Читать книгу Agter die berge - Tryna du Toit - Страница 3
Hoofstuk 1
ОглавлениеDie uitstalling was een van die hoogtepunte van die jaar in die Kaapstadse kunswêreld en die lokaal het vol gestaan van medekunstenaars, resensente, kunsliefhebbers en ander belangrike mense wat genooi is om die opening by te woon.
Van waar sy naby een van die groot noordevensters staan, luister Veronica Eybers belangstellend hoe professor Albert Jansen, bekende skrywer, digter en dramaturg, die uitstalling open. Professor Jansen is ’n begaafde spreker en hy praat insiggewend en humoristies oor die moderne kuns as uiting van die atoomeeu met sy spoetniks, materialisme, rusteloosheid en verwarring. Hy is egter vol lof vir die kunstenaar, Jacques du Pré, wat na byna vier jaar in die buiteland weer terug is in sy eie land. Hy sien in hom iemand wat met sy oorspronklike siening, kleuraanvoeling en interessante temas kop en skouers bo sy tydgenote uittroon en voorspel dat hy nog groot naam gaan maak.
Die professor is reg, dink Veronica terwyl sy kyk na die skilderye waarop hy sy gehoor se aandag vestig. Hier is ’n jong kunstenaar wat dit nog ver in die lewe gaan bring. Sy werk is lewenskragtig; elke doek het ’n eie persoonlikheid en dra die stempel van sy onmiskenbare talent. Veral daardie een skildery wat hy Sestien noem – die portret van ’n jong meisie wat teen ’n agtergrond van blougroen see, ’n paar seemeeue en ’n eensame vissersbootjie op die stoeptrap van ’n strandhuis sit met ’n skulp teen haar oor – is ’n besonderse werk. Die dromerige uitdrukking op die meisie se gesig, die geheime verlangens in haar oë, die waas van onskuld wat haar soos ’n beskermende kleed omvou, skep ’n onvergeetlike toneel.
Sy het lanklaas ’n uitstalling bygewoon wat haar verbeelding so aangegryp het. Behalwe Sestien is hier ’n hele paar skilderye wat sy dolgraag sou wou besit, maar die prys is ver bokant ’n onderwyseres se beursie en soos gewoonlik sal sy tevrede moet wees om net te droom en van ver af te bewonder.
Sy dink aan die tyd toe sy ook besiel was deur die idee om eendag ’n beroemde skilderes te word. ’n Uitstalling deur Veronica Eybers sou ’n gebeurtenis wees waarna kunskenners gretig uitsien; dit sou ’n voorreg wees om een van haar skilderye te besit. Helaas! Ook daardie droom het in die niet verdwyn.
As sy vroeër dié droom laat vaar het, dink sy nou, vroeër besef het dat geesdrif en harde werk nie genoeg is as die goddelike vonkie van talent nie ook daar is nie, hoe anders sou haar lewe nie miskien gewees het nie? In plaas daarvan om doeke te skilder wat in kunsgalerye en die groot museums van die wêreld hang, hou sy vandag skool en in haar vrye tyd illustreer sy kinderboeke en tydskrifverhale en doen sy ’n bietjie advertensiewerk. Dis ’n lonende stokperdjie en bring – in ’n mate – sy eie bevrediging mee. Dis slegs wanneer sy ’n uitstalling soos dié een van Jacques du Pré sien dat sy weer die ou drome en verlangens in haar voel roer, dat sy opnuut bewus is van ’n gevoel van ongeluk en verydeling. Maar dit sal weer verbygaan. Sy weet nou dit word slegs aan enkeles gegun om die pieke te bereik. Die berg Olympus is vir die gode, nie vir gewone mense nie.
Sy word skielik bewus daarvan dat iemand na haar kyk. ’n Tyd lank probeer sy dit ignoreer terwyl sy haar aandag by die spreker bepaal. Maar die gevoel word sterker en uiteindelik draai sy haar kop om te sien wie dit is. Sy kyk vas in ’n paar koel, donker oë wat haar belangstellend dophou. ’n Ligte rilling van skok gaan deur haar.
Emile!
’n Paar tellings kyk hulle oor die halwe lengte van die vertrek na mekaar, dan knik hy beleef. Veronica groet terug en draai dan haar kop weg, uiterlik ongestoord, maar haar hart klop skielik soos ’n voorhamer teen haar ribbes en haar gedagtes is ’n warboel.
Wat soek Emile hier?
Die toespraak is verby en ná geesdriftige applous begin almal opgewonde gesels. Met ’n hand wat liggies bewe neem Veronica ’n glasie sjerrie by Koenraad Louw wat saam met haar na die uitstalling gekom het.
“Interessante toespraak! Die oubaas weet waarvan hy praat.”
Sy knik net. Terwyl sy proe-proe aan die droë sjerrie probeer sy haar regruk. Waarom is sy so ontsteld? Sy het tog altyd geweet sy sal Emile weer eendag raakloop; die wonder is dat dit nie lankal gebeur het nie. Maar sy was natuurlik glad nie vandag op so iets voorbereid nie … dis soos ’n skim uit die verlede wat skielik helder oordag voor jou opdoem.
Kon hy haar nie laat weet het hy kom Kaap toe nie?
Die versoeking om weer ’n slag te kyk om seker te maak dat dit werklik hy is, is oorweldigend en gemaak ongeërg draai sy haar kop weer effens in sy rigting. Hy staan nou half met sy rug na haar gekeer, besig om met die bebaarde kunstenaar en die professor te gesels, en ’n paar oomblikke kan sy hom ongemerk dophou.
Hy is ouer, dink sy, sy gesig is skraler en daar het fyn plooitjies om die oë ontwikkel. Andersins het die vyf jaar liggies oor hom gegaan. In sy netjiese grys pak lyk hy op sy gemak en seker van homself soos dit ’n suksesvolle jong argitek betaam.
Vyf lange jare! Is dit moontlik? Die herinnering aan alles wat opgesluit lê in die vyf jaar sedert sy hom laas gesien het, is soos ’n beker koue water op haar deurmekaar gedagtes en help haar om haar kalmte van gees te herwin.
Met ’n glimlag draai sy weer terug na Koenraad: goeie, gawe, betroubare Koenraad met sy ronde seunsgesig, sy vriendelike blou oë, die ligte hare wat bo-op sy kop al ’n bietjie yl word. Koenraad is onderhoof van die skool waar Veronica sedert die begin van die vorige jaar kuns gee. Hy het ook twee kinderboeke geskryf wat Veronica geïllustreer het en werk tans aan ’n derde, meer ambisieuse boek. Veronica het van die begin af van hom gehou en hulle het die afgelope paar maande goeie vriende geword.
Ander kennisse sluit by hulle aan en die gesprek is vlot en gemaklik. Veronica gesels saam, maar sy bly die hele tyd skerp bewus van Emile se teenwoordigheid. Hy sal haar tog seker kom groet, al is dit net hoflikheidshalwe? Of verwag hy dat sy na hom toe moet kom? Hoe moet sy hom groet? Vriendelik en hartlik, as ’n goeie vriend wat sy vyf jaar laas gesien het? Of koeltjies, so ’n bietjie uit die hoogte, as ’n lastige kennis in wie sy nie juis belangstel nie en wat sy graag op ’n veilige afstand wil hou?
Wat sal Koenraad se reaksie wees, wonder sy effens nuuskierig, as sy vir hom sê dat Emile de Klerk, haar eertydse man, in lewende lywe saam met hulle hier in die vertrek is?
Iemand raak liggies aan haar mou om haar aandag te trek en sy voel hoe haar hart ruk. Nog voor sy omdraai, weet sy wie langs haar staan.
“Veronica! Ek het gewonder of ek jou hier sal raakloop.”
Sy kyk op in sy gesig en raak vlugtig aan sy uitgestrekte hand.
“Hallo, Emile. Dis ’n verrassing! Mag ek vra wat jy in die Kaap kom soek?”
Die groenbruin oë glimlag effens.
“Besigheid. Mag ék vra hoe dit met jou gaan, Veronica?”
“Dit gaan goed, dankie.”
Sy sien hy kyk na haar kaal linkerhand en vra haastig: “Wanneer het jy gekom?”
“Eergister. En sedertdien waai die suidoos nog onafgebroke. Waai hy maar altyd so, of is dit spesiaal om my te verwelkom?”
Sy glimlag effens, maar antwoord nie. Sy stel hom aan Koenraad en ’n paar ander kennisse voor, natuurlik sonder om te verduidelik wie hy is, en ’n rukkie lank gesels hulle almal saam. Dan draai Emile weer na haar en vra wat sy van die uitstalling dink.
“Ek dink dis pragtig,” sê sy sonder aarseling. “Hier is ’n paar skilderye waarvan ek nog weke lank sal droom.”
“Het jy enigiets gekoop?”
Haar wenkbroue lig effens.
“Spot jy nou? In elk geval, die een wat ek die graagste sou wou hê, is reeds verkoop.”
“Watter een is dit?”
Haar oë dwaal na die skildery wat haar van die eerste oomblik af so aangegryp het en rus ’n oomblik verlangend op die dromende jong meisie. Dan sê sy saggies: “Hier is ’n hele paar wat ek graag sou wou besit. Maar ek dink as ek kon kies, sou ek Sestien kies.”
Ook sy oë rus ’n paar tellings op die skildery, dan vra hy: “Ken jy vir Jacques du Pré?”
“Nee. Dis die eerste keer wat hy in Kaapstad uitstal. Hy was ’n hele paar jaar in Frankryk en Italië. Ek het gedink ek sal weer eendag kom as hier nie so baie mense is nie. Ek wil baie graag met hom gesels.”
“Kom saam met my, dan stel ek jou voor,” bied hy onverwags aan.
“Van waar ken jy hom?” vra sy ’n bietjie verbaas.
Hy glimlag vir haar verbasing.
“Ek het hom in Italië leer ken. Ons was dieselfde tyd daar. Ons was albei destyds brandarm – dit was die dae voor hy naam gemaak het – en ons het saam swaargekry. Af en toe het hy ’n skildery verkoop en dan het ons dit gewoonlik luisterryk gevier.”
Veronica antwoord nie. Sy het dikwels nadat Emile oorsee is, gewonder hoe dit met hom gaan en of hy genoeg geld het om van te leef. Van ander mense wat hom in die buiteland raakgeloop het, het sy een of twee keer gehoor dat dit goed gaan, maar van homself het sy in al die jare nie ’n woord gehoor nie.
“Is Jacques du Pré getroud?” vra sy.
“Ja, onlangs. Hy was nie getroud toe ek hom leer ken het nie – ’n vrou is ’n weeldeartikel wat min studente kan bekostig. Maar hy het later ’n jong dokter in Londen ontmoet – ’n Suid-Afrikaner van Sweedse afkoms, wat by een van die groot hospitale gewerk het – en halsoorkop op haar verlief geraak. Hulle is getroud net voor hy na Suid-Afrika teruggekom het. Ek was destyds ook in Londen en moes die heildronk op die bruidspaar instel.”
“Dis interessant,” sê sy liggies. “Ek het nog nooit gehoor van ’n kunstenaar wat met ’n dokter getroud is nie – ek bedoel ’n vrouedokter. Ek het gedink kunstenaars trou altyd met hulle mooiste model.”
“Die werklike lewe is anders as wat die romanskrywers dit gewoonlik voorstel,” antwoord hy en sy stem is net so lig soos hare. “Maar kom dat ek jou aan Jacques en sy vrou voorstel. Ek dink jy sal van hulle hou.”
Hulle begin baan hulle weg deur die mense na die kunstenaar wat nou naby die deur staan, reeds besig om die eerste vertrekkende gaste te groet. Skielik steek Emile vas en kyk effens verleë na haar: “Op ’n punt van orde: onder watter naam is jy deesdae bekend?”
“Eybers,” sê sy bondig. “Juffrou Veronica Eybers.”
Hy knik.
“Ek wou net seker maak.”
Terwyl hulle wag dat Jacques klaar praat, kyk Veronica nuuskierig na die kort, breedgeskouerde skilder. Hy is ’n tipiese kunstenaar, dink sy. Met sy blas vel, donker, kortgeknipte baard en langerige swart hare lyk hy soos ’n uitlander. Maar sy hou van sy gesig, van die wakker, intelligente oë.
Toe Jacques sien wie langs hom staan, val sy hand op Emile se skouer.
“Wel, ou vriend? Ek hoop nie jy is al op pad nie.”
“Nog nie. Ek wil jou graag aan ’n medekunstenaar voorstel, Jacques. Veronica skilder ook.”
Veronica bloos verleë. “Emile maak ’n fout. Ek is deesdae maar net ’n doodgewone onderwyseressie.”
Die donker oë kyk belangstellend na haar.
“Dan is dít Veronica? Emile het my van jou vertel. Waarom skilder jy nie meer nie?”
Sy is bewus van Emile se blik op haar en die blos op haar wange word dieper.
“Dit was maar net ’n droom van my prille jeug,” sê sy liggies. “Deesdae hou ek skool en in my vrye tyd doen ek so ’n bietjie illustreerwerk. Ek is bevrees dis hoe ver my talentjie strek. Maar ek wil jou graag gelukwens. Ek het lanklaas so ’n interessante uitstalling bygewoon. Dit moet wonderlik wees om so te kan skilder.”
Hy hoor die onbewuste verlange in haar stem en sê sagter: “Talent alleen, sonder harde werk en toewyding, sal niemand baie ver bring nie. Ek wil graag eendag van jou skilderye sien. Ek belowe ek sal jou eerlik sê wat ek daarvan dink.”
’n Hele paar mense is besig om tegelyk op hom af te stuur en hy sê haastig: “Ons gesels weer later. Bel my, dan reël ons ’n afspraak. Of kom hierheen. Ek sal die volgende veertien dae bedags maar die meeste van die tyd hier wees.” Aan Emile sê hy onderlangs: “Bring haar saam na die partytjie toe.”
“Waarom sê jy vir hom ek skilder?” vra Veronica onthuts toe hulle wegdraai. Net die gedagte dat Jacques du Pré na haar werk moet kyk, is genoeg om haar kouekoors te gee. “Jy het my in ’n yslike verleentheid geplaas!”
Emile kyk haar verbaas aan.
“Ek is jammer. Ek het gedink ek doen jou ’n guns. Wou jy nie met hom oor jou werk gesels nie?”
“Natuurlik nie,” sê sy koel. “Ek droom nie daarvan nie. Ek wou met hom oor sý werk gesels. Oor Sestien en oor Rosekrans en die ander skilderye wat vir my so mooi is.”
“Ek is jammer,” sê hy weer en sy stem is net so koel soos hare. “Ek het gedink dis al waarin ’n kunstenaar belangstel – sy eie werk.”
“Dit geld dalk vir argitekte – nie die kunstenaars wat ék ken nie. In elk geval, ek is nie ’n kunstenaar nie en ek het nog nooit voorgegee dat ek een is nie.”
“Jy het ’n gerieflike geheue,” sê hy, en sy weet waaraan hy dink. In hulle jare saam was haar gedetermineerdheid om nie haar talent onder ’n maatemmer te begrawe nie, om haarself ten volle uit te leef, die grootste oorsaak van die onenigheid en latere verwydering tussen hulle.
Skielik versag sy gesig.
“Ek is jammer, ek het nie bedoel om met jou rusie te maak nie. Het jy regtig ’n onderwyseres geword, Veronica?”
“Ek hou al meer as drie jaar lank skool.”
“Jy het vroeër gesê jy vee liewer strate as om onderwys te gee. ’n Meer sieldodende, frustrerende werk kon jy jou nie indink nie.”
“Teen so ’n geheue het ek geen verweer nie. Hoe zijn de helden gevallen, nè? Vandag hou ek skool, my woonstel is meestal skoon en netjies, en ek het selfs geleer om te kook. Maar as ek ’n onverwagse tjekkie kry, dink ek nog dis ’n gulde geleentheid om fees te vier. Arme Emile,” vervolg sy liggies, spottend. “Ek besef vandag eers wat ’n onmoontlike kreatuur ek was. Dit verbaas my dat jy so lank geduldig met my was. Maar in elk geval, dit was goed om jou weer te sien. Ek wil jou graag gelukwens. Volgens wat ek hoor, is jý goed op pad om die wêreld aan die brand te steek.”
“Waar hoor jy dit?” vra hy verbaas.
“Ek het my spioene,” antwoord sy glimlaggend.
“Onsin,” sê hy kortaf. “Jy is oud genoeg om te weet dat jy nie alles moet glo wat jy hoor nie. Ek werk by ’n goeie firma en ons het ’n paar interessante projekte gehad waaraan ons almal saam gewerk het, maar dis al. Van die wêreld aan die brand steek is daar nie sprake nie.”
“Maar wel eendag, nè? Ek is bly dit gaan goed met jou. Ek het soms gewonder …”
’n Ongemaklike stilte val skielik tussen hulle. Na ’n rukkie sê Emile: “Daar is ’n paar dinge wat ek graag met jou wil bespreek voor ek teruggaan Transvaal toe. Sal jy een aand saam met my kan gaan eet?”
Sy aarsel. Aan die een kant wil sy graag weer met hom gesels en hom verder uitvra oor homself, die jare wat verby is en sy planne vir die toekoms; aan die ander kant dink sy dat dit seker verstandiger sal wees om hom liewer nie weer te sien nie.
“Ek dink nie so nie, Emile,” sê sy uiteindelik. “Ons het reeds alles vir mekaar gesê wat daar te sê is.”
“Ek het nog ’n paar goed op die hart. En jy kan maar gerus ja sê, Veronica. Ek is nie van plan om terug te gaan voor ek met jou gesels het nie.”
’n Hand val liggies op haar arm en ’n manstem sê opgewek: “Hallo, vreemdeling!”
Dis Jack Verster, privaat sekretaris van een van die ministers wat vir die parlementsitting in die Kaap is.
“Haai, Jack,” sê sy en haar glimlag is ’n paar grade warmer as wat dit sou gewees het as Emile nie ook daar was nie.
“Wat doen jy deesdae met jouself?” wil Jack weet. “Ek het jou al drie keer gebel en elke keer was jy uit. Hallo, Emile,” sê hy aan Emile. “Ek het nie verwag om jou hier raak te loop nie.”
“Ek het spesiaal ’n permit van die minister gekry om Kaap toe te kom,” spot Emile, en Jack se tande skyn wit soos hy breed glimlag.
Jack Verster is ’n aantreklike, blonde man van ongeveer dertig jaar en soos gewoonlik is hy onberispelik aangetrek. Soos gewoonlik is hy ook op pad na die een of ander belangrike funksie. Veronica het hom twee jaar gelede by ’n partytjie ontmoet en daarna het hy haar dikwels uitgeneem wanneer hy in Kaapstad was. Hy is ’n dinamiese man wat almal ken wat die moeite werd is om te ken en ’n gewilde vrygesel in sosiale kringe. Hy weet presies wat hy van die lewe wil hê en sal alles en almal uit sy pad vee om sy doel te bereik, maar hy is ’n goeie metgesel wat die kuns verstaan om ’n meisie mooi en gewild te laat voel. Hoewel Veronica nog altyd op haar hoede teenoor hom was – hy het ietwat van ’n reputasie met die skone geslag – geniet sy dit om af en toe saam met hom uit te gaan.
“Ek moet gaan,” sê Jack nadat hy ’n paar woordjies met hulle gewissel het. “Ek wou net hoor of jy nie Saterdagmiddag saam met my perdewedrenne toe wil gaan nie. Ek het ’n paar goeie wenke gekry – so uit die perd se bek – en as jy jou mooi gedra, sal ek dit miskien met jou deel.”
Sy kyk op in sy glimlaggende gesig.
“Dankie, ek sal graag gaan. Maar jou wenke kan jy maar vir jouself hou. My metodes is net so goed soos joune.”
Fronsend kyk Emile die aantreklike, selfversekerde Jack agterna.
“Is dit die soort wolwe in wie se geselskap jy jou deesdae bevind?” vra hy afkeurend.
Veronica kyk hom koel aan.
“Ek kan na myself kyk – ek doen dit al die laaste vyf jaar,” herinner sy hom liefies. “Maar dit word laat, ek moet gaan. Sien jy Jacques du Pré se dokter-vrou êrens? Jy het nog belowe om my aan haar voor te stel.”
Dokter Ingrid Meyer is heeltemal anders as wat Veronica haar voorgestel het. Sy is nie klein en fyn of buitengewoon mooi nie – glad nie die soort meisie op wie sy verwag het ’n kunstenaar verlief sal raak nie. Sy is lank en gebou soos ’n Amasone, met goudblonde hare wat sy in ’n vlegsel om haar kop gedraai het en die diepblou oë en wit vel wat haar Nordiese afkoms verraai. Sy is nie mooi in die konvensionele sin van die woord nie, daarvoor is haar gelaatstrekke nie suiwer genoeg nie, maar sy het ’n sterk gesig en uit die diepblou oë straal ’n rustigheid wat ’n mens dadelik tref.
Ek kan goed verstaan dat hy op haar verlief geraak het, dink Veronica nadat hulle ’n paar minute hoofsaaklik oor Jacques se werk gesels het. Ná al die prikkelpoppies met wie hy so dikwels in aanraking kom was Ingrid se kalm skoonheid seker onweerstaanbaar. En dis ’n skoonheid wat nie met die jare sal vergaan nie, maar steeds ryper en voller sal word.
Heeltemal te gou na Veronica se sin word Ingrid van hulle weggeroep.
“Bring haar saam partytjie toe,” sê Ingrid aan Emile toe sy wegstap.
“Jy het nou ’n dubbele uitnodiging,” sê Emile toe hulle weer alleen is. “As jy nie reeds ’n ander afspraak vir vanaand het nie, kan jy gerus saamkom. Dis nie ’n groot partytjie nie – net ’n paar van Jacques se ou vriende, meestal kunstenaars. Moontlik ken jy reeds die meeste van hulle.”
“Ek kom deesdae maar min met kunstenaars in aanraking,” sê sy stil. Sy sal graag na die partytjie toe wil gaan. Sy hou van Jacques en sy blonde dokter-vrou en sy sal hulle graag beter wil leer ken. Sy sal ook graag nog ’n bietjie met Emile wil gesels. Maar in haar hart weet sy dit sal verstandiger wees om liewer die uitnodiging van die hand te wys. Sy is bly sy het weer vir Emile raakgeloop, sodat sy haarself kon oortuig dat dit goed met hom gaan. Maar dis genoeg; dit het haar lank geneem om te vergeet en haar by haar nuwe lewe aan te pas. Waarom nou moeilikheid soek? Emile behoort aan die verlede met sy pyn, sy teleurstelling en ontnugtering. Hy het geen plek in haar toekomsplanne nie.
Vasberade sê sy: “Ek is jammer, maar ek het reeds ’n ander afspraak vir vanaand. Maak asseblief verskoning by jou vriende – ’n ander dag neem ek graag hulle uitnodiging aan.”
Sy sien die vlugtige teleurstelling in Emile se donker oë – mooi groenbruin oë met lang, donker wimpers soos dié van ’n meisie – maar voor hy kan antwoord, sluit Koenraad by hulle aan. “Ek wil jou nie aanjaag nie, Veronica,” sê hy verskonend. “Maar dis amper halfsewe en my ma wag vir my.”
“Ons kan dadelik gaan, Koenraad. Ek het nie besef dis al so laat nie.” Sy steek haar hand na Emile uit en sê met ’n glimlag: “Tot siens, Emile. Dit was goed om jou weer te sien. Alle sukses vir die toekoms.”
“Dankie!” ’n Paar oomblikke langer as wat nodig is, hou hy haar hand in syne gevange. Die donker oë glim effens asof hy die situasie ’n bietjie vermaaklik vind. “Sê vir my, Veronica: as die suidooster so waai – verlang jy nie soms terug Transvaal toe nie?”
Sy trek haar hand haastig uit syne en sê koel: “Ek hou van die suidooster. Hy is goeie geselskap. Hy waai gereeld al die spinnerakke weg en hy leer jou om vas op jou voete te staan. Ons noem hom die Kaapse Dokter, maar ek kan my indink sy medisyne is seker ’n bietjie sterk vir julle Transvalers. Tot siens, hoor. Alles van die beste.”
Sonder om vir ’n antwoord te wag, draai sy om en stap weg.
Jacques en sy vrou is in ’n diep gesprek met die professor gewikkel, en met Koenraad op haar hakke glip Veronica ongemerk by hulle verby. Sy sal op ’n ander dag terugkom om met Jacques te gesels.
Buite gryp die suidooster byna haar hoed van haar kop af.
“Jy hoef my nie huis toe te neem nie, Koenraad,” sê sy dadelik. “Ek weet jy is haastig en die bus is vir my net so gerieflik.”
Hy kyk vlugtig na sy horlosie, dan sê hy aarselend: “Dit het ’n bietjie laat geword – ons kry vanaand mense vir ete en ek het my ma belowe ek sal vroeg terug wees – maar ek hou nie daarvan dat jy so alleen rondloop nie.”
“My liewe Koenraad,” sê sy bondig, “jy behoort teen dié tyd te weet dat ek na myself kan kyk. Die bus loop feitlik voor my deur verby en ek kan jou verseker ek het al later as dit alleen rondgeloop.”
“Dalk. Maar nie wanneer jy saam met my uitgaan nie. Vanaand is ek egter so ’n bietjie in die knyp en as jy regtig nie omgee nie, gaan ek jou vriendelike aanbod aanvaar. Kom, ek stap gou saam met jou bushalte toe.”
In stilte beur hulle teen die sterk suidoostewind wat so uitgelate deur die stil, leë strate baljaar. Effens gespanne wag sy dat Koenraad vra wie die man is met wie sy so lank gesels het, maar hy is besig met sy eie gedagtes en verlig dink sy dat sy nie ’n verduideliking hoef te gee nie – nie vanaand nie altans.
“Baie dankie dat jy my saamgenooi het,” sê Koenraad toe hulle by die bushalte kom. “Ek het die uitstalling baie geniet. Ek bel later om te hoor of jy veilig tuis gekom het. Tot siens.”
Met ’n fronsie kyk Veronica hom agterna. Sy verstaan nie elke dag vir Koenraad nie. Hy is ’n gawe man, vriendelik en hulpvaardig. Hy sal seker as hy eendag trou baie goed wees vir sy vrou. Hy is ook ’n goeie onderwyser, wat die kuns verstaan om met kinders te werk, en hy is gewild by die leerlinge en die personeel. Hy het sy eie, besliste idees oor dinge en kan sy man staan in enige argument; almal hou van hom en respekteer hom. Maar waarom laat hy toe dat sy ma hom so domineer? Hy is ’n volwasse man van byna vier-en-dertig, tog het hy dit nog nooit reggekry om hom van haar rokspante los te maak nie.
Veronica weet hy is in ’n moeilike posisie. Hy het sy pa verloor toe hy nog jonk was en omdat hy die enigste kind was, moes hy al vroeg sy pa se plek probeer volstaan. Daarby was sy ma nie gesond nie en het sy met die jare ’n veeleisende, selfsugtige vrou geword wat nog steeds verwag om die middelpunt van haar seun se lewe te wees. Koenraad moes al lankal getroud gewees het, met sy eie huis en gesin, maar dit sal seker nie so maklik gaan om ’n vrou te kry wat sy ma se algehele goedkeuring wegdra nie.
Veronica was al ’n paar keer by die Louws aan huis. Af en toe het Koenraad haar genooi om op ’n Sondagmiddag by hulle te kom koffie drink, en een aand het sy saam met hulle geëet. Hoewel sy ma elke keer baie vriendelik teenoor haar was, het Veronica nie op haar gemak gevoel nie en het sy nooit die kuier onnodig lank uitgerek nie.
’n Skielike windvlaag gryp weer haar hoed en waai dit ’n paar treë verder teen ’n gebou vas. ’n Welgeklede man van so iets in die veertig tel dit op en bring dit glimlaggend vir haar.
“Dankie,” sê sy met ’n verleë glimlaggie. “Dis gaaf van jou.”
“Dis ’n plesier,” sê hy hoflik terwyl sy blik oor haar gaan. Hy aarsel ’n oomblik en vervolg sagter: “Ek sien jy wag vir die Seepunt-bus. Dis seker nie baie lekker om hier in die wind te staan nie. My motor is hier naby en ek ry ook in daardie rigting. Kan ek jou nie huis toe neem nie?”
Dadelik verstyf sy.
“Nee, dankie,” sê sy koel en beslis en draai om en stap terug om weer haar plek in die tou in te neem.
Die man lig ewe beleef sy hoed vir haar en stap weg. Vanuit die veiligheid van die bustou kyk sy hom verontwaardig agterna en sy is bewus van die harde bonsing van haar hart. Dis nie die eerste keer dat ’n man probeer om so met haar kennis te maak nie – inteendeel, dis ’n ervaring wat ’n alleenlopende meisie dikwels te beurt val – maar dit ontstel haar nog elke keer.
Tersluiks kyk sy na haarself in die helder verligte winkelvenster. Sy sien ’n aantreklike jong vrou, slank en mooi gebou, met roesbruin hare en oë en ’n sagte, goudgetinte vel. Sy het ’n nousluitende geel linnerok met ’n wye wit kantkraag aan en in die winkelvenster lyk sy onverwags jonk en onskuldig.
Het die man regtig gedink sy sal saam met hom in sy motor klim?
Gelukkig kom die bus net toe om die draai en ’n paar minute later is sy op pad huis toe – as ’n mens die tweekamerwoonstel waarin sy die afgelope ses maande alleen woon ’n huis kan noem.
Hier in die bus voel sy warm en veilig. Veilig teen die aanslae van die suidooster wat vanaand in ’n besonder geniepsige bui is, en teen die aanslae van middeljarige mans wat beter behoort te weet as om meisies wat hulle dogters kan wees te probeer verlei met blink, gerieflike motors en alles wat daarmee saamgaan.
Maar ander, belangriker gedagtes verdring ná ’n rukkie die herinneringe aan die vrypostige vreemdeling.
Ná vyf jaar het sy weer vir Emile gesien en met hom gepraat.
Sy sien weer sy skraal gesig, die donker oë wat so koel en spottend in hare gekyk het. Het die ontmoeting vir hom ook weer ou, halfvergete herinneringe wakker gemaak?
Sy het Emile aan die einde van haar eerste jaar op universiteit ontmoet. Oorspronklik wou sy Stellenbosch toe gaan, maar op die laaste nippertjie het haar pa besluit dat Stellenbosch te ver is en dat sy na die Universiteit van Pretoria toe moet gaan. Haar ouers het destyds in Johannesburg gewoon en sy kon maklik naweke en met kort vakansies huis toe gaan.
’n Week of twee voor die eindeksamen sou begin, het ’n vriendin van haar verjaar en sy het ’n klomp van hulle genooi om een aand by die Fonteine te gaan vleisbraai en dans. Emile was ook daar, en sommer uit die staanspoor het sy van die stil, skraal jong man met die mooi oë gehou. Sy was die aand saam met ’n ander kêrel daar en Emile het ’n ander meisie na die partytjie toe gebring, maar hulle het tog ’n hele paar keer met mekaar gedans.
Sy het B.A. geloop, maar haar eintlike belangstelling was skilder, waarin sy privaat les geneem het. Emile was ’n vierdejaar wat ook in kuns belanggestel het en hulle het baie vir mekaar te sê gehad. Voor hulle die aand huis toe is, het hy gevra of hy een aand kan kom kuier.
’n Paar dae later het hy dan ook gekom en dit was die begin van ’n verhouding wat vir haar eers die diepste geluk, maar later ook ongeluk, bitterheid en eensaamheid gebring het.
As haar pa haar tog maar net Stellenbosch toe gestuur het, soos hy al die jare beplan het, hoe anders sou die lewe nie gewees het nie!
Sy dink daaraan dat sy vergeet het om Emile te vra hoe lank hy in die Kaap sal wees. As hy vir besigheid gekom het, sal dit seker net vir ’n dag of twee wees en dan is daar maar min kans dat sy hom weer toevallig êrens sal raakloop. Hy het natuurlik gesê hy wil met haar gesels voor hy teruggaan, maar toe sy nee sê vir sy uitnodiging om saam met hom te gaan eet, het hy nie verder aangedring nie.
Maar dis seker beter so. Wat kan hy nou, ná vyf jaar, vir haar sê wat haar beter of gelukkiger sal laat voel? Nee, daardie episode van haar lewe is finaal afgesluit en sy het geen begeerte om weer aan die ou wonde te krap net om seker te maak hulle het genees nie.
Sy loer deur die venster na buite om te sien waar hulle is en druk haastig die klokkie toe sy sien dat die bus reeds die halte nader waar sy moet afklim.
’n Paar oomblikke later staan sy alleen op die sypaadjie. Hier in Seepunt weet ’n mens nie van die suidooster nie, maar die koel aandluggie herinner haar daaraan dat die somer verby is. Haastig begin sy aanstryk in die rigting van die groot blok woonstelle waar sy woon. Herberg van die Eensames, noem Adèle dit spottend, omdat daar so baie alleenlopendes woon: oujongnooiens, eensame weduwees, vrouens wat van hulle mans geskei is, oues van dae wat reeds die grootste gedeelte van hulle lewe agter die rug het en met vrees uitsien na ’n nog eensamer oudag wanneer hulle van vreemdes afhanklik sal wees.
Herberg van die Eensames! Onsin! Sy is gelukkig om so ’n woonstel te kan bekostig en haar eie plek te hê.
Sy wonder of Adèle tuis is. Die ontmoeting met Emile het haar ontstel en om die res van die aand alleen met haar gedagtes en herinneringe in die woonstel te sit, is nie ’n aanloklike vooruitsig nie.