Читать книгу Clint Eastwood Van Wyk en die Moordernaarsklok - Pieter Verwey - Страница 4

Оглавление

1

Van spoke, VVV’s en praat in tale

Dis nag.

Binne oomblikke gaan ’n blonde seun onder ’n vreemde duvet hom amper nat skrik. Hy gaan geluide maak wat geen seun behoort te maak nie. Onaardse geluide, soos ’n stofsuier wat vassuig teen ’n wolhaarmat. Hy gaan sukkel om asem te haal en sy knieë gaan onwillekeurig teen sy bors vasskop. Sy oë gaan rek in die donker om beter te kan sien. Sy hart gaan in sy ore hamer terwyl sy keel toetrek.

En dan, wanneer hy net-net genoeg asem in sy longe getrek het vir een desperate uitroep, gaan hy gil – hard en aanhoudend. Maar meer belangrik: in goeie Afrikaans.

Dit sal in sy guns tel as hy nie “Mammie!” gil nie.

Ons sal maar moet wag en sien.

Sy skrik dreig al van vroegoggend af. Hy wóú mos, nou sal hy bars. Maar wag ’n bietjie: voordat hy gil, moet ons eers gaan kyk wat vanoggend gebeur het.

Vanoggend is die eerste Vrydag van die Julie-skoolvakansie.

Op die Kaapstadse lughawe staan Bruce Lee, Clint Eastwood en Heidi saam met hulle ma en wag vir ’n vliegtuig uit Amerika. Dié drie telge van professor Theuns en doktor Femke van Wyk is onderskeidelik agtien, vyftien en elf jaar oud.

En hulle is nie beïndruk nie. Nie met die skares mense nie, en ook nie met die feit dat hulle moet staan en wag vir hulle nefie Budde uit Amerika nie.

Budde van Wyk en sy sussie LOL (regte naam Monique, maar LOL gedoop omdat sy giggel vir niks) het drie jaar gelede saam met hulle ouers Kalifornië toe getrek. In die dorpie Palmdale het hulle net meer irriterend geword as wat hulle in Suid-Afrika was.

Clint Eastwood onthou goed watse nat waslap sy nefie was, en hy kan net dink wat drie jaar se oppiep in Amerika aan Budde gedoen het. Eintlik dink hy dit nie, hy wéét dit, want danksy die wonder van internet kan mense ongelukkig nou in kontak bly vanaf enige plek op die planeet. Dus word hy kort-kort gedwing om met sy nefie op Skype te gesels.

Dit gaan maar moeilik, want as daar een ding is wat Clint Eastwood haat, is dit om oor koeitjies en kalfies te gesels. Veral met iemand wat jou groet met ’n gooi van sy kuif en ’n ongeërgde “S’up …”

Nie eers “What’s up?” nie. Sommer net “S’up.”

So asof sy nefie nie die moeite kan doen om sy woorde in die regte volgorde by sy tong verby te kry nie. Binne drie maande vandat Budde in Amerika aangeland het, het hy ’n houding ontwikkel, en ’n kuif.

Clint Eastwood het nie tyd vir kuiwe nie. Hy het nog minder tyd vir ’n houding. Dié foeter hy vinnig uit jou uit – sy naam is nie verniet Clint Eastwood nie. En vir ’n kuif het hy ’n skêr. Let daarop dat dit nie ’n bynaam is nie, maar dat sy pa en ma hom regtig vernoem het na ’n rolprentster – naam én van. Clint Eastwood moes baie vinnig leer om homself te laat geld.

Behoede jou as jy vir een oomblik sou dink Clint Eastwood is snaaks. As hy wou snaaks wees, sou sy ma-hulle hom Charlie Chaplin gedoop het. Maar hulle het nie, het hulle? Hulle het hom vernoem na een van die rofste, onbeskofste ouens op die planeet – seker omdat hulle geweet het hoe hy gaan uitdraai.

En as jy dink hy sal soos sy ouboet maklik die tweede deel van sy naam weglaat, maak jy ’n fout. Sy naam is nie Clint nie, dis Clint Eastwood van Wyk. Daar’s geskiedenis agter daai naam. Enige ou kan ’n Clint wees, maar min kan ’n Eastwood óók wees. In sekere opsigte is Clint Eastwood meer ’n Eastwood as Clint Eastwood self.

Maar dit daar gelaat.

Hy vermoed sterk sy oom en tannie het sy nefie teruggestuur Suid-Afrika toe sodat hy hopelik gedurende die volgende drie weke ’n ruggraat kan groei. Hy wat Clint Eastwood is, het dit op homself geneem om seker te maak daarvan. As hy dan nou sy vakansie moet opoffer om ’n man uit sy neef te maak, gaan hy dit ten minste geniet. Hy het reeds ’n paar planne beraam, wat onder meer ’n skeermes insluit.

Gelukkig kom LOL nie saam nie. Haar gegiggel elke keer as Clint Eastwood niks anders doen as om net in haar rigting te snuif nie, sou hom van sy kop af gemaak het. Sy gaan blykbaar op ’n koorkamp of ’n ding, en Clint Eastwood is maar te dankbaar.

Dus staan hulle nou hier en wag, al drie in ’n ry, van lank na kort. Soos die noodlot dit wou hê, is Clint Eastwood die middelkind. Aan sy linkerkant staan Bruce (sonder die Lee) en aan sy regterkant sy sussie Heidi.

Soos altyd is sy die positiefste van die drie. Dit moet ’n meisie-ding wees, meen Clint Eastwood. Of dalk is dit die geleentheid om alles en almal wat sy sien af te neem met haar kamera wat alewig aan haar skouer swaai waar ander meisies ’n handsak dra.

Heidi het ’n passie vir fotojoernale. Moet dit net nie scrapbooking noem nie – sy sal jou vinnig vertel dat scrapbooking vir middeljarige tannies met ’n leemte in die hart is; dis iets wat bruide doen omdat hulle bang is hulle vergeet die groot dag. Wat sý doen, is wetenskaplik. ’n Vermenging van Charles Darwin se joernale en Peter Beard se kuns. En as jy nie weet wie dié twee is nie, praat sy nie sommer weer met jou nie.

Bruce het saamgekom vir heel ander redes. Hy is beslis nie van plan om sy vakansie saam met sy familie deur te bring nie. Hy gaan eerder saam met sy vriende naby Knysna kamp. Vir hom is hierdie ’n frustrerende ompad voordat sy ma hom in Kampsbaai gaan aflaai en sy vakansie in alle erns begin.

Soos hulle daar staan, lyk Bruce Lee en Clint Eastwood op ’n haar na mekaar. Skerp gelaatstrekke, donker hare en lewendige oë wat alles inneem en blitsig verwerk in kategorieë van moontlikhede – of in Clint Eastwood se geval, onmoontlikhede.

Dis nou wat jy kry as al twee jou ouers akademici aan die Universiteit van Stellenbosch is: ’n gesonde verbeelding gekombineer met waansinnige nuuskierigheid, en daarby ’n gawe om sop uit te snuffel waarin jy so dikwels as moontlik kan beland.

Byvoorbeeld is Clint Eastwood nie die tipe seun wat enige nonsens glo wat aan hom verkwansel word nie. Net omdat Einstein dit gesê het, beteken nie dis wáár nie, meen hy, dit beteken maar net Einstein het geglo dis waar. Soos sy Teorie van Relatiwiteit. Daar’s ’n rede hoekom die ding se naam die Teorie van Relatiwiteit is. Want dis al wat dit is – ’n teorie – anders sou hulle dit tog die Feit van Relatiwiteit genoem het.

Daarom dan dat Clint Eastwood alles self wil beproef. Hy sal enige iets doen net om te sien wat gaan gebeur. Dit sluit natuurlik sy vriende in, wat meestal teen hulle wil, of selfs sonder hulle medewete, ingesleep word by sy planne. En hy het baie planne. Die meeste daarvan wentel gewoonlik om die vraag wat hy binne die volgende vyf minute gaan doen.

Wat ons terugbring by die Kaapstadse lughawe, waar hy juis nou staan en wonder wat sal gebeur as hy peper op die bagasieband strooi waar ’n polisiehond snuffel vir dwelms.

Volgens sy eie ondervinding sal dit die hond heel afsit. Hy sal begin nies vir ’n vale en dan buite aksie wees vir ’n paar uur. Hy weet dit, want hy het dit beproef met Walkabout.

Walkabout is ’n boerboelerige hond wat Clint Eastwood se pa vir hom gegee het. Soos sy naam aandui, vat Walkabout sommer maklik die pad om te gaan rondloop.

Sover Clint Eastwood weet, is daar nie ’n reël wat sê jy mag nie peper in jou bagasie strooi nie. Wat eintlik snaaks is, want dis die eerste ding wat hy sou doen as hy iets wou smokkel. Daar is reëls teen biltong – biltong! – maar nie teen peper nie. Vreemd.

Hy staan nog so en wonder waar om peper in die hande te kry sodat hy die hond kan … wel, peper, toe Heidi hom soos ’n wafferse paparazzo amper van sy voete af elmboog. Sy begin wild foto’s neem en dit flits soos ’n Hoëveldstorm teen die verbaasde gesig van hulle nefie wie se kop net-net bo sy bagasie uitsteek. Vir ’n paar oomblikke word hy verblind in sy een oog (die een wat nie onder sy kuif weggesteek is nie).

Die snaakse ding van ’n lughawe is dat jy nooit weet wie jy daar kan raakloop nie, enige iemand van filmsterre tot sportpersoonlikhede. So toe Heidi se kamera begin flits, ruk ander mense hulle selfone uit en begin ook foto’s neem van Budde in die hoop dat hy ’n bekende is. ’n Plomp meisietjie voor in die koor begin sommer histeries gil.

Sy sluk egter gou haar gil toe Budde nader kom en sy sien hoe lelik hy is. Of dalk is dit hoekom sy in die eerste plek gegil het, dink Clint Eastwood.

Budde duik onder die flitsende kameras deur. “S’up,” groet hy met ’n swaai van sy kuif.

Clint Eastwood byt amper sy tong. (Dis nou Budde se tong, nie sy eie nie.)

Maar voordat hy Budde se hand kan vat om die blou duiwel uit hom te druk, spring sy ma hom voor.

Sy omhels vir Budde terwyl Bruce hom van sy bagasie verlos.

“My liewe kind, kyk hoe lank het jy geword!” Sy bekyk hom op en af asof hy ’n nuwe spesie is. “Ek moet skoon opkyk na jou!”

Dis waar. Budde is selfs langer as Bruce, alhoewel hy nie die breedte bygekry het nie. Jy kan hom maklik aansien vir ’n kraak in ’n muur, dink Clint Eastwood. Hy staan nader.

“Welkom, Budde. Hoe gaan dit?” groet hy met sy beste verwelkomingsgrynslag en steek sy hand uit.

Budde gee sy hand een kyk en klap dit toe twee keer – een keer van voor, en toe weer van agter.

Asof hulle rappers is.

Asof Clint Eastwood gaan dink dis cool.

(’n Vinnige feit: Clint Eastwood dink niks is cool nie. Om presies te wees, hy haat cool. Cool is vir ouens wat nog nie ’n persoonlikheid gekweek het nie en een probeer fabriseer. Van buite af binnetoe in plaas van andersom. Volgens Clint Eastwood is die enigste ouens wat werklik cool is dié wat nie dink hulle is cool nie.)

“Cool, cuz, cool,” antwoord Budde met ’n aangeplakte Amerikaanse aksent terwyl hy oor Clint Eastwood se kop na wie-weet-wat staar. “Just do me a favour, man. Call me Bud, okay? I haven’t been Budde for, like, ever.”

En dis hoe dit begin het. Oorlog. Wraak teen swak maniere. Noem dit wat jy wil. Die punt is: Clint Eastwood laat nie aan hom klap nie. Daarvandaan het dinge stelselmatig vererger – in trappe van onstuimigheid.

Trap een was Budde wat weier om te glo dat sy naam Budde is. Die Amerikaners het hom Bud gedoop en daarom hou hy meer daarvan. Tipies die Amerikaners, dink Clint Eastwood, kan ook nie Afrikaans praat om hulle lewe te red nie.

Trap twee was Budde wat sélf weier om Afrikaans te praat. Hy dring daarop aan om soos ’n wafferse Yankee Doodle net Engels te praat, swak aksent en al.

En dan was daar trap drie. Die laaste trap en ook die laaste strooi. Hulle was skaars uit die lughawe se parkeerterrein, toe begin Budde alles vergelyk met Amerika. Van die grootte van Kaapstad se lughawe (“It’s really tiny! I’m amazed that it can handle international flights.”), tot die toestand van die N2 (“In America we obviously have four to six lanes each side. Now that’s a proper highway!”).

Clint Eastwood was naby aan moor. ’n Amerikaner wat nie van beter weet nie is een ding, maar ’n aansitterige Suid-Afrikaner wat nie meer Suid-Afrikaans wil wees nie is iets heeltemal anders.

Teen die tyd dat hulle vir Bruce in Kampsbaai afgelaai het, vermoed Clint Eastwood dit gaan ’n baie lang vakansie wees. Die rit huis toe was al klaar te lank, want Kampsbaai se strand is nie so mooi soos dié van Miami nie. Die bakkies op die pad is nie so groot of kragtig soos die Amerikaanse pickups nie. Tafelberg is so klein dat dit sommer in die Grand Canyon sal pas …

En so aan, ensovoorts. Al die pad tot in Stellenbosch. Daar’s wraggies nie een ding wat naastenby so goed of so groot soos dié in Amerika is nie.

Dit help nie jy praat met so iemand nie, besluit Clint Eastwood, hy moet voel. En wie beter as hyself om Budde se dieper gevoelens te bereik? Die Amerikaners praat mos graag van ’n “intervention”, en dis presies wat Clint Eastwood in gedagte het. ’n Ingryping. ’n Standpuntverandering. Of in goeie Afrikaans, ’n kopskommeling.

Sy pa sê altyd as jy by die ware mens wil uitkom, kan jy een van twee dinge doen: jy kan vriende met hom wees vir tien jaar, of jy kan tien dae saam met hom gaan jag. Slegs dan gaan jy alles oor iemand uitvind. Of hy lafhartig is, of ongeduldig, of hy verskonings maak vir alles, of hy lui is … En uiteindelik of hy jou vriendskap waardig is.

Daarvolgens sal tien dae in die veld ook ’n goeie tyd wees om iemand ’n gepaste kopskommeling te gee. Clint Eastwood het egter nie tien dae nie. Daarom het hy ’n klein verandering aan sy pa se filosofie aangebring.

’n Derde opsie. Een wat nie werk oor tien jaar of tien dae nie, maar eerder oor tien ure.

Daarom is dit so handig dat die Van Wyks op ’n kleinhoewe buite Stellenbosch reg langs die Jonkershoek-natuurreservaat woon. In die veld, as’t ware. Hulle ou huis staan versteek tussen hoë bome wat kraak as die wind waai – die huis, nie die bome nie. Die bome suis net as die wind waai, en as die wind woes waai, fluit hulle soos ’n lat wat deur die lug swaai. Dan kreun die huis asof dit aan die ontvangkant van die lat buk. Dis genoeg om jou tone teen jou enkels te laat opkrul.

Maar dis nog nie naastenby die ergste nie. Die ergste is wanneer daar geen wind waai nie, want dan is dit so stil dat jy elke geluidjie kan hoor. Elke vreemde kraak in die houtvloere, die spookagtige gekrap-krap van takke teen jou ruit. Met ’n bietjie verbeelding word dit ’n massamoordenaar wat buite jou deur rondkruip op soek na ’n inkomplek, ’n boosaard wat vir jou deur die sleutelgat loer terwyl hy die drumpel nat kwyl.

Dis nou as jy ’n verbeelding het. En as jy nie een het nie, is Clint Eastwood meer as bereid om jou so ’n bietjie in daardie departement te help.

Bruce se afwesigheid het hom ’n idee gegee. ’n Goeie idee. Want Bruce bly nie in die huis saam met die res van die gesin nie, maar in ’n woonstelletjie so effens dieper die bos in. Eintlik is dit die oorspronklike opstal wat Bruce en sy vriende een vakansie in ’n woonstel omskep het, kompleet met ’n sitkamertjie, badkamer en klein kombuis.

En dis waar Budde nou bly. Manalleen. In die diep, donker nag.

Hoekom nou ’n kamer met sy neef deel as hy sy eie woonstel kan kry? Hy’s tog ’n geëerde gas! En waarskynlik doodmoeg van die lang vlug. Hy sal vanaand seker vroeg wil gaan slaap, in rus en vrede.

Clint Eastwood se ma het gedink dis ’n gawe idee, en tog so bedagsaam van Clint Eastwood teenoor sy neef.

Dus: nadat Budde sy bagasie in sy kamer in die woonstel in die bos in die middel van Jonkershoek neergesit het, begin Clint Eastwood in alle erns aan die res van sy plan werk.

“Dis nou nie ’n vyfsterhotel nie, maar dis ten minste net vir een aand,” sê hy terwyl hy so half ingedagte die deur se slot toets. Hy gee ’n laggie. “Nie dat ons van more af in ’n veel beter plek gaan bly nie.”

“What do you mean?” vra Budde verward. “I thought we’re only leaving Monday morning. And where exactly are we going? My mom just said we’ll be having a real African adventure … whatever that means.”

Clint Eastwood rek sy oë verbaas. “Weet jy nie? Ons gaan Karoo toe. Land van spoke, meerminne en VVV’s.”

“VeeVeeVees?” vra Budde – kan jy glo – nog steeds met ’n swaar Amerikaanse aksent.

Clint Eastwood knik. “En spoke en meerminne.”

“What are VeeVeeVees?”

Wee jy! Dat een mens so dof kan wees. Dis asof die mannetjie nie enige iets in Afrikaans wíl onthou nie.

“Vreemde Vlieënde Voorwerpe. Baie daarvan. Weet jy dat dit een van die min plekke in die wêreld is waar mense nog gereeld vlieënde pierings sien?”

Budde se gesig kry so ’n selftevrede trek. “Oh, you mean UFOs?”

Maar voordat Clint Eastwood kan sê: “Nee, ek bedoel nie UFOs nie, ek bedoel VVV’s!” spring Budde hom voor.

“New Mexico is obviously the place to go if you want to see UFOs. There are more sightings in New Mexico than in any other place on Earth,” sê hy asof hy persoonlik al die vlieënde pierings in New Mexico self gesien en getel het.

Werklik. Hoekom verbaas dit Clint Eastwood glad nie?

“In any case, what are we going to do there? Isn’t the Karoo terribly dry and totally boring?”

Net as jy ’n drip is, dink Clint Eastwood, maar hy sê dit nie.

“Ons gaan by my pa kuier in die Moordenaarskaroo, net buite Laingsburg. Hy het ’n groot argeologiese ontdekking gemaak, en my ma wil buitendien met ’n paar mense gaan gesels oor spoke en vlieënde pierings.” Hy gee nog so ’n ruk aan die slot en laat sak sy stem: “Dit spook glo kwaai daar.” En dan, amper onhoorbaar: “Nie dat dit hier minder spook nie.”

Ámper.

Budde is skielik die ene ore. “What do you mean?”

“We-e-e-l …” Clint Eastwood plons op Bruce Lee se dubbelbed neer, vou sy hande agter sy kop. Hy gee Budde ’n lang kyk. “Dit het alles sowat ’n honderd jaar gelede begin.”

Budde kyk hom terug. “What?”

“Dít … die gespokery.” Clint Eastwood waai sy arm in die lug rond asof hy ’n paar lastige spoke wegwaai. “Hierdie was ’n opstal gewees … tot op ’n dag.”

Budde loer na die dak asof hy verwag om ’n geraamte daar te sien. “And then what?”

Clint Eastwood trek sy skouers op. “Niemand weet nie. Al wat ons kon uitvind, is dat iets verskrikliks hier gebeur het. Jy kan nie ’n dier in hierdie plek kry nie, hulle raak mal as jy hulle naby bring. Kry skuim om die bek, bewerasies, en ’n geniesery wat jy nie sal glo nie.”

Budde lyk asof hy Clint Eastwood nie glo nie.

“Sneezing?” Sy lippe maak ’n punt. Sy wenkbroue wil knoop, maar hulle kan nie, want hy het net een lang wenkbrou. Wat nou ’n dip vang in die middel.

“And it couldn’t be anything natural? Like a bush or something that makes them sneeze? I mean, it makes no sense. Why would a ghost make them sneeze? What would be the motivation?”

Clint Eastwood is effens verbaas. Dis nogal ’n goeie vraag. Dis die tipe vraag wat hy self sou vra. Dalk is Budde nie so toe soos hy lyk nie.

“Miskien is dit net ’n waarskuwing, miskien wil die spook nie diere seermaak nie. Mense, daarenteen, is nie so gelukkig nie. Party aande spook dit só, Bruce Lee kom slaap maar eerder in die huis.”

“Why?” vra Budde. “Is it a poltergeist?” Hy kom nie eers agter dat hy fluister nie.

“As ’n poltergeist ’n spook is wat jou niere stadig deur jou nek wil uittrek, dan ja,” sê Clint Eastwood, “dan is dit ’n poltergeist.”

Hy hou Budde se veranderende gesigsuitdrukking fyn dop. Hy’s seker dis nie hoe sy nefie sy vakansie voorgestel het nie. Maar voordat Budde iets kan sê, spring hy op en stap sitkamer toe.

“Moenie so bekommerd lyk nie, buddy,” lag hy. “Dis net vir een aand, en dit spook net partykeer.”

Budde ruk hom op. Of eerder, omdat hy so lank is, is dit seker meer akkuraat om te sê hy strek hom uit.

“Please,” sê hy, “I’m not worried.”

Ons sal sien, dink Clint Eastwood, baie tevrede met die verloop van sy plan. Noem dit Stap 1 van Operasie Ontrafeling – daardie eerste garinkie wat met ’n bietjie gewoel sommer die hele kombers kan laat disintegreer.

Hy kan nie wag vir Stap 2 nie.

“Kom ons gaan kry koeldrank en iets te ete,” sê hy en hou die deur vir Budde oop.

Dié skep asem asof hy ure lank in ’n bedompige grot vasgevang was.

Buite lyk dit glad nie spookagtig nie. Die son skyn helder deur die groen bome, en hoewel dit die middel van die winter is, het aardverwarming veroorsaak dat die seisoene vanjaar ’n maand of wat laat is. Dis glad nie koud nie, net koel.

Die dag is windstil. Clint Eastwood kan nie help om te dink dat dit absoluut perfek is nie.

Die res van die dag verduur Clint Eastwood sy beterweterige neef se Engels, sy oorgroot Amerikaanse stories en sy irriterende aksent in stilte. Hy maak egter seker dat sy neef se gedagtes nooit te ver wegkom van spoke en ander aaklige goed nie.

Hy vat Budde verby ’n begraafplaas wat minstens honderd jaar oud lyk, die grafstene toegegroei onder mos. Hy is verheug om te sien hoe ’n rilling soos ’n Mexikaanse golf deur Budde se lang lyf ruk elke keer as hulle in nog ’n grafsteen vasloop. Die naderende nag knaag soos ’n honger dier aan Budde se onderbewussyn, dis duidelik.

Clint Eastwood self is natuurlik nie gepla oor spoke nie. Die hele gedagte van spoke is belaglik. Spoke is ’n bedreigde spesie. Wanneer laas het enige iemand ’n spook gesien? Dis waar dat die wêreld vroeg in die vorige eeu vol spoke was, maar dit was die gevolg van mense se bygelowigheid. In die vorige eeu het mense in allerhande nonsens soos die Loch Ness-monster, die Yeti en die Tokkelossie geglo. En wat het daarvan geword? Net mooi niks nie. Want mense het slim geword.

Die Loch Ness-monster, byvoorbeeld, is ’n swakbeligte foto van ’n ou se hand iewers in ’n meer. Die Yeti is waarskynlik ’n beer of ’n jak se voetspore wat so smelt-smelt groter word in die sneeu.

En die Tokkelossie? Navorsing het bewys dat die Tokkelossie – wag daarvoor – koolstofdioksied was. Dis reg, koolstofdioksied. As mense in die winter snags vuur in hulle hutte gemaak het, is dié wat op die grond slaap deur koolstofdioksiedwalms oorval sodat hulle versmoor het. Die mense het geen verklaring daarvoor gehad nie en só het die storie ontstaan van ’n klein, wrede mannetjie wat snags almal vermoor wat op die vloer slaap.

Dieselfde geld vir spoke. Mense glo eenvoudig nie meer daarin nie. Jy kan maar sê hulle jaag as’t ware nie meer spoke op nie.

Dis natuurlik maklik om nie aan spoke te dink nie wanneer dit helder oordag is en jy rugby kyk op TV. Maar dis ’n heel ander storie wanneer dit donker raak en jy skielik alleen is.

En hier in die bos raak dit vinnig donker, veral omdat die son al teen vieruur die middag agter die hoë bome verdwyn. Geleidelik word die vallei in ’n onaardse skemer gedompel, voordat die laaste lig deur die nag ingesluk word. Of dalk eerder deur ’n vampier uitgesuig word, afhangende van hoe onheilspellend jy wil raak.

Punt is: dis al amper donker en dit beteken dis tyd vir Stap 2. Clint Eastwood se hande jeuk. Maar hy moet geduldig wees. Hulle moet eers eet en dan nog ’n bietjie televisie kyk, en dán eers gaan almal kamer toe.

Sy ma sit waterblommetjiebredie voor. Dit lyk vir ’n oomblik of Budde dit met iets in Amerika gaan vergelyk, maar duidelik kan hy nie, want hy eet in stilte.

Wel, relatiewe stilte, aangesien die vrede halfpad deur die ete versteur word. ’n Ding so groot soos ’n donkie op steroïede wil onder die geelhouttafel inkruip, en in die proses word die hele tafel ’n halwe meter na links gesleep.

“Whaheee!” skree Budde, kwansuis omdat die tafel sy wind uitgeslaan het.

Die gedierte is onnatuurlik massief. ’n Kop so groot soos ’n leeu s’n, pote so groot soos borde. Sy gapende bek lyk nes ’n oop oond – een met tande.

Dis Walkabout.

Clint Eastwood loer na sy neef en grinnik. Winduit klink nie só nie, dit klink meer soos “Whahuuu!” (as jy nou tegnies wil raak daaroor). Maar hy moet erken dat ’n eerste ontmoeting met Walkabout die meeste mense in bome opjaag of hulle blase spontaan laat leegloop.

Toe sy pa Walkabout ’n jaar of wat gelede gekry het, het hy gedink hy koop ’n volgroeide boerboel. In werklikheid was Walkabout skaars vyf maande oud. En hulle is nie seker of hy al intussen ophou groei het nie.

“Walkabout!” raas Heidi, terwyl almal aan die tafel hang om te keer dat dit nie omkantel nie.

Walkabout lyk diep seergemaak. Hy gee ’n lae gegrommel wat klink asof hy ’n blaasbalk vol water ingesluk het, kruip onder die tafel uit en druk sy snoet teen Budde se lyf. Budde sit só stil, jy sou dink hy’s gegiet.

“Ontspan,” lag Heidi. “Hy ruik maar net of hy van jou hou.”

“And what happens if he doesn’t like me?” fluister Budde.

Walkabout snuif twee keer diep voor hy omdraai. Waar sy kop was, lyk dit of iemand ’n nat sokkerbal teen Budde vasgeskop het.

Clint Eastwood gee die hond ’n paar warm klappe teen sy bors. “Daarsy, oubaas se soete woefie, nè?”

Walkabout gaan lê langs die tafel met ’n sug, sodat die vloer effens tril. Hy is natuurlik nie ’n opregte boerboel nie, net sy pa was. Sy ma was ’n Great Dane, wat verduidelik hoekom hy só lyk: hy’t die hoogte sowel as die breedte geërf.

“What do you feed him?” Budde trek sy nat hemp van sy lyf af weg en probeer dit droogdruk met ’n servet.

“Enige iets wat hy wil hê,” sê Heidi. “Pap, hondeblokkies, perde … Daar was ook al ’n paar karre wat hy agter die huis begrawe het.”

Walkabout is bekend daarvoor dat hy vreemde goed aansleep. Hy het eendag met ’n bergfiets by die huis aangekom. ’n Rukkie later het ’n verskrikte fietsryer aan die voordeur geklop.

“Dis daardie superhero-uitrusting wat jy aanhet,” het Clint Eastwood probeer verduidelik. “Dit maak hom waansinnig.”

Die man het nie verstaan nie, sodat Clint Eastwood verplig was om na sy helder oranje rekstofbroekie en noupassende help-my-fris-lyk-hempie te beduie.

Hy kon dié sogenaamd aërodinamiese fietsryklere nog nooit kleinkry nie. Om nie te praat van die hele beenskeerdery nie. Probeer hulle die spoedgrens breek of ry hulle fiets om fiks te bly? Want hy het nuus vir hulle: hulle gaan nooit die spoedgrens breek nie. En as hulle dit doen om fiks te bly, hoekom alle windweerstand wegvat deur te skeer en neonkleurige, noupassende Superhero-onderklere te dra? Hulle sal gouer fiks word met normale, ordentlike klere.

“Dis soos ’n rooi vlag voor ’n bul,” het Clint Eastwood weer probeer.

Aan sy geskeurde broek en die klomp gebreekte takkies in sy polistireenhelmet het dit gelyk asof die man dwarsdeur ’n bos gespring het. Wat hy inderdaad gedoen het.

Die man het nie juis omgegee wat die rede vir die aanval was nie, hy wou net sy fiets terughê. Ongelukkig was die voorwiel klaar afgekou en die ketting weg. Dit het Clint Eastwood se pa ’n hele paar rand gekos om die goed te vervang.

“Dis darem nie só erg nie, Budde,” lag Heidi. “Maar hy’t al een of twee karre probeer vang. Die laaste een was so ’n giggelgeel Land Rover, ’n maand of wat gelede.”

Clint Eastwood skud sy kop. “Hoekom enige iemand dít aan ’n Land Rover wil doen, gaan my verstand te bowe. Geel is beslis nie ’n Land Rover-kleur nie. Dis die kleur van sonneblomme, of vla. ’n Land Rover moet kakie wees, of ivoor, of modderbedrupte weermaggroen, maar nooit-ooit geel nie.”

“What happened?” vra Budde.

“Walkabout het gewen,” sê Clint Eastwood. “Hy’t hier aangekom met die buffer van die kar. Hulle maak ook nie meer buffers soos in die ou dae nie,” voeg hy by. Asof dit die motorindustrie se skuld is dat Walkabout die Land Rover so verrinneweer het.

Hy vat sy glas melk en sluk dit in rekordtyd af. “Kom, Budde.”

“Búd,” protesteer sy nefie, maar Clint Eastwood ignoreer hom.

“Ek gaan wys jou gou waarheen ons môre ry, dan kan jy ’n bietjie meer opgewonde raak daaroor.”

Hy loop vooruit woonkamer toe, met Budde, Heidi en Walkabout wat agter hom aan drentel.

“Moenie te lank draai nie!” roep Clint Eastwood se ma agterna. “Onthou, julle moet nog klaar inpak. En Budd … Bud moet in die bed kom, hy’s seker doodmoeg.”

“Ja, Ma!” kom die antwoord gelyk uit twee kele.

In die woonkamer haal Clint Eastwood ’n padkaart uit en slaan dit oop op die koffietafel. Hy druk sy vinger op Stellenbosch. “Hier is ons nou.” Met sy ander vinger druk hy op ’n oop stuk niks in die middel van nêrens net noord van Laingsburg. “En hier is waarheen ons môre gaan.”

Budde en Heidi kyk.

Tussen “nou” en “môre” lê daar amper drie ure se ry verby dorpe met name soos Worcester, De Doorns, Matroosberg en Matjiesfontein.

“Where are we going exactly?” vra Budde.

“Moordenaarskaroo.” Clint Eastwood se oë blink van opgewondenheid. “Dit lê so halfpad tussen Laingsburg en Sutherland. Daar’s nie telefone nie en ook nie internet nie. Daar’s skaars paaie. Dit gaan heeltemal befoeterd wees!”

“Really?” sê Budde, maar sonder enige oorgawe.

“Hoekom noem hulle dit die Moordenaarskaroo?” vra Heidi.

Clint Eastwood het gewag hiervoor.

“Omdat daar soveel moorde plaasvind. Dis die perfekte plek, as jy mooi daaroor dink.” Hy gluur van onder sy wenkbroue na Budde en Heidi. “In die ou dae het die boere die Griekwas uitgemoor en die Griekwas op hulle beurt die boere, maar dis nie hoekom die naam behoue gebly het nie. Dit word vandag so genoem omdat dit die gunstelingplek in die land is vir elke ontsnapte kranksinnige, massamoordenaar en professionele sluipmoordenaar wat iemand stilweg van die gras af wil maak.”

Budde en Heidi staar na die stuk niks op die kaart asof dit enige oomblik gaan lewend word en die murg uit hulle wurg.

“Jy jok,” sê Heidi, maar sy klink nie vreeslik oortuig nie.

“Jy hoef my nie te glo nie,” sê Clint Eastwood ongeërg. “Maar kom ons kyk na die feite.” Hy staan op en begin heen en weer loop soos ’n speurder wat besig is om ’n moeilike saak op te los.

“Een. Dis in die middel van nêrens, reg? Wat beteken dat daar niemand is om te sien wat jy doen nie. Niemand gaan jou slagoffer eers hoor gil nie.”

Hy swaai op sy hakke om. “Twee. Jy kan nie ontsnap nie. Want waarheen gaan jy? Jy’s so ver van enige iets af dat jy van dors sal doodgaan voordat jy kan hulp kry. Die Karoo is hondwarm en bitter droog.”

Budde gee ’n droë sluk wat sy adamsappel halfpad in sy nek laat vasslaan.

Clint Eastwood gaan staan en draai stadig na sy gehoor toe.

“En drie: niks gaan van jou oorbly nie. Met al die hiënas, jakkalse en vleisetende insekte wat daar rondkruip, sal daar nie eers ’n spoegseltjie van jou oor wees vir die polisie om te identifiseer nie. Nie bene nie, niks.”

Budde gooi sy kuif uit sy oë. “Then if there’s no evidence, how do you know people get murdered there all the time?”

“Ja,” sê Heidi, “hoe weet jy?”

“Ek het nie gesê daar’s geen bewyse nie.” Clint Eastwood glimlag slinks. “Daar ís bewyse – net nie die soort wat jy kan gebruik nie.”

“Hoekom nie?” vra Heidi ongeduldig.

Clint Eastwood leun vertroulik nader aan haar. “Spoke,” fluister hy in sy onheilspellendste stem. “Duisende van hulle – siele wat nie tot rus kan kom nie. Mense wat wreedaardig vermoor is en nou ronddwaal op soek na weerwraak en bloed.”

Hy bly stil, sy oë stip op Heidi. In die hoek prewel die televisie voort soos ’n geestesversteurde.

En toe:

“MAAAAAAAA!” skree Heidi.

Budde skrik so groot, hy frommel sommer die kaart op.

Heidi spring op. “Clint Eastwood probeer ons bang maak!”

“Clint Eastwood!” kom sy ma se stem van die kombuis af.

Clint Eastwood het Heidi se reaksie verwag. Hy’s egter meer in sy noppies met Budde s’n.

Tyd vir Stap 2.

“Wat het jy nou weer gedoen?” vra Clint Eastwood se ma met die instap.

Voor hy sy onskuld kan pleit, sê Heidi: “Hy sê waar ons môre heen gaan, gaan mense ons vermoor en dan gaan daar niks van ons oorbly nie want die hiënas gaan ons opvreet en dan gaan ons spoke word wat net spook en ander mense se bloed wil uitsuig, Ma!”

Clint Eastwood rol sy oë. “Dis nie heeltemal waar nie. Al wat ek gesê het, is dat die Moordenaarskaroo baie spoke het. Is ek reg?” vra hy en kyk onskuldig na sy ma.

Sy ma gluur na hom. Hy weet sy weet hy weet hoekom sy Karoo toe gaan, en om nou ’n leuen te vertel gaan dinge net vererger.

“Dis waar dat daar baie stories oor spoke is,” sê sy en vat Heidi se hand, “maar …”

“Ha!” sê Clint Eastwood.

“… maar dis net stories.”

Sy ma gee hom ’n vuil kyk. “Dis een van die redes hoekom ek soontoe gaan, om meer daaroor uit te vind. Die Karoo is vol vreemde gelowe en bygelowe. Dit beteken nie dis waar nie.”

“Sien?” snip Heidi. “Dis nie waar nie!”

“Dit beteken ook nie dis nié waar nie,” sê Clint Eastwood. “Al wat ek sê, is waar daar ’n rokie is, is daar gewoonlik ’n vuurtjie, of in dié geval ’n spokie.”

Hy kan op Budde se gesig sien hoe sy brein twee en twee bymekaar sit om uit te kom by: “Clint Eastwood het nie gejok nie. Sy ma doen rêrig navorsing oor spoke. Dit beteken dat sy stories oor hoe dit hiér spook ook waar kan wees.”

Dis pragtig, dink Clint Eastwood. Soos om ’n Ferrari te sien ratte verander. Eerste rat, tweede rat, en nou tel ons spoed op.

Hy grinnik. Stap 3, hier kom ons!

“Dis in elk geval nou tyd om te gaan slaap,” sê sy ma streng. “Bud het ’n lang dag gehad, hy moet in die bed kom.”

Clint Eastwood kan sien dis nou nie juis wat Budde wou hoor nie. Veral nie ná wat hy pas besef het nie. Maar voordat sy nefie beswaar kan maak, gryp hy ’n flits. “Kom, Budde, ek stap saam. Dis maar lelik donker en ons wil nie hê jy moet verdwaal nie.”

“Bud,” sê Budde sonder oortuiging. Hy volg Clint Eastwood sleepvoet. Daar gaan ’n dowwe trilling deur die houtvloer toe Walkabout ook opstaan en agterna drentel.

Buite die kombuisdeur is die nag swart.

“Dè.” Clint Eastwood gee vir Budde die flits. “Stap jy maar voor.”

Budde sit die flits aan, maar dit maak feitlik geen verskil nie. Die lig slaan skaars twee meter voor hom in die digte plantegroei van die bos vas.

Die nag is grafstil. Die enigste geluid is die gekraak van hulle voetstappe oor die blaartjies en takkies wat in die bospaadjie lê.

Daar is twee redes hoekom Clint Eastwood vir Budde voor laat loop. Die eerste is sodat Budde se gesig al die spinnerakke kan versamel wat die paadjie vol hang. Dis ’n aaklige gevoel om daarin vas te loop, en dit sal sy nefie in die regte luim plaas vir die tweede rede.

“Eargh!” gril Budde kort-kort terwyl hy klap na sy gesig en nek soos hy die spinnerakke probeer wegvee. Hy loop nog en klap toe die woud skielik ophou en hulle amper in Bruce Lee se woonstel vasloop.

En toe gebeur dit.

’n Geluid soos ’n geweer wat ontplof, reg agter Budde.

En weer.

En weer.

Teen die tyd dat Budde die flits opgetel het en die lig weer in die woud laat skyn, bewe hy só dat dit lyk asof hy besig is met ’n laservertoning.

“What’s he doing?” gil hy hees.

“Wat dink jy?” sê Clint Eastwood kalm. “Hy nies.”

Wat nie heeltemal waar is nie. Want Walkabout nies nie net nie, hy proes ook, terwyl sy reusekop wild rondswaai.

“B-b-but why?”

Clint Eastwood glimlag in die donker. “Dis seker maar ’n plant waarvoor hy allergies is, wat anders kan dit wees?”

Maar Clint Eastwood weet goed wat Budde dink dit is. Dis ’n waarskuwing. Dis ’n alarm wat loei in sy kop. Dis terughardloop Amerika toe waar daar nie spoke en niesende honde is nie.

Dis nou maar eenmaal hoe angs werk. Wanneer dit toeslaan, slaan jou gesonde verstand ook toe. Vir Budde kan dit net een ding beteken en niks anders nie. Dit kan byvoorbeeld nie die peper wees wat Clint Eastwood pas aan Walkabout se neus gesmeer het nie.

“Siestog, oubaas se honne,” sê Clint Eastwood terwyl hy Walkabout met moeite omdraai in die rigting van die huis. “Kom ons kry jou weg van die verpestelike bosse af.” Hy kan nie Budde se gesigsuitdrukking sien nie, maar hy’s seker dis te kosbaar vir woorde.

“Lekker slaap, Bud,” sê hy opgewek. “Hou maar die flits, jy gaan dit nodig hê.”

En sluk die bos hom en Walkabout in.

Nou is Budde alleen in die donkerte. Alleen tussen al die grafstene. Alleen met die stories in sy kop en sy verbeelding.

Dit gaan ’n lang nag wees.

En hier is ons nou. Die oomblik van waarheid.

Stap 4. Die laaste en beslissende stap.

Die res van die aand het Clint Eastwood kort-kort sy pakkery laat staan om gou te gaan kyk of Budde nog wakker is, en of hy nie al sy eie tong ingesluk het nie.

Budde het nie. Maar hy was ’n paar keer gevaarlik naby daaraan toe Clint Eastwood verby sy venster geskuifel of ’n klippie op die dak gegooi of die bosse heen en weer geruk het vir daai malmens-in-die-bos-effek.

Elke keer het die flitslig binne aangegaan en bewerig deur die venster geskyn. Teen tienuur het Clint Eastwood besluit dis genoeg. Dis tyd vir Budde om te ontspan en uiteindelik aan die slaap te raak.

Ongeveer twee ure later was Clint Eastwood terug by die woonstel, gewapen met ’n sleutel. Hy het die voordeur oopgesluit en katvoet binnegegaan. Budde se slaapkamerdeur was toe en te oordeel na sy snorke soos ’n geroeste kettingsaag wat ’n balk deurwerk, was hy vas aan die slaap. Maar nie vir lank nie.

Want in sy drome begin sy onderbewussyn aan sy gesonde verstand klop.

Sy brein ruk wakker.

En slaan toe bollemakiesie.

Want net buite sy deur weergalm die geluid van ’n trein wat besig is om die sitkamermeubels op te vreet. Die geluid dril deur sy pyndrempel en sy kleintongetjie voel vasgeplak aan sy verhemelte. Hy begin onwillekeurige kermgeluide maak. Sy loodswaar vingers vroetel lomp onder sy kussing in na waar hy die flits gebêre het.

In die sitkamer is Clint Eastwood besig om die meubels rond te skuif oor die geelhoutvloer. Dit maak die mooiste geluide. Amper nes ’n Tirannosourus wat verstik aan ’n bol bene.

En toe hy stop, hoor hy dit: die geluid van ’n asem wat nie dieper ingetrek kan word nie. ’n Dun strepie lig skyn bewerig onderdeur die deur. Hy sit sy hand op die deurknop en draai stadig.

Aan die ander kant van die deur is Budde besig om hom van die bed af teen die muur op te werk soos ’n verskrikte spinnekop wat in ’n hoek sit.

Sy asem kan nie meer nie.

Sy longe is op die punt om te bars.

Toe die deur stadig oopswaai, gee Budde ’n gil wat al die dooies in die begraafplaas kan opwek.

Hy gil nie “Mammie!” nie.

Hy gil: “BLIKSEEEEEEEEEEM!!!!!!”

Lekker lank en uitgerek, met baie uitroeptekens. Pragtige Afrikaans.

Clint Eastwood is sommer trots. Hy druk die deur vinnig oop, koes vir die flits wat op hom afpyl en skakel die lig aan.

Toe Budde sien wie dit is, begin hy sommer in tale praat – maar alles in goeie Afrikaans. Nie ’n enkele Amerikaanse uitdrukking kom oor sy lippe nie.

Met adrenalien wat deur sy are bruis, spring hy in ’n boog tot reg voor Clint Eastwood. “Is jy mal?” skree hy terwyl sy arms soos ’n windmeul in ’n storm rondswaai.

Clint Eastwood kyk hom kalm op en af. “Praat jy nou weer Afrikaans?”

Budde se arms swaai nog steeds. Hy’s te opgewerk om te besef wat aangaan. “Ja, natuurlik!” skree hy.

“En jou naam is?”

“Wat?” gil Budde.

“Jou n-a-a-m?” sê Clint Eastwood stadig.

“Budde!” gil Budde.

“Moet dit nie weer vergeet nie,” sê Clint Eastwood.

Hy trek die deur agter hom toe en stap fluit-fluit huis toe.

Clint Eastwood Van Wyk en die Moordernaarsklok

Подняться наверх