Читать книгу ’n Ander vrou se rok - Kristel Loots - Страница 3
1
ОглавлениеMaandagoggende is die absolute pits! Dis soos om lewe te blaas in ’n verweerde opblaaspop vol gate waar daar nie moet gate wees nie. Het mos weer verslaap, is al klaar weer laat, gryp sommer wat voorkom, trek aan met die spoed van ’n skelmpie wat amper in haar baas se bed betrap is. Two ticks, toe staan ek in die kombuis om ’n sluk koffie te vat voordat ek die dag pak.
“Jy’s laat,” kyf Ouma Betta, haar bleek lippe in ’n plooi saamgetrek soos ’n outydse twaksakkie wat styf toegeknoop is. Ag flip! Ek het so gehoop sy sou nog in haar kamer wees, dat ek by die deur uit kon wees voordat sy my beetkry en kou. Nog voordat die dag behoorlik begin en die matrieks soos parasiete my energie tap. “En jy lyk soos iets wat lank in die wasgoedmandjie gelê en muf het,” voeg sy by.
As Ouma Betta nie hou van wat sy sien nie, beteken dit ek is dalk funky genoeg aangetrek om die wêreld te skud. Ek moet sê: Die hele ou fashion-ding maak my met tye moeg. Want ek is nie in murg en bloed ’n fashionista nie, net ’n wannabe.
“Jy lyk nie soos ’n onderwyseres nie,” verwyt Ouma Betta verder, haar teemstemmetjie soos ’n elektriese saag wat stomp geraak het voordat die werk afgehandel is. Eentonig. Irriterend en aanhoudend.
“Ek lyk eerder soos ’n straatvrou as soos ’n tipiese onderwyseres,” kap die feeks in my terug. Soms wens ek daardie feeks wil eerder engelvlerke groei, maar ek wens verniet.
Die duiwel alleen weet waarom ek so op my arme ouma spring. Ek is mos lankal nie meer ’n tiener met puisies op die gesig soos die matrieks vir wie ek skoolhou nie, my storm-en-drang-dae is veronderstel om in die verre verlede begrawe te lê. Maar my frieken inner child is alive and unwell en kry seer die oomblik dat Ouma Betta op my emosionele liddorings trap.
“Al weer ander mense se ou klere?” wil Ouma Betta weet.
“By die Salvation Army-winkeltjie gekoop, Ouma Betta.” Hoop die noem van die Salvation Army, met die assosiasie van al die goeie dade wat hulle doen, sal haar hart versag.
“Klere wat ander mense nie meer wil hê nie en vir liefdadigheidswinkels gee om aan die arme arm mense te verkoop?”
“En wat ek dan koop, Ouma.” Vir ’n vyfde van die prys wat ek in ’n regte winkel daarvoor sou betaal, maar dis my geheim. “Ek kry dit nie verniet nie, Ouma Betta. Die winkel gebruik die geld wat ek daarvoor betaal vir die arm mense.”
Arm mense sal nie weet dis ontwerpersklere nie, probeer ek myself troos wanneer ek met die wonderlikste winskopies daar wegloop. Hulle wil lekker bont rokke hê, helder rokke wat die vaalheid van hul bestaan sal verdryf, nie classy klere nie. En … en … hulle wil eerder kos as klere hê, kos en komberse en sulke goed wat met my geld gekoop kan word. Ja, oukei, ek voel soms skuldig, maar net totdat ek die klere aan my lyf het en sien hoe goed dit lyk. Nie juis mooi nie, maar spoggerig. Ryk. Deftig.
Nie dat Ouma Betta hierdie dinge verstaan nie. “Betaal hulle jou dan nie genoeg by die skool dat jy vir jou ordentlike klere kan koop nie, Zia? Wat gaan aan?” Haar oë trek op skrefies. “Dwelms? Jy rook nie dalk dagga nie, Zia?”
Ek kan dit nie help nie – ek proes in my koppie koffie. “Ouma Betta, ek sal nie ’n daggazol herken as een van my leerders dit vir my aanbied nie.” Wat nie heeltemal waar is nie; ek hét al ’n paar gekonfiskeer, maar nog nooit lus gehad om op daardie trip te gaan nie. Nie classy genoeg vir my nie, sien?
Ouma Betta kry daardie verbete uitdrukking op haar gesig. Die een wat sê: Ek weet ook nie hoekom ek so onder hierdie kind moet suffer nie, ek het my deel van pyn en lyding in die lewe eintlik al lankal opgebruik. Dis ’n uitdrukking wat ek so goed ken soos my handpalm, dis ’n gesig waarteen ek my lewe lank al vaskyk.
“Ek sal seker maar weer jou pa moet vra om jou te help om vir jou ordentlike klere te koop. Ek kan dit tog nie met my ou pensioentjie doen nie.”
Ek word koud, soos elke keer wanneer Ouma Betta van my pa praat. My pa is Die Skim, jy sien? Hy moet wees, want ek weet van sy bestaan, maar hy verskyn nooit. In elk geval nie aan my nie. Daar is soveel wat ek vir Ouma Betta oor hom wil vra, soveel wat ek van hom wil weet, maar sy slaan gewoonlik heeltemal toe as ek in daardie rigting beweeg. Of antwoord so vaag dat die skim al hoe meer geheimsinnig raak. En sy is ook sommer dadelik lekker moerig. “Jou pa het jou nie grootgemaak nie. Ek het. Sy naam word nie in hierdie huis genoem nie.”
Maar ek weet darem wat my pa se naam is. Schalk de Wet. En soms, wanneer niemand my hoor nie, prewel ek sy naam. In hierdie huis. Maar nooit hard genoeg dat Ouma Betta my hoor nie. As ek na Ouma Betta se gesig kyk, is my pa ten minste ’n reeksmoordenaar wat nooit sy tande borsel nie. Geen wonder Ouma Betta wil nie oor hom praat nie. Dis net wanneer ons geld nodig het dat sy naam genoem word. In hierdie huis.
“Dis nie nodig nie, Ouma Betta,” keer ek. “Ek het geld, genoeg om vir my nuwe klere te koop, maar dis nie my styl nie.”
Die classy tweedehandse klere hier in King’s Court se omgewing is een van die stad se bes bewaarde geheime. Die vroue van die noordelike voorstede weet nie daarvan nie en dié wat hier rond bly, sal nooit eens daar gesien wil word nie, nog minder iets daar gaan koop. Dis net ek wat daar inglip. Daar waar ek die duur ontwerpersname raakloop wat my na asem laat snak. Dis ryk mense wat hier in ons buurt rond woon, mense wat in ’n ander liga leef as ek en Ouma Betta. Ons twee het van die begin af half per ongeluk hier geleef, ook maar net omdat sy die huis by haar ouers geërf het en daaraan vasklou soos ’n skilpad aan sy dop.
Ryk mense leef mos op die vettigheid van die land en bars later letterlik uit hul nate. En omdat hulle nie daaraan herinner wil word dat hulle nou nog vetter as voorheen is nie, raak hulle van die klere ontslae. ’n Mens kan mos altyd weer ander koop. ’n Nommer of twee groter.
En lo and behold, dis daar waar ek na vore tree en klere koop wat ek nooit normaalweg met my budget sal kan bekostig nie. Niks wat ’n bietjie seeppoeier en kookwater nie kan beter maak nie. Na ’n ruk vervaag die ander vrou se reuk, maar die klere word nooit werklik myne nie. Ek is nog steeds ’n mot wat aangetrek is soos ’n skoenlapper. Kamoeflering is ’n fyn kuns, maar dis nie the real McCoy nie.
Natuurlik verstaan Ouma Betta niks hiervan nie en maak dit nie vir haar sin dat ek beter oor myself voel wanneer my tydgenote jaloers na sommige van my uitrustings kyk nie. “Wat jy wáár kry?” wil hulle weet. “Met jou salaris? Het jy ’n ryk sugar daddy of wat?”
“Nee, net ’n pa wat my volstop,” lieg ek dan, so nonchalant moontlik.
’n Pa wat niemand ooit te sien kry nie. My pa is nie net vir mý onsigbaar nie, ander mense kry hom ook nie te sien nie. Maar hulle weet hy is daar, iewers op die aardbol, seker maar in een van die rykste lande ter wêreld. Waar hy geld soos bossies verdien en ’n deel daarvan vir my stuur om duur klere te koop.
As dit van Ouma Betta afhang, sal ek klasgee in ’n hele reeks eenderse blommerokke wat langs mekaar in die kas hang. Mooi, kuise rokke wat dit sal uitskreeu dat ek ’n tipiese en baie toegewyde onderwyseres is wat voeling met die werklike lewe verloor het. Iemand vir wie die versoekings van die vlees nie geld nie. Is maar goed Ouma Betta weet nie van die versoekings en die verleidings van mý vlees wanneer ek onder haar priemende oë uit is nie.
“Was dit nie vir my oë wat aan die ingee is nie, kon ek gou vir jou ’n paar rokkies aanmekaargeslaan het,” dreig Ouma Betta.
Behoede my daarvan. Ouma Betta se tuisgemaakte rokke het my ’n knou toegedien waarvan ek nooit sal herstel nie. Some altyd effens skeef ingesit, knopies tot bo by die keel, kuis en koeklik genoeg om my vir die res van my lewe te brandmerk. Ek trek aan om ’n ou seer te probeer besweer én om effens te skok.
Ek sluk die laaste bietjie koffie vinnig af.
Eintlik moes ek geweet het die naweek sou te lank wees om by Ouma Betta te kuier. Ek moes tog maar gisteraand al gewaai het, soos ek van plan was. Nie van Ouma Betta se huis af skool toe en vanmiddag van daar af terug woonstel toe nie.
Dis tog hoekom ek jare gelede al uitgetrek het, sodat ons mekaar nie meer so sal verniel nie. Wie deel dan nou ook ’n huis met jou ouma wanneer dit nie meer nodig is nie? Net iemand wat haarself wil kasty, wat probeer om sodoende van baie jare se skuldgevoelens ontslae te raak. Maar dit werk nie. Ek gaan elke keer hier weg met meer klippe in my sondesak as waarmee ek by Ouma Betta aangeland het.
“Dankie, Ouma Betta, ek het lekker gekuier,” lieg ek nogtans toe ek haar groet, haastig om weg te wees.
Maar toe sy my met koue lippe op die voorkop soen, moet ek my gesig van haar af wegdraai sodat sy nie die trane in my oë sien nie …
En nou staan ek hier in ’n outfit wat niks vir my doen nie, nie as straatvrou óf onderwyseres nie, veral nie een wat vir matrieks klasgee nie. En ek kyk hoe die matrieks tydsaam in die banke plaasneem. Hul skouers hang. Lyk afgerem. Moeg. Heel moontlik nog met ’n moerse babelaas net agter die ooglede ook.
Vir hulle was die naweek lank en lekker, en die Maandag is genadeloos, die nuwe week onversetlik en wreed. Ek het nie die naweek gefuif nie, maar ek voel nie veel beter as hulle nie. Ek sal weer moet spark soos ’n hele string Kersliggies om dié spul wat so vaal en vaak voor my sit aan die werk te kry. Of dan ten minste net wakker genoeg dat hulle nie in stereo aan die snork gaan nie.
As hulle wakker genoeg was, sou hulle my dissekteer soos ’n wetenskaplike met ’n rare insek, veel genadeloser as my ouma. Hulle doen dit soms, maak snedige aanmerkings oor my klere, altyd hard genoeg dat ek kan hoor.
Looks like a circus clown gone wrong, mutton dressed as lamb, daardie tipe van ding. Verstom my aan die bloedjies wat skaars Afrikaans oor hul lippe kry, maar met uitdrukkings en gesegdes soos daardie vorendag kan kom. Santie Doemprofetes in die klas langs myne doen duidelik beter werk met haar Engelse lesse as ek wat ’n liefde vir Die Taal wil kweek waar daar geen liefde te vinde is nie. Maar Engels of swakkerige Afrikaans, maak nie saak nie, hul tonge is skerp. Vir ’n gemiddelde agtienjarige is ’n onderwyseres iemand om te verskeur.
“Hulle kan vrees ruik,” is hoe Santie Doemprofetes dit beskryf. “En sal jou swakhede uitbuit die oomblik dat hulle agterkom wat dit is.”
Aan die begin wou ek haar nie glo nie. Was so vol geesdrif soos ’n drukkoker op pad na ’n ontploffing, wou met alle mag glo aan die goeie en al daardie pienkboekie-stuff wat jou besiel om tog in hemelsnaam net positief te wees. Oor die land en sy mense, oor die taal van jou hart, oor die fluitende voëltjies daar buite en die blomme en die bye, tra-la-la. Ek wou woon in La-la-land, waar alle wense waar word.
Ek kyk die spul so. Ek sweer die meeste van hulle weet meer van die blomme en die bye as ek. Kry heel moontlik ook meer action as ek. Veral as ek terugdink aan die droëbek-naweek wat verby is.
Ek het my nogal Vrydagaand vroeg al van ’n kant af opgetof, met ’n mooi kalerige somersrokkie in Ouma Betta se sitkamer beentjies oorkruis gewag vir my ridder op sy poegie om te kom kuier. Parfuum agter die ore en op nog ’n paar strategiese plekke, the works. Lippe geverf met parmantige passion-pienk, naels om daarby te pas, hare wild en wakker drooggemaak, genoeg eyeshadow om my come-to-bed-eyes te beklemtoon.
Só wag ek toe vir my kêrel. Vir Karel, my kêrel. Jy kan hom nie iets anders noem nie. Hy is nie ’n ou nie en hy is ook nie ’n boyfriend nie. Hy is ’n kêrel. So Afrikaans soos “Ek soek na my Dina” of enige ander volkspele-liedjie.
Ek wou mooi lyk. Vir my kêrel. Vir Karel. Met sy poegie. Want Karel hou van mooi goed. Soos ’n silwerblink poegie. En mooi meisies. “Ek het ’n oog vir skoonheid,” spog hy gereeld as hy hom amper disnis teen ’n lamppaal loop wanneer daar ’n blonde met bene en boobs verbykom. Ek is mos nie ’n natural blonde nie, maar ek probeer soms ’n bietjie kroek. ’n Bottel-blonde is beter as glad nie ’n blonde nie. Moet elke paar weke my boring hare kleur as die bruin teen my kopvel begin wys. Maar partykeer vererg ek my, besluit dan basta met die blonde hare en bewandel die aardbol as ’n brunet. Is nou eenmaal nie so verblindend blond soos my niggie, Bianca, gebore nie. Bleddie Bianca.
As ek stunning genoeg kon lyk as Karel Vrydag daar aankom, sou hy by my bly. Vir ’n wyle. En ek wou hom daar hê. Die ding wat Vrydagoggend in die skool gebeur het, het by my gespook en ek wou nie langer alleen daaraan dra nie. Debriefing is mos deesdae die in-ding; jou bekommernisse word nie meer met ’n koppie warm tee besweer nie, jy praat die ding uit jou gestel uit.
Ek weet ek moes die insident met Julius Malema aangemeld het, sommer dadelik ook. Om dit sommerso te laat gaan sonder dat hy aangespreek of gestraf word, is onverantwoordelik. Ek stel die kinders in my sorg in gevaar.
Maar ek wou dit eers met Karel bespreek, sy raad vra sodat ek nie weer voor die skoolhoof sou staan en rondtrap asof dit ék is wat verbrou het nie. Dit gebeur elke keer. Die leerders keer die klas om en die onderwysers word gebraai. “Waar was die dissipline wat gehandhaaf moes word, dames en here? Die leerders van die Hoërskool King’s Court het ’n ferm hand nodig.”
Vergeet van ’n ferm hand – my frieken hande het Vrydagmiddag soos droë blare in die wind gebewe toe ek die mes in my matriekleerder se hand sien. My bene ook. Natuurlik het ek die ding heeltemal verkeerd hanteer, hoe dan nou anders?
Ek het stilgebly toe ek moes praat. Deur die res van die dag gestrompel en vir Karel gewag. Karel sal weet wat om te doen, het ek myself getroos. Asof hy ’n wyse man is. Maar die liewe Karel het nie eens kom kyk of ek nog by Ouma Betta survive nie.
Miskien het hy ’n behoorlike skimp nodig, het ek besluit toe die wag te lank word. Of ’n hou teen die kop. ’n Moerse hou! Help! Kom red my asseblief tog net! het ek so ongemerk moontlik vir Karel ge-SMS terwyl Ouma Betta haar sepie kyk en luidkeels raad uitdeel aan die mooi mense met hul fiktiewe probleme. As hulle net drie episodes gelede al na Ouma Betta wou luister, sou hulle nie nou so gesukkel het nie.
My vingers het oor die letters gevlieg: Ek het jou nodig sodat ek my nie aan drank oorgee nie. Was ook so. Ek het soos ’n Middeleeuse damsel in distress met gekoekte hare hoog en droog in ’n toring vasgevang gesit en gehoop Karel sou soos Lancelot met swaard en al opdaag sodat hy my kon red. Karel, o Karel, kom maak asseblief tog my pligskuiertjie by Ouma Betta vir my beter, het ek sit en wens. Want hier is nie ’n druppel drank om my aan oor te gee nie, net Ouma Betta se bottel hoesmedisyne, en sy drink self daaraan.
Karel kon as weerligafleier tussen my en Ouma Betta dien. En vir my sê wat ek in verband met die donnerse Julius Malema in die C-klas moet doen. Voordat die bloed dalk in strome oor die klaskamer se plankvloer loop. Want sowaar, Lulonke Tshabalala alias Julius Malema, ’n naam waarop hy baie trots is, maak my bang. Daar is oorlog in sy oë.
Dis mos waarvoor ’n significant other daar is, dan nie? Dis mos wat die other significant maak, dan nie? Hulle luister en hulle troos. Maar nee, ek was die naweek nie vir Karel significant genoeg om daar op te daag nie. “Dis bleddie boring daar by jou ouma,” het hy verduidelik toe ek teen Saterdagaand desperaat genoeg was om hom te bel. “En depressing,” het hy bygevoeg. “En dan ruik dit ook nog na oumens.”
Vertel my iets wat ek nie weet nie.
“Nou kom haal my dan net,” het ek gepleit. “Ons kan iewers heen gaan.”
“Ja, sure. En dan sit jou ouma ons en inwag in haar flennie-nagrok wanneer ek jou huis toe bring en skakel daardie moerse stoeplig van haar aan sodat ek jou nie dalk op die voorstoep deflower nie. Asof jy nie lank gelede al gedeflower is nie!”
Ek het niks gehou van die manier waarop Karel gelag het nie.
“Kom hou my net ’n bietjie vas, toe, man,” het ek gesmeek. “Of praat ten minste net met my, al is dit oor die foon.”
“Soos in foonseks?” wou hy weet.
“Nee, man! Nie soos in foonseks nie, baie beslis nie soos in foonseks nie. Soos in om ’n bietjie vasgehou te word wanneer mens dit nodig het.”
“Dis frieken ver om te ry vir ’n bietjie vashou, skattebol. Go hug a tree.” Hy’t weer gelag. “Dis ’n joke, Zia. Get it?”
Ek lag gewoonlik vir Karel se grappies, want dis wat girlfriends doen. Maar eintlik doen sy sogenaamde sin vir humor swiet-blou-ôl vir my en hierdie keer het ek niks van sy simpel grappie gehou nie. In fact, ek het Saterdagaand nie baie van hóm gehou nie. Het gewens hy moet ’n pap wiel kry waar hy hom ook al bevind. Of ’n maagaandoening.
Karel verstaan nie hoe heavy dit vir my is om by Ouma Betta te wees nie. Dat die mure van die huis waarin ek grootgeword het my inhok, dat al die memories van my grootwordtyd uit die donker hoeke en kaste kruip en my aan die keel kom gryp. En dat die meeste daarvan heimwee-herinneringe is wat my oneindig hartseer maak.
Dat ek sulke tye na ’n man se arms om my verlang, soos ’n kind na ’n Kersgeskenk. En dat dit niks, net mooi niks met seks van enige aard te make het nie. Eintlik, as ek nou daarvan onthou, wens ek dat die maagaandoening wat ek Karel toegewens het nog nie opgeklaar het nie. Dat dit hom aan die hardloop hou. Ek sal hom anderdag weer goeie wense toewens. Wanneer hy behoorlik boetedoening gedoen het. Ek is nie regtig so cheap soos wat ek die naweek geklink het nie. Karel sal my moet wine en dine voordat hy weer met ’n vinger aan my raak, hoor my lied.
Maar voordat ek soete wraak kan neem, moet ek deur hierdie skooldag kom, moet ek iets in die koppe prop van die matrieks wat nou uiteindelik almal hul plekke gevind het en met leë gesigte sit en staar, so onontvanklik soos ’n konserwatiewe predikant wanneer een van sy gemeentelede se dogter oor die tou getrap het.
Die oggendstond het goud in die mond, or so they say, maar dit lyk nie so nie. Bongani trek al klaar sy baadjie oor sy ore voordat hy met sy kop op sy arms gaan lê. Dis tyd vir sy oggendslapie en my sprankelende geselskap is beslis nie genoeg om hom daarvan te laat afsien nie. Dis aansteeklik, die gegaap en die geslaap. Want Jeremy van der Merwe volg Bongani se voorbeeld. Wat vir die een geld, geld vir die ander. Dié wat wil staak, mag staak. Dié wat wil slaap, mag slaap. En moenie slapende honde wakker maak nie. Hulle kan jou dalk net byt waar dit seermaak.
“Dames en here, daar is niks wat ons hieraan gaan verander nie,” het meneer Botha ons weer eens tydens die vorige personeelvergadering verseker. “Dis die nuwe kultuur, die gees van die tyd. ’n Leerder het die reg om te maak soos hy smaak.” Meneer Botha se mond het lelik getrek, die sarkasme dik soos melasse in sy stem. “Die grondwet verbied ons nou eenmaal om ’n kind wakker te klap. Of hom soos in die goeie ou dae met ’n swartbordborsel teen die kop te gooi dat hy sterre sien. Ek verlang met my hele hart na daardie tyd, maar dis verby. Vir ewig en altyd.”
Ek stem natuurlik nie heeltemal met hom saam nie. Ek weet maar te goed hy sou graag nog op ’n daaglikse basis ses van die bestes wou uitdeel. Maar hy het versigtig geraak, want die skool wil nie probleme met die menseregtekommissie hê nie. Dis ’n lot erger as die dood. Ons is nie almal so trigger-happy soos meneer Botha nie, en vir Bongani, met sy kop toegetrek sodat ons hom nie onnodig sal pla nie, hanteer ons ekstra versigtig. Sy pa sit die banke in die parlement warm en nie een van ons het ’n death wish nie. “As die kind wil slaap, laat hom slaap,” het Santie Doemprofetes haar ervaring as senior pedagoog met my gedeel. “Kinders wat slaap, raas ten minste nie. Behalwe miskien vir ’n snorkgeluid so dan en wan.”
“En as sy dissipels die een na die ander sy voorbeeld volg?”
“Mag jy ook nie aan die roer en rumoer gaan nie. The goose and the gander, jy weet mos. Diskriminasie is ’n vloekwoord wat jou in groot moeilikheid laat beland. You’ll never work in this town again.”
Ek soek na my lesplan op my lessenaar. Vat die memo raak wat die oggend aan ons uitgedeel is. Ag toggie! Dit gaan oor die revue wat vir later vanjaar saam met ’n reünie vir oudleerders beplan word. Ons moet begin oefen daaraan en die taalonderwysers moet asseblief hul kant bring en met tekste te voorskyn kom. Iets oorspronkliks waarin die leerders sal belangstel. Maar ook iets waarmee die ouers tevrede sal wees. Wat natuurlik ’n onmoontlike taak is.
Die leerders moet gemotiveer word om smiddae na skool te kom oefen, hul samewerking te gee sonder dat dit nodig is om hulle met die dood te dreig. Dié wat nie kan sing nie, kan met die bou van die stel help. Elkeen moet sy deel doen. Dit moet ’n aanbod wees wat nie geweier kan word nie. Die skool se leuse is tog dat saamstaan tot sukses lei, dan nie? Die taak is so groot dat ek nie eens daaraan wil dink nie. Ek bêre liefs die memo by vele ander en trek ’n digbundel nader. Ons gaan die week met ’n goeie porsie poësie binne. Hoewel ek nie vandag veel waardering vir die skoonheid van die woord hier in die Afrikaans Addisionele Taal-klas verwag nie.
Oh great! Dis ’n gedig van Peter Blum wat volgens die leerplan vandag met die matrieks behandel moet word, “Nuus uit die binneland”. ’n Vreeslike slaat-dood-vuurvreter vir Die Taal is ek nie, daarvoor gaan dwaal my tong self te maklik anderkant die draad. Maar daar brand darem ’n vlammetjie in my, ek wíl graag by die spulletjie hier voor my ’n waardering vir Afrikaans kweek.
“Die digter, Peter Blum, was ’n besonder interessante figuur,” sê ek met genoeg woema om selfs die dode te wek.
“Is he a dêd poet, Mêm?”
Wat het ons hier? Iemand wat wakker genoeg is om ’n grappie te maak? Ek kyk haar so. Lindiwe Mogotsi. Mooi ou meisietjie. Vlekkelose vel soos mahoniehout. ’n Geheimsinnigheid in haar houding, wat my laat wonder of sy nie dalk heelwat binnepret het ten koste van my en dalk ook haar klasmaats nie. Stille waters, hierdie Lindiwe-kind. Wens soms ek kon met haar ’n gesprek voer. Heart to heart, vrou teenoor vrou, nie as teacher en learner nie. En in ’n taal wat al twee van ons behoorlik magtig is.
Ja, al is dit ook oor dêd poets.
“Sharp, Lindiwe,” sê ek, sonder om te weet of sy werklik verwys na die Robin Williams-film Dead Poets Society. Ek hét die movie ewe hoopvol vir hulle gewys. Het gehoop dit sou hulle net so besiel soos die karakters daarin, dat dit hulle sou aanspoor tot nuwe hoogtes, dat hulle selfs poësie sou pleeg. Emosionele woorde sou gebruik om hul binneste op papier uit te giet. In Afrikaans nogal.
Ja, sure, Zia. En die maan is van kaas gemaak. Flip! Wat het ek dan ook verwag? Niemand wou eens deur die bundels blaai wat ek van die huis af gebring het nie. Ek dink ’n staatskoerant sou meer belangstelling uitgelok het as daardie stowwerige bundels met die vaal buiteblaaie. Veral as die grondwet daarin te lees was.
“We don’t wanna learn Afrikaner crap,” brom iemand onderlangs. Net hard genoeg dat ek – en die res van die klas – dit kan hoor. Ek haal ’n slag diep asem en probeer na ’n happy place in my kop ontsnap, maar kan nie gou genoeg aan ’n happy place dink nie. Ek hou my doof, want ek weet van beter as om die aas te gryp wat vir my uitgegooi word. Eintlik is ek bly om te sien dat daar nog ’n moeilikheidmaker is wat wakker genoeg is om my te treiter.
“Voordat ons die gedig in diepte behandel, gaan ons eers na Peter Blum se lewe as digter en mens kyk. Daar kleef iets misterieus aan sy lewensverhaal. As ons meer daarvan weet, kan dit ons help om sy gedigte reg te interpreteer.”
“Who fucking cares?” Ek hoor dít ook, soos bedoel. En ek weet ek moet eintlik hierop reageer. ’n Sedeprekie afsteek. Maar ek weet ook ek gaan niks daarmee regkry nie. Daarom bly ek sugar and spice and all things nice en gaan staan voor in die klas om die gedig hardop met hulle te deel. Ek doen dit soos in my laerskooldae toe ek aan eisteddfods deelgeneem het en soms eervolle vermelding vir my pogings gekry het. Goud en silwer ken ek nie, maar om vermeld te word en dan nog eervol ook, was meer as genoeg vir my. Oukei, Ouma Betta het nou wel nie die sertifikate geraam nie, maar sy hét dit met ’n magneet teen die yskasdeur vasgesit. Waar dit gebly het tot dit van ouderdom vergeel en verfrommel geraak het.
“Soms in die winter as die reën sag stuif, op grasperke dig en diep …” dra ek voor, met stembuigings en al. Ek sien dit so voor my, die sagte reën, die malse groen grasperke, en ek wil huil. Sommer net huil. Omdat dit mooi is en omdat daar so baie is wat ek graag met hierdie spul tieners voor my wil deel. Pêrels voor die swyne, ek weet, en ek is hartseer daaroor.
Want die reën kan maar stuif op die grasperke dig en diep, dit ontroer g’n niemand van die vele voor my nie. Dit roer hulle nie eens genoeg om in my rigting te kyk nie. Baby steps, Zia, maan ek myself. Baby steps.
“Kan ons nie eerder ’n rap song leer nie?” wil Rodney Olifant, een van die agterbankers, weet. Rodney is een van vele steeks donkies wat al in die verkeerde rigting neuk. Nou ja, ’n steeks donkie is nog steeds beter as ’n dooie donkie. Hy toon ten minste tekens van lewe en sy vraag is skadeloos genoeg om te antwoord sonder dat die Afrikaans-periode in ’n politieke kookpotjie omskep word. Saam met Lindiwe en die ander moeilikheidmaker wat sy bek gerek het, is daar darem nou al drie wat nie in ’n diep koma verkeer nie. Eintlik beleef ek vandag ’n suksesverhaal. ’n Wonderwerk in die kleine.
“Dis ongelukkig nie in die leerplan nie, Rodney.”
“Hoekom nie?” Sy stem is die ene doringdraad.
“Miskien as daar ’n rap song is waarmee al die stylfigure van die digkuns geïllustreer kan word, kan dit gebruik word,” gooi ek water op die vuur. “Hoekom skryf jy nie vir ons een nie?” Vir ’n oomblik, ’n breukdeel van ’n sekonde, lees ek iets soos hoop in sy oë.
Ek gryp na die strooihalm en begin geesdriftig vertel van al Peter Blum se omswerwinge, probeer verduidelik dat hy ’n mens was soos enige van ons. Met sy eie demone wat hy moes verslaan. Soos enige van ons. Maar dat die mooie en die uitsonderlike nie by hom verbygegaan het nie, dat hy daaroor kon dig sodat ons steeds in verwondering sy woorde in ons kop kan hoor. Ek lees vir hulle uit sy biografie, Wat het geword van Peter Blum? Nog steeds met elke stembuiging onder die son wat ek kan bemeester.
Maar die goue oomblik is verby. The ship has sailed. Without docking, om die waarheid te sê. Daar is nie genoeg bloed en derms in die storie nie, ook geen bloeddorstige vampiere of ’n warm liefdesverhouding met stomende sekstonele tussen ’n aardbewoner en ’n ruimtewese nie. Daar is niks waarin hulle belangstel nie. Niemand luister nou meer nie, nie eens die drie wat vroeër belangstelling getoon het nie.
Toe doen ek maar wat onderwysers doen if all else fails. Ek deel folio’s uit waarop die gedig afgerol is. Natuurlik met ’n paar vrae daarby. Beantwoord die volgende so volledig moontlik, lui die opdrag. Ja, sure. Nogal so volledig moontlik. Wie probeer ek fop? ’n Ja- of nee-vraag sal dalk nog reg geraai word, want ’n vyftig-vyftig-kans is heelwat beter as die gewone odds. Maar so volledig moontlik is vir die voëls.
“Dis ’n werkopdrag en dit moet môre klaar wees,” hou ek nog my lyf onderwyseres. “Hoe meer jy nou doen, hoe minder hoef jy vir huiswerk te doen.”
Bongani lig sy kop en kyk na my asof ek sielkundige hulp nodig het. Huiswerk? Huiswerk is iets wat die hond opgevreet het, huiswerk is vir ander mense.
Ek sak agter die lessenaar neer soos ’n bokser wat so pas ’n moerse hou toegedien is, hard genoeg om hom te laat steier. My gô is uit en die dag staan nog in sy kinderskoene. Emosionele uitputting, dis seker wat die geleerde mense dit sal noem. Of depressie. Dalk nog uitbranding of enige ander stopwoord om te beskryf waaraan die meeste van ons in die onderwys ly. Gatvolheid!
Maar elkeen van die matrieks het nou ’n folio op die bank en die meeste van hulle het ten minste ’n pen in die hand. Window dressing. Eintlik is ek nogal goed met window dressing, al moet ek dit self sê. Wie ook al nou hier ingestap kom, sal nie kan bewys dat ek bloot die tyd probeer omkry nie.
“Mêm, it’s in Afrikaans, Mêm,” beskuldig Sibusiso my vanuit die middelry en hou die folio tussen sy duim en voorvinger vas asof dit iets onwelriekends is. A! Sukses! Iemand wat darem gelees het wat op die papier voor hom staan.
“Ja, Sibusiso, natuurlik is dit in Afrikaans. Afrikaans is een van jou vakke en hierdie is die Afrikaans-periode.”
“But I don’t like Afrikaans, Mêm!”
“Dis jou probleem, Sibusiso, nie myne nie.”
“What do you want me to do, Mêm?”
“Answer the questions, Sibusiso. Use your dictionary if you need to.”
Dis asof ek hulle vandag helderder raaksien, hierdie spul matrieks wat aan die einde van die jaar moet slaag, come hell or high water. Daar is ’n paar wat dit sal maak, al skaaf daar ook van hul stertvelle af in die proses. Maar nie almal nie. Die slapers sal nie betyds ontwaak nie. Dis hoe dit is en klaar. Die gewone treurmares sal weer opklink. En dit sal die onderwysers wees wat op die rooi tapyt staan en sweet, asof dit ons is wat ons roes in die skoolbanke afgeslaap het.
Ek sluit die boonste laai van die lessenaar oop om die tablet uit te haal. Kan net sowel roll call hou en afmerk wie ook in die vlees afwesig is, nie slegs in die gees nie. Ek vat-vat na die tablet, maar kry die ding nie raakgevat nie. Soms dink ek die tegnologie word deesdae eerder misbruik as gebruik. Papier is uit die bose, ’n boek waarin ek gou my merkies kon maak glo so onprakties en uit die mode soos ’n g-string. Ek trek die laai wyer oop, voel, soek … Ek weet wat kom nog voordat ek in die laai kyk – die tablet is nie daar nie.
Here we go again. Ek ken die ritueel, ek is al hierdeur.
“Maar, juffrou, hoe is dit moontlik dat die tablet weg is?”
“Slaan my om met ’n veer, meneer, ek weet nie.”
“Die departement kan nie voorbly om nuwe tablette vir die klaskamers te koop nie, juffrou, en die versekeringsmaatskappy raak traag om uit te betaal.”
Keep calm and carry on, probeer ek myself tot kalmte dwing. Dit werk nie. Ek staan op, hande in die sye soos ’n soldaat wat sonder geweer betrap is, maar wat kaalhand sal baklei as dit nodig is.
“Kan ek julle aandag kry, asseblief,” sis ek. ’n Paar van die leerders se koppe lig traag, hoofsaaklik meisies, ’n paar wat wil weet wat die teacher nou weer omgekrap het. “Weet een van julle dalk wat van die klas se tablet geword het? Dis veronderstel om in die boonste laai te wees. Niemand mag dit daar uithaal nie, niemand nie. Niemand mag aan die tablet ráák nie, net ek.”
“Miskien is dit in die onderste laai, juffrou?” bied iemand links van my raad aan.
Ek kyk nie eens in daardie rigting nie. “Wat sal die tablet in die onderste laai maak as ek die ding in die boonste laai gebêre het?”
“Hulle sê mens word baie vergeetagtig, juffrou – hoe ouer mens word, hoe erger word dit.” ’n Paar van die meisietjies giggel. Probeer natuurlik só een van die voortvarende seunskinders beïndruk. Ek sien nou wie dit is. Blondekop. Regte belhamel. Dink hy is ’n prins en word ook soos een behandel. Genadiglik een van dié wat aan die einde van die jaar behoort te slaag sonder dat sy punte gekook hoef te word. Ek wil, dankie tog, nie nog ’n jaar met sy teenwoordigheid vereer word nie.
Ek kyk hom deur skrefiesoë aan. Wouter de Lange. Frieken Wouter de Lange, het die regte van vir sy lyf gekry, lank soos ’n telefoonpaal. Eerstespan-rugbyspeler van formaat, die beste slot wat die Hoërskool King’s Court nóg kon oplewer. In die ou én in die nuwe bedeling. Sy paadjie vorentoe en boontoe met wit klippies besaai. Niemand sal hom ooit ’n oorveeg gee nie, al was dit ook toelaatbaar. ’n Blink kind. Een van die bevoorregtes. Maar nogtans ’n maaifoedie. Ek gee twee tree in die kind se rigting sonder om te weet wat ek wil doen wanneer ek by hom kom. Behalwe om hom dalk van die aarde af te probeer kyk. If looks could kill.
“Dis nie snaaks nie, Wouter. Hierdie keer laat kom ek die polisie om julle te deursoek.”
“Is dit nie teen die grondwet nie, juffrou?”
Die grondwet, die flippen grondwet. Ek word gedurig met die donnerse grondwet gedreig en staan dan met my bek vol tande. Dis die probleem met kinders wat net genoeg weet om gevaarlik te wees. As dit nie die skoolhoof is wat die grondwet opdiep nie, is dit die kinders. Maak nie saak wat hul kleur, kultuur, geloof of geslag is nie, almal kan vir my ’n passasie uit die grondwet aanhaal wanneer dit hulle geval. As hulle maar hul voorgeskrewe boeke so goed wou ken!
Kyk, ek is baie bly daar is ’n grondwet, iets wat my ook beskerm. Bygesê, as die wonderlike grondwet vir my ook geld.
“Dis elke keer ék wat uitgetrap word wanneer iets uit die klaskamer van eienaar verwissel,” kerm ek. “Asof dit ék is wat dit vasgelê het. Ek is gatvol daarvoor.”
“Mêêêm, Mêêêm, what is ‘gatvol’, Mêêêm?” Nou is Zodwa wakker genoeg om vrae te vra, nou stel sy belang. Zodwa met haar skeermeslemskerpe stemmetjie wat deur murg en been kan sny.
“You’re not supposed to say ‘gatvol’, Ma’am.” Nog een wat op die moraliteitswaentjie klim en my in die grond in probeer boor. “It’s disrespectful, Ma’am.”
Liewe kind, jy ken my nie. Soms raak ek so kwaad dit voel asof my repertoire van vloekwoorde nie voldoende is om in die vraag daarna te voorsien nie.
“Ons kan hieroor praat sodra ek die tablet gekry het.”
Dis dalk nie ’n slegte idee nie. ’n Lessie oor kragwoorde in Afrikaans sal heel moontlik hul belangstelling prikkel en my die geleentheid gee om ’n paar te uiter. Wettiglik. Ek kan in my rol as pedagoog hulle in Afrikaans leer vloek. As ek dít ten minste regkry, het ek hul taal verryk. Then my work here is done.
’n Moedeloosheid sak oor my toe. Dit gaan ’n lang dag wees. Wanneer ek uiteindelik van hierdie lotjie ontslae is, is dit die C-klas se beurt. Dan is die Filistyne regtig op my. Teen die C-klas lyk hierdie spul amateur-moeilikheidmakertjies soos ’n Sondagskoolklassie wat met engelstemmetjies in die kerkkoor sing.
Die C-klas maak my bang, regtig bang. Want die C-klas het vir Julius Malema. Ek twyfel of iemand anders, behalwe ek en sy registeronderwyser, nog weet onder watter naam hy geregistreer is. Sy regte naam word nooit gebruik nie. Ons eie, liewe Julius het geleer by die bestes. As hy eers in ’n rigting neuk, sal hy selfs die Voortrekkervroue wat kaalvoet oor die Drakensberge wou foeter in hul spore laat stuit. Julius van die C-klas wat Vrydag sy flick knife met ’n gekletter laat val het. ’n Regte slagtersmes wat op die vloer in die son lê en blink het.
“En dít, Julius?” wou ek ewe dapper weet. “Wat is dit dié?”
Hy’t na my gekyk asof ek nie slim genoeg kan wees om matrieks te leer nie. Hy’s nie ver verkeerd nie, want ’n mens vra nie so ’n simpel vraag vir ’n matriekleerder soos onse Julius wat g’n vriend van die akademie of enige vorm van struktuur is nie.
“It’s a knife,” het hy uiteindelik geantwoord. “You want me to spell it for you?”
“Jy weet wat die reëls van die skool is,” het ek voortgeploeg, al dieper die modder in.
“Rules are made to be broken.” Daar was spot in sy oë toe hy na my kyk.
“Not this one.”
“Which one is that, Ma’am?”
“No weapons …” Ek het oorgeslaan na Afrikaans toe, want ek het geweet in Engels gaan die mannetjie my ore aansit. “Geen wapens word op die skoolterrein toegelaat nie.”
Hy het na sy gatsak gevoel. “You want me to hand over my gun?” wou hy weet. My voetsole het begin brand, reg om weg te hardloop. “Oh, no, wait,” het hy kamma verbaas gesê. “I remember now. I left it at home. School rules, you know, Miss.” Die laaste woord is met sarkasme uitgespreek. Hý sal my nie “Ma’am” noem nie. Dis hopeloos te onderdanig.
“Julius, moenie vir jou slim hou nie. Wat maak jy met ’n mes in jou sak?” Nog ’n dom vraag, ’n vraag wat onder geen omstandighede eerlik beantwoord kon word nie.
Julius was nie vir ’n oomblik gegooi nie. Of ontsteld nie. Of sonder woorde nie. Die mes is daar om sy appel te skil, wat anders? Hoe’t ek dan gedink, hoe moet hy sy appel geskil kry? Die appel wat hy gebring het om pouse te eet, omdat dit so gesond is.
“An apple a day keeps the doctor away, you know, Miss.”
Ja, ek was verras dat hy die spreekwoord ken, het hom amper ’n kompliment daarvoor gegee, maar so maklik laat ek my nie breinspoel nie.
“Waar’s die appel?” wou ek weet. “Wys my die appel.”
“Are you sure, Miss? You want to see my apple?”
Die C-klas het vasgenael gesit, hierdie vertoning sou hulle vir niks mis nie. Daar is gegiggel en aan mekaar gestamp.
Ek het opgestaan en om die lessenaar na Julius toe gestap. My eer was op die spel. My lewe ook. “Julius, wys my die appel wat jy met jou mes wil skil,” het ek domastrant aangedring.
Julius het hom omgedraai na die klas, eers vir Seya, die Malawiese outjie wat die helfte kleiner is as hy, in Engels aangespreek. Hom gevra of hy ’n appel in sy sak het. Seya het seker ’n appel laas op ’n prentjie in ’n boek gesien. Seya het net sy skouers opgetrek en sy kop gedwee laat sak, heel moontlik in die wete dat hy wel daarvoor sal boet dat hy nie ’n appel gereed gehad het toe Julius dit wou hê nie. Vreemdelingehaat is ’n feit van die lewe, ook hier tussen die skool se vier mure.
Toe spreek Julius die hele klas in sy taal aan. Al het ek nie verstaan nie, kon ek raai wat hy vir hulle vra. Drie, vier van hulle het in hul tasse begin krap en appels uitgehaal. Soos die generaal wat hy is, het Julius al drie uit hul hande geneem en geïnspekteer. Toe hy sy keuse gemaak het, het hy na my gedraai, die appel voor my neergesit en teruggestaan.
“There, Miss, the apple you wanted to see.”
Hy het sy voete hoorbaar teen mekaar gestamp en ’n saluut uitgevoer. “You can have it, Miss. It’s yours now.” Hy het weer na die klas gedraai. “You see? I gave Ma’am an apple. I’m a good boy.”
Die C-ers het geskaterlag. Daar was werklik niks wat ek kon sê of doen nie. My ore was rooi, alles aan my en om my was rooi, gevaarlik rooi.
“Thank you,” het ek geprewel.
Dit was die laaste strooi. Hoe kón ek? Dis wat gebeur as ’n mens se ouma jou grootmaak, jou van asseblief en dankie leer nog voordat jy behoorlik kan praat. Jy tree op sonder om te dink, jy haal jou goeie maniere uit ook waar dit nie van pas is nie.
Hoe op aarde kón ek hom vir daardie appel bedank? Is ek mal? Was ek mal? Ja, ek was, en ja, ek is. Ek het daardie stryd verloor, sommer ver verloor. Stel en spel vir Julius Malema die Tweede. As ek kon, sou ek ’n gat grou en daarin kruip. Gooi toe, sou ek smekend vra, gooi my nou maar toe en trap die grond plat.
Maar die laaste woord was nog nie gespreek nie. Toe Julius gaan sit, nog met die mes in die hand, het hy weer na my gekyk. “You can borrow my knife if you want to peel your apple, Miss,” het hy ewe grootmoedig aangebied.
En ek het dit laat gaan … Omdat ek nie geweet het wat om daaromtrent te doen nie en omdat Karel toe nooit oor die naweek opgedaag het om my te help besluit nie. Dit het my die hele naweek gevat om net-net van die vernedering te herstel.
En hier staan ek nou weer – oorgelewer aan die wolwe. Die Sondagskoolklassie in vergelyking met die C-ers, ek weet, maar nogtans ’n klomp wolwe met gevaarlike slagtande. Ek knip my oë vervaard toe ek die trane daarin voel brand. Kyk, as jy jou regtig wil blootstel, moet jy voor ’n trop wolwe aan die tjank gaan. Dan word jy verskeur en klaar.
“Julle almal kan Vrydagmiddag detensie sit as die tablet nie voor die tyd in die lessenaarlaai teruggeplaas word nie,” dreig ek. Hoe ek tot dan daarsonder gaan klaarkom, weet ek nie. Hoe ek my dreigement gaan uitvoer sonder om met ’n sementblok aan my been vir die visse gevoer te word, weet ek ook nie. Hoe dit moontlik sal wees vir die tablet om weer sy verskyning te maak, weet ek nog die minste. Ek weet niks! Niks!
“En nee, dis nie teen die grondwet nie. Ek stel julle lank voor die tyd in kennis daarvan, en ek sal julle ouers ook daarvan laat weet sodat daar alternatiewe reëlings vir julle vervoer huis toe getref kan word.”
Daar word luid protes aangeteken, uit vele kele. Die enkeles wat nog deur die debakel kon slaap, se slaap word ernstig deur die lastige geluide versteur.
“Friday, Ma’am?” word daar ongelowig gevra. “Just before the weekend?” ’n Paar van hulle lyk asof ’n doodsvonnis oor hulle uitgespreek is.
“Ek is Moslem,” herinner Rasied my. “Ek sal nie hier kan wees nie.”
“Me too,” verseker Tommy Ackerman my.
Selfs die stoere-boere Janse van Rensburg-outjie wat my gewoonlik nie backchat nie, verander blitsvinnig van geloof.
Dis Pulani wat tot ons almal se redding kom. Miskien moet ek seker maak die tablet is regtig nie in enige van die laaie nie, gee sy raad. Ek het niks om te verloor nie. Ek weet mos hoe dit is – vreemde goed gebeur in hierdie klas. Spooky goed. Miskien was daar ’n sangoma betrokke. Of die tokkelossie. Mens weet nooit.
Ek sien rooi en pluk die onderste laai oop, nie net oop nie maar met ’n gewoel en gewerskaf heeltemal uit. Plak toe die ding met ’n helse knal op die lessenaar neer. “There!” gil ek. “See for yourself, Pulani. Die bleddie tablet is nie in die onderste laai nie, sien jy nou?”
“But it is, Miss, see for yourself.”
Die klas skaterlag en dit voel vir my of die dak op my kop inval toe ek die tablet, mooi netjies in sy omhulsel, in die onderste laai kry. Wat gaan aan? Het ek nou regtig heeltemal mal geraak? Toe ek na die see van gesigte om my kyk, voel ek soos die keiser sonder klere. Poedelnakend kaal. Gestroop van alle waardigheid. Gek. Ek is die gek van die oomblik.
Ek kan raai wat gebeur het. Hierdie spul was Vrydag die laaste periode in my klas vir ’n taalles, ’n hopelose poging, nog erger so net voor die naweek as normaalweg. Ek was natuurlik so haastig soos hulle om hier weg te kom. Toe die klok aan die einde van die dag lui, was daar ’n stormloop deur toe, natuurlik verby my lessenaar. Iemand moes in die roesemoes van oppak en gryp en laat waai die tablet uit die boonste laai gehaal het voordat ek dit kon toesluit.
Ha-ha! Groot grap. Mêm with egg on her face. Ons maak vir Mêm lekker mal, ons staan saam, eendrag maak mag. Sy gaan haar gat afskrik, sy gaan uitfreak, big time uitfreak en vir ons ’n show gooi wat die manewales wat van tyd tot tyd in die parlement losbars, sal oortref. Sports. Ons gaan sports hê, iets om die Maandagoggend beter te maak. Slegter vir haar, maar who cares?
En ek, bobbejaan wat ek is, het daarvoor geval, het in die harwar wat eie aan ’n Vrydagmiddag is aangeneem die laai is gesluit. Hulle ken my, hulle weet hoe moedeloos dit my maak as alles rondom my voete kry. Selfone, beursies, tablette, boeke, selfs skoenveters het al onverklaarbaar verdwyn. “Maybe someone wants to commit suicide by hanging himself,” was Sihle se verklaring daarvoor.
Ek wil sommer huil. Die vrek weet, ek wil my hande in die lug gooi en oorgee. Sommer net aan die tjank gaan. Maar ek kan nie. Ek moet my pose hou.
“Gaan aan met julle werk!” probeer ek bulder, maar dit klink eerder na die gepiep van ’n muis, ’n baie bang muis wat sou verkies om in ’n gat in die grond te verdwyn.
“No more detention, Ma’am?” Dis Sibusiso wat nader staan en my smekend aankyk. Of dreigend; dis nie so eenvoudig om vas te stel nie.
“Not unless you misbehave again.” Misbehave? Disbehave? Ek weet nou self nie. Ek wys hom met die hand weg. “Toe, loop nou. Gaan sit.”
Ek het ’n break nodig. O sondeval, ek het ’n break dringend nodig. Ek wil die flippen register doen en my e-pos check en ek kan dit nie doen as die kind vir my met daardie swart oë van hom staan en kyk asof hy my nie vertrou nie.
Maar ek kom gou genoeg agter iets in die atmosfeer het radikaal verander. Dis nie net Sibusiso wat nie tot ruste kom nie, die res raak ook nie weer summier aan die slaap nie. Iets het die klas se aandag beet en dis nie “Nuus uit die binneland” wat ek pligsgetrou vir hulle uitgedeel het nie. Ook nie die relletjie met die tablet nie, dis oor en verby. Wat nou nóg?
Hierdie dag gaan weer te veel van my vra. Ek hou hulle onderlangs dop. Die vyand. Die teenoorgestelde party. En daar is meer van hulle as van my. Baie. Te veel. Met die klasse wat elke jaar groter raak, raak die oormag eenvoudig te sterk. Die sirkusdiere te veel en te wild vir ’n enkele afrigter.
Aanvanklik is daar net ’n ruising, soos ’n sinistere geluid op die wind. Jy kan net sowel die suidoos van rigting laat verander as om hierdie onrustigheid hok te slaan. Iewers lag iemand vanuit die agterbankers se geledere. Daar is iets leliks in die lag, iets wreeds. Hulle is soos ’n klomp aasvoëls. Van onskuldige kinders aan die begin van hul grootmenslewe is daar nie sprake nie. Ou Raka het klaar hier ’n draai kom maak. Iemand gaan die slagoffer wees en daar is niks wat ek kan doen om dit te keer nie.
Wie sou dit wees, wonder ek. Wie het die ongeskrewe reëls van die brotherhood of men oortree? Iemand wat geteer en geveer gaan word of op die een of ander manier sal betaal daarvoor dat hy teen die trop gedraai het. Is dit dalk Pulani? Omdat sy ’n einde aan hul teistering gemaak het? Die poets met die tablet is niks in vergelyking met die slegte vibe wat ek nou aanvoel nie.
“Hoekom is dit nodig vir die trop om met tye die swakste onder hulle uit te stoot?” wou ek al by Karel weet. “Hoekom het hulle nodig om af te maai, as daar genoeg vir almal behoort te wees om in liefde en harmonie saam te leef?”
“Man, hulle is almal bebliksem, dis maar al wat dit is,” is hoe hy dit sonder meer vir my opgesom het. “Rotten to the core. Vir hulle is dit goeie voorbereiding vir die wêreld daar buite.”
“Waar net die sterkere oorwin?”
“Die wet van die oerwoud, ou girl. Dieselfde wet as wat in die betonoerwoud geld.”
“It’s a dog-eat-dog world out there?”
“Dit hang alles af van waar jy jou op die food chain bevind.”
Karel gesels nie gewoonlik met my oor die diep dinge van die lewe nie, maar daardie dag was dit die drank wat gepraat het. Sien jy nou, het ek myself ernstig aangespreek toe hy daardie wyshede kwytraak. Karel ís ’n moerse vangs, al voel dit nie altyd vir jou so nie. Jy kan jou uitgetrapte paar pantoffels agterna gooi elke keer dat hy gretig is om syne onder jou bed in te stoot. Dis wonderlik om ’n warmbloedige man in jou lewe te hê. En in jou bed. Een wat sy hande nie van jou lyf kan afhou nie. Baie vroue sal betaal daarvoor. Sal hul mond hou en nie oor ’n hoofpyn kla wanneer daar nie ’n hoofpyn naby is nie. Of anders ’n pilletjie sluk op die tye dat ’n hoofpyn pret in die bed wil staan en bederf.
Ek het heeltemal verlore geraak in my gedagtes en skrik my dinges af toe Bongani sy kop lig en regop in sy bank skuif. My oog vang syne en ek sien die spot daarin. O flip! Dis ék, dis nog steeds oor mý wat daar onderlangs gepraat word. My maag draai. Fokkietoggie! Daar is iets ernstigs verkeerd met hierdie prentjie. ’n Onderwyseres behoort nie so bang vir haar leerders te wees nie. Maar ek is.
Ek trek-trek aan my romp, probeer die ding effens langer kry sodat daar minder van my mooi bene te sien sal wees. Spog mos jare lank al met my bene, glo graag die mense wat sê ek het ’n paar bene met kunstenaarskurwes. Maar vandag sou ek nie omgee as die einste twee bene beter bedek kon wees nie. Ek’s ’n dapper muis, sing ek in my kop toe ek dit waag om op te staan. Kyk hoe stap ek deur die huis … e, die klas. Voetjie vir versigtige voetjie in die gangetjies af, kamma om te kyk hoe ver hulle al gevorder het met die werk wat ek uitgedeel het. Of hulle al enigsins daarmee begin het. Window dressing soos gewoonlik. Ek weet mos die arme goed het tyd nodig om net eers te akklimatiseer by ’n Maandagoggend. Maar ek moet probeer vasstel waarom ek die middelpunt van die spot en onrus is.
Dinge het verander, in die land en noodwendig ook in die skool. Dis nie net die naam wat van Hoërskool Simon van der Stel na Hoërskool King’s Court verander het nie. Die omgewing se demografie is nou anders en so ook die samestelling van die skool. Dis ’n interessante mengelmoes mense wat hier in skoolbanke vasgevang sit. Interessant en ook ietwat van ’n uitdaging. Kapenaars, sommige van hulle, maar nie almal nie. Sowat die helfte kom uit die noorde. Trek agter ’n pa aan wat in die parlement is en Kaapse kant toe moes kom. Geld is nie ’n kwessie nie. Word in blink motors voor die skool afgelaai, dra die beste klere, die etikette wat saak maak, die duurste skoene. Soms is daar ’n merkbare poging van die ouers se kant af om geesdrif vir skoolgaan aan te blaas, en dra hulle selfs meer by as die afdwingbare skoolfonds. Dié wat genoeg het om uit te deel, is nie suinig nie en dra die enkele armes wat van woonbuurte verder suid ook hier geland het.
Dis ’n kakofonie van kleur en kultuur en ek herken nie al die tale wat op die skoolgrond gepraat word nie. Soms is dit Jood en Mohammedaan wat mekaar aan die keel gryp, maar net so dikwels is dit broer wat teen broer opstaan. Niks snaaks daaraan nie. Daar is in die jaar toet ook pouses op die speelgrond baklei.
Ek spits my ore, probeer hoor waaroor die onderlangse gebrom gaan. Kyk, die outfit wat ek vanoggend inderhaas saamgegooi het, ís out of this world, ek erken dit. Maar dis wat ek doen – ek trek aan om raakgesien te word hier waar onderwyseresse praktiese rokke met ewe praktiese plathakskoene dra. Die klere wat in my kas hang, kan seker as eklekties beskryf word. Elke huis het sy kruis, elke vrou het ’n hang-up. Ek het ook ’n paar demone wat saam met my voor die klerekas staan wanneer ek moet besluit wat om aan te trek.
“Jy’t ’n issue daarmee,” verseker Karel my gereeld.
“Ek hou van mooi klere. Wat is verkeerd daarmee?”
Dit was een van daardie “all dressed up and nowhere to go”-dae, want Karel het jeans en ’n T-shirt aangehad wat sleg afgesteek het by my Troy Exclusive-ballonromp.
“Mooi klere? Noem jy daardie lappe wat jy om jou woel mooi? Jy lyk soos ’n pakkie wat oorhaastig toegedraai is.”
Tydmors, dis wat mens doen as jy jou ordentlik wil aantrek om saam met Karel uit te gaan. Hy’s heeltemal clueless as dit by aantrek kom.
“Geen man sal weet hoe om jou kaal gestroop te kry nie,” het hy gekla.
Dis ook al waarin Karel belangstel, om my kaal gestroop te kry.
“Dis ontwerpersklere, Karel. Dit lyk anders as die gewone goed wat ’n mens van die rak af by Pick n Pay of Woolworths koop.”
“Ontwerp? Ontwerp waarvoor? Om die lug in te styg?”
Daardie spesifieke styl ballonromp wás baie lank laas in die mode en is eintlik donners ongemaklik om te dra. Ek het swaar gedra daaraan. Totally weird en anders, heeltemal anders as wat enigiemand normaalweg sal dra. Hier op aarde óf op ’n ander planeet, as ek moet raai. Dis wat ek doen. I am, therefore I dress. En ek doen dit met panache. Hoop ek.
Ek dra klere met name, etikette om mee rekening te hou. Diesel-jeans en -toppies, ’n Jay Jays-baadjie, ’n paar T-shirts van Deck Star. Soms, as ek gelukkig is, selfs ontwerpersklere van die Groot Name. Ek het eenkeer selfs ’n Errol-rok opgetel. Dit was steeds hopeloos te duur vir my sak, maar ek kon dit nie laat verbygaan nie. Het die rok met die tiervelmotief vodde toe gedra en gesorg dat almal wat my daarin sien, goed weet waar dit vandaan kom.
Die matrieks wéét ek dra nie die klere van ’n gemiddelde onderwyseres met ’n beperkte begroting nie. Die meisies in elk geval. Die bevoorregtes se ma’s en hul ma’s se vriendinne dra ook klere wat eksklusief is. Ladies who lunch, dis wie hulle is, die meeste van hulle. Ladies who lunch wie se klere spesiaal vir hulle en hul lywe deur van die bekendste Suid-Afrikaanse ontwerpers geskep word. Rokke met die middeltjies ingegord, rokke met flair, rokke met detail, met persoonlikheid. Rokke wat van ’n diensmeisie ’n prinses kan maak.
Maar daar is ’n groot verskil tussen die ladies who lunch se klere en myne. As jy my sien verbyloop in ’n rok met ’n kraag wat tot by my ore kom en moue wat soos sterk arendsvlerke ewe windmakerig verby my boarms strek, kan jy maar weet – dis tweedehands, dis ’n ander vrou se rok wat aan my lyf pryk. En … en as jy mooi kyk, sal jy sien ek dra altyd ook iets wat lekker zef is. Want dis eintlik maar wat ek is – ek is zef!
“Jy gaan deur ’n eksistensiële krisis,” is hoe Karel hierdie afwykende gedrag van my verduidelik het, met daardie hoogdrawende uitdrukking op sy gesig wat my gewoonlik die creeps gee. Want sien, hy het mos jare gelede Sielkunde 1 op varsity geswot. Dit maak van hom ’n kenner van die menslike psige, veral myne, het jy nie geweet nie? “Jy probeer nog jou ware identiteit bepaal, jy is so verward soos ’n tamatie in ’n vrugtebak.” Só het hy my verder ontleed, gratis en verniet nogal en sonder dat ek hom daarvoor gevra het.
As pop psychology ’n erkende terrein van expertise was, was Karel ’n wyse man, ’n professor en ’n mentor. Dan het ek aan sy voete gesit en alles ingedrink wat hy kwytraak. Ek wil vir hom lag, maar … dis nie so maklik nie. Dalk weet Karel, die breedsprakige, iets wat ek nie wíl weet nie. Dat ek eintlik maar net ’n tamatie is wat ’n mooi rooi gesig na buite wys, maar ’n vrot kol aan die onderkant verberg.
“Ek is nie ’n modepop nie,” het ek hom probeer oortuig. “Couture is nie mode nie, couture is a lifestyle, my dear.” Karel was nie beïndruk nie.
Die onderlangse gebrom duur voort, die gegiggel, die koppe wat na mekaar toe buig, maar ek kan steeds nie vasstel waaroor dit gaan nie. Ek vat-vat aan my top, voel of daar dalk ’n naat losgetrek het. Dit gebeur partykeer met die “Made in China”-klere wat die zef deel van my klerekas uitmaak. Die top is vandag al kledingstuk wat nuut is aan my, behalwe my undies. ’n Innige swart top met op die bors ’n embleem van ’n meermin wat op ’n rots sit. Ja, ek weet, lekker zef, en cheap, maar ook beau-ti-ful.
Eintlik is ek vandag, vergeleke met ander dae, taamlik gemaklik aangetrek. Daar is nie ’n beduidenis van skouerkussings uit die tagtigs of ’n stuk kant iewers wat my vel so irriteer dat dit na help-my-krap voel nie. Dit was veronderstel om ’n maklike dag te wees, maar selfs Ouma Betta het my vanoggend beetgehad. Het mos die neus van ’n windhond, ruik dadelik wanneer ek iets nuuts aan die lyf het. Wel, nuut volgens mý boek.
Ek kon dink ek gaan raakgesien word in hierdie klere, maar ek het nie verwag om die traffic te stop nie. Verstaan mooi, ek hou daarvan as die personeel my aangaap, veral wanneer ek heeltemal onvanpas aangetrek is, duur name ofte not. Klere wat gekreukel is sodat dit lyk asof ek in ’n wasgoedmandjie oornag het. Because I can! Classic slumming, dis wat dit is, maar party mense is te agter die klip om dit te verstaan. Ek hou ook daarvan as die skoolhoof ongemaklik kug wanneer hy verby my loop. En die meeste van alles hou ek daarvan as Karel sy hande begerig oor die vreemde klere – en wat daaronder is – laat dwaal. Soms.
“Ek wil nie deel van die meublement wees nie,” het ek al teenoor Karel gebieg. “’n Tafel, ’n stoel, of ’n ou kas van hout waarin vismotte floreer, uitgereik deur die onderwysdepartement. Dateer nog uit die dae van die ou bestel. Al wat kort, is ’n KPA-stempel op my maag: Eiendom van die Kaapse Provinsiale Administrasie.”
Dit was ’n fout om hom aan my demone bekend te stel. “’n Mens is veronderstel om onderwys te gee vir die liefde van die saak,” het hy begin preek asof dít sy nering is. Asof hy nie ook maar net ’n lewensoriëntering-onderwyser is wat meer op die liggaamsoefening-aspek daarvan fokus nie.
“Maklik vir jou om te praat. Jy sit jou dae buite op die rugbyveld om. In die winter in ’n sonkolletjie en in die somer in ’n skadukolletjie.”
Hy’t hom vreeslik gewip dié dag, is daar weg sonder ’n nagsê-soen. Sou eerder ’n pofadder soen as om sy lippe naby myne te bring. Die een of ander tyd sal ek en Karel die dinge waarvoor ons lag gesinchroniseer moet kry, want op die oomblik is daar niks wat ooreenstem nie.
Liefde vir die saak? Watwou. My liefde vir die saak het verlore gegaan as gevolg van baie dae soos vandag. Waar die bose amper tasbaar tussen die skoolbanke deur beweeg. Ek is net hier sodat ek my woonstel kan bekostig en kan eet ook. En veral sodat ek klere kan koop. Niks val in my skoot nie, ek werk vir my geld. Ek offer my sanity daarvoor op, dankie. Vandag weer, ’n dag waarop daar meer van my gevra word as wat ek het om te gee.
Dis hoofsaaklik die agterbankers wat onbeskof en intens na my staar. Die agterbankers is die trailer trash van ’n skool. Dis die rokers wat hier saamgekoek sit, die lyfwegstekers, die ouens wat diep in hul banke wegsink en jou van daar af kan treiter as hulle wakker is. Altyd ’n paar minute laat vir klas omdat hulle pouses iewers ’n dampie slaan. Of ander kwade dinge doen. Ook niks nuuts daaraan nie. Daar sal altyd skelm gerook word op skool. As dit nie agter die kraalmuur is nie, dan onder die pawiljoen. Dis ook hierdie ouens wat hulle verbeel hulle het die minste om te verloor. Dis die Siphiwe Leshilo’s van die samelewing daardie, die suurstofdiewe wat nie kan wag om die stof van die skoolgrond van hul voete af te skud nie. Daar buite wag the good life op hulle.
Die arme goed streef daarna om soos hul helde te wees, dié wat hulle op televisie sien, blink menere wat met goud behang die aarde bewandel, liefdeshappies van blink, kaal lywe af eet en weeldewiele ry. Hulle begeer die hande vol blink goed wat lok, vroue wat hulle met die klingelinge van Mabalêl-enkelringe nader wink, wulpse lywe vol beloftes. Jong seuns wat droom daarvan om blindelings agterna te strompel. Sonder om te weet van Lalele, die essensie van alles wat boos is, die wreedheid self, meedoënloos – sonder om te weet dat die lewe met die kake wyd oopgesper op hulle wag.
Uit die hoek van my oog sien ek hoe hulle aan mekaar stamp en openlik na my wys. Dit kan net my outfit wees wat die apatie laat wyk het. Nou is almal wakker genoeg om aandag te gee, die swernote. Die Peter Blum-gedig is lankal vergete. My kopvel kriewel asof ek iewers ’n paar luise opgetel het.
“I can see you had it all this morning,” merk een van die agterbankers op.
“Sy is seker nog in ’n trance daarvan,” voeg ’n ander by. “Daarom dat haar hele wêreld onderstebo is.”
“Mêm is in luv,” laat hoor Palesa, met drome in die oë. Sy gluur die agterbanker aan. “Haibô, you leave her alone.”
Dit lei tot ’n stortvloed woorde waarvan ek niks verstaan nie. Die klas staan blykbaar nie in ’n verenigde front teen my nie. Die meeste meisies dink ek lyk stunning. Van die seuns het ook besluit ek lyk “hot”. Dis nou baie gaaf en goed en alles, maar dis ook gevaarlik. Dis beter as die klas saamstaan in hul vyandskap teen my as wat daar oorlog ontstaan.
“Ma’am is nie in luv-v-v nie, sy is halsoorkop verlief,” lê Brooke Beneke haar eiertjie.
“Inside out, ja. Sy dra haar hart op haar mou.”
Hmm! Nogal een van die agterbankers. Het nie geweet hy ken die uitdrukking nie. Beslis nie by mý geleer nie, was seker ’n vorige onderwyseres wat dit ingedreun kon kry. Kudos vir haar.
Ek het nog steeds nie ’n clue wat so vreemd aan my klere is nie, maar ek weet as die matrieks skielik spottenderwys Afrikaanse idiome begin uitryg, word daar big time met my gespot.
“Was it as good for you as it was for him?” wil dieselfde voorbarige ventjie weet.
Wát? Ek bloos tot in my tone. Ek verbeel my nie. Seks! Dis van seks wat die melkbaarde praat! Arrogante, vrypostige frieken ape!
“Het die aarde geskud?” vra sy maatjie ook. ’n Mannetjie met ’n moerse snor, hy lyk omtrent dertig jaar oud en is heel moontlik nie ver daarvandaan nie. Seker vasbeslote om in die skoolbanke te sit totdat hy matriek slaag of die skool afgebrand moet word om van hom ontslae te raak.
Hy is hopeloos te onnosel om enige finesse te toon terwyl hy my undress with his eyes, skielik baie geïnteresseerd in wat ek te sê het. Ek weet nie wat die twee agterbankers saam met hul pap ingekry het dat hulle nou so op en wakker is nie, maar ek verkies hulle as zombies eerder as wolwe wat bloed geruik het.
“Amper uitgevang, nè, juffrou?” Nou word ek openlik uitgelag.
Wat die arme bobbejane nie weet nie, is dat ek die hele naweek droëbek by die huis gesit het met net my ouma as geselskap. Al waarmee ek uitgevang kon raak, was toe ek die laaste lekseltjie kondensmelk uit die blikkie met my vinger bygekom het.
Ek staan ’n oomblik lank soos ’n standbeeld waarop die duiwe na hartelus gemors het. Met my mond vol ortodontis-korrekte tande, waarvoor Die Skim glo ook betaal het, sprak ek geen sprook, want ek het geen sprook om te sprak nie.
Toe doen ek maar wat lafaards eeue lank al doen wanneer die wêreld vir hulle te warm word. Ek verlaat die sinkende skip. Ek vlug behoorlik by die deur uit, los die matrieks net daar en gaan poeier my neus, by wyse van spreke. Dis eers toe ek my gesig nader aan die gesig in die spieël bring, dat ek sien waaroor die geskinder gaan. Dis my toppie, iets is verkeerd aan my toppie, my toppie is nie so innig swart soos hy behoort te wees nie, eerder valerig. En die meermin op my bors, wat veronderstel is om helder en duidelik matrose na hul dood te lok, lyk asof sy griep onder lede het. Of ’n hangover.
Dis die spieël, besluit ek. Die ding is sweerlik so vuil dat geen mens jou daarin kan bekyk nie. Die skoonmaakpersoneel staak seker weer vir hoër lone. Ek vat-vat aan my toppie, voel-voel daaraan. Toe eers sien ek wat die pipsqueakies so op hol het. Ek het die top binnestebuite aan … asof ek werklik iewers voor skool ’n quicky ingepas het en baie vinnig weer in my klere geklim het. Ag pleeze! I should be so lucky!
Demmit! Kon Ouma Betta my nie gewaarsku het nie? Eerder as om te kritiseer. Seker nie haar bril opgehad nie, is mos so blind soos ’n mol daarsonder. Of dalk gedink dit moet maar so wees. Weet mos skaars aan watter kant van die wêreld die son opkom.
Natuurlik kan ek nie nou die toppie regom aantrek nie. Dan het die spotters gewen. Ek leer hulle dan juis om buite die boks te dink. As ’n verkeerdom toppie hulle so gooi, is daar nie veel hoop vir hul kreatiwiteit nie.
Hulle moet nou maar spot so lank as wat hulle wil. Daar was beslis en helaas geen minnespel wat in aller yl onderbreek is nie. Al wat daar was, was ’n girl wat verslaap het, geen sensasionele drama nie. Ek hou my dapper, maar toe ek terugstap klas toe, wens ek die hele matriekklas kan met onmiddellike blindheid geslaan word. Al is dit net tydelik.
Geez tog! ’n Mens sou dink ek behoort gewoond te wees daaraan om my naam met ’n plank te slaan, ek kry genoeg oefening daarmee.
Ongesofistikeerd, dis wat ek is. Hopeloos. Ek kyk op die horlosie teen die muur. Twintig voor tien. Nog twintig minute voordat hierdie nimmereindigende dubbelperiode verby is en ek van die veertigtal ontslae kan raak. Twintig minute kan ’n ewigheid wees. En wanneer hulle by die deur uit is, wanneer hulle sleepvoet in die gang af steier na hul volgende klas, sal die volgende sarsie opdaag. Nog dertig, veertig jong lywe wat op my sal toesak, die arrogansie en vyandskap soos ’n wolk om hulle. Die C-klas, die veelbesproke C-klas met hul voorbok, Julius Malema, met of sonder sy flick knife. Gevaarliker en meer uitgeslape as die B-klas wat my reeds van alle waardigheid gestroop het.
Ag frok tog! Wat op aarde het my ooit besiel om ’n onderwyseres te word? Ouma Betta se skuld, alles haar skuld. “Dis ’n edele beroep,” het sy verkondig. “’n Ordentlike werk.” Edel en ordentlik was juis nie wat ek wou wees nie. Ek wou eerder gelukkig wees. Ek hét probeer keer, maar het nie juis ’n ander plan met my lewe gehad nie. En ek wou tog, op my manier, graag vir Ouma Betta plesier. Sodoende probeer om ’n deel van my skuld aan haar af te betaal, iets wat ek seker nie in my leeftyd sal regkry nie.
Ek sug innerlik. Daar moet sowaar ’n beter manier wees om ’n lewe te maak as om elke weekdag deur hierdie marteling te gaan.
Toe ek in die gang afstap terug slagpale toe, hoor ek die geraas van ver af. Dit klink soos ’n einde-van-die-seisoen-halfprys-uitverkoping by die Oriental Plaza. As meneer Botha nou in die omgewing moet wees en hierdie kakofonie hoor, sal ek beslis op die rooi tapyt moet verskyn. Ek ken die deuntjie goed genoeg. As ek nie die matrieks kan beheer nie, moet ek een van die onderwysers vra om my te help. ’n Man dwing nou eenmaal meer gesag af as ’n vrou. Dis die wet van die natuur, dis waarom mans se stemme dieper is as vroue s’n.
Karel stem natuurlik op sy kras manier heelhartig met hom saam. “Soms het die kinders ’n bietjie donderweer nodig om hulle tot orde te roep, nie ’n poep nie.”
My latente innerlike feminis, ás ek oor so iets beskik, kners haar tande elke keer dat sy dit hoor. Daarom probeer ek my stem dik maak die oomblik toe ek die deur oopstoot en by die klas ingestap kom. “Wat de dinges gaan hier aan?” skel ek, skril genoeg om ’n glas te laat bars.
Hulle koek in groepies saam, almal om ’n tablet of selfoon geskaar – duur speelgoed, beter as wat ek kan bekostig. Hulle is tegnologies gesproke ook heelwat kundiger as ek. Stuur heel moontlik vir mekaar video’s rond wat ’n ouderdomsbeperking behoort te hê. Ek waag dit eerder nie om te kyk nie.
“Nou is julle almal wakker, nou raas julle soos ’n spul laerskoolkinders.”
Dit werk gewoonlik, kry hulle aan die bedaar. Niemand wil met laerskoolkinders vergelyk word nie. Maar vandag verloor ek ver. Vir ’n onderwyseres met ’n verkeerdom top verloor ’n mens alle respek. Twee seuns in die middelry is aan die stoei met mekaar, ’n paar meisies gil en die chaos in die klas neem by die minuut toe.
En skielik … word alles te veel vir my. Dis asof daar ’n ballon in my kop bars, ’n ballon wat met helium gevul was, sommer ’n grote.
“Staak dit!” skree ek, heeltemal buite myself, hoewel in Algemeen Beskaafde Afrikaans en nie in woorde wat gesensor behoort te wees nie. “Hou dadelik op daarmee! Julle is ’n klomp barbare, onopgevoede barbare.” Ek stap nader, kry een van die seuns, Jaco Diedericks, aan die kraag beet en probeer hom van die ander knaap wegdwing. In die geskarrel wat losbreek, word ek eenkant toe gestamp sodat ek skuins teen die muur val.
Dis asof die duiwel een van sy hoofmanne oor honderd gestuur het om in my te klim, want dis asof ek net donkerte om my sien. Asof ek nie kan dink nie, nie wíl dink nie en net wil doen. Ek hoor die grom wat uit my keel kom. Soos dié van ’n dier. Diep en rou uit my keel. ’n Grom van woede, van suiwer witwarm woede. Veg of vlug, kom die gedagte by my op. Veg! skree dit in my. Soos ’n besetene. Met alles in my! Ek trek myself orent, my vuiste gebal, die adrenalien soos ’n stroom stormwater. Dis die oermens in my, besef ek vaagweg. Daardie gevaarelement waarvan ons op varsity geleer het, die instinktiewe, impulsiewe optrede wat jou in groot moeilikheid kan laat beland. Al hierdie gedagtes flits deur my kop, maar ek steur my nie daaraan nie.
Ek gee nie om wat hierna met my gebeur nie, ek gee eenvoudig nie om nie. Die vernedering om soos ’n stuk vullis eenkant toe gestamp te word, en dit deur twee rammetjie-uitnek kinders, brand soos ’n kool vuur in my. Die geveg tussen die twee duur nog voort, asof dit nie een van die twee kan skeel dat ek in die kruisvuur beland het nie. Ek dink dis wat my die meeste ontstel. Dat ek vir hulle so min menswaardigheid het dat ek bloot eenkant toe gestamp kan word. Ek verstaan vir die eerste keer dat ’n mens waarlik blind van woede kan wees. Hulle, en ook ek.
Ek storm vorentoe, slaggereed. Maar dan is hy skielik hier langs my. Rodney Olifant. Ek sien sy gesig naby myne asof deur ’n waas. Hy sê niks, kyk net na my met oë wat al te veel gesien het, oë wat weet hoe hierdie boosheid kan eindig. Hy skud sy kop. Moenie, sê daardie geringe gebaar. Moenie jouself verloor nie. Jy gaan die slegste daarvan afkom.
Ek haal ’n slag diep asem. “Loop uit my klas uit!” skree ek. “Gaan baklei buite. Julle kan mekaar vermoor vir al wat ek omgee, maar julle doen dit nie hier nie. Lóóp! Voertsek!”
My skreeustem slaan oor in ’n snik. Ek skrik en gaan sit op die stoel agter my lessenaar. My hart wil bo by my keel uit, my handpalms is natgesweet en die bloed klop in my kop. As ek nou … as ek nou hier opstaan, gaan ek iets onverantwoordeliks aanvang, besef ek met ’n helse skok.
Dan sien ek dit – Wouter de Lange met sy selfoon, Wouter-donnerse-de-Lange wat alles wat hier gebeur het op video vaslê. Alles. Alles! Ek gaan op YouTube wees, ek weet dit. En op die koerante se digitale blaaie. Onderwyseres stoei met leerders. Real-life drama op sy beste. Ons skole gaan ten gronde met leerkragte soos daardie, erken skoolhoof. “You’ll never work in this town again,” onthou ek Santie Doemprofetes se woorde.
Dit word kilkoud in my. Ek het geen beheer oor myself nie, ek is nie veel beter as die twee vegtende seuns nie. “Nee,” prewel ek. “Nee!” Ek slaan my hande oor my gesig en begin snik. Lelike, rou snikke. My skouers ruk onbeheers en ek hoor die onaardse geluide wat by my mond uitkom. Dis aaklig. Soos ’n movie waar die ster van die show kort daarna weggeneem word na ’n plek met baie bome en opgestopte mure. Ek probeer praat, maar ek kan nie.
Ek gryp na my handsak, begin alles wat ek in die hande kan kry daarin prop. Die digbundel waaruit ek voorgelees het, my rooi pen, die sellotape, die stapler, my dagboek, die staanhorlosietjie wat die tyd so ontsettend stadig laat verbygaan het en selfs die memo oor die revue.
Dis asof daar ’n volmaan-springgety-fratsbrander op my afkom, ’n golf van woede. Witwarm woede. Ek weet ek moet padgee voordat ek daardeur verswelg word. Voordat ek die diepsee ingetrek word om nooit weer grond onder my voete te voel nie. Vaagweg is ek bewus van die doodse stilte om my. Jy kan die spreekwoordelike speld hoor val. Ademlose stilte wat net deur my hortende snikke verbreek word. Dit is nie ’n slapende stilte nie, dit is ’n verbysterde stilte. Vergeet van die beplande revue, hier is ’n baie beter show wat ’n hele gehoor gevange hou.
En ek speel die hoofrol daarin, dis ’n eenvrouvertoning. Ek is die bleddie gek in die verhaal. Viva juffrou Bekker, die dramatiese diva!
Ek gooi my sak oor my skouer.
“Where you’re going, Ma’am?” wil Lindiwe weet, haar stemmetjie klein van spanning.
“Ons mag eintlik nie Engels praat in die Afrikaans-periode nie,” onderrig ek outomaties. Asof daardie reël ooit hier gehoorsaam is.
“We’re sorry, Ma’am,” hoor ek iemand anders sê. Dis Sibusiso, sy stem aan die breek.
Dis te veel vir my. Ek begin van voor af huil, stap na hom toe en hou hom ’n oomblik teen my bors vas. “Ek ook,” stotter ek. “Ek is ook jammer.” Ek sluk aan my trane. “Ek is nie die regte persoon om julle te leer nie.” Ek weet ek moet stilbly, maar die woorde borrel by my mond uit. “Ek haat dit. Ek haat dit om skool te hou. Dis nie regverdig teenoor julle nie.”
Ek kyk om. Na die prente teen die mure. Van digters en skrywers, lank reeds saliger. Nog ’n paar portrette van hedendaagse mense wie se werk so wonderlik is dat jy dit graag met ander wil deel. En ek weet – ek is ’n leë put. Dit help nie die emmer word laat sak om iets uit my te skep nie. Al wat daar by my te kry is, is slyk.
Een ding besef ek toe ek begin uitstap. Ek hoef nie bekommerd te wees dat die spulletjie die klas gaan afbreek die oomblik dat ek weg is nie. Almal van hulle, van Bongani tot Jeremy van der Merwe, is nou spierwit geskrik. Selfs Wouter de Lange het sy inkriminerende getuienis gebêre en kyk na my asof hy nie weet hoe om my verder te verneder nie. ’n Onderwyseres wat so lekker uithaak en die slagveld totaal verslaan verlaat, is genoeg om enige matriek te laat ontspoor. Tot algehele traumatiese stilte en verdwasing te laat ontspoor.