Читать книгу 'n Lewe voor God - Stephan Joubert - Страница 92

27 MAART Lees Spreuke 27:17

Оглавление

Vriendskap kan goeie raad en vermanings aanvaar

Yster slyp yster; vriende vorm mekaar (17).

’n Stuk onbewerkte metaal word deur ’n ystersmid baie warm gemaak en dan met ’n hamer gevorm soos hy dit wil hê. Dieselfde gebeur wanneer ’n mens ’n swaard wil skerp maak. Daarvoor het jy ’n ander stuk klipharde metaal nodig. Yster is nodig om yster te vorm en te slyp. Dit was nog altyd so.

Goeie vriende is soos twee stukke yster. Vir die een stuk yster om ’n sekere vorm aan te neem, moet die ander stuk yster hard en aanhoudend daaraan skaaf en skuur. Dit is ’n moeisame proses wat met sweet en pyn gepaardgaan, maar die resultaat is die moeite werd. So gaan dit met goeie vriende. Omdat hulle mekaar vertrou, is hulle bereid om mekaar te skaaf en te vorm tot God se eer!

’n Goeie vriendskap is gebou op lojaliteit en eerlikheid. Goeie vriende sê vir mekaar as daar foute in hulle lewe is wat reggestel moet word. Hulle praat nooit agteraf oor mekaar nie. Nee, goeie vriende praat padlangs, opbouend, eerlik, deernisvol, ontfermend, reguit en mooi met mekaar. Hulle deel hulle diepste hartsgeheime met mekaar, want hulle vertrou mekaar. Hulle beskerm mekaar se integriteit. Die belangrikste van alles: Hulle bid gedurig vir mekaar. Is jy ook so ’n vriend?

Here, maak my ’n goeie vriend vir my vriende.

'n Lewe voor God

Подняться наверх