Читать книгу Donkerpoort - Tryna du Toit - Страница 3

Hoofstuk 1

Оглавление

Dit het alles begin met John Stevens se uitstalling in Johannesburg. Dit het Ansie later besef.

Die tragiese gebeure op Donkerpoort daardie Paasna­week, maande later, al die omwentelinge in die familie – sou dit anders gewees het as John Stevens nie Johannesburg toe gekom het nie? Of was dit maar van die begin af so bestem?

Dit was laat een middag aan die begin van Januarie toe Ansie saam met haar stiefpa, Jacob Lessing, en Mercia na ’n voorverto­ning van John Stevens se skilderye in Johannesburg gaan kyk het. Die kunstenaar was ’n Rhodesiër van geboorte en het ’n paar jaar in Engeland en Europa gewerk en gestudeer. Hy was taamlik onbekend in Suid-Afrika, maar volgens die kunskritici het hy reeds bekendheid oorsee verwerf en hang van sy skilderye in kunssale in Londen en Parys.

Jacob Lessing was ’n bekende kunsversamelaar en Ansie het deur die jare baie van hom geleer. Sy smaak was taamlik konserwatief en Ansie het grootgeword in die tradisie van Maud Sumner, Pierneef, Anton van Wouw en hulle tydgenote, vir wie sy ’n groot waardering gehad het. Van moderne kuns het sy in daardie stadium nie juis gehou nie, maar John Stevens se re­putasie het hom vooruitgeloop en sy het uitgesien na die uit­stalling.

Sy was nie teleurgesteld nie. John Stevens was ’n opwindende kunstenaar, modern en realisties, sonder ’n sweempie sentimentaliteit. Sy Afrika-tonele en -landskappe was groots, fel en aangrypend, en het veral belangstelling uitgelok. Ansie het nie van dié doeke gehou nie. Die simboliek was vir haar onverstaanbaar; dit was te hard en te primitief, maar die skilderye het almal die stempel van ’n buitengewone talent gedra. Sy portretskilderye was vir haar puik – sonder genade, maar soms met ’n tikkie humor of onverwagte deernis, het hy blootgelê wat sy kunstenaars­oog waarneem. Daar was ook ’n halfdosyn doeke wat hy tydens ’n verblyf in Griekeland geskilder het – kleurryk, sprankelend, vol poësie en ritme – wat louter genot was.

Oom Jacob het twee van die Afrika-skilderye gekoop. Was hy van plan om hulle by sy Pierneefs te hang? het Ansie gewonder.

Oom Jacob en Mercia het later staan en gesels met ’n jong man met ’n welige rooi baard en krulhare wat tot op sy skouers hang – seker die kunstenaar self, het Ansie met teleurstelling en ’n tikkie afkeer gedink. Geen gewone sterfling sal dit in dié uitgelese geselskap in so ’n pienk hemp en bont das waag nie. Sy het alleen in die galery rondgedwaal en later vir die soveelste keer huiwerend voor een van Jacob Lessing se jongste aankope gestaan toe ’n man, onberispelik geklee in ’n aandpak, langs haar kom staan. Hy was so dertig jaar oud, taamlik lank en skralerig gebou. Hy was bruingebrand, sy oë opvallend blou. Hy het ’n aantekeningboek en ’n pen in sy hand gehad en sy het geraai dat hy ’n resensent van een van die koerante is.

“Wel, juffrou?” vra hy op Afrikaans. “Het jy al besluit of jy van die skildery hou of nie?”

“Ek … ek weet nie,” stamel sy, ’n oomblik van stryk gebring deur die vreemdeling se reguit vraag. Dan ruk sy haarself reg en sê ferm: “Nee, ek hou nie daarvan nie.”

“Mag ek vra waarom nie?”

“Moontlik omdat ek dit nie verstaan nie,” antwoord sy koel, dadelik op die verdediging.

“’n Mens hou tog soms van ’n gedig, of ’n stuk musiek, of ’n skildery, al verstaan jy dit nie altyd nie.”

“My smaak is seker te konserwatief – ek hou nie van heden­daagse kuns nie.”

Hy kyk haar ondersoekend aan.

“Het jy al ooit probeer om dit te verstaan?”

Ansie kyk effens verbaas op. Gesels hy sommer? Of is hy besig om ’n onderhoud met haar te voer?

“Ek het al probeer, maar – dis seker ’n kwessie van smaak – ek het geen aanvoeling daarvoor nie. Ek hou ook nie van moderne musiek of duistere poësie nie.”

Hy glimlag effens.

“Is hier enige doek waarvan jy hou?”

“Ek dink die portrette is briljant, maar ek sal nooit toelaat dat John Stevens my skilder nie.”

“Waarom nie?” vra hy geamuseerd.

“Hy sien dinge raak wat hy nie veronderstel is om raak te sien nie.”

“Is dit as ’n kompliment bedoel?”

“Ek dink so. Maar ek hou die meeste van sy tonele van die Griekse eilande.”

Sy blik is effens spottend.

“Die meeste vroue hou daarvan. Dit verg nie veel inspanning – of kennis – om hulle te verstaan nie.”

Ansie bloos vererg. Wat ’n vermetele, onaangename man!

“Ek is seker John Stevens het dit geniet om hulle te skilder – baie meer as hierdie ingewikkelde, simboliese komposisies wat nie­mand verstaan nie en elkeen interpreteer net soos hy wil.”

Hy glimlag effens.

“Jy is reg, juffrou Lessing. Dit was lekker afleiding. Ek was moeg, ek is na die eilande toe om te rus – ek was in daardie stadium nie lus vir ingewikkelde komposisies nie.”

Sy staar na hom met groeiende verleentheid.

“Ek verstaan nie,” stamel sy. “Is jy …?”

“Ek is John Stevens. Het jy nie geweet nie?”

“Nee,” sê sy, opreg verleë. “Ek het gedink daardie man met die rooi baard …” Sy blik volg hare na die flambojante jong man met die welige rooi baard en pienk hemp en dis of hy effens sidder. “Ek is jammer,” vervolg sy haastig, verskonend, ter­wyl sy ’n giggel onderdruk. “Maar hoe moes ek weet? Jy praat Afrikaans …”

“My ma was Afrikaans. Haar familie woon in die Paarl. Ek was ’n ruk daar op skool.” Hy glimlag en sê: “Ek moet nou gaan. Ek sien hulle soek na my. Kom kuier weer. Soggens is daar gewoonlik nie baie mense nie, dan kan ons verder ge­sels.”

Sy glimlag beleef. “Ek gaan oor ’n dag of twee terug Pretoria toe. Ek woon daar. Ek glo nie daar sal tyd wees nie.”

Hy knik kortaf.

“Ek begryp. Tot siens dan, juffrou Lessing. Dit was ’n interes­sante ontmoeting.”

Ansie glimlag koel.

“My van is Durand – ek is Anna Durand. Jacob Lessing is my stiefpa. Tot siens, meneer Stevens. Alle voorspoed met die uitstalling.”

Ansie was glad nie van plan om weer na die uitstalling toe te gaan nie. John Stevens het haar baie klein en ongemaklik laat voel. Maar die vleiende resensies in die koerante en die belangstelling wat sy uitstalling by die publiek uitgelok het, het haar nuuskierigheid opnuut geprikkel. Die dag voor sy sou teruggaan Pretoria toe, het sy die oggend half teen haar sin weer by die galery ingestap.

Daar was heelwat mense. John Stevens was besig om met ’n groepie kunsstudente voor een van sy skilderye te gesels, maar hy het haar dadelik raakgesien en later na haar toe gekom. Hy was weer netjies in ’n mooi grys pak met ’n ligte blou hemp en stemmige blougrys das, en sy het gedink dat hy eerder na ’n dokter of ’n sakeman as na ’n kunstenaar lyk. Sy groet was vriendelik.

“Ek het gewonder of ek jou weer sou sien,” sê hy kalm. “Ek het ongelukkig ’n paar afsprake vanoggend – daar sal nie veel kans vir gesels wees nie. Kom eet vanmiddag saam met my. Van die studente kan hier toesig hou terwyl ek weg is.”

Hy noem die naam van een van die beste eetplekke in die stad. Ansie huiwer ’n oomblik, verras en ook ’n bietjie gevlei deur die onverwagte uitnodiging. Toe knik sy haar instemming.

Toe sy hom op die afgespreekte tyd voor die restaurant ontmoet, sê sy: “Ek twyfel of hier plek vir ons sal wees.”

Maar John Stevens glimlag ongeërg toe hy die deur oopstoot. “Ek het vooraf bespreek,” sê hy.

Was jy dan so seker ek sou saamkom? wonder sy. Die ge­dagte maak haar op haar hoede terwyl hulle voel-voel begin gesels. Maar hy is so opvallend in sy skik met haar geselskap, so byna uitbundig opgewek en ontspanne, dat sy later by sy bui inval.

Heeltemal te gou vlieg die etensuur verby. Eers later sou Ansie besef dat John – vir so ’n bekende kunstenaar – baie min oor homself te sê gehad het, dat hulle die meeste van die tyd oor haar en haar familie gesels het.

Hy kyk ’n bietjie verbaas op toe hy hoor dat sy voltyds by ’n hospitaal as fisioterapeut werk.

“Dis nie ’n ongewone stokperdjie nie. Dis my beroep. Ek verdien so my brood,” antwoord sy koel. Hy glimlag net en sy probeer nie om te verduidelik nie. Hy vra haar uit oor haar stiefpa se kunsversameling en wil weet wanneer haar ma met Jacob Lessing getroud is.

“Mercia en oom Jacob is vyftien jaar gelede getroud.”

Sy wenkbroue lig effens.

“Mercia?”

“Ek was maar ’n lomp skooldogter,” verduidelik sy glimlaggend. “En dikwels ’n verleentheid vir Mercia, wat self nie veel ouer as ’n skooldogter gelyk het nie. Ons het besluit dit klink ’n bietjie verspot om haar ‘mamma’ te noem.”

“Ek verstaan,” sê hy. “En oom Jacob?”

Oom Jacob? Ja, dis ’n ander verhaal. Maar nie een wat sy aan ’n vreemdeling – of enigiemand – kan vertel nie. Sy haal haar skouers op en sê liggies: “Ek was amper tien toe hy en Mercia getroud is. Ek het my eie pa nog baie goed onthou. Hy was maar altyd oom Jacob.” Sy kyk op haar horlosie en sê beleef: “Dit word laat. Ons moet seker gaan. Is daar nog iets wat jy wil weet?”

John grinnik effens.

“Moenie kwaad wees nie,” sê hy. “Dis ’n kwaal wat baie kuns­tenaars het – ’n byna morbiede belangstelling in hulle medemens. En ’n man soos Jacob Lessing, met sy beeldskone jong vrou en sjarmante stiefdogter …”

“Laat staan maar die vleitaal,” waarsku sy kortaf.

Hy lag.

“Ek wil jou ’n guns vra.,” sê hy dan op ’n heeltemal ander toon.

“Ek verstaan,” sê Ansie, vreemd teleurgesteld. Dan was dit alles maar net om die halsbandjie en nie die hond nie. “Wat is die guns?”

“Ek wil baie graag meneer Lessing se kunsversameling sien. As jy vir my ’n uitnodiging kan bewerkstellig …”

Sy is ’n oomblik stil en sê dan: “Ek dink nie dit sal moeilik wees nie. Oom Jacob is trots op sy kunsversameling en hy sal gevlei wees deur die belangstelling van so ’n … beroemde kuns­tenaar.”

“Ons het dan besluit: geen vleitaal nie!”

Ansie glimlag onwillig.

“Ek sal oom Jacob vra. Sal Sondagoggend jou pas?”

“Sondag sal my uitstekend pas.”

Hy gee haar sy telefoonnommer en saam stap hulle by die res­taurant uit.

Vroeg daardie Sondagoggend is Ansie terug in Johannesburg om die afspraak na te kom. Haar stiefpa en Mercia is vir die naweek Donkerpoort toe, waar hulle gaste uit die buiteland onthaal, maar tot Ansie se verbasing het oom Jacob geen beswaar gemaak dat sy John in sy afwesigheid huis toe bring nie.

In die stilligheid het sy gewonder of John die afspraak sou onthou – hy is ’n besige man en mense val seker oor mekaar om hom te onthaal. Net ná tienuur kom daar egter ’n motor met die rylaan opgery en hou voor die deur stil. John Stevens klim uit.

Ansie stap hom tegemoet en nadat hy haar gegroet het, staan hy ’n oomblik langs haar stil en kyk op na Jacob Les­sing se indrukwekkende huis. Bergheim se huis lê teen die helling van ’n koppie, omring deur goed versorgde grasperke, kleurryke blomakkers en groot, skaduryke bome, en het ’n panoramiese uitsig oor die stad met sy wolkekrabbers en die blou Magaliesberge daaragter.

“Wie was die argitek?” vra hy belangstellend.

“Frank Mentz,” antwoord Ansie. “Hy is ’n bekende argi­tek in die stad. Hy het ’n hele paar van oom Jacob se geboue ontwerp – ook die huis op Donkerpoort, waar oom Jacob-hulle die naweek kuier.”

Toe hulle saam na die huis opstap, sê hy: “Ek het aanvanklik ook vir argitek gestudeer. Later besef dat ek meer in kuns belang stel.”

Ansie bied vir John tee aan op die groot stoep, met die geur van somerrose wat swaar om hulle hang, en neem hom daarna binnetoe. Sy wys hom die vertrekke waar die skilderye hang en sê: “Jy wil seker liewer alleen rondstap. Roep my maar as jy iets wil weet.”

Tydsaam stap hy van vertrek tot vertrek en van skildery tot skildery, en maak af en toe ’n aantekening in sy boekie, terwyl Ansie in ’n diep leunstoel voor ’n sitkamervenster wag. Dit is ’n helder blou dag, sonnig en warm, met haelwit wolke wat op die noorderkim lê. Uit een van die hoë skadubome roep ’n piet-my-vrou aanhoudend.

John is so verdiep in sy studie dat Ansie later dink hy het haar vergeet, maar uiteindelik kom hy na haar toe en gaan sit op die vensterbank. Hy steek sy pyp op en rook ’n rukkie in stilte. Dan knik hy: “Manjifiek! ’n Pragversameling. Baie van die werke hoort eintlik in ’n museum.”

Hy glimlag effens. “Maar die lewe staan nie stil nie. Dit ­ver­ander steeds. Dié ou landelike rustigheid, die grasieuse lewens­wyse waarvan die skilderye getuig, is vir goed verby. Wolkekrabbers, satelliete, reise na die maan – dis die lewe van vandag. En jou kuns moet tred hou met die lewe, dit moet staan in die teken van die tyd. Daar moet gedurig vernuwing wees … Jy kan nie vir altyd in so ’n ivoortoring bly nie. Jy moet uitkom en die lewe aandurf. Jy sal uitvind dat dit ’n baie interessante en opwin­dende speletjie is.”

“Ék woon nie in ’n ivoortoring nie,” sê Ansie heftig. “Ek werk in ’n groot hospitaal waar ek daagliks met die werklikheid te doen het, waar ek deel is van my pasiënte se hartseer en pyn, hulle vreugde en oorwinnings. Ek staan al vandat ek agtien is op my eie voete …” Sy breek af, bewus van sy belangstellende blik, vies en ontsteld dat sy haar laat uitlok het om dinge te sê wat sy nooit bedoel het om te sê nie.

Sy begin oor ander dinge gesels en John vra haar nie verder uit nie. Maar later, toe Jacob Lessing se naam weer ter sprake kom, vra hy of haar stiefpa self geen kinders het nie.

“Hy het ’n seun by sy eerste vrou gehad,” antwoord sy ná ’n oomblik se aarseling. “Maar die seun is dood toe hy twee-en-twintig was. Hy was ’n vlieënier in die Engelse lugmag en het in die Tweede Wêreldoorlog êrens in Duitsland gesneuwel.”

“Dis baie interessant,” sê John. “My pa was ook in die Britse Lugmag in die Tweede Wêreldoorlog en het dikwels oor Duits­land gevlieg. Miskien het hulle mekaar nog geken.”

Sy kyk hom verras aan.

“Lewe jou pa nog?”

“Nee. Hy is ’n paar maande gelede skielik ná ’n hartaanval oorlede.”

“Ek is jammer,” sê sy sag. Sy aarsel en dan vervolg sy onseker: “Ek dink jy moet liewer nie vir oom Jacob van … van jou pa vertel nie. Hy … hy praat nooit oor sy seun nie. Daar is geen foto of enige aandenking van hom in die huis nie.”

Sy aarsel weer en sê dan: “Ek het eendag tussen ’n klomp rommel in die kelder ’n boek gekry wat aan hom behoort het. Sy naam het binne-in gestaan: Markus Aucamp Lessing, en daar was ’n foto van hom by. Ek het dit vir oom Jacob gewys, maar hy was verskriklik kwaad en het gesê ek moet dit dadelik gaan verbrand.”

Sy gesig is stil, maar die helder blik is skerp.

“Weet jy waaroor hulle rusie gemaak het?”

“Tannie Thelma, oom Jacob se skoonsuster, sê hulle het dikwels gebots. Markus was baie ongelukkig by die huis, en toe hy agtien was, het hy van die huis af weggeloop. Hy is Rhodesië toe, waar hy later vlieënier geword het.”

“En het jy toe die foto vernietig?”

“Nee,” erken sy, half skuldig, half verleë. “Hy was so ’n mooi jong man – so jonk om te sterf. Tannie Thelma het my vertel dat hy ’n baie goeie vlieënier was en ’n medalje vir dapperheid ontvang het. Ek kon dit nie oor my hart kry om die foto te verbrand nie en ek het dit toe tussen my eie goed gaan bêre.”

Daar is ’n vreemde uitdrukking op sy gesig.

“Sal jy dit eendag vir my wys?” vra hy sag.

Vraend kyk sy op na hom, maar sy gesig is stil, onleesbaar. Waarom stel hy so belang in hulle sake? wonder sy. Is dit net die “byna morbiede belangstelling van ’n kunstenaar in sy medemens”, of sit daar meer agter? Sy het buitendien reeds heeltemal te veel gepraat – as oom Jacob dit alles te hore moet kom …

“Ek weet self nie waar die foto op die oomblik is nie,” sê sy ontwykend. “In elk geval, ek moes nooit al dié dinge vir jou vertel het nie. Oom Jacob sal baie kwaad wees as hy moet weet.”

“Toe maar, ek sal dit met niemand bespreek nie.”

Ansie wip soos sy skrik toe ’n beleefde stem uit die deur sê: “Verskoon my, juffrou Anna. Bella wil weet of meneer Stevens vir middagete bly.”

Dis mevrou Perold, die huishoudster, wat ongemerk die vertrek binnegekom het. ’n Lang, maer vrou met donker hare wat sy in ’n stywe bolla kam, en ’n bleek, stil gesig wat nooit iets van haar gedagtes of innerlike emosies verraai nie. Hoe lank staan sy al daar in die deur? wonder Ansie. Hoeveel van hulle gesprek het sy gehoor?

“Nee, dankie, mevrou Perold. Meneer Stevens het reeds ’n afspraak vir middagete. En sê asseblief vir Bella sy moenie vir my moeite doen nie. Net ’n omelet en slaai of vrugte sal lekker wees. En as jy vanmiddag wil uitgaan, ek gaan net ná middagete terug Pretoria toe.”

“Dankie, juffrou Anna,” sê mevrou Perold beleef. “My suster is siek. Ek wou juis graag vanmiddag na haar toe gaan.”

Sy groet en draai om en stap weg. Met ’n fronsie kyk Ansie haar agterna. Hoeveel van hulle gesprek het die vrou gehoor? wonder sy weer. Sy is skielik bewus daarvan dat John Stevens ondersoekend na haar kyk, en ’n bietjie verleë kyk sy weg. Hy steek sy pyp in sy sak en staan op.

“Ek is jammer, my besoek vanoggend was blykbaar nie so geleë nie. Nou moet jy nog alleen die ent pad terug Pretoria toe ry.”

Sy glimlag onverwags en die bruin oë is blink en mooi.

“Ek is bly jy kon kom! Ek ken die pad tussen Johannesburg en Pretoria al so goed, my ou motortjie draf dit sommer vanself af.”

“Dit was nogtans baie vriendelik van jou.” Hy kyk ’n oom­blik na haar, dan vra hy: “Wanneer sien ek jou weer?”

Dadelik verander haar gesig.

“Ek weet nie. My vakansie is verby. Ek sal nou ’n ruk baie besig wees.”

“Ek verstaan.” Sy gesig is ernstig, maar die blou oë glimlag effens. “Dan sê ek voorlopig tot siens. En baie dankie vir ’n baie interessante en insiggewende oggend. Ek hoop ons kan weer eendag gesels.”

Lank nadat John Stevens weg is, sit Ansie nog daar voor die venster, verdiep in haar gedagtes. Sy is bly hy het gekom. Tog, noudat hy weg is, voel sy vreemd verontrus. Is dit omdat sy met ’n vreemdeling gesels het oor sake wat al soveel jare in hierdie huis taboe is, omdat die gesprek ou spoke wat bes vergete is, weer wakker gemaak het?

Of is dit mevrou Perold se onverwagte verskyning wat haar ontstel het, die moontlikheid dat sy hulle gesprek – of die laaste gedeelte daarvan – afgeluister het?

Mevrou Perold was Jacob Lessing se huishoudster toe hy met Mercia getroud is. Mercia het nie baie van die stug, donker vrou gehou nie, maar sy was bekwaam en stil en op haar plek. Onder haar toesig het die huishouding glad verloop en Mercia was maar te bly om sake in haar hande te laat.

Ansie en mevrou Perold het van die eerste dag af vasgesit. Mevrou Perold het geen geduld met die opstandige jong meisie gehad nie, en het Ansie in die ou dae menige skrobbering en straf op die hals gehaal.

Ansie was amper tien toe Mercia met Jacob Lessing getroud is. Haar eie pa, Martin Durand, se dood drie jaar vantevore in ’n motorongeluk was vir haar ’n groot skok. Skielik was alles anders. Haar geliefde pa was weg; hulle moes na ’n woonstel toe trek, en ouma Visser het by hulle kom inwoon en die huis­houding waargeneem sodat Mercia weer voltyds kon gaan werk.

Mercia se troue met Jacob Lessing, ’n vermoënde sakeman wat byna dertig jaar ouer as sy was – en dit nadat sy hom skaars drie maande geken het – het Ansie se lewe opnuut ontwrig.

Ook ouma Visser was diep gegrief en geskok. Ná die troue het sy na ’n hotel toe gegaan, waar sy gebly het totdat sy in ’n ouetehuis kon plek kry. Sy het nie van Jacob Lessing gehou nie en sy sou geen aalmoese van haar skoonseun aanvaar nie. Maar Mercia en Ansie was al wat sy gehad het, en om hulle ontwil het sy die vrede tussen haar en haar skoonseun probeer bewaar. Sy het haar nooit met hulle sake bemoei nie, selfs nie wanneer dinge skeefgeloop het nie, maar met stille begrip en wysheid haar kleindogter probeer help en lei waar sy kon.

Wanneer Mercia en Jacob op ’n lang sakebesoek of met vakansie in die buiteland was, het sy altyd by Ansie in die groot huis kom bly. Dit was na ouma Visser wat Ansie gegaan het as sy raad of hulp nodig gehad het; dit was ouma Visser wat die ontluikende jong dogter se groeiende verset teen haar stiefpa se oorheersing die beste kon verstaan, en by wie Ansie altyd haar nood kon gaan bekla.

Ansie en haar stiefpa het nooit oor die weg gekom nie. Sy het geweier om hom as pa te aanvaar – ouma Visser het moontlik ook skuld daaraan gehad – en al was sy vir hom bang, het sy hom hand en tand oor elke sogenaamde onreg beveg. Die rusies tussen hom en Mercia het haar diep ontstel, maar – reg of verkeerd – sy het altyd Mercia se kant gekies. Hulle het haar later koshuis toe gestuur, en hoewel sy Jacob daarvoor blameer het, was dit tog ’n verligting om uit die huis weg te kom. Sy het later besef dat dit in die omstandighede vir almal die beste was.

Nadat sy matriek gemaak het, het Ansie besluit om Pretoria toe te gaan om fisioterapeut te word. Solank sy by Jacob Les­sing bly, sal mense haar sien teen die agtergrond van Bergheim en sal die glans van Jacob se geld al haar doen en late aanraak. Sy wou weggaan na ’n plek waar sy haarself kon wees, waar sy nie altyd in die lig van haar stiefpa se prestasies moes beweeg nie.

Soos sy verwag het, het dit ’n bittere stryd gekos. Jacob Les­sing het ander planne vir sy slim stiefdogter gehad. Hy moes later die stryd gewonne gee, maar dit het opnuut spanning en vervreemding tussen hulle gebring. Om Mercia se ontwil het sy egter nog gereeld na die spoghuis in Johannesburg gekom, waar Jacob haar altyd hoflik ontvang het.

Sy het besonder goed presteer op universiteit en toe sy haar kursus ná drie jaar met lof slaag, het Jacob saam met Mercia na die plegtigheid toe gekom en vir haar ’n baie mooi goue horlosie as soenoffer gebring. Sy het die geskenk aanvaar: dit sou kinderagtig wees om dit te weier en sy was toe ouer, se­kerder van haarself. Uiteindelik kon sy haar stiefpa op gelyke voet ontmoet: sy het ontdek dat sy nie meer vir hom bang is nie. Daar was selfs tye dat sy vir hom jammer was.

Arme oom Jacob, kon sy nou met ’n vreemde deernis dink. Met geld, het hy altyd geglo, kan ’n mens alles koop: vriendskap, die agting en toegeneentheid van jou medemens, selfs die liefde en lojaliteit van jou vrou en familie. Met sy geld het hy ’n goue web gespin waarin hulle almal – Mercia, tannie Thelma, Bettie, Tommie, almal – een vir een mettertyd verstrik geraak het. Almal, behalwe sy en ouma Visser. Vir ouma Visser met haar helder verstand, haar onafhanklikheid van gees, haar streng Calvinistiese agtergrond, kon hy nooit imponeer nie. En sy self het – jonk soos sy was – met ouma Visser se hulp die moed gehad om weg te breek en haar eie lewe te lei.

Deesdae is hulle verhouding baie beter. Sy en haar stiefpa het geleer om mekaar te respekteer en te aanvaar. Haar belang­stelling in kuns – en veral skilderkuns – het sy aan hom te danke. Maar diep in haar hart vertrou sy tog nie die vrede heeltemal nie. Jacob Lessing wag maar net sy tyd af, voel sy. Eendag sal hy haar ook nog in die goue web intrek!

Soms droom sy weer in die nag die angsdrome van haar kinderjare waaruit sy dan vreesbevange wakker word, nat van die sweet, tot die dood toe bang, sy weet self nie waarvoor nie.

Nou het die ontmoeting met John Stevens ’n nuwe onrus in haar gewek. Is sy verlief op die man? Dit is tog ondenkbaar. Sy ken hom skaars tien dae. Sy het, om presies te wees, nog net drie keer met hom gesels. Maar hy het van die begin af haar verbeelding geprikkel, haar belangstelling aangewakker soos geen ander man nog ooit gedoen het nie. Sy sou hom graag – baie graag – beter wou leer ken. Maar sy het al geleer om op haar hoede te wees en niemand te vertrou nie. Talle kere in die verlede het sy ontdek dat die oulike jong man wat by haar kuier, nie soseer in haar belang stel nie as in haar ryk en invloedryke stiefpa. Dit was tog ook van die begin af duidelik dat John meer in haar familie, haar agtergrond en haar stiefpa se skilderye belang stel as in haar.

Sy sal hom van nou af net heeltemal vermy, vergeet dat daar iemand soos John Stevens is. As sy net sover kan kom om Peet die antwoord te gee wat hy wil hê! Peet is ’n goeie man. Hy wil met haar trou omdat hy haar liefhet, nie omdat sy Jacob Lessing se stiefdogter is nie. Saam met Peet sal sy kan weggaan na waar niemand hulle ken nie, waar hulle saam ’n nuwe lewe kan begin.

Waarom aarsel sy nog?

Twee weke later, na afloop van die uitstalling, kan Jacob Lessing die skilderye wat hy gekoop het, huis toe bring. Mercia het ’n partytjie gereël om dit te vier.

“Ons verwag jou,” het Mercia opgewonde oor die telefoon vir Ansie gesê. “Dit gaan ’n interessante partytjie wees. John Stevens kom ook – hy het spesiaal na jou gevra en ek het hom belowe jy sal ook hier wees. Bring gerus vir Peet saam.”

Ansie het niks gesê nie, maar sy het reeds besluit dat sy nie Johannesburg toe sou gaan nie. Laat Mercia maar dink sy kom, sy sal op die laaste tippie die een of ander verskoning vind om weg te bly. Sy het John Stevens nog nie weer ná daardie Sondag gesien nie. Hy het haar nie probeer bel of op enige manier met haar in aanraking probeer kom nie. Dit is wat sy wou gehad het. Tog was sy rusteloos en gespanne, en kortaf met Peet, wat die arme man in die dieptes van moedeloosheid gedompel het.

Sy wou nie gaan nie, maar op die ou end het sy tog gegaan. John Stevens gaan terug Rhodesië toe, het Mercia gesê. Sy sal hom dan seker nie weer sien nie, tensy sy na Mercia se partytjie toe gaan. Maar sy sal Peet saamneem. Met Peet by haar sal sy die partytjie met meer selfvertroue kan aandurf.

Jacob Lessing is besig om die nuwe skilderye in die studeerka­mer op te hang toe Ansie en Peet daar aankom. Ansie staan ’n rukkie in stilte en toekyk, dan vra sy nuuskierig: “Hou oom Jacob regtig van die skilderye of het u dit gekoop omdat u dit as ’n goeie belegging beskou?”

Die effense ironie van die vraag gaan hom blykbaar verby. Hy is ’n rukkie stil, dan sê hy: “John Stevens is ’n talentvolle kuns­tenaar. Sy skilderye sal eendag nog baie werd wees. Maar ek het nie die werke vir die huis gekoop nie. Hulle is vir die fabriek bedoel.”

“Die fabriek?” vra sy verbaas.

“Dis deesdae gebruiklik om goeie moderne skilderye in fa­brieke en ander werksplekke op te hang. Dit het ’n stimule­rende, opheffende invloed op mense. Dit inspireer hulle, maak beter werkers van hulle.”

“Maar verstaan hulle iets daarvan?”

Jacob Lessing glimlag effens.

“Die moderne werker, veral die fabriekswerker, het ’n verbasende aanvoeling vir abstrakte kuns. Dit spreek tot hom in ’n taal wat hy ken. Al het hy geen kennis van kuns nie, kan hy die boodskap daarvan begryp.”

“Dis baie interessant,” sê Ansie met ongewone nederigheid. “Oom Jacob het nog nooit vantevore so iets gesê nie.”

“Ek het nie gedink jy sou belang stel nie, Anna,” antwoord hy koel.

Ansie bly stil. Dis of daar skielik lig vir haar opgaan. John Stevens het van haar ivoortoring gepraat, en sy bloos as sy dink hoe naïef sy was. Hoeveel interessanter is die lewe nie as jy met oop oë – en ’n oop hart – deur die wêreld gaan nie.

Skielik is sy haastig dat John moet kom sodat sy met hom oor dié dinge kan gesels.

Maar toe hy kom, is daar ’n meisie by hom – ’n lang blonde meisie, aantreklik, modern en gesofistikeerd. Die soort meisie – sy moes dit van die begin af geweet het – van wie John Stevens sal hou, in wie hy belang sal stel.

Hy bring die meisie later na Ansie toe.

“Dis Pat Hart,” stel hy haar voor. “Ansie Durand, Pat. Pat is ’n kunslektrise aan die universiteit. Ons het ’n ruk saam in Londen gewerk. Dis sy wat al die vleiende dinge van my in die koerante geskryf het,” voeg hy glimlaggend by.

“My ou resensietjie was die mins vleiende van almal,” sê die meisie kalm. Dan glimlag sy en voeg sagter by: “Maar ek dink almal is dit eens: dit was ’n fantastiese uitstalling.”

John kyk na Ansie en daar is ’n tergende glinstering in sy oë. Verleë wag sy op sy volgende woorde, maar tot haar verbasing sê hy niks verder nie. Sy is verlig toe Peet by hulle aansluit. Hy raak liggies aan haar arm en sê: “Ek het na jou gesoek. Kan ek vir jou ’n drankie bring?”

Sy voel John se blik op haar en glimlag vir Peet.

“Dankie, Peet. ’n Drankie sal lekker wees.”

Dit was ’n goeie ingewing van haar om Peet saam te bring!

Tommie Lessing, oom Jacob se broerskind, daag ook later op. Tommie is vier-en-twintig, ’n aantreklike, goedgeaarde jong man wat – teenoor Ansie altans – eerlik erken dat hy hoegenaamd niks in kuns belang stel nie, en dink dat daar baie beter maniere is om jou geld te bestee as om ’n klomp dooie ou skilderye te koop wat nutteloos teen die mure hang en stof vergader.

Tommie werk by oom Jacob in die fabriek, maar hy is van ’n ander stoffasie. Hy het nie die ouer man se toewyding en sakevernuf nie en daar was al dikwels wrywing tussen hulle.

Arme Tommie! Tussen sy ambisieuse ma, wat glo dat Tom­mie as Jacob Lessing se enigste broerskind sy regmatige erfgenaam en opvolger is, en die hardvogtige, puntenerige oom Jacob, wat ander eise as bloedverwantskap vir sukses in die lewe stel, voer hy maar ’n moeilike bestaan.

“En toe, wat soek jý hier?” vra Ansie tergend toe hy haar groet.

Tommie grinnik. Hy het ’n donker pak aan, sy langerige hare met die wangbaarde is netjies gekam en die donker oë vonkel lewenslustig. Ansie besef weer dat hy ’n baie aantreklike man is. Jammer dat tannie Thelma hom so bederf het. Maar hy is nog jonk, speels en uitgelate soos ’n jong vul. Hy moet hom eers uitbaljaar voor hy die lewe met erns sal bejeën.

“Ek wil darem ook weet wat aangaan,” sê hy. “Kom wys my die nuwe skilderye.”

Saam stap hulle studeerkamer toe, waar hy die twee skilderye van John Stevens in stilte bekyk.

“En wat betaal oom Jacob nogal vir dié goed?” vra hy nuus­kierig. Hy fluit van verbasing toe Ansie vir hom sê. Dan skud hy sy kop.

“As ek dink die bohaai wat oom Jacob opgeskop het oor die ou motortjie wat ek gekoop het …”

Ansie glimlag. Tommie se een groot hartstog in die lewe is motors. De “ou motortjie” waarteen oom Jacob so beswaar gemaak het, is ’n duur, vinnige ingevoerde een uit Italië.

“En hoe loop die ou motortjie?” vra Ansie droogweg.

Tommie se gesig verhelder.

“Soos ’n droom. Ek wil jou ’n geheim vertel, Ansie, maar jy mag vir niemand sê nie, hoor? Ek het ingeskryf vir die volgende tydwedren op Kyalami.”

“Motorwedrenne! Tannie Thelma sal dit nooit toelaat nie.”

“Ek is nie van plan om Ma vooraf te sê nie,” sê hy koel.

Ansie skud haar kop, haar gesig ernstig.

“Jy kan verongeluk, Tommie.”

Hy haal sy skouers op.

“’n Mens lewe net een keer. En ’n mens is net een keer jonk.” Hy grinnik vir haar. “Kom jy kyk hoe ek wen?”

“Ek hoop jy sal twee keer dink voor jy so iets waag,” sê sy. En dan: “Daar is John Stevens nou, Tommie. Kom, dan gaan stel ek jou voor.”

Die twee mans takseer mekaar belangstellend.

“Tommie Lessing?” vra John. “Familie van meneer Les­sing?”

“Broerskind,” sê Tommie. “E … Ansie het nou net vir my die veelbesproke skilderye gewys. Maar moenie my vra wat ek daarvan dink nie. Vra vir Ansie. Ek is ’n regte filistyn, ek weet niks van hierdie dinge nie.”

“Praat met Tommie oor motors,” sê Ansie tergend. “Hy bou al motors van hy vyftien is.”

“Dis ’n handige man om te ken,” sê John. “Waar werk jy, Tom­mie?”

“Ek werk vir oom Jacob,” sê Tommie bondig.

“Vertel John van die Ferrari,” sê Ansie haastig, om sy ge­dagtes af te lei. “Verskoon my, ek dink Mercia soek my.”

Dit is reeds laat en die meeste gaste is al weg toe John weer na haar toe kom.

“Ek het net kom groet. Ek vertrek môre Rhodesië toe.”

“Ek het so gehoor,” sê sy kalm. “Ek is bly die uitstalling het so goed afgeloop. Al die skilderye is binne die eerste paar dae verkoop. ’n Merkwaardige prestasie.”

“Almal behalwe een wat nie te koop was nie. Jammer ek kan nie vir koffie bly nie. Ons moet nog by vriende van Pat aangaan.” Hy steek sy hand na haar uit. “Ek stuur vir jou ’n presentjie om dankie te sê vir al julle vriendelikheid en gasvryheid. Ek hoop jy sal dit aanvaar.”

“Ek … dit is nie nodig nie,” stamel sy verleë.

Hy glimlag net. ’n Oomblik lê haar hand in syne, dan vra hy: “Dié dokter Peet Bruwer. Is hy jou kêrel?”

Sy aarsel, verbaas, dan glimlag sy. “Ja,” sê sy sonder om te blik of te bloos.

Sy kyk hom agterna terwyl hy wegstap en is bewus van ’n onverklaarbare gevoel van verlies.

Toe die familie en ’n paar vriende wat agtergebly het, later saam koffie drink, sê Mercia opgewonde vir Ansie: “Het jy al die nuus gehoor? John gaan Jacob se portret skilder.”

Ansie staar haar ongelowig aan.

“Maar John gaan môre terug Rhodesië toe.”

“Net vir ’n paar weke. Sodra hy terugkom, gaan hy met die skildery begin.”

Ansie is vreemd ontsteld.

“Waarom wil hy vir oom Jacob skilder?” vra sy.

“Dis ’n baie spesiale voorreg, Ansie,” sê Frank Mentz. “John Stevens aanvaar nie juis opdragte nie. Ek weet van ’n paar mense wat hy van die hand gewys het.”

“Dis in ieder geval ’n voorreg waarvoor ek duur betaal,” sê Jacob Lessing droog. Hy kyk na Ansie en vra: “Waarom wil jy nie hê John Stevens moet my portret skilder nie, Anna?”

Ansie skud haar kop.

“Ek was net verbaas,” sê sy ontwykend. “Ek het nie geweet hy kom terug nie. Gaan hy vir Mercia ook skilder?”

“Nee,” sê Mercia liggies, maar sy lyk vies. “Hy sê hy het nie nou tyd nie. Miskien, as hy klaar is met Jacob se portret …”

“Het hy so gesê?” vra Ansie nuuskierig.

“Nee. Ek hoop maar hy sal van plan verander.”

Ansie is besig om vir Frank Mentz ’n tweede koppie koffie in te skink toe een van die huishulpe na haar toe kom.

“Meneer Stevens het ’n pakkie vir jou in die studeerkamer gelos, juffrou Ansie. Hy sê jy weet daarvan.”

Ansie gee Frank se koffie vir hom en gaan dan haastig studeerkamer toe. Op die lessenaar lê ’n pak in bruin papier toegedraai met haar naam daarop. Dit lyk soos ’n skildery. Met vingers wat skielik van opwinding bewe, maak Ansie die tou los en haal die papier af.

Dis een van die skilderye van die Griekse eilande wat sy bewonder het. Daar is ’n kaartjie by: Met komplimente, John Stevens.

’n Lang ruk staan Ansie daar met die skildery in haar hande, verward en onseker, haar gemoed vol teenstrydige emosies.

Waarom sou hy die skildery vir haar gee? Waarom kom hy terug Johannesburg toe? Net om Jacob Lessing se portret te skilder en ’n paar ander opdragte uit te voer? Dis seker moontlik. Oom Jacob het gesê hy betaal duur vir die voorreg om sy portret deur hom te laat skilder en John Stevens maak so ’n lewe. Maar daar is ander wat blykbaar ook gewillig is om vir die voorreg te betaal, en hy stel nie belang nie. En waarom wil hy nie Mercia se portret skilder nie? ’n Bekende en sjarmante persoon soos Mercia Lessing, met haar rooigoue hare, suiwer gelaatstrekke en vleklose vel is tog die ideale model vir selfs die uitsoekerigste kunstenaar.

Sy kyk op toe haar stiefpa langs haar kom staan. Jacob Les­sing is ’n lang, maer man met ’n streng gesig, ruie wenkbroue en blougrys oë – ’n ongenaakbare mens sonder humor, vir wie die lewe min vreugde inhou; ’n harde meester en ’n gedugte vyand, soos meer as een al tot sy skade uitgevind het. En terselfdertyd het hy ’n liefde wat byna aan hartstog grens vir alles wat mooi is: Bergheim, sy kunsversameling, Donkerpoort met sy mooi perde en stoetbeeste, ’n vrou soos Mercia … Of is dit alles vir hom maar net die simbool van wat hy, ’n arm man se seun, deur eie vernuf en harde werk bereik het?

Oom Jacob het die afgelope tyd oud geword, dink sy. Hy is meer geboë, hy lyk moeg en sy gesig het ’n gryserige kleur. Hy is natuurlik nie meer jonk nie – hy is reeds drie-en-sewentig – en hy behoort nie meer so hard te werk nie. As hy ’n seun gehad het, of ’n kleinseun, of iemand wat hom kon bystaan, die verantwoordelikhede kon help dra … Maar daar is niemand nie, net Tommie.

Hy kyk na die skildery in haar hande.

“Het jy ook een van John Stevens se skilderye gekoop?” vra hy verbaas. “Jy het ons niks daarvan gesê nie.”

“Ek het dit nie gekoop nie,” sê Ansie ’n bietjie kortaf. Sy wys hom die kaartjie wat by die skildery was. “Hy het gesê hy stuur vir my ’n presentjie – om dankie te sê vir al ons vriendelikheid en gasvryheid. Ek het nooit gedroom dat dit een van sy eie skilderye sal wees nie. Ek kan dit tog onmoontlik aanvaar.”

Jacob Lessing haal sy skouers op.

“Beskou dit maar as ’n afslag op die skilderye wat ek gekoop het – ek het genoeg daarvoor betaal – en wat ek nog sal betaal vir die skildery wat hy gaan maak.”

Ansie glimlag effens.

“Ek sal dit graag wil hou. Ek het van die begin af daarvan gehou.” Sy aarsel en dan sê sy: “Die ander skilderye wat oom Jacob vir die fabriek aangekoop het … ek sal hulle graag eendag wil sien.”

Hy lyk verbaas.

“As jy belang stel, kan ek dit reël, maar jy het nog altyd gesê jy hou nie van moderne kuns nie.”

Ansie bloos effens.

“’n Mens is nooit te oud om te leer nie,” sê sy liggies.

Hy kyk ondersoekend na haar.

“Dié dokter Peet Bruwer, Anna, is daar ’n verhouding tussen julle?”

Ansie verstyf effens. Waarom stel almal so skielik belang in haar private sake? Sy aarsel ’n oomblik, maar vir Jacob Lessing kan sy nie jok nie.

“Peet het my gevra om met hom te trou, oom Jacob,” sê sy. Hy kyk vraend na haar en onwillig vervolg sy: “Ek hou van Peet, maar ek weet nog nie of ek met hom wil trou nie.”

Hy maak ’n laai van die lessenaar oop en haal ’n brief uit. Toe hy omdraai om weg te loop, kyk hy weer na haar, die blougrys oë skerp en fronsend.

“Moenie haastig wees nie,” sê hy bruusk. “Jy is nog jonk. Daar is nog baie tyd.”

Ansie begin die skildery weer versigtig toedraai. Sy voel skie­lik moeg en ’n bietjie bedruk. Dit was ’n lang dag.

Peet staan in die deur.

“Is dit waar jy is? Dink jy nie dis tyd dat ons huis toe gaan nie?”

Ansie glimlag vir hom.

“Ek is gereed, Peet,” sê sy.

Donkerpoort

Подняться наверх