Читать книгу Die vierletterwoord - Nelia Engelbrecht - Страница 6

1

Оглавление

Dis môre my missing pa se verjaarsdag en ek probeer al heeldag om nie daaraan te dink nie.

Stay in the moment. Dis my survival-mantra.

Op die oomblik is dit darem nie te moeilik nie, want ek is diep in die dinges by my beste vriendin. Actually, ek dink sy haat my.

Ek staan agter Penny en kyk saam met haar in die spieël.

“Dis skééf!”sê sy.

“Ag, jy verbeel jou,” lieg ek.

“Is nie – my hare is baie korter hierdie kant as aan die ander kant. En môre begin die skool!”

“Ja, en jy’t die hele vakansie gehad om jou hare te laat sny, maar nee, vandag kerm jy oor jou hare te lank is – noudat al die haarkappers in Wilgendal vol bespreek is.”

Ek gooi die skêr op die spieëlkas neer en gaan lê op my bed. Penny staar na haarself in die spieël terwyl sy die een kant se hare trek, asof dit kougom is wat sy langer kan rek.

“Duane. Bel hom. Nou!” Die wysvinger wat sy in my rigting rondswaai, bewe effens.

Ek kom regop. “Oukei, man, chill tog net.”

Duane antwoord gelukkig dadelik sy foon. “Hi, ons het ’n hare-krisis. Jy moet kom help, anders moet Penny môre met ’n hoed skool toe gaan.”

“Moenie vir my sê julle girls het weer met mekaar se hare gekarring nie,” sê Duane kwaai.

“Wel, laat ek dit so stel: Penny se linkeroor steek meer uit as haar regteroor.”

“Jééz, Clarissa. Sê vir Penny ek kom.”

Ek lui af terwyl Duane nog iets brom van ander mense se gaggies wat hy altyd moet uitsorteer.

“Ontspan, Duane is op pad.”

“Ek moes van die begin af liewer dat hy my hare sny. Maar nee, jy dink mos jy kan alles op aarde doen.”

Ek en Penny is al van graad een af maats. Ons het saam voortande gewissel, gekys geraak en saam ons eerste bra’s gekoop. Mens kan maar sê ons is soos familie – dié dat ons so lekker baklei.

“Gaan maak vir my koffie, ek ly aan skok,” beveel Penny en kyk my verwytend aan.

“Ek’s nie jou slaaf nie, weet jy?” sê ek, maar staan tog op en stap kombuis toe.

My ma kom by die agterdeur in toe ek die ketel aansit. Sy dra twee sakke kruideniersware.

“Hallo, Clarissa. Maak bietjie vir my plek op die tafel, asseblief?”

“Hi.” Ek skuif die bak vrugte op die kombuistafel een­kant toe. “Hoe is Ma se nuwe baas toe?”

Die eienaar van die eiendomsbesigheid waar sy werk, het einde verlede jaar by die see gaan aftree en sy seun het van die stad af gekom om die besigheid oor te neem. Dit was vandag die nuwe baas se eerste dag.

“Hy is heel gaaf – ek dink ons gaan lekker saamwerk,” sê sy terwyl sy pakke gevriesde groente in die vrieskas pak. “Ek het Penny se bromfiets hier buite onder die afdak gesien. Maak jy vir julle koffie?”

“Ja. Wil Ma tee hê?”

“Nee, dankie, ek wil eers klaar uitpak.”

Ons koffie is al op toe ons Duane se vintage- Shelby Cobra wat sy pa vir hom vir Kersfees gekoop het, buite hoor stilhou.

Hy ry al van graad tien af sonder ’n lisensie. Sy pa is een van Wilgendal se grootste boukontrakteurs en sy ma doen die besigheid se boeke. Hulle is so ryk, hulle kan toe-oë die boetes bekostig wat Duane so nou en dan kry.

“Dis vir hulle makliker om die tjeks uit te skryf as om my rond te ry. Which suits me fine,” sê hy altyd.

Die kleur op sy wange verander sommer van die gewone cappuccino-bruin na ’n melkerige latté toe hy vir Penny sien. “Gee whiz, girls, hulle noem die plekke met die spieëls en haardroërs haarsalonne. Dis waar ’n mens jou hare laat sny, julle weet?”

“Hulle was almal vol bespreek vandag en toe sê Clarissa ek moet sit, sy sal sommer gou my hare sny. Hoe het sy nou weer gesê? O ja, iets soos: hoe moeilik kan dit nou wees,” sê Penny en kyk boosaardig na my.

Duane sit ’n metaaltassie langs my op die bed neer en haal ’n kam en skêr uit. “Jy,” sê hy en hou die punt van die skêr gevaarlik naby my neus, “is beslis nie ’n professional nie. Van haarsny weet jy niks.”

“Ag, jou dinges. En jy’s professional?” kap ek teë.

“Ek weet meer as enige average girl in Palm Lane High van mooimaak af.”

Dis waarskynlik waar. Duane Willemse is ons skool se eie Glam Guru. Hy het al sakke vol geld verdien met make­overs. Daarom hou ek maar liewer my mond terwyl hy sy magic doen.

“Nog net hierdie puntjie … daar’s hy.” Duane kom regop en beskou sy handewerk soos ’n trotse pa wat sy eerste baba in die oë kyk.

“Dankie, Duane, jy’s ’n pêl duisend,” sê Penny.

Duane draai na my. “Moet ek nie jou eyebrows bietjie trim nie? Hulle lyk weird.”

“Nee, dankie. Ek hou van hulle soos hulle is.”

Duane het al jare lank ’n ding oor my wenkbroue. En as hy nie daaroor moan nie, het hy ’n storie oor ek kastig nie genoeg grimering dra nie.

Ek en Penny stap saam met Duane voordeur toe. “Gedra julle nou, oukei?” sê hy toe hy groet en wegry.

Penny haal haar scooter se sleutels uit haar skouersak. “Ek moet ook nou waai. Sê vir jou ma ek sê baai.”

Ek maak die voordeur toe en stap kombuis toe. Ek wonder wat eet ons vanaand. My ma is mal ook kos­maak, maar ek deel nie dié particular passie nie.

Huisskoonmaak en wasgoed doen is vir my ook abso­­luut tydmors. Alles wat jy skoonmaak, word in elk geval weer vuil en vol kreukels.

Gelukkig het ons vir Dorah wat in die oggende inkom. Sy’s baie nice. ’n Sterk vrou. Ek bewonder sterk vroue. Ek kry dit meestal reg om te maak of ek ook een is.

My ma is nie in die kombuis nie. Ek kry haar in haar halfdonker kamer. Sy staan voor die venster en staar na die toe gordyne. Sy hou ’n geraamde foto vas.

“Is Ma oukei?”

“H’mm? O, ja.” Sy kyk af na my pa se foto. “Dis môre sy verjaarsdag.”

“Ek weet, ja.” Ek skakel die lig aan. “Ek sal help aand­­­­­ete maak as Ma wil.” Enigiets om haar uit die donker kamer te kry.

“Dis nie nodig nie, dankie, ek het vir ons gaar lasagne by die Spar se deli gekoop. Ek sal net slaai maak.”

Ná ete kyk ons saam TV. Toe my ma gaan bad, gaan haal ek my sigarette in my kamer en gaan sit buite op die houtbankie in die voortuin. Dis so half weggesteek onder ’n akkerboom – soort van my eie Secret Garden.

Ek rook al van graad nege af. Dit anker my soort van, sodat die golwe in my kop my nie diepwater toe kan sleep nie.

My ma hou nie daarvan nie, maar sy erken darem dat dit beter is as om my naels te kou of te binge. Solank ek net nie in die huis rook nie en ook nie by die skool nie, sê sy.

Ek rook klaar en gaan badkamer toe. Die vertrek ruik nog na my ma se badskuim. Ek maak die muurkassie oop. Sy’t vanaand vergeet.

Ek vat die happy pill en ’n glas water vir haar. “Ma?”

“Kom in.”

Sy sit voor haar spieëlkas. Waar ander mense juweel­kissies en beeldjies op hulle spieëlkaste het, het my ma ’n shrine gebou. Vir my pa.

Voor hulle troufoto lê sy horlosie en mansjetknope. Tot sy kam. Ek sweer as ’n mens mooi kyk, sal jy nog een van sy hare daarin kry.

“Hier’s Ma se pilletjie.”

“O, dankie. Jy moet lekker slaap, my skat.”

Ek soen haar op haar hare. Dit ruik soos appels. “Dankie. Ma ook.”

Ek bad klaar en lê lank op my bed en luister na Roxette, totdat die musiek die golwe wat in my ore suis, stil gemaak het en ek uiteindelik aan die slaap kan raak.

Die volgende oggend, nog voor die son behoorlik op is, gaan die klokradio aan. Ek sukkel om uit droomland te kom, totdat ek die datum op die klokradio sien.

My pa se verjaarsdag.

Oukei, Clarissa, stay in the moment.

Ek staan op en trek my T-shirt en sweetpak aan. Dis lekker buite so vroeg in die oggend. Die dag is nog vol potensiaal – mens kan actually nog hoop vandag gaan beter as gister wees.

Hoop. Die famous vierletterwoord in my lewe.

Die huise en bome flits by my verby toe ek begin draf. Ek is heeltemal verslaaf aan hardloop. Dis seker maar die endorfien. As dit nie daarvoor was nie, was ek lankal op twee pakkies sigarette en vyf pizzas per dag en het ek dalk nog drugs op die sideline gedoen ook.

As ek hardloop, voel dit of my lyf een groot, awesome masjien is, met elke deel wat presies weet wát om wánneer te doen. Ek kan voel hoe my longe tot teen my ribbes uitsit en hoor hoe my hart die bloed en suurstof tot in elke spier en elke sel pomp.

Om my ma gelukkig te hou, hou ek mooi by die roetes wat ek vir haar met ’n rooi koki-pen op ’n straatkaart van die dorp moes trek.

“As ek jou moet gaan soek, moet ek darem weet wáár om te soek,” het sy gesê.

Ek dink dis omdat sy bang is ek verdwyn ook soos my pa.

Terug by die huis stort ek, eet my Kellogg’s en stap skool toe. Ek gaan wag vir Penny by die scooters en motor­fietse se afdak.

Die klok gaan al amper lui toe sy daar aangesuiker kom. “Waar bly jy?” vra ek terwyl sy haar helmet afhaal. Haar kort hare lyk vir my vreemd, maar ek probeer om nie daarna te kyk nie.

“My ma het al weer haar karsleutels weggesmyt en almal moes help soek,” sê Penny vies terwyl ons vierkant toe loop.

Penny se ma het ’n blomwinkel. Penny sê die winkel is eintlik net ’n stokperdjie, want haar ma het vreeslik baie geld geërf.

Penny se ouers is vir my nogal ’n vreemde couple. Die tannie is kort en rond en die oom lank en maer, met ’n hengse skerp neus. Hy is ’n landdros en as hy sy toga aan­het, lyk hy vir my nes ’n kraai wat te lank op ’n diet was.

Ons loop deur die palmlaning tot by die vierkant. Ons het skaars ons tasse neergesit, of die klok lui.

“Teiken op drie-uur,” sê Penny toe ons saal toe stap.

Ek kyk na regs. Dié jaar se hoofseun, Wilhelm Pienaar, staan by die deur en probeer die bondel nuwe graadagts so naastenby in rye in die saal te laat instap.

Die nuwe klomp lyk – soos die res van die skool – na ’n nice mix: Afrikaners en Engelse, Sotho’s en Zulu’s.

Terwyl onse hoofseun ’n oog oor die rainbow nation hou, kry ek kans om hom goed te bekyk. Sy ligte hare krul nog effens nat bokant sy hemp en baadjie, asof hy pas gestort het. Too delicious.

Ek en Penny het van die begin van verlede jaar af soort van ’n jaarlikse weddenskap met Duane aan. Wie ook al die jaar hoofseun is, ek moet sorg dat ons tweetjies voor die helfte van die jaar ’n item is. As ek dit regkry, moet Duane vir my en Penny elkeen ’n nuwe outfit koop, en as ons verloor, moet ons vir hom een koop.

Ek het laas jaar se hoofseun, Ruben Scott, al vroeg in April gehoek. Hy was Engels en bruin en het in die kos­huis gebly. Hierdie jaar is dit die wit boertjie Wilhelm se beurt.

“Hallo, Wilhelm,” groet ek liefies toe ons by hom verby­stap. Sy oë blink toe hy my teruggroet.

“Mooi so,” fluister Penny toe ons agter in die saal gaan sit. “Ons kan solank begin dink watter outfits Duane vir ons moet koop.”

Ons staan op toe Miss Sweeney begin klavier speel. Ons sing die boring skoollied eers in Engels en toe in Afrikaans. Dis omdat ons skool ’n baie eksklusiewe dubbel­medium-privaatskool is. Behalwe vir Palm Lane High, is daar nog ’n Engelse en ’n Afrikaanse skool op die dorp ook.

Net die heel rykstes op die dorp kan Palm Lane se skool­­geld bekostig. Nie dat ek en my ma ryk is nie – ek het ’n beurs gekry omdat ek slim is en vir die res van die skoolgeld sorg die polis wat my pa vir my uitgeneem het toe ek gebore is.

Ná saalopening het ons Afrikaans by ’n nuwe onder­wyseres. Milla Notnagel, staan op die bord geskryf.

“As my van Notnagel was, het ek dit eerder verander na Snotsnawel,” sê ek kliphard terwyl ons instap, maar darem eers nadat ek seker gemaak het sy is nog nie in die klas nie.

Almal lag vir ’n paar sekondes, en word toe stil. Ek draai stadig om. ’n Lang vrou met rooi pennetjieshare staan in die deur. Dan stap sy reg op my af.

Ek hou my asem op. Die jaar het nog skaars begin of my mond het my in die moeilikheid. Maar dalk het sy my nie gehoor nie.

Sy vra my naam.

“A, dan is jy die redakteur van die skoolkoerant. Interes­sant.” Dan beduie sy na die stapels handboeke voor in die klas. “Kry vir jou ’n paar handlangers en deel julle taal­kundehandboeke uit, asseblief.”

Ek knik. “Goed, Juffrou.” Hoekom is sy so geïnteres­seerd in die skoolkoerant?

Ons het net begin boeke uitdeel, of daar is ’n klop aan die deur. Die ou wat in die deur staan is tall, dark en bitter­lik handsome. Boonop het hy ’n gorgeous Hollywood-glimlag. Hy stap in en – sowaar as vet – gaan skud hand met juffrou Notnagel.

“Môre, Juffrou,” sê hy met ’n effense Engelse aksent. “Ek is Jason Cameron. Jammer ek is laat; ek is nuut en kon nie dadelik die klas kry nie.”

Sy kyk na hom asof hy aangekondig het dat hy die Nobelprys vir letterkunde gewen het. “Alles reg. Kry vir jou ’n sitplek.”

Ons sit skaars, of juffrou Notnagel begin met die eerste hoofstuk in die handboek. Gelukkig lui die klok voor sy vir ons huiswerk kan gee.

“Jason en Clarissa, sal julle asseblief vir ’n oomblik agter­bly?” vra sy.

Dan hét sy my netnou gehoor.

Penny kyk bekommerd oor haar skouer toe sy sonder my deur toe stap. Ek glimlag een van my cool glimlagte en waai vir haar.

“Clarissa, die skoolkoerant is deel van my naskoolse ver­pligtinge, so ek sal toesig hou daaroor,” sê juffrou Notnagel dan.

Ek staar na die vrou asof sy Russies praat.

Ek run die Palm Review al vir meer as ’n jaar sonder dat ’n onderwyser oor my skouer loer. Ek plak ’n mooi glim­lag op. “Juffrou hoef nie bekommerd te wees nie, ek kom heel­temal goed reg as redakteur. Ons het verlede jaar baie goed gedoen in Media24 se kompetisie vir skoolkoerante.”

“Dis juis oor Media24 se kompetisie wat ek ’n voorstel het. Ek is al lank by skoolkoerante betrokke en kyk graag elke jaar hoe die kompetisie verloop.” Sy draai na Jason. “As ek reg onthou, was jy verlede jaar die redakteur van die skoolkoerant wat die kompetisie gewen het, nie waar nie?”

Jason knik. “Ja, Juffrou.”

My nekhare spring regop.

Juffrou Notnagel kyk na my, haar groen kat-oë uit­drukkingloos. “Clarissa, ek wil hê Jason moet hierdie jaar as assistentredakteur saam met jou werk. Onder julle leiding het die Palm Review ’n uitstekende kans om die kompetisie te wen.”

My kakebeen val oop. Kry sy my nou terug vir die grappie van netnou? Maybe moet ek sommer bedank. Of nie. Die koerant is my baba en ’n goeie ma gooi nie sommer haar kind weg nie. Buitendien, Jason is Engels en ons kort eintlik ’n sterk Engelse skrywer.

“Dis oukei, maar net as ek …” begin ek, maar die onge­skikte vrou val my in die rede.

“Gaaf, dan is dit afgespreek. Clarissa, reël so gou moontlik vir ons ’n vergadering vir die kernredaksie, asseblief.”

Ek loop uit die klas uit en steek vas toe ek ’n hand op my arm voel. Die hand is sonbruin en sterk. Langerige vingers. Ek kyk kil na die eienaar van die hand wat obviously buite die klas gewag het om my te ambush.

“Sorry, I didn’t know she would …” begin Jason en slaan dan oor na Afrikaans. “Ek wou net sê: ons gaan lekker saamwerk. Jy sal sien.” Ek kyk langs my neus af na sy hand tot hy dit laat sak.

“Régtig?” Ek skud my kop. “Jy het nog baie om te leer.”

Met dié draai ek om en stap met ’n stywe rug na waar Penny voor die lewensoriënteringsklas wag.

“Is jy oukei?” vra sy.

“Wel, laat ek dit so stel: ’n heks op ’n besem gee my guns­­­telingvak en ’n ou wat van iewers onder ’n klip uitge­­­­kruip het, is skielik assistentredakteur van MY skoolkoerant.”

“Oee, is Jason by die koerant? Moenie worry nie, ek sal hom besig hou. Jy sal nie eens wéét hy is daar nie.”

Ek gee vir haar ’n kwaai kyk. Dis asof dié Jason-vent almal getoor het. Penny het skielik ’n ding oor hom en selfs Duane dink die son gaan onder as hy gaan sit.

Teen die einde van die dag het ek die moeder van alle hoofpyne. By die huis maak ek vir my ’n toebroodjie, drink ’n Panado en gaan sit buite op my bankie en eet. Ek wens my pa was hier, dan kon ek hom vertel het van Jason wat my koerant wil oorvat.

My pa.

Dis asof daar ’n deur in my kop is. As jy dit net op ’n skrefie oopmaak, probeer die herinneringe uitkom. Selfs die heel agterste een– dié een oor my pa wat van die rots afgespring het, die see in.

Sommerso.

Koebaai, wêreld, hier gaan ek.

Ek maak die deur in my kop toe. Dis nou één gedagte waarvan my ma nie hoef te weet nie. Sy moet maar bly dink dit was ’n brander wat hom van die rots afgeslaan het.

Ek trek die hele middag boeke oor en vloek so baie oor die Sellotape bly afbreek, dat ek eintlik skaam kry. Toe ek klaar is, gaan haal ek ’n klein boksie Smarties uit die glasbak langs die ketel, los vir my ma ’n briefie op die kombuistafel en gaan kuier vir my oupa.

Oupa Christiaan bly in die ouetehuis naby ons. Huis Herfsblaar. ’n Naam wat goed pas, want die oumense lyk regtig soos verdroogde herfsblare wat enige oomblik kan wegwaai.

“Hallo, Simson,” groet ek die groot ou by die hek en teken die besoekersboek. Simson se rosyntjie-ogies ver­dwyn amper soos hy vir my glimlag.

“Hallo, Klara.”

Clarissa is te lank vir hom om te onthou, daarom speel ons maar my naam is Klara. Simson is net halfpad, soos Dorah sal sê.

My oupa is al amper drie jaar hier. Hy bly in Agter die Hek. Dis die plek waar die oumense gehou word wat die pad vat as hulle net ’n halwe kans kry.

Om daar te kom, moet ek deur een van die gange loop waar die mense bly wat nog nie heeltemal kêns is nie. Net ná die haarsalonnetjie en die snoepie draai ek af na Agter die Hek.

Moira is vandag aan diens by die hek. Sy kom sluit vir my oop en ons gesels bietjie oor haar sleg man wat al weer sy werk verloor het oor hy gesuip was.

“Oupa is in sy kamer,” beduie sy.

Ek loop soontoe. Die plek ruik na piepie. Omtrent almal hier dra doeke.

“Hallo, Oupa,” groet ek die seningrige man met die grys baard en snor. Hy lyk vir my al hoe meer soos ’n omie uit die Boereoorlog. ’n Maer ene wie se beskuit en koffie lankal opgeraak het.

Hy lyk bly om my te sien. “A, Magrieta, jy’s terug. Loop die snoek al?”

My oupa dink baie keer ek is sy vrou, ouma Magrieta, wat al lankal dood is. Ons praat ’n ruk oor die prys van snoek en die skaarsheid van goeie aas, voor ek vir hom sy Smarties gee.

“So báie,” sê hy bly toe ek dit in sy hand uitgooi.

Ek soen hom op sy bles en loop huis toe terwyl hy sy Smarties eet. Partykeer dink ek dit moet lekker wees op planeet Zor – daar waar die Alzheimer’s hom heen gestuur het.

Die vierletterwoord

Подняться наверх