Читать книгу Blits: Perlemoendiewe - Nadine Blom - Страница 5
ОглавлениеMy ma noem my ’n ewige optimis. Verder is ek ook nie ’n baie goeie verloorder nie, ’n eienskap wat gereeld moeilikheid tussen my en my suster veroorsaak.
Al wat ek weet, is ek moet aan ’n plan dink om hierdie ding om te draai. Martin Garrix en Marshmello is soos DIE show, en ek het Zander belowe.
My selfoon bliep. Dis Zander. Hey dude, w m j? Hu lykit met ’n surf?
Ek kyk op my foon. 16:10 … Jaaaa wat. Ons het nog ten minste drie uur sonlig oor en ons huiswerk is min, want die skool sluit Vrydag.
Ek antwoord terug. Kewl, pers huisie oor 10
My Whatsapp wil nie deurgaan nie. Bummer. My data is op. Hoe kon ek vergeet?
Plan B. Ouma het ook ’n selfoon, maar sy het nie Whatsapp nie. Sal maar ’n SMS moet stuur van Ouma se foon af. Ek sluip na haar kamer toe en kry haar selfoon waar dit, soos altyd, op haar bedkassie lê tussen die Kleenex-boksie en al haar Mills & Boon-boeke.
Ouma love lees, net soos my ma en my suster. Vrouens is net weird. Regtig. Ek SMS vir Zander, delete die SMS uit Ouma se sent box en skiet in die gang af om in my wetsuit te gaan spring. Ek gryp ’n piesang vir padkos en met my surfboard onder my arm laat waai ek op my longboard strand toe.
Melkbos se lane is vanmiddag stil. Daar is ’n rugby game by die skool en almal is daar. Ek en Zander is nie groot op rugby nie, ons is tennis-ysters. Federer en Nadal op ons beste.
Ek haal diep asem en ruik die see. Melkbos is die heel beste plek op aarde. Ek het al vir my pa gevra of hy nie kan reël dat daar ’n universiteit in Melkbos gebou word nie, want ek wil nooit ooit hier weggaan nie. My pa het net gelag en gesê hy kan baie dinge reël, maar daai is ’n moeilike enetjie.
’n Kar briek skielik met ’n skreeugeluid agter my en ek vlieg om. ’n Swart paneelwa. Wat de …?
Die bestuurder het ’n donkerbril op en lig sy hand asof hy vir my wil wys hy sal my ’n backhand gee. Beslis nie ’n local nie. Dis vir seker.
“Magtag! Kyk waar jy ry!” skree ek.
“Waar de heng het daai vandaan gekom?” vra Zander terwyl hy ’n broadie langs my gooi. “Die ou het my amper kas toe gery …” Zander frons terwyl hy die paneelwa met skrefiesoë agterna staar.
“Ek het nie ‘n clue nie. Jy reg vir surf?”
“Jip. Die swel is huge vandag!”
Zander is my maat van kleuterskool af. Hy ken my beter as my eie familie. Ons het al baie mal goed saam aangevang. Sy pa het eenkeer ’n nuwe kar gekoop in ’n kleur waarvan ons nie baie gehou het nie. Toe besluit ons om die oom ’n guns te doen en die kar ’n ander kleur te verf.
Ons het ’n blik geel verf in Zander-hulle se garage gevat en aan die werk gespring. Toe sy pa-hulle by die huis kom, was ons meesterstuk klaar. Zander se pa het ons amper vrek gemaak en ons twee moes vir maande gras sny en kar was by al die bure om geld te verdien sodat ons kon help betaal vir die skade aan die kar.
Zander trek sy wetsuit aan en draai om sodat ek die rits vir hom kan optrek. “Wat pla, ou? Jy lyk soos ’n donderstorm.”
“Gina is vandag alweer op my case.”
“Ag, Gina is ’n lammetjie, man, jy moet net weet hoe om met haar te werk.” Zander manoewer sy wenkbroue op en af soos James Bond.
“Ons het nie almal blonde hare en blou oë nie, Zander. En jy ken nie vir Gina soos ek haar ken nie.” Ek wil nie vir hom sê dat die Martin Garrix en Marshmello ding af is nie. Ek moet ’n plan maak en dit uitsorteer. Ek kan hom nie drop nie. Hy lewe vir musiek.
“Vanaand voel sy weer beter, jy weet hoe is matriekmeisies,” mompel Zander.
“Is ook weer waar, dis nou genoeg gemoan. Kom ons gaan,” sê ek en high five vir Zander.
Toe ek die eerste golf vat, vergeet ek van al my skoolwerk, my befoeterde suster en of ons die show gaan maak of nie.
Ons check elke golf wat kom en score dit uit tien. Zander ken die see beter as enige iemand anders in Melkbos en hy weet hoe die strome loop.
“Nege!” skree hy en ek roei myself dieper in sodat ek die golf betyds kan vang. “Whohooooo!”
Die golf swoer en suis om my en ek voel soos ’n vis in die water. Ek curve en corner, en proe die sout van die see in my mond. Wowit. Ek lief my lewe.
Toe ek opkom, sien ek Zander is al weer op pad na die volgende golf toe. Dié een breek onverwags en hy doen ’n Eskimo roll. Joh, ek kon daai nog nooit regkry nie. Jy kan dit net doen as jy op jou pa se surfboard grootgeword het.
Ons ry golf vir golf tot ons honger raak en Zander die teken gee dat ons die laaste twee moet vat. Ons noem dit die absf. Dit staan vir absolute semi-final. Soms is daar ook ’n abf en ’n abff – absolute final en absolute flippen final.
Maar nou is ons eers honger en lus vir ’n milkshake by Goofy’s. Ons pel waitress twee keer ’n week daar en ons hang graag saam met haar daar uit.
Luna is baie mooi en altyd vriendelik met ons. Ek vermoed Zander hou bietjie meer van haar as ek.
Hy skud die seewater uit sy hare. “Flip, ek is bly dis vakansie. Nou kan my hare vir ’n slag weer groei,” sê hy terwyl hy op een been spring om die water uit sy ore te kry.
Ek trek my wetsuit uit en droog af. “Ek hou van kort hare, man, dis minder werk. Het jy al gesien hoe lyk ek met lang hare, soos ’n wannabe Justin Bieber.”
“Oeg, net nie dit nie, ou. Netnou kan daai Carla weer nie haar oë van jou afhou nie.” Zander tel sy surfboard op en begin stap in die rigting van Goofy’s.
“Hoe meen jy nou? Carla wie?” Dan tref dit my. “Carla Cookiemonster?” sê ek terwyl ek langs hom inval.
Zander lag. “Sy’s oulik, man, ek het al gesien jy loer haar so van die kant af.”
Ek kyk voor my uit en dink twee keer oor hoe ek nou vir Zan gaan antwoord. My ouma sê mens praat altyd met respek van vrouens. Maak nie saak wat nie.
“Jissie, ou, Carla is nie ’n bad chick en so aan nie, maar sy laaik bietjie kwaai van eet,” sê ek versigtig.
Zander lag. “Kan jy dink watse lekker kos sy vir jou sal kook eendag as julle getroud is?”
Ek lag toe ek agterkom Zander is weer besig om my been te trek. Ek sal hom later terugkry. Glo my, ek sal.
Ons stap in by Goofy’s en gaan sit op ons gewone plek. Luna kom nader met haar bestelboekie. Zander het lankal ’n ogie op haar, maar sy is ’n akademiese wrak en fokus op haar skoolwerk. Dis nou wanneer sy nie by Goofy’s werk nie.
“Dis nie vir my reg dat so ’n mooi meisie so lief moet wees vir leer nie. Sy kan vir jou nee sê vir ’n fliek-date en dit soos ’n kompliment laat klink,” sê Zander onderlangs.
“Lekker gesurf?” vra sy met ’n breë glimlag.
Zander bloos bloedrooi en ek gryp my kans. “Ja, maar, uhmm, ek dink Zander was bietjie lank in die son, want soos jy kan sien, is hy nou bloedrooi …”
Luna glimlag en haal haar boekie uit haar voorskoot om ons bestelling te neem. Ek sien uit die hoek van my oog hoe Zander kastig sy hare met sy swemhanddoek afdroog om sy rooi gesig weg te steek.
“Kan ek vir julle die gewone bring?” vra Luna en knip vir my oog. Het Zander dit gesien?
“Jip. ’n Man is mos nou dors,” sê ek.
“Uhm … ek sal ook die gewone vat, dankie, Luna,” sê Zander.
Toe sy omdraai en kombuis toe stap, sien ek hoe Zander haar verlief agterna staar. Sy normale velkleur is darem nou terug.
“Dankie, ou, jy’s ’n ware vriend,” mompel hy vies vir my.
“Wat bedoel jy, enige aap kan sien jy’s verlief op Luna. Jy bloos soos ’n tamatie as sy naby jou kom,” lag ek.
Zander probeer vir ’n oomblik ernstig kwaai lyk, dan doen hy weer daai James Bond-wenkbrouding. “Jy gaan nog sien, sy gaan nog ja sê vir my. En daai dag is nie ver nie. Ek kan mos sien hoe kyk sy vir my,” sê hy selfvoldaan.
“Ek is seker maat, veral as sy saam met jou op ’n date gaan en jy lyk die hele aand soos ’n glow-in-the-dark-tamatie,” lag ek.
Zander lag saam. “Ten minste is ek nie skaam om my gevoelens te wys nie. Jy weet? Meisies hou daarvan as ons ouens vir hulle wys hoe ons voel.”
“Jissie, jy moet bietjie kom tee drink by my ouma, dan kan julle saam love stories lees. Lyk my jy ken van,” spot ek hom.
“Jy weet wat Luna se naam beteken, nè?” vra Zander.
“Huh-uh.”
“Dit beteken maan,” sê Zander.
“Soos in die maan en die sterre? Eish, maat, you’ve really got it bad. Jy weet tot wat haar naam beteken. Weet jy wat haar hond se naam is en haar bloedgroep ook?”
Voor hy my kan antwoord, kom Luna teruggestap met ’n skinkbord.
“So, wat maak julle als die vakansie?” vra sy.
“Ag, ons is maar net hier rond …” antwoord Zander. “En jy?”
“My niggie kom kuier bietjie by my. My ma gaan haar nou-nou by die lughawe oplaai. Maar dis eintlik al,” sê sy terwyl sy die milkshakes en bordjies slaptjips voor ons neersit.
Zander loer na my kant toe en vorm met sy lippe die woord niggie sonder dat daar ’n klank by sy mond uitkom. Hy maak keel skoon voor hy praat. “So … uhm, hoe oud is jou niggie?” vra hy versigtig.
“Ooo, sy is een jaar ouer as ek, hoekom?”
Zander grinnik. “Nee wat, ek stel maar net belang, jy weet.”
Luna kyk na my kant toe en glimlag. “Is daar nog iets wat ek vir julle kan bring?”
Ek kyk na Zander en antwoord half ongemaklik. “Nee, ons is oraait, dankie.”
Zander suig al aan sy milkshake.
“So, hoe lyk dit, gaan ons die vakansie bietjie fliek saam met Luna en haar niggie?” vra Zander terwyl hy tamatiesous oor sy tjips gooi.
“Nee, flip, ek weet nie. Ons moet eers kyk hoe lyk haar niggie. Netnou sit jy daar met die date of the century en ek slat ’n epic fail.”
Dalk is dit beter as ek my ma vra om hulle weer een aand oor te nooi vir ’n braai. Luna se pa is een van my mees favourite mense. Hy is ’n kaptein in die Valke en hy werk met al die interessante sake soos perlemoenstropery en diamantsmokkelaars. Hy het eenkeer ’n groot sindikaat oopgevlek wat meer as 150 ton perlemoen gestroop het.
“Maar Luna-hulle braai mos partykeer by julle?”
Ek vat nog ’n sluk van my milkshake. “Hmm. Haar pa en my pa werk so nou en dan saam aan sake.”
“Flip, jy’s lucky,” sê Zander en staar met babahondjie-oë na Luna wat besig is om die tafel oorkant ons te bedien.
“Double thick lime milkshake by Goofy’s op ’n Vrydagmiddag. Wat kan dan beter wees?” sê ek om sy aandag terug te kry by ons gesprek.
“Jip, die Desembervakansie strek voor ons uit soos ’n lang Hawaise strand. Dis die lewe!” Zander se selfoon bliep. Hy haal dit uit sy rugsak en tik sy passcode in.
“Dis my ma. Sy sê hulle gaan uit vanaand en vra of ek iemand wil oornooi.”
“Hei, hoekom kom slaap jy nie eerder by my oor nie?” vra ek. “My ouers gaan ook uit, dan kan ons XBox jol en net rustig wees.”
“Oukei, kwaai, ek sal by my ma hoor,” sê Zander. “Ek het ’n nuwe game gekry wat ek kan saambring.”
Hy bêre sy foon in sy sak en gooi die sak oor sy skouer. “So, gaan ons skiet?”
“Ja. Maar ek beter die wit vlag daar by ons huis gaan swaai voor die Yskoningin my vir ewig in haar kasteel opsluit.”
Buite sit ek my surfboard op my skouer en begin huis toe stap. Dink, brein, dink. Hoe om vir Gina sag te kry …
Ek draai regs in 6de Laan en vat die straights langs die see af na ons huis toe. My kop spring terug na die swart paneelwa toe. Wie was daai ouens en hoekom swart vensters? My speurradar lui klokkies. Ek moet uitvind wat daai ouens in die dorp maak. Gouer as later. Vanaand is dit ek en Zan en die swart paneelwa.