Отрывок из книги
en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme
Lindie Koorts
.....
Malan se vurige woorde was ’n weerspieëling van Afrikaners se groeiende nasionale bewuswording, maar dit was ook ’n uiting van die toenemend verdedigende houding wat die Kaapse Afrikaners ingeneem het. Dit was nie net Afrikaner-nasionalisme wat in die Kolonie aan die opbloei was nie. Britse nasionalisme, wat in die Kaapkolonie deur die South African League verteenwoordig is, was ook aan die opkom. Die South African League se teenwoordigheid in die parlement het sterk gegroei en dit het tot groter verdeeldheid in die Kaapse politiek gelei. Toe die Afrikaner Bond kapsie maak teen die koste om ’n nuwe oorlogskip aan koningin Victoria te skenk, het die League die party van ontrouheid aan die Ryk beskuldig. Dit het ook nie die Bond se verhouding met die hoë kommissaris, sir Alfred Milner, bevorder nie. Toe die Bond hom van hul lojaliteit aan die Ryk en die koningin verseker, het Milner dit hardop betreur dat hy hul lojaliteit nie as vanselfsprekend kon aanvaar nie.
Die 1898-verkiesing was die eerste verkiesing waartydens twee partye wat elk die onderskeie taalgroepe verteenwoordig het, mekaar die stryd aangesê het.[110] Oorlogswolke het oor Suid-Afrika begin saampak.
.....