Читать книгу Beminde vreemdeling - Schalkie van Wyk - Страница 4
2
ОглавлениеFloors het gelyk gehad: Sy is mooi én slim, dink Wiandri met ’n innerlike glimlag. As sy toegelaat het dat Floors se glimlag haar met ’n ademlose euforie vervul het, het sy nou in trane van woede uitgebars. Maar sy het opsetlik eerder na tant Grietjie gekyk en die wisselende uitdrukkings van verbysterde ongeloof en verwarring op haar gesig waargeneem, daarom kon sy met oortuigende onverskilligheid na sy spottende bekentenis luister.
“Ag, Floorsie, was dit nou nodig?” vra Grietjie omgekrap.
Wiandri haak by Grietjie in en gee haar arm ’n drukkie. “Moenie jou kwel nie, tannie,” sê sy gerusstellend. “Floors glo ons woon in ’n kasteel, daarom speel hy die rol van ons hofnar. Gee hom vanmiddag ’n ekstra skeppie pampoen, want sy storie was nogal vermaaklik.”
“Nogtans …” Grietjie kyk Floors bestraffend aan. “Juffrou Lerina is goed vir jou, Floors, en sy sal nie gelukkig wees oor stories dat jy ter wille van haar geld met haar wil trou nie. Sy is ’n oumens, jy behoort darem respek te hê vir haar jare.”
Floors glimlag breër. “Dis juffrou Lerina wat voorgestel het dat ek die storie aan Wiandri vertel, tant Grietjie. Sy het gesê Wiandri is veels te intelligent om te glo julle het skielik ’n heeltydse nutsman nodig en dat my hande te sag is om Wiandri te oortuig dat ek ’n handearbeider is.” Sy uitdrukking word ernstig toe hy vervolg: “Dis waarom ek ’n rukkie lank na julle gesprek geluister het, tant Grietjie. Ek het gehoop tannie sal Wiandri … e … meer oor my vertel.”
“O …” Grietjie lyk betrap, kyk na Wiandri en begin ongemaklik: “Floors is nie regtig Floors nie, liefie. Floors is eintlik …” Grietjie vat en los haar hande herhaalde male senuweeagtig op haar maag saam en beveel dan ongeduldig: “Vertel jy, Floors. Ek was nog altyd ’n vrotsige leuenaar, want ek jok myself te maklik in ’n hoek.”
“Ek wil net tydelik Floors wees,” verduidelik hy toe Wiandri hom met afsydige belangstelling aankyk. “Daar is ’n moontlikheid dat ek ’n beter werk kan kry, maar een persoon wat betrokke is, hou nie van my mense nie. As ek ’n van soos Botha of Smit gehad het, kon ek my eie naam gebruik het, maar onder die omstandighede is Floors Venter ’n veiliger keuse. Ek is werklik jammer ek het jou natgespat, Wiandri, maar aan die ander kant, nie alle meisies is mooi selfs al is hulle druipnat van modderwater nie.”
“Moet ek nou dankbaar wees en glimlag?” vra Wiandri geniepsig, vreemd teleurgesteld omdat sy nog nie weet wat sy ware identiteit is nie.
“Nee, maar dit was ’n eerlike kompliment. Wil jy die lekkergoed hê of sal ek …”
“Lekkergoed!” jubel Grietjie, gryp die plastieksak uit Floors se hand en loer daarin. Sy druk ’n klapsoen op Wiandri se wang en sê borrelend: “Malvalekkers en pepermente! Ag dankie, my engeltjie! Ek het gehoop jy het nie ons ou lekkertjies vergeet nie. Floors, parkeer asseblief Wiandri se motor in een van die motorhuise en bring haar tasse na haar suite toe – dis die verste een op linkerhand bo in die wesvleuel. Ag, sonde, as dit nie tyd was vir middagete nie … Wiandri, sal een ou malvalekkertjie soveel skade doen?”
“Het tannie dan ’n nuwe kwaal ontwikkel sedert my laaste vakansie?” vra Wiandri terwyl sy saam met Grietjie oor die geplaveide voorhof na die sandsteenwoning loop.
“Nee wat. G’n bloeddruk of ander klagtes nie, maar ou dokter Mouton herinner my elke maal dat ek gesonder sal wees as ek van een van my vetrolletjies ontslae raak. Ek sê hom oor en oor vet is in my gene – nie dat ek mooi weet wat gene is nie, maar dis lekker om iets anders die skuld te gee vir my eie vraatsug,” vertel Grietjie en glimlag vroom.
“Tannie is mollig, nie vet nie. Ek en tant Lerina is net gelukkig om lank en slank te wees, want dis in óns gene!” skerts Wiandri, steek vas voor die enkele breë trappe wat na die swaar houtvoordeur lei, en sê skuldig: “Ek kan darem nie verwag dat Floors my handsak en skootrekenaar ook agter my aandra nie, tant Grietjie. Ek sal hom met my bagasie help.”
“Ja … ja …” mompel Grietjie, horende doof, haar neus in die inkopiesak. “Dalk sal een ou malvalekkertjie tog nie sonde wees nie,” praat sy met haarself, reeds besig om ’n plastieksak oop te skeur, en klim die trap na die voordeur terwyl Wiandri wegdraf na die motorhuise.
Wiandri sien Floors met sy hande in sy sye voor die oop bagasiebak van haar motor staan, loop vinnig nader en sê verskonend: “Jy is nie ’n huisbediende nie, Floors. Ek sal self my tasse dra.”
“Ek weet wat ek is, juffrou Wiandri. Vyf tasse … Geen normale mens het vyf tasse nodig vir klere nie!” antwoord hy afkeurend en gluur haar vanonder saamgetrekte wenkbroue aan.
Floors is vies omdat sy nie sy verskoning en sy kompliment wou aanvaar nie, daarom spreek hy haar nou weer as juffrou aan, dink Wiandri, staar stip na die naaste tas en antwoord styf: “Sewe, nie vyf nie. Daar is nog twee tasse vol boeke op die agtersitplek. Sewe kleinerige tasse, meneer Floors, want as student moes ek self my tasse dra. Dis makliker om twee kleiner tasse as een groot tas te dra, veral as die hysbak vol is en ’n mens trappe moet klim.”
“Jy is verstommend, juffrou Wiandri – mooi, slim en boonop logies. Ek sal nooit weer lag as iemand van vroulike logika praat nie,” terg hy.
Sy hoor die glimlag in sy stem en weet sy oë lag haar uit – so sy sal nie opkyk na hom nie. Sy durf nie in sy oë kyk nie, want sy is nog bekommerd oor die verwarrende emosies wat sy ervaar het toe sy hom die eerste maal gesien het. Sy antwoord ingehoue: “Dankie, meneer Floors. As jy nou eenkant toe sal staan, sal ek my tasse uittel.” Hy bly staan en sy versoek hoflik: “Asseblief, meneer Floors. My hare en klere is lankal droog, maar ek sal graag wil stort voor middagete.” Sy wag weer dat hy wegtree van haar motor, maar hy roer nie en sy herhaal met ’n suggie: “Asseblief nou, meneer Floors.”
“Dankie, meneer Floors, asseblief, meneer Floors. Klein blikskottel! Jy maak ’n grap van my naam, maar ek verseker jou my situasie is beslis nie grappig nie,” sê hy grimmig, ’n ondertoon van spanning in sy stem.
Sy kyk op in sy onstuimige swartbruin oë en glimlag goedkeurend. “Wonderlik! Ek het geweet daar kruip ’n regte mens met emosies agter Floors se klipgesig weg,” spot sy en vervolg vertroostend: “Ek is seker jy het jou bes gedoen, Floors, maar jy het nie genoeg talent om die rol van die dommerige Floors Visser oortuigend te vertolk nie.”
“Venter,” korrigeer hy haar ergerlik.
“Venter of Flenter – wat maak dit saak? En Floors! Jy is ’n hopelose toneelspeler en jou naam is ’n grap. Wat het jou besiel om so ’n lawwe naam te kies?” vra sy. Sy besef dat sy van die diep timbre van sy normale stemtoon hou en dit uitermate geniet om met hom rusie te maak.
“Floris, juffrou Wiandri, is ’n gerespekteerde Nederlandse naam, afgelei van die Latynse naam Florentius, wat ‘welvarend en voorspoedig’ beteken,” lig hy haar kil in.
“A … Florentius! Goeiste, Floorsie, hoekom het jy my nie lankal gesê jou naam is Florentius nie? Ek is dol op jou naam! Florentius, jy hoef nie my tasse in te dra huis toe nie. ’n Man met jou adellike naam kan nie ’n huisbediende wees nie,” koggel sy.
Sy regterhand skiet onverwags uit en sluit met ’n staalgreep om haar linkerpols. “As ek skielik die adellike Florentius is, moet ek seker soos ’n man optree,” sê hy, ’n dreigende ondertoon in sy donker stem.
Floors moenie dit aan haar doen nie. Hy moenie aan haar raak nie, want sy vingers stuur klein, elektriese skokkies deur haar arm en versnel die normale geklop van haar hart tot druisende tamboerslae in haar ore, besef Wiandri ontsteld. Moontlik is Floors koorsig, want geen ander man se hand het haar ooit gebrand nie, redeneer sy met haarself en ontspan. Sy kyk op na hom, sien die koue, oorwegende lig in sy oë en beveel kordaat: “Los my arm, Floors. Ek kan byt en skop en krap en tant Grietjie sal jou met ’n besemstok disnis slaan as jy my seermaak.”
“As tant Grietjie my kan vang nadat ek jou in julle visdam verdrink het, klein pes,” antwoord hy grimmig.
“Jy het my reeds twee maal in tant Wessie se eendepan verdrink – en my uitgelag toe ek druipnat op die sypaadjie gestaan het.”
“Ek het nie gelag nie,” herinner hy haar.
“Nie letterlik nie, maar jy het met smaak na my foto’s in tant Grietjie se album verwys. En jy het my bedrieg oor jou naam en gejok oor jou beplande huwelik met my tant Lerina. Jy is ’n groter sondaar as ek, Floors. Toe, vergeet nou maar van jou adellike naam en wees net ons dommerige Floorsie. Jy is te afknouerig as jy adellik is, en jy maak my arm seer.”
“Jammer,” sê hy skuldig en los haar gewrig. “Solank jy onthou julle dommerige Floorsie is nie so dom soos wat hy voorgee nie, sal ek vergeet van die adellike Florentius.”
“Is jy Floris of Florentius gedoop, Floorsie?” vra sy nuuskierig.
Hy kreun moedeloos en tel twee van haar tasse uit die bagasiebak. “Nee, Wiandri, nee. Ek het reeds verduidelik: Ek kan nie my eie naam gebruik nie, omdat ek hoop om ’n beter pos te kry.”
“Watter pos? By die poskantoor? Jy lyk nie soos …”
“By die slagter in die slagpale, ellendige agie!” val hy haar boos in die rede. “Hier, dra jou tasse en gaan stort, anders kry ons nooit vandag middagete nie.”
“Ek het my skootrekenaar en my skouersak kom haal. Ek het oorgenoeg skoon klere hier in my hangkas, dankie, Floorsie,” antwoord sy met ’n treiterende glimlaggie en ignoreer sy gemompelde verwensing toe hy met haar tasse in sy hande wegstap huis toe.
Wiandri trek haastig ’n skoon T-hemp oor haar kop toe daar aan haar kamerdeur geklop word. Sy kyk op en sien haar tant Lerina die slaapkamer binnekom.
“Ekskuus, my kindlief, maar ek kon doodeenvoudig nie langer wag om jou te groet nie,” sê Lerina verskonend en kom vinnig nader om Wiandri te soengroet en ’n drukkie te gee. “Welkom tuis, kindjie. Ek is so trots op jou en so innig dankbaar om te weet jy hoef nie weer weg te gaan nie.”
“Hallo, tant Lerina. Tannie lyk pragtig in die sagte pienk pakkie. Mag ek dit leen?” vra Wiandri skertsend, lag onnutsig en druk ’n ekstra soentjie op Lerina se wang. “Ek is so trots op my slanke tannie, nie een van my studentemaats kon glo ek en tannie dra dieselfde nommer klere nie. Oor vier-en-sestig jaar wil ek net so mooi soos tannie wees.”
“Mooi?” vra Lerina oorbluf, draai na die spieëltafel en bars uit van die lag. “Dis nie ydelheid nie, Wiandri, want ek is so oud dat dit ’n historiese feit is: Op twee-en-twintig was ek ongetwyfeld mooi. Maar deesdae kyk ek net in die spieël om te sien of al my knope vas is en ek niks agterstevoor aangetrek het nie.”
“Tannie het blou-blou oë soos Kaapse vergeet-my-nietjies, ’n fyn neusie en die digte, silwerwit hare en …”
“En meer plooie as plekke, my liewe kind. En dit help nie eens as ek glimlag nie, want dan kruip al my plooie teen my wange op na my oë en ore toe,” lag Lerina en skud haar kop. “Maar ek is dankbaar en so diepgelukkig, kindjie, want jy is terug by ons in Huis Groeneweide. En jy is nou ’n gekwalifiseerde hospitaalsuster. Dis waarom ek dít gebring het,” vervolg sy en haal ’n juweelboksie uit haar broeksak.
“Vir my?” vra Wiandri met blye verrassing, neem die juweelboksie en maak dit gretig oop. “Maar …” Sy staar oorstelp na die goue diamanthalssnoer en bypassende oorbelle in die boksie en kyk ontsteld op na Lerina. “Dis … dis te veel … te waardevol. Dis ’n fortuin werd, tannie! Ek kan dit nie aanvaar nie, as ek dit verloor, sal …”
“Sal die versekering jou uitbetaal, kindjie, maar ek hoop jy verloor dit nooit nie, want dit het soveel sentimentele waarde,” val Lerina haar gerusstellend in die rede.
“As dit een van tannie se erfstukke is, moet ons dit liewer in die kluis toesluit. Ek dra nie dikwels juwele nie,” sê Wiandri en voel onthuts deur Lerina se vrygewigheid.
“Jy verstaan nie, Wiandri. Jou pa het die halssnoer en die oorbelle aan jou ma geskenk gegee toe sy haar BCom-graad verwerf het en sy het dit op haar troudag gedra. Jy sal al haar juwele erf as jy die dag vyf-en-twintig is, maar jy het vier jaar lank hard gestudeer om hierdie pragtige halssnoer en oorbelle te verdien,” verduidelik Lerina.
“My ma se juwele … Sy het dit gedra, daaraan geraak,” mymer Wiandri sag en streel met ligte vingerpunte oor die glinsterende halssnoer. Sy kyk op na Lerina en vervolg gretig: “Ek wed sy was net so bly en verras soos wat ek nou voel toe my pa dit vir haar gegee het. Ek sal dit nooit verloor nie, tannie. Baie, baie dankie. Dit bring hulle nader aan my – asof ek my pa en ma werklik geken het.”
“Ek hoop heimlik dat ek daar sal wees as jy die juwele op jóú troudag dra, Wiandri,” sê Lerina huiwerig, sien Wiandri frons en gaan haastig voort: “Maar moenie jou aan my praatjies steur nie, kind. Ons oumense is dol op troues en begrafnisse en enige ander funksie waar koek en tee bedien word. Ek verwag werklik nie van jou om met ons liewe Floorsie te trou nie – nie nadat hy jou twee maal ’n onverwagte bad gegee het nie.”
Wiandri frons onthuts. “Hoe weet tannie daarvan? Het die simpel Floors stories aangedra?” vra sy vies.
“O nee! Floors is veels te besig om al jou tasse aan te dra huis toe en langs jou deur op te stapel om sy asem op stories te mors. Jy ken die langasem Wessie: stuur vir my ’n boodskap op die selfoon en vra ek moet haar bel, en ek het nie die hart om haar te ignoreer nie.” ’n Onkeerbare laggie glip oor Lerina se lippe. Sy byt spytig op haar onderlip en lag weer. “Vergewe my, kindjie, maar Wessie het so tekere gegaan oor Floorsie wat jou in jou nat kleertjies beloer het en die bose, onkundige Grietjie wat niks van mans weet nie, dat ek nie anders kan as om te lag nie.”
“Ek was te kwaad en te nat om my oor my voorkoms te bekommer, totdat tant Wessie daarvan melding gemaak het. Floors is in elk geval te dom om na enige meisie te loer.” Wiandri swyg en vervolg onseker: “Ek bedoel, Floors is nie werklik dom nie, maar hy het beslis nie na my gekyk nie.”
“O nee, liefie. Floors het gekyk, want net ’n baie dom man sal nie na jou kyk nie, en Floors is beslis intelligent,” verklaar Lerina met sekerheid.
“Is hy, tant Lerina? Wat doen hy as hy nie Floors is nie?” vra Wiandri skepties.
“Die werk waarvoor hy opgelei is,” antwoord Lerina sonder om ’n oog te knip en draai weg na die deur. “Versteek jou juwele in die geheime laaitjie van jou lessenaar, my kindlief, en trek ’n borsel deur jou hare. Dis etenstyd.”
“Liewe land, hoekom is Floors se werk ’n staatsgeheim, tant Lerina? Hoekom is sy náám ’n staatsgeheim?” roep Wiandri vieserig terwyl sy stap na haar lessenaar en die laai uittrek. “Al die onnodige geheimsinnigheid! ’n Mens sou sweer Floors is die hertog Florentius van Venterikius wat deur sluipmoordenaars agtervolg word en vir sy lewe vrees!” roep sy hard toe Lerina nie reageer nie.
Wiandri stamp die lessenaarlaai toe, draai ergerlik na haar kamerdeur en sien Floors met ’n tas in elke hand in die oop deur staan.
“Jammer, Floors,” kom dit spytig van Lerina, wat die deur vir hom oopgemaak het. “Jou geheim is nog veilig, kind, want ons personeel is almal in die kombuis besig of na hul eie huise toe vir middagete.”
“Tannie het my laat verstaan sy is ’n bedagsame, liewe meisie,” verwyt Floors haar bitter, “maar sy is ’n sarkastiese, snipperige, astrante klein pes met ’n blikstemmetjie wat tant Wessie soos ’n siek kuikentjie laat klink. Sal tannie omgee as ek haar in die visdam verdrink?”
Lerina byt ’n glimlag op haar onderlip weg en antwoord redelik: “Dis ’n bietjie drasties, Floors. Ek het begrip vir Wiandri se frustrasie. Dit moet irriterend wees om omring te wees deur soveel geheimsinnigheid. Sal jy haar nie in jou vertroue neem nie, kind?”
“Nooit nie, tannie!” antwoord hy met grimmige finaliteit en kyk met smeulende, donker oë na Wiandri. “Verwys nog net een maal na my as Florentius, meisiekind, en ek … ek …”
“Ja, Floorsie?” vra Wiandri met ’n sonnige glimlaggie.
Floors lig sy hande op asof hy haar met haar eie tasse wil gooi, plak die tasse haastig naas die spieëltafel neer, en sê bruusk: “Jy kan self die res van jou tasse indra, meisiemens. Juffrou Lerina, ek sal voortaan in my eie woonstel eet.”
“Ek verstaan, Floorsie,” antwoord Lerina met ’n suggie en druk die deur agter hom toe voordat sy na Wiandri draai. “Dis so ’n netelige situasie, my liefie.”
“Ek wil net weet wie Floors werklik is en wat sy werk is. Op die oomblik wonder ek of hy ’n voortvlugtende terroris is, want niemand wil eerlik wees met my nie,” antwoord Wiandri, borsel haar hare voor haar spieëltafel en draai vraend na Lerina. “Ek is al mondig, tannie. Ek glo nie meer aan Kersvader en die Paashasie nie. Hoekom moet ek nou aan Floors glo?”
“Floors het reg op sy privaatheid, kindjie. Ek het beloof om sy identiteit tot tyd en wyl geheim te hou, en dis presies wat ek gaan doen. Ek het so gehoop jy en Floors kan vriende wees, goeie vriende, maar nou ja …”
“Hoekom?” vra Wiandri skerp. “Het tannie besluit hy is die man met wie ek moet trou?”
“Genade toggie! Ek is skuldig aan baie sondes, kind, maar ek is nie so voortvarend nie. Dalk hoop ek jy sal met Morné Greeff trou, bloot omdat julle saam grootgeword het, maar ek het nie vir Floors genooi vir ’n kuiertjie omdat ek glo hy is die regte man vir jou nie. Hy hoop om ’n goeie werk te kry en ek help hom, bloot omdat ek jare gelede sy mense geken het. Kom ons gaan eet.”
En nou is tant Lerina vies vir haar en dis alles die geheimsinnige Floors se skuld. Nee, dis haar eie skuld. Sy was kinderagtig om soos ’n nuuskierige agie op te tree, speel Wiandri oop kaarte met haarself en vat tant Lerina aan die arm terwyl hulle in die gang af stap na die trap. “Ek is jammer, tannie. Ek sal ophou karring oor Floors. Ek sal vanmiddag by matrone Le Roux gaan inloer en hoor of sy nie my hulp in die hospitaal nodig het nie.”
“Dan is jou peetma nou matrone Le Roux, in plaas van net Christelle?” vra Lerina met ’n tergende glimlaggie.
“As ek in ons hospitaal werk, sal ek haar as matrone moet aanspreek. Ek oefen net solank.” Wiandri glimlag ingenome. “Dit sal pret wees om ná die groot stadshospitaal in ’n privaat hospitaal te werk – ás ek werk kan kry. Het sy niks vir tannie gesê nie?”
“Christelle weet jy kom vandag huis toe. Sy sal wel kom inloer. Maar hoekom is jy so haastig om te begin werk, kindjie? Jy het ’n behoorlike vakansie nodig ná al jou studie – al is dit net om my geselskap te hou.”
“Ja, seker, tannie,” antwoord Wiandri afgetrokke, onrustig oor die ware rede vir haar gretigheid om te begin werk. Floors. Floors is hoekom sy nie in haar eie huis kan ontspan nie, want hy het ’n vreemde uitwerking op haar sintuie. Sy glo nie aan ’n chemiese reaksie tussen mans en meisies nie; sy glo nog minder dat sy aangetrokke voel tot Floors, selfs al geniet sy dit so om met hom rusie te maak en in sy enigmatiese diepbruin oë te kyk. As hy haar net met sy donker geheime wil vertrou … Dis tóg jammer Floors kan nie eens ’n klein bietjie van haar hou nie, dink sy, en sug sielsongelukkig.
Wiandri steek later die middag in die deur van Lerina se privaat sitkamer vas en sien Grietjie en Lerina by ’n tafeltjie sit, besig om ’n legkaart te bou, terwyl Floors op die breë, gestoffeerde vensterbank sit en voorlees.
“Tannie het altyd tot vieruur smiddae gerus,” sê sy afgehaal en verkwalik Lerina met haar oë.
“Rus?” vra Grietjie skepties. “Die oumens – ek bedoel, juffrou Lerina het smiddae meer as twee uur lank op haar bed gelê en haar bekommer oor haar bloeddruk, haar hart en haar liddorings. Floors het besluit sy kan tot drieuur rus en daarna lees hy vir ons al ons geliefkoosde liefdesverhale voor terwyl ons legkaarte bou of brei of hekel.”
“Jy het nog nooit ’n steek in jou lewe gebrei nie, Grietjie, en jy weet nie hoe om ’n hekelnaald vas te hou nie. Ék bou die legkaart en jy verslind jou malvalekkers en steel my pepermente,” sê Lerina beskuldigend.
“Konsentreer op jou legkaart en hou op om kort-kort jou pepermente te tel, juffrou Lerina. Dis sonde om suinig te wees,” sê Grietjie betigtigend en draai met ’n ingenome glimlaggie na Wiandri. “Floors is wonderlik goed vir ons, my engeltjie. Ná middagkoffie gaan stap ons deur die tuin of af rivier toe. Hy sê hoe ouer ’n mens is, hoe meer oefening moet jy doen.”
“Is Floors ’n deskundige op die gebied van oefening, tant Grietjie?” vra Wiandri gelykmatig, sien uit die hoek van haar oog dat Floors opgestaan het, maar weier om na hom te kyk.
“My pa is byna sestig en hy glo oefening is goed vir hom. Stem jy nie saam nie, Wiandri?” vra Floors uitdagend, asof hy verwag dat sy hom gaan weerspreek.
“Ek is ’n verpleegster, nie ’n oefeningfoendi nie, Floors,” antwoord sy kortaf.
“Kom sit hier langs my, kindjie,” nooi Lerina hartlik, “en help my met hierdie legkaart. Daar is soveel blou lug en see dat ek tot volgende Kersfees aan die ding sal bou. Floors gee nie om om te lees nie, selfs al hou hy kamstig nie van liefdesromans nie.”
Sy het nie meer beheer oor haar verraderlike emosies nie, dink Wiandri met groeiende kommer, want om in dieselfde vertrek as Floors te wees, is voldoende om haar op net een onderwerp te laat fokus: op hom. Haar gedagtes, haar sintuie, selfs haar hartklop maak haar intens bewus van sy teenwoordigheid, en gebruik sy nie al haar wilskrag nie, staar sy asof betowerd na sy gespierde arms en bene. Sy weet sy sal haar verheerlik in die volmaaktheid van elkeen van sy gelaatstrekke, daarom durf sy nie na hom kyk nie. Floors sien haar skaars raak, maar hy beskik oor ’n magiese krag wat haar aantrek en hom die middelpunt van haar bestaan maak.
Gevaarlik.
Die woord fluister deur haar gedagtes, maar sy ignoreer die waarskuwing van haar verstand. Tant Lerina vertrou hom, so sy het niks te vrees nie. Maar sy mag nie vergeet nie: Floors is ’n onbekende indringer met ’n onbekende verlede.
“Ek is bly jy het gekom, Wiandri. As jy die boek verder sal voorlees, sal ek oom Ben in die tuin gaan help,” onderbreek Floors haar tobbende gedagtegang en hou die boek uit na haar.
“Nee, Floorsie, jy word met ’n bord kos betaal om te lees. Ek het hope ander dinge om te doen,” sê sy vermakerig, draai om en draf vinnig in die gang af na haar slaapkamer.
Tant Lerina sal haar verkwalik oor haar geniepsige woorde, dink Wiandri skuldig, maar tant Lerina was nog nooit in haar situasie nie; nie dat sy sekerheid het oor wát haar situasie is nie. Sy weet net dat Floors haar terselfdertyd aantrek en grensloos irriteer. Sy is kwaad vir hom omdat … omdat sy hom byna in ’n oogknip liefgekry het en so weerloos voel, huiwerend tussen blydskap en hartseer, dat sy wil huil.
“Nee!” bars die luide ontkenning oor haar lippe.
Wiandri skrik vir die klank van haar eie stem, raap ’n boek op en storm by haar kamer uit na die trap. Dis die spanning van haar finale eksamen, die lang ure agter die stuurwiel en die gebrek aan slaap wat haar denkvermoë aangetas het, redeneer sy met haarself. Sy sal in die somerhuisie gaan wegkruip, haarself opkrul op haar geliefkoosde bamboesstoel en lees – en nie een maal aan Floors Venter dink nie, want sy is twee-en-twintig, ’n hospitaalsuster en veels te intelligent om op ’n geheimsinnige vreemdeling verlief te raak, besluit sy, en draf by die agterdeur uit.
Sy hou al byna twee uur lank haar liefdesroman in haar hande vas, maar sy het nog nie ’n enkele woord gelees nie, besef Wiandri wanhopig. Hoe kan sy konsentreer as sy oor en oor elke woord, elke kyk, elke gebaar van Floors voor haar geestesoog herroep? wonder sy en sit haar boek met ’n oorwonne suggie neer. Sy sal nie lees nie. Sy sal aan Floors dink en met haar verstand ’n logiese verklaring vind waarom sy haar verbeel dat sy holderstebolder op hom verlief geraak het. Nee, sy het nie …
“Oom Ben!” hoor sy Floors naby die somerhuisie roep en voel haar hart bly ruk in haar bors. “Het oom nie vir Wiandri gewaar nie?”
“Nee, Floors,” herken Wiandri hul tuinier, Ben Moolman, se stem. “Wiandri het my net ná middagete kom groet, maar ek neem aan sy is weer terug huis toe. Of dalk het sy by die perdestalle gaan inloer. Tag, dis ook al amper vyfuur. Die dag hardloop weg as ’n man besig is met dinge wat die moeite werd is.”
Wiandri sluip na die noordelike venster van die somerhuisie en loer tussen die digte jasmynranke deur na waar Floors en Ben in die roostuin staan.
“Oom het darem ’n pragtige tuin. Hoe lank werk oom eintlik al hier?” vra Floors en kyk bewonderend om hom rond.
Ben skuif sy strooihoed uit sy oë, krap agter sy oor en stoot ’n kuglaggie oor sy lippe. “Seker maar vandat ek kon loop, ou seun.” Hy kuglag weer en verduidelik: “Ek is in die tuinhuis gebore, ons is al vir geslagte lank tuiniers op Groeneweide. Ek het by die landbouskool geleer en toe het ek reguit teruggekom huis toe, want ons Moolmans woon langer op hierdie ou plek as juffrou Lerina. My oupa kon stories vertel oor die man wat die huis laat bou het.”
“A!” sê Floors en klink asof hy werklik belang stel. “Dan is die Rosseau’s nie die oorspronklike eienaars van Huis Groeneweide nie?”
“Nee, Floors. Juffrou Lerina was al hier toe ek gebore is, by die vyftig jaar gelede, maar my pa en veral my oupa het van die ander mense gepraat. Ek kan nie nou aan die van dink nie, maar ek meen juffrou Lerina sal jou kan sê. Hoekom vra jy haar nie?”
“Die geskiedenis van ’n ou huis is altyd interessant, maar dis nie belangrik nie, oom Ben. Ek veronderstel Wiandri sal eendag die plek erf, of het juffrou Lerina ander erfgename?” hou Floors sy ondervraging vol.
Floors is net so nuuskierig soos sy, dink Wiandri met ’n tevrede glimlaggie, geensins bekommerd omdat sy die rol van luistervink speel nie. Sy het die volste reg om in die somerhuisie te sit en lees en as sy toevallig mense hoor praat, mag sy maar luister, redeneer sy verontskuldigend.
“Geeftig, nefie, ek kan my nie voorstel dat juffrou Lerina Groeneweide aan enigiemand anders sal nalaat nie – nie sy of Grietjie nie, want hulle vertroetel Wiandri van haar kleintyd af soos ’n skaars orgidee. Nie dat ek hulle verkwalik nie: Wiandri was nog altyd ’n soet kind. Sy het hulle nooit enige hartseer of rede tot kommer gegee nie. Ek hoef nie juffrou Lerina se testament te lees nie. Ek weet Wiandri sal Groeneweide erf,” antwoord Ben beslis en kyk Floors skerp aan. “Maar hoekom vra jy my so uit oor juffrou Lerina se besigheid? Is Wiandri nie mooi genoeg sonder ’n groot erfporsie nie?”
Hoera vir oom Ben, dink Wiandri, en glimlag breed toe ’n donker gloed oor Floors se nek en gesig kruip. Floors het haar getreiter oor haar nat klere en die foto’s van haar in haar bikini, en nou kan sy hom heimlik uitlag oor sy nuuskierigheid.
“Ek is seker dit sal nie vir Wiandri nodig wees om vir haar ’n man te koop nie, oom Ben, maar wat sal sy met so ’n kasarm van ’n huis doen? Jongmense verkies die opwinding van ’n stad.”
“Wiandri is ’n kind van Groeneweide, Floors, sy is hier gebore en die ou plek is in haar bloed. As sy trou, sal sy haar man hierheen bring en haar kinders hier grootmaak. Nie dat jy sal verstaan nie, nefie, ek vermoed jy was seker ’n klerkie in die stad en nou sukkel jy om ’n plattelander en ’n handearbeider te wees.” Ben kuglag en skud sy kop meewarig. “Jy is ’n slim kêrel, Floors. Jy ken die Latynse name van die struike en ek sien jy het allerlei dik boeke op jou boekrak in jou woonstel. Soek maar weer vir jou ’n werk in die stad, julle geleerde jongmense het nie liefde vir die grond nie.”
“Dalk doen ek dit, oom Ben,” antwoord Floors bedroë. “Ek het net toevallig ’n bietjie kennis van plante omdat my pa soveel in tuinmaak belang stel.”
“Uhm. Moet ’n gawe man wees, jou pa. Dankie vir die gesels, Floors, maar nou moet ek my gereedskap gaan bêre. Dis vyfuur en my werksdag begin met dagbreek – ek het my rustyd verdien.” Ben lig die handvatsels van die kruiwa op, kyk reguit na die somerhuisie en roep gemoedelik: “Naand, Wiandri! Lig loop vir die stadskêreltjie, nooientjie. Hy stel alte veel in jou erfgoed belang!”
Wiandri leun tussen die jasmynranke deur oor die vensterbank en skaterlag toe Floors onthuts omswaai na die somerhuisie. “Ek het vier jaar lank lig geloop vir stadskêreltjies, oom Ben! Floorsie is net nuuskierig. Nag, oom!”
Wiandri hoor Ben se genotvolle kuglaggie terwyl hy die kruiwa wegstoot, maar haar oë is vasgenael op Floors se sonbruin bene wat met lang, kragtige hale oor die grasperk na haar toe beweeg. Sy is twee-en-twintig, nie ’n onervare tiener nie, herinner sy haarself en glimlag met liewe onskuld reg in sy oë.
“Wie is nóú ’n laakbare luistervink, snip?” vra hy met ’n teësinnige glimlag.
“Daar is ’n verskil, Floors. Ek is deel van Groeneweide en jy is ’n indringer. Ek het die reg om na enige gesprek te luister,” verduidelik sy met smaak.
Hy staar haar oomblikke lank in stilte aan, sy uitdrukking stroef, en sê ongeduldig: “Klim deur die venster, Wiandri. Ek sal jou help. Ek voel soos Romeo om so te moet opkyk na jou.”
“Jy sal nie weet hoe om soos Romeo te voel nie, Floorsie, want Romeo was verlief,” spot sy, klim gemaklik op die vensterbank en spring af voordat hy haar kan help.
“Wat laat jou dink ek het nie ’n vrou en ses kinders by die huis nie?” vra hy vinnig.
“Omdat my groothartige tant Lerina lankal huisvesting aan jou vrou en ses kinders sou gegee het, aangesien jy werkloos is,” antwoord sy ongesteurd en verwens Floors oor sy woorde. Ís hy getroud? Aantreklike mans soos Floors bly nie lank ongetroud nie. Hy is niks anders as ’n frustrasie nie: Sy wonder oor sy werklike naam, sy werk, en nou nog sy onbekende vrou en kinders, wat moontlik nie eens bestaan nie. Sy vra agterdogtig: “Hoekom is jy so nuuskierig oor Groeneweide, Floors? Wil jy ons huis koop?”
Hy glimlag skrams. “Ek wens ek kon, maar ek sal nie in ’n leeftyd genoeg geld verdien om dit te kan doen nie. Ek wonder maar net wat jy met die ou plek gaan doen as jy dit eendag erf. Nie alle mans sal bereid wees om op Wernerspan te woon nie.”
“Sommige mans sal. Mans soos onsuksesvolle skilders en skrywers en digters en werklose sukkelaars soos jy, Floorsie,” terg sy.
“Dis presies wat ek in gedagte gehad het nadat my vriend my van tant Lerina en haar kleinniggie vertel het. Ek is ’n werklose sukkelaar. Sal jy asseblief met my trou, Wiandri?”