Читать книгу Die Bolander - Tryna du Toit - Страница 6

Оглавление

Hoofstuk 3

Hoofstuk 3

Toe Annie Celliers Maandagmôre die personeelkamer binnekom, is die nuwe skoolhoof reeds daar. Hy staan met sy rug na haar en sy sien dadelik die man se breë skouers en sy mooi regop houding raak. Hy gesels met meneer Ben Pienaar en dokter Piet van der Merwe, albei lede van die skoolkomitee.

“Kom, Annie, kom ontmoet jou nuwe hoof,” sê dokter Piet. “Meneer De Kock – juffrou Annie Celliers, die enigste dame op die personeel.”

Johan draai om om die dame te groet maar die vriendelike woorde stol op sy lippe. Vir ’n oomblik aarsel hy, toe steek hy sy hand uit en sê gewoonweg: “Goeiemôre, juffrou Celliers. Het ons nie al kennis gemaak nie?”

Hy herken Annie onmiddellik, soos sy vir hom, en sy eerste gewaarwording is intense teleurstelling. Is dié meisietjie, seker skaars twintig jaar oud, die enigste dame op sy personeel! Geredelik gee hy toe dat sy ’n baie aanvallige meisie is, maar bloot ’n ornament op die personeelkamer se rak – dit is nou nie juis sy dringendste behoefte nie. Nee, as die wa swaar gelaai is, soek die boer nie ’n ligte karperdjie uit om die vrag te trek nie. En sy wa is hoog gelaai en die pad lê opdraande.

Maar mens mag nie te haastig oordeel nie. Tyd en geleentheid om alles uit te vind sal daar wel wees. Maar, ai, hy het darem so gehoop dat daar ’n ouerige, ervare dame op die personeel is om met wysheid te help wat die dogters betref! Al weer die ervaring …

En Annie?

Wie het dit nou ooit kon droom! Wat het ek gedoen om so gestraf te word? Want die man is niemand anders as die vreemdeling wat sy en Piet die vorige middag so skandelik behandel het nie. Die man wie se grys oë haar die hele nag gehinder en uit die slaap gehou het. ’n Oomblik is sy totaal uit die veld geslaan, maar sy besef gou dat dokter Piet en Ben Pienaar haar antwoord met belangstelling afwag. Nou kan sy tog nie die man om verskoning vra nie, dus maar die beste van die saak maak. ’n Ligte blos kleur haar wange, maar sy kyk vas in die grys oë en sê ewe liefies: “Heel moontlik, meneer De Kock. U gesig lyk my baie bekend.”

’n Vlugtige glimlaggie raak die skoolhoof se ferm mond aan, maar hy sê niks nie.

Ben Pienaar en dokter Piet wil nog ewe nuuskierig weet waar hulle dan kennis gemaak het, maar gelukkig daag daar meer mense op wat die nuwe hoof se aandag opeis en Annie kan haar met ’n sug van verligting onttrek aan die geselskap. Maar die hele tyd kook dit in haar gemoed. Natuurlik moes sy geweet het. ’n Jong vreemdeling wat Sondagmiddag aankom met ’n Kaapse motor, wie anders as die nuwe skoolhoof kon dit nou gewees het! Ongemerk dwaal haar oë weer na die man wat nou met meneer Kriek gesels. ’n Baie aantreklike jong man, veral noudat al die tekens van sy vermoeiende reis weg is, en skynbaar heeltemal op sy gemak in die vreemde omgewing. Maar jonk, baie jonk! Te jonk vir die betrekking wat hy aanvaar het. Want al die skoolhoofde wat sy ken, is baie soos meneer Fouché: ouerig, ’n bietjie kaalkop, vol fiemies en baie ervare. Maar dié jong man kom hier met sy jeug, wat nie altyd ’n aanwins is nie, en boonop kom hy nie onseker voor nie. Hy staan daar op sy gemak, vol selfvertroue; sy jeug hou hy hoog, soos ’n vaandel. Dit sal beslis die moeite werd wees om te sien wat hy gaan doen as dinge verkeerd loop, soos seker ’n tiental kere elke week sal gebeur; hoe hy koppige ouers sal paai; hoe hy moedswillige, lui kinders sal hanteer en laat werk; en hoe hy eiesinnige kollegas sal regeer!

Die jong man, seker bewus van haar oë op hom, kyk meteens op en die sweem van ’n glimlag verskyn op sy gesig, asof hy weet wat in haar gedagtes omgaan. Annie voel sy bloos al weer en sy draai onthuts weg en begin met Abie praat. Hulle is nou almal daar en Annie wonder watter indruk hulle op hul beurt op die nuwe skoolhoof maak. Haar oë gaan deur die kamer terwyl sy die res van die personeel gadeslaan.

Daar is meneer Kriek, onderwyser in die natuurwetenskappe, ’n stil, hardwerkende man van sowat veertig jaar. Hy is getroud en het drie jong kinders, al drie in die laerskool. Oënskynlik ’n bedaarde, teruggetrokke mens, is hy nietemin vasbeslote en hardkoppig – soos ou meneer Fouché dikwels tot sy ergernis uitgevind het. Hulle het nooit baie goed saamgewerk nie en meneer Kriek het herhaaldelik gedreig om te bedank, maar twaalf somers het gekom en gegaan sonder dat hy sy dreigement uitgevoer het.

Abie Greef kla gedurig die onderwysberoep sal hom in die malhuis laat beland. Meneer Fouché was nooit baie tevrede met Duits se uitslae nie en Abie moes dit dikwels hoor. Hy is dertig jaar oud, groot, blond, goedgeaard en ’n goeie sportman. Hy is vir sport ook verantwoordelik en het in die begin baie hard geveg om vir die seuns meer voorregte op sportgebied te verkry, maar tevergeefs. Ou meneer Fouché was onversetlik. As die seuns een of twee middae in die week ’n uur of wat oefen, is dit oorgenoeg. Daar is nie tyd vir wedstryde nie, liewers ’n paar ekstra lesse in Latyn of Duits. En Abie moes uiteindelik swig.

Meneer Nieuwenhuys is ’n kort, gesette man met ’n pankop en swart ogies wat kan blits as hy die dag kwaad is. Die leerlinge, sy seun Frederik in die matriekklas inkluis, is vir hom en sy rottang amper so bang soos hulle vir meneer Fouché was. Hy het sekerlik gedink hy sal meneer Fouché se opvolger word. Hy beskou dit dan ook, heeltemal tereg meen hy, as ’n groot skandaal en ’n gruwelike belediging vir sy jare en die diens wat hy so getrou aan die skool gelewer het dat ’n ouer, bekwamer, meer ervare man soos hy oor die hoof gesien word vir ’n snuiter van agt en twintig jaar wat as skoolhoof aangestel word omdat hy ’n Springbok was. Natuurlik die invloed van Ben Pienaar, wat nog sy hele lewe gedweep het met rugby. Hy het dan ook al vir meer as een ouer voorspel dat dit nie lank sal wees voor die skoolkomitee besef wat ’n flater hulle begaan het deur hom so smadelik oor die hoof te sien nie.

Meneer Du Pré, onderwyser in Geskiedenis en Engels, is ’n wakker, energieke man met ’n lelike, aantreklike gesig – mooi van lelik, soos die skooldogters hom so paslik beskrywe. Miskien besef hy beter as enigiemand anders op die personeel, met die moontlike uitsondering van haarself, wat ’n onaantreklike plek hul skool was. As daar ooit geluk en vrolikheid binne die somber mure van die skool was, was dit net omdat geluk en vrolikheid so ’n onafskeidbare deel van die jeug is. Die leerlinge is nie daartoe aangemoedig nie en hulle het gewoonlik met ’n sug van verligting hul skooldae vaarwel gesê. Meer as een dag is meneer Du Pré tot in die diepste van sy siel gepynig deur die onverstandige en onsimpatieke optrede van die ou hoof teenoor die kinders se onskuldige pret, en dis net die wete dat die ou man se heerssugtige bestuur vinnig einde se kant toe staan wat meneer Du Pré laat afsien het van sy voorneme om sy seun Francois na ’n ander skool toe te stuur. Wat hom betref, het die skoolkomitee ’n goeie keuse gedoen en die nuwe hoof sal in hom ’n getroue helper vind.

En dan syself: twee en twintig jaar oud, ’n jaar lank al onderwyseres in Afrikaans aan Saailaagte se hoërskool. Meneer Fouché se metode van onderwys en sy behandeling van die kinders het haar dwars in die krop gesteek, maar sy het nie durf teëpraat nie. Sy het self by meneer Fouché skoolgegaan en hy het haar nog altyd soos ’n skooldogter behandel behalwe dat hy haar altyd baie stiptelik ge-mejuffrou het. In sy geselskap het sy gevoel soos ’n lomp skooldogter, onbelangrik, en sy het ook maar die drome en ideale waarmee elke jong onderwyser begin, opsygesit vir ’n beter en ’n gelukkiger dag. En nou die noodlottige ontmoeting met die nuwe hoof! Wat hy van haar dink, kan sy goed raai. En sy kan daar niks aan doen nie, niks meer as om ’n geskikte oomblik af te wag om hom om verskoning te vra nie.

Die skool heropen dié môre soos gewoonlik.

Die skoolterrein is ’n blok erwe aan die dorpsgrens waarop die laer- en die hoërskoolgeboue geleë is. Die skoolgeboue, wat sowat honderd tree van mekaar af staan, is modern en goed toegerus. Die hoërskoolgebou is sowat drie jaar tevore ingewy en die ruim perseel is omring met jong boompies wat al lekker skaduwee maak. Die speelterrein is ruim, maar stowwerig. Dit is die gebruik op Saailaagte dat albei skole se leerlinge en personeel aan die begin van ’n kwartaal by die hoërskool vergader. In die saal staan die skoliere in ordelike rye toe die komiteelede en die personeel hul plekke op die verhoog inneem.

Dominee Marais begin deur Psalm 23 te lees: “Die Here is my Herder; niks sal my ontbreek nie.”

Sy stem is sterk en gevoelvol en dis vir Johan asof die dominee, bewus van sy huiwerende gees, net vir hom lees. In die gebed wat daarop volg, vra die dominee ook om krag en leiding vir die jong man op wie daar so ’n groot verantwoordelikheid rus, en Johan, diep onder die indruk van die opregte en ernstige woorde, sê met ’n ongekende kinderlikheid “Amen” in sy hart.

En toe kom Ben Pienaar aan die woord. Luimig omskep hy gou die atmosfeer en die erns van ’n paar oomblikke gelede vervaag. Hy is ’n goeie spreker en die skoliere luister aandagtig. Hy gesels lekker oor die vakansie wat verby is, hieroor en daaroor, en net teen die einde van sy toespraak word hy ’n bietjie ernstig: “Seuns en dogters, ek wonder of julle besef wat ’n belangrike mylpaal julle skool vandag bereik het. ’n Nuwe prinsipaal is altyd ’n groot gebeurtenis in die geskiedenis van ’n skool, maar ek voorspel vandag dat meneer De Kock se koms na Saailaagte die grootste gebeurtenis in die hele geskiedenis van ons skool sal wees.” Hy glimlag. “Weet julle wat meneer De Kock julle kom leer?”

’n See jong gesigte, maar niemand sê ’n woord nie.

“Toe, kom, kan julle nie raai nie?”

’n Handjie gaan op – een van die laerskoolkindertjies. Die ouer kinders is te goed geleerd om aan sulke kinderspeletjies deel te neem.

“Ja?”

“Om somme te doen,” raai die seuntjie.

Ben Pienaar glimlag. “Ja. Om somme te doen. En wat nog? Nou toe, miskien kan Susie de Wet ons sê?”

“Om soet te wees,” sê Susie met ’n piepstemmetjie en ’n vroom gesiggie, en die groter kinders glimlag so effens uit die hoogte.

’n Derde handjie waai hewig, wat Johan laat glimlag. Dit is klein Attie Botha. Meneer Fouché het nie die geleentheid gehad om sy stempel op Attie se persoonlikheid af te druk nie.

“Om rugby te speel,” sê Attie met ’n ondeunde laggie, en hy kyk Johan met agting en verering aan.

Ben Pienaar lag en die res van die skool lag saam, nog steeds so uit die hoogte uit, maar Johan sou ’n uitbundige geskater verkies het.

“Attie is reg. Meneer De Kock het julle kom leer hoe om rugby te speel. En hy behoort dit baie goed te kan doen, hy was dan ’n Springbok.”

Uiteindelik bars ’n luide, aanhoudende applous los en te midde daarvan gaan meneer Pienaar met ’n bemoedigende knikkie vir Johan sit.

Toe word dit stil. Iedere oog in die saal is op Johan gerig. Stadig staan hy op en stap ’n paar tree vorentoe. Voor hom som die jong gesigte hom genadeloos op. Hy weet die helder, kritiese oë van die jeug mis nie veel nie. Vir ’n oomblik kan hy nie praat nie, nie omdat hy verleë of verbouereerd is nie, maar omdat die taak wat vir hom voorlê, so oorweldigend lyk. Hy kyk oor die kleiner kinders se koppe na die ongeveer tweehonderd seuns en dogters agter in die saal. Hy is hul skoolhoof, ja, en as sodanig sal hulle hom die nodige respek en eerbied betoon. Sal dit baie moeilik gaan om hulle te laat verstaan hy wil graag hul vriend ook wees?

Hy spreek sy waardering uit vir die vertroue wat die skoolkomitee in hom gestel het en daarna praat hy met die kinders. Hy vertrou, sê hy, dat hulle almal baie gelukkig saam sal wees. Nie net gaan hulle leer somme maak en soet wees nie, voeg hy glimlaggend by, maar soos meneer Pienaar sê, ook om rugby en ander speletjies te speel. Want opvoeding, en die hele lewe, bestaan uit al dié dinge. En ’n gesonde, gebalanseerde persoon het ’n beter kans om ’n gelukkige lewe te lei as iemand wie se lewe uit verband geruk is omdat te veel nadruk op een rigting gelê en die ander verontagsaam is. En hy raak die kinders. Voor hy halfpad is, luister hulle aandagtig na hom, en toe hulle die saal verlaat, is die gort gaar. Almal praat tegelyk. So ’n rumoer was daar seker nog nooit in die gange nie. Ou meneer Fouché sou op die plek beroerte gekry het van ergernis as dit in sy tyd gebeur het.

Annie kan nie help om onrustig om te kyk of meneer Fouché nie miskien onverwags daar aankom nie. Haar neef, Barry Retief, wat ook belangstellend die opening van die skool bygewoon het, sien dit en kom laggend nader. Hy is ’n mooi sterkgeboude jong man en eienaar van die plaas Wag ’n Bietjie, een van die mooiste plase in die distrik.

“Hoe lyk dit vir my jy is bang meneer Fouché sal hier aankom, Annie?”

“Ek is,” erken sy. “Ek dink dit sal my baie lank neem om daaraan gewoond te raak dat hy regtig weg is. Ek verwag maar elke oomblik dat hy hier ingestorm kom en almal onmiddellik tot bedaring bring – insluitende die nuwe hoof. Hy lyk maar nog baie soos ’n skoolseun.”

“En jy, niggietjie, lyk maar baie soos ’n ou skooldogtertjie, en jy is nie te ’n slegte onderwyseres nie, of hoe?”

“Maar die prinsipaal, Barry! Die man het nie eens die takt om ’n paar grys hare te hê nie.”

“Hy het dit nie nodig nie. Wag maar, ons twee sal weer gesels.” Hy kyk na Johan en vervolg tergend: “Maar as ek jou raad verskuldig is, Annie, moenie gras onder jou voete laat groei nie. Hy is die gaafste jong kêrel wat ek ken en die wedywering sal seker kwaai wees.”

Annie se wange gloei vir die hoeveelste keer vanmôre. Kwaad sê sy: “Kyk, Barry, ek soek nie ’n man nie. Ek loop ook nie agter hulle aan nie. Wat verbeel julle mans julle tog nie!” En toe Barry geamuseerd lyk: “Ag, Barry, as jy net weet wat ek aangevang het, sal jy nie nog so ligsinnig praat nie.”

Hy kyk haar besorg aan, want sy is blykbaar ernstig.

“Nee, ek kan nie nou vir jou sê nie, maar dit sal wel voor vanmiddag die hele dorp vol wees.”

Op daardie oomblik sluit een van die laerskoolonderwyseressies, wat al lankal en tog nog toe vergeefs haar mooi ogies op die jong boertjie gehad het, by hulle aan en ’n vertroulike geselsery is buite die kwessie.

Kort daarna neem Barry afskeid van hulle. Annie kyk hom agterna, dié sjarmante neef van haar vir wie sy amper so lief is as vir haar eie broer. Hy is ook byna soos ’n broer vir haar, want hy het, alhoewel ’n bietjie ouer as sy, maar saam met hulle grootgeword. Hy het sy ouers ’n paar uur na mekaar gedurende die griepepidemie van negentien agtien verloor toe hy maar ’n seuntjie van sowat nege jaar was. Sy oupa Retief, wat toe al by die sestig jaar oud was en ’n paar jaar tevore dorp toe getrek het sodat sy seun die boerdery op Wag ’n Bietjie self kan waarneem, het maar weer plaas toe getrek en geboer solank sy geliefde kleinseun sy opvoeding voltooi. Getrou bygestaan deur sy enigste suster, Wilhelmien Retief, ’n skerpsinnige, kwaai oujongnooi met ’n hart van goud, het oupa Barry vir Wag ’n Bietjie opgepas tot klein Barry sy landbougraad behaal het en self die boerdery kon oorneem.

Met die dood van sy oupa byna drie jaar gelede het tant Wilhelmien, toe al diep in die sewentig jaar, vir Barry gesê om vir hom ’n vrou te soek, haar goed ingepak en haar intrek geneem by dokter Piet van der Merwe, wat met ou Barry se enigste dogter, Hester, getroud is.

En Barry het maar alleen geboer op Wag ’n Bietjie, nog eensaam en alleenlopend soos hy sy hele lewe was ten spyte van al die liefde en sorg wat sy familie so graag vir hom gegee het. Hy en Johan de Kock is omtrent ewe oud, dink Annie. Hulle was saam op universiteit, het saam rugby gespeel, en Johan het twee jaar nadat Barry plaas toe gekom het vir die eerste keer Springbokkleure gedra. Sy onthou nog hoe baie Barry van hom gesels het … Wat sal hy tog sê as hy hoor hoe sy die nuwe skoolhoof verwelkom het?

Interessante dae wag seker op hulle almal. Dit sal voorwaar ’n plesier wees om saam met die wakker jong man te werk nadat ’n mens se gees en siel versmoor was deur ou meneer Fouché se kleingeestigheid, sy ongeduld met die onvolmaaktheid van die jeug, sy ysterwil om hulle te maak en te breek na sy sin.

Maar hoe jammer tog dat haar kennismaking met die nuwe hoof soveel te wense oorgelaat het. Dit kan tog nie anders as om stremming te veroorsaak in hul toekomstige verhouding nie.

Na afloop van die verrigtinge in die saal is die leerlinge na hul klaskamers. So ook die handjie vol matriekstudente.

Daar is vanjaar net nege van hulle en die teenwoordigheid van minstens drie, Andries Celliers, Annie se broer, Francis du Pré en Maria Gerber – die room van die klas wat intelligensie betref – is te danke aan meneer Pienaar se ernstige beroep op hul ouers om die kinders eers toe te laat om hul matriekeksamen op Saailaagte af te lê. Aangesien al drie van hulle van plan was om verder te studeer het hul ouers maar gehoor gegee aan Ben Pienaar en die kinders laat bly.

Die klompie stap rond in die klaskamer en stry oor sitplekke soos hulle seer sekerlik nie twee maande gelede sou gedoen het nie.

“Nee-a, Poppie,” objekteer Andries Celliers. “Jy kan nie so maak nie. Ek het daardie hoekbank verlede kwartaal al bespreek. Vra gerus vir Francis. Ons wou hier bymekaar sit. Kyk, daar het ek my voorletters gesit.”

Hy wys met sy vinger na ’n klein A.C. wat netjies in die rug van die bank uitgesny is.

Poppie Steenkamp, ’n lang, mooi meisie met ligte hare en blou oë, lag maar net terwyl sy haar boeke verder regpak.

“Ek weet niks daarvan af nie, Andries. En jy weet jy mag nie jou naam op die banke uitkrap nie. Na regte behoort ek jou te verkla,” vervolg sy tergend.

Andries kyk haar suur aan. Natuurlik sal Poppie nie weet nie. Sy was nie verlede jaar saam met hulle gewees nie. Sy was toe in die matriekklas, maar het nie die eindeksamen geslaag nie en haar ouers het haar teruggestuur om maar weer te probeer, hoe sy ook al teëgestribbel het. Toe Poppie sien dat dit nie help om teë te praat nie het sy maar ingegee. As hulle nie omgee om hulle geld te mors nie … nou ja, sy ook nie. As ou meneer Fouché egter nog hoof was, sou niks op aarde haar seker kon oortuig het om terug te kom nie, maar met ’n nuwe, jong skoolhoof het dinge heelwat anders gelyk. Tog, sy was glad nie van plan om haar dood te werk nie en daarvoor was ’n agterhoekbank absoluut noodsaaklik.

Maar Andries is bitterlik ontevrede. Die enigste bank wat nou nie geneem is nie is heel voor in die klaskamer, reg onder die onderwyser se neus.

“Ag, Andries, jy’s verniet so verspot,” lag Poppie weer toe sy sien hoe kwaad hy lyk. “Jy’s mos slim. Waarom sou jy omgee om by Meester te sit? Maar wat dink jy sal van arme my daar voor word?”

“Waarom probeer jy nie ook jou werk doen nie?” wil hy weet.

“Ek is so dom.” Die blou oë lag vertroulik in syne. “Jy sal my moet help, hoor.”

Meteens lag Andries, en Poppie wens sy weet presies wat hom van plan laat verander het.

“Nou ja, alles van die beste, Poppie. Hou maar die bank … met my komplimente.” En hy stap weg na die ander hoek van die klaskamer waar die res besig is om te gesels.

Poppie kyk hom agterna – ’n mooi, regop jong seun met donkerblou oë en bruin hare wat ten spyte van al sy pogings om hulle te onderdruk, tog maar krul. Sy het altyd van Andries Celliers gehou al was hy jonger as sy, sewentien jaar teenoor haar amper negentien, maar hy het nooit die minste ag op haar geslaan nie. Noudat hulle saam in dieselfde klas is … wel, sy het iemand nodig om haar met die ewige huiswerk te help.

“En toe, Andries,” groet Maria Gerber hom. “Wat dink jy van ons nuwe hoof?”

Maria Gerber is ’n klein, mooi meisietjie met donker hare en oë, ’n fyn, bleek gesiggie – fyn en bleek selfs ná die lang somervakansie – soos gewoonlik netjies aangetrek in ’n donkerblou rokkie. In die verlede was sy nog altyd in staat gewees om by te hou by Andries en Francis du Pré, die keur van die klas, alhoewel hulle nooit geraai het watter uiterste kragsinspanning dit haar gekos het om dit te doen nie.

Andries het ’n heilige respek vir Maria se intelligensie en werkvermoë. Hulle twee het saam grootgeword, saam van klas tot klas gegaan, maar Andries was aan die einde van iedere kwartaal gereeld ’n aantal punte voor, tot hy een kwartaal in die hoërskool, heel waarskynlik ’n bietjie te seker van homself, effens verslap het. Tot sy groot ontsteltenis het Maria hom daardie kwartaal met tien punte geklop.

Hy het haar hand ná skool geskud en gesê: “Mooi so, Mariatjie. Maar nie weer nie, hoor! Nooit weer nie!”

En hy het sy woord gehou.

Aan die begin van verlede jaar het Francis du Pré in hul klas gekom. Baie soos sy pa, met ’n lelike, aantreklike gesig, het hy onmiddellik Andries en Maria op hul hoede gesit. Die eerste halfjaar het hy en Maria dan ook gelyk gekom, dertig punte agter Andries, wat self ook gewerk het soos nooit tevore nie.

’n Breë glimlag verhelder nou Andries se gesig, maar voordat hy Maria se vraag kan beantwoord, sê Francis tergend: “Verwag jy dat hy iets anders as oorstelp van vreugde sal wees, Maria? ’n Rugbyspringbok in ons midde! Of hy nou ’n goeie onderwyser is, is tog van minder belang.”

Andries maak of hy ’n hou op Francis se maag slaan en laasgenoemde val byna van die bank soos hy koes terwyl Andries jubelend sê: “Ook maar nie so onverskillig oor die rugby as wat jy voorgee nie. Ai, mense, dit gaan heerlik wees. Rugby! RUGBY! Nie ’n mislike namaaksel elke Woensdagnamiddag van halfvyf tot halfses om die ou bloedsomloop te stimuleer en die harsinkies uit te vars vir môre se Latyntjies nie. Rugby! Hoerê!”

Hy gryp ’n boek van Joan Cloete se lessenaar, gooi dit op in die lug en vang dit asof dit ’n rugbybal is. Die ander seuns staan nou almal nader en opgewonde gesels hulle verder.

“Ek wonder of hy ons aan die interskoolwedstryde sal laat deelneem?” sê Ben Olivier. Meneer Fouché wou nooit hê dat hulle moes deelneem aan interskoolrugby nie en swak afgerig soos hulle was, sonder die nodige geesdrif van hul hoof se kant, het hulle self besef dat hulle maar baie sleg daarvan sou afkom. Hulle het die een of twee vriendskaplike wedstryde wat hulle wel gespeel het maar lelik in die stof gebyt, maar nou met die koms van die nuwe skoolhoof vlam die hoop weer hoog op in hul harte.

“En eindelik vir die Ben Pienaar-beker speel,” sê Francis.

“Natuurlik,” sê Ben Olivier. Hy is die oudste leerling in die matriekklas, ’n groot, mooi seun, sterk gebou en heeltemal versot op rugby. Hy speel senter vir die dorpspan en die ou skoolhoof het gepreek en gedreig, maar Ben Olivier het met sy pa se volle toestemming aangehou speel. Andries sou graag dieselfde wou gedoen het, maar omdat hy nie so swaar gebou is soos Ben nie, het sy pa hom verstandiglik belet om te speel.

Louis Botha Viljoen, negentien jaar oud, was soos Poppie nie die vorige jaar suksesvol in die eindeksamen nie, maar in teenstelling met haar ouers, wat taamlik welgesteld is, is sy ouers arm, en dit het maar baie swaar gegaan om hulle te oorreed om hom weer terug te stuur, veral omdat sy pa dadelik vir hom werk kon kry en daar nog baie jong sussies en boeties was wat deur die skool gehelp moes word. Maar Louis se ma, moeg en afgesloof soos sy was, het tog iets vermoed van die stryd wat in haar lieflingseun se hart woed en dit was alleen aan haar tussenkoms te danke dat hy nog ’n kans gekry het. Wat selfs sy ma nie eens geweet het nie is dat hy, diep weggebêre in sy hart, nog die hoop gekoester het om universiteit toe te kan gaan vir verdere studie. Hy is nie ’n dom seun nie, maar sy verstand werk baie stadig. En tog, as hy eenmaal ’n begrip bemeester het, behou hy dit vir altyd.

Freddie Nieuwenhuys, Maxie Sacs en Joan Cloete maak die klas voltallig. Joan is ’n opgeruimde, vrolike meisie van agtien jaar, nie juis mooi nie, ook nie slim nie, maar sy het doodgelukkig tred gehou met die res van die klas.

Freddie Nieuwenhuys, ’n bietjie verwaand, hoogdrawend en ongewild, wil gedurig die klas imponeer met sy intieme kennis van wat aangaan in die personeelkamer. ’n Kort, vet seun, nie slim nie maar baie ambisieus, het hy sy bes gedoen om die verskil wat daar op intellektuele gebied tussen hom en Andries-hulle was, te oorbrug deur soos ’n wêreldwyse sinikus op te tree.

En dan Maxie Sacs, klein met ’n sproetgesiggie, die gewillige mikpunt van die klas se geterg.

Hulle is nog besig met hul lewendige bespreking van die nuwe hoof en rugby toe die deur skielik oopgaan en die onderwerp van hulle bespreking, vergesel van meneer Du Pré, binnestap.

Oombliklik is daar doodse stilte.

Francis en Ben Olivier gly verleë van die lessenaars waarop hulle gesit het af na hul banke, Joan Cloete sit die liniaal waarmee sy haar woorde so heftig benadruk het saggies neer en Andries, met ’n laaste afkeurende blik in Poppie se rigting, probeer so ongemerk moontlik na die heel voorste bank in die klaskamer stap.

Die nuwe hoof, ernstig maar met vonkelende oë, draai om na meneer Du Pré: “Die matriekklas, het jy gesê, meneer Du Pré?”

Daar is slegs ’n geringe nadruk op die woord “matriek”, maar almal hoor dit.

“Ek is bevrees ja, meneer De Kock,” antwoord meneer Du Pré glimlaggend, en meteens glimlag Johan ook.

“Sit maar, asseblief. Dankie, meneer Du Pré.”

Meneer Du Pré verlaat die kamer en die leerlinge gaan sit terwyl hulle Johan die hele tyd dophou, nog nie seker wat om van hom te dink nie.

En Johan is op sy beurt lewendig geïnteresseerd in die klompie leerlinge wat hier voor hom sit. Onwillekeurig dink hy aan die matriekklasse van oor die honderd leerlinge aan die skool van waar hy kom. Ses seuns en drie meisies, fris, mooi en ongeskonde, onbewus van wat die toekoms vir hulle inhou. En wat sal hy in die een kort jaar wat voorlê vir hulle kan doen om hulle ’n rigsnoer te gee, hulle te help staal vir die lewe wat daar buite die skoolmure wag?

Impulsief sê hy vir hulle: “Julle het vreeslik geraas toe ek by die kamer ingekom het. Dit moes ’n interessante onderwerp gewees het wat julle bespreek het.”

Die kinders slaak ’n onhoorbare sug van verligting en sit terug in hul banke.

Andries sê: “Dit was, Meneer.”

“Wil julle nie vir ’n rukkie daarmee aangaan nie?” vra die hoof, tot die grootste verbasing van die klas wat hom sprakeloos aangaap.

Joan voel dat haar mond oophang en stadig maak sy dit weer toe.

Niemand praat ’n woord nie.

“Toe maar,” sê Johan op ’n aangename toon, “ek het maar net gedink dis ’n goeie manier om kennis te maak. Miskien was dit nie geskik vir ’n onderwyser se ore nie, nè?”

Joan giggel skielik en die spanning is verbreek. Andries spring weer op en sê: “Asseblief, Meneer, ons sal baie graag wil aangaan met die bespreking. Ons het oor rugby gesels en het gewonder of u ons sal toelaat om mee te ding om die Pienaar-beker.”

Andries gaan sit en die hoof stap ook om na sy stoel agter die tafeltjie.

“Vertel my ’n bietjie meer daaromtrent. Wat is die Pienaar-beker? Het julle nog nooit daarvoor gespeel nie?”

Almal begin gelyk praat, maar Johan maak hulle stil.

“Kyk,” sê hy, “dis nou nie nodig dat ons ander mense moet hinder met ons bespreking nie. Een vir een, asseblief – en wag, voordat ons aangaan, wil ek eers julle name weet.”

Hy maak ’n laai oop en haal ’n skoon stuk papier daaruit. Meneer Du Pré het hom met ’n glimlag gewaarsku dat hy maar versigtig sal moet werk met die matriekklas, drie van sy kollegas het familielede daar.

“Nou toe, begin jy, asseblief.”

Andries was natuurlik eerste aan die beurt.

“Andries Celliers, Meneer.”

Vinnig kyk Johan op. Juffrou Celliers se broer. Die mooi blou oë kyk vas in syne. Die seun maak dadelik ’n baie gunstige indruk.

“Volgende.”

“Maria Gerber, Meneer.”

“Frederik Nieuwenhuys, Meneer.”

Nog ’n familielid. Die seun van die kollega wat hom met sulke onvriendelike swart ogies aangekyk het. Die man wat gehoop het om meneer Fouché op te volg.

“Francis du Pré.”

Ongetwyfeld meneer Du Pré se seun. ’n Mooi openhartige gesig, die soort seun wat enige onderwyser in sy klas verwelkom omdat jy altyd kan reken op die besadigde invloed wat tog so baie werd is.

En so gaan hy aan tot hy al die name het en feitlik ook al ken. Wat ’n skerp teenstelling is daar nie tussen die meisie Poppie met haar ligte hare en bloesende wange en die donker dogter met haar fyn wit gesiggie nie! Die een ’n toonbeeld van blakende gesondheid, sonder inhibisies, die sorgelose ekstrovert; die ander stil, teruggetrokke, in haarself gekeer.

Vir ’n rukkie gesels hulle oor sport, veral rugby, en maak so kennis. Toe die klok aankondig dat die periode verby is, staan Johan op, stap na die deur en toe hy daar kom, draai hy om en sê: “Kyk, my matriekstudente moet darem ’n voorbeeld wees vir die res van die skool. Nie weer so raas nie, hoor.”

En met ’n vriendelike glimlag vir almal is hy weg terwyl nege jong kinders in verskillende stadiums van aanbidding die toe deur aanstaar.

Die Bolander

Подняться наверх