Читать книгу Piekfyn Afrikaans Graad 5 Leerderboek vir Huistaal - Rina Lamprecht - Страница 5
ОглавлениеIn hierdie module gaan jy meer leer oor entrepreneurs, inflasie, toerisme en reklame. Jy gaan ook agterkom dat rommel ’n klomp geld werd kan wees!
Verder gaan jy spoggerig hardop lees en vasstel hoe jy stilleesvaardighede korrek moet toepas wanneer jy ’n piekfyn gedig lees oor ’n kuierkat wat goeie maniere het. Dan konsentreer ons ook op die doel en teikengroep van ’n teks.
Jy moet dink en redeneer oor taalstrukture wanneer jy skryf. Ons gaan kyk na ontkenning, leestekens, afkortings, sekere spelpatrone, tydsvorme, hoofletters, die kappie, deelteken, lettergrepe en klankgrepe.
Ons gaan ook na ’n paar letterkundige begrippe kyk, soos die hoofidee van ’n verhaal, karakters, die rol van tyd in ’n verhaal, atmosfeer en die verteller. Daarmee saam ondersoek ons wat ’n vergelyking, alliterasie, die wending in ’n gedig en die kenmerke van ’n kwatryn is.
Suid-Afrika word ’n gewilde bestemming vir oorsese toeriste en ons gaan lees wie almal hierheen kom en waarom. Jy gaan navorsing doen en ook jou verbeelding gebruik om ’n toerplan vir toeriste uit te werk en ’n mondelinge voorlegging daaroor doen wat onder andere padaanwysings insluit. Om alles mooi saam te vat, gaan jy ’n koerantberig skryf.
Intussen gaan jy jou woordeskat uitbrei deur te sorg dat jy al die woorde in jou Piekfyn-woordeboek onder die knie kry.
Die vakansie is verby en almal is platsak na die Desemberfeestyd. Dit is tyd om weer koppe bymekaar te sit en slim planne te beraam om ekstra geld te verdien. Kom ons kyk na enkele idees om as entrepreneur jou eie geld te verdien.
Aktiwiteit 1: Lees vir begrip
•Lees en kyk
•Taalstrukture en -konvensies
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•preleesaktiwiteite toepas
•soeklees en vluglees oefen deur selfstandig te lees en begripstrategieë gepas te gebruik
•die ontkennende vorm verstaan en gebruik
•die komma, punt, uitroepteken en vraagteken korrek in sinne gebruik.
Prelees: Maak voorspellings wat op die titel en prente gebaseer is en bespreek dit.
Pitkos
Leesvaardighede
Prelees
Vluglees is wanneer ’n teks net vlugtig gelees word. Waarom moet jy ’n teks vluglees wanneer jy ’n stilleesoefening doen?
Jy lees om
•’n idee of ’n prentjie te kry van waaroor die teks handel.
•’n idee te kry van hoe moeilik of maklik die teks is.
•jou voor te berei vir die vrae wat jy moet beantwoord.
Hoe vluglees ’n mens? Lees …
•die opskrif en bestudeer die foto’s.
•die inleidende paragraaf, want dit vertel waaroor die leesstuk handel.
•die eerste sin van elke paragraaf, want dit bevat die hoofgedagte.
•die slotparagraaf, omdat dit dikwels ’n opsomming van die teks gee.
Soeklees is wanneer daar na spesifieke inligting gesoek word sonder om die teks noukeurig deur te lees.
Begripslees is wanneer die inhoud aandagtig deurgelees word met die doel om dit te begryp.
Aandagtige lees is wanneer die teks deeglik gelees word om die inhoud te verstaan en om die inligting te kan weergee.
Wanneer jy ’n leesbegripsoefening of -toets doen, moet jy die volgende stappe volg:
•Vluglees eers die teks om vas te stel waaroor die teks handel.
•Lees dan die vrae deur, om vas te stel waarna jy moet oplet.
•Lees die teks vir ’n tweede keer, maar hierdie keer lees jy dit aandagtig deur.
•Beantwoord vervolgens die vrae deur gebruik te maak van jou soekleesvaardighede. Kry die kernwoord in elke vraag en soeklees vir daardie woorde in die teks. Dit sal jou na die antwoord lei.
Lees en kyk vir begrip
Pas jou leesvaardighede toe op die volgende teks. Jou onderwyser gaan jou antwoorde formeel assesseer.
Anneliese Carstens het die volgende artikel, twee foto’s en ’n handgeskrewe boodskappie aangestuur. Kyk hoe dit rondom die teks gebruik kan word.
Vroue-entrepreneur van die jaar
Anneliese Carstens, eienaar van Maranki’s op Bonnievale, is aangewys as Landbouweekblad en Sanlam se Vroue-entrepreneur van die jaar.
Haar onderneming, wat babaklere en -produkte vervaardig, het ontstaan nadat sy ’n speelmatjie by ’n vriendin gesien het en nie een in die omgewing vir haar kind kon vind nie. Toe begin sy Maranki’s rondom ’n selfgemaakte speelmat en het die produkreeks algaande aangevul.
Die onderneming het gegroei “van die kombuistafel tot die motorhuis tot ’n fabriek met 24 werkers”. Anneliese versprei haar produkte landswyd aan groot kettingwinkels soos Baby Boom en Baby City, asook in Namibië.
Sy vertel dat die naam, Maranki’s, kom van die naam van die karakter wat Katinka Heyns destyds in die rolprent Pappa Lap vertolk het. “Sy was ’n maltrap nes ek, en my ouers het my die troetelnaam gegee.” Hoe het sy haar onderneming begin? “Ek het R6 000 se aandelegeld, wat my pa aan my kinders gegee het, geleen. En later terugbetaal!”
Haar grootste uitdaging is: “Om die vervaardiger te wees wat die wydste reeks babaprodukte in Suid-Afrika aan my kliënte kan verskaf.”
Wat is haar suksesresep? “Goeie produkte, eerlikheid, harde werk, positiewe personeel, vasbyt en vertroue in God.”
Watter raad het sy vir ander opkomende entrepreneurs? “Doen goeie marknavorsing. Indien jy nie al die nodige kapitaal en kennis het nie, begin klein en toets eers jou mark.”
(Verwerk uit: Sarie)
En watter boodskap het Anneliese vir die Piekfyn Afrikaans Graad 5-leerders? Sy het die volgende boodskappie vir julle geskryf.
Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek:
1.Waarheen moes die onderhoudvoerder ry om inligting by Anneliese Carstens oor haar onderneming te kry? (1)
2.Watter unieke prestasie het Carstens behaal? (1)
3.Skryf die name van die twee borge neer wat verantwoordelik was vir die kompetisie wat Carstens gewen het. (2)
4.In watter land buite Suid-Afrika word haar produkte ook versprei? (1)
5.Carstens se onderneming verskaf verskeie klere en produkte aan sekere winkels.
a)Vir watter tipe produkte en klere is Maranki’s bekend? (1)
b)Wat word bedoel met “kettingwinkels”? (1)
c)Maranki’s verskaf produkte en klere aan kettingwinkels. Noem twee sulke winkels. (2)
6.Anneliese kon nie ’n speelmatjie in ’n winkel in haar omgewing kry nie. Wat het sy gedoen om die probleem op te los en hoe het dit ontwikkel? (2)
7.Verduidelik in jou eie woorde hoe haar onderneming gegroei het. (1)
8.Maranki was die naam van ’n karakter in ’n rolprent. Hoekom het sy juis dié naam gekies? (2)
9.Anneliese sê opkomende entrepreneurs moet “marknavorsing” doen. Verduidelik wat dit beteken. (1)
10.Skryf ’n sinsnede neer wat dieselfde betekenis het as “kyk eers of jou ware verkoop”. (1)
11.Anneliese het ’n suksesresep wat ses bestanddele bevat. Kies die bestanddeel wat jy dink die belangrikste is en verduidelik hoekom jy so dink. (2)
12.Dink jy babaprodukte sal altyd goed verkoop? Gee ’n rede vir jou antwoord. (1)
13.Dink jy dit was reg van Anneliese om haar kinders se geld te leen om haar besigheid te begin? Verduidelik jou standpunt. (1)
Totaal: 20 punte
Formele assessering
Jou onderwyser gaan jou antwoorde volgens ’n memorandum nasien.
Wat is ontkenning?
Ontkenning
In Afrikaans gebruik ons die dubbele ontkenningsvorm, byvoorbeeld:
Sy gee goeie raad aan die entrepreneurs.
Nee, sy gee nie goeie raad aan die entrepreneurs nie.
Sekere woorde verander wanneer die ontkennende vorm gebruik word, byvoorbeeld:
iemand → niemand + nie
êrens → nêrens + nie
ooit → nooit + nie
iets → niks + nie
moet → moenie + nie
een → geen + nie
al iemand → nog niemand + nie
al ooit → nog nooit + nie
14.Skryf die volgende sinne oor in die ontkennende vorm.
Voorbeeld: Die seun doen sy werk.
Nee, die seun doen nie sy werk nie.
a)Sy leen haar kinders se geld. Nee, …
b)Haar onderneming vervaardig kinderklere. Nee, …
c)Die onderneming het gegroei. Nee, …
d)Anneliese versprei haar produkte landwyd. Nee, …
e)Sy doen goeie navorsing. Nee, …
15.Beantwoord die volgende vrae in die ontkennende vorm.
a)Kry sy êrens ’n speelmat te koop?
b)Het sy iets aan die saak gedoen?
c)Vra sy iemand vir raad?
d)Het sy ooit moed opgegee?
e)Het sy al ooit so iets probeer?
Leestekens
Komma (,)
Die komma word gebruik:
•tussen twee of meer selfstandige naamwoorde en beskrywende woorde, byvoorbeeld: Goeie produkte, eerlikheid, harde werk, positiewe personeel, vasbyt en vertroue in God.
•tussen twee werkwoorde, byvoorbeeld: Nadat sy haar onderneming begin het, het sy net vorentoe gekyk.
•na die naam van iemand wat aangespreek word, byvoorbeeld: Anneliese, jy is ’n wenner.
Punt (.)
Die punt word gebruik:
•aan die einde van ’n sin, al is dit een woord, byvoorbeeld: Slaap.
•by afkortings, byvoorbeeld: s.nw.; bv.
Let wel: Geen punte word by akronieme (letterwoorde) gebruik nie: SASOL; ESKOM.
Uitroepteken (!)
Die uitroepteken kom aan die einde van ’n bevelsin, opdrag en uitroepsin voor, byvoorbeeld: Doen nou jou werk! of Eina, dis seer!
Vraagteken (?)
Die vraagteken kom aan die einde van ’n vraagsin voor, byvoorbeeld: Wie doen al die harde werk?
In Module 6 word nog ander leestekens bespreek.
16.Skryf die volgende sinne oor en vul die kommas, punte, uitroeptekens en vraagtekens op die regte plekke in.
a)Wie het aan die plan gedink
b)Geluk dit is ’n groot sukses
c)Anneliese jy het baie goed gedoen
d)Toe sy eers sukses geproe het kon niemand haar keer nie
e)Hoe laat is dit
f)Nadat sy ’n speelmat by haar vriendin gesien het het sy met haar onderneming begin
g)Waar is haar onderneming
h)Werk hard dan sal jy suksesvol wees
i)Haar onderneming vervaardig babaklere speelmatte speelgoed en baie ander babaprodukte
Aktiwiteit 2: Taal in konteks
•Luister en praat
•Lees en kyk
•Taalstrukture en -konvensies
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•leer wat die doel en teikengroep van ’n inligtingsteks is
•afkortings en spelpatrone, veral die gebruik van woorde met die letters v/f en d/t ondersoek
•die verskillende tydsvorme in Afrikaans inoefen
•die gebruik van die kappie en deelteken bekyk.
Die doel van ’n teks
’n Mens skryf iets met ’n doel. Jy skryf om te gesels (soos in ’n e-pos of vriendskaplike briefie), om dankie te sê of iemand geluk te wens (in ’n kaartjie), inligting oor te dra (’n verslag) en om iets te skep (’n verhaal/opstel). Die doel waarvoor jy skryf, beïnvloed die inhoud en die styl wat jy gebruik – dit bepaal byvoorbeeld of jy formeel of informeel gaan skryf.
Die teikengroep van ’n teks
Dit is die persoon vir wie jy iets skryf. Wanneer ’n mens ’n stuk skryf, het jy ’n persoon in gedagte wat dit gaan lees. Wanneer jy dieselfde inligting byvoorbeeld in jou dagboek skryf (wat jy self gaan lees) of vir jou ouma of vir jou vriend of vir jou kleutersussie, gaan dit in elke geval heeltemal anders lyk. Jou styl gaan verskil en die woordeskat wat jy gebruik, gaan ook verskil.
Lees die volgende inligtingsteks aandagtig deur
Maak só rande uit jou rommel!
Vir die meeste mense is ’n garage nie net ’n plek waar die motor geparkeer word nie – dis ook die begraafplaas vir al die huishoudelike items wat nie meer gebruik word nie, stukkend of uit die mode is. Daar sal jy ’n uitgediende broodrooster, Kleinboet se treinstel, ’n afgeleefde trapfiets en ’n boks vol ou kombuisware vind. Dalk is jou motorhuis al so vol, daar is kwalik plek vir die motor! Dalk sit jy ook opgeskeep met ’n klomp onnodige dinge in jou huis – ou kombuisware, boeke, ornamente, juwele, langspeelplate, noem maar op!
Dit is dalk hoog tyd dat jy jou eie garage-uitverkoping reël of dink aan ’n tafel by ’n vlooimark. Omskep die onnodige goed wat jou plek en jou lewe oorlaai in lekker harde kontant. Wat vir jou onbruikbaar geword het, is vir ’n ander net die ding wat hy of sy soek – of wat vir jou net gemors is, is vir ander ’n kosbare vonds.
(Verwerk van: www.mieliestronk.com)
Gesels met ’n maat
•Vertel vir mekaar wat die hoofidee van hierdie inligtingsteks is.
•Watter voorstelle word in hierdie teks gemaak?
•Wat is die doel en wie is die teikengroep?
Beantwoord die volgende vrae in jou werkboek:
1.Hoekom word die garage ’n begraafplaas genoem?
2.Gee ’n ander woord vir garage.
3.Haal ’n woord uit die teks aan wat beteken jy weet nie wat om met iets te doen nie.
4.Op watter twee maniere kan jy van jou onnodige goed ontslae raak?
5.Waarin kan gebruikte ware omskep word?
6.Wie is die teikengroep van hierdie teks: volwassenes of kinders? Hoekom sê jy so?
7.Wat is die doel van die teks?
8.In watter styl is die teks geskryf: formeel of informeel? Motiveer jou antwoord.
Afkortings
Slegs erkende afkortings mag gebruik word. ’n Mens kan nie jou eie afkortings maak wanneer jy skryf nie.
•Internasionale afkortings van afstande en gewig kry nie punte nie, byvoorbeeld: km/cm/g.
•As die afkorting vir ’n groep woorde staan, kom daar ’n punt na elke letter, byvoorbeeld: a.g.v.
•Afkortings wat uit hoofletters bestaan, kry nie punte nie, byvoorbeeld: SARU/RSA/SALT.
•As die afkorting vir een woord staan, kom die punt aan die einde van die afkorting, byvoorbeeld: asb./mev.
•Ons kry afkortings waar slegs die beginkonsonante van die lettergrepe gebruik word, byvoorbeeld: handskrif – hs.; asseblief – asb.
•Daar is ook verkortings van woorde wat uit die woord se eerste lettergreep, plus die volgende konsonant/e, bestaan, byvoorbeeld: aardrykskunde – aardr.
9.Herskryf die volgende paragraaf en skryf die afkortings daarin voluit. As jy onseker is, kan jy ’n woordeboek raadpleeg.
’n Garage kan bv. gebruik word om ou goed te bêre, m.a.w. goed wat jy nie meer gebruik nie. ’n Mens kan die goed verkoop en geld maak, i.p.v. om dit op te gaar. Die verkoping kan in die vm. begin en aanhou tot in die nm. Daar kan o.a. ’n afgeleefde trapfiets en ’n boks vol ou kombuisware te koop aangebied word. In SA is daar baie vlooimarkte waar ’n mens ’n stalletjie kan huur. Maak asb. net seker dat daar plek beskikbaar is.
In Afrikaans word verskillende letters soms gebruik om dieselfde klank voor te stel. Dit is in baie gevalle woorde wat ons van Nederlands geërf het.
“v” en “f”
Kyk na die volgende woord: Daar is vyf items wat uitgestal word.
Onthou, ons kry nooit die v-letter aan die einde van ’n woord nie: grof; bluf; skrif; sweef.
“d” en “t”
Die aand voor die verkoping was die garage ’n bont deurmekaarspul.
Wenk: As jy onseker is of ’n woord op ’n d of t eindig, spreek die woord in die meervoud uit. Byvoorbeeld : rand – rande.
As jy die d-klank in die meervoud of verbuiging hoor, moet die woord dus in die enkelvoud op ’n d eindig.
10.Woorde wat met ’n d/t aan die einde of met ’n v/f gespel word, is in die volgende paragraaf verkeerd gespel. Skryf die paragraaf oor en maak die spelfoute reg.
Fyf jaar nadat jy goed begin opgaar, vint jy dat daar gelt te maak is deur van die onnodige dinge ontslae te raak. Dit mag dalk ’n fonds vir jou friend of vir iemant anders wees. Dit kan ’n vantastiese oggend by die vlooimark wees, sonder dat iemand vorseer word om te koop. Daar kan ’n grood wins gemaak wort voor die aant.
Tydsvorme
Daar word drie tydsvorme onderskei: teenwoordige tyd: dit wat nou gebeur, verlede tyd: dit wat al klaar gebeur het, toekomende tyd: dit wat nog in die toekoms gaan gebeur. Byvoorbeeld:
Ek verkoop my ou goed. (teenwoordige tyd)
Gister het ek my ou goed verkoop. (verlede tyd)
Môre sal ek my ou goed verkoop. (toekomende tyd)
Let op die volgende:
Het word in die verlede tyd saam met die werkwoord gebruik en die werkwoord skuif na die einde van die sin. Die werkwoord kry ook ’n “ge” vooraan, behalwe as die werkwoord met “be”, “ge”, “her”, “er”, “ont” of “ver” begin. Byvoorbeeld: begin, gedenk, hersien, erken, ontvoer, verander.Die wedstryd het begin.
Na die verkoping het my huis se voorkoms verander.
Sal word in die toekomende tyd gebruik en die werkwoord skuif na die einde van die sin, maar die werkwoord bly dieselfde. Byvoorbeeld: Ek sal jou môre betaal. Ek sal jou help.
Die verlede tyd van het (wat besit aandui) = het … gehad.
Die verlede tyd van word = is.
Die verlede tyd van is = was. Die toekomende tyd van is = sal wees.
Kyk na die volgende voorbeeldsinne.
•Sy het ’n selfoon gehad.
•Sy is vandag hier.
•Sy was gister hier.
•Sy sal môre hier wees.
11.Verander die sinne deur met die skuinsgedrukte woorde te begin. Byvoorbeeld: ’n Produksiespan sorg vir die advertensies. Gister het ’n produksiespan vir die advertensies gesorg./Môre sal ’n produksiespan vir die advertensies sorg.
a)Die wetenskaplike sal navorsing doen.
Gister …
b)’n Koeldrankfabriek maak ’n nuwe geur koeldrank.
Verlede week …
c)Die agentskap het kunstenaars.
Verlede jaar …
d)Hulle skakel met die agentskap en gee al die inligting.
Volgende week …
e)Agentskappe ontwikkel advertensies.
Gister … Môre …
f)Hulle het kunstenaars en skrywers wat hard kan werk.
Verlede Dinsdag …
Volgende week …
Skryftekens
Die kappie word gebruik om vokale (e, o, u, i) in ’n oop lettergreep ’n lang gerekte klank te gee, byvoorbeeld: êrens; brûe; môre; sê; wîe.
Deeltekens word gebruik
•wanneer daar ’n opeenhoping van klinkers is en
•om aan te dui waar ’n nuwe lettergreep begin. Dit maak uitspraak makliker, byvoorbeeld: beïnvloed; ekonomieë; afgeleë; geïgnoreer; reën; seën; spieël; vlieë; knieë; reëlings.
12.In die volgende paragraaf is skryftekens soos die kappie en deelteken óf foutief gebruik óf uitgelaat. Redigeer die paragraaf deur die skryftekens op die korrekte plekke in te vul. Skryf die paragraaf in jou boek oor.
Mense wil gedurig nuwe produkte hë. Maatskappye moet dus gedurig se wat hulle beplan. Kliente word beinvloed deur goeie advertensies. As die advertensies nie aandag trek nie, word die produkte geignoreer. Die sukses van ’n produk lë dus in die advertensie. Daar moet erens gesoek word na mense wat goeie advertensies kan skryf. More is daar ’n beter produk op die mark, dan is jou kanse verby. Bere alle idees wat goed klink, anders word hulle nerens gebruik nie.
Aktiwiteit 3: Kenmerke van ’n storie
•Lees en kyk
•Taalstrukture en -konvensies
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•’n storie selfstandig lees en daarop reageer
•’n teks soeklees vir spesifieke besonderhede
•begrip toon van fiksie en die hoofidee, vertellersgesigspunt, karakters en tyd bespreek
•vergelykings verstaan, bespreek en gepas gebruik.
Elemente van ’n verhaal
Die hoofidee van ’n verhaal is die hoofgedagte wat in die verhaal na vore kom.
Die karakters is die persone wat in die verhaal optree. In die onderstaande verhaal is dit die oupa en sy kleinseun, Thabo.
Tyd speel ’n belangrike rol in hierdie verhaal. Hoewel die verhaal in die hede afspeel, verwys die oupa die hele tyd na die verlede.
Die verteller in ’n verhaal is belangrik omdat dit bepaal met watter perspektief na ’n verhaal gekyk word:
•’n Eerstepersoonsverteller (ek-verteller) is wanneer een van die karakters die verhaal vertel. Hy of sy beskryf die gebeure vanuit sy of haar oogpunt en die leser sien gebeure dus deur die bril van die verteller.
•Die derdpersoonsverteller (alomteenwoordige verteller) is nie emosioneel betrokke by gebeure nie. Hy of sy vertel het wat hy of sy sien.
Wanneer die verteller aan die woord is, word daar nooit aanhalingstekens gebruik nie. Aanhalingstekens word net gebruik wanneer een karakter iets vir ’n ander karakter sê (dialoog).
Preleesaktiwiteite
Voordat jy hierdie storie op jou eie deurlees, moet jy eers kyk watter afleidings jy uit die titel en die prente kan maak:
•Wie sê gewoonlik: Dit was die goeie ou dae … ?
•Wat bedoel mense gewoonlik wanneer hulle dit sê?
•Kyk na die advertensie wat saam met die storie gaan – wat kan jy aflei uit die vorm en die pryse van die motors?
Lees die storie aandagtig deur voordat jy die vrae beantwoord:
Die goeie ou dae ...
“Ja, ek onthou nog die dag toe ek my eerste taxi splinternuut gekoop het. Uit die boks!” vertel Oupa. “En hy het ba-a-aie gekos. ’n Hele R5 190,00!”
“Wat?” roep Thabo uit. “Dit kon nie so min gewees het nie. Ek is seker Oupa jok vir my.”
“Nee, liewe kind, dit wás soveel, maar onthou dat dit in 1978 was en my salaris was toe maar R200,00 p.m. Ek het lank gespaar om die deposito vir die bussie bymekaar te kry. En ek moes nog R82,00 p.m. afbetaal ook. Vier-en-twintig maande lank!”
“Kyk, hier is ’n advertensie uit ’n koerant van daai jaar,” sê Oupa en haal dit uit ’n kissie onder sy bed.
“Maar Oupa, hoekom kos ’n nuwe taxi dan vandag ’n hele R250 000,00?”
“Dit, my seun, is wat inflasie aan produkte doen. Jy sien, dit werk so: Soos almal, het ek ook gevoel my salaris was te min en wou ek meer hê. My werkgewer gee toe vir my ’n verhoging van 10% en ek verdien R220,00 p.m. Maar hulle moes dit tog vir al 100 hulle werkers gee. Dus sou dit hulle 100 mense vermenigvuldig met R20,00 gekos het om almal te kan betaal. Maar waar het hulle sommer net so ’n ekstra R2 000,00 gekry?”
“Ek weet!” sê Sipho. “Hulle het die prys van die brode wat hulle bak, met 10% opgeskuif.”
“Dis reg. Die bakkery het pryse verhoog om die ekstra geld van die verbruikers te kry.”
“Oupa, as almal hulle produkte se pryse gedurig verhoog, gaan dinge nie dan te duur word nie?”
“Nee, solank dit met ’n vasgestelde persentasie verhoog word en almal dit nie oorskry nie, sal salarisse bybly.”
Oupa verduidelik verder dat sy salaris van R2 400 p.j. net mooi 46.2% van die bussie se prys was en dat vandag se salaris van R9 500 p.m. oftewel R114 000,00 p.j. steeds omtrent 46% van die bussie se huidige R250 000 is.
“Ja, en verder het ons as familie ’n hele maaltyd gehad vir R5,45!” lag Oupa en wys vir Thabo nog ’n ou advertensie.
(Eugene Groenewaldt, ongepubliseer.)
Gee terugvoering oor die storie wat jy gelees het
1.Hoeveel karakters het hierdie verhaal? Noem hulle. (2)
2.Hoe lank het Oupa aan sy taxi afbetaal? (1)
3.Watter motorhandelaar se advertensie het Oupa vir Thabo gewys? (1)
4.Waar het die motorhandelaar in die advertensie orals takke gehad? Noem twee plekke. (2)
5.Wat is die hoofidee van hierdie verhaal? (1)
6.Lees die voorlaaste paragraaf. Wie is hier aan die woord: die verteller of die oupa? Hoekom sê jy so? (2)
7.Die tyd waarin hierdie verhaal afspeel, is die hede. Het die verlede enige rol hier te speel? Hoekom/hoekom nie? (1)
8.Wat dink jy sal gebeur as winkels hulle pryse baie hoër opskuif as die prysverhogings wat hulle vir die ware moes betaal? (1)
9.As jy kon kies, sou jy Oupa se tyd of vandag se tyd wou leef? Gee ’n rede vir jou keuse. (1)
10.Verstaan jy wat inflasie is nadat jy hierdie storie gelees het? Hoekom/hoekom nie? (1)
11.Lees die advertensie. As jy in Oupa se tyd geleef het, watter voertuig sou jy gekies het? Waarom? (2)
Totaal: 15 punte
Formele assessering
Jou onderwyser gaan jou antwoorde volgens ’n memorandum nasien.
Vergelyking
’n Vergelyking is wanneer ’n mens iets beter wil verduidelik deur ’n prentjie met woorde te vorm. Die skrywer plaas dan die prentjie wat hy/sy geteken het, direk langs die woord wat hy/sy wil verduidelik. ’n Mens verbind die twee gewoonlik met die woorde “soos” of “asof” of “net soos”, “nes”, “as”.
Ons sê byvoorbeeld: Die katjie is so sag soos my teddiebeer. Die poeding ruik soos lemoen. Die leser kan dan self ’n prentjie daarvan vorm en dit so beter verstaan.
Daar is baie vergelykings wat gereeld in die volksmond gebruik word, byvoorbeeld:
Hy is so lank soos ’n paal; so lelik soos die nag.
Ons kry dit egter ook dat skrywers en digters hulle eie oorspronklike vergelykings uitdink. Kyk na die volgende uittreksel uit die gedig “Hemel” van Lina Spies:
•My kat is geel soos ’n papawer
•met oë nes botterblommetjies
•en ’n voetstap ligter
•as ’n sonstreep oor die water.
Uitgebreide lees
Paarlees die verhaal “Woordeloos” deur Fanie Viljoen saam met jou maat. Julle moet ook die vrae beantwoord. Die verhaal verskyn in jou Piekfyn Afrikaans Leesboek.
12.Kies die korrekte woord uit kolom B om die vergelyking in kolom A te voltooi.
Kolom A | Kolom B |
a)Hy rook soos ’n …b)Hy is so slim soos …c)Die vraat eet alles; hy het ’n maag soos …d)Niemand kry haar wakker nie; sy slaap soos …e)Die bedelaar kom elke Vrydag, gereeld soos …f)Oupa het geduld soos …g)Sy sing so mooi soos … | ’n klip’n volstruis’n nagtegaalJobdie houtjie van die galgskoorsteenklokslag |
Lees die volgende vergelykings deur. Twee van hulle is reg. Watter antwoord pas nie?
13.Die kinders is so bang soos … vir die kwaai onderwyser.
a)die duiwel vir ’n slypsteen
b)’n bok vir ’n skoot hael
c)’n kerkmuis vir ’n muisval
14.Sjoe, die geskilde veselperske is so glad soos …
a)botter.
b)’n paling.
c)seep.
15.Hy is so uitgeput, hy blaas soos ’n …
a)makou.
b)blesbok.
c)stoommasjien.
16.Thabo sê sy oupa se taxi is so oud soos …
a)die berge.
b)die Kaapse wapad.
c)’n ossewa.
17.Goeie entrepreneurs is deesdae so skaars soos …
a)valstande.
b)hoendertande.
c)wors in ’n hondehok.
d)’n tweedehandse doodskis.
Maatassessering
Sien jou maat se antwoorde na volgens die onderwyser se memorandum.
Aktiwiteit 4: Lees en waardeer ’n gedig
• Luister en praat
•Lees en kyk
•Skryf en aanbied
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•na ’n gedig oor troeteldiere luister
•’n teks soos ’n gedig vir verskillende doeleindes lees
•alliterasie in ’n gedig verstaan en herken
•die gedig soeklees vir spesifieke besonderhede.
Luisterbegrip
Ons almal hou van diere, want hulle is altyd lief vir jou. Luister wanneer jou onderwyser vir jou ’n pragtige gedig oor ’n lieflinghond voorlees.
Let op na die volgende:
•Die luisterteks gaan een keer aan die klas voorgelees word.
•Daarna gaan die onderwyser die vrae saam met julle deurlees. Stel vas wat belangrik is, sodat jy weet waarna jy moet oplet wanneer die luisterteks vir ’n tweede maal voorgelees word.
•Wanneer die onderwyser die luisterteks vir ’n tweede maal voorlees, mag jy aantekeninge op ’n aparte stuk papier maak. Beantwoord dan die vrae. Jou onderwyser sal dit assesseer.
Die vrae
1.’n Tinktinkie is ’n baie, baie klein voëltjie. Wat bedoel sy as sy sê haar hond is ’n “sakpastinktinkie”? (1)
2.Beskryf die hond se bene in jou eie woorde. (1)
3.“Ping-pong” verwys na tafeltennnis waarin ’n baie klein balletjie gebruik word. Wat het die hond graag met ping-pongballe gedoen? (1)
4.Wat dink jy was die hond se gunstelingtydverdryf: eet, slaap of speel? (1)
5.Dink jy die hond het dit reggekry om molle en hadidas te vang?
6.Hoekom sê sy dit dan? (1)
7.Die spreker sê die hond het geen bang haar op haar kop nie. Ons kan hierdie woorde letterlik en figuurlik verstaan. Verduidelik dit. (2)
8.Wat sê dit van die hond as haar baas haar ’n “leeuehart” noem? (1)
9.Sy sê die hond leef “agter haar oë”. Sê in jou eie woorde wat sy bedoel – waar leef die hond nog steeds? (1)
10.Waarom noem sy haar Yorkie ’n Pixie-hond? (1)
Totaal: 10 punte
Lees In ’n neutedop sodat jy weet wat alliterasie, assonansie, ’n wending, ’n kwatryn en die atmosfeer in ’n gedig is.
•Alliterasie is die herhaling van medeklinkers/konsonante kort op mekaar in dieselfde versreël. Dit is veral wanneer dit die eerste konsonant van ’n woord of ’n lettergreep is opvallend.
•Assonansie is die herhaling van vokale/klinkers kort op mekaar in dieselfde versreël. Soms gebruik die digter herhalende klanke (vokale) in ’n gedig/strofe om ’n bepaalde effek te verkry.
•Die wending in ’n gedig is wanneer die inhoud van die gedig skielik verander en ’n ander loop neem. Dit word dikwels deur die voegwoord “maar” ingelui.
•’n Kwatryn is ’n strofe wat uit vier versreëls bestaan.
•Die atmosfeer in ’n gedig of ’n verhaal het te make met watter gevoel dit by die leser skep. Is die atmosfeer rustig/hartseer/swaarmoedig/laf/opgewonde/skertsend/speels?
Lees die volgende gedig saam met jou onderwyser deur
Preleesaktiwiteite: Wat kan julle uit die titel en die illustrasie aflei? Waaroor gaan die gedig? Gesels daaroor.
Kuierkat
Hennie Aucamp
Daar is ’n swart kat in ons buurt
met beffie lakenwit,
wat somtyds uit sy eie
voor jou deur kom sit.
Sy halsbandjie is knalrooi,
sy houding opgevoed,
hy laat hom streel en optel
en spin sy oggendgroet.
Maar kos wil hy nie hê nie,
ook as jy vis wil gee,
want kuierkat is knuppeldik,
sy baas het ’n kafee!
(Hennie Aucamp, ongepubliseer)
Beantwoord die volgende kontekstuele vrae in jou werkboek:
1.Die spreker beskryf die kat op verskillende maniere.
a)Skryf drie fisieke eienskappe van die kat neer.
b)Skryf drie gedragseienskappe van die kat neer.
2.Haal ’n woord uit strofe 1 aan wat bewys dat die kat nie elke dag voor die deur kom sit nie.
3.Die digter gebruik verskillende kleure in die gedig.
a)Skryf die kleure neer wat in die intensiewe vorm gebruik word.
b)Watter ander kleur kom ook in die gedig voor?
4.In die gedig word daar ’n ander intensiewe vorm gebruik wat dieselfde beteken as om baie versadig te wees. Skryf dit neer.
5.Die kat se houding word as “opgevoed” beskryf. Wat beteken dit?
6.Hoe groet die kat in die oggend?
7.Hoekom wil die kat nie iets hê om te eet nie?
8.Wat is ’n “beffie” (versreël 2)?
9.Die titel van die gedig is ’n goeie voorbeeld van alliterasie. Skryf dit neer en onderstreep die klanke.
10.Skryf nog ’n voorbeeld van alliterasie in die slotstrofe neer. Onthou om die klanke te onderstreep.
11.Hoe weet ons dat hierdie gedig uit drie kwatryne bestaan?
12.Watter versreël dui die wending in die gedig aan?
13.Wat is die atmosfeer in hierdie gedig? Kies een van die volgende: hartseer/speels/opgewonde.
14.Verskillende letters kan soms gebruik word om dieselfde klank in óf een woord óf twee verskillende woorde voor te stel.
a)Skryf ’n woord uit strofe 1 neer waar twee verskillende letters gebruik word om dieselfde klank voor te stel.
b)Skryf twee verskillende woorde uit versreël 3 neer waar verskillende letters gebruik word om dieselfde klank voor te stel.
15.Hoekom hou jy van die gedig? Is dit die ritme, die boodskap of iets anders? Skryf dit neer.
Daaglikse assessering
Sien jou antwoorde na volgens die onderwyser se memorandum.
Skryf ’n paragraaf oor jou troeteldier
Wanneer jy ’n paragraaf skryf, moet al jou sinne ’n eenheid/samehang vorm. Dit beteken dat een sin by ’n vorige sin aansluit sodat die paragraaf ’n groot geheel vorm. Skryf een hoofsin (kernsin) wat die hoofgedagte van die paragraaf vorm. Al die ander sinne in die paragraaf brei op hierdie hoofgedagte uit – ons noem hulle bygedagtes. Lees ook die inligting in module 3, aktiwiteit 3.
Skryf ’n paragraaf van 60-80 woorde oor jou gunstelingtroeteldier. Volg die stappe van prosesskryf:
•Besluit oor watter dier jy wil skryf – wat is sy/haar naam, waar het jy hom/haar gekry, leef hy/sy nog, ens.
•Skryf in paragraafvorm – wat gaan jou kernsin wees en hoe sluit die ander sinne hierby aan?
•Lees dit deur en gee vir jou maat om te kontroleer en foute reg te maak.
•Lees dit weer deur en maak seker daar is geen foute nie.
•Herskryf dit en handig dit in vir finale assessering.
Aktiwiteit 5: Reis deur ons land
•Luister en praat
•Lees en kyk
•Skryf en aanbied
•Taalstrukture en -konvensies
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•’n informatiewe teks lees en na illustrasies kyk
•’n toerplan vir toeriste in jou dorp/stad uitwerk
•’n mondelinge voorlegging van jou toerplan doen
•’n koerantberig skryf
•meer oor lettergrepe, klankgrepe en hoofletters leer.
Lees die onderstaande teks in pare, maar lees eers Pitkos sodat julle weet hoe om paarlees te doen.
Pitkos
Paarlees
Hierdie tegniek is ’n maklike leesmetode omdat klasmaats mekaar ondersteun.
Prelees die teks: Lees die opskrif en kyk na die illustrasies. Wat sê dit vir julle?
Prosedure van paarlees:
•Woorde moet saam gelees word – die een leser moet nie ná die ander een volg nie.
•Pas leesspoed by mekaar aan.
•Wanneer jy genoeg selfvertroue het om alleen te lees, moet jou maat aandagtig luister en terugvoer gee.
•Lees probleemwoorde of -frases weer saam.
Toerisme in Suid-Afrika
Wonderlike geleenthede vir vernuftige entrepreneurs
’n Menigte kanse in die toerismebedryf lê net en wag om benut te word. Maar presies wat behels toerisme?
Dit is besig om een van ons land se belangrikste bedrywe te word en skep nuwe geleenthede vir entrepreneurs. ’n Slim entrepreneur kan heelwat wins maak indien die behoeftes van die mark raakgesien word.
Die toerismebedryf sorg jaarliks vir die besteding van biljoene rande en dis nie verniet dat nagenoeg een uit elke tien werkers op aarde in ondernemings is wat daarmee verband hou nie.
Die toeriste-verskynsel en die bedryf wat daarmee saamgaan, is al baie oud. Dink aan die besoek van die koningin van Skeba aan koning Salomo in die Bybelse tyd! Ook Marco Polo se reise na die Ooste in die dertiende eeu en David Livingstone s’n deur Afrika in die 1900’s. Ryk mense het nog altyd na afgeleë wêrelddele gereis om indrukwekkende geboue en ander kunswerke te besigtig, nuwe tale te leer of nuwe geregte te proe.
(Verwerk van: mieliestronk.com)
Lettergrepe
’n Woord kan volgens lettergrepe of klankgrepe verdeel word.
Lettergrepe is wanneer ’n woord op grond van taal- en spelreëls verdeel word, byvoorbeeld: borrelbad: bor-rel-bad; spykerskoene: spy-ker-skoe-ne.
Wanneer ’n lettergreep op ’n vokaal eindig, is dit ’n oop lettergreep (to-ne) en wanneer’n lettergreep op ’n konsonant eindig, is dit ’n geslote lettergreep (ton-nel).
Afbreek van woorde
Wanneer daar te min plek in ’n reël is om ’n woord volledig uit te skryf, mag ons dit afbreek. Daar is ’n paar reëls:
•Eenlettergrepige woorde word nie afgebreek nie, byvoorbeeld: lank.
•Woorde word volgens betekenisvolle dele óf lettergrepe afgebreek.
•Indien twee konsonantletters langs mekaar staan, word daar tussen hulle afgebreek, byvoorbeeld: interes-sant, kon-sonant.
•As n en g langs mekaar staan, word daar tussen hulle afgebreek (behalwe as die woord uit een lettergreep bestaan), byvoorbeeld: teken-grap.
•As s en j saam een klank vorm, word hulle nie geskei nie, byvoorbeeld: mar-sjeer.
•As s en j langs mekaar staan maar aparte klanke vorm, word hulle geskei, byvoorbeeld: plaas-japie.
•As ’n woord op d/t eindig en ’n verkleiningsvorm -jie kry, word daar voor die -jie afgebreek, byvoorbeeld: hand-jie.
•As ’n woord met -tjie verklein word, word daar voor die -tjie afgebreek, byvoorbeeld: rivier-tjie.
Klankgrepe
Wanneer ons ’n woord volgens klanke verdeel, word dit klankgrepe genoem. Dit het dus niks te make met die spelling van die woord nie, maar hoe jy dit uitspreek. Let op die verdeling van die volgende woorde in klankgrepe: ro-(m)mel; he-(k)ke.
Hoofletters
Onthou: Hoofletters word in die volgende gevalle gebruik:
•Aan die begin van ’n sin. Wanneer die sin met “ ’n” begin, kry die volgende woord ’n hoofletter.
•Name en vanne van mense, dae van die week, maande van die jaar, dorpe, stede, provinsies, lande en besighede.
Werk saam met jou maat
Beantwoord die taalvrae in jou werkboek.
1.Verdeel die volgende woorde in lettergrepe:
a)bedrywe
b)indrukwekkend
c)planne
d)ingeënt
e)brosjure
f)kreatuurtjie
2.Verdeel nou dieselfde woorde in klankgrepe.
3.Herskryf die volgende paragraaf met hoofletters op die regte plekke.
suid-afrika is deesdae ’n land wat gereeld deur oorsese toeriste besoek word. toeriste uit lande soos engeland, switserland en rusland geniet ons warm weer en dierelewe soos dié van die krugerwildtuin. In stede soos kaapstad en johannesburg kan toeriste van bustoere gebruik maak om allerhande interessanthede te sien. Die kangogrotte in oudtshoorn en die wynplase in die boland is baie gewilde toeristebestemmings.
Mondelinge aanbieding
Ses besoekers van oorsee gaan julle dorp/stad besoek en vir vyf dae oorbly. Jy word gevra om vir hulle verblyf en toere te reël. Jy soek rond en sien op die internet die volgende advertensies vir akkommodasie in julle dorp/stad.
Opdrag: Elke leerder moet die volgende aan die klas kom aanbied:
•Keuse van verblyfplek: Kies een van die verblyfplekke vir jou gaste. Verduidelik aan die klas waarom jy die spesifieke verblyfplek kies. (Luuksheid, prys, ligging, ens.)
•Keuse van besienswaardighede: Doen navorsing oor al die besienswaardighede in julle dorp/stad waarheen jy toeriste kan neem. Vertel vir die klas wat jy alles beplan om vir die toeriste te wys. Onthou om verskeie kultuur-, natuur- en geskiedkundige interessanthede by jou lys in te sluit en dat jy hulle vir vyf dae moet besig hou.
•Padaanwysings: Jy besef dat jy nie die vyfde dag saam met hulle sal kan gaan nie en besluit om aanwysings na hulle besoekpunt saam te stel sodat hulle op hulle eie daar kan kom. Gee die padaanwysings mondelings in die klas.
Maatassessering
Gebruik die volgende kontrolelys om jou maat se mondelinge aanbieding te assesseer voordat jou onderwyser dit formeel gaan assesseer.
Kriteria | Ja | Nee |
Die keuse van verblyfplek vir toeriste•Deeglik en met oortuiging gedoen. | ||
Keuse van besienswaardighede•Dit is duidelik dat navorsing gedoen is en die spreker ’n goeie kennis het van die plekke wat vir die toeriste gewys gaan word.•Die beskrywing van die plekke is interessant en oortuigend. | ||
Padaanwysings•Aanwysings word duidelik en akkuraat gegee.•Daar is ’n goeie balans tussen handgebare en mondelinge aanwysings. | ||
Algemeen•Aanbieding is dinamies en spreker kom oortuigend oor.•Taalgebruik is baie goed.•Goeie woordeskat en suiwer Afrikaans.•Pas aan by teikengroep. |
Groepwerk: Bring ’n koerantberig saam skool toe
Elke groeplid moet een of meer kort Afrikaanse koerantberigte saambring. Lees dit deur in julle groepe en vergelyk julle berigte met die inhoud van Pitkos op die volgende bladsy. Voldoen die berigte aan Pitkos se riglyne? Hoe verskil dit?
Skryf ’n eie koerantberig
Die Roosboom Gastehuis in julle omgewing het skielik baie belangrike gaste gekry. Hulle het stilletjies gearriveer sonder dat enigeen geweet het, en ’n paar nagte oorgebly. Julle koerant het snuf in die neus gekry en gaan ondersoek instel. Vertel vir jou lesers wie hierdie gaste is, waarom hulle van die pers probeer wegkruip en waarom hulle juis na julle omgewing gekom het. Jy kan selfs ’n foto of twee publiseer!
Jou koerantberig moet 80-100 woorde lank wees en uit ten minste drie paragrawe bestaan. Maak gebruik van prosesskryf en gebruik die kontrolelys om jou en jou maat se berig te kontroleer.
Pitkos
Die koerantberig
’n Goeie koerantberig moet antwoorde op vyf vrae gee sodat die berig die leser se belangstelling behou.
Die vyf vrae waarop jy moet fokus:
•Wat – Vertel die leser wat gebeur het.
•Waar, wanneer, waarom en hoe – Gee die agtergrond en groter prentjie vir die leser.
Ander sake wat ook belangrik is:
•Gevolge – Wie trek voordeel en wie ly onder die gebeure? Wat kan aan die situasie gedoen word?
•Hoe raak dit ander mense wat buite die gebeure staan? Hoe raak dit die lesers?
Belangrike dinge om te onthou:
•Die titel (kop) van jou berig is baie belangrik omdat dit bepaal of die leser jou berig gaan lees of nie. Hou dit kort, pittig en sorg dat dit die kerngedagte bevat. Woordspeling, alliterasie en assonansie kan gebruik word.
•Gee spesifieke aandag aan die inleiding en sorg dat dit kort en kragtig is. Breek lang sinne op in korter sinne wat makliker lees.
•Is die storie regverdig? Word albei kante van ’n saak gegee?
•Wanneer jy iemand se woorde direk aanhaal, moet jy die aanhalingstekens korrek gebruik.
•Let veral op na die spelling van name, titels en ouderdomme van mense.
Ek het die volgende gedoen toe ek die koerantberig gefinaliseer het | Ja | Nee |
Die kop van die berig trek dadelik die aandag. Dit is kort, vat die kern saam en prikkel belangstelling. | ||
Die inleidingsparagraaf is kort en kragtig. | ||
Beide kante van die saak word gestel. | ||
Die sinne is nie te lank nie. Sinslengtes word afgewissel. | ||
Ek het van verbindingswoorde gebruik gemaak om samehangende paragrawe te skryf. | ||
Ek het die spelling van moeilike woorde nagegaan en seker gemaak dat alles reg gespel is. | ||
Ek het seker gemaak dat alle kommas, punte, aandagstrepe, afkappingstekens, aanhalingstekens en ander leestekens op die regte plekke is. | ||
Ek het elke sin met aandag deurgelees en die nodige woorde verander sodat dit beter klink. |
Self- en formele assessering
Gebruik die kontrolelys om jou of jou maat se berig te assesseer voor formele assessering.
Jou onderwyser gaan jou koerantberig formeel assesseer.
Aktiwiteit 6: Voorbereide en onvoorbereide lees
•Luister en praat
•Lees en kyk
•Skryf en aanbied
•Taalstrukture en -konvensies
In hierdie aktiwiteit gaan jy
•’n teks vir hardoplees voorberei
•instruksies skryf
•jou Piekfyn-woordeboek bestudeer.
Dit is weer tyd vir hardoplees. Lees Pitkos om voor te berei.
Pitkos
Tegnieke vir hardoplees
Onthou die volgende wanneer jy hardoplees:
•Spreek jou woorde korrek en duidelik uit.
•Moenie woorde uitlaat of byvoeg nie.
•Lees vloeiend en hoorbaar. Let op na leestekens – rus by kommas en wag langer by ’n punt.
•Verstaan wat jy lees sodat jy jou stemtoon kan verander en aanpas by die inhoud – jou voorlesing moet interessant wees!
•Hou jou teks sodat jou gesig sigbaar is en jy oogkontak met die gehoor kan maak.
Voorbereide hardoplees
•Gaan soek by die huis enige vorm van instruksies of aanwysings in Afrikaans. Dit kan aanwysings/instruksies wees wat saam met een of ander medisyne gekom het/instruksies hoe om ’n instrument of apparaat te gebruik/instruksies hoe om sekere oefeninge te doen/instruksies in jou pa se motorhandleiding. Dit kan enige iets wees, maar dit mag nie iets wees wat jy self uitgedink het nie.
•Berei dit deeglik by die huis voor sodat jy dit foutloos (en interessant!) aan die klas kan voorlees.
Onvoorbereide hardoplees
Jou onderwyser gaan vir jou ’n teks uit die Piekfyn Afrikaans Leesboek vir onvoorbereide lees gee.
Formele assessering
Jou onderwyser gaan jou voorbereide en onvoorbereide lees formeel assesseer.
Skryf instruksies
Jy gaan op ’n skooltoer en het vergeet om jou ouer broer te vra om vir jou troeteldier kos te gee terwyl jy weg is. Daar is egter ’n oplossing: jy kan vir hom instruksies op ’n papier neerskryf en dit in sy kamer los.
Jou instruksies moet aan die volgende vereistes voldoen:
•Voorsien die instruksies van ’n volledige opskrif wat aandui wat die doel van die aanwysings is.
•Begin jou sinne met ’n werkwoord – dit moet ’n bevelsin wees.
•Die aanwysings moet in chronologiese volgorde wees.
•Dit moet puntsgewys aangedui word.
•Jou aanwysings moet 40-60 woorde lank wees.
•Maak gebruik van die stappe van prosesskryf.
Leer hierdie woordeskat in jou Piekfyn-woordeboek vir ’n klastoets.
Piekfyn-woordeboek
Woordeskat
bekendstelling
kliënte
uitdaging
bewusmaking
onderneming
vervaardig
buurlande
sakegeleenthede
vindingryke
geldeenhede
statistieke
winsgewendheid
identifiseer
teikenmark
klant
troetelnaam
Idiomatiese taal en vaste uitdrukkings
Alles gaan voor die wind – alles gaan goed.
Iets soos goud bewaar – iets baie veilig bewaar.
Hy het die daad by die woord gevoeg – hy het dadelik iets gedoen.
Iets hokslaan – iets stop.
So skaars soos hoendertande – moeilik om te kry.
Jou hande staan vir niks verkeerd nie – jy kan alles doen.
Sy steek haar hande nie in koue water nie – sy doen geen werk nie.
Vir iemand ’n klip uit die pad rol – vir iemand ’n guns bewys.
Tou opgooi – moed opgee.
Moeilike spelling
belangstellings
identifiseer
onvergeetlike
besighede
illustrasies
oorspronklik
briljante
kleurryke
samelewing
eienskappe
kliënt
veldtog
entrepreneurs
navorsing
geïnteresseerd
onderneming
Aktiwiteit 7: Assessering
•Lees en kyk
•Taalstrukture en -konvensies
•’n niefiksie-teks soeklees vir inligting
•skryftekens doeltreffend gebruik
•hoofletters en leestekens korrek gebruik
•tydsvorme, die ontkennende vorm en afkortings korrek en gepas gebruik
•taalvrae beantwoord wat formeel geassesseer gaan word.
Preleesaktiwiteite
Waar kom die buitelanders vandaan wat SA besoek? In die grafiek langsaan is syfers wat deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) uitgereik is oor die buitelanders wat ons land in 2007 besoek het. Die grafiek dui aan waar die mense vandaan kom. Bestudeer die grafiek.
•Wat sê die titel van die grafiek vir jou?
•Lees die onderste ry name. Watter name is dit?
•Wat dui die getalle aan wat heel links geskryf is?
•Kan jy die grafiek nou lees en verstaan?
Leesbegrip
Lees die teks aandagtig deur en beantwoord die vrae.
Die meeste besoekers kom uit nabygeleë buurlande vir sportbyeenkomste en inkopies en gaan by hulle families tuis. Ons moet meer toeriste lok uit die ontwikkelde wêreld wat hul sterker geldeenhede gewillig hier kan kom verkwis!
’n “Wêreld in een land” – só word Suid-Afrika as toeristebestemming beskryf, omdat daar ’n uiteenlopendheid in die natuur is waarmee min lande kan spog. Ons land se mense is ook van so ’n verskeidenheid kulture en herkomste dat Suid-Afrikaners as die “reënboognasie” bekend geraak het. En wat kom doen buitelanders in Suid-Afrika? Die tabel hieronder dui die verskillende kategorieë aan:
(Verwerk van: www.statssa.gov.za)
Leesbegrip en leesstrategieë
1.Kyk na die staafdiagram en beantwoord die volgende:
a)Uit watter land kry ons die meeste besoekers? (1)
b)Uit watter Europese land kry ons die meeste besoekers en hoeveel van hulle besoek ons jaarliks? (2)
c)Uit watter Afrika-land op hierdie grafiek kry ons die minste besoekers? (1)
2.Bestudeer die tabel en dui aan in watter maand die meeste mense Suid-Afrika besoek
a)om vakansie te hou
b)vir besigheid en werk
c)om te studeer en ander. (3)
3.Lees die teks. Wat is die ooreenkoms tussen Suid-Afrika se mense en Suid-Afrika se natuur? (1)
4.Waarom kry ons so baie besoekers uit ons buurlande? (2)
Totaal: 10 punte
Taalstrukture
1.Deeltekens en kappies kan die betekenis van ’n woord verander. Hoe sal die uitspraak en betekenis van die woord “se” verander as dit met ’n kappie geskryf word? (1)
2.Kies die korrekte woord tussen hakies.
a)Doeanebeamptes moet (relings/rëelings/reëlings) tref om toeriste se bagasie te (bere/bêre/bëre) as hulle gestrand is.
b)Die toergroep se vakansie het rampspoedig (geëindig/geeindig/geeïndig). (3)
3.“Ons moet meer toeriste lok.” Verander hierdie sin in …
a)die toekomende tyd. Begin dit met: Volgende jaar …
b)die verlede tyd. Begin jou sin met: Verlede jaar … (2)
4.Verdeel “ontwikkelde” in
a)klankgrepe en
b)lettergrepe. (2)
5.Begin die volgende soos aangedui.
a)Ek onthou alles wat gebeur het. Nee, …
b)Die bakkery het iemand gehuur om die brood te bak. Nee, … (2)
6.Skryf die volgende gedeelte oor en vul die regte leestekens en hoofletters in: (5)
watter deel van ons land is die mooiste nadat ek lank daaroor gedink het het ek besef dit is nie moontlik om een plek uit te sonder nie
Totaal: 15 punte