Читать книгу Soos ’n silwer droom - Susanna M Lingua - Страница 4
1
ОглавлениеDie twee-en-twintigjarige Rina Verhoef het pas vier jaar van onderwysopleiding agter die rug en het ook haar lisensiaateksamen met lof geslaag. Met die geld wat sy vier jaar gelede van haar ouma aan moederskant geërf het, het sy besluit sy kan haar gerus ’n slag bederf met ’n lekker lang vakansie; ’n reis deur Europa.
Toe sy haar ouers vier dae gelede op die lughawe gegroet het, het sy vas geglo dat geen mens op aarde ’n vakansie so dringend nodig het soos sy nie. Al die ellendige eksamens het haar hopeloos van haar lewenslus beroof. Sy het behoorlik soos ’n uitgesuigde lemoen gevoel, afgewater en deurgegiet.
Haar pa, die bekende ortopeed professor Gerrit Verhoef, het volkome met sy dogter saamgestem. Daar is niks op aarde wat ’n mens so vinnig opkikker soos ’n vakansie in die Noordelike Halfrond nie. Sy vrou, Estelle, het vas geglo dat haar beeldskone dogter haar onherstelbaar ooreis het met al die onnodige eksamens en dinge. Rina sal tog nooit nodig hê om vir ’n bestaan te werk nie, het sy geredeneer. Die gevolg was dat Rina inderhaas in ’n vliegtuig gebondel is, met ’n stywe bedrag aan reisigerstjeks en ’n retoerkaartjie na Europa.
Gisteroggend het Rina afgeklim op die lughawe Portela in Lissabon, eeue oue hawestad en hoofstad van Portugal, met slegs ’n Engels-Portugese-sakwoordeboek in haar handsak om haar met die mense se taal oor die weg te help; asof genoemde woordeboekie haar veel sou baat. Maar dit het sy eers later agtergekom en die woordeboekie het ’n permanente rusplek op ’n Lissabonse ashoop gevind.
By die hotel aangekom, het sy dadelik die besoekersboek geteken en was werklik verras om te hoor dat hierdie mense die Engelse taal darem op ’n manier kan praat, maak nie saak hoe krom en skeef dit uitkom nie. Waar woorde ontbreek, vul ’n mens maar met handgebare aan.
Nadat sy haar handtekening in die besoekersboek en die nodige administratiewe takies afgehandel het, is sy saam met die portier na haar hotelkamer op die vyfde verdieping.Wat haar aandag met die intrapslag getrek het, was die mooi uitsig oor die Tagusrivier en die hawe, waar drie sierlike lynbote vasgemeer lê. Die hotel is slegs ’n hanetreetjie van die rivier en die hawe geleë.
Nog ’n verrassing wat op Rina gewag het, was om gedurende middagete agter te kom dat haar tafelgenote ’n Amerikaanse gesin is, meneer en mevrou Summers met hul drie kinders; Basil vier-en-twintig jaar oud, Lilian twintig en Eve sewentien.
Die jong Basil het hom ook sommer van die staanspoor, soos alle mans met ’n oog vir skoonheid, aan Rina verkyk. Sy het vir hom die mooiste goudblonde hare en blou oë wat hy nog ooit gesien het. Haar oë lyk vir hom soos twee helder poele water met die blou glinstering van saffiere . . . Nee, sowaar, hy het nog nooit in sy lewe so ’n pragtige meisie soos Rina Verhoef gesien nie.
Dit het die Summer-gesin ook nie lank geneem om met Rina vriende te maak nie. Na middagete het die vier jong mense mekaar reeds op die naam genoem, met ’n afspraak om Rina die middag op ’n verkenningstog deur die stad te neem, aangesien hulle nog net drie dae in Lissabon sou vertoef.
Die hele middag het die vier jong mense die stad platgery. Daardie aand het hulle ’n skouburg besoek en afgespreek om die volgende môre ’n motorboot te huur en met die rivier op te vaar, sodat hulle hierdie deel van Lissabon verder kon verken.
Ofskoon Rina daardie aand, haar eerste aand in Lissabon, doodmoeg in die bed geklim het, is sy die volgende oggend vroeg uit die bed. Na ontbyt het al vier hulle vir die dag se uitstappie gaan verklee, ’n verkenningstog waarna Rina opgewonde uitgesien het.
In ’n wit kortbroek, sprankelrooi bloesie en veelkleurige sandale geklee, stap sy vrolik, geselsend saam met die drie jong Amerikaners na die rivier, waar die gehuurde boot op hulle lê en wag. Rina voel hoe die ou blymoedigheid en lewenslus deur haar are bruis. Selfs haar oë skitter vanmôre weer van ondeunde pret en lewensvreugde. Sy is weer die Rina van weleer wat die lewe vierkant in die oë kyk en haar deur niks en niemand laat stuit, hiet of gebied nie.
Rina is ’n minsame mens, vol naasteliefde, eerbaar, betroubaar en beginselvas. Maar sy het een streep, die Verhoef-streep: sy laat niemand toe om op haar kop te sit nie.
’n Mens moet jou ook nie met daardie sagte glans in haar pragtige oë vergis nie. Want maak jy die duiwel in haar los, verdwyn daardie glans in haar oë en verander sy terstond in ’n klein rissiepit.
By die rivier aangekom, word die piekniekmandjie eerste in die boot geplaas. Daarna klim die drie meisies in, elk met ’n strandsak en ’n sonhoed in die hand. Basil is die laaste wat inklim en sy plek agter by die boot se enjin inneem.
Vol geterg is hulle eindelik onderweg. Basil laat die boot stadig met die rivier op vaar, sodat die drie meisies alles langs die oewers kan besigtig. Hulle het reeds twee indrukwekkende, eeue oue kastele aan albei kante van die rivier agter die bome opgemerk, nadat hulle sowat vyf kilometer rivierop gevaar het. Rina wens dat sy daardie kastele van naby kan sien. Sy het nie geweet daar bestaan nog sulke kolossale, indrukwekkende kastele in Lissabon nie.
’n Ent verder, waar die rivier ’n wye draai maak, vloei dit nog breed en diep. Die volgende oomblik kom hulle af op ’n yslike, lang, spierwit luukse jag wat aan die linkerkant van die rivier vasgemeer lê. So ’n pragstuk het Rina nog nooit gesien nie.
“Wag ’n bietjie, Basil,” keer sy dadelik toe hy die jag wil verbysteek.“Moenie so haastig wees nie, jong. Laat ons eers hierdie boot behoorlik bekyk.”
Sonder seremonie stuur Basil die boot na die kant van die rivier, waar die jag rustig op die water lê; onbewus van die twee mans en sewentienjarige meisie wat hulle ’n entjie van die oewer af ongemerk staan en beskou. Die lang, breedgeskouerde man se donker blik gly met ’n onpeilbare uitdrukking oor die beeldskone Rina in haar guitige kortbroek, met haar pragtige hare wat soos goud skitter en blink.
Die motorboot word teenaan die oewer van die rivier getrek. Met ’n ratse beweging staan Rina bo-op die bankie, kamera in die een hand en sonhoed in die ander hand.
Doodluiters en ewe ongeërg plak Rina haar sonhoed sommerso skewerig op haar glansende, goudblonde krullebol. Maar toe sy die kamera na haar oë bring om die lens sekuur op die jag te fokus, pluk ’n ongeskikte windjie haar hoed skoon van haar kop af en werp dit daar tussen die jag en die rivier se oewer op die water neer.
Maar hieraan steur sy haar nie dadelik nie. Sy neem eers die foto en plaas die kamera versigtig op die bankie neer, asof dit ’n baba is. Daarna begin sy ewe ongeërg haar bloesie, kortbroek en sandale uittrek, totdat sy slegs in ’n heldergeel bikini geklee is. Die volgende oomblik duik sy soos ’n kampioen in die rivier en swem met gemaklike hale na waar haar hoed aan die kant van die rivier teen ’n oorhangende boomtak vasgedryf het.
Sy swem tot by haar hoed. Met ’n stralende glimlag hou sy aan die boom se tak vas, terwyl sy die breërandhoed tussen die takke uithaal en op haar kop sit. Die hoed en sy linte is sopnat, maar wat maak dit saak; sy is self ook sopnat.
Onderwyl sy water trap, bind sy die lint voor om haar keel vas, sodat die hoed agter op haar skouers kan rus. Sy is net oorgehaal om weer na die boot terug te swem, toe sy skielik ’n mooi, diep manstem hier dig bokant haar kop op Engels hoor sê: “Gee my jou hand, señorita, en laat my toe om jou uit die water te help. Jy kan beslis nie in hierdie koel wind, met jou nat baaiklere aan, verder op daardie motorboot ry nie.”
Rina kyk vlugtig op na die spreker, maar kan sy gesig nie duidelik sien nie. Al wat sy kan sien, is ’n lang, breedgeskouerde gestalte in ’n wit somerpak geklee en die lang, netjies versorgde hand wat hy na haar uithou. Sy sien hoe hy verder oorbuig en merk terloops op dat hy gitswart hare het wat glad agteroor gekam is. Sy steek haar hand na hom uit en voel hoe sy lang vingers warm om haar pols sluit.
“Dankie, señor,” glimlag sy stralend op na hom, onbewus daarvan dat sy soos ’n skatlike, stout meisietjie lyk, maar nietemin ’n asemrowende meisietjie.
“Gee my jou ander hand ook, señorita,” hoor sy die diep stem weer sê. Dis ’n stem wat gesag afdwing, ’n stem wat daaraan gewoond is om bevele te gee, dink sy, terwyl sy vingers warm om haar ander pols sluit.
Rina voel hoe die man haar soos ’n veertjie uit die water lig en die volgende oomblik staan sy langs hom op die welige groen grasperk wat soos ’n reusetapyt onder die bome uitgestrek lê en soos sagte mos onder haar kaal voete voel.
Sy kyk op na die man wat heelwat langer as sy is. Hy is inderdaad aantreklik, al rus sy blik so koud en onpersoonlik op haar. Sy is meteens intens bewus van sy trotse en statige houding. Dit laat haar ietwat ongemaklik sê:“Dankie dat jy my uit die water gehelp het, señor. Jy het gelyk, die windjie is nogal koud. Ek voel dit nou eers.” Sy glimlag meteens en haar oë skitter van pret. “Maar ek het darem ’n mooi foto van daardie sierlike jag geneem. Behoort die boot aan jou, señor . . . e . . .?”
“Ek is marquês Conzalo de Valcada. Ja, die boot behoort aan my. Hoe voer jy die van, señorita?” antwoord hy haar effens kil en onpersoonlik met ’n weervraag.
Rina vervies haar ietwat vir die man se hooghartigheid. “Ek is Rina Verhoef, señor marquês,” kom dit uitdagend van haar.Wie dink hy miskien is hy? flits dit deur haar gedagtes. Hy maak asof hy watwonders is en dit net omdat hy ’n adellike is. Hy kan na die hoenders gaan. Sy hou niks van koue en hooghartige mense nie. Ja, al is hy ’n marquês en aantreklik daarby.
Die man kyk haar so streng en deurdringend aan dat sy voel sy moet darem ook aanlas: “Ek is van Pretoria, Suid-Afrika, afkomstig, señor marquês. Het maar gisteroggend hier in Lissabon aangekom.”
“En die ander drie wat daar in die motorboot sit?” hoor sy hom met ’n ongenaakbare stem vra. Hy kyk haar aan met ’n uitdrukking op sy gesig asof hy ’n getuie in die hooggeregshof ondervra.
“O, hulle is Amerikaners wat ek gistermiddag in die hotel waar ek tuis is, ontmoet het.” Hy kan gaan doppies blaas, sy sal hom nie elke keer as “señor marquês” aanspreek nie. “Hulle keer glo weer oormôre terug na Amerika,” lig sy hom ongeërg in.“Maar as jy my nou sal verskoon, sal ek na die motorboot teruggaan. Ek begin nou regtig koud kry.”
Rina slaan byna agteroor van verbasing toe die marquês so ewe die linte van haar hoed voor losknoop en die hoed met ’n vies gebaar in die middel van die rivier werp. Die volgende oomblik trek hy sy haelwit baadjie uit en vou haar behoorlik toe daarin. Sy maak haar mond oop om kapsie te maak, maar die drie-en-dertigjarige marquês keer haar dadelik.
“Moet liewer niks sê nie, señorita,” lê hy haar streng die swye op.
“Maar my hoed . . .” begin sy.
“Ons sal môre vir jou ’n ander hoed koop. Ek hou in elk geval nie van daardie hoed nie. Dit pas nie by jou blondheid nie,” maak die marquês haar weer eens met ’n onpersoonlike stem stil, kompleet asof hy al die seggenskap ter wêreld oor haar hoed het.
“Ek kan môre self vir my ’n ander hoed koop, señor marquês,” val sy die man aan. “Besef jy dat die son my later vandag sonder ’n hoed daar op die motorboot gaan braai?”
“Maar jy gaan nie weer terug na die motorboot nie, señorita,” verklaar die man ongeërg, asof dit lankal ’n uitgemaakte saak is en sy haar maar net opsetlik onnosel hou.
“So!” sê sy onderwyl sy hom met nougetrekte oë aankyk. “En waar gaan ek miskien heen as ek nie na die motorboot teruggaan nie?”
“Jy gaan saam met ons na die castelo, waar jy ’n warm bad sal neem en jou in . . . e . . . droë klere sal verklee. Ek het reeds my neef en niggie gestuur om jou klere en goed by jou vriende te gaan haal.”
“Maar jy matig jou baie aan, señor marquês,” voeg Rina hom nou ietwat gesteurd toe. “Dink jy miskien ek is ’n bogkind wat myself nie kan oppas nie?”
“Jy lyk nie ’n dag ouer as dertien nie, señorita, maar ek vermoed jy is sestien,” gaan die onuitstaanbare man voort. “Dus is jy beslis nie oud genoeg om jouself op te pas nie. Terloops, hierdie deel van die rivier is my eiendom en ek kan nie toelaat dat ’n . . . e . . . onverantwoordelike tienderjarige haar dood hier kom soek nie. Jy sal dus maak soos ek sê. Ek sal jou later by die hotel besorg en sommer ook jou ouers spreek in verband met vandag se onverantwoordelikheid . . .”
“Net ’n oomblik asseblief, señor marquês,” keer Rina met ’n ligte handgebaar en ’n gevaarlike glans in haar oë. “Jy gaan nou ’n bietjie te vinnig vir my. Jy praat van sestien jaar, my ouers en onverantwoordelikheid. Maar laat ek jou net eers inlig, señor. My ouers is in Suid-Afrika. Ek het alleen deur Europa kom reis. Ek was ook nie onverantwoordelik nie, ek wou bloot my hoed uit die water haal. En nog ’n ding, ek is nie sestien nie; ek is op my volgende verjaardag, presies vandag oor twee weke, drie-en-twintig jaar oud. Dink jy ons Suid-Afrikaners is so gek om hul dogters op sestienjarige leeftyd alleen die wêreld in te stuur? Jy het klaarblyklik ’n besonder swak dunk van ons . . .”
Die marquês lyk effens bleek, maar gaan nietemin onverstoord voort: “ ’n Jong dame van drie-en-twintig en jy swem met so ’n skrapse baaipakkie aan!”
“Wat skort met my swemklere, señor?” kap Rina ergerlik terug. “Almal dra dit so, dis mode!”
“Ja, almal wat nie omgee om hul naakte liggame ten toon te stel nie, señorita. Glo my, daardie skrapse baaipakkie laat niks aan ’n man se verbeelding oor nie. In elk geval, ek laat dit nie hier in my deel van die rivier toe nie.”
“Ons was nie van plan om hier te swem nie,” antwoord Rina. “Ons sou hoër op geswem het, so ’n kilometer of wat hoër op.”
“Dit is nog steeds my eiendom,” val die onmoontlike man haar onversteurd in die rede.
“Dan sal ek my vriende onverwyld moet waarsku, señor, anders gaan hulle wel hoër op swem,” laat Rina nou ernstig hoor. “Ons sal jou nie verder lastig val nie. Ek het vanoggend deur my hotelkamer se venster opgemerk dat etlike mense daar naby die hawe swem. Ons kan ook daar gaan swem, al is ons piekniek nou daarmee heen.”
“In watter hotel is julle tuis, señorita?” vra die man sonder veel belangstelling, kompleet asof hy die vraag vra net om iets te sê.
“In die Hotel Universo,” antwoord sy ongeërg. “Maar ek vrees jy sal my nou moet verskoon. My vriende sal nie daarvan hou om alleen terug te gaan nie, en ek . . . wel . . . jy is ’n absolute vreemdeling vir my, dus sal ek liewer nie van jou gasvryheid gebruik maak nie.”
Dis asof daar ’n effense flikkering in sy koue oë kom by die aanhoor van die laaste gedeelte van Rina se sin. Ja, dis beslis asof daar ’n tikkie goedkeuring in sy oë te lees is. “Verskoon my,” hoor sy hom weer sê, “maar jy kan nie so skraps geklee deur Lissabon se strate loop nie, señorita. Ek vrees die polisie sal jou dadelik in hegtenis neem. Jy sal jou eers moet aantrek voordat jy na die hotel kan teruggaan . . .Waar gaan jy dit doen, señorita?”
“Maar op die motorboot, natuurlik!” antwoord Rina. “Jou vriende het reeds vertrek, señorita,” lig hy haar ewe bedaard in.
Rina kan sweer dat daar ’n klank van oorwinning in sy stem is. Hy is natuurlik die soort man wat nie kan leef as hy nie ’n oorwinning oor almal behaal nie, maak nie saak wat hy van die persoon dink nie, besluit sy.
Nou voel sy regtig ontstoke, want dit lyk al meer asof hy haar doelbewus hier besig gehou het sodat Basil-hulle sonder haar moet vertrek. Wat hy daarmee beoog, sal natuurlik net hy weet. Maar hy moet dit vandag net waag om aan haar te raak, dan sal hy weet dat hy met ’n beginselvaste jong dame te doen het en nie met ’n losbandige flerrie nie.
“Kom,” hoor sy hom weer sê, “my neef en niggie wag stellig al op ons.” Hy kyk na sy polshorlosie en vervolg: “Ja, dit is ook al haas tyd vir middagete. Jy sal maar saam met ons moet eet, señorita. Carla, my niggie, sal moontlik vir jou ’n rok kan leen om aan tafel mee te verskyn.”
“Jy maak ’n fout, señor marquês,” knip sy hom terstond kort. “Ek het nog nooit in my lewe iemand anders se klere gedra nie en ek weier om dit vandag te doen.”
“Ek sal by haar hoor, moontlik het sy ’n nuwe rok wat sy nog nooit gedra het nie . . .” begin hy.
Maar Rina wil niks weet nie. “Ek vrees jy sal my sonder versuim na die hotel moet terugneem, of anders sal jy genoeë daarmee moet neem om my in ’n kortbroek en ’n bloes aan jou tafel toe te laat.”
“Dit laat ek ten ene male nie toe nie, señorita,” sê hy streng en met ’n kil stem. “Ek laat niemand aan my tafel toe wat nie behoorlik geklee is nie. Dink jy ek sal toelaat dat my huiswerkers jou in ’n kortbroek sien?”
’n Hele swetterjoel tergduiweltjies verskyn meteens in Rina se lieflike oë toe sy die konserwatiewe edelman aankyk en met vreemde onderdanigheid sê: “In daardie geval sal ek dan maar hier onder die bome wag totdat my vriende terugkeer, of totdat dit vir jou geleë is om my na die hotel te neem. Maar ek dink nog die beste plan vir my is om al met die rivier langs aan te stap. Die een of ander tyd sal ek wel by hulle uitkom . . . Ja, ek dink dit sal die oplossing wees. Sodoende bring ek niemand in die verleentheid nie en jou huiswerkers sal ook nie die geleentheid kry om my in ’n kortbroek te sien nie.”
“Jy het reg, my huiswerkers sal jou beslis nie in ’n kortbroek te sien kry nie, want jy gaan een van Carla se rokke aantrek, señorita,” hou die man vasberade vol.
Rina se wrewel teen hierdie edelman laai elke oomblik op. Maar dan skiet ’n ander gedagte haar te binne. Sowaar, as hierdie plan van haar ook faal, sal sy geen ander keuse hê nie as om maar een van die onbekende Carla se rokke aan te trek, ’n ding wat sy nog nooit in haar lewe gedoen het nie.
Sonder ’n enkele verdere woord neem die marquês Rina liggies aan die arm en lei haar tussen die bome deur na waar sy neef en niggie nog steeds op die oewer van die rivier staan.
“Laat my toe om my neef en my niggie aan jou voor te stel, señorita,” hoor sy die edelman meteens langs haar sê.
Sy kyk op, vas in Carla se donker oë wat blink van ondeunde pret. Die volgende oomblik is haar eie blou oë vol lagduiweltjies. Haar blik skuif stadig na die neef se gesig en met verrassing merk sy dat hy dieselfde uitdrukking in sy donkerbruin oë het as dié van sy suster.
Nee, hierdie twee lyk beslis nie preuts en bekrompe nie, dink sy. Hul oë is te vol ondeunde pret en lewenslus. Ja-nee, hulle twee aard beslis nie na hul neef, die statige señor marquês nie.
Maar dan hoor sy die edelman se diep stem voortgaan: “My niggie, señorita Carla de Mora . . . My neef, señor Marco de Mora. Hierdie dametjie is señorita Rina Verhoef, uit Suid-Afrika afkomstig. Maar ’n mens kan sommer dadelik aan haar kleredrag sien dat sy ’n uitlander is. Terloops, sy het gisteroggend hier in Lissabon aangekom.”
’n Wedersydse aangename kennismaking volg, dan is die marquês weer aan die woord.
“Ek het die señorita genooi om ’n warm bad in die castelo te neem en haar in droë klere te verklee. Daarna sal sy middagete saam met ons nuttig. Maar ek vrees jy sal vir die señorita een van jou rokke moet leen, Carla. ’n Nuwe, as dit moontlik is. Die señorita sê dat sy nog nooit in haar lewe ander mense se klere gedra het nie en sy weier beslis om dit vandag te doen. Indien jy dus ’n rok het wat jy nog nooit aangehad het nie, sal die señorita geen rede hê om my uitnodiging te weier nie.”
Rina se oë ontmoet Carla s’n. Sy knik ongemerk vir die jonger meisie en skud haar kop ewe ongemerk, as teken dat haar antwoord “nee” moet wees.
Carla glimlag meteens breed en liefdevol na haar adellike neef. “My liewe Conzalo,” sê sy met ’n stroopsoet stemmetjie, “ek het natuurlik baie rokke, maar ongelukkig nie een wat nuut is nie.”
’n Stralende glimlaggie sprei oor Rina se mooi gesig. Dit sal die adellike heer ’n ding of twee leer.
“Nog ’n ding,” sê Carla,“die señorita sal hopeloos in my rokke verdrink. Ek is nie net baie langer as sy nie, ek is ook breër om my heupe en middellyf.”
“Maar sy móét droë klere kry om aan te trek . . .” begin die marquês.
“Ons het haar klere, strandsak en kamera hier, Conzalo,” lig Marco hom haastig in.
“Noem jy daardie kortbroek en bloesie klere vir ’n dame?” vra die adellike neef.
“Maar die señorita lyk nog na ’n blote kind.”
“My liewe Marco,” val die marquês hom met groot verdraagsaamheid in die rede,“Rina . . . e . . . die señorita is oor twee weke drie-en-twintig jaar oud en geen kind meer nie. Terloops, sy sal dan net so oud soos jy wees.”
“Wa-a-at!” roep Marco verbaas uit.
Carla begin sommer hardop lag. “En ek wou die señorita nog vra of ek haar sommer ‘Rina’ kan noem,” sê Carla toe haar lagbui bedaar. “Maar noudat ek weet sy is ses jaar ouer as ek, het ek waarlik nie die moed om haar dit te vra nie.”
“Jy hoef nie te vra nie, señorita,” sê Rina met ’n vriendelike glimlaggie. “Natuurlik mag jy my op my naam noem.”
“Dankie, Rina,” glimlag Carla.“Jy kan ons gerus ook op ons name noem. Ek is Carla, my broer is Marco en my neef is Conzalo. Glo my, dit is vir ons aangenaam om met jou kennis te maak. Ek en Marco stem nooit oor enigiets saam nie, maar vandag is hy dit met my eens dat jy ’n pragtige meisie is.”
“Dankie vir die kompliment,” glimlag Rina beskeie. “Maar ek vrees ek stem nie met julle saam nie. As ek ’n bietjie langer was, sou ek julle miskien nog geglo het. Maar ek moet gewoonlik skoene met uitermate hoë hakke dra, anders sien almal my aan vir ’n meisietjie wat nog op die skoolbanke hoort.” Rina lag saggies en kyk Carla met ondeunde oë aan. “Dink jy ’n matriekklas en ’n klomp musiekleerlinge sal darem vir my ontsag hê?”
“Is dit wat jy tuis doen?” kom dit steurend bedaard van Conzalo.
“Wel, ek het nog nie juis begin nie, señor,” antwoord sy. “Ek het maar pas klaar gestudeer vir hoërskoolonderwys en ook my lisensiaateksamen in musiek geslaag. Maar ek is van plan om ’n begin te maak sodra ek deur Europa gereis het; dis te sê as my pa nie daarteen kapsie gaan maak nie. My ma hou natuurlik niks van die idee dat haar enigste spruit ’n klomp onnosel kinders in musiek moet onderrig nie, en nog minder van die gedagte dat ek ’n matriekklas in wetenskap moet onderrig.”
“Wat is jou pa se beroepsrigting, Rina?” wil Marco belangstellend weet.
“Hy is ’n ortopeed,” antwoord sy.
“Dit klink interessant,” sê Marco. “Ek is self ’n mediese student.”
“Ek vind my pa se werk glad nie interessant nie,” glimlag Rina. “Hy is omtrent nooit tuis nie, ewig en altyd by die hospitaal of sy spreekkamer. Nee wat, dankie, ek sal nooit met ’n chirurg of ’n geneesheer trou nie. My man sal eendag vasgestelde werkure moet hê, of anders trou ek glad nie.”
“Wie is die gelukkige man wat jou as vrou gaan kry, Rina?” wil Carla met ’n glimlaggie weet.
“Wel, ek weet nie so mooi of hy juis gelukkig gaan wees nie,” antwoord Rina. “In elk geval, ek het ’n vriend tuis. Maar of ek met hom sal trou, is ’n ope vraag. Hy is ’n professor aan die universiteit, maar so ’n ou droë stoppel het jy nog nooit in jou lewe gesien nie. Soms hou ek nogal van hom, maar meestal verveel hy my hartlik.”
“As hy jou verveel, moet jy liewer nie met hom trou nie,” raai Marco haar aan.
“Ek dink jy het reg,” stem Rina saam. “ ’n Mens trou nie met iemand wat jou soms verveel nie. Ek hou van pret, plesier en ’n opwindende lewe. Wanneer ek dood is, kan ek begrawe word, maar baie beslis nie voor my dood nie. Maar wag, ek dink dis tyd dat ek my klere begin aantrek. Daardie drie Amerikaners sal stellig oor ’n uur of wat met die boot hier verbykom, dan wil ek gereed wees.”
“Dit spyt my, maar ek gaan jou nie toelaat om jou klere oor daardie nat baaikostuum aan te trek nie, señorita Rina,” val Conzalo haar streng in die rede. “Kom, jy gaan eers in ’n warm bad ontspan. Daarna kan jy jou klere aantrek.”
“En jou huiswerkers wat my nie in ’n kortbroek mag sien nie, señor marquês?” vra Rina met ondeunde pret.
“Ons sal van ’n sydeur gebruik maak,” verklaar die edelman. “Sodra jy gebad en aangetrek het, sal ek persoonlik toesien dat jy buite sig van die huiswerkers bly.”
Daar is ’n tergende glans en ’n vonkeling in Rina se oë wat die edelman se oog nie ’n oomblik ontgaan nie. Die man is inderdaad skerpsinnig en noulettend.
“Maar, señor marquês,” kap sy met ’n vroom gesiggie terug,
“wat sal jou vrou en kinders daarvan sê as hulle moet weet dat jy ’n jong meisie êrens in jou castelo versteek? Ek vrees dit gaan ietwat verdag lyk. En wat nog as die skindertonge en die media dit te hore kom? Stel jou die opskrif voor: ‘Bekende en gerespekteerde marquês versteek jong meisie in castelo.’ Glad nie vleiend vir jou adellike naam nie.”
Carla en Marco vou byna dubbel soos hulle lag. Om Rina se aanloklike lippe is slegs ’n sweem van ’n glimlaggie, maar haar oë lag die marquês openlik uit.
Die edelman kyk haar opsommend aan, maar Rina se blik huiwer nie ’n oomblik voor syne nie. Toe vernou sy oë meteens, asof hy wil sê: Jy het ’n skerp verstand en ’n gladde tong, maar jy sal my nie om jou vinger draai nie; nie jý nie, niemand nie! Maar hardop sê hy bloot: “Ek is jammer om jou teleur te stel, señorita, maar ook ek is nog ongetroud.”
“Dis nog erger,” val sy die man met ’n ondeunde blik en ’n ernstige gesig in die rede. “In daardie geval sal die opskrif lui: ‘Ongetroude marquês versteek skraps geklede jong dame in castelo.’ Nee, ek vrees dit sal jou reputasie ernstig skaad, señor. En wat van die huiswerkers wat jou met middagete moet bedien? Jy sal my nie heeltemal kan versteek nie, weet jy?”
Rina moet hard veg teen die lagbui wat in haar opstu. Maar sy slaag wonderbaarlik daarin om nie eens te glimlag nie. Sy weet sy het hierdie trotse, konserwatiewe man nou netjies in ’n hoek gedryf.Vandag, die heel eerste keer, voel sy bly dat sy so klein van gestalte is. Hy sal nie maklik ’n rok vind wat haar sal pas nie.
Ja, die marquês sit nou werklik in die knyp. Hy het Rina vir middagete genooi, maar in ’n kortbroekie durf sy ook nie voor sy huiswerkers verskyn nie, nog minder aan tafel in sy fabelagtige castelo. Hy is ’n bekende figuur in Portugal, invloedryk en deur almal geëer en gerespekteer. Almal ken hom as ’n man met vaste beginsels, ’n man wat streng opgevoed is in die ou Portugese tradisie van edelliede en pynlik gesteld op etiket.
Maar van al hierdie dinge weet Rina niks nie; trouens, sy weet niks van die edellui van Portugal se gebruike en konvensies nie. Sy ken slegs die gebruike en konvensies van haar eie mense in Suid-Afrika, daarom vervies sy haar so vir hierdie konserwatiewe man se pynlike preutsheid. Sy waardeer sy besorgdheid in verband met haar gesondheid, maar sy nougesetheid staan haar glad nie aan nie; juis daarom verskaf dit haar groot plesier om hom te skok, uit te tart en in ’n hoek te dryf.
Ja-nee, sy gaan nog baie pret hê met hierdie man. Sy hoop van harte dat sy nog baie met hom te doen gaan kry voordat sy uit Portugal vertrek.
“Ek is glad nie van plan om jou te versteek nie, señorita,” sê Conzalo. “Ek wil jou slegs buite sig hou van my huiswerkers, wat nog nooit ’n gas in my castelo so skamel geklee gesien het nie. Ek sal beslis nie daarvan hou dat hulle jou onbetaamlike kleredrag agteraf bespreek nie.”
“Ek dink jou probleem is opgelos, señor,” voeg Rina die edelman bedaard toe, neem haar handsak by Marco en haar klere wat oor Carla se arm hang.“Ons het nou so lank hier op die rivierwal in die son vertoef dat my baaiklere reeds droog is.” Sy verwyder die marquês se baadjie wat om haar skraal skouers hang en hou dit beleef na hom uit. “Dankie dat jy my jou baadjie geleen het. Ek sal nou regkom.”
Die volgende oomblik glip sy vinnig in haar helderrooi bloesie en wit kortbroekie. Sy trek haar strandsandale aan en kyk die edelman ongeërg aan.
“Nou hoef ek nie meer na jou castelo te gaan nie. As ek verkoue moet kry, is dit reeds te laat om dit te keer. Ek sal hier op die rivierwal sit en wag totdat my vriende terugkeer,” sê sy.
“Ek vrees die windjie is besonder koel vandag, señorita,” laat Conzalo onverstoord hoor. “Jy gaan ’n dodelike koue opdoen met daardie skrapse bloesie aan.” Hy wil net weer sy baadjie om Rina se tenger skouers hang, maar sy keer hom dadelik.
“In daardie geval sal my strandjassie warmer wees as jou baadjie,” sê sy.
Met vlugge hande maak sy haar strandsak oop en haal ’n deftige, geblomde strandjassie, van kreukeltrae stof en wat met ligblou satyn uitgevoer is, uit die sak. Sy trek die jassie aan en rits dit versigtig voor toe. Nou lyk dit kompleet asof sy ’n minirokkie aanhet. Sy plaas die kamera in die strandsak, haak haar arm deur die handvatsels van die sak en spreek Conzalo bedaard aan: “Ek hoop jy gee nie om dat ek hier op jou eiendom vertoef terwyl ek op die motorboot moet wag nie, señor marquês.”
“Ek hou niks daarvan om jou hier alleen te laat nie, señorita,” kom dit met ’n tikkie besorgdheid van Conzalo. “Met jou strandjassie aan, lyk jy nie te hopeloos onbehoorlik geklee nie.”
“Ek verkies om hier te wag, señor,” val Rina hom met finaliteit in haar stem in die rede.“Jy moet liewer nou gaan, anders sal jy laat wees vir ete.”
“Wanneer sien ons jou weer, Rina?” wil Carla teleurgesteld weet. Sy hou van hierdie Suid-Afrikaanse meisie wat so openlik opstandig is teen Conzalo se gesag. Dit sal inderdaad prettig wees om haar vir ’n vriendin te hê.
“Sodra jy my by die hotel besoek,” sê Rina. “Maar ek sal stellig môre uitstedig wees. Dit is die Summers-gesin se laaste dag hier in Lissabon, en gevolglik het hulle my gevra om hulle môre na die koetsmuseum in Belém en die ou koninklike paleis in Queluz te vergesel.”
“Hoe lank gaan jy hier in Lissabon vertoef, Rina?” wil Marco belangstellend weet.
“Niks langer as drie weke nie,” antwoord Rina. “Daarna vertrek ek na die noorde. Ek sal stellig by Santarém en Coimbra aandoen, onderweg na Oporto. In Oporto sal ek ook drie weke vertoef voordat ek na Spanje vertrek.”
“Maar, Rina,” kom dit nou duidelik teleurgesteld van Carla, “dis gans te ’n kort rukkie wat jy hier in Lissabon wil vertoef. In drie weke sal ons jou beslis nie behoorlik kan leer ken nie!”
“As jy my elke dag op my verkenningstogte vergesel, sal jy my in drie weke baie goed leer ken, Carla,” doen Rina vriendelik aan die hand.
“Ek vrees dit is gans onmoontlik,” antwoord Conzalo namens sy niggie. “Carla mag nie alleen op straat gaan nie.”
“Maar sy sal nie alleen wees nie, señor, sy sal saam met my wees. Ons gaan ons ook nie oor ’n mik loop na die plekke wat ons wil besigtig nie. Meneer Summers senior sal môre vir my reëlings tref met ’n onderneming waar ek ’n motor vir twee weke kan huur. Daarna behoort my eie motor per boot aan te kom. Ek wil graag rustig deur Europa reis, daarom het ek my eie motor laat aanstuur.”
“Ek vrees Carla mag nie sonder ’n duenna op straat gaan nie, señorita,” waarsku die edelman haar ietwat stroef.
“Wel,” sê Rina bedaard, “as Carla nie sonder ’n duenna op straat mag gaan nie, kan sy die affêre maar dra vir al wat ek omgee. Maar ek dink dis lawwigheid. Ek dra nie eens ’n hoed nie.”
Die volgende oomblik skater Carla en Marco weer soos hulle lag. Selfs om die trotse marquês se mond speel daar nou so ’n skewe glimlaggie.
“Ek dink, señorita,” sê die edelman met pynlike bedaardheid, “jy verwar nou ’n duenna met ’n mantilla.”
“Maar is ’n duenna dan nie daardie kanthooftooisel wat die Portugese dames so lief is om te dra nie?” vra Rina ernstig.
“Nee, dit is nie, señorita,” antwoord die marquês.“Daardie hooftooisel word ’n mantilla genoem.”
“O!” kom dit droog van Rina. Maar dan pen sy die marquês ineens met ’n ernstige blik vas en vra bedaard: “Nou wat vir ’n ding is ’n duenna dan, as dit nie ’n mantilla is nie?”
“ ’n Duenna, señorita,” verduidelik die edelman verdraagsaam, “is ’n metgesel in die vorm van ’n ouerige dame. Carla se moeder is op die oomblik haar duenna. Maar ook my moeder, of selfs ek, mag vir Carla as duenna optree.” Daar is ’n waarskuwing in sy oog wat Rina nie ontgaan nie. “Hier in Portugal, señorita,” gaan hy voort, “is dit absoluut ongehoord vir ’n respektabele jong dame om sonder ’n duenna op straat te gaan.”
“Maar jy is nie ’n ouerige dame nie, señor.”
“Ek is die hoof van die familie, señorita,” val hy haar, nog steeds met groot verdraagsaamheid, in die rede.
“En wat Conzalo sê en besluit, is die wet van Mede en Perse,” las Carla glimlaggend by terwyl haar donker oë glinster van ondeunde pret. “Hy is die hoof van ons hele familie tot aan die kleinste vertakking, Rina. Hy het ook die finale besluit oor ons almal se lewensweë. Ek en Marco mag byvoorbeeld nie trou sonder sy goedkeuring en toestemming nie. Marco kon ook nie ’n mediese loopbaan volg sonder Conzalo se toestemming nie. En dit geld vir ons hele familie, want almal se lewens word in sekere mate deur Conzalo beheer. Ons is slegs stukkies van ’n legkaart wat hy inmekaar pas om ’n patroon te vorm.”
“O, verdriet!” kan Rina nie help om verbaas uit te roep nie. “Geen wonder die man is so dominerend nie. Hoe hou julle dit uit?”
’n Sagte laggie borrel oor Carla se rooi lippe. “Ons word van kleins af so opgevoed,” sê sy, “gevolglik is ons daaraan gewoond.”
Daar is ’n verwarde blik in Rina se mooi oë onderwyl sy die jong Carla aankyk en versigtig vra: “Maar sê nou jy kies ’n bruidegom en jou adellike neef keur hom nie goed nie, wat dan?”
“Wel,” haal Carla haar skouers liggies op, “ten eerste kies ek nie my eie bruidegom nie; my ouers kies vir my ’n lewensmaat.” Rina verloor byna haar asem van verbystering, maar Carla praat rustig voort: “As Conzalo die man nie goedkeur nie, kies hy self vir my ’n bruidegom.”
Rina, nog steeds half deur die wind van verbystering, se blik skuif stadig na Conzalo se stil, streng gesig. Sy kan sweer daar is nou ’n effens geamuseerde vonkeling in sy swart oë. Voordat sy haar uitgesproke tong kan keer, is die woorde reeds uit: “Dis skone lawwigheid. So sal ek nooit my lewe deur ’n ander sondaar laat regeer nie. Verbeel jou, dat ek iemand sal toelaat om vir my ’n lewensmaat te kies.”
“Dit is vir my baie duidelik dat jy niks van ons gebruike en adellike tradisie hou nie, señorita,” val die marquês haar met ’n koue stem in die rede. “Tog moet ek weer op my beurt sê dat ek niks van jul Suid-Afrikaanse gewoontes hou nie. Ten eerste is dit onbehoorlik en absoluut ongehoord dat ’n jong meisie alleen deur Europa rondreis.Van jul gewaagde kleredrag,” en hy kyk afkeurend na haar kortbroekie wat af en toe guitig by die soom van haar strandjassie uitloer, “sal ek liewer niks meer sê nie.”
“Ek dink jy is bitter onredelik, señor,” praat Rina al weer haar mond verby. Maar sy voel nou te vies vir die man om haar eens daaraan te steur. Ook die onverbiddelike uitdrukking in sy streng oë bring haar glad nie van stryk nie. “Dit lyk vir my jy gun Carla geen plesier in die lewe nie. Maar ek gee glad nie om nie. Ons kan met die grootste liefde vir haar ’n duenna saampiekel, as dit dan die enigste manier is om haar iets van die lewe te laat sien. Hoe op aarde gaan sy ooit selfstandig word as sy ewig en altyd net na jou pype, of na ’n duenna s’n, moet dans?”
“Sy is nie veronderstel om selfstandig te wees nie, señorita,” verklaar die marquês koelweg. “Waarom moet sy selfstandig wees as daar ander is wat vir haar kan besluit?”
“Maar, genugtig, sy het tog ’n smaak en ’n persoonlikheid van haar eie!” troef Rina hom met openlike wrewel in haar stem.
Maar Conzalo is ’n man wat hom deur niemand laat troef nie. “Dit is nie ’n saak van smaak en persoonlikheid nie, señorita,” voeg hy haar streng toe.“Dit is eerder ’n saak van beginsels en gehoorsaamheid. ’n Selfstandige vrou skep gewoonlik onaangename probleme; probleme wat vermy kan word as sy eerder gehoorsaamheid en onderdanigheid aan die dag lê.”
“Ag, dank die Vader ek is ’n Suid-Afrikaner en nie ’n lid van jou adellike familie nie, señor . . .”
Die volgende oomblik kom die motorboot om die draai van die rivier en Rina wink hulle sonder seremonie nader.
Eers toe Basil die boot na die kant van die rivier stuur, begin Rina die adellikes met die hand groet. Sy bedank die marquês beleef vir sy gasvryheid en herinner Carla daaraan dat sy net hoef te bel indien sy lus voel om haar, Rina, te besoek. Daarna help Conzalo haar ewe hoflik om in die boot te klim. Stellig dankbaar om van haar ontslae te wees, meen Rina.
“Adeus, tot siens!” Met ’n vrolike oor-en-weer-groetery trek die motorboot vinnig weg.