Читать книгу Die Pikkewouters van Amper-stamperland - Marié Heese - Страница 4
1. Besoek aan die Feeks
ОглавлениеEendag, lank, lank gelede, het daar in ’n ver land twee Pikkewouters gewoon. ’n Pikkewouter lyk amper soos ’n kabouter, maar ook ’n bietjie soos ’n pikkewyn. Die land waar hulle gewoon het se naam was Amper-Stamperland. Dinge daar is amper soos in hierdie land, maar nie heeltemal nie.
Hierdie twee Pikkewouters – hulle name was Pikketoos en Pokkelwyn – het saam in ’n huisie aan die rand van ’n groot meer gewoon. Dit was maar ’n klein huisie, want Pikkewouters is nie baie groot nie. Die rietdak was amper heeltemal toe onder die takke van ’n yslike wilderoosboom; elke somer was dit belaai met die fynste wit bloeisels, soos bolle-bolle seeskuim wat heerlik soet ruik.
Vroeg een môre sit Pikketoos op die stoep van die huisie en smul aan ’n vet toebroodjie, dik gesmeer met appelmoenkonfyt. Vinkvinkies gesels vriendelik in die wilderoosboom, die water van die meer lê blinkelinkend in die môreson en die lug is tintelfris soos borreltjies-koeldrank, maar Pikketoos weet niks daarvan nie. Sy voel vanmôre sommer omgekarring.
Pokkelwyn kom al rekkende-strekkende uitgestap. “Wat gaan ons vandag maak?” vra hy, terwyl hy ’n appelmoentoebroodjie van Pikketoos se bord af gaps.
Pikketoos kyk hom vies aan. “Seker maar wat ons elke dag maak,” sê sy nors. “Slakkelange vang.”
“Ja,” sê Pokkelwyn, “dis verskriklik soos die nare goed in die laaste tyd ons groente en vrugte opvreet. Ons sal naderhand niks meer vir die mark oorhê nie.”
“Die mark!” sê Pikketoos. “Ons self sal van die honger vergaan. Die slakkelange vreet die laaste tamartjie en appelmoen dat daar net die omgedopte skille van oorbly.”
“Ja, dis ’n skade,” sê Pokkelwyn mismoedig.
“O,” sê Pikketoos, “ek is al so moeg vir die gesukkel. Kan ons nie ’n plan maak nie? Miskien moet ons hier wegtrek. Dalk is daar êrens ’n plek waar daar nie slakkelange is nie.”
Pokkelwyn dink diep. Hy is self al moedeloos en sy rug is half af van al die buk-en-soek onder die tamartjie-bosse.
“Ek weet nie van so ’n plek nie,” sê hy naderhand. “As ons van een wis, kon ons sowaar getrek het. Ek kan dit ook nie meer hou nie.”
Skielik kry Pikketoos ’n idee. “Ons moet die Feeks gaan besoek,” roep sy uit. “Die Feeks sal weet!”
Pokkelwyn word bleek. Hy is maar bangerig vir die Feeks vandat sy eendag sy fiets in ’n brakkevarkie omgetower het toe hy haar wou koggel. Hy het nog nooit vergeet hoedat die brakkevarkie met hom op loop gesit het nie. Van toe af is hy baie, baie versigtig vir die Feeks. Maar hy wil nie vir Pikketoos laat agterkom dat hy bang is nie. Hy gee ’n paar droë slukke. “Goed,” sê hy dan. “Ons gaan besoek die Feeks. Maar ons gaan sáám.”
Pikketoos stem in. Sy is hoeka verveeld, en ’n rit in die pedonkiekar sal lekker wees.
Pokkelwyn gaan die kar haal, en nadat hy die pedonkie ingespan het, spring hy aan die een kant in en Pikketoos aan die ander kant, en daar trek die kar met die pedonkie vooraan – hoog-trap-kappitie-kap, op-skop-galoppitie-lop – teen ’n stywe pas in die pad af. Hulle skop so baie stof op dat die likke- dissies wat in die klippers langs die pad woon, nog tot laataand daarvan nies.
Aan Pokkelwyn se kant lê die kar ’n bietjie laer op sy vere, want Pikketoos is heelwat ligter as hy. Pokkelwyn is, om die waarheid te sê, bietjie van ’n plompel-dompel, veral as ’n mens hom van agter af bekyk.
Dis ’n heerlike dag, ’n dag vir lê en niks doen onder die wilderoosboom; dis ’n blommetjies-pluk-dag, miskien selfs ’n entjie-langs-die-pad-stap-dag (net ’n kort entjie; Pokkelwyn is nie ’n stapper nie). Maar dis nie ’n kuier-by-die-Feeks-dag nie. Dit voel Pokkelwyn al hoe sterker aan, hoe verder hulle ry.
Hulle steur hulle te veel aan die ou slakkelange – dis nie regtig so erg nie. Is dit dan nou nodig om te gaan moeilikheid soek! Hoe nader hulle aan die Feeks se pondok kom, hoe meer voel Pokkelwyn se maag asof hy ’n slegte appelmoen geëet het.
Langs hom wip Pikketoos skielik op en af op die bankie. “Dink net hoe lekker,” sê sy, “as ons van die ellendige slakkelange ontslae kan raak!” Sy lyk só gelukkig, net van die dink daaraan, dat Pokkelwyn te jammer is om te sê hy wil nie meer gaan nie. Buitendien, dink hy by homself, Pikkewouters is taai, en hy gaan hom nie laat jelliebene skrik van ’n simpele ou Feeks nie.
Sodat hy nie moet moed verloor nie, begin Pokkelwyn sommer die ou Pikkewouter-aanstapliedjie sing:
“O, ek is ’n Pikkewouter,
En al word ek al hoe outer,
En die wêreld al hoe kouter,
op ’n dag soos vandag
Staan ek op en ek lag
En ek sing en ek spring en ek klouter!”
Hierdie liedjie laat altyd vir Pokkelwyn baie dapper voel, hoewel hy gewoonlik net sing, en die spring- en kloutergedeeltes aan Pikketoos oorlaat.
Net toe rammel hulle om ’n draai en daar onder ’n doringboom gewaar hulle die Feeks se pondok. Op daardie oomblik gaan die pedonkie botstil staan in die middel van die pad – viervoet steek hy vas in die stof. Pikketoos se hoed gly af tot op haar neus, en as Pokkelwyn nie baie skielik aan die bankie vasgeklou het nie, sou hy sowaar op die pedonkie se rug beland het. Hy sê ’n baie lelike woord. Hard klap hy met die leisels op die pedonkie se rug. Pikketoos praat mooi aan sy linkersy. Al wat ry, is die pedonkiekar.
Pokkelwyn klim af en probeer die pedonkie van voor af lei, maar nee. Hy vervies hom naderhand. “Ag wat,” sê hy, “pedonkies is onnosel, dis al. Ons sal maar moet stap.”
Hand in hand stap die twee nader, taamlik versigtig. Die Feeks se pondok is klein, nogal netjies, maar vreeslik toegegroei van die plante. En dis nie mooi plante nie, niks wilderose, katjieliefies of bloeiselbekkies nie. Nee, al wat daar groei, is die grote doringboom en bosse-bosse krapranke.
Pokkelwyn voel nou glad nie meer so dapper nie. Hy het gedink hulle sal al singende met ’n vaart tot vlak voor die Feeks se pondok ry, en dan sal hy vinnig afspring en hard op die deur klop om te wys dat hulle nie bang is nie. Maar hy het nie met die ellendige pedonkie rekening gehou nie, en nou moet hy voetslaan soos ’n brakkevark met ’n seer poot.
Meteens kry Pokkelwyn die gevoel dat iemand hom beloer. Hy kyk na die klein, toe venstertjies van die Feeks se pondok waar hulle soos kwaai oë agter die donker blare van die kraprank uitloer. In die skemerte agter die glas gewaar hy die bleek gesig van die Feeks! Wie weet hoe lank hou sy hulle al dop? Sy het seker gesien hoe die pedonkie met hulle gaan staan het. Dit lyk asof sy vir hulle lag.
Pokkelwyn word sommer boos by die gedagte dat die Feeks vir hom, een van die taai Pikkewouters, kan staan en lag. Hy maak vuis en hamer eintlik teen die pondok se deur.
Só skielik vlieg dit oop dat hy hik soos hy skrik. Hoe het die Feeks so vinnig van die venster af by die deur gekom? Hy het ook al vergeet hoe naar sy lyk. Haar hare is so ’n dooie geelwit kleur, amper dieselfde kleur as haar bleek vel, en haar oë is so ’n uitgewaste blou dat hulle ook byna wit lyk. Sy laat hom dink aan iets wat in die donker gegroei het. Hy gril.
“En wat kan ek vir julle doen, my hartjies?” vra die Feeks ewe vriendelik. Sy maak asof sy glad nie raak sien hoe hulle geskrik het nie. “Kom binne – kom binne – kom binne! Dis nie aldag dat die Feeks besoek kry van twee Pikkewouters nie!” Hoekom weet hy nie, maar die Feeks se vriendelikheid maak vir Pokkelwyn nog ongemakliker as wat hy sou gewees het as sy stuurs was.
Tog! Hulle het so ver gekom – en Pikketoos reken op hom. Hy sal maar sy moed bymekaarskraap. “Dag, Feeks,” sê hy, en wens sy stem wil nie so petieterig klink nie. Hy hoes. “Ons het gekom …” Hierdie keer kom sy stem verspot diep uit, maar hy druk deur. “Ons het gekom om ’n guns te vra.”
Die Feeks se vet liggaam skud soos sy lag, maar daar kom geen geluid uit nie. Pikketoos dink dit lyk tog alte naar. “’n Guns, nè! Van die Feeks, nè! Ons sal moet sien wat ons kan doen. Maar eers moet julle inkom en ’n ietsie eet en drink.” Sy hou die deur van die pondok wyd oop. Pikketoos en Pokkelwyn loer in. Alles binne-in is groen – nie die mooi donker groen van ’n wilderoosboom voor die blomme bot nie, ook nie die heldergroen van die gras wat langs die meer groei nie. Dis die verbleikte, gelerige groen van gras waarop ’n klip gelê het, sodat die son nie daarby kon kom nie. Dit pas by die Feeks, dink Pikketoos, maar mooi is dit nie.
Pikketoos en Pokkelwyn kyk na mekaar. Hulle het gekom om ’n guns te vra. Dit sal nou baie ongeskik lyk as hulle sê hulle wil nie inkom nie.
“Dankie,” sê Pokkelwyn styf. Hy hou Pikketoos se hand vas en die twee stap binne.
“Sit,” sê die Feeks. “Ek bring gou vir ons iets.” Sy loop al wiggelend-waggelend na haar kombuis toe. Pokkelwyn voel seker dat sy weer so stil-stil lag, maar hy kan nie sien nie. Die sweet slaan op sy voorkop uit.
Hulle sit doodstil, sonder om ’n woord te sê. Pikketoos loer bangerig rond, maar sien g’n van die nare goed wat die Feeks volgens die stories in haar huis aanhou nie. Daar staan wel ’n kas in die hoek waarin daar dalk enigiets weggesteek kan wees – miskien selfs Pikkewouter-gebeentes! Amper staan Pikketoos op om weg te hardloop, maar Pokkelwyn sit soos een wat wortelgeskiet het, en net toe kom die Feeks terug. Sy dra ’n skinkbord met drie glase en drie bordjies. In die glase is ’n geelwit vloeistof wat amper soos melk lyk, en op die bordjies is groen koekies. Die Feeks hou die skinkbord voor hulle.
Pikketoos skud bang haar kop. “N … nee dankie, maar ek het vanmôre baie toebrode geëet – regtig baie – ek is nie honger nie.”
Die Feeks hou die skinkbord voor Pokkelwyn. Hy is natuurlik ’n groot eter, eintlik ’n lekkerbek, maar wie weet wat die Feeks nie dalk alles eet nie? Wat sou daardie melkerige goed wees – en die koekies! Hy het nog nooit groen koekies gesien nie.
Skielik kyk hy op in die bleek oë van die Feeks. Sy lag al weer so binne-in. Sy kan skaars die skinkbord vashou soos sy skud. Hy vervies hom dat sy so vir hom staan en lag.
Hy byt op sy tande en steek sy hande uit om ’n glas en ’n bord te neem. Die Feeks sit die skinkbord neer, neem vir haarself en gaan sit. Sy hou vir Pokkelwyn dop. Goed, dink hy. As hy móét eet om iets hier reg te kry, dan sal hy eet. Daar word vreeslike stories vertel van wat die Feeks alles in haar kos sit. Sy weet seker van die stories. Maar al is dit ook wát, vandag gaan hy EET. Hy gee ’n groot hap uit die koekie en neem ’n sluk van die melk. Raai, dit proe nie veel anders as die koekies en melk wat hulle by die huis eet nie. Miskien kry hy donkie-ore daarvan, maar dit smaak nie sleg nie. Hy eet die koekie vinnig op en drink die glas leeg.
Die Feeks knik ’n paar keer en drink hare ook leeg. Toe eet sy die laaste krummels van die koekie. “Nou goed,” sê sy uiteindelik. “Wat kan ek vir julle doen?”
“Ons plant groente en vrugte vir die mark,” sê Pokkelwyn, “meestal tamartjies en appelmoene. Maar die slakkelange roei alles uit. Hulle verrinneweer ons tuin. Ons kan nie byhou nie. Nou het ons gedink … ons het gedink … miskien is daar ’n plek waar daar nie slakkelange is nie. As daar so ’n plek is, wil ons soontoe trek. Maar ons weet nie van so ’n plek nie.”
Die Feeks sit hulle ’n lang tyd só en kyk. “Daar is so ’n plek,” sê sy op die ou end. “Ek weet van ’n plek waar daar nie slakkelange is nie.”
“Waar … waar?” vra Pikketoos opgewonde. Die Feeks kry weer so ’n wegsteek-laggie in haar bleek oë. “O, ver, ver hiervandaan,” sê sy. “Dis baie moeilik om daar uit te kom.”
“Sê net hoe, en waar,” sê Pikketoos. “Ons sal ’n plan maak.”
“Ek weet net dat daar so ’n plek is,” sê die Feeks. “Ek weet nie hoe om daar te kom nie.”
Pikketoos wil sommer huil van teleurstelling en viesheid.
“Luister,” sê die Feeks. “Die plek is ’n geheim. Daar is drie bewaarders van die geheim. Julle moet by húlle uitvind hoe ’n mens daar kom.”
“Wie is hulle?” vra Pokkelwyn.
“Een is die Koggeljaan, wat in die berge woon,” sê die Feeks. “Die tweede is die ou, ou Spinnelak. Hy woon in die grootste boom in Amper-Stamperland. En die derde een is die Krokkenoster. Hy woon aan die onderent van die rivier, waar dit in die see uitloop.”
Pikketoos en Pokkelwyn voel lam, kompleet asof hulle kraprank-gif ingekry het. Die Koggeljaan, die Spinnelak en die Krokkenoster! Hulle het al van dié drie gediertes gehoor, maar hulle dag dis sommer stories.
“O, dis nie sommer stories nie,” sê die Feeks asof sy kan hoor wat hulle dink. “O nee, daar is regtig sulke goed. En hulle bewaar die geheim van die ver plek waar daar nie ... nie slakkelange is nie.”
Nou lyk die Feeks doodernstig, maar Pokkelwyn voel nog steeds asof sy vir hom lag. Hy kan dit nie verdra nie. “Nou ja,” sê hy beslis, “dan sal ons maar die drie bewaarders van die geheim moet gaan soek.”
Pikketoos gaap hom aan. Dis nie die Pokkelwyn wat sy´ ken nie! Die Pokkelwyn wat sy´ ken, vat nie eens graag aan ’n slakkelang nie, hy gril daarvoor. En hy is bang vir die donker, hoewel hy dink dat sy dit nie weet nie, en hy loop nie graag ’n tree verder as wat hy moet nie. En hier sien by sowaar kans om die Koggeljaan en die Spinnelak EN die Krokkenoster te gaan soek! Maar miskien sê hy dit net om vir die Feeks te laat dink dat hy baie dapper is. Sy sal haar ook maar dapper hou.
“Goed, ons gaan,” beaam sy met ’n klein stemmetjie. Sy staan op en Pokkelwyn kom saam deur se kant toe.
Die Feeks kom al skud-skud van die lag saam. Vinnig loop Pokkelwyn en Pikketoos terug na waar die pedonkie nog ewe droewig in die stof staan. Hy swaai sy stert en skud sy kop om die vlieë weg te hou. Stil klim die twee in die kar. Pokkelwyn laat die pedonkie draai en hulle begin huis toe ry.
“Pokkelwyn,” sê Pikketoos ná ’n lang stilte, “ons sal nie regtig gaan nie, sal ons?”
Pokkelwyn kyk voor hom in die pad. “Weet jy, Pikketoos,” sê hy, “ek wil gaan. Daardie Feeks het die hele tyd vir ons gelag. Sy dink ons is bangbroeke. Sy dink ons sal te pap wees om die geheim te probeer soek. Ek is moeg daarvoor om met slakkelange te sukkel, en ek laat my nie van die Feeks uitlag nie. Ek gaan.”
“Dan gaan ek saam,” sê Pikketoos beslis. “Alleen sal jy honger ly – ek moet tog altyd vir die kos sorg – en ek gaan nie alleen met die slakkelange sukkel nie!”
Die twee kyk mekaar aan. Albei is verbaas, nie een het dit van die ander verwag nie. Maar hulle voel nogal opgewonde.
“Eers moet ons huis toe gaan,” sê Pokkelwyn, “om reg te maak. Maar môre val ons in die pad!” Hy klap kerplaks! met die leisels op die pedonkie se rug en dié begin skielik met ’n vaart te galop: lop, loppitie, lop! Die likkedissies in die klippers langs die pad duik vinnig in hulle gate weg.
Een kleintjie het nie vir sy mamma geluister nie, toe kry hy so ’n neus vol stof dat hy ’n week lank hooikoors had; maar hy het darem iets gesien waarvan hy later vir sy agter-kleinlikkedissies kon vertel: Pikketoos en Pokkelwyn op die vooraand van hulle groot avontuur!