Читать книгу Die Pro - Leon de Villiers - Страница 5

Virusse en bakterieë

Оглавление

Ons het hier te make met ’n verskeidenheid primitiewe ietse wat goed aangepas is by hul omgewing, wie se kinders en kleinkinders steeds na hulle aard.

Virusse: Al wat dié eenvoudige goed wil doen, is voortplant. Al wat hulle veroorsaak, is siektes. Baiekeer by plante, maar ook vigskriklike siektes onder die mens. Skoolbusagtig: hoe verder hulle reis, hoe meer word hulle.

Bakterieë: Dié wesens kom in kolonies voor. (Balonies?) Kleurloos wanneer hulle nie gekleurd is nie. Hulle ou beentjies word flagellums genoem. (Haal jou flagellums van die tafel af as jy eet!) En raai wat, hulle plant voort dat dit dreun. Maar let wel dat hulle van ongeslagtelike prosesse gebruik maak. Soort van ritsie in die middel en as jy weer sien, is daar twee! Waarvoor is hulle goed? Siektes. Waarmee maak ons hulle vrek? Antibiotikums. Waar kom hulle voor? Orals.

25 Januarie

Die jaar het skaars begin en ek en my ma het al klaar ’n hengse uitval gehad. Sou ook nie gebeur het as dit nie vir tannie Ella was nie. Toe ek weer hoor, het die ou skinderbek my ma gebel. Glo om te hoor of my ma toestemming gee dat ek my wetsuit aan Louis kan verkoop. “Natpak”, noem sy dit. Eers het ma nie geweet waarvan tannie Ella praat nie, maar toe besef sy skielik dis my wetsuit wat op die spel is en nou ja, toe spat die vonke.

Dis nou nie asof ek dit nie met my eie geld gekoop het nie, is dit? Maar Ma het aangegaan asof ek omtrent die huis onder haar en Pa probeer uitverkoop (dalk nie so ’n slegte plan nie). Wat moet ek in elk geval met ’n wetsuit maak as ek nooit weer gaan surf nie? Dink my ma dalk ek moet dit sokkie toe aantrek? ’n Nuwe clubmode begin? Ek het nog nie eens probeer om my bodyboard te verkoop nie en nou sal ek seker in elk geval nie kan nie. Moet maar die ding in die garage gaan ophang. Netnou kom vertel tannie Ella vir Ma dat ek my “lyfplank” ook wil verkoop. Hoekom Louis nou juis sy ma by die transaksie moes betrek, weet ek ook nie.

Jy weet hoe is ma’s, hulle begin oor een ding baklei en eindig dan ’n uur later op heeltemal ’n ander stasie. Maak nie saak waarmee my ma begin nie, sy eindig deesdae aanmekaar met: Tiaan, waarom kuier jy nie meer met die ander kinders nie? Jy kan nie heeldag in die kamer sit nie. Jy moet meer uitkom … bla, bla, bla. Genoeg om enige normale mens kranksinnig te maak. Uitkom! ’n Mens sou nie sê dat ek elke dag skool toe gaan en elke middag Hugo uitvat vir sy stappie nie. Dit is nie sy of my pa wat dit doen nie, dit is ék. Maar ek moet mos altyd presies doen wat sy wil hê ek moet doen. Ja Ma, goed Ma, reg Ma! Hoe flippen hoog moet ek spring, Ma?

Dankie tog dat ’n mens in die aand die deur agter jou kan toetrek en alleen kan wees. Amper alleen, in elk geval. Hugo slaap vannag hier op die matjie voor my bed. Lê nou juis vir my en kyk asof hy die onskuld vanself is. Natuurlik moes ek hom insmokkel. As Ma weet hy slaap in my kamer, kry sy die driedubbele piep, maar ek sal hom vroegoggend uitvat voordat sy iets agterkom.

Die boek, waarin ek nou hier lê en skryf, is eintlik veronderstel om ’n soort werkboek vir Lewenswetenskappe te wees. Dis eintlik Geyer se idee. Hy het met die storie gekom dat ek vir my die vak interessant moet maak deur ’n bietjie humor by my opsommings te voeg. Kan jy glo, ek het die ding uit my eie sak gekoop. Of dit gaan help weet ek nie, maar as ’n man aan die einde van graad tien 42% kry en jou ouers jou lewenslank wil hok, probeer jy enigiets.

Ek dink nie jy het ooit vir Geyer ontmoet nie. So ’n kort, dikkerige man met sulke reguit, vaalbruin hare en ’n stoppelbaard wat altyd so ’n week oud lyk. Ek het hom al ’n paar keer op die strand sien loop, maar nog nooit voorheen met hom gepraat nie. Toe begin hy sommer nou die dag met my gesels. Eers oor Hugo, natuurlik. Jy weet mos hoe is mense oor Weimaraners: óf die goue oë maak hulle bang, óf hulle is mal oor die honde. Geyer en Hugo het van die begin af goed oor die weg gekom. Toe vra hy of ek Ed Nothnagel se seun is. Hy en my pa het glo op die rotse aan die gesels geraak tydens ’n visvangsessie.

Eers dog ek die man lieg dat dit spat. Ek bedoel, Pa gesels nóóit met enigiemand as hy visvang nie. Hy praat alreeds net die minimum met mense, selfs met dié wat by ons winkel kom koop. Wat nog te sê waar hy alleen wil wees? Behalwe nou as hy hom strip vir die hengelaars wat plastieksakke en blikke langs die water los – dan het hy altyd baie te sê.

Maar ek het Pa agterna gevra en Geyer het sowaar nie gelieg nie. Ma weet soos gewoonlik alles oor die man. Sy sê hy bly al sedert Junie verlede jaar hier op Vlakberg. Was glo ’n joernalis en skryf nou aan ’n boek. Volgens Ma het sy vrou hom gelos, nou bly hy alleen hier in hulle strandhuis. Ek is seker veronderstel om oom Geyer te sê, maar dit sal nie werk nie. Lyk my almal noem hom Geyer en klaar.

Hoe ek en Geyer by my Lewenswetenskappe-punt uitgekom het, kan ek nie onthou nie. Maar hy vra ’n mens in elk geval aanmekaar vrae. Verbeel hom seker hy voer ’n onderhoud met die president of so iemand. Binne twintig minute het ons oor ’n halfmiljoen goed gesels, onder andere oor humor en swot.

Geyer gaan glo ook nou en dan teen Pa kom skaak speel. Hoop net hy kan Pa klop, want dié begin hom al verbeel hy is die een of ander Kasparov net omdat ek nog nie gereeld wen nie. Maar my dag kom nog!

Maar die heel beste nuus oor Lewenswetenskappe is: EK IS NIE MEER IN KRUIWA SE KLAS NIE! Halleluja! Ja, lyk my daar is dus tog antwoord op gebed. Alhoewel, ek wonder nou skielik of dit nie dalk Kruiwa se gebede is wat verhoor is nie. Hy is mos nou die nuwe adjunkhoof! Jy moes die kinders se bekke gehoor het. Maar ek kla nie, die man staan nie meer voor my in die klas nie. Ek hoef nie meer dag vir dag in sy sarkastiese gevreet vas te kyk nie. Dit, soos jy sou gesê het, vra vir Swaar Metaal: NO MORE KRUIWA! NO MORE KRUIWA!

Net jammer dat hy nou meer tyd het vir daardie sluipstappie die stoepe vol. Hy het selfs nou so ’n poging van ’n snor. Seker dat die ouers hom meer ernstig moet opneem. Nie dat dit help nie. My pa dink nog steeds hy moes liewer iets soos ’n balju geword het. Dít van my pa, wat nooit iets slegs van ander mense sê nie.

Nee, nou het ons by die nuwe mevrou Beukes Lewenswetenskappe. Yvette en Albert is net so bly daaroor. Hopelik sal ons tot matriek by haar bly. Sy is so ’n korterige tannie met ’n bril. Sulke bruingrys hare wat nie te lank is nie en sy trek nogal netjies aan. Nie pouerig soos Bambi nie, net netjies. Ek skat haar jonger as my ma en sy het vir Yvette gesê haar oudste dogter is in graad sewe en kom volgende jaar ook Storms toe. Nee, vir dié tannie sien ek kans.

Dit was amper of ek het dié jaar nie weer Lewenswetenskappe gevat nie. Maar my pa wou niks weet van oorslaan Ekonomie toe nie. Veral nie toe die hoof sê my vakkeuses sal bots en dat ek dan Aardrykskunde ook sal moet los nie. Seker bang te veel kinders los Lewenswetenskappe met dié dat Kruiwa dit so ’n mislike vak gemaak het.

Nou sit ek maar weer agter laboratoriumbanke in die Lewenswetenskappe-klas. Die plek ruik vir my steeds alteveel asof ’n straatkind snags daar slaap. Nie dat enige straatkind by sy volle positiewe dit sal wil doen nie. Al daardie rakke vol dooie goed wat toe-oog lê in hul sousies. Gelukkig het mevrou Beukes darem lewende diertjies soos muise en kanaries ook in die klas. Maar die plek bly ’n riller. Kan seker nie anders met daardie Frankenstein-monster van ’n Kruiwa wat soveel jare daar rondgehang het nie. Geen wonder jy het einde graad nege gedink ek is mal om Lewenswetenskappe te vat.

Onthou jy vir ou Henko Wiese? Hy het altyd so droog en semigevrek gelyk as hy op die stoepe rondslenter. Lewenswetenskappe vir Beginners. Dit was wat hy op die binneblad van sy graad tien-boek geskryf het. Onthou jy, orals by die sketse was daar snaakse opmerkings in potlood, sodat die werk meer soos comics as enigiets anders lees. Net jammer Kruiwa sien dit toe mos verlede jaar en dink dis ek wat dit gedoen het. Tipies, want enigeen met ’n krap se verstand sou kon sien dit is nie my handskrif nie. Maar nou ja, daar was nog nooit iets wat ek en jy in sy oë reg kon doen nie, was daar?

Nou het ek dié jaar weer, uit al die graad elfs, Henko se ou Lewenswetenskappe-handboek gekry, en ek het nie eens daarna gesoek nie. Die tweede keer in twee jaar. Is dit nou toeval of wat?

En ja, Kruiwa het alreeds weer oor my hare gekla. Ek het glo ’n “wal” ná die vakansie, en verder is dit ook te lank. Asof Tryna in haar lewe sal waag om ’n skoolseun se hare anders as die skoolreëls te sny. Verlede jaar het hy mos aanmekaar gekerm dat ek my hare doelbewus gebleik het. Heng, hoe dink hy surf ’n ou dat die see en son dit nie verbleik nie? Kom seker nie eens op die strand nie, en as hy wel daar kom, dra hy seker een van daardie outydse swempette. Geen wonder sy seun het so aan die suip gegaan nie. As hy my pa was, sou ek ook.

Maar wat ek nou eintlik wou sê, is dat ek toe weer Henko Wiese se graad elf-handboek gekry het. Dié keer is dit: Lewenswetenskappe vir Amateurs. In sy matriekboek is dit dalk al: Lewenswetenskappe vir Pro’s. Ek moet dalk bietjie uitkyk daarvoor. In elk geval, dit lyk asof sy byskrifte by die sketse dié jaar weer die enigste snaakse deel van die sillabus gaan wees.

Ag, ek moet seker wag en sien of hierdie opsommings van my gaan help. Daar is nie juis iets in Lewenswetenskappe wat vir my snaaks is nie. Miskien tog die name. Flagellums en sulke goed. Kom dit alles van Latyn af? wonder ek. Moet seker wees. Van snaakse Latyn gepraat, jy het toe nooit my Asterix and the Black Gold teruggee nie. En dit bly vir my een van die beste Asterixe wat daar is.

Daardie windgat Marius vra my nou die dag: Tiaan, hoe gaan daardie grappie van Dirkie oor die drie nonne nou weer? Nie dat ek dit kon onthou nie, jy weet ek kan nooit grappe onthou nie, maar vir wat vra hy my? Dink hy ek het boekgehou van al jou grappe, of wat? Noudat hy nie meer regtig kompetisie het nie, trippel hy daar by die spiesgooi rond asof hy die een of ander ingevoerde Rus is. Dink seker hy gaan al jou rekords breek. Nie ’n kat se kans nie, daarvoor is daardie lyf van hom te maer. Eintlik, moet ek jou sê, maak hy my nogal siek.

Nog een wat my siek maak, is Gustav. Dié het mos nou ’n maatjie bygekry en hulle sit van die heel eerste dag af langs mekaar in die bus. Dustin is die knaap se naam. Die meisies kwyl vreeslik oor hom, maar net hulle sal weet hoekom. Albert sê jy moet die twee met ’n putty-mes van mekaar af losmaak as jy met een van hulle wil praat.

Ja, ou Albert is nog net soos altyd. Ek was juis vanmiddag saam met hom en Yvette daar na die groot vlei toe. Sy idee gewees. Hy wou vir Yvette die flaminke gaan wys en vra toe ek moet saam. Eers was ek glad nie lus nie, maar toe dink ek dit sal dalk help om Ma darem ’n week of twee uit my hare te hou. Buitendien, van volgende Saterdag af is dit net weer heeltyd atletiek en dan kry ’n mens nie kans vir enigiets anders nie. Hugo kon ongelukkig nie saam nie, want ons was bang hy jaag die voëls. Jy weet mos hoe rasend die kiewiete en mosselvreters hom maak.

Gelukkig was dit laaggety, anders het die branders ons teen die duine vasgedruk soos die keer toe ek en jy deur die bosse moes terugsukkel huis toe. Maar dit was daardie walviskoei en haar kalfie hier vlak agter die branders se skuld! Ons kon net nie van hulle af wegkom nie. En het jy nie ’n klomp nonsens kwytgeraak nie …

“Ons gaan dit nooit maak nie! Vannag slaap ons hier tussen die adders en spinnekoppe. Dink net: sulke koue, harige pootjies oor jou nek. Of stinkende slangasems teen jou gesig.”

“Ja, en wie het aanmekaar gesê: net nog ’n paar minute, Tiaan, net nog ’n paar minute?”

Asof jy regtig wou geloop het! Heng, ek is só dêm honger. My tekkies vir ’n braaiboud. Hoor iemand my? BRAAIBOUD! Soos net my ouma dit kan maak. Met geelrys en …”

“Shurrup!”

“Of gerookte varkribbetjie. Met my ma se braai-aartappels.”

“Shut up, sê ek jou!”

“Dit is verby met ons, Tiaan. Alles is verlore. Ons gaan verkluim. Verhonger! Hulle gaan dae lank tevergeefs na ons soek, dan ophou. Ons sal moet lootjies trek oor wie se hand ons eerste gaan afkap. En ons het nie eens vuurhoutjies nie. Sal dit rou moet eet.”

Was naderhand lus en stamp jou in die water, of druk jou kop in die sand, maar dit sou seker ek gewees het wat op die ou end moes sand vreet. Die groot ouens kry mos nie verniet altyd kleiner outjies vir pelle nie.

Albert weet maar min van die see af, maar hy het per ongeluk op die flaminke afgekom en is nou skoon in vervoering. Ry spesiaal met sy fiets van die plaas af om te kom kyk. Nee, ek speel nie. Hy doen dit regtig. Onse Albert.

Yvette ken die see beter as hy en was al ’n paar keer daar by die groot vlei, maar sy het self nog nooit die flaminke gesien nie. Die ver ent se strandstap het haar glad nie gepla nie.

Jy ken vir Albert, altyd aan die nonsens praat. Die nuutste is sy natuurreservaat. Die duisende toeriste wat eendag sy persoonlike natuurreservaat gaan kom besoek. Sy plaas wat see en berg en als gaan hê. As jy my vra, gaan sy ouer broer alles erf. Maar ek bly maar stil, hou my mond.

Yvette was maar stillerig, heeltyd besig om skulptonge op te tel. Luister ewe ernstig asof sy elke woord van Albert glo.

Snaaks hoe ’n mens vlak by die see kan loop en dit tog kan ignoreer. Hou net jou oë op jou voete of kyk binneland se kant toe. Werk ook nie altyd nie. Daardie ploegsakke wat hulle tonge rondskaats op soek na bloublasies … Net soos ’n surfer wat op sy bodyboard lê en wag vir die regte golf. En al kyk jy ook nie, alles ruik in elke geval na see en see en see. Die flaminke was toe wel daar gewees. Honderde pienk lywe gebalanseer op rooi stokkiesbene. Ewe ernstig aan die woel met hulle snawels in die water. Tussendeur gesels hulle dat dit klap. Sulke snaakse toeneus-toetergeluide.

Yvette was in die wolke. Sy is mos gek oor watervoëls. Sy sê sy wil nog al die kolganse en verskillende eende daar in die vleilande gaan teken. Jy moet haar gehoor het toe ek haar vertel van die visarende wat ek en jy verlede jaar van naby gesien het. Eers het sy nie geweet waar om te kyk toe ek van jou praat nie, maar toe wou sy in detail weet waar ons die voëls gesien het, wat ons daar gemaak het, ensovoorts, ensovoorts.

Ek het vandag vir die eerste keer besef dat die blou van haar oë met ’n groen randjie omlyn is. Sy is nogal mooi as sy so opgewonde raak. Geen wonder jy was begin van verlede jaar so mal oor haar nie. Sy en Albert praat nogal baie met mekaar by die skool. Maar of hulle iets aan die gang het, weet ek nie.

Die uittoggie was toe nie heeltemal so sleg as wat ek gedink het nie. Toe ons vroegaand terugkom, het die mistigheid al ver teen die land uitgestoot en die son het oor die rand van die see gesink. Sulke tye lyk Vlakberg soos ’n sprokiesdorp waar dit in die elmboog van die berg teen die see sit. Skoon moranties, soos jy sou gesê het.

Albert wil hê ons moet sommer gou weer vleie toe, ek twyfel of ons gaan tyd kry. Ek wil in elk geval nie hê Alex-hulle moet my daar langs die swemstrand sien loop nie, anders begin hulle weer met hulle geskerm dat ek moet kom surf.

Ek sit maar deesdae langs Albert in die bus. Hy en sy pa stryk nog steeds nie en op sulke donnerdae kan die uur skool toe regtig baie lank raak. Meestal praat hy en droom hy nog asof hy iewers op ’n wolk leef, maar ek weet nie, daar is iets anders aan hom vanjaar. Dis asof hy nóg meer stiltes het. Die weirdste van alles is, hy is ook definitief netjieser as voorheen.

Party kinders sê ek is ook anders. Waar hulle aan dié snert kom, weet net hulle. Soos ek gesê het, my ma kerm aanmekaar dat ek te min uitkom en my lewe omslaap, maar ’n ou moet tog rus as jy so vinnig groei! As ek ’n bietjie verander het, so what? Wat traak dit ander mense wat ek doen?

Almal verander tog die hele tyd. Dit is in elk geval ’n nuwe jaar, ’n nuwe graad, nuwe kinders op die bus. Nogal baie. ’n Klompie graadagts, en dan so paar in elke ander graad. Net een nuwe matriek, maar drie graadelfs. Almal seuns. Dustin, waarvan ek jou vertel het, en nog twee nuwe ouens, Dino en Kevin. Kevin het ’n ongelooflike mooi sussie. Graad nege. Ek kan nie vir jou beskryf hoe mooi sy is nie. Lang, swart hare en die mooiste swart oë en sulke kuiltjies in haar wange as sy lag. Ja, nou kan ek hoor wat jy sou sê oor mense met swart oë en swart hare. Maar háár hare is nie poenskop gesny nie, en haar oë is swart, nie vuilbruin soos ’n steenkoolmyner s’n nie.

Jis, jy het darem vir Kruiwa opgewerk met jou kort hare. En nog meer met daardie hansgatkyk van jou met die laaste haarinspeksie. Seker die naaste wat hy aan beroerte was. Wonder wat hy sou gesê het as hy jou in die Desembervakansie met die oorring én ’n tepelring gesien het?

Welma Voges in graad tien (daardie mooi mollige meisie met die bob) se pa is skielik die eerste naweek van die kwartaal dood aan ’n hartaanval. Haar boetie is nou in graad agt by ons. Het maar erg verdwaald gelyk toe hulle weer teruggekom het skool toe. Welma het kwaai gehuil toe die hoof ons in die saal ons hoofde laat buig het vir ’n paar oomblikke van stilte. Christien het ook baie gehuil.

Ek wens net hulle het sulke goed beter gedoen. Dié en dié is dood en dit is ’n groot skok vir die hele skool en ons innige simpatie met hul families en laat ons ons hoofde buig vir ’n oomblik van stilte … en hierdie jaar sal ons hard moet werk aan die akademie, ook op skoolgebied en kulturele terrein.

’n Mens sou sweer dit is net nog ’n afkondiging oor die snoepie oop gaan wees tydens tweede pouse. Kruiwa wat daar staan met sy skynheilige gevreet, terwyl hy solank uitkyk vir die ouens wat hy direk ná opening oor hulle hare kan verneder. Dáár is nou ’n virus as mense al ooit na een gesoek het!

Nie dat ek self ooit ’n woord vir Welma gesê het nie. Ek wou vir haar ’n briefie skryf om te sê ek is jammer om te hoor van haar pa, maar ek het nie. Nou is dit seker te laat.

Die kinders in die bus en by die skool praat oor alles wat Desember gebeur het, maar bly dan stil as hulle my sien.

Waaroor ek eintlik maar bly is.

Dit is amper twaalfuur, so ek moet dalk nou eerder ophou skryf en aan die slaap kom. Of ek sal kan, weet ek nie. Die kamer ruik pure see.

Die Pro

Подняться наверх