Читать книгу Tango met ʼn chirurg - Rykie Roux - Страница 3

1

Оглавление

Ek is laat, ai tog, ek is laat, dink Salome paniekerig toe sy met die gang afhardloop na die Departement Interne Geneeskunde, waar sy met haar ses weke lange blok moet begin. Sy het gisteraand vir oulaas vir ’n tangoles gegaan. Haar dansonderwyser kon haar na tienuur inpas. Sy het laatnag eers by die huis gekom en het toe vanoggend gaan staan en verslaap. As die akademiese jaar só begin!

Sy sien hoe ’n groep studente om die hoek verdwyn. Salome versnel haar pas. Sy moet hulle inhaal. Byna hardloop sy trompop in ’n vrou met ’n wit jas vas, wat onverwags voor haar verskyn. Dis professor Barbara Maartens, die departementshoof by Interne Geneeskunde, wyd en syd bekend as ’n briljante internis.

“Jammer, prof. Het die studente al met hul saalronde begin?” vra sy effens uitasem.

“Goeiemôre, juffrou Verster,” sê die ouer vrou bedaard. Soos gewoonlik kan Salome haar verkyk aan professor Maartens met haar sjiek kort, rooibruin hare, haar opvallende hoë wangbene en vleklose, soel vel. Sy is nie meer jonk nie, Salome skat haar beslis goed op pad sestig toe, maar sy is regtig mooi. Sy moet beeldskoon gewees het toe sy jonger was.

Salome bewonder Barbara nie net oor haar skoonheid nie, maar ook omdat sy dit regkry om soveel gesag af te dwing sonder om ’n aks van haar vroulikheid prys te gee. In baie opsigte is sy vir Salome ’n rolmodel van hoe ’n professionele vrouedokter behoort te wees.

“Wat maak jy hier?” vra Barbara en glimlag sodat die klein kreukels om haar oë frommel.

“Ek begin mos vandag met my blok in Intern,” verduidelik Salome haastig. “Ongelukkig is ek ’n bietjie laat!”

Die professor kyk haar verras aan.

“Het jy nie die boodskap gekry nie, juffrou Verster?” vra sy.

“Watter boodskap?” wil Salome weet.

“Tot my spyt doen my sterstudent in Interne Geneeskunde eers later vanjaar haar Interne-blok.”

Salome voel hoe haar wange effens rooi word oor die kompliment. Sy was verlede jaar die topstudent in Interne Geneeskunde.

“Ons moes die rooster verander. Jy is by ’n firma by Chirurgie ingedeel. Jy moet vanoggend daar inval,” gaan die professor voort.

’n Paar oomblikke lank sukkel Salome om na die ses weke lange vakansie weer hospitaaltaal te verstaan. ’n Firma? Wat is dit nou weer? O ja, dis hoe die groep voorgraadse studente wat saamwerk, bekend staan. En, onthou sy ook, die hoof van so ’n firma is die kliniese assistent, ’n dokter wat reeds gekwalifiseer is en wat amper klaar gespesialiseer het.

Chirurgie, tref dit haar dan, is nie iets waarin sy uitblink nie. Boonop is die Chirurgie-departement myle hiervandaan en sy is reeds laat.

“Jy beter jou litte roer,” raai professor Maartens haar gedagtes. ’n Skamper glimlag flits om die vrouedokter se mond en haar bruin oë blink. “Jy weet hoe beduiweld kan snydokters wees!”

“Ja, prof. ’Skuus, prof,” roep Salome so in die hardloop oor haar skouer.

In die gang by die Chirurgie-departement staan ’n lang man met ’n wit jas aan met ’n klompie studente en gesels. Hy kyk op toe sy aankom. Sy sien hoe sy blik op haar heupe rus. Haar loslitstappie is die een kruis in Salome se lewe. Haar “aktri-zzz-e-stappie” – so terg haar ouma altyd – het sy glo by haar ouma én haar ma geërf. Vandat Salome baie jonk was, probeer sy al om nié haar heupe te swaai as sy loop nie. Sy het vroeg genoeg geleer in die beroepswêreld neem mans ’n vrou wat enigsins verleidelik optree, nie ernstig op nie. As sy onthou, sorg sy dat sy so geslagsneutraal soos ’n soldaat loop. Meestal kry sy dit reg. Dis net wanneer sy haastig is, soos nou, dat sy haar heupe soos ’n wafferse Hollywood-ster laat wieg. Onmiddellik stap sy stadiger en meer gekontroleerd.

Toe sy by die lang man kom, kyk sy op in sy oë. Sy kykers is die ondeursigtige blougroen van die see op ’n helder dag. Om sy pupille is daar wit strale, soos die skuim van branders wat om die donker eilande in die middel van die blougroen see breek. Verwonderd sien sy hoe groot die swart pupil-eilande in sy oë rek. Hulle staar mekaar aan. Of dit vir een sekonde is of dalk vir ’n honderd jaar, weet Salome nie, want die tyd het gaan staan.

’n Gewaarwording van herkenning spoel oor haar, byna asof sy so pas iemand raakgeloop het na wie sy haar hele lewe lank al soek. Niks en niemand anders op die ganse aardbol is meer vir haar van enige belang nie. Dan skud die man sy kop en frons, asof hy ’n paljas probeer afskud. Hy kyk weg en die magiese moment tussen hulle bars soos ’n seepbel. Met ’n skok onthou Salome waar sy haar bevind.

Wie op aarde is hy? Moet asseblief net nie dat hy die kliniese assistent wees onder wie sy haar Chirurgie-opleiding moet doen nie, smeek haar verstand. Sy sal nooit op haar werk kan konsentreer as daardie akwamaryn oë haar heeltyd dophou nie. Laat hy asseblief die kliniese assistent wees wat haar oplei, soebat haar hart. O, sy wil nooit weer ophou om in daardie oë te kyk nie!

“Kan ek help?” vra hy saaklik en sy stem is diep. Hy hou sy kop selfversekerd omhoog, sy skouers fier na agter getrek. Dis duidelik dat hy verbete veg om beheer oor homself te verkry. Toe sy mooi kyk, sien sy hoe ’n aartjie in sy nek nog verklikkend pols.

Sy sluk effens. “Verskoon my, maar ek is ’n sesdejaar. Ek dink ek moet vandag met my blok in Chirurgie begin,” sê sy uitasem.

“Goeiemôre,” sê hy spottend en die blou oë is so koel soos die oggendsee. “Die verdwaalde skaap het dus opgedaag. Jy moet dan juffrou Verster wees.” Toe sy knik, gaan hy voort. “My naam is Bart de Lange en ek is die kliniese assistent van jou firma in Algemene Chirurgie.”

O nee, sug haar brein, hoe gaan sy dit regkry om ses weke lank sy aan sy met hierdie manjifieke mansmens te werk en nie kop te verloor nie? O ja, swymel haar hart. O ja …

Salome kyk weg en vee haar handpalms teen haar wit baadjie af. Hulle voel meteens klam. Moet sy juis nou opmerk hoe soenbaar daardie bogie op sy bolip is? Sy blaas haar asem saggies uit. Bart de Lange, proe-proe sy sy naam saggies in haar verbeelding.

Hierdie Bart is die eerste man wat dit regkry om daardie iets waarteen sy nog altyd gestry het in haar wakker te maak. Deur net vir haar te kyk, verander hy haar van ’n koel, slim mediese student in ’n sensuele vrou. Sy skrik amper toe sy besef dat sy graag voortdurend haar heupe vir hom sal wil wikkel en net so graag sal wil sien hoe sy oë weer so wyd rek soos netnou.

“Jy is laat, juffrou Verster,” sê hy streng en Salome kyk hom reguit in die oë.

Hul blik meet mekaar ’n paar sekondes. Gaan jy heeltyd op my pik net omdat jy weet ek het gesien hoe jy na my heupe kyk? wonder Salome en haar blik bly uitdagend. As dit nodig is, ja, antwoord hy net so woordeloos en net so uitdagend.

“Sy het seker gisteraand tot te laat getango,” mompel een van die ander studente onderlangs.

Salome kyk op en ontmoet die student se blik. Tiaan Fouche. Haar oë rek. Tiaan is verreweg die slimste student in hul klas. Hy is ook die grootste bleeksiel. Sy het nie gedink hy weet eens wat ’n tango is nie. Hoe het hy uitgevind dat sy tango? wonder sy fronsend.

Haar dansery het sy nog altyd versigtig vir haar medestudente weggesteek, bang vir die reperkussies wat die feit dat sy tango veral by die mans kan hê.

“Dis ’n goeie idee om te tango, Lomie. Dié dans is ’n goeie en gesonde uitlaatklep vir al die wilde drange wat ons Verster-vrouens teister. Dis net op die dansvloer dat jy soos ’n wulpse nimf mag dartel,” het haar ouma vir haar gepreek toe sy sestien geword het. “Laat die mansmense maar liewer glo dat jy ’n afsydige alleenloper is wat hulle almal koeltjies op ’n afstand hou.”

Bart het skynbaar gehoor wat Tiaan sê, want hy lig sy wenkbroue vir Salome en vra verras: “Getango?”

Salome se hart klop vinniger toe hul blik weer ontmoet. Bart is nie ’n mooi man in die gewone sin van die woord nie, nie soos wat Tiaan Fouche mooi is met sy donkerbruin oë en meisieagtige lang, swart wimpers nie, dink sy. Dit lyk of Bart die soort man is saam met wie ’n vrou Afrika met ’n geruste hart op safari sal kan binnevaar. Een wat so in beheer van homself en van die lewe is dat hy presies sal weet wat om te doen as ’n slang skielik op jou afgepyl kom of as daar onverwags ’n staatsgreep voorkom of as die voertuig se band bars. Die sterk, dominerende soort wat sy nog altyd geweet het beslis nie die soort man is wat ’n onafhanklike vrou soos sy nodig het nie.

Maar, beken sy eerlik aan haarself, op daardie denkbeeldige safari sal sy darem graag, as die braaivleisvuur eers uitgebrand is, teen sy lyf wil aankruip. Sy wed dat hierdie Bart haar intiemer fantasieë, en sy bloos teen haar sin by hierdie gedagte, beslis sal kan bevredig.

“Jip,” sê Tiaan en glimlag vir haar. “Salome is ’n meisie vir die tango.”

Salome kyk vinnig van Tiaan af weg. Is dit bewondering vir haar wat sy in sy oë gelees het? Onwillekeurig kyk sy weer na Bart. ’n Oomblik lank kan Salome byna sweer dat Bart de Lange besig is om in sy kop ’n prentjie te probeer vorm van haar terwyl sy tango. En dat daardie prentjie hom nie onaangeraak laat nie. Dan frons Bart en sy sien hoe hy sy lippe beslis saampers.

Knap gedaan, Tiaan, wil sy amper sê. Met sy twee onskuldige opmerkings het hy dit reggekry om haar ’n partytjie-meisie in die oë van Bart de Lange te laat word, een wat tot laatnag fuif en haar werk nie ernstig opneem nie. Sy byt gefrustreerd op haar tande – haar heupswaaiery het die indruk natuurlik versterk. En hy is die een wat sal moet besluit wat haar slaagpunt vir hierdie blok gaan wees.

“Ek het pas eers gehoor ek doen Chirurgie eerste. Ek was eers by Interne Geneeskunde ingedeel,” sê sy so koel moontlik en lig haar ken.

“Die nuwe roosters is al van verlede week af op die kennisgewingbord,” sê Bart onverbiddelik.

Salome sien hoe van haar medestudente haar simpatiek aankyk voordat hulle sorgvuldig wegkyk. Almal lyk ’n bietjie onrustig oor die Chirurgie-blok. In die Geneeskunde-fakulteit is dit hierdie departement wat die reputasie het dat hy maalvleis maak van onbeholpe voorgraadse studente.

’n Oomblik lank oorweeg Salome dit om vir hom te verduidelik waarom sy nie tyd gehad het om vroeër te gaan seker maak waar sy vanoggend moet begin werk nie, maar dan besluit sy daarteen. Hoe minder Bart de Lange van haar af weet, hoe beter is dit vir haar gemoedsrus.

“Jammer ek is laat, dokter,” is al wat sy sê, maar sy sorg dat ’n ferm stemtoon die ootmoedige inhoud van haar woorde loënstraf.

Hy kyk skerp na haar. Tot haar verbystering flits daar ’n klein-klein glimlaggie om sy mond en sy oë word donkerblou. Haar hart klop weer vinniger. Maar dalk het sy haar net verbeel, want oomblikke later is hy weer pure professionele afsydigheid.

“Aangesien ek die hoof van jul firma is, gaan julle ses elke slag spoed as ek spoed, so maak seker dat julle die rooster op daardie kennisgewingbord raadpleeg en opdaag wanneer julle moet.” ’n Tersluikse blik in Salome se rigting, asof hy haar daaraan wil herinner dat hy nie weer enige laksheid van haar gaan duld nie.

Om haar aandag van Bart en sy manlike magnetisme af te lei, wonder Salome waar die gebruik vandaan kom om mediese beamptes se twaalfuurskofte “spoed” te noem. Uit ervaring weet sy dat enigiets wat ’n mens in daardie laaste, lang uur van jou diensbeurt doen, allesbehalwe met spoed onderneem word!

Sy bestudeer die vloer aandagtig. As Bart die hoof van die firma is, beteken dit dat hy al in sy finale jaar van spesialisasie moet wees. Dus loop sy en hy al drie jaar lank in dieselfde gange van die hospitaal rond. Hoe op aarde is dit moontlik dat sy hom nog nooit teëgekom het nie?

Maklik, onthou sy dan. Sy was verlede jaar vir die meeste van haar praktiese sessies by Kalafong, die fakulteit se satelliethospitaal buite die stad, ingedeel. Voor dié tyd, in haar derde en vierde jaar, was daar nie so baie praktiese werk vir die studente dat sy sommer ’n kliniese assistent sou raakloop nie. Sy dwing haarself om na Bart se instruksies te luister.

“Met elke spoedsessie sal twee vir die saal verantwoordelik wees, twee vir die pasiënte wat by Trauma inkom en twee sal in die teater diens doen. Besluit gou wie wie se buddy vir die blok gaan –”

“Dokter De Lange, jy moet gou kom,” val ’n rooikopsuster wat haastig in die gang aangestorm kom, hom in die rede. “Trauma stuur ’n skietwond. Hulle het hom geresus, maar hy bloei kwaai!” Haar oë is so blou soos die hemel self en hulle is groot van besorgdheid.

Ten spyte van die erns van die situasie, sien Salome dat die suster net ’n bietjie te lank na Bart kyk. Sy is verlief op hom, besef Salome. ’n Siek gevoel van besitlikheid spoel oor haar. Ek het hom eerste gesien, wil sy vir die suster sê. Met haar naels uit.

Sy staan onwillekeurig ’n tree nader aan Bart. Hy kyk haar ’n lang oomblik ingedagte aan, asof hy nie presies seker is waar hy hom bevind nie. “Julle twee, kom saam teater toe,” sê hy dan en beduie na Salome en Tiaan Fouche. “Die ander vier verdeel tussen die saal en Trauma en meld julle by die suster in bevel aan, soos ek verduidelik het,” vervolg Bart bruusk en stap vinnig met die gang af.

Salome voel die suster se blou oë op haar. Sy draai haar kop en hulle kyk mekaar noukeurig uit. Die suster se oë vernou effens. Salome se asem brand in haar bors en vinnig laat sak sy haar ooglede. Wat het sy nou aangevang? Heeltemal onbewustelik het sy die suster laat agterkom dat sy vir haar ’n kleim by Bart wil afsteek. En, goeie genugtig, dis die laaste ding wat sy wou doen. Sy weet nie eens of hy getroud is nie. En sy gee ook nie om nie! probeer sy haarself wysmaak.

Tog voel Salome hoe haar maagspiere opgewonde kriewel omdat Bart háár gekies het om saam met hom te werk. Sou hy ’n goeie chirurg wees? ’n Moedswillige kant wens dat hy, met sy manlike charisma en trefsekerheid, wat dit kon regkry om haar heeltemal buite haar aard te laat optree, ’n vrotsige snydokter moet wees.

Jy gaan nie veel leer as hy nie sy werk ken nie, Salome Verster, betig sy haarself dan vinnig. Vergeet dat hy ’n man is en sien hom bloot as ’n dokter. Vir die eerste keer vandat sy met haar opleiding begin het, moet sy haar iets voorneem wat sy nie gedink het ooit nodig sou word nie: wees professioneel, wees professioneel, wees professioneel!

Dit kom haar voor asof hierdie Bart die vermoë het om haar hele persoonlikheid om te dolwe. Dis asof hy al haar verborge – en tot dusver goed beteuelde – passies, soos sinnelikheid en besitlikheid, na vore bring, dink sy toe sy haastig agter Bart, Tiaan en die suster aandraf.

Toe sy agter die rooikopsuster die lang, smal damesaantrekkamer binnestap, sien Salome nog ’n vrou wat besig is om aan te trek. Sy is lank en elegant met swart hare en ’n kalm, serene uitdrukking op haar gesig. Sy draai haar hare behendig in ’n poniestert en kyk nie eens op toe Salome binnekom nie.

Wat moet ek nou maak? wonder Salome en staan ’n paar kosbare tellings verskrik rond. Dis omtrent maar die derde keer dat sy in ’n teater werk, en die eerste keer dat sy dit hier by die hoofhospitaal hoef te doen. Die uitwerking wat Bart de Lange en sy blou oë op haar gehad het, maak dit ook nie juis vir haar makliker nie.

“Wat moet ’n mens aantrek?” vra sy onseker sonder om na die suster te kyk.

“Daar in daardie rakke lê die klere, die groottes is opgeplak,” sê die suster kortaf.

Salome draai om en haal ’n groen jurk uit die rakkie waarop die letters S/K geplak staan. Sy trek haar eie klere uit en glip die groen jurk so vinnig as wat sy kan oor haar kop. Dit skaaf irriterend teen haar nek en strek nie eens tot by haar knieë nie. Is hier iewers langbroeke? Sy kyk rond, maar sien dit nie. Dan sien sy hoe die elegante meisie haar hare onder ’n teatermus indruk en sy onthou dat sy ook veronderstel is om ’n mus op te sit.

Sy kyk rond op soek na die teatermusse. In die rakkies waar die klere gehou word, sien sy ’n hopie ronde voorwerpe wat van dieselfde swaar groen katoen as die jurk gemaak is. Dit het ’n rek in wat lyk of dit oor ’n mens se kop kan pas.

Sy neem een en probeer dit vergeefs oor haar kop trek. Verduiwels, moet hulle nou die rek so styf gaan staan en maak, dink sy, en probeer weer. Sy hoor iemand agter haar lag en toe sy omkyk, sien sy dat die lang vrou haar met ’n glimlag dophou.

“Eerste dag in die teater?” vra sy en haar bessiebruin oë blink.

Salome knik, maar sy dink: Sê liewer eerste dag saam met Bart de Lange.

“Ek is Romi van der Linde, die kliniese assistent in Narkose,” sê sy en vat ingedagte aan haar maag toe sy haar oorjurk regtrek. “En dié is suster Ina Evertse, die teatersuster,” gaan sy amper afgetrokke voort, skynbaar onbewus daarvan dat Salome en die suster al klaar “kennis gemaak” het.

“Aangename kennis, dokter, ek is Salome Verster, ’n sesdejaar.”

Dokter Van der Linde knik net, maar die teatersuster sê effens kortaf: “Daai is oorskoene. Hier is die teatermusse,” en gooi ’n groen mus, wat Salome aan ’n stortpet herinner en van heelwat ligter materiaal as die oorskoene vervaardig is, na haar kant toe.

Salome is lus om stilletjies in ’n donker hoekie te gaan wegkruip, maar sy sorg dat sy niks van haar gevoelens laat blyk toe sy haar hare vinnig onder die mus indruk nie. Ina is op pad deur toe en Romi is ook al amper klaar.

“Waar sit ’n mens jou klere, dokter?” vra Salome vir Romi en hoor tot haar verleentheid hoe haar stem soos ’n tollende buiteband wiebel-wiebel net voor hy omkantel. Sy ken haarself nie so oorhoeks nie.

“Daar is ’n leë sluitkas, daar,” sê Romi, terwyl sy ’n trouring van haar vinger aftrek, dit in ’n juweledosie sit en in haar sluitkassie bêre. Sy kyk ’n bietjie verstrooid na Salome se kaal kuite. “Maar hy het nie ’n sleutel nie.”

Salome prop haar langbroek, bloesie en oorjas haastig in die kas, druk die deurtjie toe en wil uitstap toe dit haar skielik tref waarom Romi na haar bene gekyk het. Dis omdat sy nog nie ’n groen teaterlangbroek aanhet nie. Sy voel hoe haar wange warm word van skaamte, maar gelukkig lui Romi se selfoon op daardie oomblik.

“Haai,” sê Romi en daar kruip ’n liefderike toon in haar stem. “Ek gaan nou in om ’n noodoperasie te doen.” Sy vat weer aan haar maag. “Vanaand? Hmm, dit sal lekker wees. Sien jou.”

Terwyl sy met haar oproep besig is, spoor Salome die teaterbroeke op en trek een aan. Sou dit Romi se man gewees het? wonder sy. Daar was soveel innigheid in Romi se stem. Sy sug, effens afgunstig. Wat gaan vandag met haar aan? Tot dusver het sy nog nie ’n man in haar lewe gemis nie. Muisneste sal net haar aandag van haar werk aftrek, sê sy altyd vir haarself. Sy glip oorskoene oor haar skoene aan en stap deur toe.

Het jy onthou om jou hande te was? vermaan ’n streng kennisgewing op die deur haar met groot, rooi letters. Salome is seker dat as die kennisgewing sou kon praat, hy dit met die rooikopsuster se stem sou doen.

Sy storm terug na die wasbak toe. Sy sien die seephouer, maar verbouereerd sukkel sy om uit te werk presies hoe om die vloeiseep op haar hande gespuit te kry. Uiteindelik spoor sy die hefboom onder die houer op, maar pluk so oorhaastig en heftig daaraan dat die groen seep teen die teëls spat. Sy probeer die seep met water uit die straal kraanwater afspat, maar mors in die proses haar hele broek se voorkant nat. Wel, haar hande is ten minste nou skoon, probeer sy haarself moed inpraat.

“Jy gaan buitendien nou behoorlik moet opskrop,” sê Romi, wat by die deur uitstap. “Jy hoef nie jou hande hier ook te was nie.”

Ek weet dit tog, dink Salome, en probeer haarself regruk. Toe sy in die skropkamer kom, staan Tiaan, die suster en Romi hul naels en borsel. Tiaan se gesig is maar blekerig en Salome sien verlig dat hy, ten spyte van die feit dat hy nog altyd in Chirurgie uitgeblink het, maar net so gespanne soos sy is.

Sy gaan staan by die wasbak teen die oorkantste muur. Sy draai die krane oop om haar hande te was. Haar hart klop onwillekeurig vinniger toe sy sien hoe Bart nader staan om die wasbak langs hare te gebruik.

“Julle moet gou maak, asseblief,” sê hy kortaf, en voeg dan vinnig by: “Nee, juffrou Verster, as jy jou vingerpunte na onder hou, loop die bakterieë net weer oor jou hande. Laat die water in die rigting van jou elmboë loop. Die hele punt is, jy wil jou hande steriel kry.”

Dit voel vir Salome of daar oral op haar lyf haartjies orent kom, soos wat hulle Bart se teenwoordigheid registreer. Op daardie oomblik voel sy baie jonger as haar vier-en-twintig jaar, baie groener as ’n wurm wat pas uit sy kokon gekruip het en so onnosel soos ’n amoeba. Ferm tel sy haar kop op. Sy mag jonk en groen wees, maar sy is nie onnosel nie, sê sy vir haarself. Net onervare. Ja, onervare genoeg dat die rou magnetisme van die man hier langs haar haar gemoed heeltemal omvergooi. Sy druk die gedagte weg. Wees professioneel, herhaal sy teenoor haarself. En sy wéét hoe om haar hande te was.

“Ekskuus, maar kan ek net ’n naelborseltjie kry?” vra sy gemaak kalm.

Die houer met die naelborsels is teen die muur by Bart.

Hy tree effe terug en sy strek om ’n naelborsel uit die houer te haal. Met dié dat sy haar arm terugtrek, raak sy per ongeluk met haar elmboog aan sy borskas.

“Jammer,” prewel sy koel, maar sy voel hoe sy bloedrooi bloos.

Verbrands, sy is so oorbewus van hierdie man en sy lyf … byna soos ’n tiener wat oor ’n popster swymel, dink sy toe sy van die liggroen, vloeibare seep oor die borsel se harde hare laat drup. Agter haar hoor sy hoe bedaard Romi haarself aan Tiaan voorstel.

Dalk moet sy vra om na ’n ander firma oorgeplaas te word, waar daar ’n ander kliniese assistent as Bart de Lange is. Maar waarna gaan dit nou lyk?

Sy skrop elke vingernael sorgvuldig, asof sy Bart en sy magnetisme van haar wil weer. Sy voel hoe Bart haar noukeurig dophou terwyl hy sy eie hande was en sy naels skrop. Dit voel later of haar vel onder sy intense blik begin kriewel. Terwyl sy met die toutjies van die teatermasker sukkel, ontmoet haar blik syne. Vlietend sien sy hoe sy oë agter sy masker, wat hy vergete al behendig vasgestrik het, in ’n spottende glimlaggie ophelder. Het hy agtergekom watter effek hy op my het? wonder Salome verskrik en draai dadelik haar rug op hom.

Uiteindelik is die masker vas. Toe sy omdraai, stoot Bart die teaterdeur met sy rugkant oop, sy gewaste hande in die lug. Tiaan en Romi volg hom en Salome skuifel agterna.

“Sal ek doodgaan?” vra die pasiënt, wat klaar op die teaterbed lê, hortend toe Salome die teater binnestap. “Hulle … hulle het my kar gekaap. My vrou, my kinders … ek … julle moenie dat ek doodgaan nie …”

Salome kry die arme man bitter jammer.

“Ons gaan vir jou doen wat ons kan, meneer … ek belowe,” sê ’n vrouefiguur in teaterklere. Met dié dat almal maskers op het, is dit moeilik om iemand te eien, maar mettertyd herken Salome die groengeklede figuur as dié van die rooikopsuster Ina Evertse. Haar stemtoon is simpatiek en opreg.

Sy is klaar besig om die pasiënt se lyf met jodium af te vee, sodat sy vel oranjegeel vertoon. Salome vergaap haar aan die suster se vaardige vingers, wat rats soos vlinders oral is en sy weet: Ina Evertse ken haar werk.

Toe sy opkyk, betrap Ina Salome se blik op haar. Haar groot, helder oë vertoon blouer as netnou in die gang toe sy vir Bart kom sê het van die noodgeval. Dis seker omdat dit teen die groen teatermus meer opvallend is. ’n Paar wortelrooi hare krul soos mini-weerligstrale teen haar nek. Ina kyk Salome ’n oomblik lank openlik vyandig aan, voor sy haar blik na die pasiënt laat sak en vir hom sê: “Die narkotiseur, dokter Van der Linde, gaan jou nou aan die slaap maak. Kyk vir my tot jy wegraak.”

Salome het nog altyd gesorg dat sy terughoudend en professioneel teenoor kollegas optree. Enige negatiewe trillings van ’n persoonliker aard waarvan sy bewus geword het by iemand saam met wie sy moes werk, het sy gewoon geïgnoreer. Maar nou sukkel sy om Ina se opvallende argwaan van haar af te skud. Sy sal haar kop op ’n blok sit dat dit alles met Bart te doen het. Hoekom is die vrou so jaloers op sy aandag? Sou hulle minnaars wees?

Verbouereerd wonder Salome of sy dalk die een of ander sein uitstuur wat meebring dat Bart de Lange al haar sensuele sekerings laat blaas. ’n Sein wat Ina kan opvang? Watter snert, sê sy dan vir haarself. Om van haar gedagtes af weg te kom, kyk Salome belangstellend om haar rond. Die reuk om haar het ’n kleur, dink sy vaagweg en glimlag agter haar masker. Die kleur is die seesiek-groen van teaterklere en -linne. En die reuk is jodium. Sy kyk weer na die oranjebruin vlekke op Ina se handskoene en glimlag heimlik agter haar masker vir haarself. Jodium is tog g’n seesiek-groen nie!

“Draai asseblief,” sê ’n verpleegster onverwags vir Salome. Salome kyk haar verdwaas aan. “Jy moet ’n jurk aantrek,” sê die meisie ongeduldig vir Salome. Toe eers besef Salome dat Bart en Tiaan klaar hul steriele jurke aanhet. Die verpleegster maak die toutjies agter Salome se rug vas en trek die kleefpapiertjies daarvan los sonder om aan iets wat steriel is te raak.

“Sien julle die fassikulasies van die spiere?” vra Romi en gefassineer kyk Salome na die klein rukbeweginkies wat die pasiënt met sy vingerpunte en tone maak.

“Hy is nou onder van die induksiemiddel wat ek gespuit het,” sê Romi weer. Sy het seker nes Bart sesdejaars onder haar sorg, besig met hul Narkose-blok, besef Salome. “Ek het hom met scoline gespuit, daarom fassikuleer hy. Dis ’n kortwerkende spierverslapper, sodat ons die narkosepyp verby sy stembande kan kry. Ons gaan die masjien vir hom laat asemhaal, want hy is in skok van die koeëlwond en bloedverlies, en ons wil sy kragte spaar. Sodra ek hom geïntubeer het, gaan ek vir hom ’n langwerkende spierverslapper ook gee.”

“Probeer om net aan die binnekant van die handskoene te vat,” hoor Salome Bart vir Tiaan sê. “Onthou, buite wil ons hulle steriel hê.”

Dit voel vir Salome of al haar sintuie indrukke en inligting dorstig absorbeer soos wat ’n droë depper vloeistof opsuig. Wat haar opval, is die rustige atmosfeer in die teater. Dis soos in ’n kerk. Nee, dis nie soos in ’n kerk nie, dis eerder soos in ’n tempel vol priesters, besluit sy toe sy uit die hoek van haar oog sien hoe bedrywig, maar doelgerig die een figuur na die ander rondbeweeg. Sy sien hoe nog vier groengeklede figure by die skropkamer se deur inkom. En dit lyk of elkeen presies weet wat hy of sy moet doen.

Om te dink dat sy deel van hierdie heiligdom is. Sy vergeet van haar verleentheid in die aantrekkamer, en sy weet dat sy die regte beroepskeuse gemaak het. As sy net ook van Bart de Lange en die effek wat hy op haar het, kan vergeet. Beslis trek sy haar handskoene aan en maak die voorste toutjies van haar jurk vas.

“Juffrou,” sê Ina skerp en Salome kyk op. “Ja, jy,” laat sy weer ongeduldig hoor, die simpatieke stemtoon wat sy netnou met die pasiënt gehad het, skoonveld. “Kan jy vir my hierdie bakkie met die jodium kom wegvat? Hier is te min plek om dit neer te sit.”

Ina het nou ’n deppertang in haar hand en is besig om bloedbesmeerde stukkies lap, watte en deppers van die groot wond in die pasiënt se sy af te haal. Sy gooi dit in ’n drom wat langs die bed staan.

Salome is verbaas dat Ina nie eerder een van die verpleegsters dié opdrag gegee het nie. Dan besef sy wat die suster besig is om te doen. Soos by ’n trop leeus, wil Ina vir Bart wys dat sý die dominante wyfie is en aanspraak het op die gesogte mannetjie.

Salome vererg haar. Dis die eerste keer dat sy haar midde-in so ’n magspeletjie met al sy seksuele ondertone bevind. Wees professioneel, vermaan sy haarself, en moet eenvoudig nie saamspeel nie. As sy van jou ’n skiewie wil maak, nou goed dan. Gaan haal net die ellendige bakkie, redeneer haar redelike kant. Maar wie de duiwel dink sy ís sy? kry haar kwaaier kant ’n oomblik lank die oorhand.

Toe Salome opkyk, merk sy dat Bart haar staan en dophou. Sy sien dat daar ’n klein driehoek tussen sy wenkbroue vorm soos hy frons. Dis ’n versoberende gedagte dat hy dalk geraai het wat in haar gedagtes aangaan en verleë stap sy dadelik na Ina toe.

“Pasop!” keer Ina kwaai. “Jy mag aan niks op die groen doeke raak nie! Dis steriel.”

Salome, wat hoor Ina is steeds besig om haar sielkundige kleim af te baken, vries in haar spore en amper-amper gly haar voete, wat seepglad in haar oorskoene voel, onder haar uit. Sy beweeg versigtig om die teaterbed na Ina toe. Met ’n kopknik wys Ina vir Salome na die vlekvryestaal-bakkie vol jodium wat op die pasiënt se roerlose bene staangemaak is. Salome druk opnuut met mening alle gevoelens van gebelgdheid oor die suster se hovaardigheid opsy, tel die bakkie in albei hande op en skuifel voetjie vir voetjie in die rigting van die teater se deur. Sy moet nou net nie die skommelende inhoud van die bakkie gaan staan en uitmors nie, bid sy saggies.

Van voor af kom ’n man, ook in teaterklere, aangestap. Van agter sy teatermasker kan ’n mens net sy paar grysgroen oë, wat Salome aan ’n kiepersolboom se blare laat dink, uitmaak en die kreukels daaromheen, wat verklap dat hy al ’n hele paar winters agter die blad het. Hy lyk vaagweg bekend.

“Nuut hier by ons, verpleegstertjie?” vra hy en sy sonore stem laat klink die verkleinwoord omtrent neerbuigend. Hy trek sy wenkbroue spottend vir haar op.

Dis die laaste strooi. Salome voel hoe haar humeur, wat sy tot dusver so sorgvuldig onderdruk het, opvlam. “Goeiemôre,” groet sy oorbeleefd, voor sy uit die hoogte byvoeg: “Ek is juffrou Verster en ek is ’n sesdejaar mediese student.”

Sy sien hoe sy blik fronsend na die blink bakkie in haar hande gly asof hy nie kan begryp waarom sy dit ronddra as sy een van die studente is nie. Met onheilige genoegdoening sien sy hoe die deel van die man se gesig wat agter die teatermasker uitsteek effe verkleur.

“Suster!” bulder hy so onverwags dat Salome ruk soos sy skrik en ’n paar druppels jodium op die vloer laat spat. “Wat de donder gaan hier aan?”

Toe hy so te kere gaan, besef Salome met ’n siek skok die man voor haar is niemand anders nie as die vermaarde professor Dekker, die departementshoof van Chirurgie. Omdat sy hom tot dusver nog net in haar derde jaar raakgeloop het toe sy as deel van ’n groot klasgroep teorieklasse by hom gehad het, het sy hom nie agter sy teatermasker herken nie. Maar soos die meeste studente in die fakulteit weet sy dat prof Dekker die reputasie het dat hy briljant is, maar befoeterd!

Die ellendige Ina! Sy het haar heeltemal oorstuur, dink sy gebelgd. En net so Bart de Lange, verwyt sy hom sommer ook! En sy was hopeloos te groot vir haar skoene met die prof. Hy dink sweerlik sy het aspris ’n gek van hom probeer maak omdat hy haar vir ’n verpleegster aangesien het.

“Hoe bedoel prof?” vra Ina behoedsaam.

“Hoekom word mediese studente as stuurjongens gebruik? Waar is jou verpleegsters?” vra hy met ’n harde stem.

Salome staan versteen.

’n Stilte so groot soos voor die geboorte van die eerste ster in die Melkweg sak oor die teater neer.

“Ag, dis nie moeite om gou die bakkie weg te neem nie,” probeer Salome blindelings wal gooi.

Sy begin oorhaastig verder stap, maar dan voel sy hoe haar voete onder haar uitgly. Sy roei wild met haar arms om haar ewewig te probeer behou, maar dan kantel sy vooroor. Toe sy weer kyk, lê sy uitgestrek op haar maag op die gladde teatervloer. Haar hele lyf pyn op duisend plekke.

Om haar en oor haar is die verswelgende reuk van jodium. Dit kom van die oranjebruin spatkolle wat soos ’n bloedspoor oor die blink vloer tot by die deur lê. Jodium is toe tog nie oranjebruin nie, dink Salome onsamehangend, terwyl dit voel asof sy wil naar word. Die kleur van jodium sal vir haar na vandag altyd seesiek-groen wees.

Daar hang ’n nog dikker stilte as netnou oor die teater, afgesien van ’n klatergeluid wat aanhou en aanhou. Wat lawaai so? dink Salome fronsend, heeltemal deur die mis geskrik en geval. Sy kyk asof gehipnotiseer na die vlekvryestaal-bakkie voor haar, wat al hoe skewer en skewer waggel en uiteindelik doodstil bly lê. Eers toe die houer tot stilstand gekom het, besef sy dat dit die bakkie is wat so geraas het.

Sy moet opstaan, probeer sy haarself aanspoor, sy móét van die vloer af opkom. Maar as sy daaraan dink dat sy almal in die teater, en veral Bart de Lange, weer in die oë sal moet kyk, begewe haar moed haar. Sy knyp haar oë styf toe en wens dat as sy hulle weer oopmaak, sy in ’n hospitaal in Doebai, ag, in sommer enige ander plek ver, ver hiervandaan moet wees.

“My magtig, juffrou, weet jy nie dat ek stilte in hierdie teater wil hê nie? Ons probeer mense hier genees, verstaan jy? Staan nou dadelik op en kan iemand asseblief daardie gemors kom opvee,” sê professor Dekker geïrriteerd en vee-vee oor van die spatsels op sy teaterbroek.

Salome kyk op, vas in suster Ina Evertse se oë. Duidelik sien sy die kat-met-’n-piering-melk-uitdrukking in haar kykers, soos wat sy haar verlekker in Salome se verleentheid.

Dis Tiaan wat eerste nader storm om haar te kom help.

“Wag, meneer Fouche,” keer Bart en buk oor Salome.

Hy hou sy hand na haar toe uit. Sy hande is nie pianisfyn soos wat sy haar nog altyd verbeel het ’n chirurg se hande moet wees nie. Sy hande is groot soos ’n konstruksiewerker s’n. Sy kyk na hom toe op en is verras om te sien dat hy nie kwaad is nie, maar dat die blougroen oë haar simpatiek aankyk.

Ek het nie jou simpatie nodig nie, dink sy verontwaardig.

“Ek sal self regkom, dankie, dokter. Ek dink nie jy behoort aan my te raak nie. Onthou, dan sal jy weer moet gaan opskrop.”

Bart de Lange se oë word pot-, potblou soos hy hom vir haar vererg. Hy draai om en gaan neem weer sy plek langs die pasiënt in.

Salome kom sukkelend orent. Haar knie pyn. Sy kyk af na haar been. Die teaterbroek is geskeur en haar nerfaf knie loer deur die gat.

“Jy dink jy is so slim, nè, juffrou!” brul professor Dekker. “Jy het vanoggend almal in hierdie teater se ritme versteur met jou lompheid! Ek weet nie waarom die hospitaal die studente nie strenger keur nie!”

Salome sien hoe die professor sy regterhand met die witpienk chirurgiese handskoen oplig. Van woede of frustrasie, Salome is nie seker nie, klem hy die skalpel styf vas. Sy hande is so groot, dink Salome, net soos dié van Bart. Is alle manlike dokters se hande groot? Hoe kry hulle dit dan reg om sulke fyn snywerk te doen? wonder sy onsamehangend.

“Sorg dat jy weer gaan skrop! Jy gaan dokter De Lange assisteer,” tier professor Dekker voort.

Assisteer, dink Salome verskrik, en dit voel of haar hart net daar langs die bruin kolle op die vloer gaan neersyg. Toe sy na Bart opkyk, sien sy sy oë is nog steeds amper vlootblou van woede. Van hom kan sy geen hulp verwag nie.

“Maak gou,” jaag Bart haar bruusk aan. “Die pasiënt is besig om hom dood te bloei!”

Sy skarrel skropkamer toe. Op pad soontoe stroop sy haar handskoene af en pluk die steriele oorjurk uit.

Toe sy alleen by die wasbak staan en hande was, voel sy hoe die trane warm oor haar wange biggel. O, wat ’n nare, nare plek en watter aaklige mense.

Jy is self nie heeltemal so onskuldig nie, Salome, vermaan sy haarself. Die een ding wat jy nie nou moet gaan staan en doen nie, is grens! Sy sluk haar trane en maak vinnig klaar.

“Kom, juffrou Verster, gaan staan aan die oorkant van die pasiënt,” sê Bart vir Salome toe sy terug is in die teater.

Dit voel of daar lood in haar bene is toe sy om die tafel stap.

“Ek het hom klaar getube, Bart. Hy het drie goeie lyne op, maar ek kan nie voorbly met vog nie. Êrens bloei hy vreeslik. Jy moet daai gat so gou moontlik toemaak!” sê Romi van der Linde rustig van waar sy by die pasiënt se koppenent staan.

Romi laat haar skynbaar nie in die minste deur professor Dekker intimideer nie, dink Salome, maar sy sien hoe sorgvuldig al die ander in die teater hul blik op die pasiënt gerig hou, asof hulle bang is iemand sal dalk hul gedagtes raai as hulle dit sou durf waag om op te kyk.

Maar professor Dekker hou skynbaar nie daarvan dat daar iemand is wat nie voor hom aan ’t sidder gaan nie, want skielik sê hy bars: “Ek hoor nie dat jy vir jou studente verduidelik wat aangaan nie, dokter Van der Linde!”

Die rooierigheid kruip-kruip onder Romi se teaterjurk op en haar stem bewe effens toe sy verontskuldigend sê: “O, ja, amper vergeet ek.” Vir die student langs haar sê sy: “Draai nou die halotaan af van vyf persent tot omtrent so twee-punt-vyf persent. Dit behoort genoeg te wees om hom onder te hou. As hy diep genoeg onder is, sal ons dit verder afdraai.”

Halotaan, dink Salome vaagweg, en die feite kom soos vlieswolkies uit een van haar handboeke na haar terug. Halotaan is een van die vlugtige narkosegasse. Die narkosemasjien meng die laggas, suurstof en halotaan in die korrekte verhouding. Sy skud haar kop effens en probeer haar regruk. Sy is nie nou besig met haar Narkose-blok nie, sy moet op die operasie konsentreer.

“Ek wil hê julle moet die oksimeter ook dophou,” sê Romi, wat skynbaar haar kalmte herwin het.

Werktuiglik gaan Salome se blik na die wit apparaat wat soos ’n wasgoedpennetjie aan die pasiënt se voorvinger vasgemaak is.

“’n Volwasse man soos dié haal omtrent sestien keer per minuut asem,” voeg Romi by.

Die suster wat ’n rukkie gelede vir Salome help aantrek het, trek die groot, ronde teaterlig nader. Salome glimlag suurderig agter haar masker toe dit haar byval dat ’n mens so ’n ongeskropte verpleegster in ’n teater ’n “vuil suster” noem. Nie dat sy op die oomblik met hierdie jodiumbevlekte broek minder vuil as hierdie suster voel nie, die steriele oorklere ten spyt.

Met sy twee groot hande neem Bart die buise wat Ina op ’n doek na hom uithou en haak dit oor die teaterlig se handvatsels. Salome frons eers onbegrypend en toe besef sy wat aangaan. Die buise is gesteriliseer en Bart kan nou die lig manipuleer soos hy dit nodig kry, sonder om sy hande te besmet.

“Is hy diep genoeg, Romi? Kan ek aangaan?” vra Bart.

“Ja, maak gou,” sê die vrouedokter dringend, haar blik vasgenael op die monitor langs die narkosemasjien. “Ek sukkel met sy bloeddruk.”

Salome sluk ’n slag toe sy sien hoe Bart ’n skalpel uit Ina se handskoenhand aanvat. Hier is die oomblik van waarheid nou. En professor Dekker staan soos ’n onbewoë sfinks en wag dat een van hulle, sy bowenal, ’n fout maak, dink sy senuweeagtig.

Bart plaas die operasiemes net onder die pasiënt se borsbeen en begin ’n midlynsnit deur die vel tot by die naeltjie maak. Behendig keep hy met die skalpel om die naeltjie en sny dan tot by die man se skaambeen.

So ’n groot snit? wonder Salome, maar kyk gefassineer met watter ekonomiese bewegings Bart sy werk doen. Haar mondhoeke trek wrang agter die masker af. Haar moedswillige wens van vroeër, dat Bart ’n vrotsige chirurg moet wees, gaan nie bewaarheid word nie. Allermins! Daardie enkele snit, wat hy met soveel selfvertroue en vaardigheid, selfs ten aanskoue van professor Dekker se kritiese oë, gemaak het, het haar oortuig dat hy ’n uitmuntende chirurg is.

“Hoekom maak dokter De Lange so ’n groot snit, juffrou?” vra professor Dekker en pen Salome met sy grysgroen oë vas.

Het hy haar gestaan en dophou? Haar brein weier om te funksioneer.

“E … ek weet nie, professor,” beken sy met ’n droë mond.

“Weet jy dalk, meneer?” vra hy en draai na Tiaan, wat roerloos na die operasie staan en kyk.

“Ek sou reken dis omdat dokter De Lange nie weet waar oral skade is nie,” antwoord hy vlot.

Salome vermy Tiaan se blik sorgvuldig. Briljant, dink sy. Hy vaar beslis beter met sy vuurdoop in die teater as sy.

“Het jy dan nog nooit die gesegde ‘Bigger cut, bigger surgeon!’ gehoor nie, juffrou Verster?” vra die professor sarkasties vir Salome. “Dokter De Lange weet goed dat dit onverantwoordelik sal wees om deur ’n klein snytjie te werk as hy bloeiers of perforasies moet soek!”

Voordat sy hoef te reageer, kyk Bart gelukkig na haar en sê bedaard: “As ek hom oophet, gaan daar waarskynlik baie bloed uit sy buik spuit. Jy moet die wond vir my oophou en die bloed wegsuig, sodat ek kan sien waar om te werk.”

“Goed, dokter,” sê Salome, sorg dat sy haar blik op die pasiënt se borskas hou en hoop maar die hele teater kan nie hoor hoe haar stem van bangheid deurslaan nie.

Sê nou sy maak ’n fout? O, sy is seker ’n teater sal na vandag vir altyd vir haar ’n verskrikking inhou. Hoe kan alles dan vandag vir haar so skeefloop?

“Jy moet begin oophou, juffrou! Ek wil nou met ’n kouter deur die skede van die spiere begin sny,” jaag Bart haar aan.

Wat is ’n kouter nou weer? O ja, onthou Salome, dis ’n elektriese instrument waarmee ’n mens snitte maak. Dit werk vinnig en presies en het boonop die voordeel dat jy bloedvaatjies daarmee kan toebrand so ver as wat jy werk. Maar sy twyfel of Bart hom nou oor bloedvaatjies gaan bekommer, daarvoor bloei die pasiënt te veel, flits die gedagtes deur haar brein.

Instinktief steek Salome haar hande na die wond toe uit. Kan Bart en professor Dekker sien hoe sy bewe? wonder sy benoud.

“Ag, suster, gee tog vir die assistent ’n wondhakie aan,” laat skrik professor Dekker haar net voor sy aan die wond raak. “Sy wil sowaar haar hande daar gaan staan en insteek. Netnou sny dokter De Lange nog een van haar vingers af.”

Salome voel hoe sy bloedrooi bloos en sy is dankbaar vir die masker wat sy dra. Hoe kon sy so onnosel wees? Haar dosente het haar hoeveel keer gesê ’n mens werk nooit direk met jou hande nie, maar altyd met instrumente. Maar dis een ding om dit in ’n lesinglokaal te hoor, heeltemal iets anders om met ’n oopgesnyde pasiënt voor jou te staan, dink sy gebelgd toe sy die wondhakie by Ina aanvat sonder om na haar te kyk.

“Kouter, asseblief, suster,” sê Bart toe Salome die snit vir hom wyer rek.

Ina gee die instrument aan, maar sy trek haar asem skerp in.

“O, my goeiste, dokter, ons het vergeet om die elektrodeplaat aan die pasiënt se been te plak. Nou sal die kouter mos nie werk nie.”

Salome maak haar oë toe en verkneukel haar net ’n oomblik lank daarin dat die suster ook ’n flater kan begaan. Dan bedink sy haar. Dit lyk of leedvermakerigheid net nog een van die donkerder drifte is wat Bart se teenwoordigheid skynbaar vandag met soveel gemak in haar laat loskom het. Dis buitendien haar skuld dat Ina van die kouter vergeet het, onthou sy skuldig. Dis sy wat almal se konsentrasie verbreek het toe sy so geval het. Toe sy weer haar oë oopmaak, sien sy hoe Bart se oë verdonker, net soos toe hy netnou so kwaad was. Vir wie is hy nou so woedend? Vir haar? Of vir Ina?

“Goed, gee dan maar solank vir my ’n skalpel, suster,” beheer Bart egter sy humeur uitmuntend.

“Alles is ook so deurmekaar vanmôre,” sê Ina apologeties toe sy die instrument vir hom aangee.

Salome kyk sorgvuldig na waar Bart se hande besig is. Dit was sweerlikwaar ’n skimp van Ina af na haar kant toe.

’n Dik ongemak sak oor die teater neer, waarin niemand, nie die narkotiseur of een van die studente of verpleegsters, dit waag om iets te sê of te vra nie. Dis asof almal vir professor Dekker wag om weer uit te bars, maar wonder bo wonder sê hy niks nie, sy blik vasgenael op Bart se hande.

“Laat een van jou vuil verpleegsters solank onder die steriele doeke inkruip en die foeliekant op sy been plak. Maar sy moet versigtig wees!” sê Bart vir Ina.

Bart sny deur die skede van die spier en splyt die spierlae van mekaar. Salome gryp die deppers wat die suster na haar uithou en begin die bloed wat uitborrel, opmop. Sy volg die beweging van Bart se bedrewe hande. Dit lyk nie of professor Dekker se teenwoordigheid hom enigsins verbouereer nie, want sy hande is stabiel. Uit die hoek van haar oog sien sy hoe die ongeskropte verpleegster se kop soos ’n molshoop onder die lappe beweeg om kort daarna weer met ’n baie skuldige gesig langs die bed te voorskyn te kom. Sy was waarskynlik die een wat vergeet het om die elektrodeplaat op die pasiënt te sit. Salome moet Ina teësinnig krediet gee vir die feit dat sy, as die teatersuster in beheer, die volle verantwoordelikheid aanvaar en die verpleegster nie daar en dan voor almal uittrap nie.

“Die kouter is nou gereed, dokter,” sê Ina en hou tegelykertyd die suier na Salome toe uit.

Bart begin derms wegskuif en Salome sien hoe die bloed uitstroom.

“Daar, daar op sy vena cava sit die gaatjie, sien jy?” vra Bart vir Salome.

Salome suig die bloed weg. Sy weet al jare lank dat die vena cava, die punt waar die are van ’n mens se bene af mekaar in jou buik ontmoet, so dik soos drie van haar vingers langs mekaar is, maar dis nogtans ’n skok om te sien hoe baie bloed uit so ’n reusagtige aar kan spuit. Bart druk die gat in die aar behendig toe.

“Arterieklem, asseblief,” sê hy vir Ina.

Nadat hy die bloeding gestop het, sê hy vir die narkotiseur: “Ek het die bloeipunt onder beheer, Romi. Hoe lyk sy bloeddruk nou?”

“Dit gaan beter, maar hy het nog so ’n liter of twee vog nodig om by te kom.”

“Ek gaan spesiale steke insit om die bloedvat te heg,” sê Bart en kyk vir die eerste keer na Tiaan. “Staan nader dat jy kan sien wat ek doen. Die krisis is oor.”

Salome kan hoor die spanning in Bart se stem is weg. Sy wens meteens vuriglik dat dit sy was en nie Tiaan nie wat die eerste operasie net kon waarneem.

“Is Vicryl ses-nul reg, dokter?” vra Ina.

Salome sien hoe Bart goedkeurend vir Ina glimlag.

“Perfek, suster.”

Sy begryp dat hy Ina op haar gemak probeer stel oor die fout wat haar span begaan het, maar dit skaaf aan haar hart dat hy baie vriendeliker met die suster is as met haar.

Bart neem die tangetjie met gare by Ina en heg die bloedvat met steke wat hy een vir een met die tangetjie knoop. Weer val sy groot hande Salome op, en die behendigheid waarmee hy die delikate taak uitvoer. Toe die vat toe is, begin Bart die derms ondersoek.

“Kyk,” sê hy vir Tiaan, “hier is ’n gaatjie en hier is nog een. Seker waar die koeël deur is. Ek gaan ’n dermreseksie doen en dan ’n primêre hegting.”

“I-i-is die koeël nog binne?” vra Salome met ’n skor stem.

Professor Dekker snork minagtend oor dié onnosele vraag, maar Bart skud net sy kop en verduidelik: “Nee, die koeël is reg deur. Nou kan jy sommer sien hoe ’n ingangswond van ’n uitgangswond verskil. Kyk, hier by die ingang is die gaatjie klein en netjies, die gat waar die koeël uit is, is aan flarde geruk.”

Salome staan op haar tone om oor die teaterbed te kan sien hoe Bart die wonde wat deur die koeël veroorsaak is, netjies heg.

Sy kyk op en betrap Tiaan se blik op haar. Die uitdrukking daarin verwar haar – hy laat haar aan ’n klein, maar verliefderige hondjie dink. Vinnig kyk sy weg.

Toe Bart klaar is, hou Ina ’n vlekvryestaal-bakkie na hom toe uit.

Hy neem dit sonder ’n woord by haar en gooi die inhoud in die pasiënt se buikholte uit.

“W-wat is dit?” wil Tiaan weet en sy kan hoor dat haar vinnige wegkyk hom ontstel het en dat hy sy bes probeer om in beheer van sy emosies te bly.

“Warm saline,” antwoord Bart en neem die suier uit Salome se hande om self die vloeistof op te suig. “Louwarm, moet ek eintlik sê … dis liggaamstemperatuur.”

Salome kyk verras op toe hy die instrument by haar neem. Is dit omdat hy dink sy kan nie haar werk behoorlik verrig nie, dink sy en frons. Met niks om te doen nie, voel Salome se hande vir haar net so groot soos Bart s’n, net baie lomper. Sy moet haarself ernstig aanpraat om nie haar hande soos ’n stout kind agter haar rug weg te steek nie. Wees professioneel, herinner sy haarself, en probeer konsentreer op wat Bart doen.

Hy spoel en suig die buik twee of drie keer goed uit met die soutwater en maak dan weer seker dat daar nêrens bloed uitkom nie, voordat hy na die narkotiseur kyk: “Goed, Romi, ons het hemostasie, daar is geen bloeding meer nie. Ek wil net gou vir hom ’n drein insit, dan kan ons die peritoneum sluit.”

“Ek gaan nou die narkosegas geleidelik begin verminder, want ons is amper klaar met hierdie geval,” sê die narkotiseur vir die studente wat saam met haar werk.

Behendig werk Bart die buikvlies toe. Toe dit klaar is, heg hy weer die vet en die vel en maak die wond met kramme toe.

“Daar’s hy. Ons is klaar.” Hy blaas sy asem verlig uit. “Ek dink hy gaan orraait wees,” sê hy.

“Kom ons tel hom op die trollie, hy sal nou-nou begin bykom,” sê Romi.

Almal om die bed, buiten professor Dekker, help die pasiënt oplig, en toe hy op ’n waentjie lê, stoot Ina hom na die herstelkamer toe.

Toe Salome omdraai om na Bart te kyk en te hoor wat volgende moet gebeur, sien sy hoe professor Dekker by die teaterdeur uitstap. Dis nie hoorbaar nie, maar Salome kan voel hoe slaak almal in die teater ’n kollektiewe sug van verligting toe sy rug by die deur uit verdwyn.

“Veels geluk, juffrou Verster,” sê Bart sardonies, maar so saggies dat net sy kan hoor. “Ek weet nie of daar al ooit ’n mediese student in die geskiedenis was wat so ’n skitterende gemors van haar eerste dag in die teater gemaak het nie.”

Salome voel hoe haar wange brand, veral toe sy sien dat Ina, wat weer die teater binnestap, haar ook baie verwytend aangluur. ’n Spanningshoofpyn begin klop-klop in haar slape en sy wens sy kon wegsmelt soos ’n ysblokkie in die son, maar sy lig haar kop fier op en kyk Bart reguit in die oë.

“Dankie vir die kompliment, dokter De Lange!” sê sy ysig.

Sy oë verdonker weer van woede, soos netnou toe Ina gesê het die kouter werk nie, en Salome kyk verskrik weg. Hy sê egter niks verder nie, maar draai om om na die wit skryfbord agter hom te kyk.

O, maar sy voel uitgeput, dink sy en haal, noudat Bart se blik weer van haar af weg is en professor Dekker verkas het, ’n bietjie vryer asem. Hoe lank was die operasie? Sy kyk na die horlosie teen die teater se muur. Minder as ’n uur. Sy het vergeet dat spanning ’n mens so moeg kan maak. Netnou het sy soos ’n vars depper gevoel, nou voel sy soos ’n moeë stuk lap wat baie vloeistof moes opsuig.

Al wat sy nou wil doen, is om huis toe te gaan en haar hart te gaan uithuil. Was dit nodig dat sy haar so vir die prof moes wip? Het sy maar Bart se selfbeheersing gehad! verwyt sy haarself. Moeg sluit sy haar oë.

Toe sy hulle weer oopmaak, sien sy dat Bart haar staan en dophou, die uitdrukking in daardie blou oë nou peinsend. Haar hart klop vinniger, maar sy kyk haastig weg en trek haar tweede stel handskoene vir die dag van haar hande af, voordat sy hulle in die vullisdrom langs die teaterbed gooi. Nee, sy glo darem nie hy kan raai hoe na aan trane sy is nie. Net soos sy, moet hy seker ook maar sukkel om die uitdrukking te lees op ’n gesig waarvan die helfte deur ’n masker bedek word. Toe sy haar masker afhaal en weggooi, waag sy dit om weer na hom te kyk, maar hy het gelukkig omgedraai en is weer besig om iets op die bord te bestudeer.

“Reg, daar is nog ’n naeltjiebreuk en ’n skildklieroperasie op die teaterlys,” sê Bart en haal sy masker af. Hy trek ook sy handskoene uit en gooi dit weg.

“Meneer Fouche, jy kan my met die res van die gevalle assisteer. Ek dink juffrou Verster het vir eers genoeg gehad.”

Salome verstyf toe Bart se blik ondersoekend oor haar gesig gly.

Sy lig weer haar kop uitdagend op. Dink hy miskien dat sy nie die stamina het om by te bly nie?

“Ek het nie gekla nie,” sê sy en sy kan hoor hoe die ergerlikheid sowaar al weer in haar stem opslaan.

Die wit branders flonker ’n oomblik lank in sy oë op. Eers toe hy van haar af wegkyk, glimlag hy baie effens.

“Meneer Fouche sal my met die res van die teaterlys assisteer,” sê hy ferm. “Kom ons gaan. Onthou, ons skrop van voor af op voor elke geval!” sê hy en stap skropkamer toe.

Hoe elementêr, dink Salome kleinsielig. Sy weet al van haar derde jaar af dat die teaterpersoneel elke keer opskrop.

Toe sy en Bart langs mekaar by die wasbak staan en hande was, sê hy ewe vriendelik: “Jammer dat ek soms onnodige goed herhaal wat julle reeds weet.”

Hy het net sulke rats hande soos ’n kulkunstenaar en net sulke skerp oë soos ’n x-straalmasjien, dink Salome, en druk haar hande onder die straal water in. Per ongeluk tref haar hand die water teen so ’n hoek dat die straal Bart teen sy teaterjurk tref en ’n paar nat blertse los.

“O,” sê Salome met groot oë. “Jammer, dokter!” roep sy dan berouvol uit en hou sy gesig bekommerd dop.

Weer helder die wit skuimstrepe in sy oë op. Hy is besig om haar uit te lag. Die ellendeling, dink sy en frons vererg, maar haar hart gaan staan amper. Salome voel hoe die bloed in haar gesig opstoot.

“Wat ’n plofbare mengsel!” sê hy lui met sy blik op haar.

“Wat bedoel jy?” vra Salome onbegrypend.

“’n Geitjie en ’n ongeluksvoël in een klein pakkie!”

Hy praat so sag dat sy hom skaars kan hoor.

Sy was nog nooit ’n ongeluksvoël nie, maar ja, sy is nie een van daardie deemoedige vroue wat vir ’n man stilbly nie, wil sy vir hom sê, maar iets aan die manier waarop hy na haar kyk, waarsku haar om nie verder te skoor nie. Bart de Lange is nie ’n man om mee te speel nie.

Toe hulle weer by die teater instap, sien sy dat Tiaan haar en Bart fronsend dophou.

Vir die res van die teatergevalle is Salome dankbaar om net ’n waarnemer te kan wees. Sy sê nie ’n woord nie en sorg dat sy geen verdere ongelukke oorkom nie. Noudat professor Dekker weg is, heers daar ’n totaal ander atmosfeer in die teater. Bart is soos netnou sy briljante self, maar die ander personeel maak gemoedelik grappies met mekaar.

Ten spyte daarvan dat sy Tiaan se blik weer en weer op haar betrap, lyk hy soos ’n vis wat hom uiteindelik in die regte dam bevind. Instinktief antisipeer hy Bart se bewegings en gee instrumente aan sonder dat iemand hom vra. Dit lyk of hy al jare opereer. Nadat hy weer ’n keer met so iets briljants vorendag gekom het, kyk hy na haar. Sy bruin oë is blink van trots.

Sy glimlag vir hom en knik haar kop so effens. Wat gaan met Tiaan aan? wonder sy onthuts, en konsentreer op Bart se hande. ’n Mens sou sweer hy is verlief op haar. Hy kan in elk geval met al haar komplimente ’n chirurg word, besluit Salome, maar dis beslis nie die rigting vir haar nie.

Dis beter dat sy nie verder enige aandag aan Tiaan gee nie, besluit sy en konsentreer op die ander mense in die teater. Ina het oë net vir Bart, sien Salome. Om die onredelike jaloesie hok te slaan wat in haar opborrel, dink sy suur dat dit g’n wonder is Bart het so baie selfvertroue nie. Met elke snit wat hy maak, is Ina daar om hom toe te juig. Sy gaan nie saam met Ina begin applous gee vir elke beweging wat Bart maak nie. O nee! Dis maar net die eerste indruk wat hy op haar gemaak het en daardie sonderlinge seeblou oë van hom wat haar so onkant betrap het. Agter die teatermasker druk sy haar lippe ferm opmekaar. Sy moet eenvoudig sorg dat sy hom so gou moontlik van die heldepodium afstamp waarop sy hom geplaas het.

Tango met ʼn chirurg

Подняться наверх