Читать книгу 'n Lewe voor God - Stephan Joubert - Страница 60

25 FEBRUARIE Lees 1 Petrus 4:9

Оглавление

Wees goed vir mekaar

Wees gasvry teenoor mekaar sonder om te kla (9).

Christene het korttermyngeheues. Hulle onthou nie meer hulle sondes as hulle dit by Christus se voete gaan neersit het nie. Hulle hou ook nie wrokke teen ander nie. Verder versprei hulle nie lelike stories oor ander nie. God doen ook nie sulke dinge nie. Hy het nie genoeg plek in die hemel om al die lelike dinge oor mense te stoor as hulle dit in Jesus se Naam laat staan het nie. So ver soos die ooste en die weste van mekaar af is, so ver en nog verder, vat God ons sondes van ons af weg. Hy het nie lus om ooit weer daaraan terug te dink nie. Ons moet daarom presies dieselfde doen met ons eie foute en ander mense s’n. Ons moet dit agter ons kry! Anders is ons geloof nie veel meer werd as ’n geestelike winkelversiering nie.

Geloof kan verskriklik ingewikkeld word. Ons kan ons koppe breek oor moeilike teologiese sake en aan allerlei kerklike dispute deelneem. Maar daar is iets veel beters om te doen: Ons moet elke dag ons geloofsklere aantrek en ’n verskil maak aan die omgewing waar ons rondbeweeg. Ons moet gasvry wees teenoor ander en hulle met oop arms ontvang. Hulle moet met sagte woorde en goeie dade van ons kant af gedien word. Sulke dade bepaal of ons geloof ’n verskil in ons lewe maak.

Here, maak my gasvry en deernisvol.

'n Lewe voor God

Подняться наверх