Читать книгу Oorkant op die eiland - Louisa du Toit - Страница 3

1

Оглавление

Toe hulle by die lughawe aankom, begin die weer verander sodat dit ’n byna onheilspellende kwaliteit aanneem. Die los wolkies wat hulle op pad hierheen gewaar het, swel aan en versmelt tot drywende kolosse, terwyl ’n vreemde wind met mening oor die teerblad van die parkeerterrein dwarrel en Corrie se geruite romp laat uitbol. Tafelberg is meteens glad nie meer te sien nie, vreemd vir einde November.

“Vrou, as jy meer plooie in jou romp gehad het, kon jy op eie stoom oorvlieg Europa toe,” pla Gert Pullen sy vrou.

“Op eie wind,” verbeter Janetta en help haar ma om die romp weer onder beheer te kry. Die warm klere vir die afklim daar anderkant is in die handbagasie of word oor die arm gedra. Die lughartigheid wat Janetta veins, strek nie tot in haar binneste nie. Dis ’n vreemde Vrydag, terwyl ander Vrydae altyd die voorspel tot ’n heerlike gesinsnaweek is, afgewissel met studentepret, wat nie liefdesake uitsluit nie.

Sy kyk hoe haar pa en Isidor die bagasie uit die kattebak haal en vererg haar vir die hinderlike knop in haar keel. Vir wat sal sy nou staan en hartseer word? Sy is mos al mooi groot, soos Isidor haar graag terg. Sy is een en twintig, sy het graad en diploma gevang, en sy het ’n vaste ou met wie sy beplan om nog te trou.

Selfs haar jonger sus Carola, klaar met matriek, is so onaangeraak deur haar ouers se oorsese toer dat sy nie kom afskeid neem het nie. Sy en die vriendin by wie sy agterbly, is vol planne. Carola sal daar wees tot Gert en Corrie kort voor Kersfees terugkeer. Tog kan Janetta haar aandoening nie heeltemal beheer nie. Dis anders om heen en weer tussen Kaapstad en Stellenbosch-koshuis te pendel; dan is dit sý wat weggaan, nie hulle nie. Sy neem die stoffies wat oor die omgewing dwarrel as verskoning om haar ooghoeke met haar pinkie uit te vee. Dis net dat … wel, haar pa was al dikwels oorsee, maar haar ma was nog nooit saam nie. “As die jongste eers klaar met skool is,” het sy altyd geskerm.

“Dan is ons stokoud,” het Gert gekla. Dat die twee dogters ooit sou grootword, regtig groot, het so onmoontlik gelyk in die jare toe hulle spelende, tuimelende bondeltjies mens en plesierlustige tieners was. Nou lyk dit asof alles so kort geduur het, die kinderjare in die bekende huis onder die groot eikeboom. Dieselfde huis, al die jare, ofskoon Gert daarna menige mooier en luukser huis vir ander mense ontwerp het.

Oor die beginsel van sekuriteit voel Corrie Pullen baie sterk. Sy wou nie hê dat Janetta en Carola ’n onrustigheid aanleer deurdat daar gedurig verhuis word en lewenstandaarde elke keer opnuut opgeskuif en aangepas word nie. Hulle lewe steeds eenvoudig, hoewel stylvol.

“Nou ja, nou gaan ons vir ’n wit Kersfees Europa toe. Maar daar is nog tyd om ’n koppie tee saam met julle twee duifies te drink,” kondig Gert aan toe die bagasie ingeweeg is. Hulle vlieg via Johannesburg, en Corrie is altevol bang dat hulle bagasie iewers gestrand kan raak.

“En ek is die gasheer,” kondig Isidor vroom-formeel aan. “Ek sal moet begin oefen, sien, noudat ek ’n paar weke lank ’n ryk meisie op my hande gaan hê.” Hy kreun kastig oor die vooruitsig en lê beslag op die aandag van ’n kelner. Onder die tafel druk sy knie nietemin warm teen Janetta s’n.

“Ek dink julle moet my en Janetta ’n oomblik verskoon,” sê Corrie in haar sagte, gedrae stem. “Die restaurant is so vol, ek reken die tee sal ’n rukkie wegbly.”

Janetta weet dat haar ma nie werklik behoefte aan die kleedkamer het nie. Hulle is pas ’n halfuur gelede by die huis weg. Ook Corrie se ligte grimering is nog ongeskonde, haar hande roomsag en koel. Ek het ’n pragtige ma, dink Janetta met die knop opnuut in haar keel. Altyd so kalm, so vriendelik. Haar skouers dra die weelde wat haar man haar laat toekom met ’n grasie asof sy dit altyd gewoond was. Tog is dit geen geheim dat Corrie moeilik grootgeword het nie. Redelik arm, maar goed opgevoed en met ’n gesonde selfbeeld.

Sy weet waarom haar ma haar eenkant wil kry. Sy wil ’n laaste vertroulike woordjie met haar dogter wissel, sag en persoonlik, besorg maar nie behep nie. Dit was so ’n malle spul wat verby is, die inpakkery vir vier mense, die diplomaplegtigheid, kantoorwerk wat Gert moes afhandel, reëlings en huishoudelike krisisse. Daar was net nie tyd vir ’n woordjie apart nie. Daarby, as Carola nie onder hulle voete was nie, was Isidor daar op besoek.

Janetta se vriendskap met Isidor het, soos Carola sê, skielik “hot” begin word. Dit is asof hy tot die besef gekom het dat sy nou die eintlike wêreld binnegaan, dat sy lid gaan word van ’n groot skoolpersoneel waar daar meer as een aantreklike manlike kollega sal wees. En dit terwyl sy M-graad hom nog hier vaspen. Maar aan die toekomstige skeiding dink Janetta liewer nie nou nie. Dis erg genoeg om van haar ouers te moet afskeid neem. Teen die tyd dat sy verder van Isidor af moet weggaan, is Corrie en Gert darem al terug in die land.

Intussen wag daar ’n heerlike somermaand saam met Isidor by sy ouerhuis. Wel, nie heeltemal sonder sorge nie, want sy sal so hier en daar hard moet voorberei sodat die skoolkinders haar nie volgende jaar met die wegspring al vasvra nie. Sy is eintlik brandend nuuskierig om Isidor se mense te ontmoet. Self praat hy amper nooit van hulle nie. As hy dit wel doen, is dit met die ligte, half spottende toon wat hy aangaande enige onderwerp handhaaf. Meestal weet mens nie of hy ernstig is nie, en dikwels vermoed jy dat sy knaende grappigheid sommer net voorgee is.

“Nou ja,” sê Corrie sag toe sy en haar dogter wag dat ’n toiletdeur moet oopgaan, “dan los ek regtig nou my meisiekinders op hulle eie.”

“Aarde, ma, mens sal sê ons is kleutertjies.”

“Helaas nie meer nie,” is Corrie se versugting nadat sy die toilet gebruik het en haar hande by die wasbak was. Sy pluk ’n stuk papierhanddoek uit die houer. Hulle tweebeeld weerkaats in die spieël en Janetta dink daaraan dat hulle eerder susters kon wees as moeder en dogter. Hulle het dieselfde hare, donkerblond teenaan die kopvel met die boonste laag ’n streperige heuningkleur. Maar waar Corrie se hare salon-versorg is, swaai Janetta s’n los om haar gesig. Ook die vorm van die gesig is dieselfde, die breërige ken en vol mond, die reguit neus, die sagte gedeelte tussen wenkbrou en slaap.

Gert Pullen is baie trots op sy meisiemense, al is Carola nog nie heeltemal geryp tot vroulikheid nie. By haar is dit op die oomblik net bene en arms en lang-lang hare, ofskoon sy al sewentien is.

“Ma’s is darem snaakse goed,” probeer Janetta walgooi teen die moontlikheid van tranerigheid. “As ons klein is, wens hulle ons groot. En as ons groot is, wens hulle ons klein.”

“Seker maar wat julle ook doen: as julle ouers by julle is, wens julle hulle weg, en andersom.”

“Aag, is nie, Ma weet goed ons is almal altyd tevrede bymekaar. Gaan nou lekker vakansie hou, en kom vol geskenke terug. Ek en Carola gaan vir die eerste keer ons vryheid geniet.”

Corrie en Gert sal ’n week alleen in Nederland wees, daarna sluit hulle by ’n toergroep aan vir ’n drafstap deur die res van Europa.

“Hm, dis wat my so bekommerd maak. Hierdie Isidor Eksteen is sekerlik ’n gawe ou, maar hoe goed ken ons hom? Van sy mense weet ons niks, en ons stuur jou sommer meer as ’n maand soontoe. Wie sê hulle hou van besoekers? Wie sê hulle is daarvoor ingerig? Wie sê jy pas by hulle aan? Nog erger: sê nou ons misgis ons vreeslik met die man, en hy het ons ’n rat voor die oë gedraai? Sê nou hy vat jou glad nie na sy ouers toe nie? Sê nou hy het nie ouers nie. Hoe weet ons waarheen hy jou vat en wat hy met jou gaan aanvang?”

“Nou my liewe, hoekom het Ma nie voor die tyd vir sy ouers geskryf om te sien of hulle bestaan nie?” lag Janetta.

“Ek het hom oor ’n adres gepols, maar hy het ewe ernstig vertel dat hulle sommer agter ’n bos woon. Ek wou maar net goeie maniere betoon. Ek kan gou nog by ’n stalletjie ’n poskaart koop en uitskryf, dan gee jy dit vir hulle. Net om by voorbaat dankie te sê vir hulle gasvryheid … dat hulle hulle huis vir jou oopstel en so aan, jy weet.”

“Los dit, Ma stuur mos ’n geskenk. Maar dit lyk Ma glo darem dat hulle bestaan, en nie agter ’n bos woon nie?”

Corrie Pullen glimlag stram terwyl sy haar hare regdruk. “Ek weet nie waarom ek so onrustig voel nie,” erken sy.

“Dis maar omdat julle die verre vreemde ingaan. Skeidingsangs.”

“Maar eerlik nou, Janetta: hoeveel weet jy van hierdie Eksteens? Hoekom praat Isidor nooit van hulle nie? Het hy al vir jou foto’s van sy mense gewys?”

Janetta dink hard en begin in die proses liggies frons. “Wel, hy praat van sy honde. Hy’t gesê hulle plaas lê teen die oewer van die Oranje en daar is ’n eiland waar dit spook.”

“Ek praat nou nie van sy grappies nie. Dié vat ek nie kop toe nie.”

Dis die eerste keer wat Corrie iets so skerp aangaande Isidor kwytraak. Normaalweg is hulle optrede teenoor hom hartlik en vriendelik. Tog weet Janetta dat hulle nie mal oor hom is nie en sy vermoed selfs dat hulle hoop op ’n verflouing van die vriendskap.

“Ma,” sê Janetta nou met al die erns van haar jong hart, die hart wat sy hopeloos verloor het op die man wat daar binne by haar pa sit, “julle moet Isidor leer verstaan en van hom hou. Ons is … Ma weet mos, baie ernstig met mekaar.”

“So het ons vermoed, ja,” antwoord Corrie sonder opwinding. Net haar ooglede flikker effens om haar gemoedstemming te verraai. “Miskien is dit omdat ons hom nie in ’n vaste milieu kan plaas nie, dat ons nog nie volkome vattigheid aan hom kon kry nie. As julle dan regtig so ernstig is, sal ek en jou pa met die terugkom maar moet gaan kennis maak. As jy dit so gereël kan kry dat ons ’n uitnodiging kry, bygesê.”

“Ons sal die stomme mense morsdood kuier. Miskien moet julle hulle eerste uitnooi.”

Die gedagte aan iets so doodgewoon soos ’n vriendskaplike besoek van die aanstaande skoonmense, waar almal tot laat saans sit en kuier en bande smee, besweer die onrus in Corrie se hart. “Nou ja, my kind. Ons glo aan die opvoeding wat ons jou gegee het. Maar die dwang van omstandighede kan so sterk word. Jy en Isidor gaan taamlik intiem afgesonder word daar op hulle plaas. Jy moet weet, ek gaan nie sonder kommer weg nie.”

“Ek dink dis heeltemal verniet, Ma. Het Ma en Pa mekaar nie ook liefgehad nie?”

“Daarom,” antwoord Corrie wys. “Omdat ek onthou hoe hard liefde kan klop. Probeer maar my ou moedergesig voor jou oproep as dit baie nodig word, sal jy?”

Janetta probeer ongeërg glimlag, maar haar poging ontaard in ’n vasbyt van die lip. Haar ma is so volgehoue ernstig, so byna driftig in die volharding van haar onrus, ten spyte daarvan dat haar normale kalmte die situasie oorheers.

“Dit sal nie te moeilik wees nie,” beloof Janetta dan. “Die gesig wat ek nog die meeste in my lewe aanskou het, wat soveel keer oor my gebuig het as ek siek of in trane was.”

“Dankie. Dis genoeg,” sê Corrie met verligting en vertedering. “Kom, ons manne wag met die tee.”

“Gepoeier en gepynt,” merk Isidor op toe hulle weer hulle plekke by die tafeltjie inneem en Corrie gereed maak om te skink.

“Dit het my meisies nie eens nodig nie,” weerlê Gert. Dis nie duidelik of sy opmerking bloot uit trots gebore is en of hy die jonger man baie subtiel teregwys nie. “Jy en Carools moes maar saam met ons gegaan het, meisiekind.”

“Nee wat, Pa. Carola raak te maklik verlief en ek koop te graag. Ons sou die toer aansienlik vertraag het. En ek moet werk en voorberei, ek word nou ’n onnie.”

Isidor kreun. “Moenie so lasterlik praat nie, mens.”

Dan is dit tyd dat hulle paaie skei terwyl Gert en Corrie deur sekuriteit moet beweeg. Toe Janetta vir Gert omhels en soen, voel sy hoe hy nog geldnote in haar hand druk. “Ingeval hulle jou nie genoeg kos gee nie,” fluister hy. Sy glimlag deur die weemoed van afskeid. Hy het haar alreeds oorgenoeg sakgeld gegee. Sou hy dan Corrie se kommer deel? Die twee is beslis nie baie optimisties oor hulle dogter se aanstaande vakansieverblyf nie. Hulle neem dit baie ernstiger op as hulle eie reis met die gepaardgaande ontwrigting.

Janetta en Isidor talm totdat hulle seker is dat die Boeing niks meer as ’n stippeltjie in die lug is nie. Dan gaan hulle motor toe. Dié moet eers terug huis toe gevat word, waar Isidor se motor en Janetta se bagasie wag. Die weer is nou beslis dreigend. Sê nou ’n weerligstraal tref die vliegtuig? wonder Janetta bekommerd. Haai, nee, tegnici maak darem sekerlik voorsiening teen so ’n gebeurlikheid. Sy kan vir Isidor vra, maar hy sal ’n week lank die spot met soveel onkunde dryf.

Hy is nie sag en beskermend nie, dink sy met ’n mate van spyt. Hy koester haar nie emosioneel nie. Dis eerder asof hy altyd voel hy moet haar so ’n bietjie teregwys en in toom hou. Tog maak dit hom vir haar op ’n manier net nog aantrekliker … dat hy nie voetval of haar na die mond praat nie. Dis asof hy weier om na iemand anders se pype te dans, of hy sy eie maatstaf is, reg of verkeerd. Op ’n manier kom hy byna dikvellig voor. En beslis maak hy nie sy gemoed maklik oop nie. Maar diep in hom is daar ’n weerloosheid, ’n lewenspyn wat sy nie kan omskryf nie, net kan aanvoel.

Dis een van die redes waarom sy so haastig is om sy mense te ontmoet. Sy wil hom tuis beskou waar hy onbevange in sy natuurlike klimaat beweeg. Dan sal sy hom beter verstaan. Of kan ’n mens liefhê sonder om te verstaan? Dis so verwarrend.

Reeds voel sy spyt omdat sy haar ouers nie deegliker in haar vertroue geneem het toe daar tyd en geleentheid was nie. Hulle voel al klaar so onherroeplik ver van haar verwyder. Ineengedoke sit sy langs Isidor in die motor.

“Dink jy na oor die prekie wat jou ma jou in die kleedkamer gegee het?” skiet hy raak.

Sy kyk na hom met iets tussen skaamte en verwyt. “Ons het op ons eie manier gaan hare kam,” weerlê sy sonder oortuiging. Hy laat geen geleentheid na om op aweregse wyse die draak met sentimente te steek nie. Sy is daarvan oortuig dat hy presies weet watter kwellinge Corrie Pullen in haar hart omdra, en dat dit hom sinies stem.

Hy lag grootmoedig. “Toe maar, dis so maklik om meisies se moeders te ontleed.”

Dis seker ’n verwysing na die baie meisies wat hy al gehad het, dink sy vieserig.

“Elke moeder sien in elke kêrel maar net ’n wolf of ’n soort Dracula. Hierso, kyk of my oogtande al groei.” Hy trek vir haar skewebek. “Ek sê jou, sodra ons by my tuiste aankom, vat ek jou oor na die spookeiland toe. Daar sal jy volkome in my mag wees.”

Sy weier om op sy uittarting te reageer. Sy voel te week en hartseer, skielik ook te onseker oor die vakansie wat wag. Daarby is die atmosfeer in die lug so troebel en weemoedig, met die saampakkende wolke en die rukkende wind.

Die huis van Gert Pullen was oorspronklik heel apart geleë, in ’n feitlik landelike omgewing. Sedertdien, oor ’n tydperk van meer as twee dekades, het ’n nuwe voorstad met gretige vingers vooruitgereik om die woning te omsingel. Dit behou egter ’n soort eie domein met die groot erf, stewig geboude wit hekpilare en aantreklike teëldak. Die woning is beplan vir ’n leeftyd. Selfs in sy ryp en suksesvolle jare as argitek, vind Gert dit nie nodig om enigiets aan die struktuur te verander nie. Daarom het hy en Corrie deur die jare hulle hand aan verfraaiing en huislike inrigting gehou. Die oomblik as jy by die voordeur instap, word jy omvou deur warmte, huislikheid, gerief, kultuur. Antieke en moderne stukke of kunswerke staan of hang net in die regte kombinasie tot mekaar, terwyl Corrie ’n aangebore sin vir kleur en die ritme van rangskikking het.

Dit lyk opeens so vertroud, so veilig, dat Janetta nou self huiwer oor die wegwees wat voorlê. Sy gaan na vreemde mense toe, totaal onbekend. Waar sy enkele laaste goedjies inpak, kom haar hande tot stilstand. Isidor se ma het nooit eens ’n briefie geskryf om haar seun se spesiale vriendin persoonlik uit te nooi nie. Dalk was Corrie, met meer volwasse aanvoeling, reg. Dalk is gaste, en in hierdie geval een spesifieke gas, nie daar welkom nie. Is Isidor se uitnodiging geldig genoeg? Het hy ooit onthou om sy ma daarvan in kennis te stel? Hy is daartoe in staat om ’n grap van die besoek te maak. Dalk het hy gesê hy bring vir Cleopatra of Antjie Somers huis toe, of so iets, sodat sy ouers tot op hierdie oomblik nie weet of hulle hom ernstig moet opneem nie.

Toe sy klaar is en boaan die trap staan, kom Isidor gedienstig boontoe om die grootste tas te dra, en van die losgoed in sy ander hand.

“Het jy vir jou ma gesê dat ek kom?” vra Janetta sommer half kwaad.

“Natuurlik. Ek het vir haar gesê ek bring vir Xantippe.”

“’n Snedige wyf … Sokrates se vrou, of hoe? Ek het so iets vermoed, dankie.”

Noudat die oomblik daar is om die huis toe te sluit en die sleutel by die buurvrou af te gee, voel Janetta ’n diep huiwering. Dis nog die langste wat hierdie huis bottoe sal staan. Wat kan nie alles tot en met Kersfees gebeur nie?

Sy haat afskeid, miskien omdat sy in haar lewe nog min daarvan gehad het en dit vrees soos mens enige onbekende element vrees. Afskeid bring onsekerheid. Sy het so gladweg opgegroei, so volgens ’n bepaalde patroon, veilig en voorspelbaar.

“Het jy die hoofskakelaar afgesit?” onthou Isidor prakties.

“Ja, meneer.”

“G’n katte of honde of vryers in die huis toegemaak nie?”

“Nee, meneer.”

Panda, die waghond, moet bly. Die buurvrou het beloof om hom te versorg. Dis ’n hartseerstorie vir Janetta, wat die droewige bulhondgesig liefdevol troetel. Die afskeid duur omtrent langer as dié by die lughawe.

“Ek sou graag jou hond wou wees,” herinner Isidor haar later aan sy teenwoordigheid.

In ’n heftige verlange na warmte en begrip, werp sy haar teen hom aan. Hy hou haar ’n tydjie innig vas, stoot haar dan weg. “Wag, jou ma het jou juis in die kleedkamer teen dié soort ding gewaarsku,” sê hy. Die spot is terug in sy stem.

“Ag, Isidor.” Hy moet altyd die teer oomblikke met sy sinisme bederf. Hulle staan in die motorhuis om vir oulaas te kyk of alles reg is, albei motors gesluit en die venster op knip. “Mens sou sê jy hou nie van my ma nie.”

“Ek dink sy’s ’n voortreflike stuk mens op twee bene. Maar sy hou nie van my nie, en dit maak ’n wêreld se verskil.”

“Dis omdat jy jou altyd snaaks hou. Sy het nog nie kans gehad om jou te leer ken soos jy werklik is nie.”

“Soos jy my kon leer ken nie, nè?” Nou hou hy haar langer vas en soen haar behoorlik. Sy wil sommer so bly staan, vir altyd, veilig tussen die verlate tuiste en die onbekende môre. Net so in sy arms, die beste plek om aan die onsekerheid te ontkom.

“Wat staan jy so bang teen my soos ’n klein voëltjie?” vra hy en soen haar weer, hierdie keer so sag soos sy kan begeer.

“Ek is bang. My ma-hulle gaan ver weg, en Carola jakker saam met haar vriendin rond.”

“En jy gaan saam met my.” As hy hierdie keer sarkasties is, steek hy dit goed weg.

“Ja, maar jy wil nie eens vir my sê of ek welkom is en of jou mense my verwag nie. Het jy broers en susters? Waarom vertel jy my so min?”

“Twee boeties, maar hulle raas en mors en het groot kniekoppe en krap my om.”

“Sies, Isidor. Maar jou ouers … Is dit nie vir jou ma ongerieflik dat ek so lank bly nie?”

In die pouse waartydens sy op sy antwoord wag, klets die eerste reëndruppels op die dak van die motorhuis. Hulle luister ’n rukkie in stilte na die reën wat vandag so anders, dringend aanmeld. Dan sê hy met sy mond teen haar hare en hulle liggaamswarmte teen mekaar: “My ma sal nie omgee nie.”

Nie omgee nie? Is dit al wat hy kan sê? Wat van: “My ma sien uit om jou te ontmoet” of “Sy het laat weet sy kan nie meer wag nie”?

“Is dit al?” spreek sy die gedagte hardop uit. “Is sy nie eens gretig om te sien hoe ek lyk en wie ek is nie? Jy is mos darem haar oudste, dan nie?”

Sy mondhoek pluk net effens. Of, wonder sy met vlugtige jaloesie, het hy dalk al soveel meisies huis toe gebring dat nog een nie saak sal maak nie? Hoe was sy al die tyd so onnosel om te reken dat dit ’n okkasie sal wees as sy by die Eksteens opdaag? Sy voel sommer afgehaal. “Of toe maar,” beantwoord sy haar eie vraag. “Ek weet, en jy hoef nie te sê nie: ek is maar net een van vele, of hoe? Daarom dat my koms haar nie juis ontroer nie.”

Sy beweeg weg van hom af, staan na die gietende reën en kyk en sê: “Miskien ’n soortgelyke rede waarom my ma nie oor jou gaande is nie.” Sy weet dat sy nou ’n dwase ding gesê het, jaloerserig, en glad nie bevorderlik vir die groei van hulle verhouding nie. Maar waarom moet hy haar altyd laat wonder, twyfel?

Ofskoon haar kamermaat gesê het, toe sy van Isidor se uitnodiging hoor: “Nou, dan kan jy maar weet hy het stewige planne met jou, ou Janetta.” Hantie Venter, mooi en gewild en bekend met elke moeite-werd ou op die kampus, het seker van haar eie woorde geklink. “Hy’s nie die soort wat sommer elke meisiekind huis toe vat nie.”

Dit het oortuigend geklink. “Hoekom het jy nog nooit met Isidor uitgegaan nie?” wou Janetta weet.

“Omdat hy my nog nooit gevra het nie.”

Sy kon toe nie anders as glo dat Isidor ernstig met haar is nie. Maar as dit so is, sou hy tog teenoor sy ouers laat blyk het dat hy hierdie keer “die regte een” bring?

Met sy gewone skynbare dikvelligheid, eg of nie, steur hy hom nie veel aan haar tartende uitlating nie. Hy staan langs haar in die oop motorhuisdeur na die reën en kyk. “So, dan het ons nou vasgestel dat ons albei voorheen ge-date het. Goeie speurwerk.” Hy swyg oomblikke lank en vervolg dan met ’n soort weemoed: “Maar dit reën, hè? Amper soos by ons op die plaas as die wolke die slag oopmaak.”

Sy kom hom tegemoet deur saam oor die weer te praat. “Ek glo jou. Maar hier in die Boland is dit mos of somerreën mens nie die bevrediging van winterreën gee nie.” Sy roep ’n beeld daarvan op, van die lang aande voor die kaggel, van geil sop in diep kommetjies, singende reën deur die nagte.

En, in die koshuisgange, die reuk van nat reënjasse en sambrele, wat meng met die swaar geur van tee in ’n staalkan. Isidor langs haar onder ’n sambreel waarop die druppels gesellig tik. Die stoomwarm binneruim van ’n studentekafee. Haar koue hande wat in Isidor s’n verwarm terwyl hulle op vleispasteitjies en koffie wag.

Haar en Isidor se verhouding het verlede winter begin, juis een reënerige aand op pad van die biblioteek af. Die stil gedruis het haar oorval en sy het haar ligte boeketas oor haar kop gehou terwyl sy flink koshuis toe draf.

’n Tydjie reeds het sy voetstappe agter haar hoor opklink, maar nie omgekyk nie omdat sy dog dis maar net nog ’n haastige student. Totdat Isidor se groot, swart sambreel oor haar kop geskuif en hy met ’n ligte hyging gesê het: “Hier’s ek op my wit perd, al is ek ónder hom en al is hy swart. Waarheen, juffrou?”

“Dankie, maar …” Sy was altyd ’n bietjie versigtig vir sulke kastig toevallige kennismakings. Vir seker het hy haar reeds dopgehou? “Dis regtig nie nodig nie, ek hou van die elemente.”

“Bang vir wolwe?”

“Ek is g’n groentjie nie.”

“Juis. Loop dan onder my sambreel soos ’n senior meisie.”

Toe hulle onder ’n straatlamp verbyloop, het hy die sambreel effens gelig en gesê: “Haai, kyk dan ’n slag in my rigting, dat ek kan sien hoe jy lyk.”

Koppig het sy geweier.

Onder die volgende straatlamp het hy weer gepor: “Toe nou, ek wag.”

Toe dog sy: ag, nou ja, en sy draai haar kop, en hulle bekyk mekaar goed, en lag. Van toe af het sy gewag, elke wakende oomblik gewag tot hy haar twee volle dae later kom opsoek het.

“Ek het twee dae gewag,” het hy sonder meer verduidelik, “want ek het gedink dis sentimenteel van my om ’n vreemde meisie se natgereënde gesig te bly onthou. Ek het eintlik net, hoe sal ek sê, kom seker maak of ek jou reg onthou het.”

Die eerste maand of twee was daar af en toe nog ’n ander afspraak. Geleidelik het dit weggedreineer, totdat net hulle twee gebly het. Dis eintlik belaglik dat sy nog soms jaloers voel op die meisies wat hy geken het, soos sy dit ook belaglik sal vind as hy op sy voorgangers jaloers is. Die hede is tog die belangrikste?

“Kom,” sê hy, “ons pad vorentoe is lank. Gaan gee jy die sleutel af solank ek jou goed inlaai.”

Tannie Rens langsaan is van altyd af baie geïnteresseerd in die Pullen-dogters se hartsake, miskien omdat hulle so langs haar grootgeword het. Sy neem loseerders in, werkende jongmense en studente wat haar eensaamheid besweer, haar vryheid aan bande lê en haar blombeddings verniel soos hulle saans buite in die donker kafoefel.

Sy gee nie om nie, want dis vyf en twintig jaar laas dat ’n man se lippe op hare was en sy kan vaagweg onthou dat dit jou nie onaangeraak laat nie. Sedert haar man se dood was daar niemand anders nie. Deesdae raak losieshuise uit die mode, almal soek woonstelle, of kamers in die stad, of studentehuise. Maar haar kamers bly vol, want sy gun die jongmense die vreugdes van die hart. Die lewe is kort en dit gaan so gou verby. Nog beter as hulle haar daarin laat deel. Party sê sy is nuuskierig, maar sy is net meelewend.

Vir Janetta en Carola kan sy maar na hartelus uitvra sonder die vrees dat hulle vanweë haar nuuskierigheid sal dreig om losies op te sê.

“Is tannie Rens nou seker die hond sal nie ’n las wees nie?”

“Hierdie dierasie? Nooit. Ek voel altyd veiliger met hom hier langsaan. Hy blaf ook as iets by my huis aangaan, so ek en hy ken mekaar. Jy weet die loseerders kom maar laat saans in en dan kan ek nie die voordeur sluit nie.”

“Ag, maar baie dankie, tannie. En hier is ’n papiertjie waarop my adres en telefoonnommer staan waar ek die vakansie sal wees.”

Tannie Rens vat die papiertjie en lees hardop: “Mej. J. Pullen, p/a Eksteen, ‘Stroomlangs’, Oewerdal.” Sy maak oudergewoonte haar voete oop vir die kat om deur te loop en sê: “Haai, kind, watter mooi koel name. Is daar ’n spruit of iets?”

“’n Deel van die plaas lê teen die Oranjerivier, tannie. Maar daar is ook buiteveld, of so iets.” Isidor het met ’n gesukkel die adres verskaf.

“Dis mos ’n soort lewe van harde werk, dan nie?”

“Hy’t gesê sy pa verhuur die landerye.”

“En hoe voel dit om so te gaan kuier? Jy is seker opgewonde. Ai, dit lyk so lekker.”

“Ek wens ek kon vir tannie ook ’n slag vakansie gee.”

“Nee wat, Janetta. Los hierdie tannie maar voor die kospotte.”

Hartseer dink Janetta: is dit dan al wat vir party vroue moet oorbly? Haar eie lewe vorentoe lyk so vol, so onuitputlik. Moet dit vir sommiges so gou al feitlik leegloop?

“Dis so ’n mooi outjie wat jy het, Janetta. Die bruin hare met die effense krul. En daardie wimpers.”

“Ek dink ook hy’s pragtig, tannie.”

“En het jy hom nou waarlik lief?”

Janetta voel haar gesig warm word. “Ek reken so. Hoe weet mens ooit?”

“Is jy gelukkig?”

“Lyk dit dan nie so nie?”

“Ek vra maar net, kind. Ek moet dit tog vir jou sê: geluk en liefde is nie altyd dieselfde ding nie.”

“Hoe praat tannie dan nou,” lag Janetta half ongemaklik, haastig om weg te kom. Sy hoor die kattebak hard toeklap in hulle erf langsaan en weet dat Isidor ongeduldig raak.

“Dit is so, Janettatjie. As meer jongmense dit voor die tyd weet, sal minder van hulle in die dorings beland. Skei, en so. Selfmoord. Hulle verwag volmaaktheid, sien? Die flieks en die boeke en die liedjies sê dan so.”

“Ek is darem al in die twintig,” herinner Janetta haar.

“Ja, wat praat ek ook. Op jou ouderdom het ek al drie kinders gehad.”

Sy groet, kyk die jong meisie agterna, en dink weeïg: so het ek gelyk, vyf en veertig jaar gelede. Glad en jonk en sag. Die aantreklike ou wat Janetta het … hy maak altyd grappies, maar dis ’n skans. Hy maak nie maklik oop nie. Mag hy tog nooit hierdie mooie meisiekind seermaak en teleurstel nie.

Haar eie man was soos ’n waterval, blaker alles uit. Sy mis hom nog veel. Sy snuif droog en gaan binnetoe om te kyk of die nagereg in die oond al bruin genoeg is. Sy het nou nie eens gevra hoe laat Janetta-hulle vanaand daar gaan aankom en of Gert en Corrie toe ’n goeie afskeid gehad het nie.

Die reën en wolke sorg vir die nodige koeligheid oor die middaguur heen. Op Corrie se aandrang is ’n koelsak vol padkos vir Janetta en Isidor reggemaak en dit help hulle om wakker te bly. Hulle ry voorspoedig: Paarl, Ceres, en steek die binneland in. ’n Andersins vervelige stuk pad is vol afwisseling saam met Isidor. Jy weet nooit wat om van hom te verwag nie. Dan ry hy te vinnig, dan te stadig, net om haar uit te lok.

Ek is skielik nie meer ’n student nie, dink Janetta met bruisende opwinding. Ek is nou selfstandig. Isidor het nog nie spesifiek in die rigting gepraat nie, maar as hy ’n ring aan haar vinger wil sit, sal hy ’n bietjie moet wag. Die skoolhoof sal die skok van sy lewe kry as daar reg aan die begin van die jaar ’n diamant in sy oë flits.

Dis lekker, spontane, loslit-gedagtes. Sy het ’n pos in die Swartland gekry. Te ver om te loop en te na om te ry, soos Isidor sê. Maar in dieselfde asem voer hy dan kastig lang, vertroulike gesprekke met sy nuwerige motortjie wat noodwendig deur Janetta aangehoor word en waarin hy die voertuig aanspoor om sy beste te lewer, so elke tweede naweek. Die motortjie was glo eers sy ma s’n.

Sy leun met haar kop teen sy skouer, voel die ligte beweging as hy die motor om ’n draai in die pad stuur, ratte wissel. Hy het sy truuks laat staan en ry nou teen ’n egalige pas. Ietwat vinnig, maar veilig genoeg. Sy het besluit, lankal, om nie daaroor te neul nie omdat sy weet hoe maklik ’n man agter die stuurwiel geïrriteerd raak. Selfs haar liewe pa word vies as sy vrou kommentaar oor sy bestuurkuns lewer.

Wie het vir Isidor geleer bestuur? Die pa of ma? Haar ouers het haar om die beurt op stil paadjies geleer, en net vir ’n paar afrondingslesse betaal. Sy het haar lisensie, maar Gert wil haar nog nie ’n kar gee nie, te beskermend. Sy baklei nie daaroor nie, want min studentemeisies het ’n eie motor.

“Vertel my van julle huis?” pamperlang sy. Die ure en die kilometers snel verby. Eintlik wil sy meer oor die gesin self weet, maar sy durf nie reguit vra nie. Dit sou dwaas van haar wees om te aanvaar dat hierdie reis, hierdie koesterende afsondering, vir ewig kan aanhou. Noudat die namiddagure ’n aanvang neem, met groter nadenke in ’n loom soort tussenbestaan, lê die vreemdheid soos ’n berg voor haar.

“Die mure staan regop,” vertel hy ewe gewillig.

“Hoe merkwaardig. Gaan voort.”

Hy borduur verder, en dis asof hy self meegevoer raak deur die beeld wat hy oproep. “Hm, nou ja, ’n lekker klein huisie – twee woorde, hoor – met ’n rietdak. Rousteenmure, maar darem met klei gepleister.”

“Wat is rousteen?”

“Tuisgemaakte kleistene wat net in die son gedroog is, nie gebak nie. En plek-plek val die pleistering af, dan lyk dit ’n bietjie armoedig.”

Natuurlik skeer hy gek, maar tog is daar ’n ondertoon van erns in sy stem wat haar belet om hom uit te lag.

“Regtig?” vra sy en probeer ongeraak klink.

“Regtig. O ja, en ’n bakoond. Hoe’s daai vir my ryk meisie? Wil jy omdraai?”

“Omdraai? Jy maak my net al hoe nuuskieriger. Sal daar tuisgebakte brood uit die bakoond wees?” Om ryk genoem te word, is iets wat sy haat, maar sy laat dit ter wille van die vrede verbygaan.

“Natuurlik. Maandagmôres lê die rook sommer so dik oor die rivier soos my ma die bakoond stook. Vrydagmiddae word die grondvloere natgespat en ons dans almal in die rondte om dit vas te trap.”

“Maar nou jok jy mos lekker, Isidor Eksteen.”

“Natuurlik jok ek. Dis Donderdagmiddag se roetine.”

“En lek die rietdak?”

“Net as dit reën, gelukkig.”

Sy weet hy fantaseer, en tog weet sy net so seker dat daar iets onpeilbaars in sy vertelling steek. Dalk wil hy haar op hierdie manier waarsku dat hulle werklik nie baie bemiddeld is nie. Dalk is dit die rede waarom hy haar nie in die lentevakansie huis toe genooi het nie, toe sy tog duidelik daarop gesinspeel het dat sy hom bitter graag sou wou vergesel. Ag, as hy maar weet hoe min so iets haar sal beïnvloed. Daarvoor is die krag van haar opvoeding te groot. Corrie self vertel sonder wroeging van haar moeilike grootwordjare. Sy slaag trouens daarin om dit na ’n avontuur te laat klink.

As sy so vertel, het sy ’n soet, weemoedige glimlag asof dit ’n onvergeetlike geluksaligheid bly. Janetta en Carola weet ook dat Gert, ofskoon toe self nog platsak, ’n lening moes aangaan om Corrie uit die onderwys los te koop toe hulle wou trou. Eienaardig genoeg, is daardie soort onderwerp egter altyd vermy in die maande wat Isidor as gas by hulle aan huis gekom het. Dit was ’n soort onuitgesproke ooreenkoms tussen hulle as huismense dat sulke dinge nie gesels word as Isidor daar is nie. Waarom so?

Dit sal tog lekker wees as sy storie van die rietdakhuisie waar is, dink sy nou. Dan kan sy meteens ook maar vir hom vertel hoe sy en Carola altyd aan haar ma se lippe hang as sy vertel van haar jeugjare: van haar begeerte om wit skoene te hê, en ’n huis met gordynkappe en nie net spykers in die mure gekap vir die gordyne nie. Toe Corrie se pa jonk sterf, het dit nog erger gegaan. Janetta se ouma is eers in haar bejaarde tyd weer getroud, met ’n wewenaar wat hom goed voorgedoen, maar op die ou end haar pensioengeldjies uitgedrink het. Die getroude kinders moes haar met lewensonderhoud help. Gelukkig is die ou dood. Toe Corrie se ma self sterf, het Gert al die onkoste van die begrafnis en die grafsteen gedra. Tog was dit altyd heerlik om by Ouma Karoo te kuier. Sy kon hartlik lag, ook oor haar dwase tweede huwelik.

Nog altyd weer het Janetta onbewustelik gesoek na ’n mens soos Ouma Karoo. By Corrie is daar dieselfde lewensaanvaarding en gelykmatigheid, maar sy is soveel fyner en gekultiveerd. Daardie bruuske lewenslus, die aardse genieting van ’n situasie, mis Janetta nog steeds. Sê nou maar net mevrou Eksteen is so ’n soort mens? Of is so ’n hoop pure ontvlugting? Want sy is bang, ja, en sy word al hoe banger.

“Vertel nog,” soebat sy.

Isidor het pas vir die laaste maal brandstof ingeneem, en hulle kon hulle in die skoon ruskamers van die vulstasie opkikker en warm pasteitjies vir aandete koop. “My ma sal tien teen een ook aandete bêre, maar ons sal nie voor twaalfuur daar aankom nie,” het hy gesê, en dit was sy eerste aanduiding van moontlike verwelkoming en huislikheid daar anderkant. Hy het ’n sigaret buite staan en rook want, dit moet sy hom ter ere nagee, hy rook nie in die motor nie. Dit moet geweldige selfbeheersing kos en dit spreek nogal van bedagsaamheid teenoor haar.

“Wat wil jy nog hoor,” vra hy nou, sonder vraagteken in sy stem. Sy oë is al rooi en moeg, maar hy wil nie hê dat sy help bestuur nie. Sy is eintlik ook maar bly. Hy is te krities, en dan sal sy juis geneig wees om ’n fout te begaan. Sy wil tog nie met haar aankoms reeds in onguns verval omdat sy die motor beskadig het of iets ergers nie.

“Ag, vertel alles.” Sy traagheid laat haar meteens regop sit, weg van hom af. “Liewe land, Isidor, kom die begeerte nooit by jou op om alles van my te weet en te hoor nie?” Sy word sommer kwaad en hartseer deurmekaar. “Maar jy kan maklik praat, jy ken my gesin al maande lank en jy het niks om oor te wonder nie. Hier is ek in blinde vertroue saam met jou op pad, maar jy wil nie eens laat deurskemer of ek welkom sal wees nie.”

“Ek sal toesien dat hulle jou kos en slaapplek gee,” ontwyk hy, skynbaar ongeraak deur haar pleidooi. “Al wat jy hoef te doen, is om jou na omstandighede te skik.”

Gerieflik vaag, en sy antwoord nie daarop nie. Vas besluit sy: as die Eksteens hulle snaaks hou, kan sy altyd die trein terug huis toe vat. Sy is nie bang, met Panda wat waghou en met tannie Rens en die loseerders langsaan nie. Sy het oorgenoeg geld om die huis te haal en haarself tuis te onderhou, as sy net by die stasie kan kom.

Kyk nou waar loop my gedagtes heen, dink sy beskaamd. Sy is glad nie besig om ’n goeie gesindheid teenoor haar toekomstige gasheer en gasvrou op te bou nie. Isidor was gaaf genoeg om haar saam te nooi, en dit sê tog veel. Hantie het immers gesê dat hy nie sommer ’n meisie huis toe vat nie, of so iets. Dan is sy mos eintlik ’n uitgesoekte, en dit behoort genoeg te wees. Dis Corrie wat met haar onrus en kommer daar in die kleedkamer vanoggend die saadjie van twyfel gesaai het. Was dit werklik net vanoggend? Dit voel soos ’n ander lewe, ’n ander tyd.

Die son gaan oop en pragtig onder, ver aan die rand van die ranterige uitgestrektheid. Hulle is nou omtrent halfpad. Hiervandaan sal hulle stadiger moet ry, omdat die gevaar van rondloperdiere groter in die nag is. Sy kan nie ophou staar na die sonsondergang nie. Sy wens Isidor is die soort mens wat uit sy eie sal stilhou om so iets saam met haar in stilte te bewonder. Buite die motor in die vars, oop veld, met sy arm om haar. Maar nie hy nie, o nee. Hy is gewoonlik ongeërg as sy die aandag wil vestig op die volmaan of ’n mooi blom. Sy het ’n idee dat hy dit as onmanlik beskou om emosie oor skoonheid te toon. Hy het altyd ’n lig spottende opmerking te make sodra sy in vervoering raak. Van die maan sal hy sê: “Tog net ’n ou klomp rotse en kraters.” Van ’n blom: “Koeikos.”

Een ding weet sy, en dit maak haar ’n bietjie droewig: hy sal die soort eggenoot wees wat spaarsaam met liefdesbetuigings te werk gaan. Hulle het sy ook al gesien tussen die vriende van haar ouers: stug, afsydige mans wie se vroue tog so koer om ’n bietjie aandag. In die verliefdae gaan dit nog aan, maar nou reeds is sy die een wat die kommunikasie moet oopbreek vir elke oomblik vorentoe. Dit maak haar soms opstandig. In hulle huis kom emosies so maklik, hoofsaaklik danksy Gert se warm persoonlikheid. Hy is meer as ’n persoon vir sy vroumense. Hy is terselfdertyd brug, beskermer, toevlug … altyd daar, altyd toereikend. Hoe vertroetel hy hulle nie, sonder dat hy ooit valse waardes aan hulle voorgehou het.

Sy trek haar asem in met iets tussen ’n sug en ’n snik.

“Ontroer deur die sonsondergang?” wil Isidor weet sonder om na haar of die sonsondergang te kyk.

“Ek verlang al klaar na my pa,” sê sy moedswillig, om hom te straf oor sy ongevoeligheid in die aangesig van soveel mooiheid.

“Ek het net die regte ding vir jou,” is sy reaksie. “Gee ’n bietjie daardie klein tassie van my op die agterkussing aan.”

Sy gehoorsaam en wonder wat hy nou weer in die mou voer. Dis in elk geval tog afwisseling. Hy neem sy linkerhand weg van die stuurwiel, knip die tassie oop en vroetel tussen die inhoud van toiletware en rookgoed rond. Sy hoor sellofaan kraak en toe bring hy dit te voorskyn: ’n splinternuwe fopspeen, een van die groot, goedkoop rubbersoort.

Terwyl hy dit in haar rigting hou sonder om na haar te kyk, wonder sy wat om te doen. Dat hy spesiaal die ding gaan koop het, lyk vir haar na hansworsery, indien nie opsetlike wreedheid nie. Sy kan dit sonder meer deur die venster skiet, maar dis kinderagtig. Dus neem sy maar die aangebode geskenk en skeur die sellofaan af.

“Sit dit in jou mond,” beveel hy, maar sy het nie lus vir die belaglikheid nie. Dit was vir haar ’n mooi oomblik van verlange en oorpeinsing. Waarom wil hy dit vernietig?

Hy gryp die fopspeen uit haar hand en probeer dit in haar mond druk, maar sy draai haar kop weg. Die motor swaai. “Jy sal ons verongeluk, Isidor!” roep sy kwaad.

Hy bring sowaar die motor tot stilstand en probeer haar tot oorgawe dwing. “Toe, kom nou, ek wil jou net wys hoe relatief jou liewe pa is; die lewe gebruik ouers om ’n kind te fop.” Dis die eerste keer wat sy nodig het om haar liggaamskrag teen hom te meet. Sy slaan haar tande in die hand wat haar gesig kneus.

“Hel!” roep hy en laat los. “Jou klein pes. Is dit die goed opgevoede Pullen-girl?”

“Ja, en dis wat jy kry as jy my soos ’n hond behandel. Of wat praat ek? Ons sal dit nie met ons hond doen nie. Dan wil jy my nog teen my eie ouers probeer opstook.” Sy ril van woede en sit in die verste hoekie van hom af.

Hy smyt nou self die oorsaak van die twis deur die venster en bring die motor, wat heeltyd geluier het, in beweging. Hy praat nie ’n woord nie. Sy gesig is absoluut geslote en hy was nog nooit vir haar so ’n totale vreemdeling, nie eens daardie eerste aand onder sy sambreel nie.

Na ’n rukkie bekyk sy hom uit die hoek van haar oog, merk die blou merke op sy hand. Sy het nie besef dat sy so hard byt nie, en skaamte en vernedering spoel deur haar. Sy krap in die tassie wat nog steeds tussen hulle oopstaan en vind ongelukkig niks meer as naskeermiddel wat sy kan gebruik nie. Sy skroef die prop af, drup van die inhoud op ’n skoon snesie en druk dit saggies op die merke.

Die geur vul die motor en herinner haar noodwendig aan die aande van geluk as hy haar by die koshuis se voordeur kom haal, gladgeskeer en versorg ter wille van haar. Terwyl sy roerloos die snesie op sy hand bly druk, trek hy haar nader. Sy lê vas teen hom aan. Pas nog was sy verder van hom as ooit tevore. Nou, nader as ooit. Hy sal my net soms gelukkig maak, baie gelukkig, besef sy. Maar meer dikwels ongelukkig, baie ongelukkig.

Vir die res van die reis is hulle stillerig. Geen geskerts, geen gedagtewisseling nie. Sy gee egter in ’n gebaar van toegeeflikheid sy rookgoed vir hom aan. Hy aanvaar dit dankbaar. Die rook laat haar oë brand en haar neus toetrek. Sy besluit egter om dit te verduur, ook toe hy ’n tweede en derde sigaret aansteek.

Dalk was die onsmaaklike klein kragmeting nodig. Dalk verstaan hy nou dat sy ten ene male nie vatbaar is vir sy ewige grapmakery nie. En sy, wat was die les vir haar? Dat hy gewelddadig sal kan raak met die nodige aanleiding? In hierdie geval het hy self die aanleiding gegee, en onnodig daarby. Sy sidder innerlik as sy die krag van sy greep onthou, sonder enige toegeneentheid of terglus. Dit was geweld in verbloemde vorm, en dit lyk asof hy self daarvoor geskrik het. Hy is nou slap, drifloos, swygsaam.

En hy moet al baie moeg wees. Dalk was dit net ’n fisieke reaksie op die spanning van die rit. Maar nee, sy moenie verskonings vir sy optrede soek nie. Dit was al menige vrou se ondergang, en sal dit altyd wees. Sy verstaan skielik meer van haar ma se kommer vanoggend op die lughawe. Dit moet ’n kommer wees wat lankal vreet, die laaste ses maande sedert sy Isidor naweke begin huis toe bring het.

Dalk, dink Janetta met ’n opvroliking van haar gemoed, kan sy haar ma na hierdie vakansie in die oë kyk en sê: “Ma, ek verstaan nou Ma se kommer beter, maar ek verstaan ook vir Isidor Eksteen beter. En daar is geen rede tot kommer nie. Regtig, noudat ek by sy huis was …” Helaas, dis wensdenkery. Die nabye toekoms sal wys of sy hom ooit beter sal leer deurgrond.

“Nou is dit nie meer te doodver nie.” Dis die eerste woorde wat Isidor in meer as twee uur praat. Die reis het voorspoedig verloop en hulle het op sy berekening tyd gewen. Enkele kere het die kop en horings van ’n koedoe opgedoem in die verste ligbane wat die motor uitskiet, maar nie een het die gevaarlike en dikwels noodlottige sprong waarvoor hulle bekend is, gewaag nie. Isidor het ook die dakliggie aangeskakel, wat glo help. “Tot dit verkeerd bewys word,” het hy met selfspot bygevoeg.

Noudat hulle so naby kom, word Janetta se vrese deur opgewondenheid vervang. Want dis asof ook Isidor opgewonde raak. Hy moes tog veel huis toe verlang het. Hy praat weer eerste: “As dit in die dag was, sou jy die groenigheid van die rivier op ons linkerhand kon sien. Waar dit ’n bog maak.”

“Jy kan my in daglig wys.”

“Van ons af is dit nie so naby nie. Hoewel dit met die groot vloede van die verlede, voor die tyd van noodwalle, tot naby ons huis gekom het, ’n kilometer ver.”

Hulle manier van praat is beleef, asof hulle versigtig is vir wat hulle in mekaar ontdek het. Ontketen het, eerder. “Onthou jy self so ’n vloed?” vra sy.

“Daar was ’n paar jaar terug ’n grote, maar daar was al erger.”

“En wie dra dan die skade, jou pa of die huurder?”

“Albei verloor maar.” Hy raak nogal mededeelsaam: “Onthou net dat ’n groot deel van die plaas eintlik droë veld is, weg van die rivier af.”

“En daar boer jou pa met vee.”

“Ja.” Dan weer stilte. “Hier is ons bure se hek,” sê hy ’n kwartier later. Hy het betyds gepraat, sodat sy tyd het om te kyk toe die motorligte oor die uitdraaipad vee. Daar hang ’n wit geverfde motorband waarop in swart letters geskryf is: P. Saayman, Donkerwater.

“Dit klink morbied,” merk sy op, terwyl die geverfde letters nog binne haar moeë ooglede lewe.

“Ja, en ek is bevrees dit is waar ook. Hulle word van altyd af deur die ongeluk gery.”

Dalk hou hy die geselsery vol om wakker te bly, want ’n paar keer het sy hom al verdink dat hy oomblikke lank agter die stuurwiel indut. As die atmosfeer heeltemal ontspanne was, sou sy aan die hand gedoen het dat hulle sing om wakker te bly. Nou is dit egter nie meer ver nie en hy is opeens ook sommer helder wakker.

Dis nie nodig dat hy hulle aankoms by hulle bestemming aankondig nie, want sy lees duidelik die woorde op die naambord van smeedyster wat in die motorlig opdoem: Otto Eksteen, Stroomlangs. “Julle is gelukkig om ten dele langs die rivier te wees, of hoe?”

“Ja. Dit verhoog die waarde van die grond. En as die droogte rêrig knyp, is daar altyd groenvoer vir die vee.”

Die skielike grondpad is soos ’n voelbare verklaring dat die teerpad verby is, en daarmee alles wat bekend en gemaklik is. Die swart baan was immers ’n lint wat tussen haar en die Kaap span. Hulle ry ’n paar kilometer ver in ’n gang tussen veekampe deur, voordat die opstal uit die donkerte van die nag voor hulle opdoem.

Met die eerste oogopslag weet Janetta onvoorwaardelik dat Isidor heeltyd nonsens oor sy ouerlike woning gepraat het. Daar is g’n rousteen of kleipleistering, ook nie skoorsteen en rietdak nie, en sy voel op ’n manier teleurgesteld. Dis ’n groot, plat huis met ’n lang veranda waaroor die strale van die motorligte vee. Daar is donker bondels bome. Dit lyk of daar genoeg tuin is, maar onbeplan en nie kundig uitgelê of goed versorg nie.

Dit ontstel haar effens dat daar nêrens lig brand nie, of nie wat sy kan sien nie. Die huis lyk so verlate, laag op die grond, donker, byna hurkend. Hulle word immers verwag? ’n Oomblik lank word Janetta die prooi van ’n oervrees: gestel haar ma se vrese was gegrond? Dat hier g’n mense van Isidor woon nie, dat hy haar hierheen gebring het vir ’n gerieflike, uitgerekte liefdesavontuurtjie? Dis nie vergesog nie. Baie plase is ontvolk en beskik net oor ’n voorman. En hierdie landerye word glo juis verhuur.

“Dis so donker,” pols sy versigtig.

“Die krag gaan vir elke bagatel af,” is al wat hy sê.

Sy bly sit selfs nadat Isidor uitgeklim het. Hy loop om na haar kant toe om die deur oop te maak. Terselfdertyd gaan die voordeur oop, en met onsekere verligting sien Janetta ’n man met ’n sterk flitslig te voorskyn kom. Die lig is skerp, maar sy kan sien dat hy ’n kamerjas aanhet. Dit is darem ook al halftwaalf, herinner sy haar, en plaasmense gaan vroeër bed toe omdat hulle vroeër opstaan. Isidor se ma slaap seker al. Sy voel verleë oor die ongerief wat die mense aangedoen word, die ontwrigting van hulle roetine.

Die oomblik toe hulle uitklim, hoor sy ’n hond knorrend blaf. Sy sou nooit agterna presies weet in watter volgorde dinge gebeur het nie. Sy weet dat die man en Isidor reeds groetwoorde oor die kort afstand heen begin wissel het, gewoon en sonder ophef. Sy onthou dat sy met ’n krieweling van ongemak die donker dons van die man se borshare bo die V-hals van die kamerjas gesien het en dat hy ’n baard het, volmaak asof dit saam met die gelaatstrekke geskape is. ’n Kort, krullerige baard, vas teen die vel en tot by sy kiewe. Dis soveel as wat sy kon onthou.

Die hele res, alles wat eerste indrukke moes wees, vergaan in die hel wat losbars. Die hond wat hom tot dusver net laat hoor het, is met enkele hale by en bo-op Janetta. Sy is skoon onderstebo geloop en lê teen die grond met die sterk, trillende borskas wat sentimeters bo haar dein. Die honde-asem is in haar gesig, terwyl angswekkende knorgeluide haar eie stem in haar keel laat stol. Alles het so vinnig gebeur dat, die oomblik toe sy val, sy die eienaardige sensasie ondervind dat haar liggaam morsdood van skok is. Dan keer die lewe met speldeprikke terug na elke vesel.

Sy wil roep: “Help!” Sy wil bid of smeek, maar daar kom geen geluid uit haar keel nie. Dit voel na ’n ewigheid voor Isidor skerp roep: “Kaptein! Maar Otto, keer die bliksem!”

Die gromme word harder, dreigender. Spoeg drup op haar gesig. Die ligstraal van die flits swaar koersloos heen en weer.

“Magtag, Otto!” roep Isidor weer. Belaglik misplaas, dring dit juis nou tot Janetta deur dat hy sy pa woedend op die naam noem. Waarom gryp die man nie die dier weg nie? wonder sy in haar angs; besef dan dat geweld net teengeweld sal uitlok, en dat hier eerder ’n fyn spel van oorreding nodig is. Daarom bly sy roerloos lê terwyl Otto Eksteen eindelik paaiend praat: “Kaptein … kom nou, Kaptein.” Ongemerk beweeg hy nader, tot sy vingers paaiend om die halsband sluit. In die sekonde voor die spanning breek, besef sy: As hy met een woord die hond aanmoedig, is sy dood.

Maar waarom sou hy dit wou doen? Waarom is die oomblik so lank, so lank? Toe is die hond weg van haar, verstaan hy eindelik wat van hom verwag word en laat hy haar met rus. Dis ook nie meer nodig dat hy vasgehou word nie. Onmiddellik is daar twee paar arms om haar op te help. Of liewer drie arms, want Otto hou nog die flits vas. Sy ruik ’n vreemde tabak, en algeheel ’n sterk reuk van volwasse manlikheid, effens ru, so anders as Isidor se jeugdige versorgdheid.

Dis aan Isidor wat sy vashou nadat haar bloes en langbroek afgestof is. In ’n gebaar van streling en ondersoek tas hy oor haar agterkop om vas te stel of daar ’n knop of wond is. Sy het beslis bitter hard met die grond kennis gemaak. Met sy effens gekreukelde maar skoon sakdoek vee hy haar gesig af.

Die ergste skrik is verby, sodat Janetta dapper omdraai om behoorlik kennis te maak. Noudat sy die man reg in die oë kyk, is sy gesig verskonend, sterk en aantreklik in die sagte, kort krulbaard.

“My wêreld, juffrou, dat jy in so ’n fiasko hier aankom. Vergewe tog, Kaptein beskou homself as baas van die plaas.”

Sy dink aan Panda tuis, knik en glimlag bewerig terwyl Isidor haar nog met een arm om die middellyf vashou. “Is die krag al weer af?” vra hy geïrriteerd.

“Ja, jy weet mos, die een onderbreking op die ander. Mens weet ook nooit wanneer daar iewers onheil skuil nie.” Dit klink omineus, en Janetta ril opnuut.

Die onseker lig van ’n olielamp verskyn in die voordeur. Die vrou wat die ronde glasbol tussen haar hande vashou, lyk soos ’n soort madonna. Die lig lê sag oor haar gesig en oor haar gladde donkerige hare wat in ’n nagstring agter haar rug afhang. Dit lyk of sy uit was gevorm is, so onbewoë is haar gelaatstrekke. Haar boesem is vol en stewig onder die lyne van die kantjapon.

“Is hulle hier, Otto?” vra sy, en dan: “Wat het met die hond aangegaan?” Sy wag nie op antwoorde nie. Toe sy vir Isidor soen, druk sy vlugtig sy kop teen haar vas. Met die fyn waarneming van een vrou teenoor ’n ander, merk Janetta hoe die selfbeheersing op die mooi gesig oomblikke lank krummel. Dis haar seun wat sy soen, dink Janetta met ’n bewoënheid wat dalk ’n nadraai van die skok kan wees.

“En is dit nou Janetta?” vra die vrou die onnodige vraag.

“Ja, maar nie ‘Dj’ nie, net ‘J’ soos in jenewer,” help Isidor.

“Of soos in jinne, maar sy’s mooi,” voeg Otto toe. “Net jammer jy kom hier aan in duisternis en met Kaptein se dinge.”

Die hond se dinge … wat ’n ligte afmaak van ’n potensieel dodelike aanval. Om alles te kroon, voeg Otto by: “Jy moes ook gedink het voor jy ’n fyn stadsnooi hier na die boendoe gebring het, Isidor.”

Wat ’n power verwelkoming, dink Janetta verwese. Oor die episode met die hond word geen verdere woord gepraat nie. Sy is maar bly dat sy verdere ophef gespaar bly.

Die een helfte van die tafel in die eetkamer is vir twee persone gedek, met ’n teenet bo-oor. Die olielamp staan nou in die middel van die tafel. “Die kos was darem in die lou-oond tot die krag afgegaan het,” sê Helena lusteloos en tog begaan dat die kos goed genoeg moet wees.

Dit voel vir Janetta asof sy haar eetlus vir ewig weggeskrik het. As sy maar ’n bietjie suikerwater kan vra. Isidor of sy pa behoort daaraan te dink, maar mans is seker nie so bedagsaam nie. Of liewer, nie alle mans nie. As dit haar pa was, sou hy … Gedagtig aan die fopspeen, knyp sy die gedagte net daar dood. Sy word deur Isidor begelei om die badkamer te besoek, en daarna sit sy beleef aan vir die lou hoender en rys, saam met tamatieslaai. Sy gooi ongemerk twee teelepels suiker in haar tee.

“Môre sal ek ’n lekker ete maak,” beloof die mooi vrou met die mat gesig. “Ek was nie seker hoe laat julle kom, en of julle al geëet het nie. Gewoonlik peusel Isidor so op die pad …” Sy spreek niemand in die besonder aan nie.

“Dis heerlik, dankie, mevrou,” kry Janetta amper haar heel eerste woorde sedert die aankoms uit. Wonder die vrou dalk hoekom sy so bleek en sprakeloos is? Want dat sy byna sieklik bleek is, het die badkamerspieël haar vertel. Gelukkig is die kers- en lamplig verhullend.

Daar word effens gesels. En tog lê daar oor alles ’n swye wat by alle woorde verby strek. Innerlike swye, uiterlike stilte. Sy mis musiek. Tuis is daar met etenstyd áltyd musiek op die agtergrond. Manskore, opera, klassieke kitaar. Janetta en veral Carola mag in hulle kamers luister waarna hulle wil, maar die binnehuis mag nie daarmee oordonder word nie. Hoe vas is hulle reëls, maar hoe vry ook. Sy sukkel om te sluk. Hierdie huis is doeltreffend en selfs duur ingerig, maar funksioneel. Die meubels is koud en formeel. Daar is niks wat jou roer, niks wat jou aanspreek nie. En baie skaduwees, vreemde skaduwees.

Ek moet in die bed kom, dink Janetta. Môre sal alles anders lyk. Ek is skoon oorstuur. Toe, sonder waarskuwing, begin sy huil. Sy moet geweet het dat die skrik sy tol sal eis. Hoe harder sy probeer stop, hoe dringender breek die warm leed deur.

Asof van ver, hoor sy ’n stem: “Dis die skrik. Die dêm Kaptein.”

Otto, die man met die donker borshare? Nee, dit was Isidor, want hy vervolg nou: “Vir wat het jy hom nie betyds vasgemaak of toegemaak nie, Otto? Jy’t tog geweet ons kom.”

En Otto, wat vaag antwoord: “So gevaarlik soos toestande deesdae is … veral wanneer die krag sonder rede afgaan …”

Janetta laat haar kamer toe voer, hoor hoe krane oopgedraai word sodat die water in die bad tuimel en spoel. Tasse verskyn rondom haar, haar eie bekende tasse. Die bedsprei word afgehaal en die beddegoed oopgevou. Sy kry ’n kers met vuurhoutjies, ook ’n flitslig, ingeval die krag af bly en sy in die nag badkamer toe wil gaan. “Hier is die nagte stikdonker,” sê die vrou, “behalwe as die maan skyn. Nie soos in die stad, waar daar altyd ’n mate van lig is nie.”

Dis nie nou die tyd om uit te vind waar sy vandaan kom nie. Ook nie om te wonder of die woorde ’n dieper betekenis het nie. Die vrou voeg tog troostend by: “Ons sit darem gewoonlik buiteligte aan.”

Toe Janetta twintig minute later, gloeiend van die bad en van Isidor se naggroet, in die bed lê en die kers doodblaas, sak ’n vermoeienis oor haar neer soos wat sy nog nooit ervaar het nie. Haar venster is ’n ligter vierkant teen die donker van die namiddernagtelike ure, en sy eien swart boomgestaltes buite op die werf. Iewers in die huis klink nog ’n stem, ’n voetstap, maar origens vloei haar gedagtes ineen tot ’n vae deurmekaarspul.

Slegs twee daarvan onderskei hulle duideliker as die res.

Ten eerste onthou sy dat die kwessie van haar groot skrik genoem is toe sy aan tafel begin huil het. Die vrou het niks uitgevra nie; dus moet sy wel weet hoe erg dit was. En tog het sy niks gedoen om dit te versag nie. Geen vraag, paaiende woord of kalmerende drankie, geen ondersoek of daar skrape en sere is nie. Tog het sy haar ander gasvroupligte nagekom: die bad, die bed.

Dan die tweede, ontstellender gedagte wat eintlik grens aan ’n vraag, ’n oorheersende drang om te weet: wat was die prikkel wat die hond aangespoor het om haar aan te val? Want dat daar ’n prikkel moes gewees het, daarvan is Janetta vas oortuig, selfs noudat die slaap en vergetelheid haar soos newels begin toevou.

En nog ’n gedagte, ontstellender: het Otto die hoofskakelaar afgesit? Om haar te oortuig dat ’n stadsmeisie nie in hierdie ongerief en selfs gevaar hoort nie en liefs so gou moontlik terug moet gaan?

Oorkant op die eiland

Подняться наверх