’n Dekade of wat gelede het Marita van der Vyver soos ’n wafferse prinses van ’n verre land deur Frankryk gereis en ’n vreeslik verleidelike padda leer ken. Omdat sy so graag in sprokies wil glo, het sy gehoop dat as sy hierdie slim padda soen, hy in ’n prins gaan verander. Dis mos hoe sprokies werk. En wat gebeur toe? Saam met haar prins sit sy huis op in ’n Franse dorpie. Hulle gaan woon in ’n ou kliphuis in Rue de l’église – Kerkstraat. Dáároor skryf sy in In die hart van ons huis. En wat gebeur nou? Hulle trek. En nie waarheen nie . . . Na ’n plek wat bekend staan as Plek van die Paddas. ’n Fontein voor ons deur is ’n reeks stories oor ’n verhuising – ’n Franse verhuising! Maar dit is dan eintlik stories oor dit wat die hart vasmaak aan ’n huis en sy mense; ook dit waarvan jy jou moet losmaak as jy verhuis. En daardie dinge wat altyd met jou saamtrek. Een ding is seker: Of dit nou in Kerkstraat of Paddastraat is, soos Marita van der Vyver dit sien, bly die lewe ’n fontein bruisend met verrassings.
Оглавление
Marita van der Vyver. 'n Fontein voor ons deur
’n Boek is ’n boek is ’n boek?
Meneer A Vendre
Leë nes? Wat’s dit?
Vere en klere en ander klagtes
O Krisis!
Weergaloos
Die mis in Krismis
Onnutsigheid
Iets oor ipekonders
Plek van die paddas
Raad van ’n romantiese ma
Vat jou goed . .
Kerkstraat, die movie
’n Kasteel in Afrika
Trekkerswee
Wat is ’n huis . . . ?
Werfsondes
Om te oorleef
Ons wag op die fontein
Einde goed . .
Отрывок из книги
’N FONTEIN
VOOR ONS DEUR
.....
Gelukkig het hy die situasie onder beheer gekry, want ons het bitter lank gewag vir die brandweer. Trouens, ons het al begin om ons aandmaal te eet, flou van die honger ná die groot skrik, toe drie brandweermanne oplaas by die voordeur instrompel en iets soos Ouêfeah! skreeu. Of dalk was hulle vroue. Ek sal nie weet nie, want hulle was geklee in geslaglose ruimtevaarderpakke met diepseeduikmaskers en suurstoftenks op die rug. Die maskers het dit onmoontlik gemaak om te verstaan wat hulle sê, maar ons het heelwat later uitgewerk dit was seker: Où est le feu? Hulle wou waarskynlik net weet waar is die brand. Wat toe natuurlik lankal geblus is.
Brandweermanne, soos skoorsteenveërs, is helaas ook nie meer wat hulle in die rolprente van my kinderdae was nie. Ek dog hulle gryp bloot hulle blinkrooi jasse en gly so rats soos sjimpansees teen ’n paal af tot in ’n wagtende brandweerwa. Nooit besef hulle dra deesdae sulke swaar beskermende uitrustings dat hulle omtrent nie kan stap nie, wat nog te sê van teen ’n paal afgly. G’n wonder ons het so lank gewag nie. Die hele Frankryk kan afbrand terwyl ’n Franse brandweerman sy ruimtevaarderpak en sy masker en sy helm en sy suurstoftenk en al sy ander toerusting bymekaarkry.