Читать книгу Gedeeltelik bewolk - Ruan Kemp - Страница 6

Оглавление

Die noen is verstikkend, wit, nie ’n wolk in sig nie, net ’n son soos ’n stok in jou oog, en ’n swart kolletjie op die lens, ’n voël wat in die oostewind dwarrel. Die oostewind bring gerugte, skindernuus uit verafgeleë plekke, fluister in die langgras. Goggas gil in die takke. Die binnegoed van ’n kasset, vasgedraai in ’n doringbos, losgetorring in die wind, blink in die son. Nat derms. Later, wanneer die trok met die gevaarlike vrag verby is, gaan die jakkalse kom snuffel. Die drywer van die trok met die gevaarlike vrag weet niks van die oostewind se gerugte nie. Die ruit is toegedraai, en die man snork. Die trokdrywer skakel die radio aan. “Noord-Kaap: Mooi weer en warm, maar gedeeltelik bewolk in die ooste,” sê die radio. Skakel die radio af. Tussen die drywer se bene ’n fles koffie, lou maar gerusstellend, die hand van ’n vrou. Agter hom die man wat snork. Die drywer laai nie gewoonlik duimgooiers op nie, dis teen die reëls, maar die man was wit en gehawend.

“Hier’s ons nou,” sê die trokdrywer toe hy aftrek. “Meneer, ons is hier,” sê die trokdrywer toe hy terugleun en George wakker skud.

“Los my uit,” sê George. “Ek is depressief.”

“Dit is die afdraai Blyverby toe, Meneer. Ek moet nog op Upington kom. Kom nou.”

“Hou maar die kleingeld,” sê George toe hy uitklim, ’n sigaret brandsteek. Tel die wiele toe die trok wegtrek. Veertien. Veertien wiele los net twee spore. Pis ’n sirkel in die stof.

Maak toe jou gulp, George.

Maak vas jou veters, George.

Vee die slym van jou mond af, George.

Vang jy hom onbehoeds van voor, dan lyk hy soos ’n man wat nou net met ’n stok geslaan is. Maar hou hom dop uit die hoek van jou oog, dan bespeur jy die glorie van ’n slim man. ’n Mooi man. Daar is iets aantrekliks omtrent sy glimlag, en die manier hoe sy oë saamlag, nuuskierige oë, uitspattige wenkbroue. Dis ’n seun se gesig. Hy trap water in ’n plaasdam saam met ’n nuwe maatjie.

George stap sy geboortedorp binne. Dis ’n piskol in ’n leë erf. Dis ’n bottelskerf in die stof. Dis ’n sigaretstompie uitgespoeg en doodgetrap en later opgepik en afgesuie die lewe in soos ’n afgekoude vinger. Dis rooi stof wat opvlam in die wind en vasslaan teen ’n oopgekrapte roof. Dis ’n etterspuitende wond waaraan driebeenhonde suie. Die parasiet ruik bloed, stoot sy tentakels een-een uit, proe-proe voor hy suig: “Asseblief my kroon, help ’n man daar.”

“Fokkof, jou dier!” sê George.

Jy kan nie met ’n parasiet redeneer nie. Die parasiet stoot derduisende gladdebek-bakhandtentakels gelyktydig uit, omsingel die wit man: “My kroon, asseblief my kroon, help ’n man daar …”

“Watse fokken era leef julle in?” vra George. “Het julle nie geweet dis na 1994 nie meer onwettig vir ’n wit man om arm te wees nie?”

Die parasiet gee ’n laggie, gooi homself toe onder die stof, net sy oë steek uit. George stap die disko binne. Goedgekamoefleerde ogies hou hom dop.

Hedendaagse stofmense verwar die disko met die donder. Kyk, roep hulle spreekwoordelike voorvaders, spreekwoordelik want hulle het net die stof aan hulle lyf en Saartjie Baartman in gemeen, kyk die blou boepenswolk op die einder, hoor hoe rammel sy maag, pak, laat ons trek. En dan trek hulle, kalbassies uitgehol en aanmekaargestring met bokvelriempies, gereed, want daar op die einder is daar water. As dit pap reën, moet jy skep. Maar hulle kruisbestuifde nasate sien diskoligte, ruik drank. En waar ook al ’n wit man ’n drankwinkel oopmaak, daar koek hulle saam, onversadigbare versamelmense, en hulle samekoeking is so intens, so volledig dat mens nie die een maaier van die volgende kan onderskei nie, !ke e: /xarra //ke. Die individu is nie ’n organisme nie, die individu is bloot ’n selletjie van weglaatbaar klein belang, behalwe wanneer daar gestem word, in ’n groter organisme, ’n godgroot parasiet met derduisende tentakels, elkeen met ’n maaiergesiggie, en ’n bottelnek vir ’n bek. Kap jy die een suier af, groei daar twee in sy plek. Dis ’n monster wat daarop uit is om homself van kant te maak, maar hy slaag nie daarin nie, want die geheel is groter as die somtotaal van sy ledemate, veral wanneer daar gestem word. En waar ook al ’n wit man ’n drankwinkel oopmaak, daar hou die gepantserde geldlorries stil, met ’n geleende opslaantafel van die kerk, en ongeskoolde gewapende wagte, en ’n duimskandeerder, en daar versamel hulle, ongeskoolde staatspensioenarisse met ongeskiktheidstoelae, en IOU’s by die wit man se drankwinkel. As dit pap reën, moet jy skep.

Die drankwinkel behoort aan Jungle Nieuwoudt, die seun van ’n Smutsman. Maar al was sy pa ’n Smutsman, het pa en seun gereeld vasgesit oor haarstyle. Jungle het meestal niks te sê gehad nie want sy pa was bles, maar wanneer Jungle se hare te lank geraak het, het sy pa gebrom: “Weet jy hoe lyk ’n dooie Duitser? Met lang hare vol luise, en bloedrowe op sy kroon, en maaiers in sy slape? Loop sny jou hare!” Dit was al wat sy pa ooit oor die oorlog gesê het. Die Tweede Wêreldoorlog was nie Boetie gaan border toe nie. Dié wat teruggekom het, het nie daaroor gepraat nie. Jungle se pa het ’n plaas by die Verenigde Party gekry omdat hy die Duitsers help verslaan het. Sy agterryer het ’n fiets gekry. Ná Angola, waar Jungle op onsigbare teikens gevuur het en ’n kas bier in ’n veerpyltjiekompetisie gewen het, is sy pa oorlede. Jungle het die plaas geërf, sy eerste inboorling genaai, en sy hare laat groei. Vandag dra Jungle sy hare lank en trots. Hy het ’n groot wit baard wat elke Desember vir hom sakke geld inbring as Kersvader in ’n stedelike inkopiesentrum. Genoeg geld om sy kinders op universiteit te hou. Op sy yskas is ’n foto van hom in sy Kersvaderpakkie langs die aantreklike bestuurder van die inkopiesentrum. Binne-in die yskas is baie witwyn. George en Jungle is groot vriende. Hulle giggel wanneer hulle gesuip raak op witwyn, giggel wanneer hulle inboorlingstories uitruil. Maar Jungle is nie nou hier nie.

“Waar is hy?”

“Hy’t gaan ry. Hy’t in sy kar geklim en gery.”

“Wanneer?”

“Twee dae terug.”

“Ek sal wag.”

George sit ’n dag onder ’n windpomp om. Rook. Die windpomp se voortande is uitgeslaan, hy steier kromrug teen die wind maar hy hou aan pomp. Terselfdertyd bang en dapper. Dis die oostewind wat hom aandryf, dis die oostewind wat hom weldra tot niet gaan maak, hom steek vir steek uitmekaar gaan torring, uitryg soos ’n vlag aan ’n paal, ’n vlag wat uit godverdomde verveeldheid op dieselfde plek hang en wapper. ’n Man met ’n gesig soos bobbejaanboude in paartyd strompel verby disko toe. Die sin van sy bestaan is die styfheid in sy onderlyf wanneer die wyn uit hom is, wanneer die wyn eers in is. Wat sou Camus sê? Daardie verfynde hotnot van Algerië. Wat beteken dit dat die man se gesig so lyk? Dat die man so suip? Het die man ’n swak selfbeeld omdat sy gesig so lyk? Nee, sê Camus, hy is verantwoordelik vir daardie bakkies, en hy suip uit godverdomde verveeldheid.

“Die verveeldheid sal jou mal maak!” skreeu George op ’n man wat verbystap, ’n boks wyn op sy skouer soos ’n ghettoblaster, soos ’n aangegroeide kop.

“Baas moenie daar sit nie,” sê die Siamees. “Dis Shakespeare se pomp daai.”

“Shakespeare?”

“’n Man het homself daar met ’n draadhanger opgehang, Baas.”

“Shakespeare?”

“Nee, dit weet ek nou nie, my basie. Hulle noem hom maar so uit respekte.”

Die Siamees is ’n klein mannetjie met Oosterse ogies, plat neusie. Niemand weet wat sy regte naam is nie, almal noem hom Tokkelos. Hy lyk soos ’n Boesman maar hy’s ’n FAS, los skaars ’n spoor toe hy wegraak in die stof.

Jungle weet tot vandag toe nie hoe hy dit reggekry het nie, maar hulle het hom kom roep toe hy die drankwinkel oopsluit: hy moet kom kyk. En daar hang die man, morsdood, bloupers in die gesig, sy tong wat by sy mond uithang. Jungle het nie geweet ’n mens se tong is so lank nie. Maar hy is daar op teen die windpomp. En met sy een hand deur die gaping in die raamwerk het hy die man aan sy kraag gevat, en met die ander hand die draad losgetorring, en so het hy handjie vir handjie, een aan die windpomp, een aan die kraag, die man na benede gebring. Hy weet tot vandag toe nie wat was daai man se naam nie, maar dit was goed vir sy besigheid op ’n manier, al moet hy dit nou self sê.

“Shakespeare?”

“Dit was soos Romeo en Juliet,” sê Jungle, “maar met ’n 7de Laan-twist. Die man wat homself gehang het was die tweede been in ’n liefdesdriehoek. Die eerste been was sy vrou. Sy het ’n verhouding gehad met die derde been, toe vind die tweede been dit uit, toe voel sy kaksleg daaroor en probeer selfmoord pleeg deur ’n helse lot wolwegif te drink, dis arseen, maar dit het nie gewerk nie, dit het net gelyk of dit werk, toe dog Tweede Been sy is dood, toe hang hy homself. Hy was nog nie eers in die grond nie, toe drink sy ’n helse lot rotgif, dis Warfarin, toe werk dit.”

“En die derde been?”

“Hy is orraait. Ek sien hom amper elke dag. Hy is seker my beste customer.”

George klim die telefoonkoppie. Bo-op die koppie is ’n selfoontoring en ’n reservoir. Bo-op die koppie versamel die dorpsgeluide, verdamp die dorpsgeluide. George steek ’n sigaret brand, luister uitasem na die dorpslong. Dis ’n slymerige affêre waardeur plaasbakkies sporadies spore trek, hulle uitlaatpype plek-plek borrels na die oppervlak stoot, plek-plek bots met die disko-beats, plek-plek intussussepteer in die disko-beats. Mens moet mooi luister om die laerskoolgeluide te hoor. Mens moet jou kop onder die modder druk om te hoor hoe die verdrinker verstik. In George se kindertyd het die laerskool ook so geklink, maar die onderwyser se stem was harder. En die swembad was vol water. Meeste van die kinders wil nou eerder by die disko wees. Hulle moet tydens skooltye toegesluit word, dat hulle kan leer om hulle name op IOU-papiertjies te skryf. Lemmetjiesdraad om die kinders binne te hou. Hulle wil nie leer nie. Hulle wil suip, steel en steek. Suip, steel en steek is gewilde buitemuurse aktiwiteite. Daar’s nie amptelike borge daarvoor nie, maar daar’s ook geen keer nie. Saans suip, steel en steek hulle. Saans skryf hulle hulle name op klippe, mure, karre, pale, IOU-papiertjies. Saans skryf hulle poes. Saans sing hulle: “Ons is die bloednaaiers van Izibusiso.” Izibusiso is die munisipaliteit van Pyphekstad, Blyverby, Hondeblaf en Teleurgesteld. Izibusiso is Zoeloe vir “seënings”. Behalwe vir ’n handvol munisipale hoogwaardigheidsbekleders is hier geen Zoeloes in hierdie geweste nie. Net kleurlinge suie aan hierdie kadawer, kom nou en dan op vir asem, en sing: “Ons is die bloednaaiers van ons seënings.” Twee geboue troon uit bo die dorp: die kerktoring, soos alle kerktorings, met sy uitkyktorinkie van waar niemand ooit uitkyk nie, want die Kommuniste is nie op pad nie, die Antichris is reeds in ons midde; en die skoolkoshuis, met sy watertoring waaruit niemand water drink nie, want die koshuis staan leeg. Dit is die ou dorp, soos ’n appendiks, sy evolusionêre funksie vervloë, sy gholfbaan vergane, setperke ongeolie, ’n woestynpikkewyneier in die vyfde putjie, ’n skaapwrak op die vierde bof, die klubhuisie se ruite uitgegooi, die diefwering uit die muur geruk, klein drolletjies op die toonbank gelos. Die nuwe dorp, oftewel “die kroek”, is blink sink, strate vol stof, strate vol stofmense, mense soos miere. Die mier is nie die organisme nie, die miernes is. George pis in die reservoir.

Dis nie ’n Spar nie, maar almal praat van die Spar wanneer hulle na die supermark verwys. Dis ook nie juis ’n mark nie, en daar is niks super daaraan nie. Die vleis in die vrieskas is onbekostigbaar. Die vleis in die vrieskas is oneetbaar. Dit verbrokkel wanneer dit vries, vrot wanneer dit ontdooi. Blyverby is in die middel van die skaapwêreld, maar die vleis in die vrieskas is nader aan perd. Gemaalde Kenilworth-resiesperde met gebreekte bene en gebreklike name. Flentertjies perdevleis van die perdebene uitgesif deur ’n swetende Cosatu-geaffilieerde Fawu-lid, vigslyer, pa van twee, in die vorm van ’n skaaptjop aanmekaargevries. Die supermark behoort aan Gert Smit, ’n grillerige man met die raamwerk van ’n sokkerbal met ’n puncture, kunsleer wat skilfer. Dit lyk of hy met sy ma getroud is. Baie mense dink sy vrou is sy ma. George dink Gert Smit het met ’n ouer vrou getrou omdat sy twee dogters het. George dink dit was Gert Smit wat Mot op Griet geskryf het, maar almal weet dit was Johannes Lombard. Lombard se nom de plume is Mot. Nee, sê George, dit was Gert Smit. “Ek weet dit, want ek het die kolporteurtjie gevra wie die boek geskryf het, toe sê sy nee, sy weet nie, maar ’n ma en haar seun het ingekom en gevra of hulle maar die boekie op die rak langs Sprokie kan sit. Toe stap ek af in Langstraat en by die volgende boekwinkel, toe’s Mot op Griet daar op die rak langs Sprokie. Ek vra toe die kolporteur of hy weet wie die boek versprei, toe sê hy nee, hy weet nie, maar ’n vetterige man en ’n ou vrou het dit hier kom aflewer, gesê hulle kom weer oor ’n maand. Dis Smit en sy vrou, ek sê jou. Dis ook nie Smit se eerste boek nie. Hy’t ’n boek geskryf oor ’n hofsaak tussen hom en die engeekerk, hy’t geld van hulle geëis vir naamskending, en toe die kerk wil uitbetaal, toe sê hy nee, hy soek nie geld nie, hy wou net ’n punt maak, maar gee my maar ’n sent as julle dan nou moet.”

George dink Smit se vrou se jonger dogter is nogals mooi. Sy beman die kasregister soos iemand wat gebore is om dit te doen, maar haar voorkoms is bedrieglik want sy aspireer heimlik om in ’n videowinkel te werk. Haar suster behartig die boeke in ’n bedompige agterkamertjie. Daar is baie dinge wat nie daar opgeskryf word nie, daar is baie dinge wat ons nooit sal weet nie. Mevrou Smit sit agter die negosietafel en brei, mis gereeld ’n paar steke. Gert Smit sit op ’n uitkyktorinkie, smelt in sy kroegstoeltjie soos ’n aarbeiroomys, kyk dat niemand iets steel nie, kyk hoe George deur die gangetjies dwaal, op soek na ProNutro.

“Waar’s die ProNutro?”

“Ek hou dit nie aan nie.”

“Het jy nog ’n eksemplaar van jou boek?”

“Waarvan praat jy?”

George koop die koerant, ’n halfkilo polonie en ’n liter Coke, lag toe hy uitstap.

George sit ’n dag langs die kerktoring om. Rook. Luister hoe die onsigbare koster sy rondtes doen, die klok lui, die fokken outomaat. U is die Christus, die Seun van die Lewende God staan op die hoeksteen geskryf. Die kerk is geopen ’n maand ná Verwoerd se dood. Dit was maar ’n moeilike maand. Mense het gerou. Ou Jim Moore het die laaste sand vir die plaveisel aangery. Bedags het hy sand aangery. Snags het hy by die kroeg gestaan en wieg, ’n driedubbele White Horse in die hand, en wanneer hy nog een wil hê, het hy gesê: “Give me the body of a thousand men!” Met die opening was die kerk stampvol voor die tyd en kriewelrig ’n rukkie later, want waar bly Jim? Hy moet kom open, die dominee staan al en wieg. Ou Jim maak eers klaar in die kroeg, spring op sy wit perd, vaar die huis van die Here binne: “Ek het hierdie kerk gebou! So sê die Here: Die hemel is my troon en die aarde die voetbank van my voete. Waar is dan die huis wat julle vir My sal bou? En waar die plek wat my rusplek sal wees? Want my hand het al hierdie dinge gemaak. My lorries. My grond. My volk. Ek het hierdie kerk gebou terwyl julle almal op julle stoepe gesit het, handjies gevou in gebed. Noudat die werk klaar is, nou sit julle almal hier, handjies gevou in gebed. Ek sit nooit weer my voet hier nie. So sê die Here. Amen.”

In elke lieweheersdorpie staan die engeekerk in Kerkstraat, maar in Blyverby staan die engeekerk in Niekerkstraat. En dít is Jacob Israel Moore se erflating. Hy het ook hier afgetree, in Niekerkstraat 23, reg oorkant die kerk, en hier het hy op sy stoep gesit en kyk hoe die kerk leegloop, hoe die straat vol bruin mense raak. Hy het nou en dan van sy seun verneem, die een vir wie hy ’n blink toekoms in gedagte gehad het, en nou en dan saam met hom op die stoep gesit. En wanneer Jim sy hande vou, vou George sy hande, wanneer Jim sy bene kruis, kruis George sy bene. Ou Jim het ’n groot skaduwee gegooi.

“Elke mens het twee skaduwees,” het Jim gesê. “Die een is van die son, en die ander is van die voorvaders. Wit mense se ander skaduwee is die kleurlinge. As die wit mense uit Blyverby uittrek, sal hulle skaduwees saamtrek. Dis trek of vrek. Hier is een supermark, dit behoort aan ’n wit man, hier is een drankwinkel, dit behoort aan ’n wit man, hier is een kliniek, dit behoort aan ’n wit man.” Dan het Jim ’n rukkie stilgebly, nie die tipe stilte wat beteken dis nou jou beurt om iets te sê nie, maar die tipe stilte wat beteken laat my woorde eers toe om hulle lêplek te vind. Gelukkig was dit altyd duidelik watse stilte Jim bedoel het. Veral daardie stilte wat oor hom gekom het soos ’n wolk. Dan was die hele plaas stil. Die hele skepping. Ou Jim was ’n ingewikkelde skepsel. ’n Slim man sou dit dalk kon regkry om hom uitmekaar te haal, die fyn draadwerk van sy kop uit te pluis, of in die geval van ’n dommer man, los te torring, maar niemand behalwe die Skepper self sou hom weer aanmekaar kon sit nie. Dan sit hulle so, pa en seun, en kyk hoe die kerk leegloop, kyk hoe die dronk kleurlinge verbyloop.

“Ons is die bloednaaiers van ons seënings,” sing hulle.

“Fokken hotnots,” sê George.

“Pasop wat jy sê, seuneman. Ek het dieselfde ding by Bitterpit gesien, maar dit was wit mense.”

“Kanaalape?”

“Ja,” sê Jim, en dan skep hy ’n oomblik se stilte waarin hy sy woorde in ’n ry kry, dit raak moeiliker soos hy ouer raak.

“Met daardie kanaal wou hulle die armblankevraagstuk oplos. Dit was werk of vrek. Dit was die filosofie, maar dit was besoedel met politiek. Die kanaal was ’n simbool, ’n bron van lewe vir die boer en werkverskaffing vir die armblanke, en die kanaal moes die twee groepe saambring en dan boonop ook dien as ’n grens, ’n netjiese skeiding, so netjies soos die kanaal self. Die plan was dat sosio-ekonomiese verskille lynreg op die kleurgrens waarneembaar moes wees, en nie tussen die wittes nie. Maar die kanaalape was van wese ’n lui en slordige en losbandige klomp.”

Jim trek sy vingers deur sy hare. George verstel sy kuif.

“Hulle het ons uitverkoop. Die armblankes. Die fokken Malaniete.”

Jim sit terug, vou sy arms, ’n afgetrede skaapboer, ’n Noord-Kaapse aristokraat.

Die kerkklok lui.

“Ag my liewe Here Jissis, ek het gesê ek gaan hulle aankla vir rusverstoring. Sara!” skreeu hy by die huis in. “Bring tee!”

BITTERPIT – ’n Vrou is vermoedelik op Rugseer naby Blyverby verkrag en daarna in die kanaal gegooi. Die polisie van Bitterpit het Sondagmiddag op ’n bloedspoor naby een van die huise op ’n erf op Rugseer afgekom. Geen verdere spoor van die vrou kon gekry word nie en die vermoede is dus sterk dat die vrou in die kanaal gegooi is. Die polisie ondersoek die saak.

Dis vergeefs. Dis so vergeefs dis amper grillerig. Maar hier staan hulle in ’n ry voor die koöperasie, vuil plaasbakkies, bestuurders binne-in die kajuite, niemand waag dit buite in hierdie son nie, wagtend op hulle beurt om afgespuit te word deur ’n man in ’n gekreukelde leervel met ’n geel tuinslang, sodat hulle met skoon bakkies die dorp kan binnery. Let op jou voorkoms, Israel, want jou hart is ’n gat wat jy God noem. Bakkies gewas, hoofde geolie, want dalk doen die Here inkopies op Blyverby vandag. Die koöperasie se naam is Saamwerk. Die drukker is ’n dot matrix. In die kantoortjie agter hang twee foto’s. Dit lyk of die een foto skeef hang, maar as mens mooi kyk, sien mens dit is meneer J Smal, staande, tweede van regs, wat die foto laat hel. In dié dae was die reuse op die aarde, en ook daarna, toe die seuns van God by die dogters van die mense ingegaan en dié vir hulle kinders gebaar het. Dit is die geweldiges uit die ou tyd, die manne van naam. Oom Jan Smal was Jim se neef. Hy het ’n Valiant gery waarvan hy die bestuurdersitplek uitgehaal het. Hy het op die agterste sitplek gesit en bestuur, ’n lappie op sy maag dat die stuurwiel hom nie krap nie. Sy eerste vrou het daardie lappie gehekel. Sy is in haar slaap oorlede. Mense het gespot hy het haar doodgelê. Later het hy met ’n dwergie getrou. Mense het in die kerkbanke gesit en wonder hoe hulle dit doen. Vleisko-operasie Beperk Direksie 1959 Mondigwording staan bokant die foto gedruk. Al die manne in die foto dra grys pakke, dis ’n swart-en-wit foto, skoolskoenagtige skoene, grys kouse, identiese pullovers. Dis ’n uniform. Maar waar almal se dasse met ’n Windsorknoop vasgemaak is, is Ou Jim s’n bietjie slordig, immaculately dishevelled, volgens die mode wat hy as seun by Paarl Boishaai opgetel het. Voor op die foto sit die voorsitter meneer JS Kinsey wat van ’n besoek na Rusland teruggekeer het en aangekondig het dat Kommunisme nie werk nie. “Boere kan nie vir die staat werk nie,” het hy gesê. “Staatsgrond word verwaarloos, maar waar elkeen sy eie lappie grond besit waarvoor hy self verantwoordelik is, dis waar boerdery gedy!” Die ander foto sê Vleiskoöperasie Beperk Direksie 1965. Teen daardie tyd het tikmasjiene deeltekens gehad en het Jim aanbeweeg na visevoorsitter met sy slordige das. Agter hom staan meneer JH Volschenk met net een oog. Dis ’n oorlogswond wat hy in ’n oorlog opgedoen het waaroor hy nie praat nie. Mense het hom oom Jannie One Light genoem. Daai man wat lyk of hy die voorsitter ’n soen gee is meneer K Vermaas. Jim het hom later vang steel en hom daaroor aangespreek. ’n Week later het Vermaas selfmoord gepleeg. Die koöperasie verkoop allerlei stukgereedskap op skuld waarmee mens allerlei interessante selfmoorde kan pleeg.

“Wat weet jy van minerale?” vra George die kasregisterbeampte.

“Nie veel nie,” sê sy. “Jy wil met die bestuurder praat.”

“Wat weet jy van minerale?” vra George die bestuurder.

“Nie veel nie,” sê hy. “Jy wil met Jan Boorman praat. Hy’s af in die pad.”

George koop ’n gomlastieksambok vir R39.

“Hou maar die kleingeld,” sê hy.

Kyk die hond! Wat ’n oulike hond. “Hallo, hond,” sê George.

“Hallo,” sê die hond.

“Los my fokken hond uit,” sê die basterhond se basterbaas. George is werklik en kompleet onbewus daarvan dat die hond deur ’n mens vergesel word. Hy fluister liefkosinkies in die hond se oor.

“Kom hier!” skreeu die basterman op sy basterhond.

“My baas slaan my,” sê die hond.

“Los my fokken hond uit!” skreeu die basterman.

George trek sy vingers deur die hond se kuif toe hy opstaan, die basterman met die sambok bydam. Oor die gesig, amper mis, dan ’n goeie loesing oor die rug toe die basterman spore maak. George hoes. Steek ’n sigaret brand. Die hond sit so ’n rukkie en stertswaai by George en vra dan mooi of hy kan gaan kyk of sy eienaar orraait is. George knip sy oog en die hond draf bekommerd terug.

Behalwe vir die vonke is die werkswinkel donker. Dis ’n grot vol opmekaargestapelde goeters met die buitelyne van stukgereedskap en staangereedskap en weggooibare items wat nooit weggegooi word nie. Regs in die hoek staan ’n ding onder ’n seil. Links staan ’n Ford F100 wydsbeen oor ’n sloot in die vloer, sy boepens uitmekaargeskroef, sy binnegoed ontbloot. Jan Boorman staan gehurk in die sloot en sweis die naelstring aan die skeenbeen vas. George staan in die deur, enkeldiep in die ghries, koes vir die vonke.

Boorman voel iemand hou hom dop, sit die sweismasjien af, sit sy sweishelm neer. Eers sien hy die silhoeët van ’n boggelrugreus teen die wit lig in die deur. Dan sien hy George en trek sy sweishandskoene uit. “My pa was ’n Smutsman,” sê George.

“My pa was ’n Malaniet,” sê Boorman, klim die trappies op uit die sloot en bied sy hand aan. Dis ’n hand wat nooit sal skoon kom nie. Dis ’n hand wat sy pad ken deur die deurmekaargesweisde binnegoed van ghriesvretende lawaaimakers, ’n hand wat sy pad ken deur ’n deurmekaargebroude kombuis waar geen vrou ooit kom nie.

“Aangenaam.”

“Aangenaam.”

“Ek het hier grootgeword,” sê George. “Knoxfort.”

“O, die Moores, jy’s seker Daniël se mal broertjie.”

“Dis ek, ja.”

“Jammer oor jou broer.”

“Ag, hy was maar ’n bang man.”

Jan Boorman gee ’n trokwiel wat in die ghries lê ’n skoppietjie. Die wiel is pap. Daar is skroewe in die ghries. Boute. Moere. Wassers. Staalvylsels. Sigaretstompies. Vlermuiskak. Bruingeld.

“My pa het so bakkie gery,” sê George.

“1970-model?” vra Boorman. “Perkins 247-enjin? Mazda het hulle gemaak. Hulle het net ’n duisend gemaak en 993 verkoop. R2 700 kontant destyds. Besonderse bakkie. Niemand weet wat met die ander sewe gebeur het nie.”

“So jy’s eintlik ’n werktuigkundige?”

“Nee, ek werk maar net aan my eie voertuie, en my seun s’n, ek is ’n boorman.”

“Wat weet jy van minerale?”

“Nie veel nie,” sê Boorman en tel ’n boorpunt op, krap die ghries met sy naels af, skiet sy vingerpunte, vee sy hand aan sy broekspyp af.

“Ek probeer uitvind of daar op Knoxfort geboor is,” sê George. “Daar is destyds vlugopnames gedoen, en hulle het anomalieë getoon …”

“Nee, ek boor deesdae nie meer hier rond nie, niemand wil betaal as daar niks gekry word nie. Ek boor op noord.”

“Kalahari?”

“Namib,” sê Boorman en hou die boorpunt na George toe uit. “Carbon tungsten alloy,” sê hy.

George kyk na die boorpunt. Van die tande is afgevreet, uitgeslaan, stompgekou. “Knoxfort het aan die Jeppes behoort,” gaan George voort. “Daar’s ’n myntjie net voor jy deur die poort gaan waar Jeppe genoeg goud uitgehaal het om ’n ring te maak. Ek dink dit was vir sy vrou. So daar moet iets wees.”

Boorman vat die boorpunt by George. “Ek sal nie weet nie,” sê hy.

“Ek dink my familie befok my,” sê George.

“Ek sal nie weet nie,” sê Boorman.

“Sê my,” sê George, “hoor jy ooit die aardbewings uit Kreetpoort se rigting? Dis ons buurplaas.”

“Ja, ek hoor hulle.”

“Nou maar dit wys mos daar’s anomalieë.”

“Dit kan wees.”

“Klink soos geweerskote?”

“Nee, dis meer ’n brul, jy weet, daai wat soos geweerskote klink ís geweerskote.”

“Skiet hulle op Kreetpoort?”

“Nee, hier! Hulle skiet hier.” Boorman sit die boorpunt neer, wys vir George om buitentoe te gaan. By die hekkie wat George oopgelos het, gaan staan hulle. “Ek hoor hulle amper elke dag.” Hy wys vir George die verwelkomingsbord oorkant die pad. Welkom in Blyverby, sê die bord. Ons streef na ’n misdaadvrye dorp. Die bord is vol koeëlgate, die bord word gereeld met klippe bestook.

“Hulle skiet daai bord,” sê Boorman. “Hulle skiet mekaar.”

“Mekaar?” giggel George.

“Ja. Die misdaad hier is woes. Ek het seker al ’n miljoen rand se toerusting verloor. En die polisie doen fokkol. Sien jy daar?” Boorman wys na ’n stukkende ruit van sy werkswinkel. “Hulle is daar in. Computer gevat. Paraffien gevat. Corolla-enjinblok. Paar ander dinge. Man het sy hand lelik gesny op daai ruit. Daar was bloed orals. Ek en my seun soek toe rond vir ’n man met ’n stukkende hand. Ons kry toe daai man en ons moer hom. Ek het begin moer en my seun het klaargemoer. Vat hom polisie toe. Hulle wil toe weet waar is die bewyse. Ons sê hulle moet kom DNA vat uit die bloed in die werkswinkel, kyk of dit match. Hulle dog dis ’n moerse grap, wou hulleself doodlag. Twee dae later arresteer hulle my seun vir poging tot moord. Hofsaak hang nog.”

“Gmf.”

“Ja-nee. Hulle kry dit reg.”

“Kry wat reg?”

“’n Misdaadvrye dorp. Hulle ignoreer dit. Dan bestaan dit nie.”

“Dis seker omdat hier so min werk is.”

“Dit sal die donnerse dag wees! Hier’s baie werk. Ek moet tot so ver as Upington adverteer wanneer ek ’n handlanger soek. Hierdie mense wil nie werk nie. Hulle is te verdomd sleg. Hulle wag net vir die einde van die maand wanneer die goewerment se geldlorries kom, dan suip hulle. Dit hou so week, dan begin die stelery, totdat die geldlorries weer kom.”

“Ja-nee,” sê George, krap met sy skoensool in die stof.

“Sê my,” sê Boorman, “jou broer se vrou het nie weer getrou nie, het sy?”

George lig sy wenkbrou, glimlag. “Jy wil nie met haar trou nie.”

Dan stap hulle deur die skrêpjaart, praat oor vroue.

“Ek het met ’n geskeide vrou getrou, toe skei sy my,” sê Jan Boorman.

“My vrou het my mal gemaak,” sê George, “toe skei sy my.”

“’n Man moenie met met ’n geskeide vrou trou nie. Dit gaan na hulle kop toe, daai skei-ding, dink hulle kan doen net wat hulle wil.”

“’n Mens moenie trou nie,” sê George.

“Ek soek vrou,” sê Boorman.

Die skrêpjaart is ’n versameling gedeeltelik verminkte wrakke. Bruikbare laslappies word losgeskroef en afgesaag en losgetorring en afgebreek en binnetoe gesleep en opgehys en afgespuit en blinkgevryf en afgesak, en afgevyl, en vasgesweis en vasgedraai en ingeprop en inforseer en vasgebind en aan die werk gebid. Onder die seil in die werkswinkel word Frankenstein se monster aanmekaargesit. Wat oorbly hier buite vang stof. ’n Trok sonder wiele, ’n onderstel sonder ’n kajuit, ’n kajuit sonder sitplekke, sitplekke sonder stoffering, enjinblokke, ’n los deur, vere, ’n ou petrolpomp sonder die pomp, ’n rol draad wat roes, roesvrye draad wat kraaines, ’n windskerm met twee krake in die vorm van voorkoppe, ’n dooie blouaap, ’n handvol beeste.

“En die beeste?”

“Dis die burgemeester s’n.”

Die burgemeester is meneer Victor IP Senoamadi, ’n oudonderwyser wat self nooit skool klaargemaak het nie. Hy het ’n versamelinkie van die oulikste sêgoedjies wat hy graag uitdeel tydens vergaderings, en hy dra fênsie mansjetknope wat hy graag per abuis afwys wanneer hy oorleun en twee suikers in sy tee roer tydens vergaderings. Hierdie dinge beteken baie onder die comrades, oulike sêgoedjies en fênsie mansjetknope dra amper net soveel gewig soos slaphandverwysings na die struggle. Meneer Senoamadi was ’n wiskundeonderwyser tydens die struggle. Maar daar was nie tyd vir skoolhou nie, hy moes tel hoeveel leerlinge daar by die optogte was. “You have to have the capacity to count very, very far” is een van sy oulike sêgoedjies. “Capacity to count very far” staan in sy curriculum vitae geskryf. Dit is een van sy struggle credentials. Hy kan ook vir jou sê hoeveel mense daar by Saartjie Baartman se begrafnis was. Daar staan CV voorop sy curriculum vitae. Moenie vir ’n wiskundeonnie vra hoe om curriculum vitae te spel nie, wiskundiges werk met getalle en simbole, nie met woorde nie. Nie dat meneer Senoamadi gereeld woorde hoef neer te skryf nie, in sy dagboek is daar nie plek vir woorde nie, dis net tye en name vir afsprake en vergaderings. Gister was wel ’n uitsondering, daar was net een vergadering, om te bepaal waarom die slagpale toegemaak het, en daarom genoeg spasie vir ’n nota. Daar is tydens die vergadering wat drie uur geduur het, verversings ingesluit, bepaal dat die slagpale te veel geslag het, daarom het hulle toegemaak. Sin Wrongful act: Overproduction. Punishment: Closure, sê sy notas. Vroeër het meneer Senoamadi sy beeste ook daar laat slag, maar meer onlangs het hy ’n beter prys by die Jode op Pyphekstad gekry. Sy beeste wei op die dorp se gemene grond wat George se ouma destyds aan die kerk geskenk het, maar laas maand het hulle in Jan Boorman se tuin ingevaar, sy blomme opgevreet. Jan Boorman het hulle opgelaai en in sy skrêpjaart gaan toesluit. Nou wil Boorman vir die laaste maand se voer betaal word en vir die laaibrug wat hy vir hulle gebou het. Vyf beeste. Meneer Senoamadi, aan die hoof van die tafel, sy konsentrasie vir ’n oomblik op ’n ander plek, vind ’n oop spasie in sy dagboek. Get cattle back! skryf hy daarin. Dan leun hy oor en vat nog ’n driehoekievergaderingtoebroodjie, maar hy sukkel om sy teleurstelling weg te steek toe hy daarin byt en besef dis Marmite-en-kaas en nie roereier-en-mayonnaise nie. Terwyl hy kou, blaai hy na die vorige inskrywing en voeg daarby: Remember Diplomatic Impunity!!! met drie uitroeptekens. Dan leun hy trotsbors oor en maak seker hy vat die regte toebroodjie. Sy mansjetknope skitter toe hy dit blootstel aan die lig waaronder hoogwaardigheidsbekleders hulle vetterige koppe bymekaarsit vir ’n plan om Blyverby na Senoamadi te vernoem. Senoamadi beteken bloedsuier.

Dis ’n ry jong dogters met boepense op ’n klipmuurtjie. Dis ’n ry jong dogters met boepense op die trap. Dis ’n ry jong dogters met boepense op plastiektuinstoele in die wagkamer wat wag om die suster te sien. Die suster is besig, George moet wag.

“Maar dis my ouma se kliniek,” maak George beswaar.

“Maria Moore?”

“Ja, sy was my ouma.”

“Ek sal vir Suster sê. Meneer kan solank ’n rukkie wag.”

George staan in die koeltekolletjie van ’n enkele palmboom en rook. ’n Nama-man met ’n plastiekgieter loop ’n sirkel om hom, gooi die gousblomme tussen die klippe in die rotstuintjie nat. Dan sit hy die gieter neer en begin die stof van die stoep afvee. Môre vee hy weer. George glimlag vir die boepensstofmensies. Daai enetjie met die plakkies is skaam. George tel haar tone. Tien. Daai tweetjies giggel. Die res is te dik. George blaas kringe terwyl hy rook. Steek nog een brand terwyl hy wag. Hy ken van wag voor hierdie kliniek. Hy en Daniël in die Ford F100 terwyl sy pa vergadering hou. Sy pa was op die bestuur. Belangrike ses uur lange vergaderings. Hy en Daniël in die bakkie in die laaste stuiptrekkings van ’n laatmiddagwintersonnetjie. George lees die handleiding, hou die ingeboude horlosie op die paneelbord dop. Daniël maak of hy bestuur, die langpad vat. Wanneer dit te donker raak om die handleiding weer te lees, te koud raak om verder te bestuur, dan sit hulle en bibber, sit en wonder wat op dees aarde so belangrik kan wees, en dit maak hulle bang om so te wag, bang vir die koue en die donker en die grootmenslewe met sy lang vergaderings wat voorlê.

“Is dit al my beurt?”

“Jammer, Meneer, Suster is besig, Meneer moet wag.”

George staan in die wagkamer en wieg. Teen die muur is die kliniek se leuse Hinc Spes Affulget in kursief uitgedruk en met wondergom vasgeplak. Langsaan hang ’n kaart van die dorp met plakkers op. Groen vir kindersiektes. Rooi vir tuberkulose. Oranje vir diarree. Twaalf plakkers op die kaart. Twaalf kerke in die dorp. Is daar ’n oorsaaklike verband? Toe die een wat sê hy moet wag, opstaan vir ’n pis, gaan George by die kraamsaal in. Die kraamsaal is leeg. Daar is twee beddens oorkant mekaar, ’n deur met ’n stewige slot, allerhande argeologiese opgrawingsapparate, boorpunte, laaigrawe, ruspertrekkers, en ’n kolletjie aan die oorkantste muur. George gaan lê wydsbeen op ’n bed, kyk na die kolletjie. Kreun.

“Waar’s my man?” vra hy die denkbeeldige suster met haar hande tussen sy bene. “Ek soek my man!” skreeu hy en beleef ’n besonder pynlike kontraksie, rol op sy sy, kreun, maar die denkbeeldige suster rol hom terug op sy rug, maak sy bene oop.

“Jou man is op pad,” sê die denkbeeldige suster, maar sy lieg, want sy man sit in Kaapstad, drink tee saam met Leila Reitz en Joseph Goebbels. Die tee is Ceylon. Leila is die eerste vrou in die parlement. Goebbels is op datum met sy maandelikse lidmaatskapfooi by die plaaslike gym.

“Some of us feel that we’re going to have the greatest difficulty in upholding our white civilisation in this country, and this is a point upon which we must concentrate if we’re going to pull through,” sê Leila.

“Druk,” sê die denkbeeldige suster.

“Politics is the highest and most comprehensive art there is, and we who shape modern German policy feel ourselves to be artists,” sê Goebbels.

George se man wat nie teenwoordig by die kraam is nie vat ’n slukkie tee. Dis te sterk na sy smaak.

“There is the problem of the Native population,”sê Leila, en dan trek ’n zoembeweging in haar teetuin haar aandag af. Dis ’n by by ’n blom. Sy hou die by vir ’n oomblikkie dop voordat sy voortgaan: “A white healthy life is of great value in this country.”

“The task of art and the artist is to form, to give shape, to remove the diseased and create freedom for the healthy,” beaam Goebbels.

“Ons gee jou geld,” sê Leila, “as jy hulle draadjies knip.”

George se man wat nie teenwoordig by die kraam is nie staar na die teeblare onderin sy koppie. Hy kan nie die toekoms daarin lees nie.

“Verskoon my,” sê Goebbels toe hy opstaan en koekkrummels met ’n slap gewrig van sy leerskoot afstof. “Ek moet nog by die gym uitkom.”

George uiter ’n onuitsterfbare oerklank toe hy geboorte gee aan ’n artisjok. Dan lê hy rustig terug en steek ’n sigaret brand. Die bed lê nogal lekker. So dit moet hier wees waar my pa vergadering gehou het, dink George toe hy sy skoene uitskop.

“Meneer!” skreeu die suster. “Meneer kan nie hier rook nie.”

George spring regop, die suster spring ’n tree terug en steek die lug in sy rigting met ’n spuitnaald vol Depo-Provera. George vou die sigaret toe in sy vuis. Die suster verdedig haar persoonlike ruimte met die spuitnaald asof dit ’n piel is wat mens kan afskroef en rondswaai soos ’n wapen.

“Dis my ouma se hotel,” glimlag George.

Sy glimlag ontwapen haar. Sy sit die spuitnaald neer.

“Ek is hier gebore,” sê George.

“O,” sê sy.

“En my halfbroer is hier gemaak.”

“So?”

“Weet jy van ’n suster Lourens wat hier gewerk het? 1955 rond?”

“Ek was nog nie gebore nie.”

“Ek was vyf.”

“So?”

“Ek moes in die kar sit.”

“Ek’s jammer.”

“Ek sien jy’s ’n Smal,” sê George en druk met sy wysvinger die naamspeldjie op haar bors mis.

“Almal hier is Smals,” sê sy.

“Het julle rekords van daai tyd?”

“Nee.”

“Het julle foto’s?”

“Nee.”

“Lees jy?”

“Nee.”

“Dan het jy seker nog nie Sluipmoord gelees nie?”

“Nee.”

“Markus Lourens het die CNA-prys daarvoor gekry. Hy is my halfbroer.”

“O.”

“Wat weet jy van minerale?”

“Nie veel nie.”

“Dan gaan ek maar.”

“Dis beter so.”

George steek sy voete in sy skoene en slof uit. Die suster gooi die artisjok in die asblik.

Die vleislorriebestuurder in die hotelkamer langsaan hyg oortuigend, maar die vrou op sy skoot se liefdeskrete is meer simbolies van aard. Mans was nog altyd beter digters as vroue, dink George.

“Natuurlik,” sê sy, “mans maak nie goeie vroue nie.”

“Wie’s jy?” wil George vra, maar haar geslag is ’n seël om sy mond. Hy kry nie sy oë oop nie want haar buuste is in sy oogbanke ingeprop, sy neus in haar naeltjie begrawe. Hy sterf ’n skyndood weens suurstoftekort, ’n dwerg op sy gesig. Dan prik sy hom wakker met haar naamspeldjie. Hy kan nie haar naam daarop lees nie, dis te klein geskryf.

“Wat’s jou naam?”

“Amen.”

“Dankie, nou kan ek my skape tel.”

Saans wanneer George sukkel om aan die slaap te raak, tel hy die liefdes in sy lewe: Anna, Plinkie, Michelle, Marianna, Elise, Barbie, Marie Een, Marie Twee, en so meer, Nicola, ander mans se vroue in die algemeen, Bonnie in die besonder, Bennie die obees hoer in Hotel Interlaken, die Skaam Enetjie, Griet, Perdgesig, Honey, die suster op die solder, Priceless of Princess of Precious – die hoer in Keeromstraat, Chardonnay du Pré, die Bellville-skoolmeisie vir ’n sakkie poeier, ’n ander man se dogter vir ’n sak pille by Kylemore se disko, Cutty, Venus de Milo, Amen.

Hoe om gratis plaas toe te bel: Raadpleeg die telefoongids, onder Nasionale Skakelkodelys soek jy die dorp wat die naaste aan die plaas is. Plaaslyne werk volgens ’n Y-prosedure, daarom praat hulle van Y-lyne. Al die Y-lyn-nommers eindig met ’n twee, vervang die twee met ’n een en jy is in! Vra die sentrale om na die plaas van jou keuse deurgeskakel te word. Of praat oor die weer. Blyverby se kode is 0-5-4-10-2. Dis maklik om te kry, want die Noord-Kaap se telefoongids is dunner as ’n tydskrif. En dit sluit die geelbladsye in. En Upington. En Springbok. En Kuruman. En Kimberley. En De Aar. En al die godsverkakte wegkruipplekkies soos Aggeneys, Garies, Kamieskroon, Daniëlskuil, Kakamas. Kleurlinge het nie name nie. George skakel 0-5-4-10-1.

“Lekker weer wat ons het,” sê George.

“Dis te warm,” sê die sentrale.

“Knoxfort, asseblief.”

Daar’s nie antwoord by die plaas nie. George val in die pad.

Die pad plaas toe is stowwerig en reguit, loop parallel met die Y-lyne. Versamelneste op die pale. In George se kindertyd was hier nie versamelvoëls nie, jy moes Kalahari toe om hulle te sien, maar na 1994 het die weer verander en die versamelvoëls het in hulle massas hier toegesak. Dis onmoontlik om hulle te tel. George tel die telefoonpale. Een-en-negentig telefoonpale, dan trek ’n steenbokkie sy aandag af.

“Hallo, bokkie.”

“Hallo,” sê die bokkie.

’n Bakkie kom aangejaag en die bokkie verlaat George se geselskap soos ’n klip ’n kettie, hardloop langs die draad af. Wanneer hy besef hy kan nie vir die bakkie weghardloop nie, bereken hy die afstand tussen die spanhoutjies, wat relatief kleiner is teen hierdie spoed. Wanneer hy seker van sy saak is, gooi hy sy lyfie op volspoed deur die draad, blad en boud terselfdertyd, kop en pote kom vanself agterna. Wanneer hy ’n ent die veld in is, haal hy sy voet van die petrol af, bedaar, kou klaar aan ’n driedoringblaar. George wuif uit die verte, stap verder. Dis die eerste keer dat hy hierdie pad stap, besef hy, dan onthou hy dat hy al hierdie pad gehardloop het.

Bennie kan ’n bra dra want Bennie is obees. Bennie het pseudoginekomastia.

“Kom hier, Bennie, leen ons bietjie jou buuste.”

Bennie gee nie om nie. Bennie geniet die aandag. Aandag is nie iets wat Bennie by die huis kry nie. Bennie se pa is óf gesuip óf hy ry trekker. Bennie se ma vee die heeltyd, vee waar sy nou-nou net gevee het, vee asof sy iets uit haar verlede wil wegvee, vee asof sy Bennie uit die pad wil vee. Môre vee sy weer. Bennie leen sy buuste uit. Bennie dra ’n bra.

“Kyk hier,” sê Eddie, “laat ek jou leer hoe om dit vinnig te doen.”

Eddie vat vir Bennie, ’n wiegdansie in ’n koshuiskamer, twee beddens oorkant mekaar, ’n toegetrekte deur, en ’n kolletjie aan die oorkantste muur. George staar na die kolletjie. “Kyk hier,” wys Eddie vir George, en met ’n flink beweging van ’n slap gewrig maak hy die bra los. Bennie giggel toe die bra oor sy buuste afgly.

“Jou beurt,” sê Eddie.

George sukkel met die wiegdansie, maar die bra kom maklik los.

“Weer, weer!” giggel Bennie.

Eddie vat vir Bennie, ’n wiegdansie, met sy een hand maak hy Bennie se bra los, met sy ander hand maak hy sy gulp los, dan wiegdans hulle so ’n rukkie. George staar na die kolletjie teen die muur.

“Jou beurt,” sê Eddie.

“Maar Eddie, ek is nie ’n meisie nie.”

Kolletjie. Kolletjie. Kolletjie.

George hardloop huis toe. ’n Paar uur later is hy daar. ’n Paar jaar later skiet Eddie homself in sy pa se kantoor. Dis hoe mense daaroor gepraat het: “Hy het homself in sy pa se kantoor geskiet.” En so het sy pa se kantoor die belangrikste deel van ’n dooie seun se anatomie geword.

Dis ’n kinderlike opgewondenheid wat soos ’n koeltewolkie oor hom kom toe hy die hoekdraad van die plaas herken. Hy hardloop langs die draad af. Wanneer hy besef hy kan nie verder hardloop nie, bereken hy die afstand tussen die spanhoutjies, wat relatief dieselfde is teen hierdie spoed. Wanneer hy seker van sy saak is, werp hy sy logge liggaam op volspoed oor die draad, kop eerste, die res bly agter. Toe hy bykom, sien hy ’n woestynpikkewyn, sien hy nie die bloedspoor van sy oor na sy skouer nie. Die woestynpikkewyn is ’n vaal voël met ’n krom nek en ’n swart kol onder die bek. Hy maak kwaakgeluide, vlieg met hangpote, land soos ’n helikopter. Dis iets tussen ’n hamerkopkiewiet en ’n pterodaktiel. Min mense weet dat dit ’n prehistoriese voël is, die selakant van die Noord-Kaap.

“Hallo, woestynpikkewyn.”

“Jawragtig, jawragtig,” sê die voël en styg op soos ’n helikopter.

George hou van voëls. Op die Moores se familiewapen is daar ’n voëltjie in ’n kou. George klim oor die draad, hoes, steek ’n sigaret brand, pis ’n sirkel in die stof.

Goedgekamoefleerde ogies hou hom dop.

Dit is verkragtersveld. Gebreekte klip. Rooi stof. Tussen die klippe soek skape mekaar se koeltes uit. Tussen die klippe voer bossies ’n sukkelbestaan. Boesmansgras. Asbos. Brakbos. Driedoring. Dissel. Ghaap. Die bossies is dieselfde kleur as die gebreekte klip. In hulle koeltes skuil slange. Pofadder. Skaapsteker. Spoegslang. Geelslang. Horingsman. Horingsman gooi homself toe onder die stof, net sy horings steek uit. Hier het God die bourommel gelos en gefokkof, gatvol geskape. Hier is die veld orals dieselfde. Die avonturier klim ’n koppie met die hoop dat dit anderkant die koppie anders gaan lyk, maar hier stel die wêreld die heeltyd teleur, so die avonturier draai terug, sluit homself in sy kajuit toe, en vertrek op ’n inwaartse tog. Maar is die wêreld daar binne minder bleek? Of is die gemoed heelhartig omgewingsbewus? Hulle sê God is. Israel lyk net soos hierdie wêreld en die Jode het net een god, maar Indië lyk glad nie soos hierdie wêreld nie, Indië is ruig, met tiere in die riete, en lyke wat in die rivier afdryf, en die Hindoes het baie gode. Maar dit los mens met ’n groter vraag: Het God enigsins iets te make met die wêreld daar binne? In die geval van die Hindoes is dit bietjie moeilik om die vraag te beantwoord, want Hindoeïsme is ’n kondisie waarvoor die Amerikaanse Psigiatrievereniging nog nie diagnostiese kriteria uitgedink het nie. Maar in die geval van die Jode is die antwoord nee, God het niks te make met die wêreld daar binne nie. Die Joodse god is onsigbaar en daarom kan hy nie menslike eienskappe hê nie, menslike gemoedstoestande deel nie. Omdat hy nie soos ’n mens is nie, is hy onvalbaar, en daarom is hy heilig. As die Joodse god sigbaar was, sou hy poepdronk die hora dans sonder om te val, maak nie saak hoeveel hy drink, hoe hard hy dans nie. Maar dan sou jy steeds nie geweet het wat in sy kop aangaan nie. George sing “Hare Krisjna” op die maat van “Hava Nagila” terwyl hy deur die veld stap, mierneste stukkend skop. Die mier is nie die organisme nie, die miernes is. Skop sy groottoon oop.

’n Bakkie kom deur die veld aangejaag, braak ’n golf stof toe hy stilhou, ’n dooie woestynpikkewyn sit in die sierrooster vas. Kleinjim Moore spring uit, gewapen met ’n gomlastieksambok. Dan sien hy George het ook ’n sambok by hom en sit die sambok terug in die bakkie, laat die boerboele los. Die honde bestorm George, spring op teen sy bene, lek sy hande. Kleinjim kom aangestap soos ’n poephol sonder ritme op ’n dansbaan as jy met sy meisie dans.

“Wat maak jy op my plaas?”

“Ek is jou oom. Jou pa se broer.”

“Ek weet wie jy is. Wat maak jy op my plaas?”

“Ag, ek kom kuier maar net so bietjie.”

“My ma sal nie daarvan hou nie.”

“Jou ma?” lag George. “Bid jou aan.”

“Ek dink jy moet loop.”

“Wat weet jy van minerale?”

“Nie veel nie. Asseblief. Los ons uit.”

“Wanneer laas was jy by die myntjie?”

“Watse myntjie?”

“Die een halfpad teen die kop uit net voor jy deur die poort gaan.” George swaai sy sambok se punt in die rigting van die poort.

“Ek weet nie van so iets nie.”

“Hoor hier, Jimmy, ek is jou oom, jou pa se broer, ek doen bietjie navorsing oor die familiegeskiedenis, het jy nog ’n kopie van Oupa Jim se testament?”

“Nee.”

“Kan ek jou pa se testament sien?”

“Ek het nie so iets nie.”

“Kan ek na die Familiebybel kyk?” En daar druk George die regte knoppie, want Kleinjim is ’n wedergebore Christen, hy kan George nie weier nie, dit sal onchristelik wees. Hoekom het George nie dadelik hierdie benadering gebruik nie? Dis tog duidelik, kyk hoe sit die vroedwater nog op Kleinjim se gesig, kyk hoe kleef die stof daaraan vas. Kleinjim wys vir George hy moet wag, dan stap hy bakkie toe en agter die skuiling van ’n oop deur praat hy oor die burgerbandradio: “Kan jy die kinders gaan haal? … Vat vir Ma saam … Nee, doen dit nou!”

Kleinjim maak die honde agterop die bakkie in die skaaphok toe. Oukei, wys hy vir George, klim in. Hy trek weg in tweede, ry al die pad in tweede. Uit die hoek van sy oog sien hy hoe die bloed by George se oor uitloop, sy bakkie vuil maak.

Kyk al die bokkies! Ná Angola, beholpe met ’n geweer, het George toegegee en vir die eerste keer gejag. Twee springbokke sommer in die hardloop. Ghwa. Ghwa. Dubbel doodskoot. Was lammertjies gewees. “Tipies!” het Pa Jim gesê. “Altyd afknouerig.” Dit was die lelikste ding wat sy pa ooit vir hom gesê het.

“Hoeveel bokke is hier?” vra George.

“Seshonderd of so,” sê Kleinjim.

George lag. “Boer jy met hulle?”

Kleinjim kyk vir George asof George simpel is. Wat weet George van boerdery af?

“Die boerdery is jou nie beskore nie,” het Pa Jim gesê, “daarom leer ek jou niks.” Daniël is leer plaas bestuur, en Gert Skeffers is geleer van die ongediertes, en Hans Minnies was die masjienman, en Dick Bosman was die skeerman, en Piet Jood is geleer van die lusern. George is universiteit toe gestuur. “Daarom leer ek jou niks.” Dit was die mooiste ding wat sy pa ooit vir hom gesê het.

“Hier was baie meer bokke toe my pa dood is,” sê Kleinjim.

Gert Skeffers was George se tweede pa, hy het hom leer perdry, spoorsny, twak rol. Sy vrou was Kaatjie. Wanneer George kom kuier het, het sy spesiaal ’n blik kondensmelk vir tee oopgemaak. Gert Skeffers is Gert Bek genoem omdat hy so baie kon praat, maar dit was sy seun, Annergert, wat kon terugpraat. Dit was Annergert wat Ouma Maria se wingerdjie moes snoei. Toe snoei hy twee lote pleks van drie. “Wat de fok dink jy doen jy?” het Baas Jim geskreeu. “Nou doen dan jou werk self,” het Annergert gesnou, en die snoeiskêr neergegooi. Baas Jim het die sambok opgelig, en Annergert het nooit weer gewerk nie. Toe moes Gert Bek se jonger seun die leisels van ongediertesman oorneem. Hendrik Geelsuiker, het hulle hom genoem. Omdat hy so taai was. Omdat as die witsuiker op is, moet hulle geelsuiker vat vir die witblits, en dit het altyd ’n taaisel onder in die drom gelos. Hendrik Geelsuiker het nooit ’n geveg verloor nie. Ná Daniël die arbeiders van die plaas af gejaag het, het Hendrik Geelsuiker ’n land claim gaan insit. Nou wag hy vir die land claim om deur te kom, jag maar nog ongediertes op kontrak met sy sewe brandmaer steekhaarwindhonde. Lala. Optel. Tarzan. Lady. White. Rooiman. Kaptein. “Kaptein is nog klein, maar hy’s al klaar ’n dapper hond,” sê Hendrik. “Maar Optel is die meesterjagter. Sy naam was eers Prins, maar hy was nog klein toe kon hy al ongediertes optel, toe noem ek hom Optel, maar hy het sy been seergemaak by die myntjie.”

“Watse myntjie?”

“Die een halfpad teen die kop uit net voor jy deur die poort gaan.”

Die honde kos R700 stuk by die Chinese op Pyphekstad. Jy koop windhonde by die Chinese, en boerboele by die Libanese, en jy verkoop skape aan die Jode. Met die Libanese praat jy Afrikaans, met die Chinese Engels, en met die Jode besigheid. Pyphekstad is kosmopolitaans.

Kleinjim hou by die dieseltenk voor die skeerskuur stil, maak sy bakkie vol. George loer by die skeerskuur in. Dis ’n grot vol opmekaargestapelde goeters met die buitelyne van stukgereedskap en staangereedskap en weggooibare items wat nooit weggegooi word nie. Regs in die hoek staan ’n ding onder ’n seil. Links staan ’n Union-baalpers soos ’n middeleeuse martelmasjien, ratte wat uitstaan soos die tande van ’n vingervreter, pluisies wol daarin, iemand se handskoen halfpad ingesluk. In die middel van die skuur staan ’n trok onder ’n laag stof, ’n laag stof soos ’n gietvorm. ’n Bynes binne-in die kajuit, ’n korf so groot soos die sitplek. Niemand hier rond ontgin die heuning nie, almal sien maar net heuning kos R35 vir ’n botteltjie by die Spar, koop stroop. George staan op die hortjiesvloer, ’n stortmat laat die skape nie gly in hulle pis en kak nie, hulle wol vuil maak nie. Weerskante staan die skeerhokke, elkeen met ’n dwergiedeurtjie waar die geskeerdes kan uit, en twee verfblikke vol rooiboontjies om die skape te bederf, mooi so, dis ’n soet hond. George lees agtien pond op die Avery-skaal van Birmingham. Agtien pond stof. George koes vir die bye toe hy die ding onder die seil bekruip. Hy weet die vleissaag staan daar. Dan sê Kleinjim “kom nou” by wyse van die bakkie se toeter.

Kleinjim hou onder die koelte van die peperboom by die kombuisdeur stil. Daar’s ’n gleuf in die peperboom se stam. Lyk soos ’n posbus se gleuf. Dis waar hulle Daniël se as gepos het. Spesiaal ’n reghoekige gat in die boom gemaak met ’n kettingsaag.

“Ek’s verbaas om te sien die boom leef nog,” sê George.

“Die ding mors,” sê Kleinjim. “Blare val op my kar.”

“Die appel val nie ver van die boom nie,” sê George.

“Dis ’n peperboom,” sê Kleinjim.

Soos by alle plaashuise gebruik hulle die kombuisdeur.

“En die honde?” vra George.

“Nee, hulle kan maar daar bly. Ek gaan nou weer ry.”

Die kombuis ruik soos doeke. Daar’s vlieglesse vir babavlieë rondom ’n botteltjie Purity. Piesanggeur. ’n Vlieg het daarin neergestort. George het nie Purity geken as kind nie, hy is ghaap gevoer. Ghaap se ander naam is hoodia. Dit demp jou eetlus en jaag jou koerasie op. Dis ’n klein kaktusagtige vetplant met rooi blomme wat soos vleis ruik, word deur vlieë bestuif. Niemand in hierdie wêreld ontgin die hoodia nie, hulle sien maar net die stofmense eet dit, sien dit is ’n bestanddeel in revolusionêre verslankingsmiddels op televisie, wens hulle was maerder. Daar’s ’n ketel, maar Kleinjim toon geen teken dat hy dit gaan aansit nie, toon aan dat die kombuis nie deel van sy plaas is nie. Daar’s ’n verkeersknoop op pad wasbak toe. ’n Vurk hang by sy kar se venster uit en vra ’n koppie wat op sy bakkie se bak staan of hy kan sien wat die oponthoud is.

“Ongeluk,” sê die koppie. “Lyk lelik. Ryskorrels orals. Stuk vleis net hier voor.”

“Dêmmit!” vloek die vurk, spring op sy selfoon.

Daar’s ’n geoutomatiseerde graanvlokkie-uitmeter met drie deurskynende silo’s. Rice Crispies. Corn Flakes. All Bran Flakes. In volgorde van gewildheid. ’n Leerplak hang langs die deur, Moeggepraat met ’n soldeerbout daarop ingebrand.

“Waar’s jou kinders?”

“By die speelgroepie.”

“Waar’s jou vroutjie?”

“Sy’t hulle gaan haal.”

“En jou ma?”

“Sy’t haar hare laat doen.”

George lag.

Kleinjim wys hy moet deurgaan sitkamer toe, wys hy moenie koffie verwag nie. Die pad sitkamer toe is ’n troufilm. As jy teen die regte spoed loop, begin die troufoto’s beweeg. Dis ’n film van ’n gelukkige paartjie, ’n oulike boer met ’n pers kummerband en sy oulike vroutjie met ’n pers Alice band en ’n ma op die agtergrond met ’n pers tint in haar kuif. Hulle maak beurte om te glimlag. Elke tweede raampie soen die ma óf die oulike boer óf sy oulike vroutjie op die agterkop. En so kry elkeen sy beurt om nie te glimlag nie. Jy moet op jou hakke in die middel van die sitkamer staan en in die rondte tol om die einde van die film te sien. Dis die deel waar die ma die skoondogter se kop afbyt.

“Wat het van al die skilderye geword?”

“Watse skilderye?”

“Daar was ’n paar GJ Beukesse. Dit was deel van die restant. Dit het my toegekom toe Oupa Jim dood is. Wat het jou ma daarmee gemaak?”

“Ek weet nie waarvan Oom praat nie,” sê Kleinjim, en gaan staan voor ’n karige boekrakkie. Bo-op lê oom Jan Smal se gehekelde penslappie dubbeld gevou en bo-op dit die Familiebybel. Dit staan voorop geskryf: Familiebybel. Binne die Familiebybel is ’n sertifikaat ingeplak met twee gedrukte vanne. Dié van ’n man en dié van ’n vrou. Sayer en Bailey. No Issue. En dan aan die rand van die sertifikaat met ’n blou pen en ’n bewerige hand drie geslagte ingedruk. Oupa Jim Moore. Daniël Moore. Kleinjim Moore. In volgorde van gewildheid. Binne die boekrak lê The Lion King op VHS, ’n agterstallige telefoonrekening en ’n stukkende afstandbeheer.

“Gmf,” sê George en sit die Familiebybel neer.

“Nou moet Oom my verskoon, asseblief. Ek het papierwerk,” sê Kleinjim en begelei George by die huis uit. George talm by die mond van die gang, doer onder die toe deur. Joseph Israel Moore se kantoor. Kom, wys Kleinjim, ek is ’n besige boer. Kleinjim bied nie sy hand aan toe hy baai sê nie, waai nie toe George wegraak in die stofpad nie. Hy haal die sambok uit die bakkie, klim op die agterwiel, kry ’n lekker houvas aan die skaaphok met sy linkerhand toe hy die honde met die sambok bydam, oor die gesig, amper mis, en dan ’n goeie loesing oor die rug want die honde het nêrens om heen te vlug nie. Van hier in die stofpad af lyk dit of iemand op die agterwiel staan en ’n rol pyp uit die bakkie ryg.

Dit vat ’n spesiale mens om ’n boer in hierdie wêreld te wees. Dis ’n onherbergsame, lewelose planeet onder ’n wolklose gewelf. Dis peste en geweld en kindergraffies en selfmoordnuusbriefies. Dis Y-lyne wat kruis en goedgekamoefleerde ogies wat jou die heeltyd dophou en ’n son soos ’n stok in jou oog. Jy wil net gou vir so ’n rukkie na jou kajuit toe terugkeer en jou papierwerk in orde kry, om te weet waar jy staan, om die grootheid van die wêreld hok te slaan, om sy wolklose intensiteit af te weer. Jy wil nie in die son wees nie, dis genoeg om te weet die son skyn buite. Jy is nie depressief nie, jy het net doodeenvoudig ’n oerdrang na klamheid. Jy vind dit in die muwwerigheid van toe ruite, vuil klere, ou boeke, pakke papiere. Jy wil ’n grotbewoner wees. Net vir ’n rukkie.

George lê ’n week in die hotelkamer om. Dis Jungle se hotel. Dis die beste kamer in die hotel. Dis op Jungle se rekening. Daar is twee beddens oorkant mekaar, ’n deur wat nie kan sluit nie, ’n stoel wat pas by ’n spieëlkas maar geen spieëlkas nie, seker maar ’n geaborteerde lay-by, ’n plastiekroos in ’n plastiekvaas, ’n asbakkie wat oorloop van stompies, en ’n kolletjie aan die oorkantste muur. Die kolletjie is baie ver. Dit vat George dae lank om daar uit te kom, daardeur te klim. Op pad soontoe word die vuurspuwende monster vir die laaste keer gewaar, ’n lawaaierige watsenaam wat snags deur die lande jaag, vuur spoeg, skape brand. Op pad kolletjie toe lê meneer Senoamadi ’n klag van diefstal teen Jan Boorman. Vyf beeste. Die ink is nog nat in die docket toe trek die vangwaens weg met skreeuende sirenes. Vyf gewapende polisiemanne om Jan Boorman te arresteer. Toe George anderkant die kolletjie uit is, is hy jags en dors. Hy stap disko toe, koop ’n hoer en ’n paar quarts, stap terug hotelkamer toe, sy dra die quarts. Sy ken haar pad deur die hotel, weet waar is die bad, weet waar is die seep. Jungle is goed vir die locals. Jungle weet ook wat die foreigners wil hê. Hy bring die twee wêrelde bymekaar. Hy vertel graag die storie van hoe kak apartheid nou eintlik was: “Jy moet in die veld loop kak, jou hol met ’n klip afvee, jou hande loop afspoel met koue water by die damkraan, en dan met daai selfde hande my heerlike kos vir my voorberei en bedien. Was ons mal of wat?”

“Nee. Moenie aan my vat nie,” sê George. “Sit daar.”

Sy gaan sit op die oorkantste bed, vat ’n sluk bier.

“Trek jou klere uit. Nee, vat jou tyd. Ek wil hê jy moet jouself geniet.”

Sy vat ’n sluk bier.

“Vat aan jouself. Dis reg. Ja. Dis beter.”

Om oorleg te pleeg met die veilige vlees. En dan om in te gee.

“Nou is ek waarlik ’n Europeër,” sê George toe hy wakker word. Dis wat hy altyd sê wanneer hy ’n inboorling genaai het: “Nou is ek waarlik ’n Europeër.” Die bloedroof in sy oorskulp het in die nag losgekom, daar is orals bloed, maar geen teken van die hoer nie. Daar is luiperdjies op die geel gordyn. Sulke gelukkige luiperdjies met glimlaggies soos miniatuur-ankertjies, en pootjies soos babahandskoentjies. “Dis die Here se dag,” sê George en vroetel ’n sigaret uit ’n pakkie Princeton los. Hoes toe hy dit brandsteek. “Die Here het die dag vir my gegee,” sê hy, rook in sy glimlag.

BLYVERBY – ’n Bekende inwoner is gister hier in ’n skietongeluk oorlede. Meneer Jan Christiaan Boorman het hom verset teen arrestasie nadat ’n klag van diefstal deur die burgemeester, meneer Victor Senoamadi, teen hom aanhangig gemaak is. In die proses het een van die polisielede se wapens afgegaan en meneer Boorman is noodlottig gewond.

George staan ’n dag by die kruising om. Rook. George gooi duim Upington toe, maar niemand laai hom op nie. Die mense is agterdogtig, die mense naai skaap. “Naai jou ma!” skreeu ’n man van ’n bakkie af. George tel die trokke wat verbyry. Eenhonderd-en-vier in Upington se rigting. Vier-en-negentig in die Kaap se rigting. Een trok draai af Blyverby toe. Nul trokke draai af op die Kleinbegin-pad. Toe dit begin skemer raak, stap hy in Kleinbegin se rigting, hoeveel kilometer tot op Grypenskuip. Hier lê baie berede Britte begrawe, For King and Empire op hulle grafte geskryf. Niemand weet waar lê hulle perde nie. Grypenskuip is Blyverby se naaste stasie. Hier het Ou Jim die trein uit Beaufort laat stilhou, sodat hy sy seun op pad grens toe kon groet. Hier is Ou Jim uit die hotel verban nadat hy een aand van sy wit perd af geval het, in die lugversorger gepis het. Die hotel was ’n fênsie affêre met ’n dansbaan en ’n swembad, ’n gewilde oorblyplek vir reisigers en negosiesmouse, ’n lekker kuierplek vir die hele gesin oor naweke, en ’n bordeel vir die boere gedurende die week. Maar toe die wit porseleinvoëltjies op die telefoonpale begin verdwyn onder die takkies en kakkies wat die versamelvoëls aandra en vasryg, het Stach Terbeek Holland toe gevlug sonder om eens die deur agter hom toe te trek. In al die plaashuise in die kontrei is daar stukkies van die hotel te vinde. Die biljarttafel, die vensterrame, die dakbalke, die krane. Ou Piet Jood het bakkievragte stene weggery en vir sy skoonma ’n buitekamer gebou.

“Wat maak jy hier?”

George skrik. Dis ’n bos wat praat. ’n Kaal mensvoet steek onder die bos uit.

“Ek soek lêplek,” sê George.

“Die hotel is toe,” lag die bos.

“Ek weet,” sê George.

“Probeer die swembad,” sê die bos.

“Dankie,” sê George, dan stap hy ’n entjie die veld in en pis ’n versigtige kring op die dansbaan. Daar is baie bossies wat by die dansbaan uitgroei, George maak seker daar’s nie mensvoete wat uitsteek nie. Die piskring kom krom en spatterig uit, die buitelyne van ’n amebe, ’n eensellige slymdiertjie. George vergeet om sy gulp toe te maak, baan sy weg deur die driedorings swembad toe. Daar’s ’n vuurtjie in die swembad. Langs die vuurtjie sit ’n man sonder skoene.

“Ek is Matthys,” sê die kaalvoetman.

“Ek is George.”

“Wat maak jy hier?”

“Ek doen navorsing. En jy?”

“Ek kruip weg.”

“Ek dink my familie befok my,” sê George.

“Daar’s ’n prys op my kop,” sê Matthys.

George hou die vuurtjie dop. Die vuurtjie laat hom kriewelrig voel. Dis die kruiereuk van die driedoring en die rokerigheid van die stukkies hotel en die blou wande van die swembad wat opvlam in die lig. George krap in sy sakke vir iets wat sal brand. Hy ly aan ’n verskriklike vrees dat die vuur sal sterf. Daar moet ’n liter petrol op. En ’n pak kerse. En ’n pak Blitz. En als wat nat en vlambaar is. Hy gooi ’n pakkie vuurhoutjies op die vuur en bied Matthys ’n sigaret aan, maar Matthys het verdwyn. George raak aan die slaap tussen die drolletjies langs die vuur. Raak aan die slaap toe hy wonder hoekom hierdie drolle kleiner as sy eie is.

BLYVERBY – Mnr. Piet Majiedt is Saterdagmiddag hier begrawe nadat hy vermoedelik op pad na Bitterpit verkluim het. Sy lyk is naby ’n bos gevind.

George kry sommer gou-gou ’n saamrygeleentheid by ’n Christelike paartjie in ’n blink gesinsmotor. Hulle kom nou net van die kerk af, enema op hulle gesigte geskryf. Net buite Bitterpit vra hy hulle om stil te hou. Op die koppie anderkant die kanaal het iemand JESUS IS HERE met wit klippe uitgepak. George wys vir hulle die koppie. “Was Engelse mense gewees,” lag hy, slaan die deur.

Hulle tob lank daaroor toe hulle wegry voordat hulle in hulle kleingelowigheid daarvan vergeet. Dit is die Skema. Dis wat hulle die plaas genoem het: die Skema. Hier het Ou Jim die droogteprobleem probeer oplos. Almal met grond langs die kanaal plant wingerd, maar Jim sê fok die wingerd, plant lusern. Hy was lief vir sy skape. Hier het hy silo’s gebou om die lusern in te stoor, maar dit het nooit gewerk nie. Die lusern wou nooit onder uitkom nie, dan moes hulle met lang lere tot bo, die dak uitmekaarskroef, afhys, en met vurke en grawe die lusern uitskep, afhys, en later, toe die reën wegbly, moes hulle met toue afsak en die lusern met mandjies ophys. Dit was harde werk, maar die skape was nooit honger nie. Die silo’s staan nog. Dis die hoogste konstruksie in die kontrei. George sit ’n dag langs die kanaal om, die kanaal is 120 kilometer lank, die water grysgroen en koel, kyk hoe die lyke verbydryf.

Buite Bitterpit se haarsalon staan ’n blouoog-kleurlingkind met sy hand in sy broek. George gee hom ’n klap teen die oor, stap die salon binne.

“Haai! Het Oom ’n haarsny nodig?” vra Mollie, verbaas om haar oom te sien.

“Nee dankie, tannie Betsie sny my hare.”

“Wie?”

“Sy’s my squeeze by die ouetehuis.”

“Haai! Hoe gaan dit met Oom? Oom lyk goed!”

“Short back and sides. Dis hoe die Beatles gelyk het,” sê hy, verstel sy kuif.

“Haai. Wat maak Oom hier?”

“Wat weet jy van minerale?”

“Haai. Nie veel nie.”

“Het jy vir my geld om te leen?”

“Haai. Nee, jammer, Oom.”

Toe George uit is, bel sy haar pa op Upington: “Mal George is op pad.”

Kees Terreblanche is nie by die huis nie. George stap straataf Gordonia Hospitaal toe. Dis hier waar sy suster oorlede is. Asbestosis. Opgetel in Pyphekstad waar sy skoolgehou het, waar die plafon uit rou asbes gemaak is. Of dalk by Kleinbegin self, langs die asbesmyn, waar sy met poppekasteater kinders vir Jesus gewerf het. George boek homself in.

“Ek is siek.”

“Is dit Meneer se oor?”

“Nee. Ek is depressief.”

Hulle gee hom ’n trollie om op te lê, wiel hom in ’n muwwerige stoorkamer in. Hy voel gelukkig tussen die pakke papiere. Dik leggers waarin mense se binnegoed vasgeteken is, dele van die anatomie wat net aan dokters behoort. Hy tel homself aan die slaap, die dokters in sy lewe soos skape. Dokter Buys, dokter Odendaal, dokter Pieper, dokter Geel, dokter Rabe, dokter Baillie, dokter Laskov, dokter Niehaus, dokter Kelly, dokter Van Zyl, dokter Malherbe, dokter Dippenaar, dokter Cilliers, dokter Swart, dokter Van der Swart, dokter Burns, dokter Wilson, dokter Botha, dokter Feynman. Reeksmoordenaars in wit jasse, blinkgevryfde sny- en steekimplemente, x-straalgewere, dik leggers.

Die volgende oggend is Kees Terreblanche steeds nie by die huis nie. Die ou swerkater. George weet nie wat het sy suster in daardie man gesien nie. ’n Droë drol met ’n irriterende stem. ’n Trokdrywer wat sy lyf boer hou. Te dom om skelm te wees, maar skelm nietemin. Ou Jim het ook nie van hom gehou nie. Maak hom met hanekraai wakker. “Op is jy! Die kar moet geduco word. George wil vanmiddag terug varsity toe.” George slaap tot die werk aan sy Datsun klaar is, die duco halfdroog is, Kees se lyf half pers geduco is.

George stap middedorp toe. Langs die pad in die gruis lê ’n blinkding. Dis ’n knipmes. George gaan sit langs die knipmes en trek sy skoene uit. Sny sy toonnaels met die mes, wonder oor die lewe van die mes. In vergelyking met sy toonnaels het die mes ’n bra vervelige lewe gehad. Hy gril vir die lem toe hy klaar is. Vergeet sy skoene toe hy wegstap. Hy voel die wind aan die punte van sy tone, dit skep ’n illusie van spoed. George jaag verby homself op ’n 50 cc-Garelli, hande in sy sakke. Daar voor, net verby die polisiekantoor met die standbeeld van ’n man op ’n kameel, trek ’n verkeerskonstabel met wit handskoene hom af. Gee hom ’n boete omdat hy so onverskillig is.

“Maar my hande kry koud,” sê George.

“Jy kan nie met ’n amptenaar van die gereg redeneer nie,” sê die verkeerskonstabel, verdubbel die boete.

’n Gewasde plaasbakkie, blouoogkind agterop, hou stil voor die sonbrilwinkel. Upington het meer sonbrilwinkels as boekwinkels. Die sonbrille laat jou cool kyk, maar doen fokkol vir jou mentaliteit. Upington se biblioteek maak vieruur toe, maar die karwasplekke bly tot laat oop. Upington is ’n armblankeman wat ryk geërf het. Sy vrou het ’n verblindende versameling donkerbrille en sy bakkie is altyd skoon, daarop kan jy wed. Bedags laai hy sy uitvoertafeldruiwe op ’n Boeing, snags baljaar hy in ’n geenpoeletjie waarin bloedverwante kleuters pis. Langs die sonbrilwinkel is Pa Jim se prokureur se kantoor. Iemand het die naambordjie wat van koper gemaak is gesteel.

“Ek wil weet wat van die restant geword het. Wat my toekom. Ek weet deel daarvan was die minerale regte.”

“Minerale regte?” vra die prokureur, gril vir George se voete, dis kaal, en groot, en grys.

“Ja, die Jim Moore Mineraletrust.”

“As daar so iets was, is dit te laat, Meneer, al die minerale behoort nou aan die staat.”

“Die staat?” giggel George.

“Ja.”

“Maar dis daylight robbery.”

“Dis die wet.”

“Wat het julle van my pa?”

“Ek glo nie ons het iets nie, Meneer. Dit was lank terug.”

“Ek is nie haastig nie,” sê George, sit sy voete op die lessenaar. Die prokureur het nog nooit grys voete gesien nie. Lyk of die man deur kole loop vir sakgeld. Tel die foon op.

“Leezl, hier’s ’n meneer Moore hier, hy is nogal haastig, hy is op soek na ’n Jim Moore Mineraletrust. Kyk of jy dit vir ons kan kry, asseblief … Ja, Jim Moore. Dankie.”

Twee verdiepings onder die grond, in ’n vuurvaste bunker met outomatiese klimaatbeheer, pons Leezl die verlangde data op ’n magtige komper in. Die masjien krap sy kop vir ’n fraksie van ’n sekonde, dan skop pneumatika in, en meganiese arms blaai deur die rekords. ’n Jong inboorling stap die kantoor binne, maak ’n laai in ’n geroeste liasseerkabinet agter George oop, soek onder G.

“Jim is met ’n jee,” sê George, “nie met ’n gee nie. Jee vir Jesus. Gee vir uselessgeit.”

Sy trek ’n ander laai op. “Hier’s ’n Joseph Moore,” sê sy. “Nie ’n Jim nie.”

“Ja. Dis hy,” sê George, hou sy hand uit.

Sy ignoreer George, gee die legger vir die prokureur. Hy blaai daardeur.

“Dit is die Knoxfort-trust, Meneer. Die trustees is Xanti Moore, Joseph Moore en ’n meneer Terreblanche. Hier is niks wat jou aangaan nie.”

Die prokureur blaai deur die legger met dieselfde hoeveelheid entoesiasme waarmee hy sy hol afvee. George herken nie die mnemoniek van Yskor, Pioneer, Newmont en Thabex wat uitstaan soos skagte op ’n Noord-Kaapse vlakte op die briefhoofde nie. Maar hy herken dié van sy eie prokureurs.

“En daai papiere?”

“Waai?”

“Daai wat sê Basset, Barker en McBarrister.”

“O, daai,” sê die prokureur, maak die legger toe. “Daai is transports. Bassets is ons korrespondente in die Kaap.” Maar hy lieg, want daai papiere sê George Moore is geestelik te onkapabel om die regte van ’n regspersoon te geniet. Daai papiere sê George Moore is mal.

UPINGTON – Honderde mense is gister hier ongelukkig by die stemlokaal weg omdat die persoon vir wie hulle wou stem, meneer Louis Pepler, nie op die stembrief was nie. “Maar sy plakkaat is dan in die hoofstraat,” het ’n vrou namens haar gemeenskap beswaar gemaak. Die vrou se identiteit word beskerm volgens die “U stem is geheim”-klousule van die gedragskode van die Onafhanklike Verkiesingskommissie. Meneer Pepler, ’n gewilde Afrikaanse sanger, het laat weet dat hy dit ná dese oorweeg om van loopbaan te verander.

Kees Terreblanche is steeds nie by die huis nie. Vyf voertuie in die oprit. George lui die voordeurklokkie vir ’n goeie vyf minute, stap straataf hospitaal toe. Hy hoef nie in te boek nie want hy het nooit uitgeboek nie. Hulle prop hom vol pille. Dormonoct. Camcolit. Clopixol. Artane. Risperdal. Naasbestaande meneer Terreblanche kry die rekening. R2 788, 91, dit sluit R1,90 in vir ’n skeermeslemmetjie, ’n Dahlhausen Double Edge.

George maak ’n kollekteeroproep ouetehuis toe. Vra tannie Betsie om vir hom ’n buskaartjie terug Bellville toe te koop. Hy sal dit by die Checkers optel. Rook sy tweedelaaste sigaret. Bêre die pakkie in sy hempsak naby sy hart.

Tannie Betsie spring weg en verrig die takie asof dit ’n plesier is, sy hou daarvan om te help, sy hou van George. Ander mense kan sê en dink wat hulle wil, maar sy wat tannie Betsie is het in George se hart in gesien, en ’n mooi man daar binne raakgesien, ’n slim man, ’n man wat seergekry het.

“George kom huis toe,” sê sy vir tannie Trieksie.

Tannie Trieksie mis ’n steek. “Oom Jaap sal bly wees,” sê sy, brei.

“Ja, hy mis hulle uitstappies,” sê tannie Betsie.

Oom Jaap maak protesterende mompelgeluide. Die rolstoel se wiele tjirp op die teëlvloer.

“Hoor hoe opgewonde is hy! Nè, Oom?” Tannie Betsie leun oor en maak seker die rolstoel se remme is stewig vas. “Niemand anders sal die inisiatief neem en ’n kreupeling vir ’n uitstappie vat nie. Dit vat ’n spesiale mens.”

George sit ’n dag in die Dros om. Wag vir die bus. Hou die deur dop. Hy verwag nie dat Kees daardeur sal stap nie, want gisteraand het anderskleuriges op hierdie stoele gesit, met hierdie vurke geëet, uit hierdie glase gedrink. ’n Wit vrou kom in, steek vas in die deur en raas met haar twee seuns. “Los mekaar nou uit! Julle is in skooluniform.” Toe sy wegkyk, soen hulle oopmond. ’n Vrou wat lyk soos Felicia Mabuza-Suttle kom ingestap en wag ongeduldig dat ’n kelner vir haar ’n sitplek aanwys. Daar is sitplekke orals. Die kelner het puisies en sukkel om die fynere kunsies van die restaurantbedryf te snap. Hy dra die skinkbord soos ’n skild. Mabuza-Suttle se handsak is nagemaak maar haar borsmaat is eg. Uiteindelik kry sy ’n sitplek en bestel ’n glas water. Om mee te begin. George vra die kroegman vir ’n glas water. Daar is rugby op die kroegtelevisie en ’n verfynde man wat bier drink kyk daarna.

“Die Afrikanerpsige is penetreerbaar,” sê die verfynde man. “Vat my ses biere, dan kan ek rugby kyk, dan verstaan ek die reëls, dan kan ek die skeidsregter se foute uitwys. Ses biere, dan is ek ’n Boer. Wat drink jy?”

“Bier,” sê George, vat ’n sigaret uit die pakkie wat die verfynde man aanbied.

“Daar’s ’n gaatjie in die Afrikanerpsige,” sê die verfynde man. “Dis my keelgat.”

Hulle is in die eetsaal vir etenstyd toe George by die hek instap. Deur die eetsaalvenster kan hulle hom sien aanstap met sy boggelrug-grotbewonerwaggel. Tannie Betsie gee ’n gilletjie en spring op. Oompie Jan, die idioot, klap hande, vergeet om klaar te kou, die kos val by sy mond uit. Oom Jaap val plat met sy gesig in sy bord, kruip daar weg tussen die degievis en die gebakte aartappels en die drieboonslaai. Tannie Betsie groet George op die stoep met ’n uitgerekte drukkie, vat versigtig aan die bloedroof in sy oorskulp.

“Wat het gebeur, my engel?”

“Ek het geval.”

Gedeeltelik bewolk

Подняться наверх