Читать книгу 'n Hap van die appel - Kristel Loots - Страница 3
Оглавление1
Ek is mal oor mans. Nes my ma. Of nee, eintlik jok ek, eintlik máák mans my mal. Vir háár ook.
Nie alle mans nie, maar amper almal. Veral die liewe Gustav. My ma hou nie van hom nie en ek verstaan hom nie. Ek verstaan hoe sy lyf werk, wel, so min of meer. Maar daardie kop van hom is soos die binnekant van ’n diep, donker grot. En ek vermoed daar skuil ’n paar lelike vlermuise in die hoekies rond.
Ja, ja, ek ken die storie van Mars en Venus en elke ander flou verskoning in die boek. Ek weet boys will be boys. Ek weet ook wat die bittereinder-volbloedfeministe sê wanneer hulle nie ’n man kan kry nie: “A woman needs a man like a fish needs a bicycle”. Ag, twak! ’n Mens hét ’n man nodig. Vra my. Ek weet. Of vra vir Frankie, sy weet ook.
“Can’t live with them, can’t live without them.” Dis haar motto elke keer dat hierdie free-spirit vriendin van my een uit die bondel trek om ’n naweek of wat mee te verdwyn. “Ons ís darem van dieselfde spesie.”
Izzit? wil ek vra.
Want ’n mens sou tog verwag dat daar teen dié tyd al iets van ’n eeue lange beskawing aan die manlike deel van die spesie moes afgesmeer het.
Gmf. Toe nie! Gooi ’n rugbybal tussen ’n klomp van hulle in en kyk hoe klim die grotman selfs uit ’n Carducci-pak met ’n fênsie Italiaanse das om die nek.
“Wat ís dit met mans en rugby?” wil ek by Gustav weet waar ek langs hom staan terwyl hy sy tas pak.
Hy antwoord my nie dadelik nie, vou eers sy hoeveelste designer-hemp met wetenskaplike presisie sodat geen kreukel sy image daar anderkant in Australië sal bederf nie. Dis ’n menéér van ’n hemp, een van daardie wat ’n padda na ’n prins kan laat lyk. Luigi Borrelli, Hugo Boss, Zegna, niks is te goed vir daardie small-to-medium-lyf van hom nie. Hy met sy nommersewe-blinkleerskoene en sy netjiese swart sokkies, die liefde van my flippen lewe.
Die man is mal. Wat hy nie plaaslik kan kry nie, laat hy invoer. Betaal ’n plaas se prys daarvoor en pronk soos ’n pou in sy peperduur klere, sy stertvere parmantig orent.
Ek loop self nie in vodde rond nie, vergeet dit. Wat aan my voete pryk, vertel ’n storie van sy eie. Verder ondersteun ek die young designers-korps met hul way-out outfits met my hele hart en beursie. Maar ek moet uithaal en wys om by Gustav se vertonerigheid by te bly.
Moerse duur smaak wat die mansmens het. Geen wonder ék het sy oog gevang toe hy my die eerste keer by ’n lah-di-dah affêre raakgesien het nie. Seker my ouma se necklace uit die jaar toet wat ek vir die aand geleen het – die een met die string diamante – wat hom verblind het, waarop hy aanvanklik verlief geraak en afgestorm het.
Sommer die volgende dag al het hy vir my ’n boodskap op my Facebook-muur gelos. Iets lekker corny oor hoe cute ek die vorige aand was, dat my cuteness eintlik gebottel en ten duurste verkoop moet word.
Wat kan ek sê? Cute is my middelnaam. Is blond, móét flirt. Wel, soms, in elk geval ... Ek ís nogal ’n Facebook-flerrie van formaat. Skrik vir niks nie. My vingers vlieg verleidelik oor die keyboard en ek is so witty jy kan met my toor. Want sien, dan het ek genoeg tyd om allerhande wisecracks uit te dink.
Dat ek nog nie ’n psycho opgeline het met my Facebook-geflerrie nie, is ’n wonderwerk. Want die beloftes wat ek daar suggereer, sal enige man se battery gelaai kry.
Maar daar het nie veel van die Facebook-flerrie oorgebly hier waar ek nou so verwese soos ’n weggooihond staan en kyk hoe Gustav sy tas pak nie. Hy streel oor die hemp wat heel bo in die tas lê. Dêmmit, ek sweer daar is nou meer gevoel in sy vingers as wanneer hy aan mý raak. Sowat van liefdevol sien ’n mens nie aldag wanneer ’n man met sy hemde omgaan nie.
Ek moes seker aangebied het om sy tas vir hom te pak, moes seker sy klere vir hom met die hand gewas en gestryk het, sy sokkies in mooi bondeltjies gevou en sy skoene vir hom blinkgevryf het. Maar ek wou nie.
Streng feministe is ’n uitgestorwe spesie, hul sieninge oor mans so uitgedien soos G-strings vandat hipsters in die mode is. Ek verbrand nie my ingevoerde Victoria’s Secret-bra nie. Nottedêm! Buitendien, ás my inner feminist dalk nog oorleef het, is sy die afgelope paar maande behoorlik getem onder Gustav se ysterhand.
Maar soms voel ek tog hoe pluk-pluk die gees van daardie gestorwe feminis ergerlik aan die voorskootbande wat haar aan die kombuis gekluister wil hou. Veral omdat sy nie ’n domestic goddess se watsenaam is nie. Daarom kan die liefde van my lewe sy eie fênsie flippen Calvin Klein-onderbroeke en oopgulp satynslaapbroeke pak wanneer hy die verte invlieg, thank you very much.
Dis erg genoeg dat ek by die huis gelos word soos ’n ou paar pantoffels wat gemaklik is om in te loop, maar te uitgetrap is om te dra waar ander mense dit kan sien. Wat ’n belediging! Veral vir my. Ek dra skandalige slangvel-stilettopantoffels by mý pajamas, nie plat pantoffels wat lyk asof ’n honger hond dit beetgehad het nie.
Toe Gustav se hemp uiteindelik netjies genoeg gevou is na sy smaak en hy daarin slaag om tydelik daarvan afskeid te neem, verwerdig hy hom om na my te kyk. “Hoe vra jy dan so, Maxie? Jy weet hoe dit is. Rugby is the sport of kings.”
Nee, dit is nie, polo is glo the sport of kings. Dink ek. Maar ek weet ook wanneer dit beter is om Gustav nie te onderbreek nie. Of hom teë te gaan nie. Hy sal vir jou stry tot duskant Salomo se wyshede en die res van die aand op Google rondbodder totdat hy ’n antwoord kry waarvan hy hou.
“En die mammies teen die mure hou ’n telling van die biere?” haal ek aan uit ’n Schuster-song. Maar Gustav lag nie, hy frons.
“Rugby bring die veggees in ’n man na vore, Maxie. Dis ’n vorm van oorlogvoering en die sterkste span oorwin,” probeer hy iets profounds kwytraak.
“Om dan die oorwinning saam met strippers en groupies te vier?”
“Jy praat nou van die spelers, ek is die skeidsregter.”
Gustav kyk na my asof ek ’n kind is. Ek verdien dit seker, ek gedra my soos een. Dêmmit! Get ’n grip, Maxie-man.
Maar vir wat pak hy dan al daardie spoggerige hemde in? Om wát mee te maak? Wanneer aan te trek? Na vergaderings toe? I think not! Ek dink tog hy kuier, nadat die telkaart geskryf en die balle gebêre is, ewe lekker saam met die spelers by plekke waar die reëls van ordentlikheid en goeie Suid-Afrikaanse Calvinistiese fatsoenlikheid buite die deur gelos word.
Gelukkig is die Australiese meisies van die lelikste wat daar is. Almal het ietsie van ’n kangaroe in hulle. Dieselfde vaalheid, dieselfde vreemde spits gesigte, groot ore en ’n verbysterde, onnosele uitdrukking op die gesig. Pear-shaped. Child-bearing hips en hoeka altyd opgesaal met ’n kleintjie in die buidelsak. Praat van ’n passion killer!
Nie juis iets wat Gustav sal aanspoor om sy fênsie flippen Calvin Klein-onderbroeke te vertoon nie. Ek het hulle voorheen al so gesit en kyk toe Gustav ook hier weg is om in die ANZ-stadion in Sydney te gaan blaas. Dra die lelikste skoene denkbaar aan daardie plat plaaspote van hulle. Nie soos ék nie – ek het skoene waarvoor ander vroue sal moor. In die regte geselskap noem ek manne soos Manolo, Salvatore en Jimmy op hul name.
Ek kyk Gustav in die oë. “Die jongste rugbyskeidsregter nóg wat gekies is om in ’n internasionale halfeindstryd die fluitjie te blaas,” mymer ek. “Dis ’n eer, ’n voorreg.” Ek weet nie wié ek nou juis probeer oortuig nie. Vir hom of vir myself.
“Net jammer ek word nie genoeg betaal daarvoor nie. Nie as jy die beledigings wat ek moet verduur in aanmerking neem nie.”
Dis waar. Die arme Gustav word soms van ’n kant af sleggesê, wáár hy ook al saam met die spanne op die veld draf. Maar nou ja, it comes with the territory, dan nie?
Shame! Die arme ou het hard gewerk om te kom waar hy is. Opleiding gekry, eksamen geskryf, eers vir hoërskole geblaas, later vir klubrugby, toe op provinsiale vlak. En nou selfs op internasionale vlak. Nie iets wat in enige ou se wit rugbybroek sit nie. Ek behoort hom seker meer te ondersteun.
“Dis net,” probeer ek verduidelik, “dat dit nie vir my lekker is om soos Penelope ewe kuis by die huis te sit terwyl jy soos ’n wafferse Odusseus allerhande wonderlike avonture beleef nie.”
Maar ek moes geweet het – Gustav sal die Griekse mitologie verdraai soos dit hom pas. “Dis sterk te betwyfel dat Penelope ewe kuis by die huis bly sit het, my liewe Maxie,” help hy my reg. “Die een na die ander hoopvolle minnaar het om haar gedraai terwyl Odusseus ná die Trojaanse Oorlog deur gevare, oponthoude en teenstanders geworstel het, met net een begeerte en verlange in sy hart: om terug te keer huis toe.”
Ek begin wonder of ons nog van die oorspronklike Odusseus en Penelope praat. Ek dink Gustav is besig om van homself ’n held in ’n totaal fiktiewe verhaal te maak en van my die vrou by die huis wat aan die rondflerrie is. I wish! Ek het laas in my Facebook-flerrie-dae geflirt en ’n behoorlike date met sjokolade en blomme en ’n lekker vet, nat koebaaisoen gehad.
“Penelope se vlerkslepers het sy wyn uitgesuip en sy beeste geslag. Teen die tyd dat hy uiteindelik by die huis uitgekom het, was hy ’n arm man,” vertel Gustav lustig verder.
“Maar Penelope het haar amoreuse kuiergaste weggewys,” keer ek vir die eer van my eweknie. “Niemand dink ooit aan háár lyding nie, dat sy sleg afgeskeep moes voel terwyl sy jaar ná jaar vir Odusseus moes wag nie. Ek weet hoe sy gevoel het.”
Gustav rits sy tas toe en kom staan voor my. “Hierdie halfeindstryd gaan ons lewe verander, ek belowe. Daar’s lig aan die einde van die tonnel, ’n bietjie ‘bling’, jy sal sien.”
“Hoe so?”
“Daar is iets wat ek jou wil vra, pop. ’n Blink ding wat ek vir jou wil gee. Sommer vanaand nog. Voordat ek môre Sydney toe vlieg. Ons moet praat, ek en jy.”
Huh? Praat? Hy? Gustav wat so ver as moontlik van praat af wegbly? Vir my ’n blink ding gee, iets vra? Wat vra?
’n Deel van my lewe flits voor my oë verby. This is it! Sowaar, this is flippen it of my naam is nie Maxie van der Merwe nie. At flippen last! Daar is net een moontlikheid, een wat my soos ’n koeël uit ’n geweer tref.
Skielik voel dit vir my of die vloer onder my oop-skeur. Ek voel-voel na die koppenent van die bed sodat ek iets kan hê om aan vas te hou as daardie gat in die vloer hier op die vier en dertigste verdieping my dalk wil insluk.
“Gustav ...” Ek soek na woorde. “Wat bedoel jy?” My stem slaan dun deur toe die opgewondenheid my beetpak. “Wat wil jy my vra?”
Maar meer kry ek nie uit hom nie. Hy lag, soen my liggies op die neus. “Jy sal jou nuuskierigheid tot later vanaand moet beteuel, jou mooi ding. Wag hier vir my. Dit sal die moeite werd wees. Wat ek vir jou het, moes ek lankal vir jou gegee het.” Hy klop-klop op sy baadjie se binnesak. “Genoeg ‘bling’ om jou ogies te laat blink.”
En daarmee is hy by die deur uit.
Die opwinding laat my maag draai. En my kop ook. Bling? ’n Blink ding? ’n Ring is ’n ding wat blink, wat blink, ’n ring is ’n ding wat blink, sing dit in my kop. Dis net logies waarop Gustav afstuur. Uiteindelik op afstuur. Só kon ek en hy tog nie vir altyd aangaan nie. Dit het tyd geraak vir die volgende logiese stap. Dis wonderlik, dis great, dis befonk, dis wat dit is!
Voor my oë sien ek die hele tafereel afspeel. Die rok, die blomme, die troumars, die predikant, die skoene, o, die skoene ... Ma sal my seker by die kerk inbring. Jammer ek het nie ’n pa wat dit kan doen nie. Of altans, ás ek een het, weet ek nie waar hy is nie. Of hy nog leef en of hy al tot stof vergaan het nie. Ek wéns ek het geweet, ek wéns ek kon ontslae raak van die vreemde verlange in my na ’n pa wat ek nooit geken het nie.
Maar met of sonder ’n pa – ek sal my nie laat keer nie. Ek sal my bes doen om van my troudag iets spesiaals te maak. Flip! Ek wag lank genoeg daarvoor. Dis nou al die derde jaar dat ek dieselfde verjaarsdag oor en oor vier, want veel ouer as dertig mag geen vrou amptelik wees nie. Een of ander tyd gaan my kullery my seker begin inhaal en voor dit gebeur, moet ek getroud kom.
Daar sal fotograwe wees, die media natuurlik ook. Dit sal groot genoeg nuus wees om die koerante te haal. Nie oor my nie, maar oor Ma, natuurlik. Sy sal ’n hoed dra, een van daardie skeppings wat haar uitrustings so perfek afrond wanneer sy oor die rooi tapyt stap met die parlementsopenings. Die ander parlementslede en hul vroue kan maar probeer, maar dis gewoonlik Ma wat die meeste aandag trek, háár uitrustings wat die publisiteit kry, op háár wat die kameras fokus.
En dit gaan nie net oor haar hoede nie. Met enige geleentheid waar sy haar politieke party verteenwoordig, koer die ontwerpers al maande voor die tyd om haar ore vir die voorreg om haar uitrusting te ontwerp. Ma lyk goed in enigiets. Sal dalk nog op my groot dag ook beter lyk as ek, selfs al dra ek ’n paar Manolo Blahniks of Galliano-skeppings aan my voete wat nog nie hier in Suid-Afrika gesien is nie en ’n trourok wat spesiaal deur een van die Groot Name plaaslik vir mý ontwerp is. Ma sal weer die meeste shine vang, my thunder steel. Ek leef my hele lewe daarmee saam, ek sal dit weer kan doen.
Solank ek net getroud kom. En my van verander word. Ek is hartlik siek en sat daarvan om Maxie van der Merwe te wees, Johanna van der Merwe se dogter. Dan maar eerder Maxie de Lange, vrou van Gustav de Lange, rekenmeester en skeidsregter in sy vrye tyd. Young and upcoming. ’n Mover en ’n shaker, al is dit ook op klein skaal.
Ek sien dit alles voor my afspeel, ek hóór dit. Die mense, familie, vriende, die rugbyspelers ook, die boys in al hul fleur, elkeen met ’n beauty queen aan die sy. Gewoonlik blond. So hier en daar ’n donkerkop. ’n Lerato of ’n Thandiwe met ’n eksotiese skoonheid waarteen ek nie op gelyke voet kan meeding nie. Olyfkleurige lywe in helderkleurige rokke, wulpse figure, heeltemal anders as myne.
Maar dis oukei. Ek kan dit vat. Is mos self darem nie té lelik nie. Behalwe natuurlik my voete – daar het Moeder Natuur lelik opgeslip. Ek is nie soos ander skoenbehepte vroue wat oor niks anders kan praat nie. In my geval is dit nie tipiese leëkoppie-ydelheid wat my pootjie elke keer wanneer ek verby ’n skoenwinkel stap nie – dis ’n noodsaaklikheid om stiletto’s te dra wat die asems wegslaan.
My tone het elkeen ’n wil en persoonlikheid van hul eie, met die kleintoontjies effens eenkant asof hulle skaam is om met die ander geassosieer te word. Lelike voete, krom tone – dis waarmee ek die lewenspad bewandel.
“Jou groottone lyk soos skilpadkoppe,” het Dora kleintyd opgemerk.
Sy was nie verkeerd nie. Elke keer wanneer ek kaalvoet is, en dit gebeur nie sommer nie, sien ek die skilpadkoppe wat spesiaal vir my uitgesoek is om my nederig te hou. ’n Man met ’n voet-fetish sal sowaar ver verby my stap.
Maar voet-foute word maklik deur ’n paar killer heels bedek.
Ek is nou wel nie so vol botoks gepomp soos Ma nie, het ook nie heeltemal sulke mooi bene soos sy of sulke popmooie blou oë nie. Maar ek is darem nie vet nie, het ’n mooi lyf, boobs waarby g’n niemand kan verbykyk nie, hare soos ’n stralekrans om my kop, al is dit ook ál aan my wat aan ’n engel herinner.
Ek sien ons in die kerk staan, ek hoor die predikant se stem. Waardig, bulderend. Indrukwekkend. Beloof jy, Gustav de Lange, voor almal hier teenwoordig om Maxie van der Merwe as jou wettige vrou te neem, om haar lief te hê, in sickness and in health, om haar te koester, te versorg tot die dood ... En jy, Maxie van der Merwe, beloof jy om Gustav de Lange as jou wettige man te neem, forsaking all others ... till death do you part?
Skielik is dit asof iemand ’n glas water in my gesig gooi, yskoue water sodat ek behoorlik wakker skrik. Till death do you part? For ever and ever? Ek en Gustav? Gustav en ek? Sjoe! Dis ’n frieken lang tyd, dis ’n tall order. Ek spring op, gee ’n senuweeagtige giggellaggie en voer ’n dansie al om die bed uit. Dan sien ek my weerkaatsing in die spieël. Hoekom is ek so bleek om die kiewe? Hoekom kyk die vrou in die spieël na my met sulke wilde, wyd oopgesperde oë? Waddehel gaan hier aan? Hoekom lyk ek só? So verskrik? So asof iemand met ’n vangnet na my kant toe mik. En so asof ek skielik nie weet óf ek gevang wíl word nie.
Ek sê mos – Gustav en sy dinge maak my mal. Dis sý skuld dat dit skielik vir my voel asof ek hier moet wegkom, en gou ook. Sommer so sonder waarskuwing kom hy op my af, nou skielik reg om ’n nuwe rigting in te slaan. Sommerso. Uit die bloute.
Gustav is normaalweg so ... wel, so onverstoord soos ’n uitgevrete huiskat wat dae lank in die son lê. En dis ook goed so. Dis nie asof ek juis oogverblindend sprankel nie, is dit? Ek is nou eenmaal nie Frankie nie. Sý is ’n gesertifiseerde lid van die mile-high-klub ná haar onlangse oorsese kuier en het selfs al in ’n hysbak slaapkamerdinge gedoen. Skokkende dinge waarvan ek nog net gehoor het en wat gewone normale mense net diep onder die komberse sal waag – en ook net as dit nou regtig nie anders kán nie. Frankie het ’n bucket list, Frankie leef gevaarlik, Frankie sal eendag baie hê om in haar memoires te skryf, nie ek nie.
Om ’n kêrel te hê met ’n woonstel in Mouillepunt is vir my die ultimate. Gustav se afgewaterde joie de vivre is genoeg vir my.
“Is jy darem lief vir my?” wou ek gisteraand in ’n oomblik van swakheid weet en ek het moeite gedoen om my stem vars en vrolik te hou sodat ek hom nie die skrik op die lyf jaag nie.
“Lief? Hoe bedoel jy nou?” wou hy weet.
Maar toe stuur hy my om vir hom ’n bier uit die yskas te gaan haal, en toe ek verby hom kom, gee hy my ’n lekker harde hou op die boud. Toe weet ek hy wéét van my. As ons eers getroud is, sal ek seker meer kry. Soos byvoorbeeld iets in die lyn van ’n liefdesverklaring. Al is dit nie besonder woordryk nie.
“Trou is highly overrated,” sê Gustav gewoonlik as ek in daardie rigting skimp. Hy weet waarvan hy praat. Hy hét al die paadjie preekstoel toe gestap en klaaglik misluk. Alles sy eksvrou se skuld, natuurlik. Sy’t hom nie verstaan nie, ’n fout wat ék nie sal maak nie. Mans wat ná dertig nog beskikbaar is en dan nog hul eie tande ook het, is skaars, feitlik ’n uitgestorwe spesie.
Ek kan verstaan waarom Gustav tot dusver skrikkerig was om te trou. Nie ék nie! Ek wil vreeslik graag trou. Ek wou al trou vandat ek die eerste keer ontdek het daar is kinders wat ’n ma én ’n pa het.
“Hoekom in hemelsnaam?” wou Frankie by my weet. “Ons is van die lipstiek-en-stiletto-generasie, stadsmeisies, nie dorpdollas nie. Bevryde postmodernistiese vroue. Ons vat en los mans na hartelus. Trou is vir tannies. Nie vir chicks soos ons nie.”
Sy’s half en half reg. Geen vrou se inner chick kom ooit heeltemal tot rus nie en myne skop elke af en toe in. Ek wíl nie lid word van die voorskootbrigade nie en ek ís nog lank nie reg vir plat skoene en spatare nie.
Maar o! om ’n man te hê. What bliss! Om snags in jou man se arms te lê en te weet dis waar jy hoort. Ek wíl ’n getroude vrou wees, kuis en ordentlik, selfs my inner chick wil. Behalwe dat ek nie die voorskriftelike twee komma vier kinders met ’n gesteun en ’n gekreun en natgeswete, deurmekaar hare gaan baar nie.
“Ek sal my bedrae bring vir die armes en die lammes, ek sal ’n sopkombuis beman en ek sal koek bak vir die kerkbasaar as dit van my gevra word,” het ek Gustav vroegtydig gewaarsku. “Maar ek is nie van plan om die wêreldbevolking verder die hoogte te laat inskiet nie.”
Hy was vreeslik verlig om dit te hoor.
Ek val weer op die bed neer. Ek voel soos ’n bakvissie voor die matriekafskeid. Opgewonde tot in my haarwortels. En tog ... tog ook ’n bietjie vies. Hier sit ek in al my onsekerheid en Gustav is by die deur uit. Hy en sy kastige meeting. Meeting? Se voet! Skink en drink, as jy my vra. “Die eerste rondte is myne, manne. Bêre julle beursies.” Lag en gesels, die nuutste grappe, sommige taamlik onder die belt.
En hier sit ek soos Griet Verdriet en wag.
’n Mens kan seker op erger plekke sit en wag as hier in Gustav se Mouillepunt-woonstel met die spreekwoordelike panoramiese uitsig op die see. Ruim en luuks, glas en chroom net waar jy kyk, gaterige spiraaltrappe, pieperig soos spinnerakke, waarop jy duiselig raak, minimalisties gemeubileer. Geen wonder nie dat ek Gustav omtrent met die dood moet dreig om hom sover te kry om ’n draai by my woonstelletjie met die pers mure in Observatory te maak.
“Daar is kakkerlakke in jou woonstel, Maxie. Wat verwag jy van my?”
Om van die kakkerlakke ontslae te raak, Gustav, sou ek vir hom kon sê, maar hy is nie daardie tipe man nie.
Daardie kakkerlak wat so ongenooid sy kop en die res van sy grillerige lyf uitgesteek het, juis die aand toe Gustav sy lewe in Obs gewaag het, was te embarrassing vir woorde. Dit was actually die enigste keer dat ek self begin wonder het of ek langer in my pers woonstelletjie wil bly. Ek gril ook vir kakkerlakke en het, met al die wreedheid en moorddadigheid waartoe ek in staat was, gifgoed gekoop om van die aaklige gedoentes ontslae te raak. En sedertdien is ek kakkerlak-vry. Hoewel ek natuurlik nie my lewe daarop gaan verwed nie.
Daar is iets cosy aan my plek in Obs. Knus genestel tussen ander woonstelle waarin ’n hele paar weirdos skuilhou, weird genoeg om die lewe vir my interessant te hou.
Ek haal ’n slag diep asem, gaan staan voor die venster, kyk na die laatmiddagdrawwers daar doer onder, na die mammas wat met stootwaentjies langs die see stap, die kinders op die swaaie in die parkie en die paar bergies wat op die hoek van die straat staan en arms swaai. Seker weer aan die stry oor iets.
Gustav kry die horries as hy hulle hier sien. Hy sal weer op die bandwagon klim en vir al wat leef vertel hoe die Kaap agteruit gaan, dat die regering én die opposisie ewe treurig is en nie in staat om iets aan die saak te doen nie. Vir die res van my lewe sal ek hom en Ma van mekaar se kele af moet hou.
Ek raak aan die venster, voel die gladde koudheid daarvan onder my vingerpunte, hoop my vingers maak nie merke nie. Ek wens ... ek wens dit was moontlik om die venster oop te maak, om die vars seelug teen my gesig te voel.
’n Mens maak nie ’n venster op die vier en dertigste verdieping van ’n woonstel langs die see oop nie. Jy stel bloot die lugversorger hoër as dit vir jou voel of jy nie kan asem kry nie. Maar vandag is dit nie genoeg nie, vandag wil ek net hier uit. Weg, iewers heen waar die mure nie neig om al hoe nader aan my te beweeg nie. Gelukkig het Gustav vir my sy sleutel gelos.
Ek gryp my handsak en trek die deur met ’n sug agter my toe. Toe ek onder uit die hysbak klim, trek ek die soutlug diep in my longe. Ek is vry, my voete is op die grond. Ek kan, as dit nodig is, weghardloop. Ver, ver weg.
Maar ek sien ook nie kans vir my pers woonstel nie. Daar is niemand met wie ek kan praat nie. Dan maar ’n draai by die huis gaan maak. Dis amper sesuur, dalk is Ma al by die huis. Johanna van der Merwe mag hoog op in die politieke kringe wees, maar sy ís darem nog my ma. Dis nie iets waarvan ’n mens ooit kan ontsnap nie, al wil jy ook. Familiebande is vir ewig.
Op die sypaadjie op pad na my motor toe probeer ’n paar seevoëls my voorlê. Daar is niks mooi of melodieus aan die gekrys van seemeeue nie. Hulle is nare, vraatsugtige goed, kyk jou stip in die oë as jy dit sou waag om ’n happie te eet waar hulle in die omgewing is. Asof dit jou plig is om hulle te voer. Die wraaksugtigste onder hulle kom los ’n blerts hier naby jou. Of op jou. Net om te wys wat hy van jou dink.
Ek jaag hulle weg. “Voertsek!” swets ek en hou my lyf voëlverskrikker.
For better or for worse, koggel hulle my skreeuend. For better or for worse!
Ek skakel die motor aan en trek weg sonder om my seat belt aan te sit – amper voor ’n aankomende motor in! Die ou, wat rakelings verby my skuur, toet in my ore en gooi vir my ’n dik middelvinger. Een wat ek ten volle verdien.
“Sorrie!” prewel ek. “Ek wil net hier wegkom, asseblief! Om ... om my geluk iewers te gaan vier, verstaan jy? Want Gustav gaan my vra om met hom te trou. Whoop-de-doo! En al daai jazz.”
Gelukkig het die verkeer al heelwat afgeneem en sommer gou draai ek in by die herehuis in Tamboerskloof. Ou geld, dis wat oor hierdie buurt geskryf staan. Maar dis nie al wat oud is nie, die meeste van die inwoners is ook. Die huise is oud, die bome in die strate is oud, die telefoonpale, die tuine, die hekke van gegote yster wat na die huise lei, die tuinkabouters met hul getjipte neuse, alles hier om my getuig van ’n tyd toe die Kaap en die Berg nog anders was.
Ek moet deur die hele rigmarole gaan voordat die deur van Leeuwenvoetstraat 45 vir my oopgemaak word. Ek pons die geheime nommer in, antwoord op die interkom-vrae, die volle toetie.
Dis nie Ma wat die deur oopmaak nie, dis Dora. Ek kon dit verwag het, maar tog is ek teleurgesteld. Veral omdat Dora soos gewoonlik maar taamlik bebliksemd lyk omdat ek haar kom steur.
“Dora, wanneer tree jy dan eendag behoorlik af?” vra ek toe sy voor my staan in ’n bont gypsyromp en ’n way-out bloes waarin geen mens gewerk sal kry nie, die hare geperm. To die for.
Sy lyk soos Sneeuwitjie se stiefma gone wrong, die een wat ’n verbete stryd gevoer het om die mooiste in die land te wees. Behoorlik opgedoen, maar alles tevergeefs. Miskien probeer sy ’n statement maak, miskien probeer sy só wys dat sy haar voorskoot finaal opgehang het. Die lady wat hier voor my staan, vryf nie meer Ma se silwer blink nie.
“Lankal afgetree,” verseker sy my dan ook. “Vandat jou ma so high profile is in die politics het sy mos kamma ’n hele bondel staff wat vir haar werk. Almal jongetjies. Hare glad gestryk en geleerd ook nog. Maar as jou ma iemand nodig het om in charge te wees, druk sy op Dora se nommer. Ek hang maar nog hier rond, net om te kyk dat die staff nie droogmaak nie.”
Dora nooi my nie in nie. Dis hoe ek haar ken. As jy iemand soek wat oorloop van hartlikheid, moet jy nie aan Dora se deur kom klop nie.
“Waar’s my ma?” vra ek.
“Nee, jong, hoe sal ek nou weet? Iewers heen, die duiwel weet waar. Weer een of ander fees of ’n ding wat sy moes loop grace met haar beauty. Gaan seker weer toi-toi dat die wêreld vergaan. Lig mos die rok hoog op dat almal haar bene kan sien. Vanaand is sy weer op tiewie.”
Dora is lief vir skinder, veral wanneer dit by my ma kom. Ek hou daarvan, want dan weet ek ook wat in my ma se lewe aangaan. Net jammer ek voel altyd skuldig daaroor om agter my ma se rug van haar te praat. “Wanneer verwag jy haar?” wil ek weet.
“Kom eers môre terug. Het mos weer ’n ding aan hier by die huis môreaand. Oorsese mense ook. En van die ministers, een of twee, ek weet nie. Van die wat sy so hand op die blaas mee is. Sal moet uithaal en wys hier in Tamboerskloof. Mense is mos net die beste gewoond. Die government eet uit goue skinkborde hier in die Kaap. Koningskos.”
’n Mens sou dink teen hierdie tyd behoort ek gewoond te wees aan Dora se geteem wat die background noise vir die grootste deel van my lewe was, maar vandag irriteer sy die dinges uit my uit.
“Ek is lekker dors,” onderbreek ek haar voordat sy behoorlik kan stoom optel oor die government en ons hier op die stoep bly staan tot die son heeltemal onder is. “ ’n Koppie tee sal lekker wees.”
Dora staan effens opsy. “As jy wil tee hê, kan jy vir jou tee maak. Ek werk mos nie meer hier nie. Ek is net hier om te supervise.”
“Dis goed so, Dora. Ek sal die tee maak.” Ek skuur by haar verby. “Vir jou ook.”
Dis grafstil in die huis. “Waar ís die personeel?”
“Off duty, die hele ou lot van hulle. Werk nie ’n minuut later as vyfuur nie. Union rules. In mý tyd was daar nie iets soos union rules nie. Ek moes maar werk solank as wat nodig was.”
Dora is weer in een van haar bitterbek-buie. Ek kan raai wat dit veroorsaak het, maar ek sal eerder nie vra nie. Soos ek haar ken, sal sy in elk geval een of ander tyd die res van haar klaagliedere aanhef.
Die kombuis is silwerskoon, koud en doods. Alles hier is anders as in Gustav se hipermoderne kombuis, die kombuiskaste is nog die oorspronklikes, nou wel opgejazz en geverf iewers langs die pad, maar nogtans oud en outentiek. Classy, dis hoe Ma daaroor voel.
In Ma se kombuis geld daar baie streng reëls. Krummeltjies op die tafel of die vloer word nie verdra nie en vuil skottelgoed is min of meer strafbaar met die dood. Vra my, ek weet. Ek het in hierdie einste Victoriaanse Tamboerskloof-huis grootgeword.
Ek haal die koppies uit die kombuiskas. “Hoe lank bly my ma nou al in hierdie huis, Dora?” Ek vra sommer om te probeer geselsies maak. Ek weet mos eintlik. Maar Dora vertel graag oor die ou dae.
“Vandat jy so drie, vier jaar oud is, mos. Ons het mos eers by jou ouma-hulle gebly toe jy gebore is die slag. Amper hulle tande ingesluk toe hulle hoor jou ma verwag. Maar haar darem nie op straat uitgeskop nie.
“Maar die twee vroumense in een huis het nie uitgewerk nie. Hulle het mekaar oor en weer gecheek, later lelik geraak met tye. Jou oupa skoon bleek, weer begin rook ook. Agter in die tuin waar niemand hom sien nie. Te veel vroue in een huis werk nie uit nie.
“En dan met my ook nog daar om al die werk te doen. Was nie ’n lekker tyd nie en dis ek wat die meeste suffer. Almal loop kruip in hul kamers weg en ek moet kind oppas. Toe sterf jou antie aan moederskant, oujongnooi, geen man naby haar gehad nie. Te befoeterd as jy my vra. Nie kind of kraai gehad nie. Bly vingeralleen. Baie van jou ma gehou. Gedink sy’s oulik toe sy nog klein was. Later seker maar van haar gehou omdat sy ook nie tot trou kon kom nie. Niemand anders gehad om die huis voor te gee nie. Grote ou huis hier op die hoek van die straat. Ander mense het nie huise nie, maar sy bly alleen hier. Toe erf jou ma dié huis en ons drie trek hier in. Ook net betyds voordat daar moord gepleeg is in jou ouma se huis.”
“En hier het ek grootgeword en gebly tot ek weg is universiteit toe.”
“En hier het ek oud gestaan en word.” Dora sug toe sy by die kombuistafel gaan sit. “Kos gekook en jou grootgemaak terwyl my jare verbygaan.”
“Onthou jy hoe ek en jy soms buite op die kombuis se trappies gesit het?” vra ek en skakel die ketel aan. “Many moons ago.”
“Tot watter tyd van die nag, ja. Terwyl jou ma in die strate rondflenter en ons vir haar wag om huis toe te kom.”
“Sy’t darem nie in die strate rondgeflenter nie, Dora.”
“Sy hét. Aan die begin toe sy nog stemme vir die party probeer kry het. Allerhande mooi broodjies gebak, papiere uitgedeel, mooi prentjies van pappies en mammies en kindertjies, ewe happy-go-lucky asof ons almal in die hemel gaan lewe as hulle die verkiesing wen en in die sagte stoele gaan sit. Promises, promises, promises. Vandag nog. Almal maak promises, maar niemand wil deliver nie.”
“Dora, ek wil jou iets vertel,” probeer ek keer dat die damwal breek en ek met Dora se politieke oortuigings oorspoel word. Dora is altyd aan die kant van die underdog, wat die issue ook al is. Sy weet nie aldag wat in die land aangaan nie, maar sy sien haarself as ’n politieke intellectual omdat sy vir Ma werk. As sy enigsins kan moan, dan moan sy asof sy daarvoor betaal word. Ek het al gedink sy moet haar laat uithuur vir ’n professionele roubeklaer. Miskien sal sy nie so suksesvol wees met die huilery nie, maar oor ’n geweeklaag kan niemand haar iets leer nie.
“Wat wil jy my vertel?” Sy kyk my agterdogtig aan.
“Groot nuus.”
“Ag nee, not again. Is jy pregnant?” Dora gooi haar hande dramaties in die lug. “Dis wat gebeur,” roep sy in ’n operasangeresstem uit, “as ’n mens ’n hap ...”
“Van die appel vat voordat die vrug ryp is, ja, Dora, ek weet. Jy’t dit my lewe lank vir my vertel, my banger gemaak daarvoor as vir die dood.”
“Maar dit lyk nie asof dit gehelp het nie, lyk nie asof die vroue in hierdie huis wil hoor nie, lyk nie of hulle weet waar babas vandaan kom nie.”
“Nee, man!” Ek slaan haar met die vadoek oor die boarm. “Ek is nie pregnant nie.”
Dora lyk nie oortuig nie. “Is jy seker?”
“Ek is seker. Ek wil net so min met ’n kind opgesaal word as jy. Dis ’n les wat jy my goed geleer het.”
“Dankie tog.” Sy skuif haar reg in die stoel. “Ek maak sowaar nie nóg ’n bybie groot nie.” Haar mond is ferm saamgetrek. “Nou vir wat laat jy my so skrik?”
“Want ek het groot nuus. Dis iets wat ek nog vir niemand vertel het nie.”
En wat ek nie graag vir Dora wou vertel nie, maar daar ís niemand anders beskikbaar om my hieroor te help dink nie. Dalk is dit presies wat ek nodig het – Dora se sinisme – om my te laat kophou.
“Nou vir wat wil jy dit nou vir mý vertel? Ek wil nie weet nie. Ek het genoeg troubles van my eie.”
Dis wat Dora altyd vir Ma gesê het, ek onthou. Die tye wanneer Ma op haar skouer wou huil oor die kind wat haar in haar opgang gestuit het. Dora se skouer was nie vir Ma beskikbaar nie, ook nie vir my nie.
“Jinne, Dora, gaan troos die kind wat so huil,” het ek Ma meer as een keer hoor sê wanneer die kinders by die skool my gespot het oor iets wat Ma iewers kwytgeraak het of omdat ek nie ’n pa gehad het nie en ek met ’n stukkende hart by die huis gekom het.
“Dis nie my kind nie. Loop troos self jou kind. Ek het genoeg troubles van my eie, genoeg kinders van my eie by die huis. Dié een het nie vir mý nodig nie. Sy soek haar ma.”
“Have a heart, Dora,” het Ma een keer op Dora se gevoel probeer speel. “Ek het een van die dae twee weke verlof. Dan gee ek ál my aandag aan die kind, jy weet mos.”
Maar Ma het tweede gekom. “Een van die dae? Wat help een van die dae as ’n kind haar ma nóú nodig het. Moenie vir jou onnosel hou nie, Johanna van der Merwe. ’n Kind kan nie vir haar ma wag om van haar te onthou nie, om haar in te pas wanneer sy vir twee weke hier en ’n week daar niks anders het om te doen nie.” Ek het Dora ’n snorkgeluid hoor maak, want ek was in die omgewing en ek wou niks hiervan mis nie.
“Twee weke vakansie? Se gat!” het Dora driftig haar mening gegee. “Dan wil jy die kind die wêreld vol vat en volstop met presente. Dis see toe en sirkus toe en elke ander plek wat haar hart begeer sodat jy kan ophou skuldig voel. Dis verkeerd. Dis soos om vir ’n kind te veel kondensmelk te voer totdat dit by sy ore uitkom en hy wil opgooi daarvan. Die res van die tyd sit die kind hier in die huis opgehok soos Piet Snot met haar fênsie rokke en blink skoene. Net met my vir geselskap en ek is nie geselskap vir die kind nie.”
Daardie dag het Dora vir Ma skoon stil geskree en om Ma stil geskree te kry, is nogal ’n prestasie. Vra maar vir die ouens wat dit al in die parlement probeer doen het.
Ek kon nooit verstaan waarom Ma Dora toelaat om so met haar te praat nie. As dit iemand anders was, het Ma haar sweerlik weggejaag. Maar Dora sou haar seker nie laat wegjaag nie. Sy sou heel moontlik op die matjie voor die deur haar sit gekry het en daar gebly het tot dinge bedaar.
“Dis erg genoeg dat die kind sonder ’n pa moet klaarkom,” was nog een van Dora se gesegdes. “Jy kan nie ook nog aldag en heeldag die pad vat nie. Die kind het nie gevra om hier te wees nie.”
Die kind. Dis hoe daar na my verwys is in die jare wat ek in hierdie huis gebly het. Die kind. Die laspos. Die probleem.
Ek onthou die aande wat ek en Dora so op die trappies gesit het. Soms in die somer, soms op koue wintersaande. Ek onthou dat ek so ongemerk as moontlik nader aan Dora geskuif het, dat ek gewens het sy wil my op haar skoot tel, of net haar arm om my sit. Maar daarvoor was Dora te kwaad. Vir Ma. Vir my. Vir haar kinders by die huis. Vir die mans wat haar met daardie kinders opgesaal het. Vir die government en die kerk en die hele wye wêreld. En veral vir die perde.
Was dit nie vir die perde nie, sou Dora nie naastenby soveel troubles van haar eie gehad het nie. Ook nie soveel vreugde nie. Want die dae wat die perde reg gehardloop het, het ons ’n ander Dora leer ken. Dan was alles hunky-dory en het sy gesing en gedans en gelag. Dan was Dora met haar groot lyf amper effens lief vir my, maar ook nie regtig nie. Behalwe daardie één keer. Een keer het Dora my teen haar bors vasgedruk asof sy my nooit weer wil laat gaan nie. Een keer het ek haar gelukkig genoeg gemaak om vir my lief te wees. Al was dit nie vir lank nie ...
“Kies vir my ’n perd,” het sy die dag gesê en die boekie voor my oopgesprei. “Watter een is vir jou mooi?”
Hulle was almal vir my mooi, maar daar was een met so ’n wilde kyk in sy oë. Eintlik was ek bang vir die perd, bang dat hy my sou kon bykom as ek hom nie kies nie. Toe druk ek my vinger op die perd. Devil’s disguise, dink ek, was sy naam. En toe wen die duiwel dié dag en Dora stap met sakke vol geld weg, en daardie dag het dit vir my gevoel asof sy vir my lief is. Al was dit net vir ’n rukkie.
Maar ek wou dit nie weer doen nie. Want ek het geweet. So jonk soos ek was, het ek geweet ek gaan dit berou as die perd wat ek kies nié wen nie. Dora was kwaad, ek onthou, ’n week lank lekker dikbek omdat ek nie wou saamspeel nie, maar ek het geweet wat goed was vir my. As ’n wen haar so liefdevol kon laat optree, sou ’n verloor die dak op my kop laat val.
“Een of ander tyd moet Lady Luck haar gesig vir my draai,” glo Dora vas. Maar ek dink Lady Luck voel vere vir Dora, want tot dusver het sy haar rug op Dora gedraai.
“Ek gaan trou, Dora!” sê ek nou. Gou, voordat my moed my begewe.
“Trou?” Dora skuif agteruit in haar stoel sodat sy my beter kan sien. “En met wie?”
“Wat bedoel jy met wie? Met wie dink jy?”
“Met daardie halfjekkie wat soms saam met jou hier aankom?”
“Hy’s nie ’n ... ’n halfjekkie nie,” keer ek. “Hy’s net so lank soos ek.”
“Nie as jy high polvaais aan het nie.” Dora lyk asof sy ’n lepel vol slegte medisyne in het. “Regte kapokhaantjie,” tier sy voort. “Vir mý kom staan en rond order. Wat wou hy nou weer hê? Cappuccino? Cappuccino vir die master, nie gewone koffie uit die koffiemeul nie. Asof hierdie ’n restaurant is waar hy sy order kan insit. Asof ek ’n waitress is.”
“Ag, sherbit, Dora tog! Alles gaan nie oor jóú nie. Dis ék wat met hom gaan trou, nie jý nie.”
“Nee, maar dan is dit reg so, Maxie. Ek sal ook nie met hom trou as hy die laaste man op aarde is nie. Solank julle net nie verwag ek moet julle kleintjies grootmaak nie.”
“Toemaar, Dora, dít sal ek nooit van jou verwag nie. Ek weet jou grootste vrees in die lewe is dat jy nóg ’n kind sal moet versorg. Ek weet watter nagmerrie dit vir jou was om mý groot te maak. Jy herinner my genoeg daaraan.”
“Dis nie dat jy so donners stout was nie,” probeer sy troos. “Nie soos daardie spul bliksems by my eie huis nie. Dis net dat jy so aan ’n mens gehang het. Soos ’n stertjie al agter my aan was. Ek wou net partykeer ’n bietjie asemhaal, my eie ding doen, jy weet.”
“Oukei, Dora, ek weet. Ek was soos ’n blok aan jou been. Maar dis nou verby. Lankal verby. Ek bly al jare lank in my eie woonstel en kom net hiernatoe wanneer Ma my vir een van haar get-togethers nooi. Of ... partykeer as ek toevallig hier verbygaan.”
En elke keer hoop ek iemand sal bly wees om my te sien.
“En nou gaat jy trou?”
Ek skrik ’n bietjie toe Dora dit sê, so hardop sê. “Wel, ja, dit lyk so. Ek dink Gustav gaan my vra. Vanaand nog nadat hy klaar saam met die boys gekuier het. Hy’t gevra ek moet vir hom wag.”
“Nou maar dan moet jy maar met hom trou en klaarkry, Maxie.”
“Is dit al wat jy te sê het, Dora?”
“Wat meer wil jy hê moet ek sê? Jy sal in elk geval nie vir my luister nie. “
“Wel, jy kan ten minste probeer. Dis hoekom ek vir jou daarvan vertel het.”
“Hoekom? Sodat ek op en af moet spring en jou geluk moet wens? Of sodat ek vir jou moet sê jy doen ’n dom ding? Dis wat jou ma gaan doen. Sy gaan nie daarvan hou dat jy wil trou nie. Jou ma is lief vir mans, maar sy’s nie een vir ’n getrouery nie. Het haar lewe lank nog nooit getrou nie. Nee, sy loop los. Flenter rond. Dan met dié gigolo, dan met daai een.”
“Jinne tog, Dora, dis jou mond wat los is, nie my ma se lopery nie. My ma flenter nie met gigolo’s rond nie.”
My ma is wel Pavlov-georiënteer. Sy sien ’n man, sy wil hom hê, sy gee hom ’n pos in haar party. Johanna van der Merwe is ’n formidabele vrou, Johanna van der Merwe is een van die “women who run with the wolves”, sy leef vinnig en vreesloos, sy dans op haar eie deuntjie in die maanlig, haar arms wyd gesprei, haar voete vry. Maar dit sal Dora nie verstaan nie. Sy oordeel met die oordeel van iemand wat sensible shoes dra terwyl Ma, nes ek, nie eens sensible slippers het nie.
“My ma is ’n openbare figuur, Dora,” verduidelik ek oor die vrou wat aan my geboorte gegee het en my toe opsy geskuif het. “Daar sal gou genoeg oor haar geskinder en geskryf word as sy vir haar gigolo’s huur om agter haar aan te loop.”
Daar wórd oor Ma geskinder en geskryf, daar wórd oor haar vrae gevra, maar dis altyd van so ’n aard dat niemand daarop hoef te antwoord nie. Dis dáár – die agterdog, die nuuskierigheid, die ge-tjie-tjie. Maar Johanna van der Merwe gooi ’n groot genoeg skadu om die publiek te verwar en hul monde te snoer.
So ’n hoë boom sal tog seker nie iets hê om weg te steek nie, nie as sy die mans aan haar sy so openlik flaunt vir die wêreld om te sien nie. Sal sy?
“Die mans wat my ma vergesel na die vele geleenthede waarheen sy moet gaan, is mans wat sy ken of lede van haar party. Kollegas met wie sy ’n streng werksverhouding het wat soms naure voortgesit word,” verdedig ek my ma se twyfelagtige eer. The lady doth protest too much, ek weet. Ek klink kompleet soos een van Ma se afgevaardigdes wat ’n saamgeflanste persverklaring aflees, maar ek voel dis my plig om my ma se sedes of gebrek daaraan te verdedig. Nie dat my betoog enigsins ’n indruk op Dora maak nie, sý is nou eenmaal immuun teen sugar-coated bull.
“Is maar dieselfde ding, kind. Net met ’n ander naam. Niks kom tot iets nie. Hulle is net by-products, dis wat die spul mans saam met jou ma is. Props wat sy met haar saamsleep. Mooi mansmense wat soos filmsterre lyk. Sy soek hulle uit soos sy na ’n nuwe handsak sal soek. Die regte kleur en alles sodat dit by haar rok pas. Ek ken jou ma mos langer as wat jy haar ken, kind. Jy kan my niks van haar vertel wat ek nie weet nie. Kyk dan nou die man saam met wie sy gister hier weg is ...”
Ek wil nie na Dora se gesanik luister nie, maar ek is tóg geïnteresseer. Op een of ander manier moet ek byhou met my ma se romantiese eskapades. Johanna van der Merwe het die vermoë om tussen die sosiale blaaie van die pers deur te glip sonder dat haar onderrok te ver uithang. Maar ék as haar one and only nasaat behoort te weet wat gaan vir wat en waar sy haar op die road less travelled bevind. Ek wens sy wou by een man hou, verkieslik ’n Karoo-omie met ’n skaapplaas en ’n slegte hoesie, maar dis net nie haar styl nie.
“Wie’s dit hierdie keer, Dora? Saam met wie is my ma hier weg?” vra ek met ’n innerlike sug.
“So ’n gladde jan. Jy kan hom deur ’n ring trek. Mister Perfect homself. Lyk ’n bietjie soos ’n kraai met ’n das om sy nek.”
“ ’n Kraai?”
“Ja, man. Sulke gladde swart hare wat hy agtertoe kam. Dik hare. Blink. Half mooi. Lyk soos ’n gentleman, as ’n mens nog glo daar bestaan ’n ding soos ’n gentleman.” Dora se hande begin saampraat. “ ’n Ken en ’n kakebeen soos ’n ... soos ’n broodblik. Of ’n baksteen. ’n Regte baksteen, nie van die gemors wat die regering gebruik om HOP-huise te bou nie.” Sy klop-klop op die tafel voor haar. “Sterk. If you know what I mean.”
“Dora? Hoe praat jy dan nou?” Ek lag in haar gesig. “Ek dog dan jy is klaar met mans?”
“Maxie, jy ken my. Ek soek nie ’n man naby my of my dogters nie. Mans is moeilikheid. Die meeste van hulle se maens moes hulle kleintyd doodgelê het. Maar hierdie een is mooi genoeg om aan ’n Kersboom te hang. Hierdie een bring nie net moeilikheid met hom saam nie, hy’s van troubles aanmekaar gesit, so groot soos wat hy is. Hóór wat Dora vandag vir jou sê. En hy’t genoeg guts vir ’n hele army. Hy’s te lank en hy’s ’n té mooie man. Hy’s dydelik, Maxie, té dydelik. Too much.
“Oor hierdie een gaan jou ma nog lang trane huil. Sy’t nie kop as dit by mans kom nie. Trek haar neus op vir goeie boeremense en val vir vreemdelinge. Dié een saam met wie sy gister hier weg is, is dalk nog ’n Mexican, of ’n Spaniard of miskien nog ’n Italian, hy’t die stem daarvoor. Klink of hy enige oomblik vir jou kan begin sing tot jy aan die huil gaan en sy voete soen, amper soos daardie vet mans wat so diep uit hul groot mae opera en sulke hogere dinge sing. Behalwe dat dié een nie vet is nie, net groot. Baie groot. Soos ’n man moet wees.”
Ek skrik. Kyk, as die man wat hierdie keer saam met Ma is, Dora se klipsteenharde hart kan raak, sal hy met Ma kan toor.
“Donker oë,” is Dora nog aan die swymel. “Kyk dwarsdeur ’n vroumens, onder haar klere in, anderkant uit.”
Onder Dora se klere ook in? Anderkant uit? Dis genoeg om ’n mens bang te maak.
“Sal beter wees as hy na sy eie land toe terug wil gaan,” brom Dora.
’n Nare vermoede kom by my op. Kyk, Dora is ’n drama queen, maar hierdie getjommel van haar oor ’n mansmens is ek nie gewoond nie.
“Wie’s die man, Dora?”
“Hy hét hom aan my kom voorstel. Vreeslik voor op die wa. My hand gedruk asof hy nie bang is vir my nie. Ook nie vir die duiwel self nie.” Dora frons. “Jou ma noem hom ... wat noem jou ma hom nou weer? Kort naam. Sterk naam. Groot stuk vleis met ’n kort naam.”
“Jay?” raai ek, my asem in my keel. “Moenie vir my sê dis Jay Zietsman wat saam met my ma hier weg is nie?”
“Dis reg! Dis die naam. Jay. Vreemde man.”
Ek sak langs die kombuistafel neer. Ek is dors, maar die tee sal moet wag. Ek sal eers my ekwilibrium moet herwin, eers wag dat my hart weer normaal klop. Van al die mans wat my ma kon nadersleep ... En hier wegsleep ... Was dít nou regtig nodig? Ek sug gelate. Oukei, toegegee, beter kon sy seker nie doen nie. Hierdie keer het sy die eerste prys gewen.
Maar Dora is heel moontlik reg. Van mans soos Jay Zietsman moet ’n vrou ver weg bly. As sy nie haar hart en dalk nog haar reputasie ook in skerwe wil hê nie. Dis ’n kraai daai wat jou oë sal uitpik terwyl jy heeltemal van jou trollie af gemesmeraais na hom sit en staar.
“Ek weet hoe die mansmens lyk,” sê ek bekommerd. “Jay Zietsman is nogal wow! Hy was deel van Ma se entourage nou een aand by die opening van ’n show in die Artscape.”
“Tell me about it. Ek was hier. Ek het gesien. Met hierdie twee oë van my gesien hoe hulle hier weg is. Jou ma is by die huis uit met ’n rok wat ek oor my dooie liggaam nie sal dra nie.”
Een van Ma se rokke sal beslis nie aan Dora se dooie óf lewende liggaam pas nie, maar dit sê ek nie vir haar nie. Ek het Ma se rok gesien, die hele wêreld, dié wat televisie het, het Ma se rok gesien. En die dele van Ma se lyf wat nie deur die rok bedek is nie. Dit was ’n Mariaan Maree-skepping, ’n off-the-shoulder affêre met ’n lyf daarin wat orals bewondering afgedwing het. Ma was seker weer lang ure onder die sonlamp, want daardie skouers waarteen die hele wêreld vasgekyk het, was sag gerond en bruingebrand.
“Ek het hulle op kykNET gesien. Jay het nie direk langs Ma gestaan nie, ook nie langs haar gesit nie, maar die televisiekamera het op hóm bly fokus. Hoe dan nou ook anders? Almal wou natuurlik weet wie hy is en waar hy vandaan kom.”
“Ek weet. Ek het daai ding gesien. Hier in jou ma se sitkamer, hier het ek gesit en die besigheid só sit en kyk op haar flat screen tiewie waar ek alles mooi kon sien, mind you. Vir mý word daar mos ’n gewone tiewietjie in die kamer gesit, klein soos ’n budgiehok. Maar hier staan die yslike groot screen soos ’n wit olifant in die bos. Want g’n niemand het tyd om hier te kom sit en kyk nie. Nou kom sit ek maar hier as ek die dag wil sien wat gaan aan daar buite in die wêreld waar jou ma haar dinge doen. Soos die aand toe hulle oor daardie show gepraat het en die mense gewys het wat daar was.
“Glo ’n klomp Kaapse mense wat sing en dans en elke jaap en sy maat was daar. Al die high society-mense soos jou ma. En jy sien net hoe flash die kameras. ’n Mens sou sê sy’s ’n movie star. Meantime is sy maar net Johanna van der Merwe van Tamboerskloof. Hoog op in die politics, maar dis ook maar al.”
Asof dít glad nie genoeg is om Dora te beïndruk nie.
“Dis ’n visitor, het jou ma gesê toe hulle uitvra oor die mooi man daar by haar. ‘All the way from America.’”
En toe het Ma soos gewoonlik ’n afdraaipaadjie gevat en oor toerisme begin praat, ek onthou. Oor die veiligheid in die land en die openbare vervoerstelsel en ek dink amper sy het ’n draai by bekostigbare vakansieverblyf ook gaan maak. My ma is geprogrammeer om aan Die Saak te werk net waar en wanneer sy in ’n hoek gedruk word. Sommer so met die druk van ’n knoppie rammel sy die gewone goed af wat haar in die parlement se sagte stoele laat sit.
Natuurlik was ek net so nuuskierig soos die res van die land oor die donkerkopman. En anders as die res van die land ís ek darem familie van haar, jy weet? Toe bel ek haar en vra uit. Wat natuurlik ’n helse kans is om te waag. Ma se sake is after all Ma se sake. En haar boeke is duister om te lees, wat in haar slaapkamer gebeur ook. Al wat ek gewoonlik daarvan weet, is wat ek in die tabloids te siene kry. En natuurlik wat Dora my vertel as sy die dag in ’n skinderbui is.
Ma het nie veel te sê gehad nie en die storie wat sy vertel het, klink maar taamlik far-fetched, ek moet sê. Of Dora daarvoor sal val, is ’n ope vraag.
“Jay is my ma se spindokter, Dora,” verduidelik ek. “Dis al.” Ja, sure. “Buitendien, as ek hom so kyk, is hy seker maklik vyftien of selfs twintig jaar jonger as sy. Daar kan regtig niks tussen hulle wees nie. Nie soos jý dink nie.”
“Ek het hom óók so gekyk en ek het gesien hy’s nie jou ma se maat in jare nie. Dis wat ek gedink het.” Dora skud haar kop op en af. “Dat sy hierdie keer vir haar ’n regte toy-boy aangeskaf het.”
“Nee, Dora, man!” probeer ek haar – en sommer myself ook – oortuig. “As Jay saam met my ma hier weg is, is dit in sy professionele hoedanigheid. Daar is niks snaaks aan as hy saam met haar uitgaan of rondry nie. Dis net om te kyk dat alles reg loop, verstaan jy. Dis wat ’n spindokter doen.”
“Ek weet van ’n huisdokter en ’n vrouedokter en ’n voetdokter en ek weet van ’n kopdokter, maar van ’n spindokter het ek nog nooit gehoor nie.”
Ek weet alles van spindokters af, die politici kan mos nie sonder een bestaan nie. Maar tot dusver was dit blykbaar nog nooit vir Ma nodig om een te huur nie. Hoe sy dit regkry, weet sy en die duiwel alleen. Dis nie asof haar verlede so squeaky clean is nie, is dit? Ook nie haar hede nie, nie met die versameling mans wat sy met haar saamsleep en die skinderstories daaroor nie. Maar Ma word alles vergewe, of so wil dit lyk. Hoekom sy nou skielik ’n spindokter “all the way from America” moes nadersleep, verstaan ek nie.
“Jay spit en polish my ma se image. Hy kyk dat sy reg aantrek en reg praat en al sulke dinge. Sodat die koerante nie simpel goed oor haar skryf nie. Sodat die kiesers van haar kan hou en vir haar party kan stem. Hy ... hy hou die blink kant bo.” Ek lag so bietjie. “Hy verdraai die waarheid soms so bietjie as dit nodig is en steek dinge weg wat die mense nie moet weet nie. Dis sy werk.”
Dora haal haar skouers op. “Deesdae het sonde mos allerhande fênsie name. Al wat ek weet, is dat hy ’n man is en ’n man is ’n bok ...”
“Ja, ek weet,” onderbreek ek haar vies. “En ’n bok is ’n bliksem. Ek ken die storie.”
“Net so! En jou ma is hier weg met ’n suitcase vol nuwe panties en bra’s wat in ’n groot parcel hier by die voordeur afgelaai is. Ek weet, want ek moes daarvoor teken. Sommer nog ’n jong mannetjie wat die goed hier aangebring het. Ek skaam my dood. ’n Boks vol unmentionables met die vreeslikste prentjies buite op. Vroue, amper heeltemal kaal. Dra net ’n paar rooi skoene aan die voete en hier en daar ’n flentertjie lap. Nie veel meer as ’n vyeblaar nie.”
Ek bloos, ek voel sowaar hoe ek bloos. En dit oor my ma se dinge. Ek kan net dink hoe daardie versameling unmentionables gelyk het. Wanneer Johanna van der Merwe haar agter ’n kateder bevind tydens ’n parlementsitting lyk sy miskien pure ystervrou, maar onder daardie sobere uitrustings dra sy kant met frilletjies en valletjies. En natuurlik, die oomblik wat daar iets van ’n feestelikheid in die lug is, glip sy in ’n off-the-shoulder-skepping. My ma – ’n vrou van vele fasette.
As Ma se frilletjiesonderklere-bestelling, wat spesiaal vir hierdie trippie afgelewer is, uitgelek het, sou iemand beslis iets daarvan wou maak. Ek kan maar net hoop Ma se PR-personeel – en haar spindokter – weet teen hierdie tyd watter risiko Dora se los mond vir Ma se loopbaan inhou.
“My ma het seker nuwe onderklere nodig gehad en dit online gekoop,” probeer ek Dora koudlei. “Sy’t deesdae nie tyd om winkel toe te gaan nie, sy bestel feitlik alles wat sy wil hê van die internet af.”
Dora is ingelig genoeg om die voordele van die internet te ken. Vroeër jare was dit sý wat al om die ander dag moes gaan shopping doen het. Ek weet, want sy het my gewoonlik saamgesleep. Ek moes die trollie stoot en heeltyd na haar gekla luister. Gelukkig vir haar het Ma ook later gatvol geraak vir die gekerm oor haar seer voete en die internet vir inkopies begin inspan.
“Dis die eerste keer dat my ma ’n spindokter het,” merk ek op. “Seker maar omdat sy nou, soos jy sê, ekstra high-profile raak.”
“Jammer dat so ’n mooie man valstande het,” mymer Dora hardop.
“Valstande? Is jy seker, Dora?”
“Doodseker. G’n mens kan sulke wit tande hê nie.”
“Ag, jinne tog, Dora, miskien het hy net sy tande laat whiten. Deesdae doen tandartse wonders met vergeelde tande.”
“Whatever, Maxie, met of sonder tande, ek trust nie die man nie. Te glad met daardie bek van hom met die blink tande. Laat my dink aan jou pa ...”
Dit voel amper asof iemand my met ’n klip teen die kop gooi. Dora se mond hardloop gewoonlik met haar weg, maar vandag het sy sowaar geen brieke nie. My pa se naam word nie in Ma se huis genoem nie, ook nie in my ouma-hulle se huis nie. Of in enige ander huis nie. Lange jare gaan in stilte verby sonder dat die onderwerp ooit aangeroer word, en vandag verwys Dora sommerso na die skim van wie ek ten minste ’n paar gene moes geërf het.
Vir ’n lang oomblik is dit asof iemand ’n handgranaat in die kombuis in gegooi het en ons net wag vir die ding om te ontplof.
“Wat van my pa, Dora?” waag ek om te vra, al vrees ek dat die antwoord in my gesig kan ontplof. Dis nie die eerste keer dat ek die vraag vra nie, maar elke keer word ek met ’n afjak en ’n skerp antwoord weggestuur.
“Hoe vra jy my nou?” wil Dora dan ook ewe bars weet. “Jy weet mos ek kan vir jou niks sê nie. Jy weet mos jy moet met jou ma daaroor praat.”
“En jy weet goed ek het al hoeveel keer probeer. Jy weet goed sy wil nie oor hom praat nie. Sê net altyd hy sou nie die punch kon vat nie en is weg voor ek gebore is.”
Nog voor ek gebore is, het ek myself kleintyd getroos. Voordat hy my kon sien. Dan was dit ten minste nie oor my lelike voete nie ...
“Ja, daai ding kon ek nog nooit verstaan nie,” laat Dora nadenkend hoor. “Dat jou ma haar so laat vang het.”
“Dit was ’n ships-that-pass-in-the-night-ding, sê sy mos.”
“Dit was ’n one-night stand, soos ek dit sien.”
“Ag, twak, Dora-man, my ma is nie die one-night-stand-tipe nie. Sy is Johanna van der Merwe, sy weet wat sy doen, al het sy ook elke af en toe ’n ander man aan haar sy.”
“Wel, ek sal like om te weet wat is die verskil tussen ships-that-pass-in-the-night en ’n one-night stand.”
“Dêmmit, Dora, ek wil dit nie hoor nie. Ek weet my geboorte was ’n helse skok vir julle almal en my pa het seker sy gat afgeskrik. Maar ek wil nie daarvan weet nie. Have a heart, man!”
Eintlik is dit waar wat Dora sê – geen mens kan verstaan dat my ma so iets sou oorkom nie.
“Jou pa het nie net van alles vergeet nie, nie heeltemal nie ...” Dora sluk haar woorde.
“Wat? Wat bedoel jy?” Ek stamp die stoel om toe ek opspring. “Wat sê jy eintlik, Dora? Waarvan praat jy?”
My hart klop in my keel, my bloed raas in my ore. Ek wil vra, ek wil weet, ek wil só graag weet. Jare lank al. Ek wil Dora aan haar skouers vat en die inligting uit haar skud.
Maar dan gaan sit ek weer.
Dis asof iets my teëhou, asof ek bang is, asof Dora se mond Pandora se kissie is en wat daar uitkom, gaan iets allervreesliks wees. Iets wat ek nooit weer teruggedruk gaan kry nie, iets wat my gaan agtervolg, soos vlermuise in my hare, nare, aaklige vlermuise wat ek nie sal kan wegjaag nie, ongediertes wat mý gaan jag, gaan jaag.
Want as Ma wou hê ek moes daarvan weet, sou sy vir my gesê het. En sy het nie.
“Los dit nou, Maxie. Vergeet daarvan. Ek kan vir jou alles gee wat jy nodig het, net nie ’n pa nie,” het Ma gesê.
Ek kon nooit agterkom of sy cut-up was daaroor nie. Wanneer daardie onderwerp aangeroer is, het daar ’n gordyn voor Ma se oë ingeskuif. Behalwe vir die “remindertjie”, soos Dora my al genoem het. Die “remindertjie” dat daar ’n tyd was dat sy en my pa sáám was, so sáám was dat daar ’n kind verwek is.
As dit nie ’n biologiese noodsaaklikheid is dat ek ’n pa moet hê nie, kan ek my ook amper verbeel hy het soos ’n dwarrelwind gekom en gegaan. Sonder om lank stil te staan.
Ek kyk na Dora, ek hou asem op, maar wag tog dat sy verder moet verduidelik. “Dora?” vra ek weer. Huiwerig.
Dora sluk, bleek geskrik vir haarself. “Ag man, ek maak sommer stories op in my kop. Want ek wonder altyd hoe hy dit kon regkry om jou ma sommer net te vergeet.”
Dora se stem daal. “Maxie, jy moenie by jou ma gaan nuus aandra nie. Sy maak my dood as sy weet ek praat met jou oor jou pa. Morsdood, sê ek vir jou.” Dora kyk om haar rond, asof Ma skielik in die kombuis kan verskyn. “Sy sal my pension wegvat, dis wat sy sal doen. En ek sal nie weer ’n werkie kry in die land van die lewendes nie. Jou ma het contacts oor die hele wêreld. Friends in high places.”
Dora vou haar arms, klem haar lippe merkbaar opmekaar. Maar nie lank nie. “Dis ook jy! Jy met jou troustories. Vir wat nou dit vir mý kom staan en vertel? Het jy nie maters by wie jy kan gaan sit en praat nie? Hoekom altyd na Dora toe hardloop? Dora is nie jou maat nie, ook nie jou ma nie. Dora het genoeg van haar eie troubles. Daar sit ek met my eie drie meisiekinders, almal met kleintjies, nie een getroud nie en net twee van hulle wat werk het.”
“Ek het net vir Frankie en sy’s nie nou hier nie.”
“Frankie? Daai wildewragtig! Klein pes. Moeilikheidmaker van die eerste water, van die eerste dag af wat hulle hier langs ons ingetrek het. Jý was nie so stout nie, maar sý! Klouter oor die mure om hier by jou te kom sit en speel. Wip haar vir my. En praat! Jou ore van jou kop af. Nuuskierig. Wil als weet, vra uit asof sy die judge en die jury is.”
Dora is nie verkeerd nie. Frankie was ’n draaiorrel. En sy het eintlik nog nie verander nie.
“Ek het gedink jy het lankal van dié meisiekind ontslae geraak, vir jou ander maats gekry. Maar nee! Nou klou jy nog aan haar vas. Maar jy moet maak soos jy smaak. Dis jou lewe, nie myne nie. Loop praat met haar oor jou dinge, loop hoor wat sý vir jou te sê het as jy met jou troustories by haar kom.”
“Ek kan nie. Sy’s nie hier nie. Sy werk aan haar bucket list.”
“Haar bucket list? Die goed wat julle praat! Wat vir ’n ding is ’n bucket list?”
“Dis ’n lys van goed wat ’n mens wil doen voordat jy die emmer skop. Dis hoekom dit ’n bucket list genoem word.”
“Nou is die meisiekind dan aan die emmer skop?”
“Nee, natuurlik nie. Sy’s springlewendig. Té lewendig. Dis hoekom sy al hierdie vreemde dinge aanvang. Net hierdie jaar het sy al in ’n warmlugballon gery, gaan bungee jump en hierdie week gaan sy uit ’n vliegtuig spring.”
“Met of sonder ’n parachute?”
“Met, Dora. Moenie vir jou snaaks hou nie.”
Dora het nooit van Frankie gehou nie. Ma ook nie. Niks snaaks daaraan nie. Daar is baie min mense van wie Dora hou. En Ma se vriendskap is ook nie goedkoop nie.
Kyk, my ma het van window dressing ’n fyn kuns gemaak. Sonder die hulp van ’n spindokter. Sy’s ’n meester. Johanna van der Merwe kan so fake wees soos die gemiddelde Hollywood boob. What you see ain’t what you get. En let’s face it – dis wat van haar so ’n sukses maak. Ma het ’n goed geoefende glimlaggie wat sy met die knip van ’n oog vir die kiesers kan opdiep, dieselfde glimlaggie wat sy uithaal wanneer daar ’n kamera in haar rigting flits. Maar daardie glimlag verdwyn net so maklik die oomblik wat sy haar rug draai. My ma se publieke persona is nou nie eers verlangse familie van haar privaat persona nie.
Ek skrik toe ek sien hoe laat dit is. Dit lyk nie asof ons vandag by tee gaan uitkom nie. Ek bêre maar weer die koppies wat die dooie oujongnooitannie seker nog vir trousseau gekry – en toe nooit gebruik het nie.
Dora lyk taamlik verlig toe ek opstaan om te loop. “Wat het jy nou weer aan daardie voete van jou?” baklei sy vir oulaas nog toe sy my skoene sien. “Was daar weer diere wat hul lewens moet gee sodat jy hul velle aan jou voete kan dra?”
“Net ’n krokodil, Dora. ’n Nare krokodil wat mense vreet as hy die kans kry.”
“Nou hoekom sal jy so ’n nare ding se vel wil dra?”
“Jy verstaan nie, Dora.”
“Nee, jy’s reg, ek verstaan nie. So sal ek nooit my voete verniel nie.”
“Moenie bekommerd wees nie, ek dink nie oorsese ontwerpers maak skoene wat aan jou groot voete sal pas nie.”
“Hierdie groot voete van my het my deur die lewe gedra. Vandat ek ’n kind in die Karoo was.”
“En ver ente skool toe moes loop, ek weet, ja. Opdraand al die pad, soontoe én terug.”
Dora skud haar kop.
“So het jy in jou ma se skoene probeer loop. Vandat jy ’n klein dogtertjie was. In die gang af geslof met haar high polvaais aan jou voete.”
“Nou kan ek nie meer nie. Ma se skoene pas my nie meer nie.”
“Dis daardie tone van jou.”
“Ek weet, ja, Dora. Ek weet ook waar ek dit vandaan kry. Dis nie van my ma nie – haar voete is perfek gevorm.”
“Ek het jou al hoeveel keer gesê ...” Dora se stem neem ’n prekerige toon aan.
“Ja, Dora, ek ken daardie Chinese spreekwoord van jou so goed soos my middelnaam. Jy het dit genoeg voor my kop gegooi toe ek nog na jou moes luister.”
“Ek het gehuil omdat ek nie skoene het nie ...” dra Dora in elk geval voor.
“Toe sien ek iemand wat nie voete het nie,” voltooi ek. “Bla, bla, bla!” Ek stoot my stoel onder die tafel in, reg om te loop. “Wel, ek hét voete. Met krom tone. En ek het stunning skoene om daardie tone toe te maak ook. So what?”
Dora stap brom-brom saam voordeur toe. Nie om my af te sien nie, maar om seker te maak die deur word agter my toegesluit.