Читать книгу Jesus vir almal - Neels Jackson - Страница 6

Hoofstuk 1

Оглавление

~

Jesus is die Here

Ek begin hierdie gedeelte oor Jesus met ’n gebed:

Grote God, U is so gans anders as ons.

U is in soveel opsigte onbegryplik,

maar dankie dat U nie onbekend is nie.

Dankie dat U u Godwees in menswees vertaal het.

Dankie dat U Uself in Jesus van Nasaret aan ons

kom toon het.

Dankie dat die verhale oor Jesus vir ons opgeteken is.

Dankie, Jesus, dat U nou deur u Gees lewend by ons is.

Help ons nou om die verhale oor U goed te verstaan,

sodat ons beter kan weet wie U is,

wie God is.

Amen.

Twee bakens

Ek het grootgeword met die gedagte dat Jesus die oppergesag in my lewe is.

As klein seuntjie sou ek dit natuurlik nie in sulke woorde gesê het nie. Maar of ek dit nou so kon sê of nie, ek het dit van kleins af verstaan. Jesus is die hoogste en finale gesag, want Hy is God. Hy het die laaste sê.

Eers baie jare later sou ek leer dat dit in wese die eerste belydenis van die vroegste kerk was. Daardie eerste groepie gelowiges wat ná Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees ’n nuwe beweging begin het, het bely: “Jesus is die Here.”

Ons lees hierdie belydenis reeds in die Nuwe Testament raak. In Romeine 10:9 staan daar: “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.” Hierdie belydenis is die toetssteen van die Christelike geloof. Daarom staan daar in 1 Korintiërs 12:3 dat niemand kan sê: “Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.

Vir die eerste volgelinge van Christus wat uit die Joodse geloof gekom het, was hierdie belydenis ’n voortsetting van die woorde in Deuteronomium 6:4, wat die hoeksteen van die Joodse geloof gevorm het: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.”

Ek is dankbaar dat hierdie belydenis steeds die belydenis van my hart is. Ek kan vandag bely dat Jesus ook my Here is. My verstaan van dié belydenis het gegroei, sodat dit nie meer presies dieselfde as destyds is nie, maar ek bely dit met groter oortuiging as ooit tevore. Ek sing graag Lied 177 uit die Liedboek van die kerk:

Jesus, gróót bo almal –

sterke Verlosser, magtige Heer en Heiland,

Immanuel – God is met ons –

reddende Here, lewende Woord.

’n Tweede gedagte waarmee ek grootgeword het, is dat die Bybel die Woord van God is. Dit is die bepalende koersaanduider vir my lewe. Dit is die boek waardeur ons God leer ken, maar ook die boek waardeur ons God se stem hoor.

Ook dít is ’n oortuiging waarby ek steeds staan, ook met meer oortuiging as toe ek ’n seuntjie was. Maar ook wat dit betref, het ek geleer om beter te verstaan wat ek daarmee bedoel.

Hierdie twee oortuigings – dat Jesus die Here is en dat die Bybel die Woord van God is – is die hoekstene van my geloof. Dit is daarom ook my vertrekpunte vir enige gesprek oor die geloof, en spesifiek vir die gesprek oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

Dit is egter ongelukkig so dat Christene, mense wat hulle geloof in die drie-enige God bely, nie hierdie kernbelydenisse op dieselfde manier verstaan nie.

Self verstaan ek dit anders as toe ek dit as seuntjie aangeleer het. Daar was baie spesifieke ervarings wat my gehelp het om in my verstaan van hierdie belydenisse te groei. Ek deel ’n paar van hierdie ervarings in hierdie boek om daardeur te vertel wat ek oor Jesus en die Bybel geleer het, en hoe ek geleer het om Jesus en die Bybel te verstaan.

Die Bybel

Toe ek ’n klein, klein seuntjie was, het my ma en my susters elk ’n hoed gehad wat hulle kerk toe gedra het. Dit was hoe dit was: Vroue het hoede gedra kerk toe, soos mans dasse kerk toe gedra het.

En toe, iewers in my vroeë laerskooljare, bars daar ’n groot debat in die kerk uit oor of vroue wel ’n hoed kerk toe moet dra. Dié debat is onder meer in koerante se briewekolomme gevoer en ek het dit met aandag gelees – waarskynlik nie omdat die dra van ’n hoed vir my ’n belangrike saak was nie, maar omdat ek nuuskierig was, en dalk omdat ek toe al ’n aanvoeling gekry het dat dit hier oor baie meer as hoede gaan. Dit gaan oor die Bybel, en oor hoe ons verstaan wat in die Bybel staan. Die Bybel is immers die Woord van God.

Ek onthou dat daar destyds dominees was wat vroue by die kerk uitgejaag het as hulle sonder ’n hoed daar sou opdaag. Of as die ietsie wat hulle as ’n soort hoofbedekking gedra het, volgens die dominee se sin, te skraps was. Sommer so van die kansel af, as die dominee so ’n vrou in die banke vol mense voor hom sou opmerk, sou hy haar betig en uit die kerk wegstuur.

Sulke dominees het ’n Bybelgedeelte gehad waarop hulle hulle beroep het: 1 Korintiërs 11. In dié gedeelte, van vers 2 tot 16, word daar in soveel woorde gesê dat ’n vrou tydens die erediens iets op haar kop moet dra. En dit is nie net ’n losstaande opmerking nie. Daar word ’n hele argument gevoer om dit te regverdig.

Maar toe kom daar ’n verduideliking wat gou deur die hele kerk aanvaar is: Ons moet die voorskrif dat ’n vrou vir die erediens iets op haar kop moet sit, verstaan as deel van die kulturele konteks van die Bybelse tyd. In die destydse kultuur sou dit vir ’n vrou skandalig gewees het om met ’n kaal kop in die openbaar te verskyn. Sou sy dit doen, sou sy soos ’n prostituut lyk. Paulus se voorskrif het daarom ten doel gehad om daardie skande te vermy. Dit gaan nie oor die hoed as sodanig nie. Dit gaan oor die skandalige gedrag wat vroue behoort te vermy.

In vandag se kultuur het ’n hoed glad nie meer hierdie kulturele betekenis nie. Dit sou in vandag se kultuur geen skande wees as ’n vrou sonder ’n hoed in die erediens sou verskyn nie. Daarom hoef vroue nie hoede kerk toe te dra nie, al staan dit so in die Bybel. Maar al hou ons nie meer by hierdie letterlike voorskrif nie, sou mense waarskynlik steeds saamstem dat dit nie goed sal wees as ’n vrou haar soos ’n prostituut gedra nie.

Dit het my ’n belangrike les geleer: Ons kan nie alles wat ons in die Bybel lees net so op vandag van toepassing maak nie. Daar is ’n groot kultuurverskil tussen ons en die gemeenskappe waarin die Bybel ontstaan het. Ons moet, in ons vertolking van die Bybel, die kulturele kontekste van toe en nou in ag neem. Ons moenie net na die woorde kyk wat daar staan nie. Ons moet vra wat die bedoeling met daardie woorde destyds was en wat dit vir vandag sou beteken.

Ek het ook ’n tweede les oor die Bybel geleer, wat voortgespruit het daaruit dat ek die Bybel en dit wat daarin geskryf staan regtig ernstig wou opneem.

’n Mens hoor soms dat mense met nadruk sê hoe belangrik die Bybel vir hulle is, maar as jy ’n bietjie met hulle gesels, kom jy agter hulle lees nie regtig die teks nie. Hulle het so ’n paar godsdienstige idees wat hulle dink uit die Bybel kom, en om dié idees te regverdig of te propageer of te verdedig, beroep hulle hulle op die Bybel. Soms kom daardie idees nie eens regtig uit die Bybel nie.

Een voorbeeld hiervan is die gedagte dat Jesus sou gesê het ’n mens moet soos ’n kind glo. En dan bedoel hulle jy moet naïef glo, glo sonder om te dink of vrae te vra, blindelings moet glo. Mense glo dit, want hulle glo dit is wat Jesus gesê het. Maar dit is nié wat Jesus sê nie. Jesus sê in Matteus 18:1-5 ons moet soos kinders wórd. Kinders was onbelangrik in die destydse samelewing en Jesus sê ons moet net so onbelangrik word. Dit is iets wat Hy oor en oor op verskillende maniere sê. Ons moet net reg lees.

Ook waar Jesus in Lukas 18:15-17 sê ons moet die koninkryk soos kindertjies ontvang, sê Hy nooit ons moet naïef glo nie. Dit is eintlik ’n baie vreemde gedagte dat God vir ons die gawe gee om te dink, maar dat ons dit dan nie mag gebruik nie. Dit klop ook nie met die opsomming van die wet nie. Daarin staan tog dat ons God met ons hele verstand moet liefhê.

Die punt is, ons moet die teks ernstig opneem. Ons moet lees wat regtig in die teks staan en verstaan wat daarmee bedoel word.

Juis omdat ek die teks ernstig opgeneem en probeer lees het wat regtig in die Bybel staan, het ek onder die indruk gekom van die groot aantal kere dat daar teenstrydighede of oënskynlike teenstrydighede in die Bybel is.

Vanuit ’n sekere hoek beskou, sou ’n mens selfs kon sê die Bybel is “vol foute”. Inderdaad is daar dan ook baie mense wat dit sê. Vir my het dit ’n krisis geword. Ek het later gewonder of ’n mens regtig die Bybel nog die Woord van God kan noem.

Een voorbeeld om dit mee te illustreer, is die verhale oor Jesus se verskynings nadat Hy uit die graf opgestaan het. In al vier Evangelies lees ons van ’n vrou of vroue wat die oggend na Jesus se graf toe is. Daar kry sy of hulle die leë graf. Maar die vier Evangelies verskil van mekaar oor watter vrou of vroue dit was. Volgens Matteus was dit Maria Magdalena “en die ander Maria” wat gegaan het. Markus sê dit was Maria Magdalena, Maria die ma van Jakobus en Salome wat gegaan het. Lukas praat van Maria Magdalena, Johanna, Maria die ma van Jakobus en die ander vroue saam met hulle. En Johannes praat net van Maria Magdalena.

As dit gaan oor die historiese feit van watter vrou of vroue by die leë graf aangekom het, het elke Evangelie ’n ander weergawe. As jy die Bybel sou probeer lees soos ’n boek wat ’n foutlose geskiedenis oorvertel, word dit natuurlik ’n probleem. Want dan beteken dié verskille dat minstens drie van die vier Evangelies foute bevat, en ons weet nie watter drie dit is nie.

Ek moes leer verstaan dat die Bybel ook ’n menslike boek is, ’n boek wat byvoorbeeld, vanuit ’n historiese hoek beskou, foute bevat.

Maar al verskil die Evangelies oor watter vroue na die graf toe is, is hulle eendragtig daaroor dat die graf leeg was. Dat Jesus uit die dood opgewek is. En dit is tog waaroor dit gaan. Oor hierdie geloofswaarheid verskil die Evangelies nie van mekaar nie. In die boodskap waaroor die Evangelies saamstem, hoor ons die reddende liefde van God. En dit is hoe God se Woord na ons toe kom, in die boodskappe van sy reddende liefde.

Ek het geleer dat die Bybel ’n eg menslike boek is, terwyl dit ook die Woord van God is. Dit is nie die een óf die ander nie. Albei is gelyk waar.

Maar dit beteken ’n mens kan die Bybel nie in alle gevalle bloot op sigwaarde lees en alles wat jy lees op dieselfde vlak plaas nie. Jy moet die Bybel met onderskeiding lees om werklik te bepaal wat die geloofsboodskap is wat die skrywers wou oordra. Want dit lyk vir my dit is in hierdie geloofsboodskap dat die Woord van God lê.

Terwyl ek bedenkinge gehad het oor die vraag of ’n mens die Bybel “die Woord van God” kan noem, het ek ook besef daar is baie woorde in die Bybel wat tog nie van God kom nie. Daar is selfs woorde van Satan in die Bybel. Daar is woorde van mense wat skree: “Kruisig hom!” Dit is tog nie God se woorde nie.

Toe besef ek ’n mens moet onderskei tussen “die Woord van God” en “woorde van God”. Dié twee frases beteken twee verskillende dinge. Om te bely die Bybel is die Woord van God, beteken nie elke woord en alle woorde in die Bybel is woorde van God nie.

Die woord woord het ook ander betekenisse, wat nie op ’n enkele woord dui nie. So is ’n “spreekwoord” ’n versameling woorde wat saam ’n boodskap oordra. As iemand by ’n geleentheid “die woord doen”, hou hy of sy ’n toespraak met baie woorde. As iemand sy of haar woord gee, belowe hy of sy iets, en hierdie belofte kan uit baie woorde bestaan.

Toe ek dít besef, het ek verstaan dat die term “die Woord van God” nie na die individuele woorde van die Bybel verwys nie. Dit verwys eerder daarna dat ons God se stem op ’n manier deur die Bybel hoor. Die Bybel is die boodskap van God. En dit kon ek glo. Daarmee het my probleme met die term “die Woord van God” heeltemal verdwyn.

Ek glo vandag met groot oortuiging dat ek die boodskap van die Bybel kan glo. Ek hoef my nie blind te staar teen afsonderlike verse of woorde nie. Ek moet seker maak ek verstaan die boodskap wat deur daardie verse en woorde oorgedra word reg. Verder aanvaar ek dat daardie boodskap bepalend vir my lewe is.

Met dit alles gesê, het ek ook geleer dat ek die Bybel slegs in die tweede plek die Woord van God kan noem. In die eerste plek is Jesus Christus self die Woord van God. Hy is die boodskap wat God na die aarde toe gestuur het. Dit is deur Hom dat God aan ons op die volledigste manier bekendmaak wie Hy is, en hoe Hy is.

Omdat die Bybel die boodskap oor die vleesgeworde Woord aan ons bring, kan ons dit ook die Woord van God noem. Maar die Bybel is nie op dieselfde vlak as Jesus nie. Jesus is die Here, en die Bybel vertel vir ons meer van Hom.

Jesus

Ook wat Jesus betref, het my geloofsreis my op kronkelpaaie gelei om te kom tot waar ek nou is. Ek het grootgeword met die gedagte dat Jesus die Seun van God is, en dat Hy self ook God is. Dit is een van daardie stellings wat ek sommerso aanvaar het. Dit was immers nêrens in my leefwêreld regtig in dispuut nie.

Maar toe kom daar ’n tyd dat ek deur diep twyfel gegaan het.

Dit het gebeur toe ek in die jaar 2000 bewus geword het van ’n akademiese gesprek in kerklike kringe oor die “historiese Jesus”. Eintlik was hierdie gesprek toe al ’n eeu en ’n half lank in akademiese kringe aan die gang, maar wêreldwyd, ook onder party Afrikaanse teoloë, was daar ’n herlewing van hierdie ou debat.

Die argument onderliggend aan die soektog na die historiese Jesus verloop soos volg: Die vier Evangelies is nie moderne geskiedskrywing nie. Die doel daarmee was nie om die geskiedenis so akkuraat moontlik op te teken nie. Daarom dat die Evangelies plek-plek oor historiese gegewens van mekaar verskil.

Wat die Evangelies wel was, was dokumente wat hulle lesers van ’n geloofstandpunt wou oortuig. Dit is deur volgelinge van Jesus geskryf om ander mense te oortuig om ook gelowiges te word, of om ander gelowiges aan te spoor om vas te staan in die geloof. Eerder as ’n akkurate beskrywing van Jesus se geskiedenis, was dit bemarkingsmateriaal vir Jesus.

Die vraag het natuurlik toe ontstaan of dit moontlik sou wees om ’n meer akkurate historiese prentjie van Jesus te skets. En dit het die weg gebaan vir allerlei hipoteses en voorstelle.

In dié gesprekke het daar ’n klomp interessante gedagtes na vore gekom, maar ook ’n klompie sienings wat die tradisionele geloof tot in sy diepste fondamente bevraagteken het. So was daar stemme wat aangevoer het die hele gedagte dat Jesus God is, kom nie van Jesus self nie. Dit, en die belydenis dat God ’n Drie-eenheid is, is eers in die vierde eeu geformuleer. Só is daar aangevoer.

Dit is hierdie soort vrae en argumente wat my by ’n punt gebring het waar ek nie geweet wat ek nog kan glo nie. As ek nou terugkyk, staan daar ’n paar bakens op my geloofspad wat my gehelp het om my geloof te behou.

Die eerste was toe ek begin verstaan het dat van die heel oudste geskrifte in die Nuwe Testament reeds daarna verwys dat Jesus God is. Dink maar aan die gedeelte oor die voorbeeld van Jesus Christus in Filippense 2:6-11: “Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word” (v 6-7).

’n Paar verse later loop dié loflied uit op die belydenis dat Jesus die Here is. Hierdie gedagtes het nie 300 jaar ná Jesus se aardse lewe ontstaan nie. Dit het waarskynlik minder as 30 jaar ná sy kruisiging op skrif neerslag gevind, wat beteken dit was vroeër reeds deel van die oortuigings wat gelowiges mondelings met mekaar gedeel het.

Vir my lyk dit of dit ’n kernoortuiging van die Christelike geloof is wat waarskynlik vanaf die eerste weke ná Jesus se opstanding uit die dood reeds bestaan het. Toe die dissipels weer tot verhaal gekom het ná daardie verstommende Paasnaweek in Jerusalem, was dít wat hulle geglo het: Jesus is die Seun van God. Hy is God self. En Hy is die Here oor hulle lewe.

Ek het later geleer om in die Bybel die fyn verwysings raak te lees waardeur die skrywers vir ons wou sê dat Jesus God is.

’n Belangrike oomblik wat my gehelp het om dit te verstaan, het gekom tydens ’n diens op ’n Donderdagaand voor ’n Paasnaweek. Die predikant het uit die Evangelie van Johannes gepreek. Hy het Johannes 18:1-11 gelees, die gedeelte waar Jesus in die tuin van Getsemane in hegtenis geneem word.

Wanneer die soldate en die wagte van die priesterhoofde kom om Hom gevange te neem, tree Jesus vorentoe en vra: “Vir wie soek julle?” Hulle sê toe: “Jesus van Nasaret.” Hierop sê Jesus: “Dit is Ek!” En dan lees ons ’n stukkie wat my nooit vantevore opgeval het nie: “Toe Jesus dan vir hulle sê: ‘Dit is Ek!’ het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.”

Die predikant het verduidelik dat hierdie vreemde reaksie van die soldate en die wagte ’n reaksie was op die woorde: “Dit is Ek!” En dit het gebeur omdat hierdie woorde ’n baie sterk sinspeling is op die woorde waarmee God Hom vanuit die brandende bos in die woestyn aan Moses bekendgemaak het: Daar het God gesê: “Ek is wat Ek is.” In Hebreeus is die ooreenkoms tussen God se “Ek is” en Jesus se “Dit is Ek!” blykbaar baie duideliker as in die Afrikaanse Bybelvertaling.

Die soldate en die wagte het die onuitspreeklike Naam van God in Jesus se antwoord gehoor. Volgens Johannes se vertelling het hulle gehoor dat Jesus vir hulle sê Hy is die God wat aan Moses in die woestyn verskyn het.

Ek het daardie dag besef elke keer wanneer Jesus in die Johannesevangelie ’n uitspraak maak wat begin met “Ek is”, Hy in werklikheid sê Hy is God. En daar is sewe sulke uitsprake:

~“Ek is die brood wat lewe gee” (6:35)

~“Ek is die lig vir die wêreld” (8:12)

~“Ek is die ingang vir die skape” (10:7)

~“Ek is die goeie herder” (10:11)

~“Ek is die opstanding en die lewe” (11:25)

~“Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (14:6)

~“Ek is die ware wingerdstok” (15:1).

Hierby kom nog talle ander uitsprake in die Evangelie van Johannes, soos waar Jesus sê: “Ek en die Vader is een” (10:30), en: “En wie My sien, sien ook Hom wat My gestuur het” (12:45). Blaai jy deur die Evangelie van Johannes, is daar op feitlik elke bladsy so ’n uitspraak wat iets oor Jesus se Godheid verraai.

Op ’n rasionele vlak, op die vlak van dink en verstaan, was dit sleutelinsigte wat my gehelp het om my geloof te behou.

Maar daar was ook ’n ander ervaring, op ’n meer mistieke vlak, wat vir my geweldig baie beteken het.

In die woestyntyd, toe ek deur baie vertwyfeling gegaan het, het ek soms op ’n Dinsdagaand ’n adoramusdiens by die NG gemeente Lynnwood gaan bywoon. Dit was ’n meditatiewe diens, ’n diens in die styl van aanbidding van die Taizé-gemeenskap in Frankryk. Tydens so ’n diens is daar uit die Bybel gelees, maar ook gedigte wat daarby aangesluit het. Daar is gesing en daar is gebid. En dan was daar ’n tydperk van agt minute waartydens dit stil was.

Ek het geleer dié stilte is nie daar vir “stil gebed” soos ek dit leer ken het nie. Dit was nie daar om vreeslik besig te wees met jou gedagtes nie. Juis nié. Die stilte was daar om tot rus te kom by God. Amper soos ’n kindjie wat op sy of haar pa of ma se skoot gaan sit en net die warm en gerusstellende teenwoordigheid van die ouer beleef, en daarin troos en vrede vind. Dit was, as’t ware, tyd om op God se skoot te gaan sit.

Een aand het daar tydens dié stilte ’n beeld by my opgekom. Dit was ’n boom, ’n witstinkhoutboom soos die een op die sypaadjie voor my ma se huis, wat in die herfs al sy blare verloor. Ek het verwese gevoel. Ek het gewonder of dit is wat besig is om met my geloof te gebeur. Is al die ou oortuigings waarmee ek grootgeword het, besig om een vir een van my af te val, soos dooie blare in die herfs van ’n witstinkhoutboom afval?

En toe, ná ’n rukkie, kom daar nog ’n gedagte by my op. Die kaal, dooie winter is nie waar dit eindig nie. Ná die winter word dit weer lente. Dan loop die boom weer uit. Want al lyk die boom morsdood in die winter, is dit nie dood nie. In die lente kom die nuwe lewe weer na vore.

Ek het dit as ’n geweldige troos ervaar. Dit was vir my ’n versekering wat God vir my gegee het. Dit is dan ook hoe dit met my gebeur het. In daardie stadium sou ek met moeite kon sê die Bybel is die Woord van God. Ek is te veel oorweldig deur my indruk van die teenstrydighede en “foute” in die Bybel. Maar in die loop van die volgende maande het ek nuwe maniere gevind om oor die Bybel te dink. Ek het besef dat dit die draer van God se boodskap is en dat ek daarop kon vertrou om God beter te leer ken en sy wil beter te leer verstaan.

Ek het later ’n gedig oor hierdie ervaring geskryf:

Herfs

Hierdie dae, Here, is die herfs van my geloof

wanneer ou oortuigings verdroog

en een vir een soos blare van ’n boom af val.

Hierdie dae is die herfs van my geloof

met niks anders wat voorlê nie

as die verskrikking van kaalheid

die winter van die dood.

Maar onder hierdie dowwe bas

vloei die sappe nog,

vloei die verhale van nuwe lewe

van opstaan uit ’n dood.

Hierdie dae is die herfs van my geloof,

maar eendag,

eendag sal daar weer ’n lente blom.

Hierdie ervaring het my getroos. Dit het my maande lank deur vertwyfeling gedra. Maar dit het my ook op ’n ervaringsvlak help verstaan dat Jesus die lewende Here is. God is nie maar net ’n konsep wat ons reg moet verstaan nie. God is aktief teenwoordig in ons lewe.

“Volg My”

Dit is vreemd hoe aspekte van die geloof soms by ’n mens tuiskom en groei. Einde 2011 het ek die geleentheid gehad om vir die eerste keer die Heilige Land te besoek. Ons was ’n kleinerige groep onder leiding van Stephan Joubert. Ons is ook deur ’n Joodse gids vergesel. Ons het Engels met hom gepraat, maar hy het ook ’n paar woorde Afrikaans by ons geleer. So het hy geleer om vir die groep te sê: “Volg my!” As ons iewers na iets gekyk het en hy vir ons verduidelik het wat ons sien, maar dan wou verder gaan, het hy omgedraai en gesê: “Volg my!” Dan het ons agter hom aangeloop na die volgende punt waar hy ons iets wou wys.

In daardie week het ek dié woorde dikwels gehoor: “Volg my.” En terwyl ons die plekke besoek het waar Jesus self was en gewerk het, het dit my meer bewus gemaak daarvan dat dít die woorde was wat Jesus self verskeie kere vir mense gesê het.

Toe Jesus die tollenaar Matteus by sy tolhek sien sit, roep Hy hom: “Volg My!” (Matt 9:9). Dit was ook sy woorde toe Jesus vir Filippus tot dissipel geroep het: “Volg My!” (Joh 1:43).

Ná sy opstanding, toe Jesus vir sy dissipels vis gebraai het op die strand langs die see van Galilea, het Hy ’n diep gesprek met Petrus gevoer. Drie keer vra Jesus vir hierdie dissipel wat hom drie keer verloën het: “Het jy My lief?” En aan die einde van die gesprek sê Jesus vir Petrus: “Volg My!” (Joh 21:19).

Wanneer die ryk jongman wil weet wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry, gesels Jesus met hom oor die wet. En dan sê Jesus vir hom: “Een ding kom jy nog kort: gaan verkoop alles wat jy het, en deel die geld aan die armes uit. Dan sal jy ’n skat in die hemel hê. Kom dan terug en volg My” (Luk 18:22).

Wanneer Jesus Homself in Johannes 10 die goeie herder noem, sê Hy in vers 27: “My skape luister na my stem; Ek ken hulle, en hulle volg My.” En twee hoofstukke later, in Johannes 12:26, sê Jesus: “As iemand My wil dien, moet hy My volg.”

Dit lyk my as ons God se roeping vir ons en ons lewe in een sin wil saamvat, is dit in Jesus se woorde wat ook na ons toe kom: “Volg My!” Dit is omdat die kerk dit begryp dat ons Lied 505 sing:

Jesus, U gaan voor –

ons volg in u spoor.

U ken alle lewenspaaie,

al die hoogtes, dieptes, draaie.

Kom en vat ons hand

na die Vaderland.

Die navolging van Christus in ons hele lewe is die groot oproep wat na ons as gelowiges toe kom.

As ons Christus getrou wil volg, is dit belangrik om Hom te verstaan. En dit is waaroor die volgende hoofstukke gaan. Dit kyk na verskillende aspekte van Jesus se aardse lewe om ons te help om Hom beter te verstaan, om beter te kan raaksien op watter pad Hy loop, sodat ons Hom daarin kan volg.

Kortliks

~Jesus is die Here. Hy het volle gesag oor my lewe.

~Die Bybel is die Woord van God. Dit het gesag oor my lewe.

~Die Bybel moet reg verstaan word.

~Jesus roep ons om Hom te volg.

Jesus vir almal

Подняться наверх