Читать книгу Lamplig teen die seile - Louisa du Toit - Страница 4

2

Оглавление

Hulle moet net ’n paar myl van die delwery af wees toe ’n perdekar uit daardie koers aangejaag kom. Jakob lei betyds die osse eenkant toe, want dis duidelik dat die kar nie sal uitwyk nie. Reg langs hulle hou die drywer die skuimbekkende perde in. Hy lyk verwaarloos met klere van verbleikte bruin ferweel, nerfaf stewels en stofgekoekte hare onder ’n gevlekte hoed. Hy dra ’n breë gordel met ’n jagmes daaraan.

“Going to New Rush?” roep hy in onbeskaafde Engels.

“Where else?” roep Kinnie terug, omdat sy beter in Engels is as Rudolf, en hy reeds te kenne gegee het dat sy hom daarmee te hulp sal moet kom. Sy het kleintyd Engelse speelmaats gehad, die Butler-kinders, en selfs met haar mindere skoling lees sy elke Engelse boek waarop sy die hand kan lê.

Die tye wanneer Josefien en Frikkie aangery was na ’n naburige plaas waar dalk ’n reisende skoolmeester was, moes Kinnie met die huis- of plaaswerk help. “Jy hoop seker om eendag met ’n Engelse lord te trou,” het Josefien eendag snedig gesê toe Kinnie weer met ’n Engelse boek sit wat die domineesvrou van die dorp vir haar geleen het.

“Dis ’n mooi storie,” was Kinnie se enigste verdediging.

“Thought you’re boors,” sê die vent nou, verbaas oor Kinnie se Engels. Sy blik gly brutaal oor haar.

“So we are,” antwoord sy parmantig. “Now make way, please.”

“Sê vir hom sy perde het dikkopperdesiekte,” sê Rudolf hard. Die geel skuim verklap.

“Toe maar,” antwoord sy, “hy sal self uitvind as die stomme goed dood neerslaan.”

“Whot’s he say?” wil die kêrel agterdogtig weet.

“Nothing,” antwoord Rudolf self, deeglik vies.

“What’s it like out there?” kan Kinnie tog nie help om te vra nie. Sy voel tant Lenie se onderskragende teenwoordigheid agter haar in die wakap, en verder is Rudolf en Jakob ’n soliede beskerming wat haar vrees vir die ruwe vreemdeling verdryf.

Die man lag roggelrig: “No damn bed of roses. Dysentery, filth, dust and flies. Bad water and scarcely any food. I’m all up with it.”

“We are not you. We are boors, remember,” sit sy hom hoogmoedig op sy plek.

“You pay yer money and you take yer choice,” snuif hy. Dan loer hy die volgepakte wakap binne. “Have you people a wee bite to share?”

“Hy bedel kos,” tolk Kinnie.

“Gee hom tog maar iets,” sug tant Lenie. “Anders maak hy ons nog dood daarvoor.” Sy gee ’n slopie met ’n stukkie koue vleis en twee vetkoeke aan vir Kinnie, wat dit weer vir Rudolf gee. Dié gooi dit sommer vir die vreemdeling, wat nie eers dankie sê voor hy in die slopie grou, ’n stuk vetkoek met sy tande afskeur en die peits lig om die halfdooie perde aan te spoor nie.

Hulle skommel nog verder in die skielike stilte waar net die swaar asems van die osse opklink, en die dowwe plof van hulle pote in die sand. “Josefien het gelieg,” sê tant Lenie eindelik. “Ons gaan ’n helhool tegemoet. Kyk hoe lyk hy, of die dood op sy hakke sit.”

“Dis wat elkeen daarvan maak,” troos Kinnie. Sy kan dit nie verdra dat die ander, veral Rudolf, skielik so mismoedig lyk nie.

“Soos boerdery,” stem Rudolf dankbaar saam. “Jy moet tye lank kan insit voor jy uitkry.”

“Ás jy uitkry,” herinner tant Lenie. In die platkappie, met die son van voor, wys elke plooitjie op haar gesig.

“Sy perde is sleg verniel,” kom Jakob met ’n nagedagte.

“Seker maar beter ek het toe nie ’n handperd saamgebring nie,” sê Rudolf.

“Veral ’n ongesoute een,” stem sy ma saam.

Die dag word lank, en die son begin reeds oorskuif toe Rudolf sielik regopper sit en sy hoed agtertoe stoot. “Kyk daar,” beduie hy met die sweepstok.

Kinnie dog eers hy gewaar ’n wildsbokkie. Maar dan sien sy, dynserig ver op ’n lae verhewenheid in die veld, die witterige skynsel teen die bleekblou lug. Dit moet Colesberg Kopje wees, waarvan Josefien geskryf het, die koppie wat so vinnig uitgekalwer is. Die eerste delwerye was teen die Vaalrivier, en daarna by Du Toits Pan. Maar Colesberg Kopje is die plek waar dit soos sneeu gelyk het ná die stormloop, van wit papiertjies wat kleims afpen, en wat nou glo New Rush heet.

“Dis die diekens,” sê Rudolf, ’n effense heserigheid in sy stem.

Hy is haastig om by Josefien te kom, dink Kinnie, sonder om haar blik van die toneel weg te vat. Dis soos ’n ver, vuil magneet wat trek en trek.

“Lyk soos ’n stuk muwwe brood,” som tant Lenie op, hand bo die oë in die kappie.

Rudolf antwoord nie. Kinnie sien dat sy hoed weer vorentoe geskuif is. Dan neem hy ’n besluit: “Kom ons maak eers ’n laaste staning. Die osse kan sommer in die juk lê en rus. Ons maak vuur en eet laat middagkos of vroeë aandkos, dan kom ons nie onklaar daar aan nie.” Vraend kyk hy na Kinnie, wat knik. Sy weet nou hy sien ook op teen die vreemde.

Die ekstra tyd bring meer gemoedsrus. Hulle kan gewoond raak aan die toneel daar voor, ’n vuil tentesee onder ’n stoflaag. Eindelik is alles weer weggepak, met die orige lewendige kole wat in ’n ysterpot onder die wa hang. “Om ’n vuurtjie daar oorkant aan die gang te kry,” het tant Lenie sorgsaam beduie.

Rudolf spoor die osse aan. Hulle is op die laaste skof, dis geen vergissing nie. Die witterige skynsel kruip al hoe nader.

“Sal daar dan plek vir ’n muis wees?” wonder tant Lenie. Sy is gewoond aan Werfkraal se ruim, koel kliphuis met die doekplafon en diep veranda reg rondom.

“Oom Klasie-hulle sou vir ons plek gehou het.” Rudolf is gespanne, dis duidelik. Hy is immers ’n seun van die veld, en hierdie gedrang is vir hom vreemd. “Maar Ma is reg, dis dalk net ’n muisgaatjie.”

“Dalk is daar nou meer plek by die, wat noem Josefien dit, Du Toits Pan?” sêvra Kinnie. Sy kan net dink hoe so ’n pan sal lyk, met vuil water, verwoeste riet, verjaagde watervoëls. Maar tog meer eenkant, wie weet? Vir die eerste keer wonder sy waar sy nou eintlik sal hoort: by die Viljees, of by die Meyers? Sal tant Lenie dalk aandring dat “Susanna” soos van ouds by hulle bly, omdat haar hulp daar nodiger is?

Dis moeilik om ’n eenling te wees. Sy sal eendag haar eie gesin maak, met ’n man wat haar liefhet en kinders wat mooi deur haar versorg word. Sy vind dit swaar om aan ’n ander man as Rudolf te dink, maar sy sal haar kan dwing om ’n vreemde man lief te kry. Gewoond raak is lief raak, dis al.

Asof tant Lenie Kinnie se laaste gedagtes kon lees, sê sy peinsend: “Ek hoop tog maar die Meyers los jou eers nog ’n rukkie by ons, kind.” Dan, na ’n rukkie, verklap sy iets wat Kinnie nooit geweet het nie: “Ek wou jou hoeka graag hou, daardie keer ná Jakob jou halfdood in die veld gekry het. Maar Klasie en Mynie het gesê bloed is bloed. Gelukkig het hulle my toegelaat om jou eers bietjie te versorg, ek het vir Jakob gestuur om veldskilpaaie te soek en ek het jou met flou skilpadsop gelawe, dis al wat ’n verswakte mens kan uitstaan.”

“Dankie, tant Lenie,” sê Kinnie opreg. Nou weet sy ten minste dat daar iemand op aarde is wat haar op ’n tyd graag wou gehad het.

Rudolf lag skielik, en dis goed om die klank te hoor. Hy was die hele tyd te ingedagte en somber. “Ma praat so ernstig soos een wat ’n testament maak.”

“Ja, wie weet, boetie. Dalk gooi hulle ’n oumens sommer in daardie gate wat hulle so grou.” Maar tant Lenie kry darem ook ’n grimmige lagtrekkie binne die kappie.

Hulle skommel die buitenste verspreide, eensame tentkampies binne; familiewaens met tente langsaan, en by elke staanplek lê ’n hoop witblouerige grond. Dis duidelik die klaar gesifte grond, nuttelose uitskot van die kosbare delwersgruis. Die meeste tentklappe is toegebind. Verwaarloosde honde blaf sonder drif. Almal is seker in die kleims, daar waar tente en skuilings digter op mekaar staan, die gedruis harder klink, die stof digter pak.

Kinnie kry die gevoel dat hulle ’n paar dowwe mieliepitte is wat langs die pad geval het. Te veel dae en nagte was hulle in die oop, rustige veld, met snags die maan en sterre bo hulle kampplek en soggens die môrester as die eerste vuurvlamme gesellig losspring.

Dis tant Lenie wat die vraag stel: “Boetie, dis nou goed en wel dat Klaas-hulle vir ons plek hou, maar hoe kry ons hulle in hierdie verdwaalspul?”

Die osse sak een-een op hulle knieë in die jukke neer terwyl Rudolf sy hoed vorentoe stoot solank hy oor die saak dink. “Dis een van twee dinge. Ek of Jakob gaan te voet soek, of ons trek met die wa so ver moontlik in die gewoel in. Jakob?” raadpleeg hy sy regterhand.

“Soek-soek bietjie dieperter in trek,” kies Jakob. Dalk is hy bang dat die een wat alleen gaan soek, vir altyd kan wegraak. Hy skud die sand uit sy deurgeloopte skoene en neem sy plek by die voorosse in terwyl hy mooi en sag hulle name roep, soos ’n bekende en strelende rympie, met spesiale liefkosing vir Donkerland met die seer poot.

Om te vorder met ’n yslike wa is nie so maklik nie. Voertuie van alle soorte, die meeste met ’n buik vol gruis, kruie heen en weer. Digter en digter word die see van tente, krotte en delwers. Almal se baard en hare is gekoek van stof, die hoede vuil, die klere verbleik. Tussenin is daar ook die tekens van mislukking: flarde van verwaaide, verwoeste tente, geroeste siwwe, verlate gate. Kinnie skuif al hoe verder vorentoe in die wakap om beter te kan sien.

Toe mans openlik staar en selfs op grondhope klim om haar te bekyk, besef sy egter dat vroue hier skaars moet wees, en dat sy haar afstand moet hou. Graag sou sy voor langs Rudolf wou sit, maar sy val liewer terug na haar plek langs tant Lenie.

Die onrustige osse beur harder in die los grond. Die stomme goed wat net aan die ooptes gewoond is, het nie die begrip van ’n menslike wese, om te weet wat aangaan nie. Agter die grondhope en walle raak die lawaai net al groter, en die geskud van tallose siwwe laat ’n fyn stofreën neersak. Kinnie dink vies dat sy maar ’n halfvuil drarok kon aangetrek en haar gewone vlegsel onder die kappie weggesteek het.

’n Groter plaag as stof en hitte blyk vlieë te wees. Die osse skud aaneen hulle swaar koppe, en die mense bly met hulle hande voor die gesig waai. Kinnie sien hoe die lastige goed swart saampak op arms vol skrape. Vaderdank, netnou sal dit sononder wees en die pestilensies sal padgee, tot môre … ’n “môre” wat tot nog toe geen gesig van sekerheid het nie.

Die dag begin skimmel, en almal wil skynbaar ’n laaste gelukkie soek voor dit skemer word. Oplaas moet Rudolf maar stilhou, reg binne die lawaai en gedrang. Krom straatjies vou oop, met besigheidsplekkies wat uithangborde van seil vertoon. Daar is selfs enkele welgeklede vroue, gehoed en gehandskoen, wat by winkeldeure in en uit gaan, en Kinnie dink daaraan dat sy vir die eerste keer in haar lewe bitter bly sal wees as sy maar net haar niggie Josefien kan sien.

Dis egter ’n verrassing van ’n ander aard toe Frikkie skielik by hulle is. Almal lag verheug, en hy klapsoen vir Kinnie toe hy sy hande om haar smal middel sit en haar afhelp. “Ons het verneem van die watrek van Colesberg,” vertel hy, “en met mooi uitvra het ons elke keer geweet waar julle nou is. Die een het julle hier gesien, die ander daar. Ek wou juis ’n ryding gaan kry en julle tegemoet ry … en hier kom julle tussen die grondhope deur oop en bloot aangesuiker.”

Nou is daar geen omdraai nie, dink Kinnie. Indien niks anders nie, is dit die moeë afwagting op Rudolf se gesig wat dit te kenne gee. Want waar Frikkie is, kan Josefien nie te ver wees nie, besitlike Josefien wat haar web opnuut om hom sal spin. En sy, Kinnie, sal terugglip in haar gewone rol van die niggie met die swygsame mond en gewillige hande.

Lamplig teen die seile

Подняться наверх