie tydstip word haar aandag egter afgelei deur ou regter Greenwood, ’n gesette, hoogdrawende mannetjie met ’n ouderwetse pruik. “Meneer Greenwood, u het gekom! Ek het u nie eers gesien nie!”

Hy buig. “Ek het gedink dat ek nie sou kan kom nie,” sê hy galant, “maar ek het die poging aangewend, lady Elizabeth, en ek is bly dat ek dit gedoen het. My enigste beswaar is dat u ons nie dikwels genoeg op so ’n feestelikheid trakteer nie.”

Sy tik hom speels op die arm met haar waaier. “O, meneer Greenwood, u vlei my net,” verklaar sy, maar hy luister nie eers nie, sy vinnige klein ogies besig om rond te beweeg in die balkamer.

“Daardie meisie in blou, daar anderkant by die venster …”

Sy is dadelik attent. “Kolonel Gunning se oudste dogter, van Killeen – kan ek u voorstel?”

Saam stap hulle weg in die rigting van die meisie by die venster. Die tweede dans het tot ’n einde gekom, maar David het Alice uit die oog verloor. Hy gaan op die dansvloer om haar te soek, maar hy kan haar nie vind nie. Kitty druk by hom verby aan die arm van die appelgroen onderbaadjie: hy is vasgevang tussen die pare wat op en neer beweeg om hulle posisies in te neem, dog hy kan Alice nie sien nie. Wanneer die musiek begin, moet hy opsy gaan aan die rand van die vloer om na die gesigte van die dansers te kyk in hul verbygang, die bejaarde mans met gepoeierde hare, gemaak-galant en uit-asem, die jong meisies met hul krulle en linte en strikke, gekleurde baadjies en rooi baadjies, silwer gespes aan die skoene, gestreepte kouse en sykouse: die Caldwells van Auburn Park wat orals is waar daar ’n vry maaltyd te vinde is; die Careys wat hul hele lewe te perd deurbring (nooit is hulle sonder gebreekte been of arm of sleutelbeen in die gesin nie); die Hallidays wat die hele boonste verdieping van hul verwaarloosde huis gesluit het omdat die dak lek; jong offisiere van die garnisoen in Droim Cille; die verhewe, verveelde gaste uit Dublin daardeurheen; en Alice aan die arm van een van die jong soldate op die vloer tussen die ander dansers.

Sy het vergeet van die dans wat sy hom belowe het. Vir ’n rukkie bly hy daar staan om na hulle te kyk, en toe loop hy weg.

In al die vertrekke van die huis brand daar kerse, eetkamer, ontvangkamer en studeerkamer; in die portaal en die galery en langs die breë trap. Hier en daar sit daar mense; twee vroue kom hom verby in die gang.

“Sy het natuurlik haar oog op die jong sir Robert,” merk die een op, “dis die rede vir al hierdie vertoon. En om ’n indruk te maak op die bure, natuurlik.”

“Wel, ek hoop om háár ontwil dat Kitty hom kry, want sy het genoeg geld hiervoor spandeer. Ek weet nie hoe hulle sulke dinge kan bekostig nie – haar familie is wel ryk, maar hulle gaan die Cunninghams tog nie in der ewigheid onderhou nie.”

“O, koop nou, betaal later. Alles kom van Dublin, waar die winkeliers haar nog nie so goed ken nie.”

David kyk na die familieportrette langs die mure, lady Elizabeth se familie, soos feitlik alles in hierdie huis van haar is: háár geld ook wat Killcummin die bes versorgde huis in die omtrek maak, en die Cunninghams in staat stel om onthale te bekostig soos hierdie bal vanaand.

Van die studeerkamer kan hy gelag hoor en die geluid van manstemme: hy herken Arthur, en Cunningham, wat die heelaand nog nie sy verskyning gemaak het nie. “En toe ek die honde daar sien, stuur ek die pikeurs in na die kante – nog ’n pond, vriend; geld op die tafel! – en ek ry op langs sy skuilplek …” Die kaartspelers en jagters het hulle afgesonder van die bal.

Doelloos dwaal hy deur die huis. Hier en daar sit mense saam en gesels of gaan by die glasdeure uit op die terras in die koelheid van die aand. Die meeste van die gaste is egter saam in die balkamer, opgevang in die vlegtende patrone van die dans.

Hy gaan uit na buite, die nag donker en sonder maan; dit is nog koel, en anderkant die bome roep die kriekies. Die klank van die musiek het ver en gedemp geraak.

Hy bly staan daar buite in die donker. Sal hy teruggaan huis toe? Dit ìs tog net ’n paar myl deur die velde langs ’n kortpad wat hy ken, en eerlank sal die maan ook op wees. Hy bly egter talm: hy kan tog nie deur heinings en oor slote gaan in sy aanddrag nie, en nog méér bly hy omdat die balkamer hom aanlok, die helder huis vol kerse, al die mense, die laggende meisies, die geruis van taf en satyn. Ná sy eensame jeug is dit alles vreemd en onbekend, maar tegelyk trek dit hom ook aan, al moet hy aan die buitewyke van hierdie wêreld bly staan.

Eers nadat sy oë gewoond geraak het aan die donker van die terras sien hy dat daar iemand teen die balustrade aanleun: ’n man, wat omdraai toe hy David agter hom hoor, en in die dowwe lig van die huis herken David die Hertog se neef.

’n Tyd lank bly hulle daar staan in die donker, want David wil nie dadelik van hom af weg beweeg nie, en ná ’n rukkie begin die ander jong man praat.

“Is jy ook iemand wat nie belang stel in dans nie?” vra hy. David kyk op, ’n bietjie verbaas oor die aanspreek deur hierdie vreemdeling uit ’n ander wêreld.

“Nie baie nie. Ek kom eintlik nie dikwels op bals nie.”

“Jy bly hier in die omtrek?”

“Ja, op Donore, nie te ver hiervandaan nie.”

Hul gesprek is beëindig, maar aangesien dit plaasgevind het, kan hy nie skielik wegloop nie, en bowendien, waarheen sou hy gaan? Hy gaan sit op die balustrade in die donker by die ander jong man, en hulle kyk na die verligte vensters van die huis waar mense op en neer beweeg in die kamers, en hoor die verre klank van die musiek. Hulle sê niks nie, maar hulle stilte is nie onvriendelik nie.

“Ek het nie verwag om so iets deftigs hier op die platteland aan te tref nie,” merk die jong man op. “Dit is soos Dublin.”

“Ek was nog ’n kind gewees toe ek laas in Dublin was.”

“Stel jy nie belang in die sosiale lewe nie?”

“Nee,” sê David.

“Dit ís ook nie baie interessant nie,” beaam sy metgesel; “óf baie sinvol. Maar dit is mooi, dink jy nie so nie?”

“Ja, dit is mooi.”

“Soos Versailles,” sê hy. “Ek het gaan toer op die Vasteland net voor die Rewolusie – Frankryk, Italië, al die gewone plekke. Ek was nog maar ’n seun, en dit het ’n groot indruk op my gemaak, al die rykdom en weelde, die geweldige trots en grasie, en die onreg daarvan.” Hy gesels afgetrokke, besig om die gesprek aan die gang te hou, maar sy gedagtes is elders en sy oë gevestig op iets anders. “Nou is dit verby,” sê David om die gesprek aan te vul.

“Ja, wie sou dit kon gedink het? Nou lê die koppe in die strooi van die Place de la Guillotine, en die sale van die paleis staan leeg waar hulle gedans het.” Meteens is dit asof hy weer aandag skenk aan David. “Maar jý is seker konserwatief, nie waar nie?”

“Waarom?”

“Al júlle grondeienaars is immers.”

“Ek het geen vaste oortuigings nie,” sê hy verontskuldigend, en die ander man lag.

“Ek het gedink miskien sal ek jou skok of verontwaardig – sommige van ons mense in Dublin is geneig om baie liberaal en rewolusionêr te wees.”

“Ek is bevrees dat ek maar min van dié dinge af weet,” sê David. “Die meeste van ons weet maar min van énigiets af. Ons is tevrede om voort te gaan soos ons vaders en grootvaders, in gemak en onkunde. Ons kan nie glo dat daar ooit iets kan verander nie, al het die verandering reeds ingetree.”

“Die Rewolusie?” vra David, maar hy weet skaars of die lae, afgetrokke stem tot hom gerig is.

“Ja, die Rewolusie. Dit het ons hele geskiedenis in twee geskeur: vóór en ná die Rewolusie, soos die tyd vóór en ná Christus. Dis soos ’n groot wind wat opgekom het in die stilte en aanwaai oor die vlakte, oor die hele Vasteland; wat alles daarvoor wegdwarrel soos stof en dooie blare. Maar hier dans die mense vanaand voort, en hulle hoor nie eers hoe die wind opkom nie. Hulle sal dit pas besef wanneer die teëls van die dak afwaai en die hele huis óm hulle begin neerslaan.”

David begryp skaars wat hy sê. In die huis word die klank van musiek harder: iemand het die gordyn voor ’n venster teruggetrek, en die lig van binne val dwarsoor die terras. Arthur verskyn in die deur en bly ’n oomblik daar staan.

“David,” roep hy. “Is dit jy? Weet jy waar Alice is?”

“Sy het nog gedans toe ek haar laas gesien het,” roep hy terug, en Arthur gaan weer na binne. Hy wil seker huis toe gaan, maar David voel nie meer lus om te vertrek nie, tevrede om hier te bly sit met die jong man wie se naam hy nie eers ken nie, neef van – het Maria gesê die Hertog van Leinster?

“Sal ons iets gaan drink?” vra sy metgesel en staan op. Hul gesprek is beëindig, en saam gaan hulle na binne, na die eetkamer waar daar slegs ’n klein, senuweeagtige soldaatjie in die hoek aan ’n skaal vrugte staan en peuter. Die lang tafel is bedek met skale, borde, flesse en glase, en die spieëls teen die mure vermenigvuldig die vertoon oor en oor.

“Laat ons eet, drink en vrolik wees,” sê die jong man saggies, “want môre sterf ons. Dalk nog op die guillotine,” voeg hy met ’n effense glimlag by terwyl hy die fles wyn teen die lig ophou.

Hulle bly staan by die tafel en drink hul wyn, maar die aanwesigheid van die swygende, verveelde soldaatjie in die hoek maak hulle onwillig om verder te gesels.

Reeds is daar van die gaste besig om te vertrek, want dit is al oor middernag: groepies mense beweeg langs die gang af, vroue met ruisende rokke maak mantels en serpe bymekaar, mans groet met harde stemme, en daar is koetse voor die deur. Daaragter duur die musiek nog voort.

“Jy is een van die huisgaste, nè?” vra David onbeholpe om die stilte te breek.

“Ja, ons gaan môre terug na Dublin.”

Die woorde laat David effens treurig voel: teruggaan, weggaan na ’n ander lewe, en hy sal hier alleen bly met die elkedaagse.

“Die Sekretaris het my gevra om ondersoek in te stel, maar ek het vir hom gesê, ‘My liewe man, hoe kan jy dink dat dit moontlik is om iets uit te vind in hierdie godverlate land?’ …” Dit is sir Thomas Walsingham wat die kamer binnegekom het, die plaaslike parlementslid: ’n groot, swaargeboude man met trae, plegtige waardigheid, en die lint van ’n orde oor sy bors. Ou regter Greenwood loop effens agter hom aan en kyk op na sy gesig terwyl hy bevestigend sy kop skud.

Sir Thomas knik vir David se metgesel. “O, is jy hier?” vra hy sonder belangstelling. “Ek het gedínk dat ek jou vanaand hier gesien het. Gaan dit nog goed met jou ouers?” Sy oë gaan oor David heen sonder reaksie; na die soldaat kyk hy nouliks.

“Ek het dit oor die onrus onder die boerevolk,” gaan hy voort terwyl hy vir homself wyn skink. Hy praat met die jong man en ou Greenwood word plotseling geïgnoreer, asof hy besluit het om hom tot sy gelykes te beperk. “Dit is duidelik dat die Rewolusie in Frankryk hulle net aangemoedig het. Ek glo dat dit nodig is om drastiese stappe te doen voordat dit te laat is en die hele saak hand-uit ruk.”

“Mense wil net sit en praat in die parlement,” mompel Greenwood terwyl hy tussen die skale op die tafel rondsnuffel. “Daar’s veels te veel filosofie en gedebatteerdery deesdae; wat ons nodig het, is aksie.”

Nóg sir Thomas nóg die jong man slaan ag op hom. “Ek sou dink dat die bestaande wette drasties genoeg is,” sê die jong man, sy glas in sy hand.

“In watter opsig?”

“U is tog seker vertroud met die bestaande wetgewing in verband met die Ierse bevolking, met die houding wat daar teenoor hulle ingeneem word. Die Ierse volk is gebreek deur Willem III, en ons het gesorg dat hulle sedertdien op die grond bly, met ons voet stewig op hul nek. Wat het ons hulle gegun – laat staan maar die politiek – selfs op die gebied van godsdiens of opvoeding?”

“Ek is bevrees dat sulke maatreëls nie genoeg is om veiligheid te verseker nie,” antwoord sir Thomas effens spottend. “Dit is nie genoeg om te verhinder dat daar gegryp word na pik of na gaffel sodra die geleentheid hom voordoen nie – die gebeurtenisse in Frankryk het dié feit voldoende bewys.”

“En watter verdere stappe sou u dan voorstel om te verhoed dat die Ierse boerevolk die slegte voorbeeld van die Franse volg?” Sy toon is ewe lig en spottend, asof die onderwerp nouliks ’n ernstige bespreking waardig is.

“Hang hulle!” werp Greenwood tussenbei. “Dis my oplossing vir die hele vraagstuk.” Hy is besig om ’n hoenderboud af te kou, sy hande vetterig. “Ek gee nie om wáárvoor hulle voor my verskyn nie, of hulle ’n vark gesteel het of die baas te lyf gegaan het – ek het lankal uitgevind dat die galgtou die beste en die vinnigste oplossing is. Niks minder as dít sal op hierdie mense ’n indruk maak nie.” Hy skeur die laaste vleis met smaak van die been af.

Sir Thomas stryk die kant van sy mansjette reg en antwoord glimlaggend.

“Daar is sonder twyfel drastiese stappe nodig. Daar was altyd ontevredenheid onder die gepeupel gewees, maar die Rewolusie in Frankryk het dit aangewakker, en nou is die oproerigheid besig om op onrusbarende wyse toe te neem: daar is selfs van die hoër klasse, van die adel, wat aangetas word. Ons moet ingryp terwyl ons nog kan en hardhandig optree. As jy ’n mal hond sien, skiet jy hom; jy probeer hom nie paai met mooi woorde nie.”

“Maar ís die hond mal? Is hy nie net ’n waghond wat blaf om sy eie goed te verdedig nie?”

Sir Thomas kyk op. “Wat presies bedoel jy?” vra hy skerp.

“Strawwe – die galg of wat ook al – word toegepas wanneer daar ’n misdaad gepleeg is. As ’n mens probeer om sy eie regte te verdedig, sy eie waardigheid te handhaaf, kan sy optrede tog nie as ’n misdaad gestraf word nie.”

“En wil jy dan dat ons hier moet sit en toesien terwyl daar ’n opstand om ons heen opgebou word?” vra sir Thomas verontwaardig.

“Wie probeer om ’n nasie onder te hou, moet opstande en geweldpleging verwag,” antwoord die jong man. “Dit is ’n beroepsrisiko – die Bourbons het dit reeds uitgevind.”

Sir Thomas word pers in sy gesig. Die soldaat, wat ’n swygende toeskouer gebly het, trek hom verder terug in sy hoek, en ou meneer Greenwood gaap hulle met oop mond aan.

“Weet jy watter beginsels jy besig is om te verkondig?” vra sir Thomas.

“Ek weet dat ek die beginsel van regverdigheid voorstaan.”

“Jy laat jou wegvoer deur ’n klomp blink woorde, en deur die ongesonde politieke opwinding wat deur die gebeurtenisse op die Vasteland veroorsaak is. Jy vergeet dat jy ’n plig het teenoor jou stand, teenoor jou mense …”

“Mý mense is die mensdom, en ek is goed bewus van die verpligtings wat ek teenoor hulle het.”

Hulle het hulle stemme verhef: die are staan uit aan sir Thomas se slape. Lady Elizabeth kom aangeruis uit die gang, en met ’n enkele oogopslag sien sy wat daar verkeerd is.

“Is dít waar u u vanaand skuilhou?” snel sy op die jong man af. “Ons het so dikwels gehoor hoe goed u kan dans, en ons het u die hele aand skaars op die dansvloer gesien. Kom, u gaan ons tog nie teleurstel nie?” Haar hand is reeds op sy arm terwyl haar oë die kamer vinnig deurkyk om te sien hoe sy die groepie kan opbreek. “David, lady Alice soek jou orals. En kaptein Hinwood! Nee, sir Thomas, u moet tog nie al die jong mans so weglok nie: die dames sal u nooit vergewe nie! U sal my verskoon as ek hulle hier uitja dat ons hulle ’n slaggie in die balsaal kan sien.”

Sy doen die groepie geleide uit die eetkamer; Alice kom aan van die balkamer. “David, waar kruip jy weg? Wat van die dans wat jy wou hê? Ek het jou oral gesoek. En Arthur wil maar net huis toe gaan …” Arthur volg haar ook, die hande in die sakke.

“Sir Arthur, tog nie nou al nie!” roep lady Elizabeth uit. “Lady Alice begin die dans dan nou eers geniet. Nee, moenie gaan nie – ek verbied dit volstrek!” Alice neem David se hand beet en lei hom na die balsaal.

Dit is reeds laat, en die pligsgaste het afskeid geneem. Die balkamer is nie meer so vol nie, en deur die oop vensters kom die koelheid van die nag na binne. Met Alice se hand in syne gaan David voort op die dansvloer te midde van al die ander pare, aarsel, vergeet die passies, en haak vas in die middel van die dansers, maar altyd trek Alice hom terug in die ritme van die musiek. Sy is ’n goeie danser en sy geniet dit ook: sy strek haar hand uit en glimlag vir hom, en geleidelik verloor hy sy eerste onbeholpenheid en hou op om te dink aan sy voete. Hy word meegesleep deur die vrolike, uitbundige jongmense. Wie gee om hoe goed hy kan dans?

Hy begin die aand geniet, die gevoel van eensaamheid en uitgestotenheid vergete. Die aand behoort aan hulle, die jongmense, die Cunningham-meisies, die huisgaste, die laggende, luidrugtige Townsends en Careys, die Gunning-meisies van Killeen, wie se ou chaperone-tante ingedommel het op die rusbank. Die gesmelte was stol vas óm die kerse, dog hulle het besit geneem van die aand, van die nag. Cunningham verskyn in die deur en kyk hulle verveeld aan met bloedbelope oë, maar hulle slaan geen ag op hom nie. Hulle lag en dans en drink pons en dans weer, in vlegtende, draaiende patrone. Die skoonheid van die aand oorweldig David, die musiek, die kerslig, die glimmende vloer waarop die helder klere van die dansers weerkaats word, die geruis van die meisies se rokke, en die geklik van hul hakke terwyl hulle spring en draai oor die dansvloer heen. Met die wisseling van dansmaats kom hy te staan voor Maria Cunningham wat hom beetgryp met natgeswete hande en laggend wegdwarrel, haar hare in haar oë, so uit-asem dat sy nie meer kan praat nie. Fanny loer hom in die verbygaan skelm aan uit die hoek van haar oog; Kitty lag hom toe en dans voort om die appelgroen onderbaadjie van sir Robert in te haal. Hy draai om om Alice terug te vind, helder en suiwer in haar wit rok.

Daardie aand is hy gelukkig, opgeneem in die sorgelose kring. Hulle dans en lag en kyk nie na die klok nie, nóg slaan hulle ag op hul eie slaperigheid.

Alice staan langs hom voor een van die vensters met ’n ligte serp om haar skouers gedraai. “Kyk,” sê sy, “dis oggend.”

Aan die ooste het die gloed van die dag verskyn, en in die eerste lig het die bome van die park sigbaar begin word. Verbaas besef hy dat hulle die nag deur gedans het.

“Ons sal moet gaan,” sê Alice. “Sal jy vir Arthur gaan soek?”

Kerse brand laag en rokerig; een van die musikante gaap en krap sy kop met sy strykstok. Daar is nog net ’n paar mense in die balkamer. Dus is dit verby.

Arthur is uitgestrek op ’n bank in die portaal en David kan hom nie wakker kry nie, maar hy laat die koets kom, en twee van die bediendes dra vir Arthur daarheen. Lady Elizabeth kom vermoeid om hulle te groet, die vere uit haar hare, die juwele van haar hals, en ’n sjaal om haar skouers. Die bediendes het begin om die kerse te blus. Die jong man uit Dublin kan hy nêrens sien nie.

In die koets teenoor die slapende Arthur sit Alice en David elk in ’n hoek en uitstaar. Die dag groei aan, koel en helder van die dou onder die silwer hemel, en in woude en hegge het die voëls begin sing. Die land is stil en onuitspreeklik suiwer, geen mens op die paaie nie en die strooidakhuisies onverstoord.

“Dit sou lekker wees om te stap,” sê Alice, half aan die slaap; “kaalvoet deur die velde.”

“Ons kán as ons wil,” antwoord hy, sonder dat hy goed meer weet wat hy sê. “Die land is ons s’n.” Die naklank van die musiek is egter nog in sy ore, en hy vergeet wat hy wou sê. Hy gaap en kyk uit na die silwer stamme van die beukebome, en toe maak hy sy oë toe.

By fakkellig

Подняться наверх