Читать книгу Die Laaste sewe dae - Murray Janson - Страница 5

Оглавление

’n Palmtak voor sy voet


“Hulle het palmtakke gevat en Hom tegemoet gegaan” (Joh 12:13).

So breek die Sondag aan, die eerste dag van die Paasfees en van die laaste week van Jesus se lewe op aarde, die dag van sy feestelike intog in Jerusalem.

Toe Jesus vroeg vertrek na Betfage, die tweelingdorpie van Betanië aan die oostelike hang van die Olyfberg, sluit die optog van die pelgrims uit Galilea en die ander streke weer by Hom aan. Toe hulle by Hom kom, heers daar spontane entoesiasme, ’n geesdrif wat met die gebeurtenisse van die afgelope dae en nou op pad na Jerusalem al hoër oplaai. Want hulle het sy woorde en leringe en gelykenisse gehoor; hulle was getuies van hoe Hy die lig in die dowwe oë van die blindes van Jerigo aangesteek het; en hier in Betanië het hulle almal self vir Lasarus gesien …

Terwyl hulle opgewonde voortbeweeg, kom ’n ewe blye en geesdriftige optog uit Jerusalem Jesus tegemoet. Die skare wat Jesus uit die noordooste oor Jerigo gevolg het, het wel by Betanië oorgebly vir die Sabbatdag, maar hul entoesiasme het voortgestu tot in Jerusalem. Vandaar dat ook dié groot groep Jesus nou met brandende harte tegemoetkom, en soos die water van twee strome vloei hulle saam tot een rivier van oorgawe aan hul Leidsman.

Intussen stuur Jesus twee van sy dissipels op ’n ongewone sending na Betfage. Hulle moes daar vir Hom ’n jong donkie gaan haal waarop niemand nog ooit gery het nie en, net soos moderne ambassadeurs, vind hulle dat alles in die vreemde vir hulle gereël is. Hulle vind nie net die donkie nie, maar toe die eienaars hulle vra waarom hulle die dier losmaak, antwoord hulle: “Die Here het hom nodig” (Luk 19:30-34), en gee die eienaars hulle toestemming om die donkies te neem.

Toe die vul by Jesus en die skare kom, skenk hulle hul boklere as ’n saal vir Hom en help Hom om op sy ereplek te gaan sit. Diegene wat nie die voorreg het om hul klere op die donkie te lê nie, vind ’n doel daarvoor: Hulle lê dit op die grond neer sodat Jesus in sy heerlikheid nêrens aan die grond hoef te raak nie. Ander kap takke van die palmbome af, wuif daarmee en lê dit voor sy voete neer. Palmtakke was in daardie dae die simbool van ’n koning. Dít is waaroor dit hier gaan: Jesus word as Koning geëer! Ook die vul is ’n teken daarvan, want die donkie is destyds in die ooste as ’n koninklike dier beskou. Daarom dat elk van die rigter Jaïr se dertig seuns, wat elkeen ook ’n stad besit het, op ’n jong donkie gery het (vgl Rig 10:4). Boonop besef almal: Op hierdie rustige Sondag word die profeet Sagaria se woorde in die mees letterlike sin vervul:

Sê vir Sion:

Kyk, jou Koning kom na jou toe;

Hy is nederig en Hy ry

op ’n donkie,

op die vul van ’n pakdier (Matt 21:5).

Terwyl die skare oor die Olyfberg stroom en die stad van die groot Koning gryswit voor hulle oopgaan, die Sionsberg verhewe in die songlans bewe en hulle die stad aanskou met sy skanse, sy paleise en sy toringtranse, lê die woorde uit die ou Psalmboek (vgl Ps 48) skielik nuut op hul tong: woorde wat hulle as kinders geleer en dikwels later in die voorhof van die tempel gesing het. Maar nou is dit asof dié eeu oue woorde skielik lewend en werklik word, en hulle sing en jubel dit uit:

Prys die Seun van Dawid! (“Hosanna vir die Seun van David!” – 1953-hersiening)

Loof Hom wat in die Naam van die Here kom!

Prys Hom in die hoogste hemel! (Matt 21:9).

Toe hulle nog naby Jerigo was, het die gedagte aan die verskyning van die koninkryk van God al onder die skare begin posvat (vgl Luk 19:11). En hier by die poorte van Jerusalem gee hulle uiting daaraan. Dit is Jerusalem dié, die stad van die groot Koning. En hiér is die Koning, die lank beloofde Messias van Israel.

’n Feestelike geleentheid. Matteus skroom nie om te sê ’n opskudding is veroorsaak en die stad het in vervoering geraak toe Jesus Jerusalem deur die Goue Poort binnery nie. En met humor skets Johannes die krisis wat dit onder die Fariseërs veroorsaak het. Maande lank het hulle probeer om die Nasarener se invloed uit te wis. Nou lyk dit asof hul pogings tevergeefs was, en verwytend word die leiers toegesnou: “Sien julle, julle rig niks uit nie! Kyk, die hele wêreld gaan agter hom aan!” (Joh 12:19). ’n Paar dapperes waag dit selfs om Jesus te vermaan: “Meneer, maak stil u volgelinge!” Teen hul sin moet die Fariseërs erken dat die hele optog uit Jesus se volgelinge, sy dissipels, bestaan. En hulle weet dat sy antwoord waar is: “Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep” (Luk 19:39-40). God sal uit die klippe kinders vir Hom opwek om Jesus as Koning te eer.

Tog is Jesus nie bly hieroor nie. Te midde van die vreugde en feestelikheid is daar Een wat huil. En die woord wat Lukas hier vir “huil” gebruik, beteken nie dat daar net ’n paar trane in Jesus se oë gekom het soos by die graf van Lasarus nie, maar dat Hy hoorbaar en klaend gehuil het.

Waarom was Hy dan so bedroef? Omdat die skare se Koningsoptog uitsluitlik met politieke kruit gelaai was, met nasionalistiese plofstof. By hulle het dit nie gegaan om die koninkryk van God nie – al is die Naam van God ook vroom bygehaal – maar om die koninkryk van die volk Israel. Hul droom was om die Romeine te verdryf. Hulle het verwag dat Jesus sou opruk teen die Antonia-vesting, waar die gehate Pilatus, die landvoog van Rome, tydens die fees gebly het. Hulle het vergeet dat Sagaria se profetiese woorde, wat op hierdie Sondag vervul is, daarna verwys dat God die strydwaens en perde, die pyl en boog uit Efraim en Jerusalem wil uitroei en vernietig, sodat die Koning vrede vir die nasies kan afkondig (vgl Sag 9:10).

Daarom het hulle ook nie besef wat hul ware nood was nie: dat hulle nie onderdane van die Romeine geword het nie, maar dat hulle in onvrede met God geleef het. En dít is die vrede wat gesoek moet word. Dít is die vrede wat Jesus wou bring. Sy wil was dat die volk van God – ja, die hele wêreld – Hom sou volg sodat Hy hulle na die tempel kon lei en vrede tussen God en hulle kon bewerkstellig. Maar op hierdie dag weet die mense in Jerusalem nie wat vir hulle vrede sal bring nie. Hulle dink vrede sal aanbreek wanneer hulle die Romeine aanval; maar dit sou net tot groter knegskap lei. Daarvan sien Jesus op hierdie oomblik ’n helder visioen, en daarom huil Hy bitterlik. Terwyl die stad voor Hom in die lentelig lê, sien Hy die dae wat kom, wanneer die vyande vestings teen die stad sal oprig, hom sal omsingel en van alle kante beleër (vgl Luk 19:43). “Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie” (v 44).

Dit is die eindpunt waarheen die entoesiastiese skare gevoer word, en daarom huil Jesus. Hy laat Hom nie deur hul geesdrif meevoer nie, want in hul blye “Hosanna!” hoor Hy reeds die meedoënlose: “Kruisig Hom!” Toe hulle die takke van die bome afgebreek het, het Hy reeds gesien hoe hulle die takke van die boom verwyder waaraan hulle Hom sou vasslaan. Hul klere op die grond was reeds vir Hom die beeld van sy verdeelde klere in ’n bondel op die grond voor die kruis.

Die opwinding van hierdie Sondag het soos ’n strooivuur uitgebrand toe Jesus nie na die Antonia-vesting nie, maar na die tempel gaan. So baie mense het dié indrukwekkende optog verlaat dat net ’n skrale dertien oorgebly het. Blykbaar het net Jesus en die twaalf by die tempel aangekom. En nadat Hy alles daar bekyk het, en omdat dit al aand was, het Hy en die twaalf na Betanië teruggegaan om weer daar te oornag (vgl Mark 11:11).

Jesus het geweet daar was net een manier om ware vrede tussen God en die mense te bewerkstellig: Hy wat die Koning is, sou bereid moes wees om hul Hoëpriester te word en Hom vir hulle te offer; Hy sou bereid moes wees om die kloof tussen God en mens met sy lewe te oorbrug. En Hy was bereid om dit te doen. Daarom het Hy die versoeking van hul geesdrif weerstaan, en daarom was Hy die volgende oggend terug in Jerusalem.

Die eerste dag van die laaste week wat so feestelik begin het, was vir Jesus dus eintlik ’n dag van onpeilbare smart: die dag van die begin van sy lyding en die eerste tree op die pylvak van sy Via dolorosa.

Die Laaste sewe dae

Подняться наверх