Читать книгу Die groot legkaart - Susanna M Lingua - Страница 4

2

Оглавление

Dit is byna halfses toe hul motorbestuurder vir Tina by haar vriende se huis aflaai en die drie mandjies met padkos en vier koekblikke na die twee voertuie toe neem waar die vier jong mans besig is om goed in te laai.

Almal verkeer in vrolike luim. Willem, die Eksteens se motor­bestuurder, spring ook sommer dadelik in en help die vier jong mans.

“Dankie, Willem,” sê Wessel toe alles later afgehandel is. Hy, Gerrie en Riana ken die Eksteens se motorbestuurder sedert hul kinderjare. Hy nooi Willem om eers saam met hulle koffie te drink voordat hy vertrek, maar Willem wys die uitnodiging vriendelik van die hand en sê dat hy die motor onverwyld moet terugneem, want dit is meneer Eksteen se motor waarmee hy juffrou Tina gebring het.

Die jong mense het ook net koffie gedrink, toe groet hulle oom Johan en tant Ella en vertrek. Tina en Renier ry saam met Wessel en Anita in die stasiewa, en Gerrie en Wilma ry weer saam met Riana en Hennie in sy motor.

Dit is ’n bitter koue Julie-oggend, maar die agt jong mense laat nie toe dat die koue hul vrolike lewenslus demp nie. Twee weke lank sal hulle van die beskawing af weg wees, twee genotvolle weke langs die dam waar die klanke van die natuur die musiek sal wees en die son die horlosie.

Drie uur later hou hulle langs die pad by ’n betontafeltjie stil om ontbyt te nuttig. Die wintersonnetjie is nog flou, maar almal is warm aangetrek en geniet hierdie opelugontbyt asof dit ’n feesmaal is. Hulle is vol grappies en gelag, en Renier wil van Tina weet of hy nou al geregtig is op die beste porsie van alles, of geld dit net by die kampeerterrein?

“Nee, dit geld hier ook,” sê sy en hou ’n ham-en-komkommertoebroodjie na hom uit.

“Ek word by die minuut liewer vir jou, ou swartkoppie,” fluister hy by haar oor. “Hoe voel jy oor my?”

Sy kyk hom met ’n glimlag aan wat tot in haar oë blink en antwoord dan self fluisterend: “Vanselfsprekend dieselfde.”

“Waarom sê jy vanselfsprekend, my poppie?” Sy stem is sag, net vir haar ore bedoel.

“Wel,” sy bloos liggies, “dit was bestem om so te wees. Ek dink dit was by ons geboorte al bestem om so te wees.”

“Ek voel lus en soen jou wanneer jy so pragtig bloos,” fluister hy weer in haar oor. “Maar jy het gelyk, my liefie, ons is van die grondlegging van die wêreld af al vir mekaar bestem . . .”

“Haai, watse gefluister is dit met julle twee?” roep Anita laggend uit. “Ons wil ook weet wat daar so ernstig gefluister word.”

“Nee, julle is nog te jonk,” terg Renier. “Dis grootmenssake wat ons bespreek, en baie beslis nie vir jul ore bedoel nie.”

“H’m, die vermetelheid van die mens darem,” sê Anita met haar neus in die lug. “Wessel, is jy of Renier die oudste?”

“Wel, Renier is die oudste. Hy is vier maande ouer as ek.”

“So, en hoe oud is dit?” wil Anita weer weet.

“O, hy is een van die dae vyf en twintig en as hy ’n perd was, kon jy maar net na sy tande gekyk het om sy ouderdom vas te stel,” antwoord Wessel.

Almal bars hartlik uit van die lag. Iemand roep skertsend uit: “Laat ons jou tande sien, Renier!” ’n Ander een begin uitgelate sing: “Dis ’n bowêreld, dis ’n onderwêreld, dis ’n onderstebowêreld . . .”

“H’m, g’n wonder hy hou hom so groot nie,” terg Anita.

“My dierbare skapie, jy praat nie so van ’n ou man nie,” wys Wessel sy meisie goedig tereg. “Oor etlike maande is Renier ’n volleerde, gegradueerde ingenieur, en dan is jy maar eers ’n derde­jaartjie.”

“H’m, baie indrukwekkend!” terg Anita laggend. “Sal julle manne asseblief die mandjies vir ons na die motors toe neem?”

Noudat hulle ontbyt genuttig het, voel almal gereed vir die lang pad wat voorlê. Volgens Renier se berekeninge behoort hulle die dam voor middagete te bereik.

Renier het gelyk, want pas voor eenuur hou hulle aan die noordekant teen die voet van die berg stil, en daar voor hulle lê die dam spieëlglad tussen die berge en heuwels. Almal klim uit om die omvang van die dam beter te kan besigtig.

Renier plaas sy arm om Tina se smal skouertjies en sê met gevoel in sy stem: “Dit is inderdaad ’n skilderagtige stukkie wêreld hier tussen die berge en klowe. Die natuur het hier beslis met ’n kwistige hand gewerk. Kyk net van waar af strek die dam. Ek wonder hoe ver die water agter die berg verbyvloei?”

“Die wal en die sluise lê net hier agter die berg,” lig sy hom in, “maar daar is nie juis plek om te kampeer nie, want aan die bokant is ’n dennewoud.”

“Mense, ons sal hier na hartelus kan hengel,” sê Wessel opgewonde. “Kyk net die borrels en kringe op die water; dis visse wat so maak.”

“Laat staan nou maar eers die visse, Wessel, en laat ons die goed van die voertuie afkry en kamp opslaan,” stel Riana voor. “Ek weet nie hoe julle mense voel nie, maar ek vergaan van honger en dors.”

Hierna keer almal terug na die motors. Die kosmandjies word te voorskyn gebring, en nadat almal die inwendige mens versterk het, word die twee tente en ’n skerm wat as kombuis moet dien, opgeslaan. Die vier jong mans help totdat alles uit die voertuie gelaai is; toe maak hulle gereed om te gaan hengel.

“Nou ja, aangesien ons nie nodig het om aandete voor te berei nie, gaan ek al met die dam se oewer langs stap tot hier agter die berg,” sê Tina.

Renier sit sy visstok eenkant teen ’n rots neer en draai na die meisie van sy hart. “Ek sal saam met jou stap,” sê hy. “Netnou verdwaal of verdrink jy, en dan huil ek my dood.”

Hy kyk na Wessel. “Julle manne moet maar solank gaan hengel, ek sal my later by julle aansluit.” Hy neem Tina se hand en geselsend stap hulle van die kamp af weg.

Die middagson is heerlik warm, hier waar Tina en Renier oor die droë grasstoppels loop. Hy los haar hand, plaas sy arm liefdevol, beskermend om haar skouertjies en druk haar saggies teen hom vas.

“Het jy my regtig lief, my poppie, of het jy vanoggend maar net so gesê om my hart bly te maak?” Hy probeer klein treetjies gee om met haar pas tred te hou. Haar kroontjie reik net tot by sy skouer, en hy sien hoe die son op haar raafswart hare blink. Die volgende oomblik lig sy haar gesiggie op en kyk hom met ’n stralende glimlaggie aan.

“Ek het elke woord bedoel, Renier,” sê sy met ’n warm ondertoon in haar stem, ’n warmte wat sy hart vasgryp en dit saggies streel. Hy bly meteens staan, vou haar in sy arms toe en soen haar met die teerheid van ’n man wat diep en innig liefhet.

Vir Tina is hierdie eerste liefdesoen ’n onvergeetlike oomblik. Dit wek emosies in haar wat haar hart onstuimig laat klop en haar laat wens dat Renier haar vir altyd so in sy arms moet hou. Met sy lippe so warm teen hare, besef sy die eerste keer hoe innig lief sy hom werklik het en hoe wonderlik dit is om lief te hê. Al sou dit op hierdie oomblik gereën, gehael en gesneeu het, sou dit vir haar nog steeds die wonderlikste dag van haar lewe gewees het, want in haar hart het vandag iets nuuts ontkiem, iets groots – die liefde.

“Tina, my liefling,” fluister Renier teen haar lippe, “ek gee nie ’n flenter om wat jou pa sê nie, maar jy gaan my bruidjie word. Solank ek lewe, sal ek jou nie aan ’n ander man afstaan nie . . . nooit nie.”

Hy lig sy goudblonde kop op en kyk diep in haar oë wat soos twee donker, bodemlose poele lyk. “Jou pa sal jou moontlik onterf as jy met my in die huwelik tree,” sê hy weer. “Maar sal dit jou hart breek as hy jou onterf?”

Sy skud haar kop. “Dit sal my hart breek as ek jou moet verloor, Renier. Ek het nog nooit iemand so liefgehad soos wat ek jou het nie, nie eens my ouers nie. Trouens, ek is heeltemal bereid om van my pa, my erfdeel en alles afstand te doen en saam met jou van onder af te begin. As ons albei iets verdien, soos Riana-hulle se ouers, sal dit ons nie lank neem om op ons voete te kom nie.”

’n Stadige glimlaggie verskyn om sy mond, en ook sy viooltjieblou oë helder meteens op.

“So, jy is gewillig om jou in ’n kantoor af te sloof,” lag hy. Hy soen haar saggies op die punt van haar fyn neusie. “Dit sal nie nodig wees dat jy in die een of ander kantoor moet werk nie, my skat. Ek is reeds ’n pos in die Orion-staalfabriek in Meyerstad aangebied, met ’n aantreklike salaris – dus sal ek redelik goed vir jou kan sorg. Ek sal jou natuurlik nie die weelde kan gee waaraan jy gewoond is nie –”

“Dit is nie wat ek van die lewe verlang nie, Renier,” val sy hom sag in die rede. “’n Mens kan gelukkig wees sonder weelde. Kyk net hoe gelukkig is Riana-hulle. Hulle is gelukkig soos wat hulle is, want elkeen het sy drome en sy strewe. Ek dink dit is daardie drome en strewe wat verhoed dat ’n mens blasé en doelloos word, later niks meer kan waardeer nie en dat die lewe sy glans verloor.

“Dit is nie die soort lewe wat ek verlang nie, Renier, ’n lewe wat met weelde doodgesmoor word totdat jy jou sin vir waardes verloor het . . . Nee, ek verkies die soort lewe waar ’n mens nog kan droom en die eenvoudige dinge in die lewe kan waardeer. Ek wil saam met jou droom oor môre en al die ander môres, en . . . ek wil saam met jou van onder af begin, Renier, saam met jou ’n gelukkige toekoms bou.”

Hy druk haar stywer teen sy bors vas en sê met ’n baie teer stem: “Ek belowe jou, ons sal al daardie dinge saam doen, my skat. Ons sal ook ons kinders leer dat die mooiste dinge van die lewe in die eenvoudige dinge te vind is.” Hy soen haar diep en innig, dan stap hulle weer verder met die dam se oewer langs.

’n Entjie om die berg se punt is dit so koud in die skaduwee dat hulle maar liewer besluit om terug te gaan.

“Ons sal môre kom kyk wat hier agter die berg aangaan – môreoggend wanneer die son teen hierdie kant skyn,” stel Renier voor.

Hulle loop nog steeds hand om die lyf toe hulle hulle later by hul vriende aansluit, hier waar hulle luilekker langs die viswater in die son sit en hengel. Trouens, die drie mans hengel en die meisies hou hulle geselskap.

“Hoe lyk dit, al iets gevang?” vra Renier.

“Nie ek nie, maar Gertman en Hennie het elkeen twee mooi visse gevang,” antwoord Wessel. “Bring jou stok, ou maat, dan kom sit jy en Tina hier by my en Anita.”

Die res van die middag verwyl die jongklomp langs die dam, totdat die son laag in die weste hang en ’n koue suidewindjie opsteek. Hulle het tien kurpers gevang, genoeg vir ’n ete, maar wie gaan die visse skoonmaak? Die mans meen dis die meisies se werk, aangesien hulle die visse gevang het. Die meisies, op hul beurt, meen weer dat die vang van die visse glad nie tel nie, aangesien hulle die manne geselskap moes hou. Hulle kan dus nie die visse skoonmaak en nog bak ook nie, dit sal onregverdig wees.

Daar word oor en weer geredekawel, maar nadat hulle koffie gedrink het, word daar eindelik ’n ooreenkoms getref – die mans sal die visse skoonmaak, maar dan moet die meisies dit vir aandete bak.

Na die ete sit hulle almal om die kampvuur. Hoër op brand ook ’n aantal kampvure, dus is hulle nie die enigste kampeerders hier langs die dam nie. Gerrie sê hy hoor dit spook hier by die dam. Drie mense het glo ’n jaar of wat gelede hier verdrink, en nou wandel hulle snags op die water – lewensgroot en in spierwit geklee.

“Is hulle nie ook wasig, met vuurrooi oë nie, Gerrie?” spot Anita.

“Hulle roep natuurlik die ganse nag om hulp, nè, ou Gertman?” terg Wilma saam.

“Wel, solank hulle net op die water bly en nie ons tente besoek nie, is die Kaap Hollands,” glimlag Tina ondeund.

“Nou ja, as jy vannag jou drie spoke sien en straks bang word, Gertman, moet jy ons maar roep,” bied Riana hulpvaardig aan.

Wessel en Renier bars hartlik uit van die lag.

“Jy sal iets anders moet probeer as jy die meisiekinders wil bang praat, ou maat,” laat Hennie met ’n breë glimlag hoor. “Vertel hulle liewer van die wilde man met die lang hare, rooi oë en baard wat hier in die berg boer –”

“Wilde man se voet,” val Anita die jong man laggend in die rede. “Dis ’n rondloper wat die vorige dag te diep in die bottel gekyk het, vandaar die rooi oë.”

Almal begin hartlik lag.

“Nou ja, aangesien julle dit nie reggekry het om die meisies bang te praat nie,” laat Renier hoor, “kan ons gerus besluit wat ons môre gaan doen. Ons durf nie elke dag en heeldag hengel nie, want dan sal die meisies afgeskeep voel en dit mag nie gebeur nie.”

“Jy het ’n punt daar, ou maat,” stem Wessel saam en plaas nog ’n stomp op die vuur. “Ek stel voor dat ons net smiddags hengel. Soggens kan elkeen sy eie koers inslaan. Ek sal graag daardie diep, bosryke kloof agter die hotel wil besigtig. Dié van julle wat wil saamgaan, is natuurlik welkom.”

Hulle sit tot laat die nag om die kampvuur en gesels. Anita is die eerste wat aankondig dat dit tyd is vir soet kinders om te gaan slaap. Hierna word die vuur geblus en die meisies word voor hul tent nag gesê.

Die volgende twee weke vlieg vir Tina en Renier soos ’n droom verby. Die dae wanneer dit nie haar beurt is om maaltye voor te berei nie, is sy en Renier elke oomblik van die dag bymekaar. Hulle leer mekaar ken en verstaan, en die band van hul liefde word by die dag beter gesmee.

Tina het nooit kon droom dat dit so wonderlik is om lief te hê nie. Renier is haar hele wêreld en elke gedagte, elke droom van haar kring net om hom. Sy weet as sy hom moet verloor, sal haar lewe nooit weer dieselfde wees nie, want dan sal die kernelemente ontbreek – die elemente wat haar lus laat voel om te lewe, wat elke dag vir haar tot ’n goue dag omskep, wat haar hart laat jubel van blydskap omdat sy ’n mens is wat kan liefhê en droom.

Ook Renier weet dat Tina die enigste vrou vir hom is. Hy weet nie of dit haar mooi persoonlikheid, of iets in haar donkerbruin oë is nie, maar daar is iets in haar wat haar anders maak as die meisies wat hy ken, iets wat haar vir hom baie dierbaar maak . . . Ja, hy is vasbeslote om Tina sy vrou te maak, kom wat wil.

Ten spyte daarvan dat Julie ’n koue wintermaand is, geniet die agt jong mense hul vakansie ten volle. Daar is trouens nie ’n berg of ’n kloof in die nabyheid wat hulle nie verken het nie. Die mans hengel elke middag na hartelus, en menige aand braai hulle die dag se vangs sommer daar oor die kole van die kampvuur. Vir elkeen is dit ’n genotvolle vakansie, maar vir Tina en Renier is dit onvergeetlik.

Die dag van hul vertrek breek eindelik aan, en toe hulle vroeg die oggend weer in die pad val, terug Johannesburg toe, kondig Wessel sommerso uit die bloute aan dat hy en Anita besluit het om hul wittebroodsdae hier langs die Ebenezerdam te kom deurbring.

Dit is byna drie-uur toe Renier vir Tina by haar ouerhuis besorg. Sy nooi hom binne vir ’n koppie tee, maar Renier is ietwat huiwerig om haar uitnodiging te aanvaar, aangesien hy nie aangetrek is vir ’n besoek nie.

“My pa is nog op kantoor,” lig sy hom in. “Net die huishoudster en die huishulpe is tuis, en hulle sal nie eens merk dat ons skoene nie blink nie. Hulle weet in elk geval dat ons nou van die dam af kom en soos reisigers sal lyk wat deur ’n woestyn getrek het.”

Haar stem is meteens sag en pleitend toe sy vervolg: “Ek kan nie nou al van jou afskeid neem nie, Renier. Kom drink net saam met my tee en . . . en kuier nog so ’n klein rukkie by my.”

“Dink jy dit is vir my aangenaam om nou al weer van jou afskeid te moet neem, ou kleintjie?” Hy kyk haar aan met oë wat net liefde vir haar weerspieël. “Nou goed, ek sal saam met jou tee drink, maar dan kom eet jy vanaand saam met my. Sal jou pa jou toelaat om saam met my te kom eet, my poppie?”

’n Skaduwee skuif meteens oor haar mooi gelaat en die glimlaggie om haar mond verstar.

“Solank my pa onder die indruk verkeer dat jy maar net ’n vriend is soos . . . soos die drie Beukes-kinders, sal hy geen beswaar maak nie, Renier.” Haar stem klink duidelik ongelukkig.

“Die botsing sal kom wanneer jy hom om my hand vra, want hy het reeds vir Thys Joubert as sy aanstaande skoonseun gekies. Trouens, hy probeer al die afgelope jaar om Thys aan my af te smeer, en ek het hom al oor en oor verseker dat ek vir die vent nie ’n druppel tyd het nie. Hy is ’n losbol met te veel geld en te min verstand, en dan is hy nog boonop verwaand en vermetel ook. Maar kom, laat ons liewer gaan tee drink. Ek vind Thys Joubert glad nie ’n interessante onderwerp vir bespreking nie.”

“Ja-nee, ek ook nie, my skat,” stem Renier saam. “Maar wat ek eintlik wou sê . . . moenie verontrus wees nie, ek sal nie toelaat dat jy in ’n ongewenste huwelik gedwing word nie.”

Tina kyk hom met openlike verligting aan.

“Wat sal jy doen as my pa my in ’n huwelik met Thys probeer dwing, Renier?” vra sy ernstig.

“Dan roep ons jou oom At se hulp in, en ons trou sonder jou pa se toestemming.”

Hierna klim hulle uit die motor en stap binnetoe. Tina voel op die oomblik baie gelukkig, en ook gerus in die wete dat Renier haar teen ’n ongewenste huwelik met Thys Joubert sal beskerm . . . Ja, Renier sal haar teen die snobisme van ’n ryk, ambisieuse pa beskerm.

Toe hulle later in die sitkamer tee en koek geniet, kyk Renier belangstellend om hom heen en vra bedaard: “Ou kleintjie, is jy seker dat jy gelukkig sal kan wees sonder hierdie weelde waarmee jy grootgeword het?”

“Ek sal selfs in ’n tent saam met jou gelukkig wees, Renier,” verseker sy hom ernstig. “My hart is nie aan weelde verknog nie, ek sal eerder sê my hart is aan jou verknog, en jy weet dit.”

“Die ou mense het altyd gesê, as armoede deur die voordeur kom, vlug die liefde deur die agterdeur,” terg Renier haar goedig.

“Ja, ek het dit ook al gehoor,” glimlag sy. “Maar ek sien eerder kans om droë brood te eet saam met ’n man wat ek liefhet, as ’n koninklike maal saam met ’n man wat ek nie liefhet nie. In elk geval, ek is bereid om saam met jou van onder af te begin, Renier, en saam met jou ’n sukses van ons lewe saam te maak.”

Toe Renier later aanstaltes maak om te gaan, stap Tina saam met hom tot by die motor. Net die huishoudster is ’n ooggetuie toe hy met ’n liefdevolle soen van Tina afskeid neem, maar die geheim van hul liefde is heeltemal veilig by haar.

Elsie Alberts is reeds agt en twintig jaar lank die Eksteens se huishoudster. Sy is baie lief vir Tina en haar ouer suster, Santi, wie se ma hulle anders opgevoed het as die gewone rykmanskinders. Sy weet ook hoe ’n snobistiese mens haar werkgewer is en dat hy ’n verhouding tussen Tina en daardie mooi jong man nooit sal duld nie.

Meneer Dreyer lyk na ’n goeie man, maar sy goeie hoedanighede sal nie ’n aanbeveling by Tina se pa wees nie, mymer die sestigjarige Elsie Alberts terwyl sy die vertrekkende motor deur haar kamervenster agternakyk.

Meneer Eksteen ken net een maat waarmee hy mense se waarde bepaal, en dit is die syfers wat hul bankrekening beloop en die aansien wat hulle in die eksklusiewe sosiale kringe geniet.

Elsie dink aan die hewige argumente wat destyds tussen Gerhardus Eksteen en sy oorlede vrou, Annette, ontstaan het, toe Santi met Walter Froneman in die huwelik wou tree. Walter was toe nog die onderbestuurder van die Unika-staalfabriek op Groenbaai, en vir die ryk Gerhardus niks anders as ’n kerkmuis wat sy dogter se ou skoene nie waardig was nie. Maar Annette Eksteen het soos ’n tierwyfie vir haar dogter se geluk geveg, en Gerhardus moes later voor sy vrou se argumente swig. Nou is dit weer Tina wat met haar trotse, hooghartige pa ’n potjie gaan loop indien sy planne koester om eendag met daardie aange­name jong man te trou.

Elsie sug mismoedig. Haar hart gaan uit na Tina, want sy weet dat die jong meisie nie opgewasse sal wees teen haar pa se onverbiddelikheid nie, derhalwe sal sy seker maar die onderspit delf.

Die res van die vakansie sien Tina en Renier mekaar elke dag. Een aand het sy al haar vriende saam met wie sy gekampeer het, vir ’n informele aandete genooi. Daardie aand het Renier, Hennie, Anita en Wilma die eerste keer met die ryk makelaar Gerhardus Eksteen kennis gemaak. Ofskoon hy ’n man is wat baie min glimlag, was hy nogtans op sy manier gasvry teenoor sy dogter se jong vriende, maar na die ete het hy dadelik verskoning gemaak en na sy klub toe gery. Die jongklomp het na ’n ander vertrek toe gegaan, waar hulle beurtelings tafeltennis, dambord en skaak gespeel het.

Nadat die skole weer begin het, kon Tina en Renier mekaar net naweke sien. Deur die week het hulle hard geleer en gestudeer, want vir albei was dit lewensbelangrik dat hulle die einde van die jaar sou slaag.

Tina is Sondae feitlik nooit meer tuis nie. As sy en Renier die dag nie by die Dieretuinmeer of by die Beukesse deurbring nie, gaan kuier hulle vir haar oom At en tant Louise wat in Germiston woon. Albei besef dat Renier haar nie te dikwels en ook nie alleen by haar ouerhuis mag besoek nie, want haar pa mag nie nou al van hul verhouding weet nie. Eers wanneer Renier sy graad in die ingenieurswese ontvang het, sal sy haar pa self in dié verband inlig.

Maar Tina het nie met haar pa se skerpsinnigheid rekening gehou nie. Die feit dat sy sedert die Julievakansie feitlik elke Sondag uithuisig is, het die oubaas agterdogtig gemaak en hom laat besluit om met haar oor haar toekoms te praat.

Dit is naby die einde van November toe hy vir Tina sê dat hy haar na die aandete in sy studeerkamer wil spreek.

Waar sy nou saam met hom na sy studeerkamer toe stap, wonder sy heimlik waaroor hy haar wil spreek. Het hy straks te wete gekom van haar en Renier se verhouding, of wil hy maar net sy planne vir die Desembervakansie met haar bespreek?

“Sit, Tina,” sê hy onderwyl hy die deur op knip stoot, “ons moet vanaand oor jou toekoms gesels.”

“Pappa klink vreeslik ernstig,” sê sy met ’n senuweeagtige glimlaggie toe sy op die stoel langs sy groot lessenaar gaan sit.

Sy kyk hom behoedsaam aan toe hy op sy gewone plek agter die lessenaar inskuif en saaklik sê: “Ek is ernstig, ou dogter, of het jy vergeet dat jou skooldae oor ’n week en drie dae agter die rug sal wees?”

“Nee, ek het nie vergeet nie, Pappa, maar wat is dit in verband met my toekoms wat bespreek moet word? Ek is tevrede met my lewe soos dit is. Oor tien dae sal ek ’n gekwalifiseerde sekretaresse wees, ek het aangename vriende . . .”

Hy maak haar met ’n ongeduldige handgebaar stil.

“Ek wil juis met jou gesels oor jou vriende,” sê hy effens streng. “Solank jy nog skoolgaan, gee ek nie om dat jy met daardie mense bevriend is nie. Maar die dag dat die skool sluit, sal jy jou vriendskap met hulle finaal moet beëindig en jou regmatige plek in die sosiale lewe inneem.”

“Ek sien geen rede waarom ek my vriendskap met Riana-hulle moet beëindig nie –” begin Tina, maar haar pa val haar dadelik in die rede.

“Sodra jy in die regte kringe opgeneem is, sal jou lewe te vol wees om aandag aan mense buite ons sfeer te gee,” sê hy. “Die tweede Saterdag nadat die skool gesluit het, sal ek ’n onthaal reël sodat jy met al die jong mense kan kennis maak, en ek verwag dat jy veral aandag aan Thys Joubert moet gee. Ek het hom lankal in die oog vir jou –”

“Wat, daardie losbol!” val sy haar pa verontwaardig in die rede. “Al is hy die laaste man op aarde . . .”

“Toemaar, jy het dit reeds met jou laaste verjaardag vir my gesê, maar ek dring nog daarop aan dat jy tydens die onthaal spesiaal aandag aan hom gee. Trouens, dit sal vir my ’n gelukkige dag wees wanneer hy my om jou hand kom vra. Jy moet hom net ’n klein bietjie aanmoedig, julle vroumense weet mos hoe dit gedoen word. En wanneer julle verloof is . . .”

“Dit sal nooit gebeur nie, Pappa,” keer sy haastig. “Ek verdrink my liewer in die swembad as om my aan so ’n man te verbind. Genugtig, ek gril as hy net na my kyk, laat staan nog aan my raak . . . Nee, Pappa kan maar van Thys vergeet. Al sy geld kan my nie koop nie, want ek is nie bereid om my siel vir geld te verkoop nie.”

“Jy probeer nou doelbewus om moeilik te wees,” spreek hy haar streng aan, “maar ek gaan my nie aan jou steur nie, Tina. Jy weet nou wat ek van jou verwag, sorg dus dat jy aan my wense voldoen, want ek sal geen koppigheid van jou duld nie.”

“Maar, Pappa, ek het Thys nie lief nie! Hoe kan Pappa van my verwag om met hom . . . om my aan hom te verbind?”

“Jy is gans te sentimenteel, Tina,” kom dit streng. “Geld en sekuriteit is vandag baie belangriker as die liefde waarmee julle jong mense so dweep. Liefde kan jou nie sekuriteit bied nie, maar geld wel, daarom sal ek seker maak dat jy met ’n welgestelde man trou.”

Tina is merkbaar bleek toe sy van die stoel af opstaan en onseker sê: “As Pappa my sal verskoon, sal ek liewer nou na my kamer toe gaan.”

“Jy kan maar gaan,” sê hy. “Onthou net, ek het alles bedoel wat ek vanaand gesê het. Vergeet daardie arm vriende van jou, en bepaal jou aandag by Thys Joubert.”

Sonder om haar pa te antwoord, verlaat sy die studeer­kamer en vlug na die privaatheid van haar slaapkamer toe. ’n Gedempte snik ontsnap haar, en dan voel sy hoe die trane warm oor haar wange begin rol. Maar sy is reeds in haar kamer, en met ’n bewerige hand stoot sy die deur agter haar toe, val op die bed neer en bars in ’n stortvloed van trane uit.

Sy het nooit kon droom dat haar pa so harteloos kan wees om haar in ’n huwelik te wil indwing met ’n man wat sy absoluut afstootlik vind nie. Besef hy dan nie dat geluk nie met geld of sekuriteit gekoop kan word nie? Het sy gejaag na meer rykdom hom dan blind gemaak vir die dinge wat die lewe mooi en aangenaam maak?

Toe Tina se snikke later bedaar, gaan was sy haar gesig en dokter haar rooi gehuilde oë met oogdruppels. Hierna skryf sy vir Renier ’n lang brief, waarin sy hom alles vertel wat vanaand tussen haar en haar pa gebeur het.

Die hele brief weerspieël haar hartseer, en aan die einde skryf sy: Ek weet ek behoort jou nie op hierdie tydstip met my probleme lastig te val nie, maar Renier, ek kan nooit aan my pa se begeerte voldoen nie. Hoe kan ek? Ek het jóú immers lief, en ek sal jou altyd liefhê. In my hart sal daar nooit weer plek wees vir ’n ander liefde nie, want jy, my dierbare Renier, het my hele hart in besit geneem.

Ek sal Wessel môreoggend vra om hierdie brief vir jou te gee, en as ek Saterdag nie op die gewone tyd by die restaurant opdaag nie, moet jy weet dat ek Germiston toe is om my oom At te spreek . . .

Die volgende oggend vertrek Tina vroeër skool toe as ander dae, want vanoggend moet sy Wessel sien voordat hy na die universiteit toe vertrek. Dit is vir haar van die grootste belang dat Renier vandag nog haar brief moet kry.

Sy tref dit gelukkig, want Wessel en Gerrie is net op die punt om te vertrek. Sy beantwoord die twee jong mans se vrolike môregroet toe hulle uit die huis gestap kom, maar haar eie stem is vanmôre nie so vol blye lewenslus soos ander dae nie.

Wessel kyk haar ondersoekend aan en vra besorg: “Wat makeer, ou sussie? Jy is vanoggend nie jouself nie, en is daar werklik spore van hartseer in jou oë?”

“Dis my pa, Wessel. Hy sal nog maak dat ek iets onverantwoordeliks aanvang, maar ek wil nie die oorsaak wees dat julle twee die bus verpas nie.” Sy neem die brief uit haar baadjie se sak en hou dit na Wessel uit. “Sal jy asseblief hierdie brief vir Renier gee? Daar is nie nou tyd om julle alles te vertel nie, maar as julle later vir Renier vra, sal hy julle vertel. Ek het vir hom alles in hierdie brief geskryf.”

“Ek en Renier skryf vandag ons laaste eksamenvak,” sê Wessel terwyl hy die brief in sy sak steek. “Ek sal jou brief vir hom gee sodra ons klaar geskryf het, Tina. Maar wat ek wou sê . . . kom jy na skool na ons toe, of moet jy huis toe gaan?”

“Ek kom hier na julle toe, Wessel.”

“Nou goed, dan gesels ons vanmiddag . . . Sien jou later, Tina!”

“Tot siens, kleinsus,” groet Gerrie en voeg besorg daaraan toe: “Ons sal almal vanmiddag saamstaan en jou probleme help uitstryk . . . Tot wederom, ou kleintjie!”

Hierna het Tina net tyd om vir die res van die gesin môre te sê, toe moet sy en Riana ook skool toe vertrek.

Riana merk dadelik dat Tina bitter ongelukkig voel, maar sy swyg wyslik, want sy weet dat Tina haar wel later sal vertel wat haar hinder.

Sy slaan die bal ook glad nie mis nie, want toe hulle by die skool aankom en hul bromponies versorg het, vertel Tina haar alles wat die vorige aand tussen haar en haar pa gebeur het.

“Ek gaan hierdie saak Saterdag met oom At en tant Louise bespreek,” sê sy.

“Maar, Tina, my ou maatjie, jou pa kan mos nie so ’n dwase ding doen om ’n man aan jou op te dwing nie!” roep Riana geskok uit. “Ons lewe mos darem in die verligte eeu, nie meer in die agttiende eeu nie! En wat van jou geluk, tel dit dan glad nie by hom nie?”

“My pa sê geld en sekuriteit is vandag belangriker as liefde,” laat Tina met ’n verwese glimlaggie hoor. “Ek het altyd geweet dat my pa ’n snob is, Riana, maar ek het nooit geweet hy is ook hard en gevoelloos nie. Maar ek verseker jou, ek sterf eerder as om met Thys Joubert te trou . . . Ek sal nooit met iemand anders kan trou nie, want ek het Renier lief.”

“Ek dink ons moet nou binnetoe gaan,” sê Riana. “Ons sal weer vanmiddag oor hierdie ding gesels. Moontlik kom Wessel of Gerrie met ’n oplossing vorendag.”

Dat Tina daardie dag so goed vaar in die eksamen, is vir haar en Riana albei ’n wonderwerk.

“Ek weet nie hoe jy dit reggekry het om in so ’n neerslagtige gemoedstemming eksamen te skryf nie,” spreek Riana haar bewondering uit toe hulle die middag huis toe ry.

“Dis omdat dit vir my van die allergrootste belang is dat ek moet slaag,” verduidelik Tina. “Met ’n matrieksertifikaat hoef ek nie van my pa afhanklik te wees nie.”

Die verkeer word druk en hulle moet agter mekaar ry. Hulle ry so totdat hulle by die groot hek van Riana se ouerhuis indraai. Soos gewoonlik, hou hulle langs mekaar voor die motorhuis stil.

Tina se hart ruk van blydskap toe Renier om die hoek van die motorhuis verskyn, maar dan voel sy hoe haar keel toetrek by die gedagte dat haar pa vasberade is om haar van hierdie man wat sy liefhet, te skei.

’n Oomblik lank kan sy nie ’n woord uitkry nie. Haar oë skiet vol trane en sy voel hoe Renier se arm om haar gaan en haar teen hom vashou.

Etlike sekondes lank kyk hulle stil in mekaar se oë, toe sê Renier met ’n baie teer stem: “Laat ek die trane afvee, my poppie. Daarna wil ek nie weer een traan in daardie pragtige oë sien nie.”

Hy haal sy sakdoek uit sy sak, vee haar trane af en soen haar teer op die mond. Tina merk dat sy en Renier nou alleen hier voor die motorhuis staan.

“Het jy my . . . my brief gekry, Renier?” vra sy met trane in haar stem.

“Ja, ek het, my skat, daarom het ek vanmiddag hiernatoe gekom. Trouens, ek het ’n oplossing vir hierdie probleem, maar ons sal dit na die ete bespreek. Kom, laat ons binnetoe gaan. Tant Ella het flussies al die huishulp aangesê om koffie te skink, en ek dink hulle wag al vir ons.”

Toe hulle die eetkamer binnestap, is die hele gesin, behalwe oom Johan, teenwoordig en gereed om aan te sit. Tina sê vir tant Ella, Wessel en Gerrie middag, daarna nooi tant Ella hulle om aan te sit.

’n Vreemde stilte heers ’n rukkie aan tafel, toe sê Wessel: “Tina, ons het my ma vertel wat gisteraand tussen jou en jou pa gebeur het. Nou wil ek net vir jou sê dat jy ons almal se bystand en ondersteuning het in wat jy en Renier ook al besluit. Onthou, ons hele gesin staan bankvas agter jou, ou sussie.”

Tina bedank almal vir hul vriendelikheid, dan hoor sy Riana droogweg sê: “Ek wens ons kon Tina wettig aanneem, want ek gaan vreeslik baie na haar verlang. Ons is al elf jaar lank vriende, en nou belet haar pa haar om langer met ons bevriend te wees –”

“Toemaar, Renier het ’n oplossing vir die probleem,” val Wessel haar in die rede. ”Eet nou maar jou kos, en dink liewer hoe jy ons Tinatjie behulpsaam kan wees.”

Hierna word daar om die tafel oor eksamen en moeilike vraestelle gesels. Die drie mans voel heeltemal oortuig dat hulle geslaag het, en simpatiseer met Tina en Riana wat vandag maar eers oor hul eerste vak eksamen geskryf het. Tant Ella sê dit is uiters jammer dat Tina, juis noudat die eksamen begin het, met huislike probleme opgesaal moet wees. Haar pa kon haar dit immers gespaar het.

“My pa is ongelukkig nie die soort man wat ander se gevoelens in aanmerking neem nie, tant Ella,” sê Tina met ’n hartseer glimlaggie. ”Dit lyk vir my of hy alles en almal in sy pad sal vernietig om sy doel te bereik.”

“Toemaar, sy dag sal hy nog kry,” voorspel Riana, en daarby bedoel sy dat Gerhardus Eksteen se onregverdigheid hom nog sal inhaal.

Na die ete nooi Renier vir Tina om saam met hom na die somerhuisie toe te stap. Hy het ’n voorstel wat hy aan haar wil maak, ’n voorstel wat al haar probleme uit die weg sal ruim en haar weer sal laat glimlag.

“Ek hou nie daarvan om jou so bekommerd en neerslagtig te sien nie, my poppie,” sê Renier toe hulle die somerhuisie binnestap. Daardie mooi oë van jou is gemaak om te glimlag.”

Hulle neem op die houtbankie plaas, en die eerste keer in dae kan Renier haar weer in sy arms neem en haar met liefde en teerheid liefkoos. Nog nooit in sy lewe het hy ’n meisie so liefgehad soos vir Tina nie. Sy is sy eerste liefde; na haar sal daar nooit weer ’n ander liefde wees nie.

“O, Renier,” sê sy toe hy eindelik sy lippe van hare af wegneem, “alles in my sal sterf as my pa my in ’n huwelik met Thys dwing –”

“Hy sal dit nie regkry nie, my skat, want jy gaan oor twee weke met mý trou,” val hy haar sag, gerusstellend in die rede.

’n Stralende glimlaggie verskyn meteens op Tina se gelaat, maar dan tref ’n ander gedagte haar, en haar glimlaggie verstar weer ewe skielik.

“Jou ouers sal nie daarvan hou dat jy so gou trou nie, Renier. Hulle ken my nie eens nie . . .”

“Hulle het jou deur my briewe leer ken, my meisie,” stel hy haar weer dadelik gerus. “Maar vergeet nou eers van my ouers, en vertel my of jy bereid is om oor twee weke met my te trou?”

“Ek sal enige dag met jou trou nadat die eksamen afgehandel is, Renier,” belowe sy, “maar ons sal oom At se hulp nodig hê.”

“Ja, ek vrees ons sal, want jy is nog nie mondig nie, my poppie,” stem Renier saam. “Ons sal oom At Saterdag in dié verband moet spreek.”

Tina se oë straal van blye opgewondenheid. Sy soen Renier in die nek en sê met ’n stralende glimlaggie: “O, Renier, ek het jou so innig lief, en ek voel nou so vreeslik gelukkig.”

“As jy gelukkig is, my skat, is ek baie bly. Ek hoop net dat ek jou altyd gelukkig sal kan maak, soos wat jy verdien om te wees. Maar nou, in verband met ons huwelik . . . Jy besef natuurlik dat ek dit nie nou kan bekostig om jou na ’n vakansieoord toe te neem vir ons wittebrood nie –”

“Ek besef dit maar alte goed, my dierbare Renier,” val sy hom met ’n gerusstellende glimlaggie in die rede. “Ons sal ons wittebrood in ons eie verblyfplek deurbring, al is dit ook net een kamer.”

“Nee, ek sal jou darem nie in een kamer inhok nie, my skat, ek gaan probeer om vir ons ’n eenslaapkamerwoonstel te bekom waar jy in ’n mate beweegruimte sal hê.”

’n Ernstige trek verskyn ineens op Tina se mooi gelaat. Dis dierbaar van Renier om eerste aan haar gerief te dink, maar kan hy so ’n woonstel bekostig?

“Renier,” sê sy huiwerig, “jy begin eers die tweede Januarie werk. Kan jy . . . ek bedoel, is ’n eenslaapkamerwoonstel nie baie duur nie?”

Hy druk haar stywer teen sy bors vas en soen haar lank en innig. Daarna kyk hy diep in haar oë en sê met ’n laggie in sy stem: “Ons sal regkom, my poppie. Ek gaan vanaand vir my pa skryf en hom om ’n lening vra om ons die eerste maand deur te help. My ouers is nie ryk nie, maar die gesaaides en die vee lewer ’n redelike opbrengs, en ek is hul enigste kind.”

“Voordat jy vir jou pa skryf, Renier, wil ek jou net eers sê dat ek die afgelope tien jaar elke maand ’n deel van my sakgeld gespaar het. Dis nogal ’n groot bedrag en . . . wel, ek wil dit graag vir jou gee, dan het jy mos nie nodig om jou pa om ’n lening te vra nie!”

Renier skud sy kop glimlaggend.

“Nee,” sê hy, “dis baie dierbaar van jou om jou spaargeld vir huishoudelike sake te wil gebruik, maar ek verkies om self vir my vrou te sorg.”

“Kan ons dan meubels daarmee –?”

“Nee, ook nie meubels nie,” val hy haar sag in die rede. Tina dink ’n oomblik na, dan helder haar gesig meteens weer op.

“Jy weet natuurlik dat die bruid die linneware, kombuisware, gordyne en ander benodigdhede moet voorsien, nè, my dierbare Renier?” sê-vra sy met ’n sfinksagtige glimlaggie.

“Jou dierbare Renier weet niks van hierdie dinge af nie, my skat, maar hy sal navraag doen in dié verband en jou laat weet,” terg hy goedig.

Sy lag hom saggies uit en byt hom aan die oor. Hy, op sy beurt, dreig om haar aan die neus te byt, maar soen haar dan maar liewer.

Hierna bespreek hulle Saterdag se besoek aan oom At. Tina sê sy sal haar oom bel sodra sy vanmiddag tuiskom, net om seker te maak dat hy Saterdag tuis is wanneer hulle daar opdaag.

Hulle sit nog ’n rukkie en gesels, daarna stap hulle terug huis toe om die huismense van hul huweliksplanne te verwittig.

Riana, haar ma en haar broers is saam met Tina bly dat sy nie meer haar pa se hartelose planne hoef te vrees nie. Tant Ella sê die huishulp aan om vir hulle koffie te maak, maar Tina verduidelik dat sy nou sal moet gaan sodat sy haar oom kan bel voordat haar pa vanmiddag tuiskom. Sy bedank tant Ella vir die middagete, sê tot siens vir die gesin en stap saam met Renier na haar bromponie toe wat voor die motorhuis staan.

Met oom At en tante Louise se hulp is Tina en Renier vier dae nadat die skole gesluit het, stil voor die landdros getroud. Aan haar pa het sy net ’n kort briefie gelaat om te sê dat sy en Renier getroud is. Sy het geen permanente adres gelaat waar hy met hulle in aanraking kon kom nie, net gesê dat hulle vir drie weke Kaapstad toe gaan. Sy het ook geweet haar pa sou die huwelik nie laat ontbind nie, want hy sou nie ’n skandaal wou veroorsaak nie.

Nadat die huwelik voltrek is, het hulle eers by oom At en tante Louise gaan tee drink, daarna het almal – oom At, tante Louise en die Beukes-gesin – hulle op die stasie gaan groet.

Nege-uur die aand het hulle in Meyerstad aangekom, in ’n hotel oornag en die volgende dag het Renier haar die woonstel gaan wys wat hy ’n week gelede gehuur het. Daarna het hulle die meubelhandelaars besoek en nog dieselfde dag hul intrek in die woonstel geneem.

Nadat die meubelwinkel se afleweringswa vertrek het, kyk Tina haar wederhelf met ’n stralende glimlag aan en sê opgewonde: “O, Renier, ek voel soos ’n koningin in haar eie koninkryk. Ek het nooit geweet ’n mens kan so vreeslik gelukkig voel nie.”

Sy gooi haar arms om sy nek, soen hom hartlik en vervolg met ’n vreemde warmte in haar stem: “Dankie vir die groot geluk wat jy my besorg het, vir jou wonderlike liefde en omdat jy my eie, dierbare man is . . .”

Hy snoer haar mond met ’n lang, innige soen en sê dan met ’n warm glimlaggie: “As jy gelukkig is, is ek ook gelukkig, my vroutjie, want jy is die spil waarom my hele lewe kring, die enigste ster in my hemel.”

Sy staan ontspanne in die kring van sy arms met haar wang teen sy bors. Na ’n rukkie kyk sy op en sê met ’n ondeunde uitdrukking in haar oë: “As ek nie nou daardie nuwe bed gaan opmaak nie, het hierdie koningin en haar koning nie vanaand slaapplek nie.”

“Dit sal krimineel wees, my skat,” glimlag hy en soen haar vlugtig op die voorkop. “Kom, ek sal jou help om die bed op te maak, want my bene is gans te lank om op die rusbank te slaap.”

Die groot legkaart

Подняться наверх