Читать книгу Dink jouself gelukkig - Pieter van Jaarsveld - Страница 6
HOOFSTUK 1
ОглавлениеGelukkigheid laat jou floreer
“Geluk is die betekenis en doel van lewe, die hele strewe en die oogmerk van die mens se bestaan”
– Aristoteles
Wat is een van jou grootste begeertes?
Mense sal dinge noem soos gesondheid, goeie verhoudings en sukses. Kom dit nie maar eintlik alles daarop neer om gelukkig te wees nie? Miskien was Aristoteles tog reg? Dit is nie verniet dat daar duisende boeke oor geluk gepubliseer word nie en baie navorsers noem dat dit byna die nommer 1-begeerte van die meeste mense is. Daar is nou selfs bewyse dat sportmense beter presteer as hulle gelukkig is. Jy is dus nie ’n uitsondering nie.
Ed Diener, een van die voorste navorsers in die veld van geluk, het in ’n studie in 47 lande waar meer as 9 000 mense ondervra is, gevind dat geluk die meeste mense se grootste begeerte is. Mense is gevra om die belangrikheid van “geluk” en “hemel toe te gaan” te beoordeel op ’n tienpuntskaal waarop 1 die minste belangrik was en 10 uiters belangrik. Geluk is beoordeel as 8.0 en “hemel toe te gaan” 6.7!1 Dit laat ’n mens nogals dink oor die toestand van die mensdom. Geluk is belangriker as om hemel toe te gaan, maar aan die ander kant kan en mag ’n mens reeds hemel op aarde geniet deur gelukkig te wees en lewensvreugde te geniet. Is dit tog nie God se wil nie?
As jy luister na mense wat terminaal siek aan kanker is, dan hoor jy baie van hulle sê dat hulle nou eers besef hoe wonderlik die lewe is. Hulle het nie ’n nuwe selfhelpboek gekoop wat ewe skielik vir hulle nuwe waarhede geleer het nie. Nee, hulle het begin besef dat hulle nog altyd die moontlikheid gehad het om te leef! Die vermoë om gelukkig te wees kom van binne ’n mens; jy het die vermoë in jou.
Met ’n gelukkige lewe bedoel ek nie net gevoelens van geluk nie. Ek bedoel ook nie daardie geel gesiggie-plakker met die glimlag nie. Nie dat die gevoelens nie deel van ’n gelukkige mens is nie. Ek bedoel ook nie die cliché van “Don’t worry, be happy” nie. Nee, ek praat van ’n baie dieper geluk wat binne elke mens se bereik is.
Maak nie saak waar jy op die skaal van geluk lê nie, jy kan leer om gelukkiger te wees.2
Begin met hierdie stelling: “Ek sal gelukkig wees wanneer
Pas een van hierdie dalk by jou stelling: Jy dink jy gaan gelukkig wees as jy daai promosie kry, as jy kinders het, daardie besondere man of vrou ontmoet, net van hierdie siekte ontslae kon raak? Dit is waar dat van hierdie dinge ons wel gelukkig gaan maak, maar dit gaan nie ’n diepgaande geluk veroorsaak nie en verder gaan die geluk ook nie lank duur nie.
Ongelukkig is daar ’n paar mites wat mense daarvan weerhou om geluk te soek en te beleef.3 Kom ons kyk ’n bietjie na die mites wat die meeste voorkom:
Mite 1: Geluk moet gesoek word: Geluk is wel daar, maar slegs as die regte goed met ons gebeur: die regte betrekking, die mooi huis of die ideale gesin. Moenie die een wees wat wag dat dit moet gebeur nie. Daar is ’n spotprent van ’n seuntjie op sy fiets wat vir sy maatjie sê: “Ek kan nie wag om groot te wees sodat ek gelukkig kan wees nie!” Kyk na jou fiets waarop jy sit, jou gesonde bene waarmee jy trap en sien die mooi omgewing waarin jy is. Jy is reeds gelukkig. Begin dit net besef en geniet!
Geluk is nie daar om te gebeur nie. Geluk is nie daar buite nie, dit is binne-in jou! Dit klink vergesog, maar geluk is werklik ’n state of mind (’n ingesteldheid). Ons kan dit so uitdruk:
Dit is die wyse hoe jy die lewe sien en hoe jou gedagtewêreld is.
Mite 2: Geluk hang af van my omstandighede en of ek dit kan verander: Ons onthou dikwels hoe gelukkig ons in ons jeugjare was en ons is seker as ons weer daardie omstandighede kan beleef, gaan ons baie gelukkiger wees. Dis ver van die waarheid. Omstandighede speel maar ’n baie klein rol in ons daaglikse geluk.
Baie mense dink dat meer geld ’n groot verskil gaan maak, maar navorsers wat altesaam 12 000 studente in die VSA getoets het en hulle 20 jaar later hertoets het, het gevind dat diegene vir wie finansiële sukses belangrik was, minder gelukkig met hul lewe was as 20 jaar gelede. Die geluk van die lotery is ook maar van korte duur. Dit beteken natuurlik nie dat geld nie bydra tot geluk nie, sê Ed Diener. Die probleem is dat ’n mens dan dikwels net meer en meer wil hê en dit word dan toksies. Selfs ’n suksesvolle huwelik sit jou ná twee jaar nie meer in die sewende hemel nie.
’n Mooi gesiggie en genoeg Botox dan? Ed Diener4 het in verskeie navorsingprojekte gevind dat skoonheid nie noodwendig geluk bring nie. Inteendeel, modelle is dikwels ongelukkiger as gewone mense.
As jy ongelukkig is met jou werk, jou huwelik, jou salaris, jou vriende of jou voorkoms, is die eerste stap om hierdie dinge te ignoreer, al is dit hoe moeilik. Moenie daaroor dink of tob nie. Ons gaan later gesels oor hoe om dit te doen.
Mite 3: Ek sal gelukkig wees as ek met die regte persoon trou: As jy reeds lank getroud is met iemand, sal jy miskien nie aan jou beste vriende wil erken dat jy dikwels in so ’n verhouding verveling ervaar nie. Jammer om dit vir jou te sê, maar dit is die waarheid. Baie Christene kan voel dat hulle so ’n huwelik wil beëindig, maar voel skuldig net oor die feit dat hulle sulke gedagtes het. Jy voel dat jy so baie tyd, energie en toewyding in die verhouding ingeploeg het, maar dit maak jou glad nie gelukkig nie. Hokaai! Dit beteken nie dat jy hoef te skei nie!
Dit is doodnormaal dat die verhouding, soos die jare aanstap, vervelig kan raak en die oplossing is nie egskeiding nie. Dit gebeur omdat ’n mens so gewoond aan mekaar raak dat die sprankel wel verlore gaan.
Die oplossing om die geluk weer in die huwelik terug te sit lê daarin om te werk aan strategieë wat weer die verhouding gaan opbou – ons sal later daarby stilstaan.
Mite 4: Ek kan nie gelukkig wees as my verhouding verbrokkel nie: Egskeiding is dikwels in baie getroudes se gedagtes; meer as wat ’n mense besef. Die besef dat ’n verhouding besig is om in ’n krisis te beland, word dikwels voorafgegaan deur ’n gevoel van eensaamheid, ’n lewe op heeltemal verskillende golflengtes, ’n tekort aan omgee vir mekaar se geluk en welstand, of selfs ontrou. Die persepsie is dat dit juis ’n gelukkige huwelik is wat jou vlerke gee en die beste uit jou haal.
’n Huwelik wat deur probleme gaan, beteken nie dat jou lewe verby is en jou geluk nou daarmee heen is nie. Inteendeel, daar is verskillende maniere om dit te hanteer waarvan egskeiding slegs een is. ’n Beter oplossing is om eenvoudig net weer aan jou verhouding te begin werk. Jou geluk lê per slot van sake in jou eie hande. Later in die boek sal ek meer daaroor uitwei.
Mite 5: Ek gaan gelukkig wees as ek kinders het: Is dit nie die versugting van so baie kinderlose egpare nie? Ek gesels nou die dag met ’n vriendin wat jare gesukkel het om swanger te word en uit die bloute uit sê sy: “Ek hou glad niks daarvan om ’n ma te wees nie!” Sy beskou die bekommernisse oor die toekoms van haar kinders, die rondjaag van een skoolaktiwiteit na ’n ander en die teleurstellings as ’n sware las.
Is dit nie waar dat die meeste van ons, ten spyte van al die boeke wat ons oor kinders grootmaak lees, so dikwels voel dat ons nie heeltemal daarin slaag om goeie ouers te wees nie? Kinders kan dikwels die grootste bron van ons vreugde wees, maar ook die oorsaak van die ongelooflikste hartseer. Hoeveel mense ken ek nie wat al deur die laasgenoemde is nie. Inteendeel, daar is navorsing wat wys dat ouers, ná die geboorte van ’n kind, ’n groot verswakking in hul verhouding en geluk ervaar.5 Weereens net ’n bewys dat geluk nie buite ons is nie, maar eintlik binne-in ons.
Moet daarom nie mismoedig word wanneer jy soms voel of jy jou kinders “ ’n bietjie kan wurg nie”. Jy is nie ’n slegte persoon nie! Om sleg te dink van jouself is giftig, want dit benadeel jou ouerskap sowel as jou eie geluk!
Mite 6: Ek kan nie gelukkig wees as ek nie ’n lewensmaat het nie: Ek het onlangs met ’n dame gesels wat voel dat sy baie positief is, maar die feit dat sy nie ’n lewensmaat het nie maak haar intens ongelukkig. Wanneer sy ander paartjies sien wat gelukkig is, vreugde in mekaar vind en vir mekaar koer, verander haar hele gesindheid en is sy dadelik hartseer en mismoedig.
Dit is wel so dat getroudes meer tevrede met hul lewe is as ongetroudes. Navorsing wys egter dat die grootste verskil in tevredenheid nie tussen getroudes en ongetroudes is nie, maar wel tussen getroudes en geskeides, getroudes en mense wat hul lewensmaat verloor het of wat van hulle vervreemd is.6 Daarteenoor is enkellopers heelwat beter daaraan toe. In ’n studie wat Sonja Lyubomirsky met 1 761 enkellopers gedoen het wat later wel getroud is, het sy gevind dat die opwinding, so ver dit geluk aangaan, slegs twee jaar geduur het. Daarna was hulle maar weer op dieselfde geluksvlak as voordat hulle getroud was. Enkellopendes kry dus nie daardie oplewing (boost) van die getroudes nie, maar hulle beleef ook nie die terugval nie.7
Getroudes leef langer en is gesonder as mense wat geskei is, maar ongetroudes is net so gesond soos getroudes en leef net so lank.8
Mite 7: Ek gaan gelukkig wees as ek die regte werk of pos het: Daar is so baie mense in Suid-Afrika wat deesdae in ’n werk sit wat hulle glad nie meer bevredig nie, maar hulle kan ook nie bedank nie want daar is nie baie geleenthede nie.
Ek ken mense wat hul gesin ontwortel en Kaap toe getrek het. Dit was vir die eerste paar jaar ’n wonderlike ervaring, maar toe is die bestuurder ook nie meer so wonderlik nie, die wind waai gans te veel in die Kaap, die verkeer is te veel, die Kapenaars ry heeltemal te stadig en in die regterbaan! Stadig het hulle begin droom van ’n beter betrekking wat vir hulle wag.
In ’n studie wat gedoen is onder bestuurders, wat meestal wit was en min of meer 45 jaar oud, is daar bevind dat hulle, ná die aanvaarding van ’n nuwe betrekking in ’n stad met baie opwindende geleenthede, hulle ’n tyd lank op ’n heerlike “wittebrood” was. Dit was egter van korte duur en ná ’n jaar was hulle weer terug op die geluksvlak waar hulle was voor die verhuising na die ander stad.9 Die ideale betrekking waarborg dus ook nie geluk nie.
Mite 8: Ek kan nie gelukkig wees as ek ’n finansiële krisis het nie: Niemand kan ontken dat dit traumaties is om jou werk te verloor, bankrot te speel, jou huis te verloor of al jou spaargeld te verloor nie. Hoeveel mense moes nie al worstel nadat ’n skelm makelaar of ander finansiële adviseur weg is met hul geld nie? Enigiemand wat daardeur is, weet van die slapelose nagte, die gevoel van algehele hulpeloosheid en die woede in jou hart … Daar is natuurlik mense wat ná so ’n krisis uit die finansiële gat kan klim en ver beter daaraan toe is as voorheen. Vir die meeste mense is dit egter ’n lewe van salaristjekkie tot salaristjekkie.
Ons kan nie daarvan wegkom dat ’n mens se geluk tog baie met jou finansiële status te doen het nie, hoewel daar nie so ’n sterk verband is as wat ’n mens miskien sou vermoed nie. Geld maak die lewe makliker, maar dit het nie noodwendig ’n invloed op ons gevoelens nie. Meer nog: Dit is nie duidelik of geld ons gelukkig maak en of dit nie eerder is dat gelukkige mense meer geld maak nie.10 Iets om oor te dink, nè? Navorsing is egter duideliker daaroor dat geld ’n arm mens gelukkiger maak as iemand in die middel- of hoërinkomstegroep.11
Die belangrikste gevolgtrekking uit die navorsing is dat ’n mens werklik gelukkig met minder geld kan wees en net moet leer om dit reg te spandeer. Dit blyk dus ook ’n mite te wees dat geld ’n mens gelukkig maak. Hou daarom op om te wens om soos die Ruperts, die Oppenheimers, Guptas of Motsepes te wees. Jy is klaar ryk genoeg om ’n gelukkige lewe te lei.
Mite 9: Ek kan nie gelukkig wees as die toetsuitslae positiefis nie: ’n Vriendin van ons het so pas gehoor dat sy borskanker het. Wanneer ’n mens hierdie “vonnis” kry, is jy natuurlik so gefokus op daardie inligting dat al die mooi dinge maklik by jou kan verbygaan. Dit is egter ook waar dat ’n mens baie meer beheer oor die realiteite van daardie oomblik het as wat ons dikwels besef.
Ons vriendin was baie bewus daarvan dat die uiteinde die dood is. Sy het ook geweet dat sy geen beheer het oor wanneer dit sou gebeur nie, maar sy het wel beheer in dié opsig dat sy kan besluit hoe sy elke dag gaan hanteer. Sy het gesê: “Ek gaan nie toelaat dat die vrees vir môre my geluk en gehalte van vandag wegneem nie.” Wyse woorde.
Iemand wat ’n konsentrasiekamp oorleef het, het gesê dat hy in die kamp twee werklikhede beleef het. Die een was die vreeslik aaklige omstandighede van honger, vernedering, beledigings en mishandeling. Die ander was om doodgewoon voort te gaan met sy lewe waar hy gelukkig en tevrede is sonder om die swaar raak te sien. Hy het uit sy pad gegaan om die mooi te soek ten spyte van die haglike omstandighede. Miskien moet ’n mens dit ook doen wanneer jy die slegte nuus hoor. Jy ontken dit nie, maar leef meer en meer in ’n ruimte waarin jy goed voel. Dit is ’n moeilike opdrag, maar tog moontlik soos hierdie man in die konsentrasiekamp bewys het.
Daar is bewys dat as ’n mens in die tyd van swaarkry fokus op die goeie en veral die natuur (kyk na die sonsondergang, sit onder die mooi ou eikeboom, kyk na mooi natuurfoto’s), dit ’n groot rustigheid in stormagtige tye bring.12 As jy weet wat jou gelukkig maak, beleef soveel daarvan as moontlik. Daar is bewyse dat gereelde oefening en die bywoon van godsdiensbyeenkomste in moeilike tye (ten minste een keer per week) baie kan bydra tot die geluk in hierdie traumatiese omstandighede.13
’n Pragtige storie waaraan ons vriendin ná haar mastektomie vasgehou het, is die storie van die skilder wat eintlik ’n houtwerker wou wees. Eendag het sy vrou hom gevra om ’n tafel te maak en hierdie tafel het werklik die fokuspunt in hul lewe geword. Rondom die tafel is heerlik geëet, bordspeletjies gespeel en lekker gelag.
Eendag, terwyl hulle weg was, het ’n dief ingekom en die een poot van die tafel gesteel. Die skilder het alles probeer doen om die tafel te balanseer soos om boeke onder die tafel te sit, en nog meer, maar die tafel was nooit weer dieselfde nie. Eendag het hy besluit dat dit nou genoeg is. Hy het die tafel gevat en weer in die werkswinkel gaan werskaf. Die eindproduk was ’n kleiner tafel met net drie pote. Hoewel dit tyd geneem het hom dit te balanseer, was dit nou selfs beter as die oorspronklike een.
Ná ’n mastektomie, longsiekte of ’n hartaanval kan dit lank duur om jou lewe weer te balanseer. Dit is waar dat jy nie weer dieselfde sal wees soos die vierpoottafel nie, maar jy kan ’n “nuwe jy” ontwikkel wat net so sterk soos die “ou jy” gaan wees, maar net anders.
Terwyl jy die trauma verwerk, dink aan die sin en die betekenis van jou lewe, hoe jy graag onthou sal wil word en bou aan jou vriendekring. Daar is bewys dat vroue met ’n goeie vriendekring 2,8 jaar en mans 2,3 jaar by hul lewe kan voeg!
Mite 10: Ek kan nie gelukkig wees nie, want my beste jare is reeds verby: Hoeveel van ons, aan die beter kant van 50, het nie dikwels hierdie gedagte in ons agterkop nie. Ek kan nie gelukkig wees as die jare vorentoe minder is as die jare wat verby is nie. Ek kan nie gelukkig wees as my vervaldatum verby is nie!
Hiermee maak ons twee groot blapse. Eerstens, niemand kan regtig bepaal wat die beste tyd in jou lewe gaan wees nie. Tweedens, dit is ’n mite dat hoe jonger jy is, hoe gelukkiger is jy. Jy moet dikwels net jou ingesteldheid teenoor ouderdom verander.
Interessante navorsing is in 1989 gedoen oor hoe die verandering van ’n mens se ingesteldheid (mindset) tot wonderlike veranderings in jou lewe kan lei. Dr Ellen Langer en ander wetenskaplikes van die Harvard-Universiteit het ’n aantal mans bo die ouderdom van 70 vir tien dae na ’n vakansieoord geneem.14 Hul opdrag was om op te tree asof hulle in die jaar 1959 leef. Hulle moes dus gesels oor die werk wat hulle toe gedoen het, die president van daardie tyd, en so meer. Die musiek wat gespeel is, was die musiek van daardie tyd, tydskrifte was ook van daardie tydvak en hulle moes foto’s bring van voor 1959. Hulle is dus tien dae lank geïndoktrineer: “Julle leef nou in die jaar 1959.” Voordat hulle die navorsing begin het, is hulle blootgestel aan ’n klomp fisiologiese toetse soos hul lengte, die lengte van hul vingers, sterkte, geheue en hul sig. Ná die tien dae is die metings weer gedoen. Hulle het gevind dat die mense fisiek langer geword het, hul vingers gegroei het, en hul sig en geheue verbeter het. Inteendeel, die meeste het verskeie jare jonger begin optree as wat hulle werklik was. Sommige het fisiologies en kognitief selfs 25 jaar jonger gereageer. Dít ná net tien dae! As jy dink jy is oud, dan tree jy so op. Dit is hoe maklik dit is. Jy kan dit egter verander.
Terwyl ek nou met ons ouer mense besig is, sommer nog raad: As jy bang is vir alzeimersiekte, luister hierna. Neurowetenskaplikes het in navorsing gevind dat die aanleer van ’n nuwe taal alzeimersiekte kan voorkom of ten minste lank uitstel. Jy hoef nie eens die taal goed te bemeester nie. Inteendeel, daardie studie het bewys dat, as jy jou kop gereeld besig hou met kognitiewe aktiwiteite, jou kanse 47% minder is om alzeimersiekte te kry as mense wat nie hul brein kognitief stimuleer nie.15 Dit hoef egter nie net die aanleer van ’n taal te wees nie, maar enigiets waarin jy jou brein gebruik om aktief te wees. Leer dans, doen blokkiesraaisels, sudoku of wat ook al. Kry net iets om jou brein mee besig te hou.
Moet dus nie dink dat hierdie boek net vir die jongmense is nie. Kan jy nou verstaan waarom die Here so ’n groot klem plaas op die verandering van ons gedagtes? Ja, dit kan jou hele lewe verander!
Die beste is om op die toekoms te fokus en nie te tob oor die idilliese verlede nie. Stel dus betekenisvolle doelwitte vir die toekoms. Onthou: “There is no happiness without action”.16 Die doelwitte vir hierdie tyd in jou lewe moet eerstens innerlike doelwitte wees wat jy wil bereik soos om betekenisvol te voel en dit wat jy wil te geniet en nie wat die samelewing van jou vereis nie. Dit moet ’n basiese behoefte van die mens vervul soos byvoorbeeld om ’n ekspert in iets te wees: ’n goeie rolbalspeler; die beste bedsokkie-breier; goeie vriende te maak; ’n betekenisvolle bydrae tot die gemeenskap lewer. Ek sal later in die boek meer oor doelwitte gesels.
Nou wat leer die slim navorsers ons? Ouer mense is eintlik gelukkiger en meer tevrede met hul lewe as die jonges; hulle ervaar meer positiewe emosies en minder negatiewes; hul emosionele ervarings is stabieler en hulle is, les bes, minder ontvanklik vir die daaglikse negatiwiteit en stres.17 Inteendeel, daar is drie onlangse studies wat bewys dat die toppunt van die mens se positiewe emosionele ervaring tussen 64 en 79 lê!18 As hulle diegene ouer as 79 sou insluit, is ek seker dit word dalk net beter en beter hoe nader ons aan 100 kom. Wat van 120?
Laura Carstensen van die Stanford-Universiteit, het meer as twee dekades daaraan gewy om vas te stel waarom ouer mense gelukkiger is. Sy beweer dat, as mense besef hul jare word minder, hulle hul perspektief oor die lewe verander. Hulle begin meer tyd bestee aan dinge wat regtig saak maak soos goeie opbouende verhoudings in plaas daarvan om al meer mense te ontmoet om ’n groot aantal kennisse te hê; hulle ignoreer daardie verhoudings wat nie ondersteunend van aard is nie en loop minder risiko’s. Die gevolg is dat hulle dan meer vrede, geluk en ’n rustigheid ervaar, asook ’n positiewer lewe lei.19 Ja, jy skakel sommer makliker die TV-nuus af as dit te veel moord en doodslag bevat of as 7de Laan se storie nou te negatief raak en Gita te aaklig! Hulle kyk ook sommer meer met ’n blinde oog na kritiek. En hoe ouer ons word, hoe meer behandel almal ons met respek – lekker!
Julle smartvrate wat kla oor die ouderdom, sê dus vir jouself: “Ek het lekker jare gehad, baie suksesse, maar daar lê nog baie voor my!” Of miskien nog beter: “Ja, ek kan nie meer kinders in die wêreld bring nie (vinnig hardloop nie, my tone raak nie), maar ’n nuwe hoofstuk het begin! Dit is dus ’n keuse en lê in jou kop.
Mite 11: Jy het dit of jy het dit nie: Jy is so gebore: jy het dit of jy het dit nie. Dit is veral ongelukkige mense wat glo dit is in hul gene en hulle niks daaraan kan doen nie. Nou ja, daar is nogal ’n bietjie waarheid in hierdie mite. Jou gene speel ’n belangrike rol. Wat egter ’n mite is, is dat jy niks daaraan kan doen nie. Nee, daarmee bedrieg jy jouself. Jy kán iets daaraan doen! Kom ons los dus die mites en kyk hoe jou geluk bepaal word.
Wat bepaal jou geluk?
Van die beste navorsing oor die genetiese impak op geluk is gedoen deur David Lykken, Auke Tellegen en hul kollegas aan die Minnesota-Universiteit, VSA.20 Hulle het bevind dat ’n mens se gene wel 50% van jou geluk bepaal. Die sonnige persoonlikheid aan jou ma se kant en / of die meer depressiewes aan jou pa se kant, of albei, het ’n invloed op die genetiese samestelling van jou geluk. ’n Mens kan jou vrou kies, maar ongelukkig nie die families se gene!
Navorsing wys dat ons ’n genetiese vaste punt (set point) vir geluk het – ’n genetiese vaste punt wat jou geluksvlak aandui. Dit beteken dus dat as jy ’n nuwe motor koop, jou kind ’n graad kry, jy in ’n ernstige ongeluk is, jou vlak van geluk ’n tyd lank op of af kan beweeg. Ná ’n tyd gaan dit egter terugkeer na jou genetiese vaste punt.21
Die feit dat daar ’n vaste punt is, beteken egter nie dat jou geluksvlak nie kan verander nie. Verstaan jy hierdie goeie nuus? Jy kan bo hierdie genetiese vaste punt uitstyg!
Figuur 1: Bepaling van geluk
Ons gene bepaal 50% van ons geluk, terwyl ons omstandighede – soos die dood van ’n geliefde, die uitdienstreding van die man, ’n kind se mislukte huwelik of een of ander trauma of finansiële krisis – 10% bepaal.
Die goeie nuus is dat 40% in ons beheer is en dít is waaroor hierdie boek gaan. (Daar is nou navorsers wat beweer dat dit selfs meer as 40% kan wees). Ons gaan daardie 40% ontwikkel sodat ons ons geluksvlak optimaal kan ontwikkel. Ons kan dus ons brein se bedrading deur tegnieke en vaardighede verander en sodoende ons geluksvlak verbeter en opstoot.
Ek hou van Matthieu Ricardo se definisie van geluk 22: “By happiness I mean a deep sense of flourishing that arises from an exceptionally healthy mind. This is not a mere pleasurable feeling, a fleeting emotion, or a mood, but an optimal state of being.” Geluk is dus meer as net ’n gemoedstoestand. Dit is ’n lewe van geluk wat lewensvreugde gee en selfs die moeilike dae kan hanteer.
Dit laat my aan die bekende storietjie van die wolwe dink. ’n Ou man het met sy kleinseun gesit en gesels en vir hom dié storietjie vertel: “Binne die mens is daar ’n geveg tussen twee wolwe. Die een is Ongeluk. Dit is vrees, kommer, woede, jaloesie, selfbejammering, minderwaardigheid. Die ander is Geluk. Dit is vreugde, liefde, hoop, tevredenheid, goedhartigheid, empatie, eerlikheid, mededeelsaamheid.” Die seuntjie het ’n rukkie gedink en toe gevra: “Wie van hierdie twee wolwe wen?” Die ou man het geantwoord: “Die een wat jy kos gee.”
Dit is so waar. Ons het die vermoë om positief te wees en dan gaan ons ook die geluk smaak waarna almal so smag.
Waarom die vreeslike ophef oor geluk?
“Dit is nie God se wil dat ons gelukkig sal wees nie, maar dat ons onsself gelukkig sal maak.” – Immanuel Kant
Om gelukkig te wees is goed vir jou gesondheid en ’n suksesvolle lewe:
•Gelukkige mense se kans is 35% minder om griep te kry.
•Mense met hoë optimisme en geluksvlakke het laer risiko vir hartsiektes, hoë bloeddruk en infeksies.
•Mense met ’n goeie sin vir humor, ’n aanduiding van innerlike geluk, leef langer as mense sonder ’n goeie humorsin. Inteendeel, een studie het bewys dat ’n sin vir humor die voortydige dood van kankerpasiënte met byna 70% verminder.23
•Dit verlaag bloeddruk. In ’n studie met meer as 15 000 mense in Europa het die navorsers gesê dat die vlak van hoë bloeddruk van ’n nasie ’n goeie aanduiding van hul geluk is.24
•Gelukkige mense leef langer.
•Gelukkige mense is meer sosiaal, energiek, minder moeg, meer samewerkend en gemeenskapsgeoriënteerd.
•Gelukkige mense het meer vriende, sal makliker trou en langer getroud bly.
•Hulle is innoverender en produktiewer, beter leiers en verdien meer geld.
•Dit is waarskynliker dat gelukkige mense ’n werk gaan kry, hulle vaar beter in onderhoude en is suksesvoller in die werk omdat hul verhoudings beter is.
•Gelukkige mense is suksesvoller op skool en voltooi hul skoolopleiding.
Depressie en geluk
Ek wil net reg aan die begin sê dat wanneer daar van depressie in hierdie boek gepraat word, dit met die grootste deernis gedoen word. Dit is werklik ’n baie uitmergelende en moeilike siekte met baie uitdagings.
Omdat so baie mense wat hierdie boek gaan lees een of ander vorm van depressie kan hê, wil ek vir hulle wys dat daar meer hoop is as wat hulle dink. Die antwoord is nie net medisyne nie. Nee, medisyne en ’n lewe van geluk kan groot veranderinge in jul lewe bring! Die velde van die positiewe sielkunde en emosionele intelligensie het baie tegnieke en vaardighede wat die lewe van die depressielyer kan vergemaklik en selfs kan verbeter. Daar is tonne navorsingsbewyse daarvan:
Martin Seligman het ’n waarheid kwytgeraak wat depressiewe mense dalk in gedagte moet hou.25 Dit lyk of pille eintlik maar net ’n 65%-sukses het met depressiewe mense en ook net mense wat uiters depressief is. Dit is nou diegene wat nie eens uit die bed kan opstaan nie omdat hulle so sleg voel. Met gewone depressie, met ander woorde die persoon wat nog kan funksioneer en net baie terneergedruk voel, wys navorsing dat die tablette eintlik geen effek het nie. Wanneer hierdie mense plasebo neem, is die sukses in elk geval tussen 45-55%.26, 27
Daar moet dus heeltemal op ’n nuwe manier na depressie gekyk word. Seligman gebruik die voorbeeld van skerpskutters. Dit neem dikwels vir ’n skerpskutter 24 uur voordat hy in posisie is. Dan is daar nog ’n verdere 36 uur om die skoot te skiet. Hoe lei jy hierdie mense op? Die sielkundiges kan nie ’n tablet vir hulle gee omdat hulle dodelik moeg is nie. Nee, hulle word weliswaar drie dae lank wakker gehou en daarna moet hulle leer om perfek te skiet ten spyte van hoe moeg hulle is. Hulle moet dus optimaal funksioneer ten spyte van die toestand waarin hulle is. Dit is dieselfde met vegvlieëniers. Seligman verwys na Abraham Lincoln en Winston Churchill wat albei aan ernstige depressie gely het, maar hoogs suksesvol gefunksioneer het ten spyte van hul depressie. Hulle het albei gekla oor die “swart hond” wat hulle gedurig jag. Seligman is van mening dat daar vir die depressielyer ook tegnieke gegee kan word om goed te funksioneer, al is sy siektetoestand ook hoe hewig.
Miskien moet depressielyers kyk of hulle sommige van die tegnieke en vaardighede in hierdie boek kan aanleer wat hulle gaan help om soos Lincoln, of die skerpskutter, goed te kan funksioneer, ten spyte van hul gemoedstoestand. Gee dit asseblief ’n kans.
Caspi, Moffit en kollegas by die King’s College, Londen, het baie interessante navorsing gedoen.28 Hulle wou die verhouding tussen stres en depressie bepaal. Hoekom is dit dat stresvolle situasies soos byvoorbeeld uitdiensstelling, onbeplande swangerskap, of watter trauma ook al, by die een persoon depressie veroorsaak, maar nie by die ander nie?
Hulle het gevind dat depressie geassosieer word met ’n spesifieke geen, naamlik 5-HTTLPR. Dit kom in twee vorms voor, die lang en kort allele (“allele” of “allelomorfe” beteken in leketaal die alternatiewe vorm van die geen). Die korte is die moeilike en slegte kalant, wat verhoed dat die brein weerstand teen depressiesimptome opbou.
Caspi het 847 jong kinders in Nieu-Seeland geneem en vasgestel dat meer as die helfte van hulle hierdie geen gehad het. Op die ouderdom van 26 het hulle probeer vasstel hoeveel negatiewe ervarings en depressie die kinders die vorige 5 jaar ervaar het. Altesame 26% van hierdie groep het drie of meer nare lewenservarings gehad en 17% het tye van ernstige depressie deurgemaak. Duidelik is gevind dat hoe meer negatiewe ervarings hulle gehad het, hoe depressiewer was hulle ook. Die belangrike bevinding was egter dat diegene wat depressie ervaar het, diegene was wat die sleg en kort allele gehad het. Dus het gene ’n groot invloed. Die verblydende ontdekking met opvolgende navorsing was egter dat as hulle baie ondersteunende gesinsverhoudings gehad het en elke dag ’n groot aantal positiewe ervarings beleef het, hulle nie depressief geword het nie ten spyte van die teenwoordigheid van die depressiegeen. Die wonderlike nuus is dus dat positiwiteit selfs die depressiegeen kan teenwerk! 29
In ’n baie eenvoudige eksperiment by die Pennsilvanië-Universiteit het prof Martin Seligman, een van die vaders van positiewe sielkunde, ’n groep ernstig depressiewe persone geneem. Hulle was so depressief dat dit vir baie van hulle moeilik was om uit die bed te klim. Hul opdrag was om op ’n webtuiste in te teken en elke dag net drie dinge aan te teken van iets goeds wat daardie dag met hulle gebeur het, byvoorbeeld my seun het gebel om dag te sê, dit was ’n lieflike sonskyndag, ek het ’n goeie dagstukkie vandag gelees. Binne vyf dae het hulle depressie vanaf ernstig depressief na middelmatig depressief verander. Nie minder nie as 94% van hulle het verligting ervaar.30 Is dit nie dalk die wonderlikste nuus vir mense wat aan depressie ly nie? Wend daadwerklike pogings aan om saam met jou medisyne ’n dosis positiwiteit en geluk in jou lewe in te bou. Die “swart hond” neem dalk net die loop. Ek hoop van harte so, want ons wil almal so graag ons depressiewe vriende help.
Pennsilvanië, hotelkamer 205
Wat op deeske aarde kan ons van ’n hotelkamer leer? Jy sal verbaas wees.
Die nommer van die hotelkamer dui op die kamer waarin Ed Diener en sy seun gaan bly het om te ervaar wat die deelnemers aan hierdie eksperiment deurgemaak het. Prof Sheldon Cohen, en ander navorsers, het ’n aantal studente wat deel van hierdie eksperiment was ’n tyd lank in ’n hotel in Pennsilvanië afgesonder.31 Hulle wou die verband tussen gemoed en gesondheid vasstel. Die studente het duisende dollars ontvang vir hierdie eksperiment waarin hulle ’n tyd lank in kwarantyn was sonder enige kontak met mense van buite. Die navorsers kon dus alles beheer: die student se kosinname, sosiale kontak, omgewing, en so meer. Vooraf is hul gemoedstoestand getoets om vas te stel hoe positief of negatief hulle is.
Op die eerste dag van die eksperiment is almal ingespuit met ’n verkouevirus, naamlik rinovirus 39. Hulle kon hul tyd verwyl met TV kyk en lees terwyl hulle gedurig gemonitor is om te kyk hoe die virus deur hul liggaam versprei.
Het jy al klaar geraai wat die uitslag was? Jy is reg! Diegene wat positiewer en gelukkiger was, het minder loopneuse gehad, minder gesnuif en minder verkouesimptome gehad. Hulle het ook gedink hulle is gesonder. Die navorsers se gevolgtrekking is presies dieselfde: Die student wat positiewer was, was minder vatbaar vir griep en het ligter simptome ervaar indien hulle dit wel gekry het. Mense wat positiewer is se immuniteitstelsel is sterker!
Dit is al klaar genoeg rede om gelukkig te wees, want dit gaan jou gewis teen verkoue en griep beskerm. Hoera!
Impak van emosies
As ek jou nog nie oortuig het waarom geluk en positiwiteit belangrik is nie, kyk na die volgende navorsing32 :
Vatbaarheid vir spesifieke siektes
In navorsing wat oor drie dekades gedoen is, is bevind dat gelukkige mense met positiewe emosies minder vatbaar vir ernstige siektes is. Ongelukkig geld dit nie vir vetsug nie. Soos voorheen al genoem, kan jy egter nie wegkom van die feit dat jou gene ook ’n rol in ernstige siektes speel nie.
Lewensverwagting
Navorsing het onteenseglik bewys dat positiewe mense langer leef. Uit en gedaan.
Navorsing wat as die “nonnestudie” bekend staan, het merkwaardige uitslae gelewer. Deborah Danner by die Universiteit van Kentucky het 180 nonne in haar navorsing gebruik. Nonne is natuurlik goeie proefkonyne, want hulle woon in dieselfde omstandighede, eet min of meer dieselfde soort kos, het dieselfde seksuele aktiwiteite, of dan eerder weerhouding daarvan (so dink ons!), en so meer. Hierdie nonne het tussen die jare 1931 en 1942 die kloosterlewe betree en almal het hul outobiografie geskryf. Dit is juis hierdie geskrifte wat die navorsers gebruik het. Die navorsers was geïnteresseerd in die emosies van die nonne en hoe dit hul gesondheid beïnvloed het. Hul stories en geskrewe taal is deurgegaan vir positiwiteit en negatiwiteit.
Hierdie nonne is toe in vier groepe verdeel, naamlik van die positiefste tot die minste positief. Vyftig jaar later is gevind dat van die positiefste nonne 90% nog op 85 jaar geleef het en 54% op 94 jaar. Van dié wat die minste positief was het 34% nog geleef op 85 en slegs 11% op 94. Dieselfde uitslag is in ander studies gevind. Die positiefstes mense het eenvoudig langer geleef.33
Wil jy langer leef en ’n gesonde lewe hê? Wees gelukkig en lei ’n positiewe lewe!
Ontvanklikheid vir emosies
Daar is spesifieke neurone in die mens se brein, die sogenaamde spieël-neurone, wat onbewustelik die emosies van mense rondom ons bespeur. Ons emosies het dus ook ’n invloed op ander. Later in die boek gaan ons meer daaroor gesels. Jou gelukkigheid het ’n uitwerking op jou vriende en jou negatiewe emosies ongelukkig ook. In navorsing by Harvard is gevind dat as jy ’n vriend het wat depressief geword het, die kanse 93% is dat jy dieselfde sal ervaar. Hoe sterker die vriendskap, hoe groter die invloed.34
Geluk het dieselfde uitwerking. ’n Gelukkige vriend verhoog jou eie gelukkigheid met 25% en as dit jou beste vriend is, 63%! 35 Omring jou dus met goeie, gelukkige vriende.
Dit plaas ’n groot verantwoordelikheid op ons elkeen omdat ons onbewustelik so ’n groot invloed op ander het.
Wat is die geluksvlak in die wêreld en Suid-Afrika?
Waar dink jy lê Suid Afrika in vergelyking met ander lande op die VN se verslag van 2013 oor geluk in verskillende lande? Daar was 156 lande wat gemeld word.36 Wat is jou raaiskoot?
Hier is ’n tabel met ’n aanduiding van enkele lande:
1 Denemarke | 17 VSA |
2 Noorweë | 18 Brittanje |
3 Switserland | 82 Nigerië |
4 Nederland | 86 Ghana |
5 Swede | 96 Suid-Afrika |
6 Kanada | 152 Rwanda |
10 Australië | 156 Togo |
Wat kommerwekkend is, is dat Suid Afrika se prestasiepunt sedert die vorige verslag van 2005-2007 met 0,182 gedaal het.
In Suid-Afrikaanse navorsing (18 217 deelnemers) wat deur dr Nicola Taylor en Christine Yiannakis van JvR Psychometrics in 2007 saamgestel is, het die volgende interessanthede na vore gekom:37
•Daar was geen verskil in die geluk van mans en dames nie.
•Ouer mense was gelukkiger as jongeres.
•Wanneer die telling van geluk laer was, was die vlak van emosionele intelligensie ook laag.
•Lae telling van geluk was ’n aanduiding dat die persoon tekens van depressie getoon het, hom sosiaal onttrek het, ’n algemene ontevredenheid met die lewe ervaar het en bekommerd oor die toekoms was.
Gelukkigheid is ’n reis
Baie mense dink dat jy ’n punt bereik waar jy nou gelukkig is. Nee! Dit is ver van die waarheid. Dit gaan daaroor om gelukkiger te word en dit is ’n proses wat aanhou. Jy moet gedurig daaraan werk. Om gelukkig te wees is dus ’n lewenslange strewe, ’n lewenslange reis. Dit gaan oor “doing and not having”.38 Dit is soos bergklim. Die bereiking van die top is die kortstondige oomblik van euforie, maar die voorbereiding – stap, tree vir tree; die slukkies water, tree vir tree; die uitsig, tree vir tree – dít is wat dit die moeite werd maak. Dieselfde met geluk. Dit is om daagliks nuwe tegnieke, vaardighede of aktiwiteite op jou pad van geluk en lewensvreugde te toets. Elke oomblik, tree vir tree.
Gemoedstoestand en jou gedrag
Al daaraan gedink dat jou gemoedstoestand hierdie reis van tree tot tree beïnvloed? Al ooit daaraan gedink hoe ons gemoedstoestand op ’n onbewustelike manier ons gedrag beïnvloed? Kom ons kyk na ’n paar interessanthede uit navorsing.
Dit is amper vreesaanjaend as ’n mens na die volgende navorsing kyk.39 Alice Isen en haar kollegas het na die invloed van goeie gemoedstoestande gekyk. Hulle het geld in ’n openbare telefoon se gleufie gesit, waar jy gewoonlik jou kleingeld terugkry. Die mense wat oproepe gemaak het en hierdie ou gelukkie getref het om ’n ekstra geldjie te kry, was baie meer gereed om vreemdelinge wat met iets gesukkel het, te help. Mense wat by die telefone verbygeloop het (lede van die navorsingspan), het papiere laat val en hierdie “geluksvoëls” wat so pas ’n paar sente gekry het was maar te gewillig om met die optel van papiere te help. In ander navorsing het pasiënte vir hul dokters ’n pakkie met lekkers en sjokolade saamgeneem en die bevindings in hierdie studie was dat daardie dokters se diagnoses beter was: hulle het vinniger daartoe gekom en was aanpasbaarder in hul diagnose. Wrintiewaar! Vat volgende keer ’n paar sakke sjokolade vir jou dokter as jy ’n goeie diagnose wil hê. Hulle is ook maar mens, nè? Hou van ’n ou tjokkie!
Die koffie-studie is ’n ander navorsingsprojek wat wys hoe ons gemoedstoestand daagliks ons oordeel beïnvloed.40 John Bargh, professor in sielkunde aan die Yale-Universiteit, het baie van sy tyd gewy aan die studie oor hoe ’n mens se emosie jou gedrag beïnvloed. In hierdie studie het hy en sy kollegas ondersoek hoe ’n gewone koppie koffie ons onbewustelik kan beïnvloed of ons van iemand gaan hou of nie.
Die eksperiment is soos volg opgestel: Studente op pad na ’n laboratorium het verby ’n “laboratoriumassistent” geloop wat papiere en dokumente wat in wanorde was, met een hand probeer orden. In die ander hand was ’n koppie warm of, ander kere, koue koffie. Die student is gevra om net gou te help om die koppie koffie vas te hou terwyl die assistent die situasie uitstryk. Nou luister hierna: Die studente moes daarna ’n persoon evalueer. Diegene wat die koue koffie vasgehou het, het meestal die ander persoon as koud, minder sosiaal en selfsugtig beskou. Diegene wat die warm koffie vasgehou het, se siening was heeltemal die teenoorgestelde.
Die navorsing het bewys dat ons onbewuste ons altyd beïnvloed. Op grond daarvan neem ons rasionele maar ook dikwels irrasionele besluite wat ons gedrag en gedagtes beïnvloed. Die les wat ons hieruit leer, is moenie jou dag met ’n koppie koue koffie begin nie. Nee, ek oordryf nou maar ’n bietjie, maar dit is gewis ’n bewys van hoe ’n onbewustelike ongelukkigheid ons gedagtes en gedrag beïnvloed.
Gedagtes, gemoedstoestand en enigiets is moontlik
Dit is so ironies hoe die sielkunde dinge wetenskaplik bewys wat die Bybel lank reeds gesê het. Dink aan hierdie woorde soos jy verder lees in hierdie boek. Jou gedagtes beïnvloed jou lewe en kan jou gesondheid verander – dis Bybels! Kyk wat is in die Bybel reeds in Fil 4:8 gesê: “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig.”; Rom 12:2: “… laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”. As jy jou gedagtes verander, verander jou emosies en so ook jou lewe!
Joe Dispenza, ’n chiropraktisyn en die skrywer van Evolve your brain, was in ’n baie traumatiese fietsongeluk tydens ’n resies. Sy prognose was geweldig negatief. Twee operasies is aanbeveel, maar hy het daarteen besluit en gekies om sy gedagtes vir sy genesing in te span.
Hierdie nie-Christen het ’n paar lewenslesse ontdek wat ons as Christene gerus ter harte kan neem. In sy herstel het hy gefokus op die onderstaande drie pilare van gesond word, soos hy dit gestel het.41
’n Innerlike intelligensie gee ons lewe en kan die liggaam gesond maak
Hoe sê die Bybel? God het ons net minder as ’n goddelike wese geskape. Ons is immers die beeld van God!
Besef ons werklik met watter ongelooflike innerlike krag en vermoëns God ons geskape het? Jou hart klop 100 000 keer per dag sonder dat jy daaraan dink. Dit is 40 miljoen hartkloppe per jaar. Stop vir vyf sekondes, haal diep asem en lees dan verder.
Terwyl jy gestop het, het die volgende gebeur: Daar het presies 100 000 chemiese reaksies in elkeen van jou selle plaasgevind. Vermenigvuldig dit nou met die aantal selle in jou liggaam wat, terloops, tussen 70 en 100 miljard is. Die meeste van ons het nie eens ’n rekenaartjie wat hierdie som kan doen nie! Het jy daaraan gedink toe hierdie reaksies plaasgevind het? Nee. Dit is nie in die bewuste nie, maar in jou onbewuste. Ook maar goed dat ons nie daaraan hoef te dink nie, want ons kan nie eens die sewe items op ons inkopielys onthou nie!
As jy die DNS van al die selle in jou liggaam sou kon ontrafel, sal dit 150 keer na die son en terug strek; jou smaakknoppies in jou mond lewe net ’n paar uur; jou witbloedselle leef omtrent tien dae. Wetenskaplikes beweer dat omtrent 1% van jou selle daagliks vervang word; min of meer 30% per maand.42 Jy is dus, sover dit jou selle aangaan, omtrent elke drie maande ’n nuwe mens. Dit is dus nie snaaks dat dit omtrent drie maande neem om nuwe gedrag aan te leer nie. So kan ons aangaan. Genoeg, egter.
Ons het ’n intelligensie binne elkeen van ons wat groter is as wat ons ooit kan besef. Dit wys jou net wat God jou gegee het waarmee jy kan werk; waarmee jy jou daaglikse lewe, selfs jou gesondheid, kan verander! Jy wat soms so vreeslik onbekwaam en minderwaardig voel, geskapene-na-die-beeld-van-God! Dink aan hoe wonderlik God jou geskape het en watter onbeperkte vermoëns jy eintlik het! As jy hierdie intelligensie wat God in jou geskape het begin gebruik, kan jou lewe heeltemal verander.
Joe Dispenza het begin navorsing doen oor wat gebeur met mense wat besluit om nie noodwendig die pille-en-operasie-roete vir gesond word te volg nie; hoe hulle dink, wat hul wysheid is. Hy het gevind dat hulle almal geweet het dat hul ingesteldheid en hul liggaam onlosmaaklik aan mekaar verbonde is. “They came to understand if they tapped into this intelligence (of the human being) and used their thoughts to direct it, it would know how to heal their bodies for them.” 43 Met die regte gedagtes kan ons nie net lewensvreugde en geluk beleef nie, maar ook ons lewe heeltemal verander en onsself selfs gesond maak!
Neuroplastisiteit en biologiese verandering in die liggaam
Nou eers ’n klein bietjie graad 8-biologie. Ek belowe ’n wêreld se insig sal vir jou oopgaan.
Eerstens: Dit is so dat baie van ons gedrag geneties vasgelê is (met ander woorde, dit is van ons voorouers geërf). Dit hoef egter nie verdoemend te wees nie. Die nuutste navorsing wys egter dat ons ons gene, sowel as breinselle, kan verander.44 Een van die wonderlikste ontdekkings in die laaste tyd handel juis oor die neuroplastisiteit van die brein, naamlik dat die brein verander kan word – in lekker Afrikaans, herbedraad kan word: “the ability to rewire and create new neural circuits at any age to make substantial changes in the quality of your life” 45; “Nerve cells that fire together, wire together”.46 Ons kan dus van alle ongesonde gewoontes of gedagtes wat ons van ons voorouers geërf het of wat ontstaan het as gevolg van ons verlede, ontslae raak deur ons brein nuut te bedraad. Jy kan alles verander en dié boek gaan jou wys hoe.
Waarom is dit dan so moeilik om daardie dinge, wat ons probleme veroorsaak, te verander? Daar is ’n eenvoudige antwoord: Elke keer dat ’n gedagte deur jou brein gaan, word chemiese stowwe afgeskei wat gevoelens en reaksies in jou liggaam laat ontstaan. Jou liggaam word so gewoond aan hierdie chemiese stowwe en wil dit altyd op daardie vlak hou. As jy dus wil verander, voel die liggaam erg ongemaklik omdat jy hierdie vlak van chemiese stowwe versteur. Jy is dus verslaaf – jy hoor reg: verslaaf – aan daardie emosionele toestand wat deur spesifieke chemiese stowwe in jou liggaam geskep is.47
Jou gedagtes het deur die jare jou brein sodanig bedraad dat dit baie moeilik is om jou ingesteldheid te verander en dus hierdie vlak van chemiese stowwe ook. Dit benodig baie aksie van jou kant af! Dit voel soos om op ’n vliegtuig te wees wat gekaap is. Jy is vasgevang in die sitplek en kan eintlik nêrens heen nie.
Die wonderlike nuus in hierdie boek is dat jy wel die vermoë het om uit te breek; die bedrading van jou brein te verander (neuroplastisiteit) sowel as die verslawing aan hierdie vlak van chemiese stowwe. Maar, dit gaan nie gebeur as jy nie iets daaromtrent doen nie. Die klem is op doen; op aksie; nie net daaroor lees nie. Selle en die brein moet herbedraad word om jou verslawing aan sekere chemiese stowwe te verbreek.
Tweedens: Elke gedagte produseer ’n biochemiese reaksie in die brein. Die brein stuur dan chemiese seine na die liggaam waar hulle dan as’t ware optree as boodskappers van die gedagte. Die gedagtes wat die chemiese stowwe in die brein geproduseer het, laat jou liggaam toe om presies te voel op die manier wat jy gedink het. “So every thought produces a chemical that is matched by a feeling in your body.” 48 As jy dus positiewe en gelukkige gedagtes het, sal jou brein chemiese stowwe afskei wat sal maak dat jy gelukkig, geïnspireerd en gemotiveerd gaan voel. Byvoorbeeld, as jy na iets uitsien wat jou gelukkig gaan maak, soos die besoek van iemand spesiaals, dan skei die brein ’n senuoordraer, dopamine, af wat jou opgewonde laat voel in afwagting van wat gaan gebeur.
Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar. Indien jy kwaad is of onwaardig voel, skei die liggaam neuropeptiede (vergeet gerus dié groot woord!) af wat jou aaklig sal laat voel. Die oomblik dat jy voel jy is nie goed genoeg nie, onwaardig of wat ook al, skei jou brein chemiese stowwe af wat ’n gevoel van onwaardigheid laat ontstaan. Nou voel jy soos jy gedink het. Hoe meer jy hierdie gedagtes begin dink, hoe meer word jou brein so bedraad. Dit gaan op die ou end jou gesondheid en lewensgehalte bepaal.
“Ons moet onsself losmaak met behulp van ons verstand . . . vir die een wat sy verstand oorwin het, is sy verstand sy beste vriend; maar vir die een wat dit nog nie gedoen het nie, bly sy verstand sy grootste vyand.” – Bhagavad-Gita
Hierdie gedagtes kan ’n mens dus siek maak en dit is so belangrik om sulke negatiewe gedagtes uit te roei as jy ’n gesonde en gelukkige lewe wil lei. Dit gaan selfs verder. As jy pyn het en jy dink aanmekaar daaraan, dan word dit net erger. Jy kan egter daardie siklus verbreek, hierdie bedrading verander en minder aan die pyn dink. Die weë in die brein word dan nie versterk nie en die pyn kan dan selfs verminder of verdwyn.
Jy kan verander
Jy moet egter gaan sit, stil word en jouself begin afvra: “Wat sal gebeur as ek ophou om so ongelukkig, selfgesentreerd en negatief te wees en hoe kan ek verander? Wat as ek ophou om my altyd te bekommer, skuldig te voel, jaloers te wees, wraakgedagtes te koester?” Hierdie is die eerste stap na ’n nuwe jy. Jy is nou reg om jou brein te herbedraad as jy ’n eerlike, opregte voorneme het om dit wel te doen!
Daar is in 1995 navorsing gedoen wat wys watter ongelooflike vermoë die mens het om sy brein te herbedraad 49. In hierdie studie is individue lukraak geplaas om vas te stel hoe die aanleer van ’n musiekstuk die bedrading in die brein beïnvloed.
Die eerste groep het ’n musiekstuk geleer wat hulle met die een hand kon speel en hulle is toegelaat om dit vyf dae lank twee uur per keer in te oefen. Die tweede groep kon klavier speel soos hulle lus het sonder dat hulle die musiekstuk geleer het. Die derde groep het as toeskouers gesit en kyk hoe die eerste groep die stuk aanleer en dit in hul gedagtes gememoriseer en gevisualiseer. Daarna het hulle, sonder om aan die klavier te raak, twee uur per dag, vyf dae lank, die musiekstuk in hul gedagtes op die klavier gespeel. Die vierde groep was ’n kontrolegroep en het hoegenaamd niks gedoen nie.
Die ongelooflike uitslag van hierdie studie was dat die groep wat die stuk net gevisualiseer het (mental rehearsal, soos die Engelse sou sê), byna dieselfde verandering in die brein ondergaan het as die groep wat die klavier fisiek bespeel het! Byna dieselfde neurale netwerke is in die brein gevorm. Hulle het dus hul brein laat groei en verander bloot deur hul gedagtes! (In die neurowetenskappe staan dit as die Hebbiaanse leer bekend). Met toegewyde psigiese programmering van jou brein kan die brein nie onderskei tussen wat werklik gebeur of wat net in jou gedagtes gebeur nie.
Dit het geweldige implikasies vir ons: As jy dus toegewyd werk, kan jy nuwe weë in jou brein vestig; jy kan dus nuwe gedagtes aanleer soos om gelukkig te wees, positief te wees, vriendelik te wees, behulpsaam te wees, gesond te wees – oneindig baie ander moontlikhede. Die klem is egter daarop om dit toegewyd te doen. (Kyk later in die boek hoe ons FEED gaan inspan om die aanleer van nuwe tegnieke en vaardighede blywend deel van jou lewe te maak.) Soos ons reeds geleer het, as jy nie langer aan iets aandag gee nie, verloor dit sy doeltreffendheid, met ander woorde jou gevoelens van minderwaardigheid, negatiwiteit, woede, noem maar op, verminder werklik en gaan op die ou end weg. Soos ons Engelse vriende sou sê: “Nerve cells that no longer fire together, no longer wire together.”
Fokus, fokus, fokus!
Om te verander beteken eenvoudig net harde werk – iets wat baie van ons nie wil doen nie. Jy kan nie ’n suksesvolle sportman wees deur net af en toe te oefen nie. Tog wil ek en jy suksesvol en gelukkig wees deur net af en toe iets daaraan te doen. Wanneer ’n mens siek is, drink jy mos nie die voorgeskrewe medisyne net een keer nie? Tog wil ons verander deur iets net een keer te doen!
Die wete dat jy sekere dinge in jou lewe wil verander, is nie genoeg nie. Nee, meer is nodig: ’n passie om te wil verander, groot toewyding en om dan tyd te bestee om hierdie dinge te verander. Jy moet elke dag doelgerig optree in die velde wat jy wil aanpak. Om die vaardighede te bemeester is die truuk om jou brein anders te bedraad – ons praat in die volgende hoofstuk daaroor. Laat ek dit van die begin af duidelik stel. Ons glo graag dat een of twee groot dinge nodig is om ons gelukkig te maak, maar dit is nie so nie. Wees nou reeds voorbereid daarop dat om gelukkig te wees jy ’n klomp klein dingetjies sal moet doen.50
Jy weet dat een van ons groot dilemmas juis is om te fokus. Navorsing wys dat ons hoogstens op vier goed op dieselfde tyd kan fokus.51 Jou lewensverandering gaan dus heelwat harde werk kos.
Goed! Genoeg gepreek en agtergrond gegee. Wat bied die sielkunde (wat dikwels al lankal deur die Bybel gesê is) ons om ons lewe te verander deur ons brein anders te bedraad?
As jy nie so vertroud is met die veld van emosionele intelligensie (EI) en positiewe sielkunde nie, kom ons gesels eers ’n bietjie daaroor. Die boek handel juis oor wat EI en die positiewe sielkunde ons kan leer en bied om ’n gelukkige lewe te lei.
Die reis met emosionele intelligensie en positiewe sielkunde
Toe Daniel Goleman se boek Emotional Intelligence: Why it can matter more than IQ in 1995 gepubliseer is, het hy die sinsnede “die nuwe maatstaf vir sukses” gebruik en dit het ’n ongelooflike hoeveelheid belangstelling gewek ten opsigte van die rol wat EI in ons daaglikse lewe kan speel.
Dit was eerstens glad nie ’n nuwe konsep nie, hoewel dit eers in 1990 deur Peter Salovey en Jack Mayer gedefinieer is. (Edward Thorndike het reeds gedurende die twintigerjare ’n soortgelyke konsep bedink.) In die tweede plek is daar nou reeds voldoende navorsing gedoen om te bewys hoe belangrik EI vir die sukses van ’n huwelik, verhouding, persoonlike bemeestering, fisieke welsyn, sosiale gewildheid en by die werkplek is. Daar word nou wêreldwyd aanvaar dat EI noodsaaklik vir die mens op alle vlakke van sy lewe is.
Daar bestaan tallose definisies van EI, maar baie van hulle het geen navorsing om dit te rugsteun nie en is die onbewese sienswyse van die outeur.
Daniel Goleman definieer emosionele intelligensie as: “The capacity for recognising our own feelings and those of others, for motivating ourselves, and for managing emotions in ourselves, and in our relationships.” 52 Self verkies ek die definisie van Reuven Bar-On. Nie alleen het hy sy navorsing in 1985 in Grahamstad begin nie, maar hy het ook die assesseringsinstrument (EQi) ontwikkel wat amptelik gedurende Augustus 1996 geloods is. Dit het geblyk die beste evalueringsinstrument vir EI in Suid-Afrika te wees, en baie betroubare navorsing is tot op hede hierop gebaseer. Sy definisie is: “EI is ’n versameling niekognitiewe vermoëns, bekwaamhede en vaardighede wat ’n uitwerking het op ’n mens se vermoë om sukses te behaal in die hantering van omgewingseise en druk.” 53 As jy so na hierdie definisies kyk, sal jy sien dat EI eintlik baie van die elemente insluit wat die Bybel “vrug van die Gees” noem (Gal 5:22-23).
EI verwys dus na die volgende dimensies van intelligensie:
•Persoonlik
•Sosiaal
•Emosioneel
•Innoverend
•Oorlewingsvaardighede
Terloops, die telling van ’n toets vir emosionele intelligensie staan bekend as die EK-telling (EQ), terwyl die telling vir kognitiewe vermoë as IK bekend is.
In die literatuur sal ’n mens dikwels vind dat wanneer die skrywer na emosionele-intelligensievaardighede verwys, die term EK gebruik word, eerder as EI, wat nie 100% korrek is nie. Deesdae is dit geredelik aanvaarbaar om die woord EK (EQ) te gebruik wanneer jy na EI verwys.
Hoe verskil EK en IK?
IK is die assessering van ’n individu se intellektuele, analitiese, logiese en rasionele vermoëns. Dit gee ’n aanduiding van die individu se vermoë om dinge te lees, op take te fokus, objektiewe inligting te herroep en te behou, hoe hy redeneer en getalle manipuleer, hoe hy abstrakte en analitiese denke gebruik en die manier waarop hy probleme oplos deur vorige kennis toe te pas. EK is die niekognitiewe dimensies van intelligensie. Steven Stein beskou dit as die vermoë om die politieke en sosiale omgewing te lees; om intuïtief aan te voel wat ander mense wil hê en nodig het, en wat hul sterk punte en swak punte is, om onverstoord te bly onder stres; en om innemend te wees – die soort mens wat ander mense graag wil ken.54
Jy gaan in hierdie boek leer uit die veld van die EI. Vir meer inligting oor navorsingsbewyse, verwys na die Consortium for research on EI in Organisations, waarvan Daniel Goleman en Cary Cherniss die voorsitters op die webbladsy is: www.EIConsortium.org.
’n Veld wat vir baie mense minder bekend is as die veld van EI, is die veld van positiewe sielkunde.
In die begin van hierdie eeu het Martin Seligman, toe voorsitter van die Amerikaanse Vereniging van Sielkunde, dit sy missie begin maak om ’n nuwe beweging van die grond te bring, naamlik die positiewe sielkunde waarvan EI ’n groot deel was. Sy argument was dat tot op daardie tydstip die fokus van die sielkunde op die siektemodel was: hoe om die persoon met depressie te help, hoe om psigopatologie te hanteer, hoe om mense met afwykings te hanteer, en so meer. (Terloops, hy het ’n groot deel van sy akademiese loopbaan gewy aan depressie en hoe om mense wat daarmee sukkel, te help.) Sy argument was dat daar ’n klemverskuiwing in die sielkunde moes plaasvind. Daar was te min navorsing om mense wat heel normaal funksioneer te help om ’n beter lewe te lei.
In daardie stadium was die fokus dus om die persoon te help om van -8 tot 0 te verbeter. Daar is egter weinig gedoen om mense van 4+ tot 7+/8+ te help verbeter. Dit het aanleiding gegee tot ’n wonderlike nuwe klem in die sielkunde om mense wat goed funksioneer te help om te floreer: om te beweeg vanaf ’n 2, 3, 4 of 5 tot 7+ of 8+. Hierdie beweging het soos ’n veldbrand versprei en het gelei tot wonderlike navorsing in die veld van positiewe sielkunde, waarvan die kwessie hoe om gelukkig en positief te wees op die voorpunt van navorsing was.
In hierdie boek gaan daar ruimskoots gebruik gemaak word van tegnieke uit die velde van EI, sowel as die positiewe sielkunde, wat deeglik nagevors is.
Onthou-waarhede
Onthou die volgende waarhede van hierdie hoofstuk:
•Daar bestaan baie mites oor wat jou geluk beïnvloed.
•Gene bepaal 50% van jou geluk en omstandighede 10%, maar 40% is in jou beheer en jy kan iets daaraan doen.
•Geluk verbeter alle fasette van jou lewe.
•Geluk en positiwiteit bring hoop vir die depressielyer.
•Jou gedagtes en gemoedstoestand beïnvloed jou gedrag.
•EI en positiewe sielkunde stel wetenskaplik nagevorste tegnieke en vaardighede beskikbaar waarmee jy ’n lewe van geluk kan lei.
•Studies oor die neuroplastisiteit van die brein het bewys dat die brein herbedraad kan word.
Nou is ons gereed om in die volgende hoofstuk te sien hoe die brein herbedraad kan word.