Читать книгу Die sneeuslaper - Marlene van Niekerk - Страница 3

Die swanefluisteraar

Оглавление

’n Intreerede

Geagte Rektor, Dekaan, kollegas, vriende en familie,*

Wat doseer ’n mens as jy ’n dosent is van Skeppende Skryfkunde? Gaan dit oor die ware, oor die goeie of oor die skone? Betref dit kritiek of fantasie of geloof? Wat is die nut van die letterkunde, die waarde daarvan op die groot doek van menslike inspanninge? En miskien moet ek vra: Is ’n verhaal iets wat ’n mens kan troos?

Ek wil nie voorgee dat ek op hierdie vrae die antwoorde het nie. Wat ek met u wil deel vanaand, is ’n ervaring waardeur hierdie soort vraag vir my ontersaaklik geword het. Dit betref ’n briefwisseling wat ek met ’n student gehad het – ek noem hom Kasper Olwagen – of liewer, ’n korrespondensie wat hy met my gehad het, want ek het nooit teruggeskryf nie.

Miskien, het ek gedink, sal hierdie hele episode vir my duidelik word as ek die volgorde van my student se vreemde posstukke en my reaksies daarop noukeurig rekonstrueer; meer nog, as ek dit doen voor ’n kritiese gehoor.

Die uurglas loop leeg, oordeel self. Ek lê die bewyse aan u voor.[1]

Die eerste stuk wat ek van Kasper in my posbus gekry het, was ’n brief, as ’n mens dit ’n brief kan noem. Sewe-en-sestig bladsye. Ek lees vir u die eerste paragraaf sodat u ’n idee kan kry van waarmee ek te doene gehad het.

Bed B

Saal 1002

Intensiewe Sorgeenheid

Academisch Medisch Centrum

Amsterdam

24 Februarie 2002

Beste professor Van Niekerk

Soos u kan aflei uit die adres, skryf ek aan u vanuit ’n situasie van persoonlike krisis. Lyntjiespapier, lekkende balpunt, infuus in my handrug, kateter in my lelie. Ek weet seker dat so ’n brief, na al die jare wat u my gortdroë manuskripte moes lees, die laaste ding is wat u van my verwag. Ek weet ook dat u u skryfstudente by voorkeur op ’n afstand hou, omdat u in elk geval voortdurend hulle saai en kwalik verhulde ontboeseminge moet lees. Nie dat u ooit in al die jare van my studie so iets van my hoef te gevrees het nie, maar die uur van waarheid (tempus fugit!) het nou aangebreek. Ek ken u goed genoeg om te weet dat ek u nie sal verveel met wat ek op die hart het nie. Maar, soos u altyd sê, geen begeerte sonder tegniek, alle waarheid moet gebring word. Daarom sal ek – so goed en so sleg as wat hierdie genre van spontane mededeling genaamd “brief” dit toelaat – die vermanings in gedagte hou wat u altyd in u weerhaakskrif op my manuskripte neergepen het. Cut to the chase, Kasper! Maak korter sinne, Olwagen! Suggereer, moenie interpreteer nie, stick to the knitting, oriënteer jou leser in tyd en ruimte, lieg, maar moenie bedrieg nie!

Teen laasgenoemde, teen ’n aanklag van bedrog, wil ek my by voorbaat verweer. Hoewel ek pas drie dae gelede bygekom het uit wat die verpleegkundiges hier as ’n “lallende delirium” beskryf, en nog steeds vir waarneming in die intensiewe sorgeenheid gehou word, het ek konkrete bewyse dat ek nie gedroom het wat met my gebeur het nie. Ek is in die besit van die jas, die skoene, miskien die tong van iemand anders, maar laat ek u nie op die verkeerde spoor bring nie. Ek verseker u dat ek tans nie die energie het om wolhaarstories te fabriseer nie.Trouens, as my wedervaringe in Amsterdam van enige nut was, dan was dit om my te genees van my ambisie om fiksie te skryf. Hiermee gee ek dan ook kennis: ek staak die kursus. Jammer oor u kosbare tyd. Maar mag ek voorstel dat u hierdie skrywe sien as ’n vorm van skadevergoeding? Dit sal my naamlik nie verbaas as u my relaas wil aanwend vir die een of ander van u duistere doeleindes nie.

*

Kasper Olwagen – so sal ek hom noem – was dertig jaar oud toe hy hierdie brief geskryf het, reeds afgestudeer in die filosofie. ’n Skraal, bleek vent met intense oë, ’n hoë voorkop, ’n gevoelige mond. Goed versorg, sy hande veral, ’n huid gevoelig vir son en koue. Daar was iets tentatiefs aan sy bewegings, sy neusvleuels was die hele tyd in beweging asof hy die lug op die ligste sweme takseer. Hy het die indruk gewek van breekbaarheid. Sy bynaam onder sy klasmaats was Meneer Xenos. Hy was intelligent, obsessief, menssku, ’n boekwurm wat effens gelispel het wanneer hy senuagtig of opgewonde was. Daar was iets ouwêrelds aan sy manier. Vir afsprake het hy ’n onderbaadjie gedra, ’n donkerrooi strikdas, sy vulpen in die binnesak van sy baadjie. Ek onthou hoe hy dit altyd uitgehaal het om ’n nota te maak in sy klein swart boekie, talmend, asof hy eers aan sy hart wou raak.

Op my aanbeveling het Meneer Xenos in die jaar 2001/2002 tydens die plaaslike somerreses drie maande lank in die buite-land deurgebring. Ek het toevallig gehoor van ’n beurs van die Stichting Literaire Activiteiten Moederstad – moederstad synde Amsterdam – ’n beurs en ’n woning beskikbaar vir ’n jong ongepubliseerde skrywer uit Suid-Afrika. Ek het gedink dis net die ding vir hierdie kandidaat. Blootstelling aan ’n stimulerende omgewing, en, daarby, druk van sy Nederlandse gashere om iets tot stand te bring. Druk van my kant af het in ieder geval geblyk volledig teenproduktief te wees. Hy was naamlik een van die studente wat maar steeds nie sy skryfprojek vir die MA-kursus kon voltooi nie, gehinder soos hy was deur langdurige skryfblokkasies. Ek het geraai dat dit ’n kwessie was van oorgevoeligheid vir kritiek, vervreemdheid van sy leeftydsgroep, verwarring oor die Suid-Afrikaanse werklikheid, perfeksionisme, ipekonders. Hy het gely aan wat hy genoem het ’n “murmurende hart” – eerder onderdrukte libido, het ek destyds vermoed. Maar na wat met hom gebeur het, lyk my projeksies misplaas. Met hom was daar iets gaande wat buite my bevattingsvermoë lê.

Die dag toe ek die brief gekry het, het ek net hierdie eerste twee paragrawe gelees en dit opsy gesit. Ek self het toe nog fiksie geskryf, was in die laaste pylvak met ’n roman, die voorfinale hersiening, rondom my die gebruiklike chaos van daardie stadium in die skryfproses – bevrore maaltye van Nice and Easy, ongewaste skottelgoed, ’n muis in die kombuis, eekhorings op die plafon, ’n oorwoekerde tuin, inflammasie in my pols van die ander muis – ek het eenvoudig nie die nut daarvan gesien om verder tyd te bestee aan ’n probleemstudent wat wil staak nie. Waarom het ek hom nie probeer oortuig om sy besluit te heroorweeg nie? Wel, ek was moeg van sukkel met Kasper Olwagen. In die vyf jaar dat hy ingeskryf was, het hy sy werk altyd laat ingelewer, oorgedetailleerde stukke, vol inligting en toeligting waarin absoluut niks gebeur het nie. “Gebruiksaanwysings!” het ek altyd op sy werk geskryf, “Skrap onnodige besonderhede.” Sy ander probleem was diepsinnigheid. Dikwels het hy die kernvraag van die etiek behandel: Wat is ’n goeie mens, hoe moet ’n goeie mens lewe? Maar dan altyd in die vorm van onverteerbare allegorieë. By elkeen van sy moralistiese sinnebeelde het ek in die kantlyn geskryf: “Skrap die idees.” Hy kon maar steeds nie ’n verhaalmatige versoening vind tussen besonderhede en betekenis nie. Kasper Olwagen is ’n filosoof, het ek gedink, nie ’n skrywer nie.

Maar goed, hier was dan nou ’n brief uit Amsterdam, met ’n eerste paragraaf wat popel van aptytwekkers. Hoekom het ek nie verder gelees nie? Wel, ek was besig. Ek het ’n kaartjie in die pos gegooi: “Spoedige beterskap, dankie vir jou vermaaklike brief, ek teken jou af by die administrasie. Vriendelike groete.”

Twee weke later het die brief weer onder ’n stapel papiere te voorskyn gekom, en ek het gedink, laat ek liewer hierdie dokument op lêer bewaar, mens weet nooit. En dis toe ek gate daarin pons dat my oog val op die volgende paragraaf. Ek was geïrriteer daardeur, sulke vrypostigheid vind ek onaanvaarbaar van ’n student. Luister net hierna.

Professor, ek verstaan nog nie alles wat met my gebeur het in hierdie stad nie; trouens, dit is nog steeds aan die gebeur. Ek is verbysterd soos ek hier in my hospitaalbed lê, en ek glo dat u ook verbysterd sal wees wanneer u aan die einde van hierdie brief kom, selfs al is u werksaam aan ’n institusie van hoër onderwys waar daar vir verbystering, vir vrees en fassinasie, vir ootmoed en ontsag as menslike moontlikhede, geen ruimte meer bestaan nie. Oor ’n maand keer ek terug na Suid-Afrika. By wie anders as u sou ek kon bieg oor die voorgevoel wat ek het oor my lot? Soos u weet, is ek ’n alleenloper. Alleenloper! Hoe twyfelagtig is hierdie begrip nie! Niemand is alleen nie, ’n onsigbare lint verbind ons almal en dit is net ’n kwessie van tyd voordat ons teenoor mekaar te staan kom en vra: maar ken ek jou nie van iewers vandaan nie? Toegegee, my verhouding tot u skyn daar geensins ’n voorbeeld van nie, professor. Maar mag ek tog sê dat ek u, in weerwil van u voorskriftelikheid en u afsydigheid, nog altyd as ’n soort moeder ervaar het, al loop u nie eintlik oor van die melk van medemenslikheid nie? Dit daar gelaat. Nie al u studente voel oor u soos ek nie, kan ek u verseker. Maar laat ek tot die punt kom.

Punt, watter punt, het ek gedink en verder geblaai. Drie geskrapte bladsye, elke reël versigtig deurgestreep sodat ’n mens nog alles kon lees. Toe lees ek dit natuurlik. ’n Allernoukeurigste beskrywing van die woonplek in Amsterdam wat ek vir hom help bemiddel het. Gebruiksaanwysings, het ek gedink. Ek gee net die essensie.

’n Skrywersparadys was dit. Selfs hier waar ek in die waakeenheid lê, in die sorg van Nederlandse verpleegpersoneel, kan ek my dit nog helder voorstel. Sou ek dit nog terugvind, met al my goed, soos wat ek dit agtergelaat het, skynbaar ’n ewigheid gelede? ’n Woonstel op die vierde verdieping, vlak by die Amsterdamse hawe aan die bopunt van die Geldersekade. Drie dubbele ruitjiesvensters in die woonkamer. Ou dik glas, effens verkleur, vol lugborreltjies en kwinte. Na die noordekant, ’n uitsig op die sewentiende-eeuse gewelwerk van die kade. Aan die oostekant, die eertydse dokke, waar twee heldergeel hyskrane gedurig boumateriaal aan die hys en neerlaat was. Met my verkyker (neem altyd ’n verkyker saam, het u gesê) kon ek op die kraanmaste die naam Liebherr uitmaak. Daar was twee werktafels, soos u my laat spesifiseer het op die aansoekvorm, een vir prosa teen die muur waar die rekenaar gestaan het en een vir pöesie voor die venster. Daar was twee slaapkamers, ’n klein kajuit op die onderste verdieping, met ’n uitsig op die agterkant van die Sint Nicolaaskerk, en ’n grote op die boonste verdieping. Maar ek kon geen woord geskryf kry nie.

Dit was die bekende Olwagen-refrein. Ek het die lêer se penne deur die ponsgate in die brief gewrik, die klem vasgeklik. Na alle tromgeroffel in die openingsparagraaf, niks buitengewoons nie, ’n ruimtebeskrywing. En verbysterd? Waaroor sou hy verbysterd wees? Seker oor die enorme onverdiende voorreg om gratis en verniet drie maande lank in so ’n plek te woon. En dan kry hy homself opgeneem in die waakeenheid, welseker nie as gevolg van tremendum et fascinans nie maar as gevolg van niksdoen. Ek was kwaad, al die vorms en getuigskrifte en spesiale woordjies by my kollegas in Amsterdam om hierdie student ’n kans te gee, en dan gaan verspil hy dit. Ek het die pas geliasseerde brief van Kasper Olwagen uit die lêer geruk en dit in ’n laai geprop by die verkeersboetes, rekeninge en aanmanings.

Agt maande later, terwyl ek besig was om die vertaling van my roman te hersien, het ek ’n kennisgewing van die poskantoor gekry dat daar ’n pakkie vir my aangekom het. Plaaslik, het ek op die strokie gesien. Kon nie dringend wees nie. Kasper, het ek geweet, was ondertussen terug in die land, die universiteitsadministrasie het my laat weet dat hy in den lywe kom deregistreer het. Ek het gewonder wat van hom geword het, maar waarom sou ek my verder bemoei met Meneer Xenos? Hy het nie eens die ordentlikheid gehad om my te kom groet, homself te verantwoord nie. Ek het die pakkie eers afgehaal ’n week nadat die derde en finale kennisgewing gekom het. Ek onthou die dag toe ek dit gaan haal het in Die Boord se poskantoor. My pakkette, meestal van die uitgewers, is altyd professioneel verpak, met gedrukte adresbiljette. Nie hierdie een nie. Dit was toegedraai in bruinpapier, vasgebind met ’n vierkwartslag wit goiingtou en ’n klont rooi lak op die strik agter. Ek het die vulpenskrif dadelik herken. Ek het geswets. Toe ek dit oopmaak in die kombuis, het daar ’n klomp klankkassette om my voete neergekletter. Sestien TDK-kassette van sestig minute lank. En verder, ja, niks minder nie as die dummy van my toe reeds verskene roman. Ek het dit as gelukbringer aan Kasper gegee, die dag van sy vertrek na Amsterdam. ’n Handige wit modelboek, stewig gebind, twee-honderd-en-vyftig bladsye, die maksimum aantal bladsye vir ’n roman. Voorin het ek geskryf: “Aan Kasper, vir jou ingewings, vir die briewe wat die gode in die strate laat val.” Raar het hy my aangekyk nadat hy daardie inskripsie gelees het, sy hand hier op sy hart, sy neusvleuels in beweging, asof ek hom iets met ’n klankie aan in die hand gestop het.

Daar was ’n nota in die pakkie:

Beste professor Van Niekerk. Die hart bewaar sy verdriet, hier soos in Amsterdam. Ek sluit vir u ’n paar monsters in. Miskien vind u dit vermaaklik om te sien wat van u spookboek geword het, nogal gepas, vind ek; ek noem dit Die logboek van ’n swanefluisteraar (sien my brief vroeër vanjaar uit die universiteitshospitaal). Die inhoud van die geluidsbande behoort u nog meer vermaaklik te vind. Dit stel nog minder voor. Alle besonderhede is geskrap, alle idees is geskrap. Vaarwel aan die wêreld van wil en voorstelling. Vriendelike groete. Kasper.

Ek het die kassette onder my voete weggeskop op die kombuisvloer, die nota weer gelees. Swanefluisteraar? Wat in vadersnaam was ’n swanefluisteraar? Van ’n perdefluisteraar het ek al gehoor, maar ’n swanefluisteraar? Ek het kennelik nie genoeg gelees van Kasper se godvergete brief nie.

Ek het die res van die bruinpapier afgeruk, my modelboek oopgemaak. Goed die helfte daarvan was volgeskryf. Ek moes my bril gaan haal, dit was klein geskryf in Olwagen se kenmerkende vulpenskrif, ellelange tabelle, kolomme met hofies: plek, tyd, en handeling,’n strikte chronologie van datums in die rye, 11 Desember 2001 tot 15 Januarie 2002. Onder “plek” was meestal ingeskryf die een of ander brug in die gragtegordel, en onder “handeling” telkens ’n paar kriptiese aantekeninge; dit het gelyk na beskrywings van ’n okkulte gedoe. Ek het die boek saamgebring, ek lees vir u ’n paar tipiese inskrywings: 11 Desember: “Brug Prinsengracht, Utrechtsestraat. Swanefluisteraar: houding besonder gedrae vandag, supplikasie met geprewel, met opgehewe hande, touleer tot aan die water, drie swane van onder die brug,” of “Brug Lauriergracht. Swanefluisteraar slaan sy oë op na die swerk, skud jas uit oor die water, murmureer onafgebroke, een swaan van onder die brug.” Tot vervelens toe: brug, gebare en swane; gebare, prewelinge, swane en brug, dieselfde frases oor en oor.

Die kassette was iets anders, duidelik uit ’n onlangser periode. Hulle was gemerk van 1 tot 16 met datums vanaf 5 Maart tot 17 Mei 2002. Ek het hulle van die vloer af opgetel en in ’n plastieksak van Woolworths gegooi. My kassetspeler was stukkend; ek kon my in ieder geval voorstel wat dit sou wees. Name van grassoorte, gesteentes, insekte. Alfabeties ingelees uit naslaanwerke. Dis soos ek Meneer Vreemdeling geken het.

Dit was dan die inhoud van posstuk twee. En daar sit ek toe met my fopdosboek en die Woolworths-sak en die deurgeknipte wit goiingtou met die rooi lak in my hande. Die Olwagen mock-up van my boek was in ieder geval vir my genoeg om daardie laai waarin ek sy brief gestop het, te gaan ooptrek. Laaifluisteraar, het ek gemor, want dit wou nie oop nie, so vol rommel was dit. Die brief was heeltemal verfrommel en ek moes dit bladsy vir bladsy glad stryk voordat ek dit kon lees.

Geagte toehoorders, dis tyd vir Kasper se verhaal. Laat ek u dus vir die helderheid nog ’n keer oriënteer. Stel u voor, ’n jong man uit die swaanlose suide, ’n vreemdeling in ’n wêreldstad, ’n sukkelende skrywer, alleen, angstig, neuroties. Hy stort ineen, soos mens kan verwag. Daar lê hy in ’n vreemde hospitaal, sy tong voel dik, sy hande bewe van die medisyne wat hulle hom gee, en hy skryf vir sy dosent ’n brief oor wat kamtig met hom gebeur het. Reine fantasie? Verbloeming van die ware toedrag? Verhulde belydenis? Verfraaiing van sy eie mislukking? Maskering van sy vrese en verlangens? Watter een van hierdie dit ook al is, hy handig ’n logboek in, ’n bewysstuk wat die werklikheidsgehalte van sy verhaal moet ondersteun. Kom ons laat hom die verhoog opstel:

Dit was, professor, soos hulle hier sê, in die tyd van de donkere dagen voor de Kerst. Ek het weke lank niks anders as gebakte boontjies uit blikkies geëet nie, snags het ek nie bed toe gegaan nie, maar op die rooi rusbank voor die televisie aan die slaap geraak. Ek het nie meer uitgegaan nie. Oggende lank het ek voor die ruitjiesvenster gestaan en my kop heen en weer beweeg sodat die kade, die dokke, die straatverkeer telkens in ander verwringings aan my moes verskyn. Dan het ek geblaas op die glas, en woorde in die wasem geskryf. Skuld, boete, skade, skande. Die groot swart klokke in my toring. Die rede waarom ek nooit iets kon skryf nie. Één keer het ek geskryf: skoonheid, asem, lied – en begin huil.

Toe op ’n oggend ontwaak ek soos ’n prins in die mis. ’n Groot nagtelike mis vasgevries aan die iepe soos in ’n sprokie. Pure kantwerk in die bome weerskante van die kade. Ek het op die ruit geblaas en in die asemdamp ’n versreël geskryf wat ek iewers vandaan onthou het: “Miskien was my fluistering voor my lippe gebore.”

Professor, ons is daar om aan te roep, het u altyd gesê, om op te roep, te voorskyn te roep. Waarom, as die les beliggaam word, is die meester nie by die leerling nie?

Want toe ek die reël doodvee met my vingerpunt, toe staan hy opeens daar, geraam in my asemstolsel, aan die oorkant van die kade in ’n portiek, ’n man met spierwit hare en ’n sak in sy hand, en hy stap vorentoe en gaan leun oor die brugreling. Het hy iets in die water laat val? Hy het oor die reling beduie, in die rigting van die brugopening tussen kade en hawe, sy bondel langs hom op die grond. Ek het my verkyker ingestel. Hy was laat veertigs, vyftig, verrinneweer, ’n boemelaar. Die donse het uit sy jas gepeul. Sy lippe het beweeg. Ek het gekyk na waar hy kyk, na die rimpellose water onder die brugboog. Wat sou hy daar sien?

Hy het regop gekom, steeds prewelend, sy hande in die lug, soos ’n dirigent voor die inval. En toe gee hy die eerste pols. En daar, van onder die brug, swem twee swane op hom af, majestueus, met getoonde nekke, asof hulle aan hom behoort.

Dit was asof ek vir die eerste keer gesien het wat ’n swaan is: pluimedos van melkwit glas, ’n nek geblaas in ’n droom van vuur, ’n vaas wat vaar, dig aan sy weerkaatsing vas, ’n tweeling gemasker, bors aan bors gebind in ’n dans, ’n donker musiek in die webbe.

Die swaneroeper het sy bondel losgeknoop, en ja, lees maar, daar staan presies net wat daar staan, professor, ’n touleer uitgehaal waarmee hy homself neergelaat het tot op die dek van ’n seilbootjie wat daar vasgemeer was teen die kade.

’n God in die wieg van die witbevrore môre.

Op sy maag, met sy hande uitgestrek oor die water, het hy die voëls aangehaal, hulle kwaste kwispelend, hulle koppe digby syne. Orfeus aan die oewer. Dat ek met my vinger in my skamel asem skryf, een reël van ’n vergete digter, en dat dit oorspring van raam tot wal en ’n swanefluisteraar oplewer? Van sulke toeval is die hart verruk.

*

Val u daarvoor? Ék het nie. Ek kon raai wat volgende gebeur. En ek was reg.

Kasper raak in die ban van die sogenaamde swanefluisteraar, overgesetsynde hy val vir sy eie fantasie oor die swanefluisteraar, en ’n storie word vir ons gebore. Hy volg hom elke dag deur die stad en word by elke brug die getuie van die boemelaar se sogenaamde swaneritueel. Die man lig sy hande soos ’n priester, hy prewel iets, ’n magiese spreuk of formule, die swane kom asof geroep, onder die brug vandaan, en die swanemeester klim langs sy touleer af en befluister hulle.

En dan volg ’n passasie wat ek tog nie kan nalaat om vir u te lees nie. My korrespondent skryf:

Hier kan ek u hoor dink, professor. U dink: Só gaan dit nie interessant word nie, Kasper. Jou storie bevat: 1. ’n Skrywer met skrywersblok. 2. ’n Verkyker. 3. ’n Wanaangepaste swerwer met ’n swaanfiksasie. Dit is nie genoeg materiaal nie, hier ruik mens gelykenis, jy sal jou karakters betrokke moet laat raak by mekaar, want daar is niks soos verhoudings tussen mense om sinnebeelde te kelder nie. Ek weet, beste prof, dat u, gegee u beperkinge, nie hierdie brief sal kan lees as ’n kreet van geestelike nood nie. U sal dit takseer as ’n stuk skryfwerk en klaar. Wel, gelukkig val skryf en lewe in hierdie brief volledig saam, want betrokke raak is presies wat met my gebeur het, sommer die volgende dag al, toe ek die man weer aan die oorkant van die kade gewaar. Ek het na buite gegaan en agter hom aan teen die touleer afgeklim tot op die bootjie. Wat was dit wat ek aan hom geruik het? ’n Geur van kompos? Ek het langs hom op my maag op die dek gaan lê. Die leergierige vakleerling. Sou u nie dieselfde gedoen het nie? Sou u nie probeer agterkom het wat hy daar vir die swane fluister nie? Kon dit dalk ’n teksvers wees, geskryf op die sinklyn van hulle flanke, runes van die swanediepte?

Met of sonder teksvers, geagte toehoorders, van hier af gaan die storie op loop. Kasper neem die swerwer huis toe, ja, Kasper gee die swerwer kos. ’n Jong, menssku Suid-Afrikaanse man, ’n verfynde neuroot wat bang is vir kieme, bied losies aan ’n smerige wanaangepaste vreemdeling. En in hierdie verhaal bly dit nie by losies nie, dit word verpleging. Want hierdie swanefluisteraar was nie gesond nie. En meer nog – Kasper die filosoof druk dit sy leser op die hart – hierdie pasiënt van hom was ’n onbeskrewe blad. Watter held wil nou ’n welsprekende sieke versorg? Kasper se swerwer was ’n swyger. Die man kon nie of wou nie praat nie. Sy blik was leeg en afgestomp. Hy was willoos en passief. Hy het nie eens geweet hoe om ’n badkamer te gebruik nie. Hier is die verloop:

Ek het sy smoeselige jas en die voos hemp en broek uitgetrek. Hy het geen onderklere aangehad nie, en geen sokkies onder sy stewels nie. Ek het geskrik. Hy was erg maer. Daar was ’n bruin aanpaksel om sy enkels en polse en nek. Regoor sy lyf was ’n kors waaraan rafels van sy klere vasgesit het. Saam met sy liggaamshare het dit ’n kompakte silwerige skilferlaag gevorm. Was dit die rede vir sy vreemde reuk? ’n Laag verrotte huid? In sy mik was die hare ’n dik saamgekoekte mat. Daarin was sy geslag klein weggekrompe. Sy okselhare was lank en wit. Sy toonnaels en vingernaels was uitgegroei en sleg geskeur.

Ek het die paar afwashandskoene in die kombuislaai aangetrek en hom in die stortkabine op ’n bankie laat sit. Ek het sy lyf eers goed afgespons, hom toe met dettolseep ingeseep, en versigtig met ’n sagte lap begin was.

Waarom het dit na ’n oortreding gevoel om die man te probeer skoon kry? Kan u dit vir my verduidelik, professor? U wat hierdie dinge so goed verstaan? Waarom het so ’n verdriet my oorval terwyl ek besig was om hierdie verrinneweerde mens te was? Ek was dankbaar oor die stoom en die water waarin my trane ongemerk vermeng kon raak. Wie was ek eintlik hier aan die was? En hoe sou ek moes volvoer wat ek hier begin het? Ek het hom opgehelp, my voorkop teen sy bors gedruk om hom regop te hou, terwyl ek hom met my lyf as stut omgedraai het in die storthok.

Ek was dodelik bang, daar onder die douche, om hom van sy skil te ontdoen. Maar by die lig wat ek gehad het, sou dit dodeliker wees om nie te probeer nie, dodeliker vir hom, en nog meer dodelik vir my, begryp u?

Ek was deurnat in my klere en die badkamer was vaal van die stoom. In die spieël het ek ’n glimp opgevang van ons skimmige gestaltes, hy met sy hand op my skouer wat ek daar geplaas het ten einde sy boarm af te skrop. Het ek verlang daarna dat hy met die aanreik van ’n ledemaat of ’n verplasing van sy gewig sou aandui dat hy wil saamwerk, dat hy my wil help om hom te help?

Ek het geskrik vir die effek van my ablusies. Waar die kors afgekom het, was sy vel teer, met om die midrif en op die flanke rooi opgehewe kolle, iets wat na omloop gelyk het. Of was dit gordelroos? ’n Woekerende ekseem? Psoriase? Daar was skurwe plekke aan sy arms en bene, en op ander plekke het sy vel gekneus gelyk met persrooi vlekke van onderhuidse bloeding; daar was gebarste aartjies, en riwwe waaruit etter gewel het, ’n paar slegte oop sere op sy boude en blaaie.

Het ziet er niet zo best uit, het ek gesê, maar maakt u zich geen zorgen, wij komen er wel uit.

*

En wat doen Kasper vervolgens in sy sprokie, kollegas? Hy gaan koop salwe en balsems en olies by die apteek. Hy gaan na die Hema en koop nuwe wit klere, ’n nuwe jas en skoene en die voedsaamste bestanddele vir die bereiding van invalidemaaltye. En hier moet ek tog ’n opmerklike vonds noem: Kasper skryf hoe hy sy twee werktafels, die een van mymering, en die ander van wetenskap, die poësietafel en die prosatafel, teenaan mekaar stoot, dit bedek met wit handdoeke, sy leeslamp daarby opstel soos ’n teaterlig, en die swanefluisteraar nakend daarop lêmaak en hom van kop tot toon begin dokter, drie maal per dag, veertien dae agtermekaar.

Ek kon nie verder lees nie.

Dit was dan die derde keer dat ek die brief weggepak het. Dié keer het ek dit, saam met die wit domboek, by my lesmateriaal gebêre, want ek het begin dink dat ek dit kon gebruik om aan my ander studente die probleme van magiese realisme te verduidelik. Nie dat ek dit ooit gedoen het nie, ek was besig met ander dinge. My roman was klaar vertaal, die vertaling nagesien en goedgekeur. Daar was ’n klein verposing in my skryfverpligtinge en ek het besluit om my huis ’n groot opruimbeurt te gee, te laat verf en te laat snoei, die eekhorings van die plafon af te kry, ’n val te stel vir die muis, my gewrig te laat herstel.

En toe, omtrent ’n maand later, die opruimbeurt in volle gang, die brief so te sê vergete, die mimiekboek verder ongelees, die kassette onbeluister, kry ek die derde besending, ’n eienaardige dik koevert in my posbus.

Daar staan ek tussen die verwers in hulle wit oorpakke van Wonder Wall en ek skeur die koevert oop. En toe is dit sand. ’n Bakhandvol spierwit sand wat op my skoene uitval. Ek onthou ek het teruggetree en lank na my twee swart spore op die plaveisel staan en kyk. Ek het die werksmense huis toe gestuur vir die dag. Wie anders sou vir my ’n koevert vol sand stuur as Kasper Olwagen? Ek het agterop gekyk: geen afsender, alleen ’n krabbel, met iets wat gelyk het soos ’n stokkie houtskool, die naam Dwarsrivier.

Waarom Dwarsrivier? ’n Allegoriese grap? Miskien sou sy brief, wat ek in al die tyd nooit tot aan die einde gelees het nie, ’n leidraad inhou? Miskien moes ek die logboek deegliker bekyk? En dan was daar nog die onbeluisterde kassette in die Woolworths-sak in die besemkas. Ek het al Kasper se besendings bymekaar gekry op die kombuistafel.

Eerste het ek die brief weer opgeneem, dit vanaf bladsy twintig, waar ek die vorige keer opgehou het, gelees. Ek som die storie vir u op.

Na ’n maand se huidbehandelings was die swerwer se vel gesond, sy hare geknip, sy reuk aangenaam menslik. Maar dit was nie genoeg nie. Kasper se obsessie was om die swanefluisteraar aan die praat te kry. Want hy was jaloers op hom, jaloers op sy kuns van kommunikasie met die “voëls van die doderyk”, soos hy dit stel. Snags het hy by die slapende swerwer gewaak met sy logboek ingeval die man in sy slaap sou praat, maar al wat hy gehoor het, was die getik van die verwarmer, die geruis van die reën teen die venster, die slae van die Sint Nicolaaskerk se klok. Kasper kon die man se swye nie hanteer nie. As hy hom net eers sover kon kry om sy mond oop te maak, al was dit om aan tafel te sê, ek haal aan:

“Mag ek die sout kry, asseblief”, sou hy hom kon begin uitvra oor sy swaansjarmeerdery.

Die sout vra, dames en here? Ek moes glimlag, hierdie storie van Kasper het tog nie met sulke realisme gewerk nie. Ek het toenemend die gevoel gekry dat my student besig was met ’n argument, dat hy ’n saak aan die opbou was. Want die dinge wat hy gedoen het om die man tot spreke te probeer bring, het geklink na ’n program, na ’n lydensweg met stasies, en hierdie brief was aan my gerig, aan die studentefluisteraar, as u wil.

Maar ek het nooit geantwoord nie.

Dis die eerste keer dat ek nou daaroor praat.

Laat ek my bepaal by die storie. Hoe het Meneer Weldoener sy verdoolde gas aan die praat probeer kry? Eers het hy hom ure lank voor die televisie sitgemaak, hom probeer uitlok met beelde van gebreekte knieë in Kenia, die terreur van die lang messe in Zimbabwe, die treurende ysbere van die noordpool, die smeulende bome van die Amasone; toe dit nie werk nie, het hy hom deur die dakluik laat klim op helder nagte en vir hom die swaan en die lier uitgewys in die sterre, die trane van Orfeus in die weste; en toe dit geen effek het nie, het hy vir hom elke romantiese swanesang voorgespeel waarop hy sy hande kon lê in die biblioteek, Grieg, Sibelius, Tsjaikowski. Alles tevergeefs. Nóg die verskrikkinge van ons eie tyd, nóg die ewige signatuur van die transe, nóg die gedateerde melodieë van die Romantiek, nóg ’n glas Boergondiese wyn, niks kon hierdie boemelaar se tong losmaak nie. Kasper skryf hier, hy het oorweeg om hom na ’n psigiater te neem, of na ’n oor-, neus- en keelspesialis. Een oggend het hy self die mond ondersoek van die swanefluisteraar, om daar alleen ’n gesonde ligrooi tong aan te tref, die klepel stewig aan die riem geheg, soos hy skryf. Hy vervolg:

Ek het tot agter in sy keel gelig met die flits. Soos twee kleiner klokkies het die mangels in die huig gehang. Met die punt van my voorvinger het ek teen sy verhemelte gestryk. Die riwwe daarvan het my laat dink aan ’n harp.

Maar die harpe wou nie klink nie, in ieder geval nie in Kasper se skryfwerk nie. Wat hy geskryf het, was rye en kolomme, opnames en registrasies, hooguit in telegramstyl, ’n haas patologiese skryf-blokkasie, soveel was ten minste vir my duidelik uit die logboek. By 5 Januarie 2003 staan daar die volgende inskrywing in volsinne, die enigste blyk van selfrefleksie.

Swannyboy staan al weer doodstil agter my stoel waar ek probeer skryf, reeds ure lank, asof hy toesig hou oor my, ek maak of ek nie van hom weet nie maar ek luister, wat is dit wat ek hoor? Alleen die gedruis van die stad? Die sibilante van sy bloed? Of my bloed? Hy weet nie dat ek sy weerkaatsing kan sien in die glas van die prent teen die muur nie, ek kan sien sy lippe roer, en ek roer my pen oor die papier so goed ek kan, sinchroon met wat ek raai hy sê. Waaraan laat my pen my dink? Aan die grafietstafie in ’n weerstasie wat alle vogte en winde en wolkbewegings registreer en aanteken op ’n rol grafiekpapier.

En dan, kollegas, volg rye en rye klankkombinasies, die fonologiese patrone van Afrikaans. Sommige woordbeelde toon invloed van die Khoi-tale. Spak, grak, spal, malk, olk, skolk, en dan mrie !krie krakadouw. Sommige van hulle was lukraak bymekaar gevoeg en gerangskik in wat ek alleen maar kan noem klanklimerieke. Transkripsies van wat Kasper skynbaar gedink het die swanefluisteraar sê, of gedroom het of versin het dat hy sê, swanefluisteringe dus. En hoe klink swanetaal?

Rie mrie, rapuu,

kriep, !tewiek, miruu,

tohoe wa bohoe,

askla mor usa,

pierok griemok sklahoe.

Hoewel ek ’n liefhebber is van onsinverse, van nonsenspoësie soos die Engelse sê, en daar dikwels meer plesier aan beleef as aan die aanstellerige verhewenheid van sê “Groot Ode” van Van Wyk Louw, het ek tog nou regtig nie lus gehad om vir die gek gehou te word deur ’n psigoties geworde eksstudent met ’n moederkompleks nie. Ek het die boek toegeklap.

Kyk, professor, ’n doofstom skisofreen kan my meer van die skryfkuns leer as u! En dan bladsye vol koggelryme. Ek moes seker kon geweet het dit was nie onskuldig nie. Sowat ’n jaar later het ek die frase “tohoe wa bohoe” teëgekom in ’n boek oor die Pentateug. Dit is Hebreeus vir die woes en die leeg uit Genesis.

Dit laat ek mits dese in u midde. Ek weet nou nog nie wat ek daarvan moet maak nie. Maar iets val my nou hier by wat ek, nou ja, wat iemand in my beroep liewer wil vergeet, maar wat miskien verhelderend kan wees.

Dit betref ’n voorval uit die tyd toe Kasper nog ’n ingeskrewe student was, die enigste keer dat hy my ooit durf teenspreek het. Ek het hom laat kom vir terugvoer oor sy nuutste skryfpoging. Ek wou dit vinnig afhandel. Hy het nog skaars gesit toe begin ek. Los die metafisika, Kasper, het ek gesê, los die idees, skryf wat die lesers wil hê, ’n vrugtige sepie oor jou tuisdorp, ’n verhaal oor ongewenste inkommers, bendegeweld, hondegevegte, struikrowers, smokkelhuise, selfgelukwensing, owerspel, braaivleis, familiewrok, Maggie Laubser en dweepsug. Dan noem jy dit Die verdriet van Ritselrivier.

Kasper se oë was fel, sy stem was hoog toe hy begin terugpraat.

En dan seker met ’n selfbalsemende gemeentelike skrywer as verteller? Die dae van gemoedelike lokale realisme is verby, vir geval u dit nie weet nie, het hy gesê, selfs al is dit opgetof met metafiksionele truuks. As ek eendag prosa sou skryf, sou dit blote straatverslae wees, sypaadjieantropologie, opgeteken vanuit ’n koelbewoë perspektief. Skoon en droog.

Ek het klein borreltjies spoeg in sy mondhoeke gesien. Sy hand was onder sy baadjie in, maar hy het nie sy pen uitgehaal nie.

Fiksie, het hy voortgegaan, met sy tong wat swaarder sleep as gewoonlik, fiksie kan ons nie meer troos nie. Die verskrikkinge van ons vaderland ontneem die verhalende verbeelding haar wil, haar wilskrag. Mens kan niks meer uitdink nie. Brutaliste moet ons daarom word, feiteversamelaars, nie meer storievertellers nie, eerder argivarisse van die onvoorstelbare brutaliteite van die land. Daaruit sal die leser vir sigself vrees en medelye, selfs vermaak en lering wen.

Nouja, dit was die eerste keer dat ek gedink het ek leer iets van ’n student. Ek het hom nie uitgevra oor sy standpunt nie, ek wou nie toegee dat ek beïndruk was nie. Om die waarheid te sê, ek was jaloers op wat ek herken het as die invalshoek vir ’n nuwe literêre beweging in die Afrikaanse letterkunde, wat tog so vasgeval was in avontuur en selfportret.

Meneer, dit spyt my, het ek gesê, maar ek dink jy is skynheilig braaf, as ek jou so bekyk, dan sien ek nie ’n brutalis nie, ek sien ’n esteet. Ek sien nie lyste halssnoerverbrandings, kinderverkragtings, bejaardemoorde, gewapende roofvoorvalle by jou nie, ek kry lyste fauna en flora, blouknietjiesgras, smalhartjiesgras, dronkgras, pronkgras, klokkieskweek. Moet jy nie liewer sing soos jy gebek is nie? Jy lees Adorno se estetiese teorieë, ek sien nie dat jy ’n kritiese analise of ’n smaak vir satiriese of agiterende protes het met betrekking tot jou vaderland nie. Ek kyk na jou bewende neusvleuels en jou hand op jou hart en ek sien iemand wat oorweldig voel, swak voel, bang voel, alleen voel, nie iemand wat kans sou sien om ’n sestien reëls lange doodsvonnis oor homself uit te roep nie, soos wat die soseer deur jou bewonderde Osip Mandelstam gedoen het in sy gedig oor almal se geliefde Onkel Stalin. Of soos wat Breytenbach gedoen het in sy gedig vir die slagter nie. Soos wat geen digter dit vandag sal waag oor Robert Mugabe nie. Jy het ’n lui tong, Olwagen. Jy is ’n simptoom van wat aangaan met progressiewe intellektuele in hierdie land. Polities korrekte pose aan die een kant en ontvlugtingsgedrag aan die ander kant. Get a life, sou ek sê.

Hy het my bly aankyk met daardie brandende blik van hom, maar ek het nie teruggekyk nie, ek het nie tyd vir dié soort gedrag by studente nie.

Wees eerlik, het ek gesê, hoe wil jy vandag in hierdie land ’n sypaadjieantropoloog op enigsins interessante sypaadjies wees sonder ’n gewapende lyfwag aan jou sy?

En toe ek geen reaksie kry nie: Jou soort is voëlvry verklaar in hierdie land, het ek gesê, daar is altyd iemand wat ’n strikdas nodig het by ’n varkslagtery.

Ek het opgestaan daar agter my lessenaar. Hy moes my mooi verstaan. Ek wou geen ruimte laat vir misverstand nie.

Meneer Olwagen, het ek gesê, wil jy weet wat ek sien as ek na jou kyk? Ek sien iemand wat homself wil verban na die grammadoelas, ja, sommer heeltemal anderkant die buiteveld nog, alwaar hy in die skone natuur ’n argitek van die verhewigde oomblik wil wees, ’n beeldhouer in die amber van woorde. Jy wil ’n mensdier word in jou taal, soos wat ’n muskeljaatkat homself is in die ruigte. Alte fraai, hoor. Ek sien jou dictum, dit staan geskryf regoor jou imposante voorkop: Die enigste subversiewe daad wat oorgebly het in ’n vervlakte gebrutaliseerde samelewing is die kultivering van die intieme ongerief van die liriek. Waar of onwaar? Of sou jy jou escapistiese verlangens anders formuleer?

Ek kon sien dat hy dit moeilik gehad het. Maar eerlik, watter dosent het nog nooit ’n student ontstel nie? Nie dat mens dit so bedoel nie, maar mens kan niks daaraan doen as ’n leerling jou as verpletterend ervaar nie. Hoe dit ook al sy, dis nie hoe ’n leraar behoort op te tree nie. Ek het na die tyd by ’n kollega te rade gegaan oor die voorval en hy het my daaraan herinner dat Kasper ’n kliënt is van ’n korporatiewe instansie, en dat ek hom voortaan as niks meer en as niks minder as dit moet behandel nie. Ek was sy kennisvennoot. As hy nie sy kursus wou voltooi nie, moes ek hom los, dis al, dis sy keuse, solank hy betaal vir dienste gelewer.

*

Waar was ek? Ek is die draad kwyt. O ja, ek was by die onsin, by die onsingedigte wat Olwagen opgeskryf het in die koggelboek. Tohoe wa bohoe. Die woes en die leeg.

Ek was by die derde posstuk, die sand in die koevert. Dwarsrivier. Ek het my atlas uitgehaal en inderdaad, daar was dit, geen allegoriese naam nie, werklik Dwarsrivier in die Sederberge, ’n plaas wat aan die Nieuwoudt-clan behoort, naaste poskantoor Clanwilliam. Ek het die skoppie en besem gevat en na buite gegaan en die sand van die tuinpad af gaan opvee en dit weer in die koevert gegooi. Vir die doeleindes van hierdie lesing het ek dit vir u hier in hierdie sandloper gesit.

U verstaan die situasie. Kasper se brief uit die hospitaal was niks minder nie as ’n gebruiksaanwysing. Elke keer moes ek na hierdie brief terugkeer ten einde sin te maak van sy daaropvolgende pakkies. Was ek gestrik in die wraakplan van ’n verontregte? Of was ek gevang deur ’n sterk verhaal? U sien, ek het die hele storie van die swanefluisteraar nog steeds nie geglo nie. U kyk my aan? U vra op watter punt sou ’n mens begin dink dat so ’n storie hoegenaamd die waarheid kon wees? Dat Kasper niks versin het nie? Dat die hele swaanbefluisteringsgedoe alles woord vir woord presies so gebeur het?

Daar het ek by my kombuistafel gesit en die een na die ander koppie koffie gedrink terwyl ek Kasper se digbeskrewe bladsye omgeblaai het. Daar was ’n tandetrekkery op bladsy vyftig. Miskien had die man las van sy gebit, skryf Kasper, miskien was dit waarom hy nie wou praat nie. En toe vat hy sy loseerder na die tandarts, waar dieselfde dag nog drie tande getrek is en etlike stopsels toegedien is. En dan volg die gedeelte van die brief waar ek begin dink het dat my student inderdaad iets heel geks meegemaak het. Onwaarskynlike dinge gebeur, soos ons almal weet, veel eerder in die werklikheid as in stories.

In die nag ná die dag van die tandetrekkery, op 20 Januarie, het ek wakker geword van ’n trek in my nek. Die swanefluisteraar was voor die oop venster in sy slaapklere, sy arms in die lug. Ek het agter sy rug teen die trap afgesluip na buite. Op die grag voor my woning was daar, glo dit as u wil, nie een of twee nie, maar tientalle swane, honderde van hulle, die hele Geldersekade vol, kopspelend, kwispelend – die nekke buigend, strekkend, krommend, ’n soort skrif waarvan die wit kursiewe begin dans het in die swart ink van die grag. Van onder die brug het hulle aangeswem gekom, uit die Oosterdok het hulle aangeswerm, die lug lewend van die woergeluid van vlerke. Met hulle lang nekke in remstand het hulle klappend en spattend tussen die ander in geland. Verbysterend was dit, die steeds voller wordende vergadering van stingelende nekke, die vlerkpluime koninklik opgeset in ’n massale nagtelike pronk, die hele kadewater in beroering onder die blou ligte van die hyskrane van Liebherr. So moet dit gelyk het toe die gode die swane bymekaargejaag het om die slee van Orfeus te trek.

Professor, vra hy my hier tussen hakies, wat is tog die Afrikaans vir “a drift of swans”? ’n Drifsel, ’n swade, ’n drom? ’n Smagting, ’n sonde, ’n skande van swane?

Ek het nie weer teruggegaan na die woonstel daardie nag nie, skryf hy, ek het rondgedool in die stad, te verstom oor die swanespektakel, al my twyfels, al my voorbehoude oor hierdie swerwer summier uitgewis. Hy was ’n genie. Outisties miskien, op die manier van Rain Man, maar ’n genie. Het u dit ooit gesien? Die film met Dustin Hoffman in die hoofrol? Ek moes ’n ander houding teenoor hom vind. Maar wat moes dit wees? As vakleerling kon hy my nie aanneem nie. Ook nie as skribent van sy fluisteringe nie. En nee, ek het verstaan ek was ook nie sy redder of sy tolk nie. En ook nie sy minnaar nie, al sou dit ’n mooi einde gewees het vir my verhaal.

Teen sesuur daardie oggend, moeg en koud en honger, het ek uiteindelik geweet wat ek moes doen. Waarom het dit my so lank gevat om dit te verstaan? Ek moes teruggaan na die woonstel en die ketel aansit. Om kwart voor sewe moes ek aan sy deur klop, die gordyne ooptrek en hom wakker skud aan sy skouer soos wat ek elke oggend van die verbye twee en ’n half maande gedoen het. Ek moes langs sy bed op die stoel gaan sit en in die slaperige stilte saam met hom koffie drink, terwyl ons luister hoe die stad ontwaak, die skuur van treinwiele op die spore, die toeter in die Oosterdok wat die werkdag aankondig. So moes ons daar sit, terwyl die oggendgloor die kamer vul en ’n enkele mossie in die dakgeut begin tjilp, wagtend op die stadsklokke om seweuur te slaan, altyd eerste die Oude Kerk op die Walle, en dan, na twee slae, die Zuiderkerk en dan pas die nabye galme uit die Sint Nicolaaskerk, waarvan die donker rugvinne stadig voor ons oë ingeteken word deur die lig. En dan sou ek oor my gesig voel of ek moet skeer, en uit die hoek van my oog gewaar dat hy dit ook doen, met ’n nouliks hoorbare raspergeluid. En dit alles, het ek geweet, sou ek daardie oggend vir die eerste keer kon doen sonder wroeging, omdat ek verstaan het dat ek na alles, en ten spyte van die vreemde vermoëns waaroor hy beskik het, gewoon sy vriend geword het, hierdie sonderlinge man se vriend, professor, is dit te veel gevra?

Wel geagte toehoorders, ek kan nie van u verwag dat u na die aanhoor van slegs enkele uittreksels uit hierdie brief my ontroering by hierdie passasie moet deel nie. Daar aan my kombuistafel het ek toe sonder twyfel geweet hierdie storie is waar.

Waar en skrynend. Want toe Kasper daardie oggend met sy nuut verworwe insig aankom in die woonstel was dit te laat: sy vriend was weg, skoonveldweg, touleer en al. En nog is dit het einde niet. Bladsy drie en sestig.

Verslae was hy, skryf Kasper, volledig verslae en ontdaan. Net toe hy uiteindelik verstaan het wat belangrik was aan die swanefluisteraar – nie sy Orfiese kunste nie, maar sy doodgewone lyflike teenwoordigheid as ’n huismaat – toe verdwyn hy. Weg, spoorloos weg. Dae aaneen soek Kasper na hom, die ganse swaneroete langs. Al die nagskuilings loop hy na, by al die welsynsverenigings doen hy navraag. Elke Daklose Krant-verkoper vra hy: Heeft u een man gezien met wit haar en een touwladder? Die hele stad strooi hy vol biljette met die opskrif: Vriend Vermist.

En so, in die soektog na sy vriend, word Kasper self ’n swerwer. Dag en nag, in wind en reën, loop hy rond in die verslete jas, in die stewels van die swane-fluisteraar. En hier kom dan pragtige beskrywings van Amsterdam, die weerkaatsings, die gewels, die iepe, die trams, altyd met die gedagte: ek soek nie meer na inspirasie of skrywerlike vervulling nie, ek soek na my vriend, en elke straathoek en elke weerkaatsing en elke brug spreek van my gemis. Kasper skryf, en hier dans die engele, hier word Olwagen na my mening ’n skrywer, hoe hy by elke brug waar hy die swane-fluisteraar vroeër gewaar het, getalm het en met sy hande in die lug geprewel het: Wat het ek misdaan dat ek my makker moes verloor? En dat as hierby swane verskyn het, dit bysaak was.

Ek lees vir u die laaste bladsy.

Eenkeer het ek my verbeel ek sien hom, die wit kop van iemand voor my op ’n drukke sypaadjie en skielik het die gevoel my beetgepak dat ek nie moes uitroep en hom agternahardloop nie, dat as hy sou omkyk en my sien, ek verlore sou wees. Ek het die gevoel gekry dat ek self reeds lankal agtervolg word, en wel deur iemand wat dink dat hy of sy my herken. Ek het agtergekom dat ek een is van ’n stoet, ’n stille prosessie van soekers en vermistes in die stad, almal van ons aan die pols gebind aan dieselfde eindelose swart lint, almal mense wat dink dat hulle ’n weggeloopte, ’n eens verdwene persoon dalk gevind het, en bang is om dié hoop kenbaar te maak, bang om teleurgestel te word, en liewer meeloop in die troos van ’n gemeenskap van gelykgestemdes, die troos dat mens nie alleen is nie, maar dat jy behoort tot die onverbreeklikste broederskap op aarde, naamlik die broederskap van agtergeblewenes, die gemeenskap van oorlewendes, van nagelatenes.

En so, geagte toehoorders, eindig Kasper dan by die begin, in die portiek oorkant sy eie woning waar hy sy fluisteraar die eerste keer gesien het. Van honger en uitputting raak hy daar aan die slaap by ’n graad of twee onder vriespunt. Hy val in ’n koma. Die stadspolisie pik hom op en lewer hom by die hospitaal af, soos hy dit stel: Sonder naam, sonder papiere, net met my storie en my behoefte om dit te vertel aan die één persoon op aarde wat dit sou verstaan.

Toe daar na nog twee maande geen vreemde pakkies meer aangekom het nie, het ek ’n nuwe kassetspeler gaan koop en Kasper se kassette ingepak en na die Sederberge gereis. Hoe dieper ek die berge in is, vanaf die Gydopas almaardeur rigting Clanwilliam, hoe meer het ek die gevoel gekry ek is op die regte spoor. Die plaas Dwarsrivier het ek maklik gevind, ek het afgepak by ’n kampeerplek met die naam Sanddrif. Die sand in Kasper se koevert was presies dieselfde as wat ek daar langs die rivier gekry het. Snags in my tent het ek die bandjies beluister, drie-en-vyftig onderskeibare voordragte. Ek het tot die slotsom gekom dat dit gedigte was, opgeneem heel digby lopende water, of in die mond van waaiende gras, asof Kasper vir sy stem ’n soort pedaalpunt wou voorsien, nie ’n forse baspedaal soos hy hoor in die orrelwerke van Bach nie, maar ritselend, kabbelend asof die tyd ’n instrument is waarop gras en water speel met transparante vingers. Met my kassetspeler het ek hele dae lank langs die rivier op en af geloop tot ek gekry het wat ek gesoek het, ’n spesifieke mineur murmeling van water oor ’n klipplaat by ’n kleinerige maalgat, en verder ’n staning riet met wit kwaste wat op ’n syerige manier geritsel het soos Chinese simbale. Dit was die bygeruise wat Kasper gekies het om sy stem te maskeer.

Bleek, oorgevoelige Kasper, hoe koud sou hy nie in die winters kry in daardie barre klowe, by daardie donker stroom nie? Daar waar hy hom gebuig het na die wind, na die water met sy lied? Sou hy sy strikdas opgehang het aan ’n riet? Sy onderbaadjie aan ’n alewee, sy vulpen leeggeskud het in die sand?

Hoe ek ook al luister – en dames en here, ek luister nou nog, ek sal nooit ophou luister nie – ek kan die woorde van die gedigte nie uitmaak nie. As dit woorde is, bygesê. Wat ek duidelik kan hoor, is die stewige inset van die tema, en dan die teenbeweging daarvan effens gevarieer in klinkers en die medeklinkers, gestut en opgebou deur herhalings en refreine, manjifieke edifiese van klank. Ek kan die ritmes uitmaak, die ritmewisselinge, die lengte en kadens van die reëls, hulle omkerings en verlengings en verrykings, die klimakse, die verlangsamings en die versnellings. Ook die toon en die gevoel van elke voordrag, soms elegies en gedrae, soms uitbundig, dikwels skrynend ekstaties, altyd met ’n sangerige kwaliteit. Die argument van die klanke kan ek agterhaal, of liewer die navorsing wat via klanke gevoer word, die soeke na ontwikkelings- of variasiemoontlikhede vir die hooftema, maar nie die betekenis nie.

My werk, weet ek, is vir my uitgemeet vir die res van my lewe. Ek is die eintlike dummy, sien, die mock-up professor, en die liewe here weet wie skryf in my. Iemand het my ’n tong aangesit. My verdiende loon, sou ek sê, as dit my vermiste student is, of sy vermiste vriend. Maar ek sal nie opgee nie, dis genoeg dat daar twee mense spoorloos verdwyn het. Ek sit in my jaart, en die seisoene kom en gaan oor my, ek skryf nie meer romans nie, ek sien myself as ’n vertaler. Ek bestudeer die lyste klankverbindings wat Kasper in my boek, my leë afskeidsgeskenk aan hom, opgeteken het. Ek maak met behulp daarvan die een na die ander vertaling van elkeen van sy klankgedigte. As ek een voltooi het, lees ek dit unisoon met die klankpatrone in die ooreenkomstige opname en werk daaraan totdat dit so presies as moontlik pas op sy stem. Veel gaan verlore in die proses, miskien word iets gewen. Ek skrap die adjektiewe, ek skrap die idees, ek heg die woorde net-net aan betekenis, want betekenis is bysaak. Wat belangrik is, is die materialiteit van die woorde. Hulle moet word soos sandkorrels, onverskillig van gewig, soet, wit, droë sand wat nie omgee dat mens dit deur jou vingers laat lek nie. Twee keer per jaar gaan ek na die Sederberge, na daardie maalgat, na daardie staning vleiriet, en dan lees ek my nuutste vertalings daar hardop voor, in die hoop dat die water en die rietkwaste dit sal verder fluister, miskien na hom toe sal deurfluister, as hy nog daar êrens is.

Sal ek my jongste poging met u deel? Ek dra dit op aan my verlore student, die een van wie ek alles geleer het wat ’n skrywer moet wéés, wat, let wel, iets anders is as wat ’n skrywer moet skrýf.

Oggend van ’n waterfiskaal

Allagot! geglip uit die knukkels

van hierdie kant se koskans- en hansmaker,

wip die waterfiskaal die oggendkier in,

kaneeeeeel van verbasing op sy bors,

onder sy kruidnagelkloutjies die rinkink-rulle

spiksplinterspuwende Dwarsriviersand,

tinktuuuuur van manelkwik geveer op sy flanke,

strak in die frak die keil platgekam

akkelief hy oor die akkers tot die waterkant, kyk!

triljarrrrrrrrrrde klein en groot fiskale innie spiekspiegel –

hokaai kohorte kansvatters –

wat hy konter met pronkstand akimbo,

knipstert na die kindlig in die oewerkrui,

en wegstaan, kykso, eeeeene ollewagen onderbaadjie,

hy is die slim en innigste godontglipper

hier in die prilwilde hoogmakerson,

!tewiek in sy keel sit sy roepnaam !tewiek

soos ’n klok in die bergkut ketoooools

van die mondsagte môre.

* Professorale intreerede gehou op 12 Augustus 2008 by die Universiteit van Stellenbosch

Die sneeuslaper

Подняться наверх