Читать книгу Die landheer van Koningshof - Schalkie van Wyk - Страница 3
1
ОглавлениеErika Strauss draf energiek en uitgelate die enkele, breë trappe op na die voordeur van haar ouerwoning en sien haar ma in die ruim ingangsportaal voor die antieke hoedestaander staan. Haar oë ontmoet dié van Phoebe Strauss in die spieël van die staander, en Erika steek haar opgewondenheid gou agter ’n skans van hoflike ingetoënheid weg.
“Erika,” sê Phoebe, haar stemtoon koel en formeel, en sy knik haar kop byna onmerkbaar.
Haar ma se onpersoonlike groet is sedert Erika oud genoeg is om vir haarself te dink, ’n irritasie, byna ’n belediging. Sy het gedink dat dit darem vandag van alle dae ’n bietjie anders sou wees. Erika is sommer lus en klap haar hakke teen mekaar en salueer haar ma met ’n luide: “Samajoor!” Maar sy groet beheers: “Hallo, Ma. Ek het Ma nie so vroeg tuis verwag nie. Wanneer het Ma se vlug geland?”
“’n Uur gelede.”
“O, maar Ma kon mos laat weet het.”
Phoebe haal haar skootrekenaar en slimfoon uit haar aktetas langs die hoedestaander en antwoord: “Waarom sou dit nodig wees? Ek het gereël dat die maatskappy ’n motor stuur om my by die lughawe op te laai. Dit was immers ’n sakereis soos enige ander, hoewel dié een natuurlik langer as gewoonlik was.”
Erika haal stadig asem om haar groeiende irritasie met haar ma se afsydigheid te beteuel. “Natuurlik, Ma, maar ek en tant Lallie –”
“Hoor ek iemand my naam ydellik gebruik?” vra ’n vrolike vrouestem agter Erika, en dan kom Lallie de Vos met ’n fladdering van bloesmoue en broekspype die voorportaal binne. In haar arms is ’n stapel opgevoude klere. Dit toring so hoog die lug in dat sy haar kop skeef moet draai om daarom te loer.
“Toe, toe, moenie my met ’n mond vol tande staan en aangaap nie, Phoebe, my ding. Dink jy nie ek was verspot geseënd om vandag soveel kleertjies van die rykes present te kry nie? Die stapel het te hoog geraak, toe trek ek maar van die goed aan. Ek het twaalf bloese en tien langbroeke aan my lyf,” oordryf sy. “Dis maar goed ek het begin met die maer vroutjies s’n en geëindig by die groter nommers, anders sou ek nooit soveel klere aangetrek kon kry nie.”
’n Oomblik van geskokte stilte.
“Sjoe, sjoe, nou kry ek glad gloede van alles wat ek aanhet,” kla Lallie. “Toe nou, my minsame Phoebe, help my losknoop en uittrek. Kan jy nie sien ek vergaan van die hitte nie?”
Erika bekyk haar liewe tante Lallie, haar oë tranend van ingehoue lag, haar hand ferm op haar mond gedruk om te verhoed dat haar ma bewus word van hoe geamuseerd sy is. Erika sê gereeld tant Lallie moet eerder van die motor gebruik maak wanneer sy klere vir die minderbevoorregte mense gaan kollekteer, maar haar tannie verkies om van deur tot deur te stap, want sy wil tog nie so stop-stop ry nie.
’n Stappie deur die ou buurt met sy groot bome en breë sypaadjies is boonop goeie oefening. Lallie is vandag omtrént ’n spektakel met al die lae klere. Maar met soveel liefde en lag in haar, aanvaar vriende en vreemdelinge haar eksentrieke gedrag heel gemoedelik.
“Net jy,” Phoebe kyk teen haar neus af na Lallie, “kan glo dis verspot om geseënd te wees – of moontlik spreek dit van jou gebrek aan ’n ryker woordeskat. Jou daaglikse gedrag spreek in elk geval nie van ’n normale intellek nie.” Daar is arktiese afkeer in haar stemtoon. Sy draai om en stap sonder meer na haar studeerkamerdeur wat uit die voorportaal lei.
“Beledigende swernoter! As ek nie so dik van my gebedelde kleertjies was nie …!” skree Lallie kamma dreigend, en knipoog skalks vir Erika wat gesmoorde piepgeluidjies agter haar hand maak. “Lag maar, my liefietjie. Jy weet jou intelligente ma het gesorg dat haar studeerkamer klankdig is.”
“Ek lag net van senuweeagtigheid wanneer tannie my ma so uittart. Is tannie nie bang sy kom iets oor wanneer sy so kwaad word nie?”
“Nee wat, hartjie. Jou goeie ma is in volle beheer van haar emosies en haar gesondheid. Haar skrale liggaam sal nie sonder haar skriftelike toestemming siek word nie,” antwoord Lallie onbesorg en vee met die rug van haar hand oor haar swetende voorkop. “Genade toggie, die stoom blaas al by my ore uit. Kom help tog losknoop, sussie.”
Erika loop gewillig nader, help om die boonste bloes uit te trek en sê skertsend: “Dalk het ’n voorbarige man tydens hul vlug van Los Angeles af te lank na my ma gekyk, daarom dat sy vandag so ekstra onverdraagsaam is. Sy ignoreer tannie gewoonlik wanneer tannie allerlei manewales ter wille van liefdadigheid aanvang, want sy weet dis vir ’n goeie doel.”
“Jou ma is ’n mooi vrou, al is sy al vier-en-vyftig. Sy het die figuur van ’n model en haar dik blonde hare en ysblou oë herinner my altyd aan ’n Sweedse skoonheid. Dis geen wonder dat al wat ’n man is haar gereeld lastig val nie,” sê tant Lallie. “Maar hulle kom gou agter dat sy die laaste vrou is met wie hulle moet flankeer. Mooi, ja, maar te bitter om ooit weer ’n man in haar lewe te wil hê.”
Ongeduldig vervolg sy: “Help my om uit hierdie klere te kom, Erika! Ons kan praat terwyl jou vingers besig is, anders smelt ek net hier in die voorportaal op jou ma se duur Persiese mat!”
“Tannie is blykbaar net so vergeetagtig soos my ma, want tannie onthou nie watter dag dit vandag is nie,” verwyt Erika terwyl sy Lallie uit haar tweede bloes help.
“Ek is ses-en-sestig, gesiggie, nie ’n honderd-en-ses nie. Wat het ek kamtig vergeet?” vra Lallie kwaai, maar sy kyk vonkelend nuuskierig na Erika.
“Ek en Charmé het vandag ons jaar van verpligte gemeenskapsdiens voltooi om ons grade in kliniese sielkunde te kan verwerf, tant Lallie. Ons kan nou eindelik as sielkundiges praktiseer. Sê dis wonderlik! Sê ek is die slimste kind wat tannie ken! Is tannie nie ook bly nie?”
Lallie probeer om te glimlag, maar haar lippe bewe en haar oë skiet vol trane. “Haai … haai, dat ek nou so simpel kan wees … Staan en tjank, pleks van om saam met jou bokspronge van blydskap te maak.” Sy snuif hard, soek vergeefs na ’n snesie in die sakke van haar tweedehandse klere, en gebruik die mou van ’n bloes om haar trane te droog. “Ek laat al die kleertjies tog was voordat ek hulle uitdeel,” sê sy verskonend, haar uitdrukking verleë.
“Hoekom huil tannie?” vra Erika onbegrypend. Sy haal ’n snesie uit die sak van haar eie donkerblou langbroek en stop dit in die bewoë Lallie se hand, voordat sy geduldig voortgaan om die een na die ander bloes te help uittrek.
“Uit diepe dankbaarheid, my liefietjie.” Lallie kyk vlugtig oor haar skouer na die toe studeerkamerdeur en praat onwillekeurig sagter: “Jou ma is ’n pragtige vrou, maar jy nie minder nie, my hartjie. Jy het jou pa se sagte koperbruin krulhare en sy amberkleurige oë geërf, Erika. En anders as jou ma, is daar sonskyn in jou oë én in jou hart. Jy is net so mooi van binne as van buite en daarom kon jy ’n sielkundige word om ander mense met hulle probleme te help.”
Erika se hande word stil. “Tannie praat nou van my pa … Onthou tannie dat tannie Lallie belowe het om my van hom te vertel nadat ek my studie voltooi het?”
“Ek onthou, gesiggie,” antwoord Lallie met ongewone knorrigheid, haar uitdrukking meteens strydlustig. “Ek het al die jare soos die graf geswyg omdat dit jou ma se wens was, maar nou …”
“Sewe jaar lank het ek hard gestudeer om ’n praktiserende sielkundige te word,” sê Erika ongeduldig. “Maar om myself werklik te ken, moet ek weet waarvandaan ek kom. Ek moet meer van my pa weet en vrede maak met die rede waarom hy nooit deel van my lewe kon gewees het nie. Ek moet insig hê voordat ek begin praktiseer en ander mense moet help. Toe tog, tant Lallie, praat nou. Ek wag my lewe lank om net iets omtrent my pa te hoor.”
Lallie trek haar mond op ’n plooi, ’n fronsie kepend tussen haar grys wenkbroue terwyl sy die een langbroek na die ander uittrek totdat sy lank en skraal in haar ligblou bloes en duifgrys langbroek voor Erika staan.
“Gaan tannie nou my vraag beantwoord, of speel tannie doof?” vra Erika verwytend.
“Ek huiwer net, hartjie, want … Ek het ’n dure belofte aan jou ma gemaak dat ek nooit oor jou pa sal praat nie.” Sy sug. “Maar ek het ook ’n belofte aan jou gemaak en noudat jy volleerd is en op jou eie voete kan staan, gee jy seker nie om as ons tweetjies so saam-saam die huis belet word nie, liefietjie?” Lallie klink onseker.
Erika glimlag ongesteurd. “Glad nie, tannie. Ek is seker een van ons vriende sal vir ons ’n blyplekkie gee totdat ons ons eie woonstel kan kry.”
“Dit sal hartseer wees om na al die jare die huis te verlaat waarin ek grootgeword het, jou oorlede oupa- en oumagrootjie Villiers se huis, en die plek waar ek jou help grootmaak het, hartjie,” sug Lallie, “maar liewer dít as om saam met jou ma hier te bly as sy haar mes vir my in het nadat ek jou alles vertel het.”
Sy raap die langbroeke op. “Bring jy die bloese, Erika. Ek het hoeka ’n bottel sjampanje in my yskassie gebêre sodat ons jou prestasie vandag kan vier. Ek het darem nie heeltemal vergeet nie, hoor! Dit het my net ’n oomblik ontgaan toe jou ma my so vies gemaak het. Wil jy hê ek moet jou ma vra om saam met ons ’n glasie te kom klink? Soos ek haar ken, sal die verkrampte vrou sê geleerdheid is nie ’n verskoning om vroegmiddag dronk te word nie.”
“Gaan ons dronk word, tannie?” vra Erika skertsend.
“Liewerster nie, gesiggie. Om oud te wees, is erg genoeg; oud én dronk kan ’n liederlike prentjie wees,” antwoord Lallie vroom en frons kamtig toe Erika spontaan lag.
“Stadig, julle twee skelm drinkers,” praat ’n diep manstem uit die rigting van die voordeur. “Ek het my eie bottel Franse sjampanje saamgebring sodat ons jou groot dag behoorlik kan vier, Erika.”
Erika en Lallie draai om en sien hul bejaarde buurman, Jasper Rademan, lank en lenig nader kom uit die rigting van die oop voordeur, ’n bottel sjampanje in sy linkerhand.
Sy wens oom Jasper was haar bloedeie oupa, wel die begeerte vir die soveelste maal verlangend in Erika se binneste op. Daar is wysheid, begrip en warmte in dié oudregter se donkerbruin oë wat van hom ’n vriend en ’n vertroueling van jonk en oud maak. Op sewentig is hy nog aantreklik met sy silwerwit hare, sterk gelaatstrekke en vierkantige ken, besef Erika goedkeurend, en wens tant Lallie wil dit ook erken, want net dalk kan oom Jasper dan aangetroude familie van haar word.
Maar Lallie gee natuurlik voor dat ’n bejaarde man lastiger as ’n bedorwe kleuter kan wees.
“Oom Jasper!” Erika wag nie om sy uitgestrekte regterhand te skud nie, maar loop tot teen sy bors en gee hom ’n spontane drukkie. Sy staan op haar tone en soen hom op die wang. “Dankie dat oom onthou het. Oom het altyd verstaan hoe vreeslik belangrik hierdie dag vir my sou wees.”
Jasper druk ’n soen op haar voorkop. “O ja, ek het, nooientjie.”
“Jasper, dis my en Erika se dag. Hoekom moet jy nou jou lang neus en jou bottel duur sjampanje in ons partytjie kom steek?” kom dit verpletterend van Lallie.
“Lallie, my lief, Erika het my lank gelede genooi om vandag saam met julle te kom vier.” Hy vervolg sagter: “Sy het my ook vertel dat julle vandag oor haar pa gaan gesels en oor hom kan ek mos ook ’n bydrae lewer. Ek het belowe ek sal haar vertel wat ek van die saak weet.”
“Jou lief? Gmf!” antwoord Lallie met ’n hooghartige snuifie. Sy voel of haar krullerige hare nog netjies is en vervolg toegeeflik: “Aangesien dit so ’n spesiale geleentheid is, Jasper, kom saam na my private sitkamer toe, want sou Phoebe se studeerkamer se deur onverwags oopgaan, word ons van drankmisbruik en wangedrag beskuldig.”
Erika en Jasper kyk na mekaar.
“Toe, toe, gesiggie, gryp die bloese en bring hulle saam na my suite toe.”
Erika klink ’n glasie sjampanje met Jasper en Lallie en gaan sit op ’n gemakstoel teenoor die rusbank waarop hulle reeds sit. “Wie gaan my eerste van my pa vertel?” vra sy na ’n haastige proetjie aan haar drankie, en sy kyk gretig na Lallie. “Tannie kan begin. Watter doodsonde het my pa begaan dat niemand oor hom praat nie?”
Jasper kyk na die glasie in Erika se hand. “Die onkunde van die onskuldiges,” kreun hy asof hy swaar gewond is. “Lallie, waarom het jy Erika nooit geleer dat ’n goeie drankie nie soos koeldrank afgesluk word nie? Die besonderse aroma, die smaak wanneer dit op die tong …”
“Ja, ja, Jasper, en die borrels wat die neus kielie. Dis ’n groot lekkerte om sjampanje te drink, maar Erika gaan aan ons siele torring totdat ons haar van haar pa vertel het. Drink jy jou sjampanje maar ruik-ruik en proe-proe, my geleerde vriend, terwyl ek en Erika gesels.”
“Jy beskik oor die sonderlinge vermoë om my skuldig te laat voel oor my wetsgeleerdheid, Lallie,” verwyt hy.
“Hou op rusie maak met oom Jasper, tannie,” pleit Erika en por haar aan: “Toe ek tannie in my kleintyd oor my pa uitgevra het, het tannie my na my ma toe gestuur. Maar sy het –”
“Sy het gesê wie en wat jou pa is, is nie belangrik nie, aangesien hy jou nie ken nie,” voltooi Lallie haar sin onwillig, hartseer soos grys newels in haar oë. “Die onreg wat sy hom aangedoen het … of dalk moet ek sê: die onreg wat hulle mekaar aangedoen het.
“Hulle is albei skuldig.”
Erika betrag Lallie in stilte en sê-vra met oortuiging: “Tannie, ek vermoed al my lewe lank my ma wou my nooit gehad het nie.”
Lallie blik flitsend na Jasper wat sy kop beamend knik en met ’n afkeurende frons uitdrukking gee aan sy misnoeë met Phoebe se optrede.
“Waarom vermoed jy dit, my liefietjie? Sy deel nou wel nie drukkies en soentjies uit nie, maar nie alle vroue is demonstratief nie.”
“Dit is waar, tannie, maar ek dink nie dit is bloot haar geaardheid nie. Ek bewonder die sukses wat sy van haar loopbaan gemaak het, maar ek dink sy het dit soms ook as ’n verskoning gebruik om my te ignoreer … Toe ek klein was, was haar verskoning altyd dat sy op kantoor moet wees, dat haar beroep as sakevrou haar onverdeelde aandag vereis, daarom dat sy nie tyd gehad het om my belangstellings te deel of skoolkonserte of sportbyeenkomste by te woon nie. Ander sakevroue, selfs enkelma’s, kry dit wel reg om hul kind af en toe te ondersteun. Teen die tyd dat ek student was, het ek lankal aanvaar dat ek nie werklik in haar oë bestaan nie, want sy kyk dwarsdeur my, verby my, asof ons nie in dieselfde vertrek is nie. Wees eerlik met my, tannie: Wou sy nie ’n kind gehad het nie? Of was dit my pa? Het hy my en my ma verwerp omdat hý nie ’n kind wou hê nie? En nou verkwalik sy my omdat hy weggegaan het? Was hy dalk teleurgesteld omdat ek nie ’n seun was nie?”
Lallie byt op haar onderlip, lyk besluiteloos en antwoord aarselend: “Net jou ouers ken die volle waarheid, kindjie, en praat ek vandag … Ek kan jou ma se ewige vyandskap op die hals haal as ek te veel sê. Dalk moet jy tog maar weer probeer om inligting oor jou pa van haar te kry.”
“Soos op my mondigwording? O nee, tant Lallie. Ek was toe dwaas genoeg om te glo my ma sal besef ek het die reg om meer omtrent my pa te weet, dalk ’n foto van hom te sien, maar ek het my liederlik misgis. My ma het nie eens die moeite gedoen om my te antwoord nie. Sy het net na my gekyk – ek wonder tot vandag toe of dit veragting was wat ek op haar gesig gesien het. Ek sal haar nooit weer oor my pa kan uitvra nie.” Erika swyg, opnuut ontsteld, en vra na oomblikke van stilte: “Het … het my pa my ook verag, tant Lallie?”
“Nee, my hartjie. Evert Mynhardt wou bitter graag kinders hê, maar jou ma –”
“Evert Mynhardt! So dít is my pa se naam! Ek het nooit eens geweet wat sy van is nie omdat ek my ma se van het. Waarom het sy gekies om vir my die van Strauss te gee en nie Mynhardt nie, tant Lallie? Was hulle nie getroud nie? Ek wonder al die jare of ek ’n buite-egtelike kind is. As dit waar is, moes dit in daardie jare ’n groot skandaal gewees het. Is dit waarom my ma skaars iets met my te doen wil hê?”
“Toe nou, Erika,” kom dit paaiend van Jasper.
Lallie draai haar na Erika. “Jou befoeterde ma het gesorg dat jy haar nooiensvan kry, sussietjie, want in haar oë was jou pa ’n onbetroubare swakkeling. Maar nee, jy was nie ’n buite-egtelike kind nie.”
“O! Maar nou waarom …?”
“Gee kans, kind. Kom ek begin by die begin. My suster, Anja, jou ouma, was twintig jaar ouer as ek, maar sy was ’n liefdevolle mens, byna soos ’n tweede ma vir my. As sy nog geleef het, sou sy vanjaar ses-en-tagtig gewees het.”
“Ek wens sy het nie voor my geboorte gesterf nie sodat ek haar kon geken het. Maar as my ouma Anja regtig so liefdevol was, waarom is my ma so koud en onemosioneel teenoor my en tannie?”
“Ek sal probeer verduidelik, Erika.” Lallie oorweeg haar antwoord. “Tuis saam met ons is jou ma se gesig altyd koud en ongenaakbaar, maar toe sy jonk en verlief was op Evert … Sy was ’n beeldskone meisie, selfs al was sy stil en teruggetrokke. Jy het haar ovaalvormige gesig, haar hoë wangbene en fynbesnede gelaatstrekke geërf en daarvoor kan jy dankbaar wees, my hartjie. Ag, en toe Phoebe ’n kind was, was sy tog so fraai en liefdevol. Sy sou wonderlik gelukkig saam met haar ma, Anja, grootgeword het as dit nie vir haar pa, jou oupa Fritz Strauss, was nie. ’n Ryk sakeman, dié Fritz, en boonop aantreklik.”
“Lallie, het jy dalk op ’n leë maag gedrink?” vra Jasper ongeduldig. “Wat gooi jy sulke jakkalsdraaie terwyl Erika net die eenvoudige waarheid oor haar ouers wil hoor?”
“Jy weet so goed soos ek daar was niks eenvoudigs in Phoebe en Evert Mynhardt se verhouding nie,” troef Lallie hom.
“Oom Jasper is reg, tannie, want ek weet nou nog nie wat tussen my ma en pa skeefgeloop het nie,” sê Erika saaklik.
“Jy drink veels te vinnig, Lallie,” waarsku Jasper weer. “As jy miskien lomerig voel, leun terug teen die bank en knip ’n uiltjie. Ek kan Erika se vrae beantwoord.”
“Jasper Rademan, ek is so stemmig soos ’n ouderling en so nugter soos ’n non!” snou Lallie hom geraak toe.
Erika kreun haar frustrasie uit oor Lallie en Jasper se woordewisseling en kyk hulle beurtelings verwytend aan.
“Ja, ja, my gesiggie, ek kom nou daarby uit!” paai Lallie haar en vervolg nadenkend: “Dis Anja se man, ou Fritz Strauss, oor wie ek eers wil praat. Jy moet die agtergrond ken. Al is dit dalk ontstellend. ’n Wrede, humeurige man, die ou huigelaar Fritz! Almal het hom geken as ’n vriendelike, aangename mens en ’n suksesvolle sakeman, maar wanneer hy naweke ’n paar drankies te veel gedrink het, het Anja dit ontgeld. Hy het haar selfs seergemaak, maar altyd op plekke waar dit nie opsigtelik was nie. Phoebe het ouer geword en probeer om Anja te beskerm, maar toe haar pa op ’n dag sy hand teen die dogtertjie lig, het Anja genoeg gehad.”
Skok en ontsteltenis stoot in Erika se gemoed op en sy voel hoe haar gesig vertrek. Lallie klik haar tong hoofskuddend. “Dis nie ’n mooi storie nie, kindjie, maar as jy die volle waarheid ken, help dit jou moontlik om jou ma se optrede beter te verstaan.”
“Het niemand in die familie besef wat aangaan nie? Kon niemand hulle help nie? Ek weet die selfbeeld van vroue wat mishandel word, word soms so afgetakel dat hulle nie sterk genoeg is om hul man te verlaat nie. Hulle bly glo dat dinge sal verander … Het tannie nie besef wat aangaan nie? Tannie kon hulle dalk gehelp het.”
“Anja was so ’n geval, ja. Sy het met haar mondigwording ryk geërf en was nie finansieel van Fritz afhanklik nie, en buitendien sou my ouers Anja en klein Phoebe met ope arms in hierdie ou huis verwelkom het, maar sy het skaam en verneder gevoel en die mishandeling vir die wêreld weggesteek. Sy het veral nie iets teenoor my, haar jonger sustertjie, wat destyds nog ’n kind was, laat blyk nie. Onthou, Anja was byna twintig jaar ouer as ek.”
“Ja … ek het vergeet. Jammer, tannie, dis net ontstellend om te hoor. Wat het toe gebeur?”
“Anja se liefde vir Phoebe het haar die dag laat optree toe Fritz sy woede op die dogtertjie wou uithaal. Sy het tussenbeide getree. Dieselfde nag, terwyl Fritz sy roes afgeslaap het, het sy haar en Phoebe se tasse gepak en teruggekeer hier na ons ouerhuis. Phoebe was ’n kind van ses en ek was in my matriekjaar op hoërskool, daarom dat sy my nooit as ‘tannie’ aangespreek het nie.”
“Jou oupa Fritz Strauss het daarna opgehou drink, Erika,” sê Jasper. “Hulle is geskei, maar selfs ná hulle egskeiding het hy nog probeer om Anja te oortuig dat hy haar en Phoebe nooit weer kwaad sou aandoen nie; dat sy hom ’n tweede kans moes gee. Maar Anja het hom nie meer vertrou nie. Fritz het probeer om in verbinding te bly met sy kind, maar Phoebe het histeries geword toe sy hom die eerste keer weer sien. Sy het haar pa gevrees, en met die verloop van tyd het dit in haat en wantroue verander. Ek was twee-en-twintig toe Anja weer na haar ouerhuis langs ons s’n teruggetrek het met die klein Phoebe. Teen daardie tyd het ek al die bestuur van die huishouding oorgeneem in voorbereiding op die dag wat my ouers dit aan my sou bemaak. Phoebe het ek sien grootword. Sy was nog altyd aangetrokke tot my, maar sy het nie ’n enkele keer van Fritz Strauss melding gemaak nie.”
“My ma is nog altyd vriendelik teenoor oom, maar ek kan nie glo dat sy ’n man ooit werklik kon liefgekry het nie,” mymer Erika. “Veral nie noudat ek weet dat sy jonk reeds ’n afkeer aan mans gekry het nie.” Sy wend haar tot Lallie. “En tog sê tannie dat sy eens op ’n tyd op my pa verlief was. Is tannie seker? Was sy en my pa opsigtelik verlief op mekaar?”
“Jou ma is nie werklik ’n mannehater nie, liefietjie. Sy het wel bitter geword, is terughoudend, moontlik effens hooghartig, maar ek weet sy is gewild onder haar manlike sakevriende. Destyds was sy nie so bitter nie. Toe sy op agt-en-twintig vir Evert Mynhardt ontmoet, het hulle mekaar as ’t ware met die eerste oogopslag liefgekry. Ek twyfel nie vir ’n oomblik daaroor nie: Jou ouers het mekaar liefgehad toe hulle die dag getroud is.”
“Wel, dis iets om voor dankbaar te wees,” sê Erika met ’n oordrewe sug van verligting. Maar dan dink sy aan iets ontstellends. Kinderslagoffers van mishandeling kies soms lewensmaats wat ook dominerende gedrag toon en sit die bose kringloop so voort. “Maar wat dan van my pa, tant Lallie? Hoekom het hy my verwerp? Of het hy …? Het hy my ma dalk ook mishandel?” vra Erika onwillig, nie gretig om negatiewe inligting oor haar pa te kry nie. Sy hoop haar lewe lank hy was ’n goeie man, die beste pa in die wêreld, en dat dit haar ma was wat hom verdryf het. As nie een van jou ouers juis in jou belangstel nie, is dit werklik tragies. Dalk moes sy nooit na die waarheid omtrent hom gesoek het nie …
“’n Man uit een stuk,” antwoord Jasper oortuigend. “Om die waarheid te sê … dis wat ek jou vandag wou kom vertel het, Erika. In al ons jare van vriendskap, selfs nadat hy en jou ma geskei het, het Evert nog nooit nagelaat om na jou te verneem nie. As jy –”
“Vervlakste ou konkelaar!” bars Lallie onstuimig uit. “Hoekom weet ek niks hiervan nie? Het jy sowaar nog al die jare kontak met Evert?”
“Ja, Lallie. Ek kon jou nie gesê het nie, want ek het Evert my woord gegee. Verloor jy jou humeur, het jy dalk op ’n dag vir Phoebe vertel Evert Mynhardt het nooit sy liefde en belangstelling in sy enigste dogter prysgegee nie, want hy het my gereeld gebel om oor haar navraag te doen, en ek het net so gereeld van haar foto’s geneem en aan hom gestuur. Dan het Phoebe dalk iets gedoen om ’n einde daaraan te maak en dít wou ek beslis nie hê nie,” antwoord Jasper gelate, ’n ondeunde vonkeling in sy donkerbruin oë.
“Ek dink ek haat jou op hierdie oomblik, Jasper Rademan,” stoom Lallie boosaardig, maar dan verkrummel haar uitdrukking van ergernis en snuif sy bewoë: “Ag nee, mansmens, kyk nou hoe huil ek van pure blydskap.”
Hy druk ’n tweede snesie in Lallie se hand sonder om na haar te kyk, en verduidelik aan Erika: “Jou ouers het mekaar liefgehad, nooientjie, maar jou ma kon die vrese wat sy in haar traumatiese kinderdae ontwikkel het, nie afskud nie. Sy het met Evert getrou op voorwaarde dat hulle nooit kinders sou hê nie, want in haar hart het sy steeds gevrees dat selfs ’n goeie man soos Evert sou kon begin drink en haar en hulle kinders moontlik mishandel. Kinderloos het sy kans gesien om van so ’n man ontslae te raak, maar sy kon nie aanvaar dat haar kind dalk dieselfde trauma as sy sou moes deurmaak nie. Kan jy haar logika verstaan?”
“Ek het al met allerlei vrese en fobies kennis gemaak tydens my studie en gemeenskapsdiens, oom, so ek kan dit glo. Dit is duidelik dat sy as kind berading nodig gehad het, maar in haar kleintyd was sielkundige probleme mos ’n toestand waaroor mense agter hulle hande gefluister het, so asof dit ’n skande sou wees om ’n sielkundige te raadpleeg. Dis waar, nè, tannie?”
“Ja, gesiggie. Jou pa het aanvanklik tot jou ma se voorwaarde ingestem omdat hy lief vir haar was. Maar hy wou eintlik baie graag ’n kindjie gehad het en het boonop vas geglo dat hulle baba Phoebe van al haar vrese sou genees. Alles het goed gegaan met hulle huwelik en mettertyd het Evert vir Phoebe oorreed om tog maar ’n kindjie te hê.” Lallie sug hartseer. “Sy het uiteindelik ingestem en was gou swanger, maar gedurende die swangerskap het al haar ou vrese selfs sterker teruggekeer. Sy was heeltemal irrasioneel en paranoïes. Phoebe het Evert kwalik geneem dat hy haar omgepraat het en hulle rusies het al hoe erger geword totdat sy hom die huis verbied het en hulle geskei is.”
Erika sit soos ’n houtpop. Stomgeslaan oor die waarheid wat sy uiteindelik aanhoor.
“Toe Phoebe vir my vra om jou te help grootmaak …” begin tant Lallie weer. “Foei tog, ek vervies my vroegoggend en laataand vir jou ma en haar klipkoue hart, maar sy is die rede dat ek die liefde van ’n eie kind ken. Glo my, sussie, ek was flenters van hartseer en verdriet nadat my Willem op so ’n vroeë ouderdom op die operasietafel gesterf het, en dít sonder dat ons ’n kind gehad het wat na sy dood vir my ’n troos kon wees. Maar dis wat jy nog al die jare vir my was: my bloedeie kind én my kleinkind.”
“Myne ook,” kom dit beslis van Jasper, terwyl hy nog ’n mansnesie uit sy broeksak haal en dit in die bewoë Lallie se hand stop. “Dit was vir my vreemd om Phoebe en Evert se rusies oor hulle komende kind te aanskou omdat ek en Hannelie nie kon kinders kry nie. Partykeer wou ek hulle skud om hulle te laat besef watter groot geskenk op hulle wag. Ek het so na jou geboorte uitgesien! Met die verloop van jare het dit gevoel asof jy my eie dogter en sommer my kleindogter ook is, en kuiertjies by jou en Lallie het my ná Hannelie se dood aan die gang gehou.”
“Dankie, oom Jasper … en tant Lallie. Julle was nog altyd my eie, eie mense.”
Tant Lallie droog haar trane af. “Ek het nou oorgenoeg van familiegeskiedenis en trane gehad. Jasper, skink vir my nog ’n glasie sjampanje sodat ons die sussie se prestasies behoorlik kan vier. Ons kan nie hier sit en grens terwyl ons eintlik van blydskap moet juig nie. Toe-toe, ek kon nog altyd bottels sjampanje leeg drink sonder om beskonke te raak. Dis net my lippe wat beginne kriewel … moet ’n allergie wees.”
Jasper wil die sjampanje net skink, toe sy selfoon in sy hempsak lui. “Hallo?” antwoord hy. “Ja … Wanneer? … Ek sien … Ja, ek maak so. Ons praat weer. Tot siens.”
Hy sny die oproep af, sit sy foon in sy hempsak terug en draai na Erika. “’n Mens moet sjampanje eintlik nie op so ’n leë maag drink nie. Hoekom gaan soek jy nie ’n paar ryp perskes in die tuin van die leegstaande huis hier langsaan nie? Die Coetzees het gesê ons is welkom om vrugte in hulle boord te pluk totdat hul huis verkoop is.”
“Maar ek wil nog oor my pa uitvra, oom.”
“Ja, nooientjie, maar ek wil eers ’n paar dinge met jou tante Lallie bespreek, as jy nie omgee nie. Ek sal sorg dat my huishoudster vir my en Lallie middagete maak, want jou ma gaan ’n oorval kry as sy agterkom ons het in die oggend sjampanje gedrink. Maak nou seker dat jy ook iets eet, hoor?”
Erika is nuuskierig oor die oproep wat die oom gekry het en oor wat hy met tannie Lallie wil bespreek, maar nou-nou is dit private sake, dalk ’n liefdesverklaring. Sy gaan liewer nie inmeng nie. Sy sal maar net moet wag.
“Nou goed dan,” gee sy toe.
“Bring vir my ’n paar perskes saam,” versoek hy en kyk glimlaggend saam met Erika hoe Lallie na elke slukkie sjampanje haar pikante neusie optrek en ’n jeugdige giggellaggie met haar vingers probeer smoor.
“Ek dink oom-hulle moet sommer gou gesels, want tant Lallie raak nou heel vrolik van die sjampanje. Sodra sy ophou giggel, begin sy hik en daarna raak sy gewoonlik aan die slaap.”
Sy het meer begrip vir haar ma se onvermoë om haar lief te hê noudat sy die waarheid oor haar ma se ongelukkige jeug ken, dink Erika terwyl sy deur hulle voortuin stap na die lae ringmuur wat hulle erf en die erf langsaan skei.
En haar pa? Daar is blye afwagting in haar hart vandat sy weet hy stel nog al die jare in haar belang. Sy sal sorg dat oom Jasper haar alles oor haar pa vertel. Maar tant Lallie het natuurlik eerste aanspraak op oom Jasper se aandag, gee Erika toe.
Die feit dat sy haar studie afgehandel het en sy haarself nou nie regtig meer ’n student kan noem nie, vul haar tegelyk met heimwee en opwinding. Sy sien só uit na die grootmenslewe wanneer sy haar eie loopbaan kan bou. Om alles te kroon kan sy dit saam met haar beste vriendin doen. Charmé was elke tree van die pad saam met haar van hul voorgraadse studie af tot deur honneurs en hul meestersgraad in kliniese sielkunde, en hulle paadjie gaan nie hier doodloop nie. Dis opwindend om te dink dat sy saam met Charmé ’n praktyk gaan begin. Sy wens haar vriendin was vandag hier om dit saam met haar te vier, maar as sy sou kom kuier het, sou Charmé nie genoeg tyd gehad het om vir haar oorsese reis in te pak nie. Sodra sy terug is, gaan hulle beslis groot fees vier.
Ondanks al die opwinding voel Erika tog ’n bietjie nostalgies oor die jeug wat sy in hierdie huis deurgebring het. Sy tuur na die Coetzees se huis langsaan. Toe sy nog op laerskool was, het dit aan die Hanekoms behoort en het sy gereeld van die heerlike perskes uit hulle tuin gesteel. Hulle was soos ’n tweede gesin vir haar, nes oom Jasper, hul buurman aan die regterkant. Ja-nee, sy is lus om weer ’n keer soos daardie sorgelose kind te voel wat in iemand anders se tuin baljaar het. Sy klouter rats oor die ringmuur en spring af in die buurerf.
Haar landing is onvas, want dit voel asof die grond onder haar beweeg. Aardbewing! dink sy vir ’n breukdeel van ’n sekonde.
“Verduiwels! Nee!” swets ’n onbekende manstem onverwags in haar ore terwyl sy angsbevange na die ringmuur gryp.
Sy verloor haar balans, te verdwaas om sin te maak van wat met haar gebeur, en gaan sit die volgende oomblik geniepsig hard op die omgespitte grond van ’n blombedding.
“Einaaa …!” protesteer sy skril, kyk verwilderd op en staar in die gesig van ’n wildvreemde man, geklee in ’n groen oorpak en rubberkapstewels, met tuingereedskap oor die grasperk agter hom gesaai.
Die man staar haar oomblikke lank verbysterd aan. “Jammer, ek het nie besef dis ’n meisie wat op my rug beland het nie,” maak hy verskoning, skuifel agteruit oor die grasperk en gaan leun met sy rug teen ’n boomstam.
Sy kan nie glo sy was so dom om vir ’n oomblik te dink dat dit ’n aardbewing is nie. “Ek is skuldig en vra om verskoning,” sê sy verleë.
Erika besef die man kyk na haar met intensiteit wat haar ongemaklik laat voel. Hy het woudgroen oë, verskuil agter onmoontlike lang donker wimpers, ’n groot mond, ’n sterk manlike nek en breë bors wat na smal heupe lei. Dit maak van hom ’n baie aantreklike vreemdeling. Hy leun terug teen die boomstam, sy bene lank voor hom uitgestrek. Haar oë dwaal na sy groot hande en lang vingers wat ontspanne op sy bobene rus.
“Is jy die nuwe eienaar van die huis, meneer?” vra sy ongemaklik.
“Ek is maar net ’n tuinwerker, juffroutjie. Jy lyk nie na die tipe wat graag met tuinwerkers gesels nie.” Sy woorde is uittartend.
Sy bloos en staan gou-gou op. “Um … Ons het toestemming om perskes in die boord te pluk.”
Hy kom orent en troon skielik oor haar. Sy wil by hom verbyskuur, maar hy gryp haar hand. “Hoe weet ek jy praat die waarheid? Dalk wil jy die perskes steel?”
Erika staar na sy groot, warm hand. Sy is seker heeltemal laf, want sy geniet nogal die gevoel daarvan om hare. Sy ruk haar reg. Die man het haar immers so pas beledig. Hy insinueer mos nou dat sy ’n dief is.
Sy kyk op na die vreemdeling wat haar hand gevange hou. Sy is van plan om hom met wrewelrige verontwaardiging aan te gluur en te eis dat hy haar onmiddellik laat gaan. Hulle oë ontmoet egter, raak verstrik. Haar mond is ineens kurkdroog en sy lek senuweeagtig oor haar bolip.
Wat makeer haar? vra sy haarself ontsteld af. Hy is ’n wildvreemde man, maar sy ervaar fisieke genot net deur so naby aan hom te wees. Die deurdringendheid van sy blik laat haar besef dat hy stellig ’n sweem van die gevoelens op haar gesig waargeneem het.
“Toe, juffrou Strauss,” hy buig nader terwyl spot in sy oë dans. “Vertel die waarheid.”
“Natuurlik steel ek nie,” sê sy verontwaardig. “Los my!”
“Ou vriende sê gewoonlik asseblief.”
“Ou vriende? Ek ken nie eens jou naam nie,” tier sy.
“Moos. My naam is Moos. Wil jy weet wat my van is, juffrou Strauss? Stel jy werklik soveel in my belang? Tuiniers het gewoonlik nie universiteitsgrade soos jy en ook nie soveel geld nie.”
Sy merk weer die flikkering van ’n glimlag in die enigmatiese groen oë en sê agterdogtig: “Jy spot met my. Wie en wat is jy werklik, Moos? Hoe weet jy wie ek is? Ek is seker ek het jou nog nooit ontmoet nie.”
“Mag ek jou hand nog vashou as ek al jou vrae beantwoord, juffrou Strauss?” vra hy hoopvol.
“Absoluut nie!” Sy pluk haar hand uit syne, maar onmiddellik voel sy spyt, want sy mis die aanraking. Sy kyk stip teen sy bors vas en praat met soveel onwilligheid dat haar kakebeen pyn: “Moos, hoe weet jy wie ek is?”
“Daai gawe ou oom met die spierwit hare wat aan julle regterkant bly, het my vertel. Ek wou aan julle voordeur geklop het, maar toe keer die oom met sy bottel sjampanje in die hand my voor. Hy het my vertel die huis behoort aan die Strausse en dat ek hulle liewer nie moet pla nie, want hulle is besige mense. Maar mense wat soggens sjampanje drink, kan tog nie te besig wees nie.”
Erika glo hom steeds nie. Dié man het die tipe arrogansie wat sy nog nooit by ’n tuinwerker teëgekom het nie. “Het jy miskien die Coetzees se huis gekoop?”
“Jy praat van miljoene rande en ek is net ’n tuinier, juffrou Strauss,” antwoord hy nederig.
Sy kyk flitsend na sy hoekige ken, waag ’n kykie na sy hoë voorkop waaroor sy kuif terugval, en sê ongeduldig: “Goed, Moos, jy is ’n tuinier en ek is ’n roomysverkoper.”
“Hoop jy miskien ek gaan jou nuwe buurman word, juffrou Strauss?”
“Nee,” maak sy rusie. “As jy die dag intrek, emigreer ek na Alaska of dalk liewer Vlaandere, want daar is oorgenoeg ooreenkomste tussen Afrikaans en Vlaams.”
“Ek is opreg jammer, juffrou Strauss, maar ek is nie jou nuwe buurman nie. Toe ek laas gehoor het, was die Coetzees nog die eienaars van die huis, maar dalk het hulle al ’n koper.”
“Nou maar goed,” sê sy, “laat ek verbykom sodat ek die perskes kan kry en ons mekaar nooit weer hoef te sien nie.”
“As jy die perskes nie wil steel nie, moet jy daarvoor betaal.”
“Ek het jou gesê ons het toestemming.” Erika sit haar hand teen sy bors om hom uit die pad uit te druk, maar hy staan ferm. Vir ’n oomblik voel sy verwonderd hoe sy spiere onder haar hande beweeg en probeer sy die vonkies van plesier ignoreer wat deur haar lyf skiet.
Dan sluit sy sterk arms skielik om haar.
“’n Soen vir elke perske, juffrou Strauss? Sal jy tevrede wees met ses perskes?” Sy baritonstem is ’n streling op haar wang, sy glimlag reeds so intiem soos ’n soen.