Описание книги
“Ek hou hiervan – ’n seenimfie in my arms, wat die golwe vir my uitgespoel het. En nou is jy myne . . . ek wonder wat ek met jou gaan doen?” Sonja Retief kyk in die groot, donker man se gesig en sy wonder weer eens watter kleur sy oë is, want hulle word steeds versluier deur sy digte wimpers. Sy kan nog die kolkende water van die branders op haar voel, die soutwater in haar mond proe, en histerie wil-wil haar weer oorval. Maar die hitte van sy liggaam teen hare bring ’n skielike warmte in haar, stuur ’n rilling van opgewondenheid deur haar hele wese. Arno Landman . . . dis wat haar ouma Hannah hom genoem het, maar hoe ken sy hom? “Arno Landman, van die plaas Erfdeel?” het haar ouma gevra en vir die eerste keer in haar hele lewe het Sonja haar ouma sprakeloos gesien. Hoekom het die jongman só ’n uitwerking op haar ouma gehad, en vanwaar ken sy hom? Hierdie vrae sou nog baie keer deur Sonja se gedagtes warrel voordat sy eindelik die antwoorde daarop sou kry. En sy sou leer dat dit nie net jong mense is wat gekasty word deur die pyn van die liefde nie. Dat ouderdom nie noodwendig ’n skans om ’n mens bou wat jou vrywaar van die pyn wat so lank, lank gelede in jou binneste gebore is, maar wat jy nooit werklik vergeet het nie.