Читать книгу Heeltyd by God - Milanie Vosloo - Страница 11
ОглавлениеTiener-tantrums
Ek wens U het ’n boekie,
How to raise your child,
saam met my bondeltjies vreugde gestuur,
want, Here, ’n ma se posbeskrywing
is soms baie duister!
Toe hulle klein was, het ek hulle groot gewens
wanneer hul speelgoed ná slapenstyd rondlê.
Nou weet ek nie hoe om die stukke van hul lewens
aanmekaar te hou nie.
Gee tog wysheid om hul grootwordstryd te verstaan,
te bloei in hul pyn, te glimlag in hul vreugde
(al is dit ook deur my trane).
Ek het ’n groot porsie begrip nodig
om hul groepsdrukvrees te verstaan;
te aanvaar hulle sal eers ééndag weer van my hou.
En wanneer hulle in hul voortvarendheid verdwaal,
gee my ’n sagte hand in die koershou
sodat ons nog vriende is ná hul wie’s-ek-stoeityd.
Hemelse Vader, laat hulle op hierdie
ontdekkingsreis U werklik vind.